David Frederick Kruger (1876 – 1951)

[ENGLISH VERSION AVAILABLE UPON REQUEST]

< BACK

   1. Sy kinderjare

David Frederick Kruger is gebore op Maart 1876 as eersgeborene van Piet Kruger (1852 – 1900) en Anna Elizabeth Eksteen (1857 – 1940).1-5 Hy het in die Frankfort omgewing in die Republiek van Oranje-Vrystaat (OVS) groot geword, maar het in die laat 1890’s saam met sy ouers verhuis na Wakkerstroom distrik in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR).1 Hier het hulle as bywoners gewoon en gewerk op die plaas Korenplaats/Koornplaats (nou Koringplaas),6-8 wat ongeveer 40 km wes van Volksrust geleë is.

   2. Sy vrou

2.1 Martha Maria van der Merwe

David het met Martha Maria “Mart” van der Merwe (31 March 1874 – 21 February 1956) in die huwelik getree in die NGK Wakkerstroom.1 Ten tye van sy huwelik het David gewerk op die plaas Honingvallei (Heuningvallei), nou herdoop na Lötterskrans.1,6  Die plaas lê ongeveer 20 km suid-wes van die klein dorpie, Perdekop (voorheen Paardekop). David en sy vrou het later op Roodedraai gaan woon saam met al die ander Van der Merwe broers en susters en hul gesinne, waarna David in 1921, na sy skoonmoeder se afsterwe, die gedeelte van die plaas geërf het waarop hulle reeds gewoon het.9 Mart se ouers was Gerhardus Petrus “Gert” van der Merwe (10 September 1843 – 18 Julie 1889) en Maria Catharina “Mieta” Slabbert (1 Junie 1844 – 20 Februarie 1920) van die familieplaas Roodedraai. Hierdie plaas was sedert 18 September 1872 in die besit van die Van der Merwe familie, en tydens die onderverdeling in 1921, ongeveer 2 028 morge (17.4 km2) groot.8-11

Mart was die sewende van elf kinders, gebore op 31 Maart 1874 te Roodedraai en gedoop op xxxxx in die NGK Wakkerstroom.12 Sy was die jongste van vier dogters. Haar broers en susters was Cornelis Johannes (? – 1914), Maria Catharina, Gerhardus Petrus (ca 1870 – ?), Johanna Hendrina, Aletta Susanna, Barend Jacobus (? – 1915), Marthinus Gerhardus (ca 1875 – ?), Jacobus Johannes (ca 1883 – ?), Hendrik (? – 1908) en Jacob Abraham Johannes (? – 1901).13 Meeste van die broers het met die uitbreek van die Tweede Anglo-Boere Oorlog (ABO) by die Boerekommando’s aangesluit. Jacob, die jongste, het tydens die oorlog gesneuwel op 24 Junie 1901.14 Mart was besonder geheg aan haar jongste broer.6 LEES MEER oor die Van der Merwes.

Die 26-jarige Mart, haar moeder, susters en skoonsusters het uiteindelik almal in die Volksrust konsentrasiekamp beland, maar nie voordat Mart en Mieta die Britse soldate eers op hulle neuse laat kyk het en hul argwaan op die hals gehaal het nie. Teen middel 1901 het die soldate op Roodedraai opgedaag om hul vernietigingswerk uit te voer, en die vroue en kinders na die konsentrasiekamp weg te neem. Tant Mieta en die ongetroude Mart is min tyd gegee om ‘n bietjie voorraad en klere bymekaar te skraap. Teen daardie tyd was tant Mieta al hoogs ontstoke, want haar hoenders was reeds doodgemaak en die varke met die bajonette doodgesteek. Sy sê toe vir Mart aan om turksvye te gaan pluk en dit in ‘n sloop te gooi. Mart moes dit so doen dat die soldate haar duidelik kon sien. Mart het haar hande goed met botter gesmeer en die opgelegte taak tot op die letter gaan uitvoer. Die soldate het intussen nuuskierig nadergestaan en Mart het hulle laat proe. Gretig wou die soldate nog hê, en net so gretig het Mart uitgedeel toe sy hulle vra om hul hemde oop te hou sodat sy kan ingooi. Nodeloos om te sê wat die soldate se reaksie was toe die fyn turksvydorinkies hul werk met mening begin uitvoer het teen die bleekwit, Engelse borskasvelletjies!14,15

In die konsentrasiekamp moes Mart en die ander Van der Merwes daagliks oorleef, omring met dood, smart, lyding, wanhoop en onsimpatieke, vyandige Britse wagte. Eers na die beëindiging van die oorlog, kon hulle terugkeer na …. niks. Die plaas, hul woonhuise, vee, oeste … als was vernietig. Met die minimum moes hulle daar oorleef en uit niks die afgebrande plaas weer opbou.14,16-21Na die oorlog is Mart met David Kruger getroud. Uit hul huwelik is vier dogters en een seun gebore. Drie van hul dogters is egter tydens die Groot Griep epidemie van 1918 tot 1919 oorlede.1 In die 1920’s het nog meer hartseer die Krugergesin getref deurdat Mart in haar vroeë vyftiger jare tekens van geestelike onstabiliteit begin toon het wat met tyd vererger het. Haar geestesversteuring het later so ‘n ernstige gevaar vir haar geliefdes en ander in haar teenwoordigheid begin inhou dat sy tussen 1932 en 1934 (berekende jaargetal) in die Komani Psigiatriese Hospitaal in Queenstown in die Kaapprovinsie (nou Oos-Kaapprovinsie) geinstitusionaliseer is.1,22-25 Familie kon getuig hoe ouma Mart haar skoondogter met ‘n lang mes ronggejaag het, of besoekers gedreig het. Mart sou al haar klere uittrek en voor gaste verskyn of nakend in die veld gaan rondloop. Soms het Mart gillend rondgehardloop en ander kere weggesink in lang stiltes in ‘n wêreld van haar eie. Haar toenemende aggressiwiteit was egter die keerpunt wat tot haar uiteindelike opname in ‘n gestig (psigiatriese hospitaal) gelei het.22 Hier het sy die res van haar lewe gebly en is uiteindelik op die ouderdom van 81 jaar en 11 maande op 21 Februarie 1956 oorlede.1,23 Sy is heel waarskynlik in Queenstown begrawe maar tot op hede weet niemand in die familie waar haar graf presies is nie.

Of Mart se hospitalisasie ‘n aangename en terapeutiese ervaring was, is te betwyfel. Die behandeling van psiagtriese pasiënte – die malles, kranksinniges of sielsiekes soos algemeen na hulle verwys is – was sedert die vroegste tye onsimpatiek en meesal onmenslik, veral weens die stigma wat met sulke pasiënte geassosieerd was. Hierdie mense is uit die samelewing geïsoleer en familielede het meesal van hul geliefde ‘vergeet’, juis weens hierdie stigma.26 Die wat wel geld of pakkies met lekkernye of klere gestuur het, was selde seker of hul geliefde dit sou ontvang, aangesien menige verpleegster haarself daartoe gehelp het.27 Mediese behandeling in die 1940’s en 1950’s het dikwels gevaarlike tegnieke soos hoë dosis elektriese skokterapie en ewe gevaarlike medikasies ingesluit. Sielkundige berading was op daardie stadium ‘n onbekende term.26 In Februarie 1950 het Susanna Maria Bleicher – ‘n voormalige verpleegster wat voorheen in verskeie sielsieke inrigtings, insluitend Komani, werksaam was – ‘n brief van vyf bladsye lank aan die Cape Argus, ‘n koerant in Kaapstad, geskryf waarin sy skokkende onthullings soos volg gemaak het: Die hospitale was dikwels oorvol en vuil en die kos van swak gehalte. Die meeste verpleegsters, insluitend verpleegsusters en matrones, was ook nie opgelei en toegerus om met sielsiekes te werk nie, het nie die nodige aanleg of roeping vir die taak gehad nie, en het daarby ‘n negatiewe, meesal wrede gesindheid teenoor die gehospitaliseerdes geopenbaar. Pasiënte is gevloek, geslaan, geskop, geknyp, verneder, uitgebuit, aan brutaliteit en viktimisering blootgestel en van hul menswaardigheid gestroop. Sterker pasiënte moes die swakkeres help versorg deur hulle hul kos te voer, of in en uit die bad te help. Die verpleegsters wat wel belangstelling en barmhartigheid teenoor die pasiënte getoon het, is deur medewerkers of hul hoofde geroskom en dikwels gedreig.27 Bleicher het verder geskryf:

LEES MEER oor die behandeling van sielsiekes in die 1940’s.

Mart se geestelike versteurdheid en permanente isolasie in Queenstown ver weg van haar gesin – ongeveer 800 km suid-wes van Volksrust – moes tog ‘n groot impak op die agtergeblewe lede van die gesin gehad het. David Kruger het met Mart getroud gebly,2 maar was soos ‘n geskeide of ‘n wewenaar sonder die kameraadskap en ondersteuning van sy vrou. Ook haar seun, Piet, het sy moeder gemis, selfs lank na haar dood. Iewers in die vroeë 1960’s kom sy skoondogter eendag op hom af waar hy oor die veld sit en tuur. Toe sy hom vra hoekom hy dan so droefgeestig lyk, was sy antwoord: “Vandag mis ek my ou moeder so baie, en ek weet nie eens waar sy begrawe is nie.” Mart se een kleinseun, Chris Kruger (1940 – 2009) het sy hele lewe lank met die vrees geleef dat hy ook eendag ‘mal’ soos sy ouma sou word.22 Hierdie vrees was egter so onnodig, want hy het nooit enige soortgelyke simptome ontwikkel nie, en het later aan emfiseem gesterf. Inteendeel, sover as wat vasgestel kon word, het geen van Mart se voorouers of van haar nakomelinge simptome van geestesversteuring getoon nie, wat dus ‘n definitiewe oorerflikheidskomponent uitskakel. ‘n Sterk vermoede van twee van Mart Kruger se agterkleinkinders is dat sy eerder diagnoseerbaar was met komplekse post-traumatiese stres. Hierdie teorie is as ‘n definitiewe moontlikheid ondersteun deur ‘n algemene mediese praktisyn en ‘n psigiater wat intussen gekonsulteer is, maar ongelukkig sal dit nooit met volkome sekerheid bevestig kan word nie.

Mart se lewe was inderdaad gevul met traumas een na die ander, maar in haar leeftyd was ‘kyk noord en gaan voort’ die manier van doen. Dis moontlik dat al hierdie onverwerkte traumas later hul tol op Mart begin eis het. Op 15-jarige ouderdom is Mart se vader oorlede, op 26 jaar is haar huis afgebrand en moes sy vir maande tussen siekte, dood en smart in ‘n konsentrasiekamp op die koue Hoëveld oorleef. Daarby was die hubare Mart blootgestel aan die risiko van verkragting wat deur Britse soldate teenoor menige Boerevroue en-dogters gepleeg is – of Mart ooit hieraan onderwerp is, sal altyd oor gewonder word. Net na die beëindiging van die oorlog het haar oorlogsverslae oom selfmoord gepleeg wat ‘n verskriklike en onuitspreeklike skande in daardie jare was, teen 1915 het die 41-jarige Mart reeds vier van haar broers aan die dood afgestaan en drie jaar later in 1918, sou sy drie van haar eie kinders binne ‘n bestek van ‘n paar weke verloor weens die gevaarlike griep, wat die wêreld getref het. Hierdie griep-epidemie, bekend as die ‘Groot Griep van 1918’ het ook op sosiaal-psigologiese vlak gelei tot ‘n hoër vlak van sosiale angstigheid onder die Suid-Afrikaanse bevolking, wat nog besig was om van die traumatiese gevolge van die Tweede Anglo-Boere Oorlog sowel as die Eerste Wêreldoorlog te herstel.28

2.2 Elizabeth Gertbrech Human (lewensmetgesel)

Hoewel David nie sy huwelik met Mart laat ontbind het nie, moes die alleenheid hom seker ondergekry het. Teen April 1940 het die David, toe 64 jaar ou, reeds sy lewe gedeel met die weduwee Elizabeth Gertbrech “Bettie” Human (née Koch). Hulle het bly saamwoon totdat David op 75-jarige ouderdom oorlede is. David en Bettie het op Honingvallei gewoon, terwyl sy seun op Roodedraai bly boer het.2 Menige het gedink dat David en Bettie getroud was.22

   3. Sy loopbaan

David het eers as bywoner saam met sy ouers gewerk op die plaas Korenplaats naby Volksrust. Dit was gedurende hierdie tyd dat die Tweede ABO uitgebreek het en David en sy vader hulle aan die Boerekant geskaar het en op onderskeidelik 47- en 23-jarige ouderdom by die Wakkerstroomkommando aangesluit het.6,8,22,29-31 Sy vader, Piet, is egter op 10 Junie 1900 langs David doodgeskiet tydens die slag van Korenplaats (Koringplaas) toe die verkenners van die Wakkerstroomkommando – wat op daardie stadium onder leiding van Generaal Christiaan “Chris” Botha in die Versamelberg in Volksrust omgewing stelling ingeneem het – die verkennende South African Light Horse (SALH) Infantry van Generaal Redvers Buller se Britse troepe verras het.3,32,33Die kommandolewe was nie maklik nie. Burgers het vir weke aaneen in die veld gebly en was uitgelewer aan die natuurlike elemente. Waar hulle aan die begin van die oorlog toegang gehad het tot vleis, biltong, brood, beskuit, melk, suiker en moerkoffie, asook klere en seep, was die guerilla-vegters op hulself aangewese veral na die instelling van Brittanje se Verskroeide Aarde Beleid in September 1900. Mielies het die stapelvoedsel geword – mieliepap, mieliekoekies, gebraaide mielies, gekookte mielies en mieliekoffie. Soms is selfs grasuitjies gekook as mielies nie beskikbaar was nie. Heuning het ‘n plaasvervanger vir suiker geword. Aangesien vleis, afkomstig van slagvee, later nie meer vrylik beskikbaar was nie, is daar dikwels gejag. Daar was later ook ‘n groot tekort aan boerseep, en seep is toe gemaak uit ‘n mengsel van die as van mieliestronke en die blare van die elandsdoringrankplant (die blare het geskuim). Inderdaad soos die Afrikaanse spreekwoord sê: ” ‘n Boer maak ‘n plan”. Na maande in die veld het die burgers van die kommando’s maar vuil, gehawend en onversorgd daar uitgesien. Geen wonder die Britse media was maar te gewillig om hierdie beeld – buite konteks, natuurlik – as die ‘ware’ beeld van die Boerenasie aan die Britse volk voor te hou nie. Gelukkig was daar ook korrespondente, soos Michael Davitt, wat ‘n meer holistiese prentjie van die Boerenasie weergegee het.34-37Dit blyk of David Kruger gedurende die oorlog met tye wel op Koornplaats was.29 Aangesien Wakkerstroomkommando onder leiding van Generaal Chris Botha, die broer van Generaal Louis Botha, saamgestel was uit burgervrywilligers wat in die omgewing van Wakkerstroom woonagtig was, het baie tydens stiller tye teruggekeer na die plase om na hul gesinne om te sien, kos- en ammunisievoorrade aan te vul, en te ploeg en plant, of te oes.32,34 Op 29 November 1901 het Veldkornet J.C. Meyer van die Heidelbergkommando twee van David Kruger se perde gekoop vir nege ZAR pond elk. Op 15 Desember 1901 is ‘n melkkoei vir tien ZAR pond verkoop aan Veldkornet C.J. Erasmus van die Wakkerstroomkommando, vir gebruik gedurende die oorlog. David het getekende kwitansies vir die verkope teen die rekening van die ZAR (goverment notes issues under ZAR Law no. 1, 1900) ontvang. Na die oorlog in Augustus 1902, dien hy as oud-ZAR burger ‘n eis in vir hierdie aankope deur die ZAR waarvan hy nog die betaling moes ontvang. Die dokument bevat ook eise vir ‘n perd wat aan Generaal Jacobus Daniel “Koot” Opperman van die Swazilandkommando verkoop is vir 23 ZAR pond, ‘n perd vir 16 ZAR pond aan Generaal Coenraad Jacobus “Coen” Brits van die Standertonkommando en nog ‘n perd vir 18 ZAR pond aan Veldkornet C.J. Erasmus. Die eis, met ‘n uitbetalingswaarde van 82 ZAR pond en waarop David Kruger as arm geklassifiseer word, word op 10 Desember 1902 goedgekeur.29,38,39Die laaste grootskaalse geveg tussen die Boere en die Britse magte waarby die Wakkerstroomkommando betrokke was, was op 4 Januarie 1902 op die plaas Onverwacht, naby Ermelo in die Suidoos-Transvaal waar die Boere na ‘n kort, maar intense geveg die oorwinning behaal het. Dit staan bekend as die Slag van Onverwacht (ook bekend as die Slag van Bankkop). Daarna het Generaal Louis Botha en sy manskappe, asook die guerilla-vegters van die kommando’s van Ermelo, Standerton, Swaziland en Wakkerstoom uitgewyk na Vryheid in Natal waar Louis Botha se plaas geleë was. In hierdie omgewing het hulle ‘n lae profiel gehandhaaf, ook nadat Louis Botha in Maart 1902 na Vereeninging vertrek het vir die vredesamesprekings, en tot met die amptelike beëindiging van die oorlog.7,38,39 David Kruger was ‘n bittereinder, wat op 12 Junie 1902 saam met Generaal Chris Botha en die oorblywende burgers van die Wakkerstroomkommando van die veld af ingekom het en wapens neergelê het op die plaas, Mooiplaats (Mooiplaas), ‘n paar kilometer noord-oos van die Transvaalse dorpie, Wakkerstroom.29 Hulle moes noodgedwonge die Eed van Getrouheid aan die Britse Kroon onderteken voordat hulle huiswaarts kon terugkeer. Dit was 12 dae nadat die Verdrag van Vereening tussen Brittanje en die twee oorwonne Boere-republieke onderteken is in Pretoria op 31 Mei 1902.7,16,17,40 Na die oorlog het David ‘n oudstryderspensioen tot met sy dood ontvang. In die vroeë 1920’s het hy ook respektiewelik ‘n silwer ZAR oorlogsmedalje ontvang.1,2,22,41

Na die oorlog, teen XXXXX was David reeds werksaam op die plaas Honingvallei. In dieselfde jaar tree hy in die huwelik. David en sy jong gesin het daarna op Roodedraai gaan woon. Op 17 Augustus 1921 erf hy ‘n 222 morge/190 hectare (1.9 km2) gedeelte (Gedeelte G) van die Van der Merwe familie-erfplaas, uit sy skoonmoeder se boedel. In die alledaagse omgangstaal het die familie na die plaas verwys as Rooidraai.1,2,8,9  David het vir sy gesin ‘n huis gebou, maar al wat van die oorspronklike woonhuis oorgebly het, is ‘n paar plat klippe.22 Sy enigste seun, wat later op die plaas geboer het, het ook sy eie kliphuis gebou, maar teen 2014 was die murasie die enigste bewys van ‘n eens netjiese, gerieflike woonhuis waar familie en vriende gereeld vir ‘n kuiertjie kom afsaal het.42 David Kruger het hoofsaaklik met wolskape geboer. Die geproduseerde wol is daarna vervoer na die Volksrust treinstasie vir verkope, soos afgelei uit fakture wat ontvang is vanaf die destydse Suid-Afrikaanse Wolraad in Port Elizabeth.2

   4. Sy afsterwe

David Frederick Kruger het op die ouderdom van 75 jaar en 1 maand op 21 April 1951 gesterf te Paardekop (Perdekop), Volksrust distrik, Transvaal in die Unie van Suid-Afrika in die huis van D.J. Koch (moontlik ‘n familielid van Bettie Human). Hulle was waarskynlik daar as besoekers aangesien hul permanente adres op David se doodsertifikaat as Honingvallei aanggegee was. Die oorsaak van sy dood was hartverlamming. Hy het ook simptome van seniliteit teen die einde van sy lewe getoon.2 Sy graf is ‘n ongemerkte stapel klippe in die Perdekop begraafplaas.2,22

Met sy afsterwe was Roodedraai (gedeelte G) nog in sy naam geregistreer en gewaardeer vir 2 450 Suid-Afrikaanse Pond. Ander bates op die plaas was 400 skape, 3 ryperde, 11 osse, 1 sleepwa en 3 kargenkulper. David het ook vier dorpserwe op Paardekop besit. Erwe nr. 540 en 541 in Swartstraat is uit die boedel aan Theunis Hendrik Roos verkoop. Erwe nr. 546 en 547 in Kromstraat is aan Bettie Human oorgedra na David se dood, as vereffening van haar eis teen die boedel vir ‘n lening wat David voor sy dood met haar aangegaan het. Al die erwe was onontwikkel behalwe vir erf nr. 547 waarop ‘n netjiese hout-en-staal woonhuis met vyf kamers gestaan het.2

Hoekom het David Kruger op Honingvallei gewoon as Roodedraai nog steeds aan hom behoort het? Het hy plek gemaak vir sy seun, Piet en dié se jong gesin, om die boerdery by hom oor te neem? Of was daar kwade gevoelens tussen David en sy seun, of David en sy Van der Merwe-skoonfamilie, weens sy ontrouheid aan hul moeder/suster en die sonde waarin hy met sy vriendin saamgeleef het, en dat hy daarom eerder uitgewyk het na waar daar minder veroordeling was? In watter hoedanigheid het David Kruger en Bettie Human op Honingvallei gewoon – as huurders, bywoners of vriende van die eienaar? Die antwoorde op al hierdie vrae kan slegs oor bespiegel.

   5. Sy kinders

David en Mart Kruger het vyf kinders gehad.1 Hulle is gebore in Volkrust wyk in Wakkerstroom distrik. Slegs twee van hulle kinders het die griep-epidemie van 1918 tot 1919 oorleef en volwassenheid bereik.

5.1 Maria Catharina

Maria was born on 17 April 1903 en gedoop te NGK Wakkerstroom op 31 Mei 1903.1 Sy is in 1918 op 15-jarige ouderdom oorlede tydens die Groot Griep epidemie. REF??

Die Groot Griep, of Influenza-epidemie (in Engels: Spanish flu), het in Maart 1918 uitgebreek en vinnig deur Europa en na Noord-Amerika en Asië versprei. Die beweging van duisende uitgeputte, oorlogsmoeë soldate tydens die Eerste Wêreldoorlog  tussen die verskillende lande aan die oorlogsfront asook na die huisfront, was die hoofsaaklike rede vir die wêreldwye epidemologie van hierdie spesifiek Influenza-stam.43,44 Moderne studies toon dat die Influenza-virus van die 1918 griep-epidemie, die voorloper-virus was van A/H1N1 Influenza sub-tipe, die virus wat met varkgriep geassosieer word. In 2009, tydens ‘n wêreldwye pandemie, is varkgriep vir die eerste keer in mense gediagnoseer, en die virus geïsoleer en bestudeer.45,46

Teen September 1918 het hierdie gevaarlike virus in Suid-Afrika aangeland. Die eerste vlaag van griep het vanaf Durban-hawe versprei deur die hele Natal en na die Witwatersrand, en binne twee weke na die res van Transvaal. Die tweede vlaag het vanaf Kaapstad-hawe versprei na die hele Kaapprovinsie, Oranje-Vrystaat en Wes-Transvaal. Teen die einde van 1918 het meer as 11 000 Blankes en 127 000 Bantoes (swartmense) weens die dodelike griep gesterf. Die meeste sterftes was weens bakteriële longontsteking, ‘n algemene sekondêre infeksie geassosieer met die Influenza-virus. Die virus self het egter ook sterftes veroorsaak, deur massiewe bloeding en edeem in die longe te veroorsaak. Die uitgebreide spoorlynnetwerk van ca 16 000 km deur die Unie was die grootste meganisme waardeur die virus na die Suid-Afrikaanse stede, dorpe en platteland versprei is. Verder het die trekarbeidersisteem ook daartoe bygedra, deurdat mynwerkers se bewegings tussen die myne en hul families, die verspreiding van die virus verder versnel het.43,44

5.2 Piet

Piet, die enigste seun, is gebore op 27 Desember 1904 in Wakkerstroom distrik.1 Hy was my grootvader (oupa). LEES MEER oor Piet Kruger.

5.3 Anna Elizabeth

Sy is op 4 Januarie gebore 1909 gebore. Haar ouma Anna Elizabeth Kruger en tante, Elizabeth Frederika Kruger was getuies van haar doop op 2 Mei 1909 in die NGK Wakkerstroom.1 Sy was nege jaar oud toe sy aan griep in 1918 oorlede is. REF??

5.4 Martha Maria

Martha, na haar ma vernoem, is op 21 Januarie 1913 gebore en gedoop in die NGK Volksrust op 6 April 1913.1 Die vyfjarige Martha het die griep epidemie van 1918 nie oorleef nie. REF??

5.5 Susanna Christina

Hul jongste kind, Susanna Christina “Sannie”, is gebore op 27 Maart 1916 en te NGK Volksrust gedoop op 24 September 1916.1 Sy het later met Pieter Grobler getrou.2,23,47 Hulle het drie kinders gehad; Martie, Marie en Dawie. Pieter is in 1971 oorlede47 en Sannie het later op haar oudag by een van haar dogters op Standerton gaan inwoon. Sy later ook daar oorlede.48

< BACK

  1. Kruger, B. 2007 Die Kruger-familie van Suider-Afrika. 1ste Ed. CD-publikasie. Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Noord-Transvaal takbiblioteek.
  2. Doodsertifikaat, sterfkennis, testament en boedel van David Frederik Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 2343/51, 1951
  3. Grafsteen van Piet Kruger. Familiekerkhof op die plaas Koringplaas, Distrik Volksrust, Mpumalanga, Republiek van Suid-Afrika
  4. Sterfkennis en testament van Piet Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 1843, 1902
  5. Sterfkennis van Anna Elizabeth Eksteen. National Archives & Repository Service of South Africa, Bloemfontein. VAB MHG 31641/40, 1940
  6. Onderhoud op 21 Junie 2014 met Gert van der Westhuizen. Roodedraai Museum, plaas Roodedraai, Volksrust, Mpumalanga
  7. Van der Westhuizen, G.P. & Van der Westhuizen, E. 2013 Guide to the Anglo Boer War in the Eastern Transvaal, 1899 – 1902. 2de Ed. David Scholtz: Volksrust
  8. Kaart van Transvaal Provinsie, Unie van Suid-Africa. Kantoor van die Landmeter-Generaal, Pretoria, 1931. Leeskamer. National Archives & Repository Service of South Africa.
  9. Sterfkennis en boedel van Maria Catharina (Slabbert) van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 43296/20, 1920
  10. Graf van Maria Catharina Van der Merwe. Familiekerkhof op die plaas Roodedraai, Distrik Volksrust, Mpumalanga.
  11. Transportrekords van Plaas Roodedraai (ZAR nr. 264; Transvaal nr. 64). Akte van Transport Nr. 8356/1921. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB RAK 3054
  12. Doop mart
  13. Van der Merwe boek
  14. Pretorius, A. 2000 Van Huis-en-Haard na Konsentrasiekamp. DV Drukkers: Volksrust, Mpumalanga: DV Drukkers
  15. Prickly pear (Opuntia ficus-indica), Cactaceae. http://www.arc.agric.za/arc-ppri/Pages/Prickly-pear.aspx
  16. Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  17. Raath, A.W.G. 2007 De la Rey: Die stryd vir vryheid. 2de Ed. Kraal-Uitgewers BK: Brandford, Suid-Afrika
  18. Illustrated history of South Africa. The real story. 1989 2nd Ed. Reader’s Digest Association South Africa (Pty) Ltd.: Cape Town
  19. Grobler, J. & Grobler, M. 2013 Vroue-Kampjoernaal. Die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog. 1ste Ed. Heroloda Wordworx: Brooklyn, Pretoria.
  20. Moolman, N. 2013 Zij. 1ste Ed. Shanghai Kangshi Printing Co. Ltd: Vanderbijlpark.
  21. Black concentration camps during Anglo-Boer War 2, 1900 – 1902. http://www.sahistory.org.za/topic/black-concentration-camps-during-anglo-boer-war-2-1900-1902
  22. Familie-oorvertellinge deur Tienie Saad en Bettie Kruger in 2012, 2015 en 2018.
  23. Doodsertifikaat, sterfkennis en boedel van Martha Maria van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 1254/56, 1956
  24. Zuzile, M. 30 April 2014. Komani hospital sparkles again. DespatchLive. http://www.dispatchlive.co.za/news/komani-hospital-sparkles-again/
  25. The colonial asylum: An environment for healing and recovery? Plot 99: The 21st century prophecy show. https://plot99.wordpress.com/2010/12/14/images-of-confinement-a-healing-environment/
  26. Gillis, L. 2012 The historical development of psychiatry in South Africa since 1652. South African Journal of Psychiatry, 18(3):78-82
  27. Mahone, S. & Vaughan, M. 2007 Psychiatry and Empire. 1st Ed. Palgrave Macmillan: UK. https://books.google.co.za/
  28. The Influenza-epidemic. http://www.sahistory.org.za/article/influenza-epidemic
  29. Oorlogsvergoedingseis van David Frederik Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB CJC 1189/769, 1903
  30. Wakkerstroom kommando. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB Photo 3749
  31. Unique photographs from the Boer War. Heritage Association of South Africa. http://heritagesa.org/wp/2017/06/08/3224/
  32. Gillings, K. 1999. The British advance and Boer retreat through Natal, March to June 1900. Military History Journal, Vol 11(3/4), 1999. The South African Militory History Society. http://samilitaryhistory.org/vol113kg.html
  33. Boer Leaders. https://za.pinterest.com/pin/345510602661552387/
  34. Pretorius, F. 2001 Op Kommando. Die lewe in die veld tydens die Anglo-Boere Oorlog, 1899 – 1902. 2de Ed. Protea Boekhuis: Pretoria
  35. Boer Commando. https://en.wikipedia.org/wiki/Boer_Commando
  36. Michael Davitt. https://en.wikipedia.org/wiki/Michael_Davitt
  37. Davitt, M. 1937 Boer fight for freedom. https://www.angloboerwar.com/books/37-davitt-boer-fight-for-freedom/832-davitt-chapter-ii-the-boer-qoligarchyq
  38. Smith, R. 2004 The Battle of Onverwacht, 4 January 1902. Military History Journal, Vol 13(2), 2004. The South African Militory History Society. http://samilitaryhistory.org/vol132rs.html
  39. Engelenburg, F.V 1929 General Louis Botha. J.L. van Schaik Limited Publishers: Pretoria, South Africa. https://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/12638/003_p50-99.pdf?sequence=6
  40. Treaty of Vereeninging. https://en.wikipedia.org/wiki/Treaty_of_Vereeniging
  41. Medalje voor de Anglo-Boere Oorlog. https://en.wikipedia.org
  42. Persoonlike besoek aan Roodedraai (64-G), Volksrust, Mpumalanga op 21 Junie 2014
  43. Spanish flu. https://en.wikipedia.org/wiki/Spanish_flu
  44. Trilla, A. Trilla, G. & Daer, C. 2008 The 1918 “Spanish Flu” in Spain. Clinical Infectious Diseases, Vol 47(5): 668-673. https://academic.oup.com/cid/article/47/5/668/296225
  45. Taubenberger, J.K. 2006 The origin and virulence of the 1918 “Spanish” Influenza virus. Proceedings of the American Philosophical Society, Vol 150(1): 86-112. US National Library of Medicine. National Institute of Health. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC2720273/
  46. Swine flu (H1N1). Healthline Newsletter. https://www.healthline.com/health/swine-flu
  47. Boedel van Pieter Grobler. National Archives & Repository Service of South Africa. NAB MSCE 2642/1971
  48. Familie-oorvertelling en identifisering van Standerton-huis deur Dr. Ds. Pieter Kruger op 21 Junie 2014

< BACK