Barend Jacobus Kruger (1796 – 1842)

[ENGLISH VERSION AVAILABLE UPON REQUEST]

< BACK

   1. Sy kinderjare

Barend Jacobus Kruger, my groot-groot-groot-oupagrootjie, is gebore op 21 Januarie 1796 as die sesde kind en derde seun van Pieter Ernst Kruger (1757 – 1810) en Anna Catharina van Aswegen (1765 – ?). Hy is op die ouderdom van twee maande gedoop op 20 Maart 1796 te Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) Graaff-Reinet deur Ds Johann Heinrich von Manger. Barend Frederik Lubbe (*1761) en sy vrou, Sara Jacoba Korf (*1768) het as doopgetuies opgetree.1-4  Die name Barend Jacobus kom nie in die Van Aswegen- of Kruger-familie voor nie. Die vraag is dus vanwaar sy doopname? Dis hoogs waarskynlik dat Barend en Jacoba Lubbe óf aangetroude familie óf baie goeie vriende van die Krugers was en dat hulle albei vernoem is tydens die doop van Pieter en Anna se seun. Moontlik was die Lubbes ook as Barend se peetouers benoem.Barend se vader was ‘n vooraanstaande man in die gemeenskap en later ‘n heemraad in Distrik Graaff-Reinet.2 Die ere-posisie het nie finansiële voordele ingehou nie, maar wel statusvoordele, ook vir sy kinders. In die kerk, byvoorbeeld, het ‘n heemraad en sy gesin in ‘n spesifieke bank gesit, wat vir hulle gereserveer was.5 Dalk het die jonge Barend dan baie belangrik gevoel daar waar hy op die houtbank langs sy ‘gesiene’ ouers gesit het? Die NGK Graaff-Reinet is in 1792 gestig. Die eerste predikant was Ds Johann Heinrich von Manger (20 Februarie 1767 – 2 Mei 1842). Hy is in Duitsland gebore tot die adelstand. Nadat hy aan verskeie Kolleges in Duitsland studeer het, vertrek hy na Utrecht in Nederland om homself verder as predikant te bekwaam. In Oktober 1792 arriveer hy in Graaff-Reinet. Die spanning, woelinge en onluste in Graaff-Reinet Distrik het hom later daar aan die bediening laat onttrek, en hy word in 1798 na Swellendam verplaas. Dr S.P. Heyns, ‘n kollega verbonde aan die NGK Kaapstad, het hom soos volg beskryf: “Ernstig op die preekstoel, was hy in die omgang minsaam en inskiklik, in sy gesprekke selfs luimig. Almal wat hom leer ken het, het sy geselskap geniet. Wanneer ‘n mens hom terneergedruk teëgekom het, wat veral in die laaste dae van sy lewe wel soms die geval was, het dit nie lank geduur nie of sy gelaat het verander en sy gewone blymoedigheid het teruggekeer.”4,6 Die Krugers het dus vir ses jaar onder sy bediening gestaan.

    2. Sy vrou

2.1 Anna Magdalena Senekal

Op 11 Augustus 1816 tree die 20-jarige Barend in die huwelik met die 23-jarige Anna Magdalena “Helena” Senekal (≈18 Maart 1793).1,7 Die huwelikseremonie is voltrek in die NGK Graaff-Reinet onder leiding van Ds. Johannes Schüntz, wat die gemeente-predikant vanaf 1813 tot 1818 was.4 Helena se ouers was David Frederik Senekal (≈21 Julie 1778, Swellendam) en Elizabeth Catharina Boijen/Boeiens/Booyens (≈22 November 1778) en hulle was woonagtig in die wyk Tarka in Graaff-Reinet Distrik. Helena en haar man het op De Vaale Fontein/Valefontein (Vaalfontein) in die Baviaanskloof omgewing in Uitenhage Distrik gaan woon.1,7-10

Anna Magdalena Senekal is in haar laat twintigs oorlede, tussen Desember 1821 en November 1822 en na die geboorte van haar derde kind.9 Sy was die agter-agterkleinkind van David Sénécal/Senekal (1675 – 1746) wat op 19 Augusts 1688 as Franse Hugenoot in die Kaap de Goede Hoop gearriveer het. Hy het die stamvader van die Senekals in Suid-Afrika geword.11 LEES MEER oor die Senekals.

2.2 Johanna Jacomina Ferreira

Barend hertrou, as 27-jarige wewenaar met drie jong kinders, op 16 November 1823 te NGK Graaff-Reinet met die 16-jarige Johanna Jacomina Ferreira (≈3 Mei 1807, George Distrik – 8 Julie 1843, Uitenhage Distrik), dogter van Ignatius Wilhelmus Ferreira (≈24 Mei 1778, NGK Graaff-Reinet) en Johanna Jacomina van Rooyen. Uit die huwelik van Barend en Johanna is tien kinders gebore. Johanna is egter op 36-jarige leeftyd op 8 Julie 1843 oorlede, sewe maande na haar man se dood.1,7 Deur wie haar jong, wees kinders tussen die ouderdomme van 17 jaar en 7 maande, versorg is na hul ouers se afsterwe, is nie bekend nie. Haar drie stiefkinders was toe reeds 26, 24 en 21 jaar oud, respektiewelik.

    3. Sy beroep

Teen 1818 boer Barend en sy gesin op die erfpagplaas Valefontein, ongeveer 30 km oos van die huidige dorpie Willowmore (gestig in 1862) wat ongeveer 170 km suid-wes van Graaff-Reinet lê. Die plaas was in die wyk Baviaanskloof in die Uitenhage Distrik, met die (Groot) Visrivier wat die oostelike grens van die distrik, sowel as die Britse Kaapkolonie, gevorm het.2,8,10,12-14 Teen 1822, op die ouderdom van 26 jaar, het Barend een geweer, een ossewa met toebehore, 49 trekosse, 109 beeste, 188 skape, 241 bokke, vyf teelperde en drie ryperde besit. Die huisinhoud was net die allernodigste o.a. een wakis, een klein trommeltjie, een strykyster, een koperketel, een blikketel, een rooster, drie ysterpotte, twee klein blikskottels, een porseleinsopkom, ses porseleinborde, tien lepels, tien vurke en een bed met toebehore. Hierdie opgawe, wat deur veldkornet Theodorus Cornelius Johannes Senekal opgeneem is, is gedoen kort nadat Barend Kruger se eerste vrou, Helena Senekal, oorlede is.9 Veldkornet Senekal was waarskynlik Helena se oom, en haar pa se broer.11 Barend Kruger het later ook veldkornet geword – in die wyk van Baviaanskloof – waar hy gedien het tot met sy afsterwe.7,15 In 1834 is ‘n aanrandingsklag egter teen beide Barend Kruger en sy vrou, Jacomina ondersoek.16

Dit blyk dus dat Barend Kruger sy lewe lank in dieselfde omgewing bly boer het. Wat wel rondom hulle verander het, was die stigting van nuwe distrikte, dorpe en kerke en meegaande verandering van bestaande distriksgrense, soos wat die kolonie verder uitgebrei het. Elf van Barend se dertien kinders is in die NGK Uitenhage gedoop, met die uitsondering van sy eerste kind wat in NGK Graaff-Reinet gedoop is in 1817, en sy agste kind wat in 1832 in die NGK George gedoop is. NGK Uitenhage is eers in 1817 gestig, dertien jaar na die stigting van die dorp Uitenhage in 1804 deur landros Jacob Glen Cuyler. Die nuwe dorp is vernoem na Kommisaris-Generaal Jacob Abraham Uitenhage de Mist wat vanaf 21 Februarie 1803 tot 25 September 1804 tydens die Bataafse Republiek (rewolusionêre Nederland as satellietstaat van Frankryk) se kortstondige bewind aan die Kaap was. Teen 1806, aan die einde van Nederland se finale betrokkenheid by die Kaapkolonie aan die Suidpunt van Afrika, was daar ses distrikte, Kaap, Stellenbosch, Swellendam, Tulbagh, Graaff-Reinet en Uitenhage. Die groter Swellendam Distrik is in 1811 verder onderverdeel en die nuwe, sewende distrik genaamd George Distrik, is toe geproklameer.8,12,13,17

Geestelike byeenkomste van die eerste gemeente in Uitenhage het onder leiding van Ds. Cornelis Mol, wat ‘n Afrikaner van geboorte was, in ‘n tydelike kerkhuis plaasgevind. Lidmate moes per perd of per ossewa reis om dienste by te woon. Teen 1821 is met die bou van die eerste permanente kerkgebou (nou die kerksaal) begin, en die konstruksiewerk sou uiteindelik 22 jaar duur tot en met voltooiing. Hout vir die kerk se bouwerk is uit die Tsitsikammabos oor 170 km aangery. Ds Alexander Smith, ‘n Presperitiaanse leraar van Skotse afkoms wat tyd in Nederland spandeer het om die Hollandse taal aan te leer, het by Ds. Mol in 1823 oorgeneem en vir 40 jaar met voorbeeldige getrouheid en kennelike seën in die uitgestrekte Uitenhage Distrik gearbei tot met sy aftrede in 1863.18-20 Die Krugers het onder die bediening van Di. Mol en Smith gestaan. Nege van Barend se kinders is deur Ds. Smith gedoop.Barend Kruger het nie deelgeneem aan die groot uittog van grensboere uit die grensdistrikte van die Britse Kaapkolonie nie, wat later bekend geword het as die Groot Trek van 1835 tot 1845. Boere het egter tot met 1854 uit die Graaff-Reinet en Uitenhage Distrikte beweeg, hoewel dit afgeplat het na 1845. Na die tweede anneksasie van die Kaap de Goede Hoop deur Brittanje in 1806, is die aanvanklike Britse bewind grootendeels deur die burgers in die grensdistrikte verwelkom, met die hoop op beter administrasie en militêre beskerming teen veral die Xhosas. Helaas, met tyd het ontnugtering by meer en meer burgers posgevat weens die Britte se mikro-administratiewe benadering en nuwe afgedwonge wette, veral dié t.o.v. die menslike behandeling van slawe en werkers en die gelykstelling van die wetlike regte van alle vry indiwidue, insluitend die inboorlinge. Die Britte het selfs die doen-en-late van die NG Kerk begin reguleer. Nuwe regulasies in 1828 ten opsigte van Khoikhoi-werkers se bewegingsvryheid en die afskaffing van slawerny in 1834 het ‘n ernstige tekort aan arbeid laat ontstaan. Daarby het te min grond ‘n probleem begin word, veral na die afskaffing van die leningsplaasstelsel wat vervang is met die nuwe erfpagverhuringsisteem in 1813. Verder het grondpryse en inkomste-belasting ook die hoogte ingeskiet. Die daadwerklike verengelsing van die Kaapkolonie met die afskaffing van Hollands as voertaal in staatskantore, die gewaande antogonisme van Britse sendelinge, die invoer van Britse koloniste na die grensdistrikte en die aanstelling van Skotse predikante in die NG Kerke het verder bygedra tot ‘n sterk gevoel van marganilisering en die ontwikkeling van ‘n groter bewustheid van ‘n nasionale missie met ‘n behoefte vir ‘n eie onafhanklike, self-regerende republiek. Al hierdie politieke verwikkelinge asook ekonomiese redes soos veelvuldige droogtes, ‘n afgebrande opstal of verwoeste plaas in die Graaff-Reinet en Uitenhage Distrikte, was vir menige Boere oor as genoeg om hulle hul ossewaens te laat pak en as’t ware land-uit die onbekende binneland in te trek.12,13,21

Hierdie voorsaat van ons spesifieke Kruger-lyn het dus nie aan die Groot Trek deelgeneem nie, maar verkies om onder Britse beheer te bly woon. Daar waar Barend Kruger en sy gesin in die Suid-Kaap gewoon het, was die droogtes en inboorling-aanvalle nie so ‘n grootskaalse probleem nie, en plase en opstalle dus in ‘n gesonder ekonomiese kondisie. Daar was ook baie ander boere soos Barend – asook die NG Kerk self – wat nie die trekkery ondersteun het nie. Verder het die voordele onder die Britse regering soos ‘n groter stabiliteit in die grensdistrikte, verbeterde administrasie en dienslewering, veiliger lewensomstandighede weens effektiewe militêre beskerming asook die moontlikheid van ‘n verbeterde onderwysinfrastruktuur vir hul kinders vir menige setlaars swaarder geweeg, sodat die verengelsing en nuwe wette as maklike aanpassings beskou was.12,13,21  Vir dié wat gevoel het dat hulle baie gehad het om te verloor indien hulle binneland toe sou migreer, was dit makliker om eerder te bly. Vir dié wat die teenoorgestelde gevoel het en min gehad het om te verloor, was dit makliker om huis (of dit wat oor was) op te pak en te trek.

  4. Sy afsterwe

Barend Jacobus Kruger sterf 20 dae voor sy 46ste verjaarsdag op 31 Desember 1842, as lid van die Bekanna Veldkornetskap in Baviaanskloof.1,7,15 Sy weduwee verklaar sy dood eers op 16 Maart 1843.15 Die oorsaak van sy dood is onbekend.

Sy tweede vrou sterf sewe maande later1,7 en hul minderjarige kinders word wees agtergelaat. Op hierdie stadium is dit onseker deur wie die kinders verder grootgemaak is; of hulle bymekaar gebly het of na verskillende familielede, vriende of bure uitgeplaas is.   

   5. Sy kinders

Barend Kruger het altesaam dertien kinders gehad. Drie kinders is uit sy eerste huwelik gebore en tien uit sy tweede huwelik.1

Hierdie kinders is in Willowmore omgewing gebore, maar van hulle het later as volwassenes uit die Kaap getrek en hulself in die dieper binneland gaan vestig. Barend se oudste kind, Elizabeth en haar eggenoot het hulle by die Groot Trek aangesluit in ca 1838. Drie seuns het ook uit die Kaap vertrek maar eers na hul vader se dood in 1842. Barend se derde kind, David en sy sesde kind, Izak het beide aan die stertkant van die Groot Trek uit die Uitenhage Distrik vertrek, in ca 1851 en ca 1854 respektiewelik. Sy elfde kind, Marthinus het die Kaap eers tussen 1877 en 1883 verlaat.

5.1 Elizabeth Catharina Petronella

Sy is gebore op 20 Mei 1817 en gedoop op 20 Februarie 1818 te NGK Graaff-Reinet. Haar grootouers aan moederskant, David Frederik Senekal en Elizabeth Catharina Booysen, asook David Frederik Petrus Johannes Senekal en Maria Hermina Booysen het as doopgetuies geteken. Sy trou in ca 1836 later met Joachim Petrus Prinsloo (*18 Julie 1812, Plaas Rietvlei, Langkloof, George Distrik, ≈23 November 1812, †7 Augustus 1893, Plaas Vaalboschbult, Pretoria Distrik, Zuid-Afrikaansche Republiek [ZAR]).1,9,22-25 Hy was die seun van Nicolaas Marthinus Prinsloo (1785 – 1850) en Martha Magdalena Rossouw (1791 – 1872).22-24

Die egpaar het vyf kinders gehad. Hulle was Nicolaas Marthinus (10 April 1837, Uitenhage – 7 Junie 1904, Ogiesfontein, Transvaal), Barend Jacobus (14 Augustus 1839 – 1 April 1902, Heidelberg distrik [sneuwel tydens Tweede Anglo-Boere Oorlog]), Pieter Ernst (21 Augustus 1846 – 24 November 1912, Ogies, Transvaal) en Daniel Salomon (*23 Februarie 1850, ≈21 Oktober 1850, Potchefstroom, †10 Februarie 1901, Chrissiesmeer, ZAR [sneuwel tydens Tweede Anglo-Boere Oorlog]) en Anna Magdalena (6 April 1854 – 6 Januarie 1936).1,22,24,26-28

Die gesin het die Kaap in ca 1838 verlaat. Teen 1841 was hulle reeds in Natal tot in 1844. Teen 1845 het hulle egter getrek na die Republiek van Winburg-Potchefstroom (later deel van die ZAR of Suid-Afrikaanse Republiek) waar hulle op Winburg laat doop het, maar later in die laat 1840’s gaan woon het in die omgewing van huidige Krugersdorp (eers gestig in 1887). Elizabeth is oorlede in Oktober 1861 op die ouderdom van 44 jaar.1,22,25 Sy word as een van die Voortrekkerstammoeders beskou.25,29 Twee jaar na Elizabeth se oorlye, hertrou Joachim op 17 Oktober 1863 te Pretoria met Catarina Maria Boshoff (11 Februarie 1847, Colesberg – 27 Januarie 1906, Johannesburg). Nog drie seuns en ‘n dogter is vir Joachim Prinsloo gebore.25,26

NOTA: Op die sterfkennis van Barend Jacobus Kruger is Joachim Petrus Prinsloo se naam verkeerdelik aangeteken as Joachim Johannes Prinsloo.15 (Sy skoonmoeder en Veldkornet Senekal kon nie eintlik sy name met hom bevestig het nie, aangesien hy reeds vyf jaar vroeër uit die Kaap weggetrek het.)

5.2 Pieter Ernst Johannes Cornelius

Pieter is gebore op 1 Junie/Julie 1819 en gedoop in die NGK Uitenhage op 28 Julie 1820. Die getuies teenwoordig by sy doop was twee ooms, Izak Johannes Kruger en Theodorus Johannes Cornelius Senekal en sy weduwee-ouma, Anna Catharina Kruger (née Van Aswegen).1,9 Sy oupa Pieter Ernst Kruger was toe reeds nege jaar oorlede.

Hy trou met sy kleinniggie, Anna Magdalena Botha (*16 Desember 1824). Sy was die dogter van Johannes Christoffel Botha en Elsje Aletta Andriëtta Kruger, wat die dogter van Pieter Ernst III (1782 – 1841) was.1 Die paartjie het vier kinders gehad; Barend Jacobus (*31 Januarie 1842, 20 Maart 1842, NGK Graaff-Reinet, †4 Februarie 1923, Plaas Rietvlei, Johannesburg Distrik), Pieter Ernst (*12 November 1844, ≈25 Desember 1844, NGK Graaff-Reinet), Johannes Christoffel Botha (*5 Junie 1852, ≈18 Julie 1852, NGK Graaff-Reinet) en Elsie Aletta (*8 April 1857, ≈ 20 April 1858, NGK Graaff-Reinet).1,23 Hul vader is in ca 1861 oorlede. Hul weduwee-moeder het later weer getrou, met Jacobus Josephus Momberg (*ca 1824).23

5.3 David Frederik Petrus Johannes Senekal

Hy was my groot-groot-oupagrootjie. Hy is gebore op 8 Desember 1821 en gedoop in die NGK Uitenhage op 8 Junie 1822. Hy trou later met Susanna Christina Rossouw.1,9 Hy het die Kaap in ca 1851 verlaat. LEES MEER oor David F.P.J.S. Kruger.

5.4 Johanna Jacomina

Johanna kom die wêreld binne op 19 Februarie 1825. Sy word drie maande later gedoop op 15 Mei 1825 te NGK Uitenhage. By haar doop was Ignatius Willem Ferreira en sy vrou Johanna Jacomina van Rooyen, asook Ignatius Willem Ferreira en Martha Jacoba Ferreira.1 Haar naam kom voor op haar pa se sterfkennis van 1842, en sy word aangedui as minderjarig (ongeveer 17 jaar oud).15 Niks meer is oor haar lewe bekend nie.

5.5 Barend Jacobus jnr.

Barend jnr. (II) is gebore op 1 Oktober 1826 en gedoop op veertien maande op 16 Desember 1827 in die NGK Uitenhage. Die doopgetuies was Susanna Carolina Prinsloo, Marthinus Stephanus Ferreira, Theodorus Ignatius Ferreira en Catharina Koekemoer. Hy trou met Hester Susanna van Rooyen op 8 Augustus 1851 in George. Barend jnr. is oorlede op die ouderdom van 78 jaar op 23 Desember 1905 in die Willowmore omgewing in die Suid-Kaap, in dieselfde omgewing waar sy pa voorheen geboer het.1,30

Die egpaar het 16 kinders gehad. Hulle was Barend Jacobus III (1852 – 1922), Hester Susanna (*1854), Jan Hendrik (1855 – 1936), Johanna Jacomina (*1857), Hester Susanna Magdalena (*1859), Ignatius Michael (*1861), Marthinus Stephanus (*1864), Paul Ernst (1866), Anna Elizabeth (*1868), Martha Jacoba (*1868), Petronella Catharina (1869), Martha Johanna (*1871), Gerrit Thomas (*1872), Carel Petrus (*1873), Anna Elizabeth (*1875) en Pieter Ernst (*1878).1,30

5.6 Ignatius Wilhelm(us)

Ignatius is gebore in Graaff-Reinet distrik op 7 Februarie 1829 en gedoop in die NGK Uitenhage op 15 Mei 1829. Die doopgetuies was Ignatius Willem Ferreira, Johanna Jacomina van Rooyen, Ignatius Willem Ferreira en Hester Anton van Staden. Ignatius word later in die huwelik bevestig met die dogter van Michiel Jacobus Otto en Margaretha Maria Johanna Nortje naamlik Jacoba Sophia Otto (1838, Distrik Uitenhage – 4 Mei 1889, Distrik Bloemfontein). Teen ongeveer 1854 vertrek hulle uit die Kaap en vestig hulle later in Bloemfontein distrik in die Boere Republiek van OVS.1 Sy is op die ouderom van 51 jaar oorlede op Krugersdeel, die plaas van Barend Jacobus Kruger (onseker van presiese familieverband). ?????????? Ref ?

Ignatius en Jacoba het vier kinders gehad wat almal in die NGK Bloemfontein gedoop is. Hulle was Barend Jacobus (*24 Desember 1855, ≈2 September 1856), Margaretha Maria (*10 Januarie 1858, ≈20 Junie 1858, †20 Oktober 1858), Johanna Jacomina (*16 November 1859, ≈6 Februarie 1860, †<1891) en Michiel Jacobus (*11 Desember 1876, ≈4 Maart 1877).1 Ignatius was 61 jaar oud toe hy oorlede is op 15 Oktober 1890 op sy plaas Uitvlucht-Wes no 27, distrik Bloemfontein. ??????REF

5.7 Anna Catharina

Anna sien die lewenslig op 8 September 1830 en word twee maande later gedoop in die NGK Uitenhage op 21 November 1830. Theodorus Cornelius Ferreira, Anna Catharina van Aswegen Joachim Johannes Prinsloo, Catharina Maria van Rooyen, Pieter Ernst Kruger en Anna Magdalene Smit het haar doop as getuies bygewoon.1

Anna trou later met Matheus Hendricus de Bruin maar op 27-jarige leeftyd op 25 Maart 1859 sterf sy op die plaas Popelier Plaats, Vogelrivier, Somerset-Oos Distrik. Die egpaar het saam drie kinders gehad. Hulle was Barend Jacobus, Cornelia Johanna en Jorina.31,32

5.8 Martha Jacoba Zacharia

Sy is gebore op 25 Junie 1832 en gedoop in die NGK George op 10 Februarie 1833.1 Haar naam kom voor op haar pa se sterfkennis van 1842, en sy word aangedui as minderjarig (ongeveer 10 jaar oud).15 Min inligting oor haar lewe is beskikbaar.

5 9 Johannes Izak Petrus

Johannes is gebore op 12 Junie 1834 en in dieselfde jaar op 31 Augustus gedoop in die NGK Uitenhage. Teenwoordig by die doopseremonie as getuies was Joachim Petrus Prinsloo, Petrus Hendrik Ferreira, Johannes Kruger en Gertruida Bothma. Hy tree in die huwelik met Johanna Dorothea Magdalena Gouws. Vier kinders is uit die huwelik gebore naamlik Johanna Magdalena Jacomina (*11 Desember 1859, ≈19 Februarie 1860, NGK George), Anna Catharina Maria (*5 Junie 1863, ≈30 Augustus 1863, NGK George), Johannes Izak Petrus (*2 Augustus 1876, ≈24 September 1876, NGK Willowmore) en Pieter Frederik Ernst (*2 Junie 1883, ≈2 Desember 1883, NGK Graaff-Reinet).1

5.10 Susanna Magdalena

Susanna is op 9 Junie 1836 op die plaas Schilpadbeen in die Willowmore distrik gebore. Sestien maande later op 10 Desember 1837 is sy gedoop in die NGK Uitenhage in die teenwoordigheid van Susanna Magdalena Ferreira, Gerrit Thomas Ferreira, Jacob Lourens Ramea, Cornelia Susanna Erasmus, Hendrik Christoffel Moore en Gertruida Saaiman. Sy trou met Willem Hendrik Barnard in George. Willem is oorlede op 9 Maart 1896 en Susanna op die ouderdom van 78 jaar op 24 September 1914 in Warm Bath, Uniondale distrik.1

5.11 Marthinus (Johannes) Stephanus

Hy is in George omgewing gebore op 27 Mei 1838. Hy is gedoop op 10 November 1838 in die NGK Uitenhage. Martinus Stephanus Ferreira, Joachim Johannes Prinsloo, Hester Gertruida van Rooyen, Nicolaas Petrus Prinsloo en Maria Elizabeth Viljoen was teenwoordig by die doopseremonie. Marthinus tree in die huwelik met Herculasina Salomina Susanna du Preez. Uit hul huwelik is tien kinders gebore. Na Herculasina se afsterwe op 13 Mei 1912, trou Martinus met Anna Sophia Botha (ca 1865, Standerton, Transvaal – 11 Mei 1935) in Frankfort, geleë in noord-oos Oranje-Vrystaat, ‘n provinsie van die Unie van Suid-Afrika. Sy was die dogter van Hermanus Joachim Botha en Johanna Magdalena Swart.1 Marthinus sterf op 21 Desember 1922 op sy plaas Burgersrust in Frankfort distrik in die OVS.??????REF Die plaas Burgersrust is te vinde tussen Frankfort en Vrede in die omgewing van die klein plattelandse dorpie Cornelia.33

Marthinus se gesin is erg geraak deur die Tweede Anglo-Boere Oorlog (ook bekend as Suid-Afrikaanse Oorlog). Hierdie vryheidsoorlog is deur burgers van die OVS en ZAR, die onafhanklike twee Boererepublieke, teen Brittanje gevoer, maar in ‘n poging om die Boere se moraal te breek, het die Britte hul plase afgebrand en die vroue en kinders na haglike konstentrasiekampe weggevoer.13 Van Marthinus se kinders is in die Kroonstad konsentrasiekamp, ongeveer 200 km wes van hul familieplaas, oorlede. LEES MEER oor die Kroonstad konsentrasiekamp.

Sy kinders was Barend Jacobus (*1858), Johanna Jacomina (*22 November 1863, ≈6 Februarie 1862, NGK George), Herculasina, Salomina, Susanna (*10 Mei 1871, ≈26 September 1871, NGK Middelburg, Kaap), Susanna Magdalena (*9 Julie 1876, ≈24 Desember 1876, NGK Uniondale, †12 September 1901), Johannes Izak Petrus (*ca 1884, Burgersrust, distrik Frankfort, OVS – 14 November 1914, Bloemfontein, OVS), Anna Catharina (*ca 1885, Burgersrust, distrik Frankfort, OVS – 3 Augustus 1901, Kroonstad Konsentrasiekamp, OVS), Martina Aletha (*ca 1889, Burgersrust, distrik Frankfort – Augustus 1901, Kroonstad Konsentrasiekamp), Gesina Maria (*1890), Martha Jacoba (*1892) en Cornelia Magdalena (*1894).1

5.12 Cornelia Susanna

Cornelia is gebore op 10 April 1840. Vyf maande later is sy op 28 September 1840 te NGK Uitenhage gedoop. Doopgeruies was Daniel Erasmus, Susanna Cornelia Kruger, Pieter Ernst Kruger, Anna Magdalena Botha, Petrus Hendrik Ferreira en Johanna Jacomina Kruger. Sy is later getroud met Samuel Tauber, ‘n boer. Die egpaar het sewe kinders gehad; Samuel, Johanna Jacomina, Barend Jacobus, Leopold, Jeanette, Cornelia Susanna en Alexander. Cornelia is op die plaas Pronksberg (nou Pronkberg) in die wyk Wodehouse (nou Dordrecht omgewing, Oos-Kaap Provinsie) oorlede op 15 Desember 1902 op die ouderdom van 62 jaar.1,34

5.13 Gert Jacobus

Gert kom die wêreld in op 14 Mei 1842, en is gedoop op 12 Mei 1843 te NGK Uitenhage.1 Sy naam kom voor op sy pa se sterfkennis van 1842, en hy word aangedui as minderjarig (ongeveer sewe maande oud).15 Geen verdere inligting kon opgespoor word nie.

    < BACK

  1. Kruger, B. 2007 Die Kruger-familie van Suider-Afrika. 1ste Ed. CD-publikasie. Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Noord-Transvaal takbiblioteek.
  2. Mossop, E.E. 1947 Lives of the earlier Krugers. Told in a revised genealogical table. SA Archives Year Book. Cape Times Ltd., Cape Town
  3. Sara Jacoba Lubbe (born Korf/Korff). Smit Website. https://www.myheritage.com/…/sara-jacoba-lubbe-born-korfkorff
  4. NG gemeente Graaff-Reinet. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Graaff-Reinet
  5. Heemraad. https://af.wikipedia.org/wiki/Heemraad
  6. Johan Heinrich von Manger. https://af.wikipedia.org/wiki/Johan_Heinrich_von_Mange
  7. Veldkornet Barend Jacobus Kruger 1796-1842. https://www.geni.com/people/Veldkornet-FieldCornet-Barend-Kruger-b8c4d6/6000000018565454924
  8. Booyens, H. 10 October 2015. AmaBhulu – The birth and death of the second America. https://hbooyens.wordpress.com/2015/10/10/mandela-almost-born-american/
  9. Inventaris van Anna Magdalena Senekal. Inventories of the Orphan Chamber, http://databases.tanap.net/mooc/make_pdf.cfm?output=pdf&id=MOOC8/68.12a
  10. Vaalfontein. https://www.google.co.za/maps/place/
  11. Senekal David. https://www.stamouers.com/stamouers/surnames-r-to-u/453-senekal-david
  12. Binckes, R. 2013. The Great Trek uncut. 1ste Ed. 30º South Publishers: Pinetown.
  13. Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  14. Uitenhage. https://en.wikipedia.org/wiki/Uitenhage
  15. Death notice Barend Jacobus Kruger. South Africa, Cape Province, Probate Records of the Master of the High Court, 1834-1989, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSQX-MQLD-H?cc=2517051&wc=WV44-SZV%3A1598082367 : 12 June 2018), 007844936 > image 2082 of 2223; Pietermaritzburg Archives (Formerly Natal State Archives), South Africa (KAB 5976 1843)
  16. Kriminele klag van aanranding teen Barend Jacobus Kruger en Johanna Jacomina Kruger. KAB CSC 1/2/1/14/12, 1834.
  17. George, Western Cape. https://en.wikipedia.org/wiki/George,_Western_Cape
  18. NG gemeente Uitenhage. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Uitenhage
  19. Combrinck, H. 17 Augustus 2017. NGK Uitenhage se 200ste jaar gevier. News24 City Press. https://www.news24.com/SouthAfrica/Local/UD-News/ngk-uitenhage-se-200ste-jaar-gevier-20170816
  20. Alexander Smith. https://af.wikipedia.org/wiki/Alexander_Smith
  21. Great Trek. https://en.wikipedia.org/wiki/Great_Trek
  22. Elizabeth Petronella Kruger. https://www.geni.com/people/Elizabeth-Petronella-Kruger-b7c4d6e/6000000019188382479?through=6000000019188382484#/tab/timeline
  23. Joachim Petrus Prinsloo, 1812 – 1893. https://www.myheritage.com/names/joachim_prinsloo
  24. Sterfkennis en boedel van Joachim Petrus Prinsloo. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB, MHG O/8458, 1893
  25. Visagie, J.C. 2011 Voortrekkerstamouers, 1835-1845. 2de Ed. Protea Boekhuis: Pretoria
  26. Sterfkennis van Barend Jacobus Kruger. South Africa, Cape Province, Probate Records of the Master of the High Court, 1834-1989, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSQ8-3S33-8?cc=2517051&wc=WV44-SCL%3A1598082344 : 12 September 2017), 007844461 > image 2070 of 2200; Pietermaritzburg Archives (Formerly Natal State Archives), South Africa
  27. Sterfkennis van Catarina Maria Boshoff. South Africa, Transvaal, Probate Records from the Master of the Supreme Court, 1869-1958, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CS92-RT41?cc=2520237&wc=Q6NX-T97%3A1590242450 : 12 June 2017), 007805619 > image 160 of 926; Pietermaritzburg Archives (formerly Natal State Archives), South Africa
  28. Botha in Southern Africa. http://home.mweb.co.za/el/elijo/bothhtml/index.html
  29. Botha, J. 2010 Botha in Southern Africa. home.mweb.co.za/el/elijo/bothhtml/dat4.html
  30. Sterfkennis van Barend Jacobus Kruger. South Africa, Cape Province, Probate Records of the Master of the High Court, 1834-1989, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSQ8-3S33-8?cc=2517051&wc=WV44-SCL%3A1598082344 : 12 September 2017), 007844461 > image 2070 of 2200; Pietermaritzburg Archives (Formerly Natal State Archives), South Africa
  31. Anna Catharina de Bruin. https://www.geni.com/people/Anna-Catharina-de-Bruin-e7/6000000019205253248
  32. Sterfkennis van Anna Catharina Kruger. South Africa, Cape Province, Probate Records of the Master of the High Court, 1834-1989, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSQF-CSXP-B?cc=2517051&wc=WV44-SZX%3A1598082377 : 12 September 2017), 007844939 > image 2009 of 2166; Pietermaritzburg Archives (Formerly Natal State Archives), South Africa
  33. Burgersrust. https://www.google.co.za/maps/search/burgersrust+farm+free+state/@-28.4453648,28.1355186,13z
  34. Pronkberg. https://www.google.co.za/maps/@-31.5109116,26.5747145,182247m/data=!3m1!1e3

< BACK