Wentsel Christoffel Kruger (1940 – 2009)

[ENGLISH VERSION AVAILABLE UPON REQUEST]

< BACK

   1. Sy kinderjare

Wentsel Christoffel Kruger is gebore op 20 September 1940 in die Provinsiale Hospitaal te Pretoriusstraat 896, Volksrust, Transvaal in die Unie van Suid-Afrika.1,2 Sy ouers, Piet Kruger (1904 – 1983) en Hester Gezina Coetzer (1912 – 1978) het op Roodedraai met wolskape, melkbeeste, mielies en groente geboer.1,3,4 Die plaas is geleë langs die Kliprivier, wat voorheen die grens tussen die Transvaal en Oranje-Vrystaat gevorm het.5Sy naaste familie het hom “Christo” genoem, maar onder sy vriende was hy bekend as “Chris”. Hy het op Volksrust skool gegaan. Hoewel hy gedurende die week in die skoolkoshuis moes woon, het hy naweke en skoolvakansies op die familieplaas wat 40 km wes van Volksrust geleë was, spandeer. Die eerste paar jaar van sy laerskoolloopbaan het hy egter privaat loseer by Mev Swart op Volksrust. Hoewel vir die losies, wat ‘n kamer en etes ingesluit het, betaal is, het Mev Swart vir die jonge Chris tot ‘n groot mate misbruik as gratis hande-arbeid. Soggens lank voor sonop, moes hy die aflewerings van groente, brood en beskuitbestellings in die dorp vir haar gaan doen, en smiddae dieselfde, sodat hy dikwels eers laatnag aan sy skoolwerk kon aandag gee. Dis waarskynlik die rede waarom Chris later na die provinsiale skoolkoshuis geskuif is.As jong skoolseun is Chris deur sy onderwysers beskryf as hardwerkend, voorbeeldig, gehoorsaam, netjies, van onbesproke karakter, ‘n goeie invloed op maats, en soos met menige jong seun, woelig en geselserig.2

Chris was Piet en Hester Kruger se tweede seun. Benewens ‘n suster, Anna Catharina (*1947) wat sewe jaar jonger as hy was, het hy ‘n ouer broer David Frederick (1933 – 1975) gehad, wat ook sewe jaar van hom verskil het.4,6,7 Dis sy einste 21-jarige ouboet wat die 14-jarige Chris agter die spreekwoordelike kraalmuur leer pyp rook het. Chris het sy kinders self vertel hoe hy – bleek om die kiewe weens die tabakrook – aan die pypsteel bly vasbyt het, in ‘n poging om aan sy ouer broer te wys dat hy dit kon vat soos ‘n man. Die koeël was deur die kerk en die rokery het ‘n lewenslange gewoonte geword wat uiteindelik tot sy dood gelei het.4Op hoërskool het Chris vir die O/15 Rugbyspan gespeel en was lid van die Christelike Seuns Vereeniging (CSV). Aan die einde van 1956, met Standerd 8 (Graad 10) agter sy naam, het Chris egter skool verlaat om te begin werk, en het daarna finansieël bygedra tot die boerdery op die plaas. Vier maande later op 18 April 1957 het hy belydenis van geloof afgelê in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) Volksrust onder leiding van Ds J.P.H. Gertenbach.2 Chris was ‘n baie handige jong man en het sy ouers gehelp deur eiehandig verbeteringe en instandhoudingswerk aan Rooidraai se plaasopstal te doen. Dit het die installering van verfraaiende venstertraliewerk, asook geute en afvoerpype, en die waterdigting en verf van die dak, ingesluit.4

   2. Sy vrou

Sy vrou, Elizabeth Gertruida Lourensina “Bettie” Munnik, met wie die 23-jarige Chris op 1 Februarie 1964 in die NGK Hendrina, Distrik Middelburg in die huwelik getree het, was die derde dogter van Esaias Engelbertus Munnik (1913 – 1984) en Johanna Catharina Aletta Susanna Bekker (1912 – 1961).2,4 LEES MEER oor die Munniks.Bettie is op 18 Oktober 1942 te Breyten, Transvaal (nou Mpumalanga) gebore waar haar vader as Kondukteur vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë & Hawens (SAS&H) gewerk het.8,9  ‘n Uitsonderlike gebeurtenis in 1947, toe Bettie maar vyf en ‘n half jaar oud was, staan nog vars in haar geheue en sy kan selfs nou-nog op haar oudag die afwagting, opgewondenheid en uiteindelike uitgelatenheid in herinnering roep van die dag toe die Wit Trein, met die Britse koninklike gesin aan boord, Breyten se stasie met ‘n skril gefluit binne gestoom het. Die hele gemeenskap het op die perron saamgedrom in die hoop om tog net ‘n effense blik op die ‘royalties’ te kry. Party is selfs beloon met ‘n koninklike handdruk. Die Britse gesin was veral beïndruk met die pragtige blomme wat spesiaal vir hulle aangeplant is langs die spoorlyn op hul roete na Breyten9 – ai, dat die nederige kosmos-veldblomme wat wild aan die blom was toe so ‘n verwelkomende indruk op die koninklikes kon maak! Die koningsgesin was besig met ‘n twee-maande lange toer vanaf 17 Februarie tot 23 April 1947 deur die Unie van Suid-Afrika, Basutoland (nou Lesotho) en Rhodesië (nou Zimbabwe).10-12 Hierdie ervaring het ‘n onuitwisbare indruk op Bettie, gedoop Elizabeth, en haar 9-jarige sussie Magrietha Cornelia “Rita” gemaak. Die twee het hulself verbeel hulle is die eweknieë van hul Engelse naamgenote, en ‘prinses Elizabeth’ en ‘prinses Margaret’ het hul verbeeldingryke dogtertjiedrome vir maande daarna daar in hul onpretensieuse Hoëveldse spoorwegdorpie uitgeleef.9Bettie se skoolloopbaan het op Breyten begin, maar in Standerd 6 (Graad 8) het haar ouers na ‘n plot by Tavispan net buite Witbank verhuis, nadat haar vader ‘n pos as SAS&H Kondukteur op Witbank aangebied is. ‘n Jaar later in 1957, het haar vader, wat altyd graag wou boer, die plaas Schoonoord in Hendrina omgewing gekoop. Dit het op daardie stadium behoort aan Izak Aldert Kotzé (1896 – 1974), die skoonvader van Sys se dogter, Magrietha Cornelia “Rita” Munnik (1937 – 2002), wat met Izak Aldert Kotzé jnr. (1932 – 2017) in 1955 getrou het. Bettie het op Witbank agtergebly waar sy daarna in die skoolkoshuis ingewoon het tot aan die einde van haar skoolloopbaan in April 1959. Dit was hier een aand wat Bettie en die ander koshuiskinders hul met opgewondenheid op die gras sitgemaak het om te kyk of hulle die eerste satelliet, die Russiese Sputnik 1, wat pas in ‘n wentelbaan om die aarde gelanseer was, kon raaksien. Hulle het! Op skool het Bettie deelgeneem aan atletiek, korfbal, Volkspele en die Voortrekker-beweging. Sy was ‘n kraninge kortafstand-atleet, waarvoor sy heelwat sertifikate ontvang het. In 1948 was Bettie ook bevoorreg om die inwyding van die Voortrekkermonument gade slaan nadat hul Voortrekker-tak per trein na Pretoria gereis het en hulle daar by die monument in tente uitgekamp het.9

Nadat sy die eerste kwartaal van Standard 9 (Graad 11) in 1959 voltooi het, het Bettie skool verlaat. Die hoofsaaklike rede was die uiters pynlike en verspreide pitswere op haar rug en agterstewe wat toe reeds vir twee en ‘n halwe jaar haar lewe hel gemaak het, en die gespottery deur kinders en onsimpatieke reaksie van onderwysers het later te veel geword. Al die boererate soos rou aartappel, seep en suikermengsel, of gerasperde neut op brood op die geïnfekteerde areas het niks gehelp nie. Selfs die pit van ‘n pitsweer is uitgedruk, in ‘n netjiese snit in ‘n boomstam geplaas en maan toe geblaas, maar die pitswere het gebly. Eers nadat sy na skool by haar ouers op die plaas gaan bly het die langdurige infeksie einde gekry. Daar op die plaas het sy met die huishouding gehelp, aangesien haar moeder se gesondheid weens bloedarmoede – eers heelwat later korrek gediagnoseer as leukemie – vinnig aan die agteruitgaan was. Bettie en haar moeder het saam gebak en brou, gebrei, en klere en donskomberse gemaak. Haar ouers het egter later gevoel dat sy as jongmeisie te geïsoleerd was op die plaas en het haar aangemoedig om te begin werk en sosiale funksies vir die jongmense op die dorp by te woon. Op 17-jarige ouderdom op 6 Junie 1960 het Bettie tot die arbeidsmark toegetree as Bankklerk in Standard Bank se Hendrina-tak en het 25 pond per maand verdien. Gedurende die week het sy by kwaai Mev Lettie Maree loseer, wat die smaaklikste voedsame etes kon voorsit en meisies met losse sedes nie kon verdra nie. Naweke het Bettie op die plaas gekuier. (Haar moeder is op 3 Julie 1961 oorlede.) Bettie het uiteindelik vier jaar daar gewerk tot en met haar huwelik met Chris Kruger. Dis juis by een van die sosiale geleenthede op Hendrina waar sy haar toekomstige man ontmoet het en hul vriendskap vandaar ontwikkel het.9Sy was haar hele lewe lank ‘n tuisteskepper en was vir ook vir 33 jaar ‘n lid van Ermelo Tuisnywerheid wat vir ‘n ekstra inkomste vir hul gesin gesorg het. Haar jare-lange lidnommer was No 1; heel gepas vir ‘n bo-baasbakster soos sy wat sponskoeke, rolkoeke, troukoeke, doopkoeke, verjaarsdagkoeke, koeksisters, terte, en nog wat, aan die winkel gelewer het. Bettie se verjaarsdag- en troukoeke was uiters gewild omdat sy ‘n uitsondelik-kunstige talent daarvoor gehad het. Die fyn versiersuikerblomme en -traliewerk op haar troukoeke kon min baksters haar nadoen. Rita, Bettie se suster wat in Hendrina se omgewing gewoon het, het later ook begin bak vir Hendrina Tuisnywerheid en het by haar suster kom kers opsteek ….. en meeste van Bettie se gewilde en flop-bestande resepte oorgeneem. Bo-en-behalwe die bakery het Bettie ook naaldwerk gedoen en veral klere vir haar kinders gemaak. Sy het ook gereeld die groente en vrugte ingelê wat in hul tuin gekweek is. Tuisgemaakte konfyt was een van haar lekkernye waaraan haar gesin met mening gesmul het. In 1972 het Bettie ‘n geestelike verdieping beleef, en haar kinders se geestelike groei het vir haar prioriteit geword. Sy het gereeld uit die Kinderbybel vir hulle voorgelees. Bettie was vir jare ‘n Sondagskoolonderwyseres van die Sondagskool van NGK Camden, asook die dinamiese voorsitter van die Senior Kerk Jeug Aksie, wat geestelike jeugprogramme op Sondagmiddae en sosiale pretaktiwiteiete op Vrydagaande vir die jongmense van Camden aangebied het.9,13 Vele van hierdie kinders het later as volwassenes getuig hoe betekenisvol en verrykend haar bediening in hul lewe was.13Bettie kom maklik met ander mense oor die weg, en hou van gesels. Sy het ‘n hart vir mense wat swaarkry en het dikwels uitgereik na die randeier-gesinne in Camden se gemeenskap. Stilsit is definitief nie ‘n woord wat in Bettie se woordeskat bestaan nie, hoewel haar gesondheid gedurende die laaste tien jaar agteruitgegaan het en sy die pas moes verslap. Deur die jare heen het sy verskeie stokperdjies gehad soos tuinmaak, blommerangskikking, pewter, mecramé, decoupage, hekel, lapverf, borduur-, lint- en kralewerk, olieverfskilder en elektriese orrelspel. Sy is huidiglik ook besig om kosbare scrapbooking-familiealbums saam te stel.13

Ongelukkig, in hul vroeë sestiger jare, het Chris en Bettie se huwelik van 38 jaar in die egskeidingshof beland. Die finale egskeidingsbevel is in die Hoogsgeregshof in Pretoria op 21 November 2002 gefinaliseer. Die laaste paar jare van hule lewe saam het al hoe ongelukkiger en onaangenamer geword. Ten spyte daarvan was hul egskeiding vir Chris en Bettie steeds ‘n baie seer ervaring, waarvan hulle albei lank geneem het om van te herstel. Chris het in Ermelo bly woon en sy laaste lewensjare met die weduwee, Lettie Ferreira, gedeel. Bettie het ook in Ermelo aangebly, maar teen 2004 het sy na Pretoria verhuis om nader aan haar familie te wees.2,9,13

   3. Sy loopbaan

In 1957, op die ouderdom van 16 jaar, het Chris die arbeidsmark betree. Sy eerste pos was as Assistent-Klerk by Oos-Transvaal Koöperasie (OTK) se Volksrust-tak.4 Die OTK was ‘n landboudiensgroep vir boere en het voorrade soos saad, kunsmis, insekdoders, dipmiddels en plaas-implemente aangehou. In 2002 is die OTK geïnkorporeer met ander landwye koöperasies om AFGRI te vorm, maar teen 2013 is AFGRI aan AgriGroupe uitverkoop.14-16By OTK Volksrust, is Chris later bevorder na Klerk en verplaas na OTK Val.  Met verloop van tyd het hy as aflosklerk by vele OTK-takke insluitend Greylingstad, Ogies, Trichard, Wonderfontein en Hendrina gewerk. Terwyl hy by laasgenoemde werksaam was, het hy sy aanstaande vrou ontmoet. Chris het daarna by OTK aansoek gedoen vir ‘n pos waar hy permanant gestationeer kon word. Hy is toe aangestel as Bestuurder by OTK Estancia. Dit was ‘n baie klein tak, en Chris het bo-en-behalwe die algemene bestuur van die tak ook sommer die klerk-, aankoop- en boekhouwerk gedoen. Chris en Bettie het aanhou korrespondeer, en hy het dikwels ook vir Bettie op die plaas gaan kuier.2,4

Slegs enkele maande na sy huwelik met Bettie Munnik, teen die einde van 1964, is Chris aangestel as Senior Klerk by die groter OTK-tak in Ermelo waar hy ‘n beter salaris verdien het en waar daar meer bevorderingsgeleenthede was. Sy harde werk en toegewydheid is deur OTK raakgesien en teen einde 1968 is hy die pos van Hoofklerk van Ermelo-tak beloof en is daar ooreengekom dat sy bevordering gefinaliseer sou word na sy terugkeer van sy jaarlikse verlof in Desember. Met sy terugkeer in Januarie 1969 moes hy egter ontdek dat die bestuurder reeds ‘n kollega en persoonlike vriend as Hoofklerk aangestel het, en Chris was dus sy bevordering kwyt. Hierdie agterbakse optrede het Chris erg ontnugter, sodat hy kort daarna sy bedanking ingedien het. Op 27 Februarie 1969 het sy nuwe loopbaan by Eskom begin en was hy uiteindelik vir 22 jaar en een maand werksaam by Camden Kragsentrale.2,4Die bou van Camden Kragsentrale het reeds in 1962 ‘n aanvang geneem, met die laaste (agste) turbo-generator wat in April 1967 ingebruik geneem is. Camden Kragsentrale is amptelik geopen op 12 Oktober 1967 deur Advokaat B.J. Vorster, Eerste Minister van die Republiek van Suid-Afrika. Op daardie stadium was Camden die grootste kragstasie in die suidelike halfrond, wat elektrisiteit voorsien het aan Oos-Transvaal, Natal, Oos-Kaap en Mosambiek.18,19 Chris is in die pos van Installasiebediener aangestel in 1969, maar twee jaar later op 1 Julie 1971 is hy bevorder na Senior Installasiebediener (Turbienes). Verdere bevorderings het gevolg op 1 September 1975 as Assistent Skoftoesighouer en op 1 September 1983 as Skoftoesighouer. Teen die laat 1980’s het Chris ‘n huis in Ermelo gekoop. Die aanbouings en verbeteringe aan die huis het hy self oor ‘n tydperk van ‘n jaar gedoen en na 20 jaar op Camden, het die gesin in 1989 na hul nuwe huis in Wesstraat 22 verhuis. Chris het daarna daagliks met ‘n werksbus gependel tussen huis en werk. Ermelo is 20 km noord-wes van Camden geleë.2,4

Met sy vroeë uitdienstrede op 31 Maart 1991 op die ouderdom van 50 jaar het hy die ampstitel van Skofbaas (Bedryf) gehad. Op daardie stadium was Eskom reeds in die proses om die ouer kragsentrales soos Camden Kragsentrale se funksionaliteit af te skaal en personeel is voor die afgeforseerde keuse gestel: óf word verplaas na ‘n ander kragstasie na die goeddunke van Eskom Sentrale Bestuur in Megawatt Park, Midrand óf neem vroeë aftrede. Chris se keuse het op laasgenoemde geval aangesien hy nie sy skoolgaande kinders wou ontwrig deur na die hittige Ellisras in die verre Wes-Transvaal te verhuis nie. Die Bestuur van Camden Kragsentrale het Chris egter daarna gevra om op kontrakbasis aan te bly om met die mothballing-proses van die stasie te help.2,4 Teen November 1993 het Chris egter besluit om nie sy kontrak met Eskom te hernu nie en eerder met sy eie nutsmanbesigheid te begin. Hy het gefokus op die instandhouding en opgradering van woonhuise, installasie van kombuiskaste, teelwerk, en nog wat. Hy was ‘n man van vele talente. Die nutswerk het Chris self gedoen met behulp van een handlanger – hy was perfeksionisties en het nie gehou van halwe werk nie. Daarom was sy diens ook in groot aanvraag in die omliggende Ermelo gemeenskap. Teen 2005, toe sy verswakende gesondheid dit nie meer toegelaat het nie, het hy sy besigheid tot niet gemaak.4,9

Gedurende sy loopbaan by Eskom het Chris vele toekennings ontvang. Hy was hardwerkend, baie betroubaar en het ‘n beginselvaste werksetiek gehad. Chris was ook gelukkig in sy werk ten spyte van verskillende skofure wat hy moes werk. Daarby was die goeie byvoordele wat Eskom aan sy werknemers gebied het, uitstekend; gehalte behuising, ‘n omvattende mediese fonds en uitmuntende ontspanningsfasiliteite wat ‘n winkel, poskantoor, kroeg, eetsaal, biblioteek, biljardkamer, ‘n groot saal (vir fliek, bokjolle, konserte en onthale), rugby-, sokker-, krieket- en hokkievelde, ‘n skietbaan, parke en speelgronde, tennis-, pluimbal-, rolbal- en jukskeibane, asook ‘n swembad van olimpiese grootte ingesluit het. Omdat die inwoners van Camden ‘n klein, saamhorige gemeenskap was, en ten spyte daarvan dat almal mekaar se skades, skandes en vreugdes geken het, is vele hegte en lewenslange vriendskappe gesmee. Selfs in hul oudag het Chris en Bettie steeds kontak met van hierdie vriende behou.2,4,13,19

   4. Sy persoonlike lewe

Sy suster, Tienie Saad, beskryf Chris as jongeling, as stil, inkennig, eenkant in sy eie wêreld en heeltemal gemaklik met sy eie geselskap.4 Sy kinders het hom ook so geken. Dit het nie beteken dat hy nooit saam met mense gekuier het nie, maar hy het eerder sy vrye tyd bestee aan sy stokperdjies. Chris was ‘n praktiese, tegniese man en sy eie kreatiwiteit het ook so tot uiting gekom. Die Kruger-gesin se huis was gevul met handgemaakte meubels en ornamente van uitnemende gehalte – hy het ‘n voorliefde vir imbuia- en geelhout gehad, maar het ook met ander houtsoorte gewerk. Menige familielede het ‘n Grandfather Clock of ander meubelent by hom bestel, en hy het gereeld iemand verras met ‘n pragtige, fynafgewerkte houtwerkstuk as ‘n verjaarsdaggeskenk. Chris was baie lief vir die Suid-Afrikaanse natuur en buiteluglewe, en het pragtige natuurfoto’s geneem. Hy het geen nodigheid daarin gesien om buite die grense van Suid-Afrika te toer nie want “Suid-Afrika het dan so baie om te sien!”, was sy mening. Sy groentetuin was sy trots, en het elke jaar ‘n puik oes opgelewer. Die Kruger-huis was altyd gevul met musiek. As Bettie of een van die kinders nie die elektriese orrel of kitaar bespeel het nie, het Chris die vertrekke met konsertinamusiek, ‘n Johann Strauss-mars, of klassieke Afrikaanse sang gevul vanuit sy versameling van meer as vierhonderd 78 rpm vinielplate. Geskiedenis was een van Chris se skoolvakke waarin hy baie goed presteer het, en dit is dus geen verrassing dat hy ‘n groot belangstelling in die Afrikaner se geskiedenis ontwikkel het nie. Plekke van historiese belang vir die Afrikanernasie het hy gereeld by besoek afgelê. Hy het ook vir jare op die Kerkraad van NGK Camden gedien, eers as Diaken en later as Ouderling.13

Een van die belangrikste dinge wat Chris Kruger vir sy kinders gewens het, was dat hulle verdere studies aan tersiêre akademiese instansies moes navolg, want hy het geglo dat ‘n professionele kwalifikasie deure vir jou oopmaak en dat “niemand jou kwalifikasies van jou kan wegvat nie”. Chris was self ‘n intelligente man, maar het nooit die geleentheid gehad om aan ‘n universiteit verder te studeer nie. Chris en Bettie het dus baie opgeoffer om toe te sien dat al drie hul kinders diplomas en grade agter hul name kon skryf.13

   5. Sy afsterwe

Sy hele lewe lank was Chris Kruger ‘n sterk, gesonde man – ‘n verkoue of griep kon selde daarin slaag om hom plat te trek.9 Nadat emfiseem egter in 2000 by hom gediagnoseer is, het die siekte hom vinnig begin afgetakel en is hy uiteindelik nege jaar later oorlede op 31 Oktober 2009 op die ouderdom van 69 jaar en een maand.2,13,20Chris Kruger is op 6 November 2009 begrawe in die Nuwe Ermelo Begraafplaas. Die diens in die NGK Debruinpark op Ermelo is gelei deur sy seun, Dr Ds Pieter Kruger.2 LEES HIER die pragtige boodskap wat sy seun gelewer het tydens die begrafnisdiens.

6. Sy kinders

Chris en Bettie het saam vier kinders gehad, waarvan drie volwassenheid bereik het. Al die kinders is in Ermelo Provinsiale Hospitaal gebore. Hul oorlewende kinders was almal leerlinge aan Laerskool J.J. van der Merwe, en later Hoërskool Ermelo waar hulle almal gematrikuleer. Hulle hele skoolloopbaan deur het hulle daagliks die 20 km tussen Camden en Ermelo met die skoolbus gependel.4,13

Die kinders het kerkdienste (saam met hul ouers), Sondagskool en die jeugaktiwiteite van NGK Camden bygewoon, waar die oudste twee ook belydenis van geloof afgelê het. Wanneer die kinderore om een of ander rede nie wou saamwerk nie, was dit meesal Ma wat die dissipline met die paplepel of belt op die sagter deel van die anatomie toegepas het. Die kinders het egter Pa se twee tot drie houe met die plathand baie meer gevrees; dit was net soveel seerder! Al drie kinders is dit vandag egter eens dat hul streng, liefdevolle en Christelike opvoeding, die beste geskenk was wat hulle van hul ouers kon ontvang het.13

6.1 Baba

Chris en Bettie was baie opgewonde oor die koms van hul eersteling, wat na ‘n lang, moeilike natuurlike bevalling sy opwagting gemaak het op 27 Desember 1964.4,21 Die seuntjie, wat eers na 10 maande – in plaas van die normale nege maande – gebore is, het 10.5 pond (4.8 kg) geweeg maar het egter ‘n uur later gesterf weens aangebore katkopsindroom,‘n verouderde mediese term wat onbekend is aan huidige praktiserende pediaters en algemene praktisyns. Dit het waarskynklik verwys na die aangebore breindefek ‘mikrokefalie’ (microcephaly).22 Hierdie rare, onbehandelbare toestand affekteer 2 tot 12 babas per 10 000 lewende geboortes en word gekenmerk deur ‘n kleiner as normale kopgrootte en ‘n onderontwikkelde brein. Babas wat na geboorte bly leef, presenteer met gehoor-, sig-, leer- en fisiese probleme, asook epilepsie, namate hulle ouer word. Die spesifieke oorsaak van mikrokefalie is onbekend, maar mag verband hou met ‘n genetiese/chromosomale abnormaliteit tydens fetale ontwikkeling of ‘n infeksie tydens swangerskap (toxoplasmose, sitomegalie, Duitse masels of Zika).23,24

Die baba het met sy geboorte gelewe maar het nie gehuil nie. Hy is dadelik weggeneem en ‘n genadedood-inspuiting deur die dokter toegedien, sonder dat sy ouers hom ooit aanskou het. Volgens die verpleegsuster het die babaseuntjie felblou ogies en digte swart haartjies gehad. ‘n Paar dae later is hy in ‘n klein wit kissie begrawe terwyl sy moeder nog in die hospitaal aangesterk het. Sy vader was so bedroef dat hy skaars die kissie vanaf die lykswa na die oop graffie gedra kon kry, sodat Chris se swaer, Izak Kotzé dit later by hom oorgeneem het.Die dood van hul eersgeborene was vir beide Chris en Bettie ‘n intens traumatiese ervaring. In een van haar briewe, geskryf in haar silwer jare, vertel Bettie aan haar oudste dogter van daardie donker, hartseer tyd, en van die baba-bed en stootwaentjie wat hulle verwytend aangekyk het. Maar lig, liefde, vreugde, omgee en plesier het weer teruggekeer met die geboorte van hulle ander kinders. Chris het nooit oor hierdie ervaring gepraat nie, maar 45 jaar later, net na sy dood, het sy volwasse kinders die aankoopbewys van sy oorlede seuntjie  se grafsteen tussen sy besittings gevind. Hy het dit al die jare soos ‘n kleinnood bewaar.2,13

NOTA: Baba Kruger se geboorte en dood is nooit geregistreer nie.

6.2 Johanna Catharina Aletta

Sy is gebore op 10 Julie 1966 25 en is bekend as “Alta”. Dis ek! …… samesteller van hierdie webwerf. LEES MEER oor Alta Kruger en haar man, Kevin Jamison.

6.3 Pieter

Pieter is gebore op 21 April 1969 en twee-en-‘n-half maande later op 6 Julie 1969 gedoop in die NGK Ermelo-Oos, Ermelo.9,25 Hy het in 1987 gematrikuleer aan Hoërskool Ermelo. Hy het daarna argitektuurstudies aan die Universiteit van Pretoria (UP) in Pretoria, Transvaal (nou Gauteng) aangepak, maar na twee jaar hom geroepe gevoel om teologie te studeer. Hy voltooi daarna die grade Baccalaureus Artium (BA) in Teologie in 1993 en Baccalaureus Divinitatis (BD) in 1996. In die vier jaar voordat Pieter sy voltydse beroep in 2000 na NGK Grootvlei te Grootvlei, Mpumalanga ontvang het, was hy ‘n Jeugpredikant by NGK Lyttelton, Centurion, Pretoria en Projekkoördineerder by Pretoria College (nou Tshwane North College), ‘n skool vir straatkinders. Tussendeur het hy ook as bouplan-tekenaar en administratiewe klerk vir R&C Contruction gewerk. In April 2000 het die pasgetroude Pieter verhuis na Grootvlei waar hy predikant was tot November 2007, waarna hy vanaf Desember 2007 tot Desember 2018 die leraar van NGK Nigel-Suid, Nigel, Gauteng geword het. Tussendeur het Pieter ook die volgende grade verwerf: Magister Artium (MA) in Sosiologie (Huwelik- een gesinsberading) aan Noord-Wes Universiteit (Potchefstroom) in 2004, die graad MA (Teologie) aan UP in 2009 en die graad Doctor Philosophiae (PhD) aan UP in 2014. In Oktober 2018 is Pieter ook tot die Dagbestuur van die NGK se Hoëveldse Streeksinode verkies en is verantwoordelik vir die portefeulje Sinodale Hulpbronnebestuur. Tans staan hy in die voltydse bediening van die gemeente van NGK Witfield in Boksburg.13Pieter is getroud met Isabel Briel (*22 Junie 1965, Middelburg, Transvaal). Hul huwelik het plaasgevind in Die Werf Kapel in Faerie Glen, Pretoria op 21 Maart 2000. Hulle het een dogter, genaamd Cilje-Marié (*9 April 2004). Sy is gedoop toe sy ses maande oud was, deur haar predikantpa (… wat ‘n voorreg!) op 24 Oktober 2004 in die NGK Grootvlei.13

Isabel Briel is die tweede kind van Rudolph Marthinus Briel (*26 November 1935) en Aletta Catharina Magdalena Tempel (*5 April 1938). Sy het ‘n ouer suster en twee jonger broers. Isabel het haar graad in musiekonderrig (BMus (Ed)) aan die Universiteit van Oranje-Vrystaat in Bloemfontein verwerf. Tussendeur die vele gemeente-verantwoordelikhede as predikantsvrou, het sy al menige kore afgerig of begelei, is sy ‘n kerkorrelis van formaat, ‘n musiekonderwyser, musiekverwerker en vryskutmusikant. Isabel bespeel die klavier, kerkorrel, kitaar en fagot, en as die nood druk in die orkes, sommer die driehoekie ook. Pieter het ‘n mooi sangstem, sing in kore en bespeel self ook die kitaar.13

6.4 Hester Elizabeth

Hester Elizabeth, beter bekend as “Elsabie” het die wêreld met behulp van ‘n keisersnee binne gekom op 18 Junie 1973.25 Drie maande later op 2 September 1973 is sy gedoop in die NGK Ermelo-Oos. Sy het aan die einde van 1991 gematrikuleer. Die laaste twee jaar van haar skoolloopbaan het die Kruger-gesin op Ermelo gewoon en Elsabie het die 1.5 km-afstand tussen skool en huis daagliks met haar bromponie afgelê. Die daaropvolgende jaar in 1992 het sy haar tersiêre studies aan die Technikon van Pretoria (nou Tshwane Universiteit van Tegnologie) in Pretoria begin en drie jaar later haar Diploma in Kantooradministrasie ontvang. Haar eerste pos het sy losgeslaan by prokureurs in Ermelo, maar nadat sy in die huwelik getree het in 1997, het sy verhuis na Middelburg, Transvaal (nou in Mpumalanga) waar haar man werksaam was. In Middelburg het Elsabie met tyd verskeie poste by verskillende organisasies/firmas beklee; as Ontvangsdame, Sekretaresse en Salarisklerk. Elsabie hou van bak-en-brou en tuinmaak, asook binnehuisversiering, waarmee sy gereeld in haar eie huis eksperimenteer.13

Elsabie is op 23-jarige ouderdom met haar skoolliefde, Gysbertus Jacobus “Gys” Cronjé getroud op 3 Mei 1997 vanuit die NGK Ermelo Moedergemeente te Ermelo. Gys is gebore op 13 Junie 1973 in Kemptonpark, Transvaal (nou in Gauteng) as die derde en jongste seun van Phillipus Cornelius “Flip” Cronjé (*26 Julie 1944, Parys, Oranje-Vrystaat) en Theunsina “Stienie” van Rooyen (*15 Augustus 1945, Bethal, Transvaal). Uit Elsabie en Gys se huwelik is drie kinders gebore naamlik Armand Kruger (*10 Desember 2001) en die nie-identiese tweeling Jacques Dewalt (*23 Augustus 2007) en Karmin (*23 Augustus 2007). Al drie is in Middelburg gebore.13

Gys het in 1991 gematrikuleer aan Ligbron Tegniese Hoërskool in Ermelo. Hy is ‘n gekwalifiseerde Passer-en-Draaier en het sy loopbaan begin by Optimum Steenkoolmyn, wat 30 km suid-oos van Middelburg geleë is. Na 19 jaar se getroue diens, het Gys ‘n pos aanvaar as Passer-en-Draaier (Millwright) by Grand Cache Coal Coorporation in Grand Cache, Alberta, Kanada. Hoewel Gys reeds in November 2014 uit Suid-Afrika vertrek het, het sy gesin eers in Januarie 2015 by hom aangesluit. ‘n Jaar later het hulle verhuis na Edmonton, Alberta waar Gys ‘n beter werksaanbod gekry het. Die gesin het reeds hul permanente verblyfpermitte ontvang, en na al die aanpassings geniet hulle hul nuwe lewe in Kanada.13

< BACK

  1. Kruger, B. 2007 Die Kruger-familie van Suider-Afrika. 1ste Ed. CD-publikasie. Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Noord-Transvaal takbiblioteek.
  2. Geboortesertifikaat, skoolrapporte, huwelikssertifikaat, egskeidingssertifikaat, doodsertifikaat, begrafnisbrief, werksdokumente, getuigskrifte, skyfiefoto’s en fotoalbums van Wentsel Christoffel Kruger. In privaat besit van sy seun, Dr. Ds. Pieter Kruger van Nigel, Gauteng, Suid-Afrika
  3. Grafsteen van Piet en Hester Kruger. Amersfoort Begraafplaas, Amersfoort, Transvaal (nou Mpumalanga), Suid-Afrika
  4. Familie-oorvertellinge deur Tienie Saad en/of Bettie Kruger in 2012, 2015 en 2018
  5. Sterfkennis en boedel van Maria Catharina (Slabbert) van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 43296/20, 1920
  6. Inskrywings voor in die Bybel van Hester Gezina Kruger (née Coetzer), in besit van Dr. Ds. Pieter Kruger, haar kleinseun
  7. Doodsertifikaat, sterfkennis, testament en boedel van David Frederik Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 2343/51, 1951
  8. Geboortesertifikaat van Elizabeth Gertruida Lourensins Munnik. In privaat besit van haar seun, Dr. Ds. Pieter Kruger van Nigel, Gauteng, Suid-Afrika
  9. Gedenkskrif soos geskryf deur Bettie Kruger, 2010-2015. In besit van haar dogter Alta Jamison van Pretoria.
  10. Royal S.A. Tour Itinerary. The Straits Times, 30 January 1947, Page 2. http://eresources.nlb.gov.sg/newspapers/Digitised/Article/straitstimes19470130.2.24
  11. Port Elizabeth of Yore: Royal visit of 1947. http://thecasualobserver.co.za/royal-visit-port-elizabeth-1947/
  12. Rediscovering the 1947 Royal Visit to South Africa. http://www.theheritageportal.co.za/article/rediscovering-1947-royal-visit-south-africa
  13. Notas/indrukke van die kinders van Chris en Bettie Kruger, soos versamel tussen 2015 tot 2018.
  14. OTK’s rebranding as Afgri reflects corporate transformation. 23 July 2002. http://www.bizcommunity.com/Article/196/82/749.html
  15. AFGRI Company Snapshot. https://www.afgri.co.za/about-us/
  16. Sherry, S. 19 November 2013. Afgri shareholders give emphatic nod to AgriGroupe takeover. https://www.businesslive.co.za/bd/companies/land-and-agriculture/2013-11-19-afgri-shareholders-give-emphatic-nod-to-agrigroupe-takeover/
  17. The Blue Danube. https://en.wikipedia.org/wiki/The_Blue_Danube
  18. Camden Power Station. https://en.wikipedia.org/wiki/Camden_Power_Station
  19. Camden Power Station. http://www.eskom.co.za/sites/heritage/Pages/Camden.aspx
  20. Emphysema. https://www.emedicinehealth.com/emphysema/article_em.htm#what_is_emphysema
  21. Grafsteen van Baba Kruger. Nuwe Ermelo Begraafplaas, Ermelo, Mpumalanga
  22. Konsultasies met mediese personeel in Oktober 2018, Pretoria.
  23. Microcephaly. http://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/microcephaly
  24. Microcephaly. https://en.wikipedia.org/wiki/Microcephaly
  25. Geboortesertifikate van Johanna Catharina Aletta Kruger, Pieter Kruger en Hester Elizabeth Kruger. In privaat besit van Dr. Ds. Pieter Kruger van Nigel, Gauteng, Suid-Afrika

< BACK