Gerhardus Petrus van der Merwe (1843 – 1889)

[ENGLISH VERSION AVAILABLE UPON REQUEST]

< BACK

   1. Sy kinderjare

Gerhardus Petrus “Gert” van der Merwe was die vyfde kind (tweede seun) van Cornelis Johannes van der Merwe (1809 – 1877) en Aletta Susanna Engelbrecht (1809 – 1871). Hy het ses susters en een ouer broer gehad. Hulle was Marthinus Stephanus (*1832), Martha Maria Magdalena (*1836), Johanna Magdalena (1838 – 1922), Martha Maria (*1840), Aletta Susanna (1845 – 1888), Wilhelmina Johanna (*1847) and Gertruida Margaretha (1850 – 1887).1-4

Gert se oupa en vader het die Groot Trek (1835 – 1845) meegemaak en was afkomstig vanuit die Graaf-Reinet distrik van die Britse Kaapkolonie. Teen die vroeë 1840’s was hulle reeds woonagtig in die Republiek van Winburg (bestaanstydperk: 1836 – 9 April 1844), wat deur die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter (1792 – 1852) gestig is.5-9 Hier is Gert op 10 September 1843 op die plaas Kromdraai in die huidige Kroonstad omgewing gebore. (Kroonstad is eers in 1855 gestig en lê 112 km noord-oos van Winburg.)10-13 Agt maande later, op 6 Mei 1844, is Gert gedoop in die NGK Winburg.2 Die Voortrekkerkerk is in 1840 gestig en het uit die drie gemeentes Potchefstroom, Winburg en Pietermaritzburg bestaan. Ds. Daniel Lindley (1801 – 1880), ‘n Presbiteriaanse sendeling van Amerika wat onder swart inheemse stamme sendingwerk gedoen het, is in 1840 as die eerste predikant van die Voortrekkerkerk aangestel en hy moes al drie gemeentes bedien. Hy was woonagtig in Pietermaritzburg en het net in 1842 en 1844 besoeke aan die ander twee gemeentes gebring. Teen einde 1847 het ds. Lindley egter sy sendingwerk onder die Zoeloes hervat. Vanaf 1848 tot 1850 het ds. Andrew Murray (1828 – 1917) van NGK Bloemfontein en ds. Pieter Roux van NGK Smithfield as besoekende konsulente by Winburg kom bedien, totdat die eerste permanente leraar, ds. Dirk van Velden (1813 – 1878) in 1850 hier bevestig is.14,15Wanneer Gert se familie verder noord na die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR)/Suid-Afrikaanse Republiek getrek het, is onseker, maar teen 1850 was hulle reeds in Rustenburg distrik woonagtig.2 Later in die vroeë 1870’s het die Van der Merwes hulle egter op die Transvaalse Hoëveld bevind toe die kaart-en-transport van die plaas Roodedraai (ZAR nr. 264; Transvaal nr. 64) aan die oewer van die Kliprivier in Wakkerstroom distrik, aan Cornelis van der Merwe in 1872 oorgedra is.16-18 Gert was toe reeds 28 jaar oud.

   2. Sy vrou

Gert van der Merwe het met Maria Catharina “Mieta” Slabbert (*1 Junie 1844, Republiek van Winburg) getrou wat in die huidige Volksrust omgewing grootgeword het waar haar ouers geboer het. Haar vader was Gerrit Petrus Slabbert (≈22 Desember 1817 – 22 Julie 1880).10,11,19,20 Haar moeder, Johanna Hendrina de Clercq (21 Februarie 1811 – 1889) was ‘n afstammeling van Adam Tas (1668 – 1722),21 een van die vername vryburgerleiers wat in opstand teen Goewerneur Willem Adriaan van der Stel (1664 – 1733) van die Kaap de Goede Hoop se korrupte regering gekom het.8,9 LEES MEER oor die Slabberts.

Dit blyk dat Mieta ‘n raakvat boervrou met ‘n sterk, formidabele persoonlikheid was wat as weduvrou nie gestuit het om haar argwaan teenoor die Britse soldate tydens die Tweede Anglo-Boere Oorlog te laat blyk nie.20 Dalk het sy na haar Tas-voorsaat geaard?

Gedurende die oorlog in September 1900 is die Verskroeide Aarde Beleid van Veldmaarskalk Horatio Herbert Kitchener (1850 – 1916) afgekondig.8,9,20,22,23 Op 16 Mei 1901 het die soldate van ‘n kolom van die 6th Dragoon Guards onder leiding van Luit. Hedley John Kirkpatrick op Roodedraai hul opwagting gemaak om hul vernietigingswerk uit te voer20,24-27 en die 57-jarige Mieta, haar dogters, skoondogters en kleinkinders na die Volksrust konsentrasiekamp aan te jaag. Toe die oorlog uitgebreek het, was reeds verskeie gedeeltes van die oorspronklike Roodedraai bewoon deur Van der Merwe sibbe en hul gesinne. Die Britse troepe het hulself tussen die verskillende woonhuise wat oor die plaas versprei was, verdeel. Mieta se hoenders en varke is voor die voet afgemaai met bajonette. Die beeste en skape is egter bymekaar gemaak om na Volksrust aangejaag te word. Mieta en haar ongetroude dogter, Mart, is min tyd gegee om ‘n bietjie voorraad en klere bymekaar te skraap. Intussen het van die Engelse soldate ook die asynbottels op die solder ontdek, en het opgewonde afgesuiker na die wal van die meulstroom by die rivier, waar hulle hulself onder ‘n akkerboom tuisgemaak het om die lekker ‘sterk voggies’ in hul droë keelgate af te gooi. Toe die asynsmaak hul asems wegslaan, het hulle die bottels teen die akkerboom stukkend gegooi. (In 1976 is daar steeds bottelstukke onder die akkerboom opgetel deur ‘n toergroep van die Voortrekker-beweging.) Ai, Mieta was die josie in oor al hierdie skades! Sy sê toe vir Mart aan om van die ryp turksvye te gaan pluk, en die soldate te laat proe. Natuurlik wou hulle nog meer van hierdie soet, sappige vruggies hê! En Mart deel al te mildelik van die ongeskilde turksvye uit terwyl die niksvermoedende manne hul hemde oophou. Onnodig om hier te verduidelik hoe die soldate gevoel het toe die fyn turksvydorinkies hul werk teen hul borskaste verrig het.20 Mieta het daardie rondte gewen! Maar lang swaarkry-maande sou in die konsentrasiekamp volg. In Volksrust-kamp het uiteindelik 1009 vroue en kinders gesterf, waarvan 43 Van der Merwes was – 33 was kinders van 15 jaar en jonger, en 10 was 16 jaar en ouer.8,9,20,22,24,28-30

   3. Sy loopbaan

Gert van der Merwe het op sy geboortegrond aangebly en daar geboer met vee tot met sy dood. Roodedraai was ‘n groot plaas in die Wakkerstroom distrik van die ZAR, ook bekend as die Transvaal.16 Die dorpie, Martiens Wesselstroom is deur Dirk Cornelius “Swart Dirk” Uys (1814 – 1910) in opdrag van die ZAR in 1859 uitgelê (in 1904 herdoop na Wakkerstroom), wat ongeveer 65 km oos van Roodedraai geleë is.31,32 Dit was dus ‘n redelike lang tog met die ossewa tot daar vir die bywoning van nagmaal, of vir doopplegtighede of huwelikseremonies wat in die NGK Wakkerstroom voltrek is. Die dorpie Volksrust, wat 40 km oos van die plaas geleë is, is eers in 1889 gestig en die NGK Volksrust het eers in 1910 tot stand gekom, nadat dit van NGK Wakkerstroom afgestig het.33,34

Na die Eerste Vryheidoorlog (Eerste Anglo-Boere Oorlog) het Gert die bynaam van “Gert Oorlog” gekry.22 Dis ongelukkig nie bekend waaraan dié bynaam spesifiek te wyte was nie, maar het waarskynlik verband gehou met sy betrokkenheid by die oorlog of ‘n spesieke heldedaad wat hy verrig het of sy karakter as Boerekryger. Dit is wel bekend dat hy teenwoordig was by die Slag van Majuba en dat hy op 27 Februarie 1881, met ‘n verslag oor die verloop van die geveg, deur die Kliprivier geswem het, op ‘n plek ongeveer 4 km stroom-af van sy woonplaas, Roodedraai. Die verslag is deur die rapportryer ene Kilian na die ZAR-president  Stephanus Johannes Paulus “Paul” Kruger (1825 – 1904) gebring, wat 200 km noord-wes van Majubakop op Heidelberg gestationeer was. Heidelberg was op daardie stadium die tydelike hoofstad van die Boere-regering in die geannekseerde ZAR, aangesien die Britte die septer in Pretoria geswaai het.8,9,35-39Die vryheidsoorlog was die resultaat van die Boere se groeiende ontevredenheid en frustrasie teenoor die anneksasie van die ZAR deur die Britse Ryk en het uiteindelik tot uitbarsing gekom op 16 Desember 1880, toe die eerste skote naby Potchefstroom afgevuur is. Hierdie anneksasie is deur Waarde Heer (Sir) Theophilus Shepstone en sy 25 berede polisiemanne uitgevoer toe hulle op 20 Januarie 1877 Pretoria met ‘n koninklike lasbrief binnegery het, en daarmee die 1852 Sandrivier Konvensie wat die onafhanklikeid van die ZAR gewaarborg het, verbreek het. Aanvanklik het die Boere die anneksasie gelate aanvaar, want op daardie stadium was die Boerevolk maar redelik onbelangstellend in die bestuur en belange van hul boererepubliek, soveel so dat min hul staatsbelasting betaal het en die ZAR feitlik bankrot was. Van ‘n gevoel van lojale nasionalisme was daar geen sprake en die meeste het verkies om op hul eie boerdery en onafhanklike leefwyse te fokus. Verder was die ZAR regering ook bekommerd oor die spanning met die Brits-gesinde Zulu-koning Chetshwayo kaMpande (ca 1826 – 1884) in Natal, en wou nie ‘n situasie ontlont waar die ZAR homself tegelykertyd in konflik met die Britte en die Zulus bevind nie. Nadat Brittanje die Zulus in 1879 tot oorgawe gedwing het tydens die Anglo-Zulu Oorlog, het die Boere se teenstand teen Brittanje se afgeforseerde regeringsbeleid vinnig begin groei en uiteindelik ontplof in ‘n oorlog om vryheid.8,9,35,40

‘n Paar strategiese veldslae het tussen die Boere en die Britte plaasgevind tydens die vryheidsoorlog – Bronkhorstspruit, Rustenburg, Marabastad, Lydenburg, Elandsfontein en Rooihuiskraal, maar die Britte se vernederendste neerlae by Laing’s Neck, Schuinshoogte en Majubakop (ook bekend as Spitskop) in die Britse Kolonie van Natal (nou KwaZulu-Natal provinsie) was die uiteindelike keerpunt van die oorlog in guns van die Boere. Die laaste veldslag, die Slag van Majuba, waarby die 37-jarige Gert van der Merwe betrokke was, het op 27 Februarie 1881 plaasgevind en het die finale nekslag aan die Britse leër toegedien. Gedurende die nag van 26 Februarie 1881 het Majoor-Generaal George Pomeroy Colley (1835 – 1881) en 405 Britse soldate Majobakop bestyg en so die Boeremagte se beweeglikheid deur Laing’s Neck gekortwiek. Colley was onder die indruk dat die Boere die aftog sou blaas, maar hy het hom lelik misgis. Generaal Nicolaas Jacobus Smit (1837 – 1896) het vinnig drie stormbendes bestaande uit vrywilligers (meesal begeesterde jongmanne) van verskeie Boere-kommandos saamgestel. Hierdie onderskeie bendes is gelei deur Veldkornet Stephanus Johannes Roos, Kommandant Joachim Johannes Ferreira (1835 – 1917) en Kommandant D.J.K. Malan. Ander burgers, meesal die ouer manne, het ‘n kordon rondom die voet van die kop gevorm en vandaar oorhoofse vuursteun teen die kruinrand gelewer wat die Britte laat skuilhou het. Teen 06h00 het die Boere die kop begin bestyg en teen 12h00 die kruin bereik. Die Britte was nie bestand teen die Boere se ongewone skiet-en-beweeg aanslag, uitsonderlike skietvernuf en slim skuilhou-vermoë nie en die oorblywende soldate het die hasepad begin kies. Teen 18h00 was die slag verby. Britse verliese het ingesluit drie offisiere, insluitend Colley, en 93 manskappe gedood, agt offisiere en 109 man gewond, en sewe offisiere en 49 manskappe krygsgevange geneem.28,40-43 Een vlugtende soldaat het sy ervaring later so beskryf: “It had taken me five bloody hours to get up Majuba, but only touched the ground five bloody times on the way down.”43 Aan Boerekant het een man gedurende die geveg gesneuwel, en ses is gewond waarvan een later aan sy wonde beswyk het.8,9,35,40-42Hoewel hierdie vryheidsoorlog slegs tien weke geduur het en beëindig is op 6 Maart 1881, het dit die bewoners van die ZAR, asook ondersteuners uit die Kaap, Natal en Oranje-Vrystaat, genoop om eendragtig saam te staan. Dit het uiteindelik tot die ontstaan van ‘n eie Afrikaanse nasionalisme gelei, wat gekenmerk is deur ‘n sterk anti-Britse gevoel, die handhawing van ‘n eie identiteit, ‘n sterk godsdiens-, taal- en historiese sin en ‘n toekomsverwagting. Die vredesooreenkoms is op 23 Maart 1881 in O’Neil se Kothuis onderteken deur Waarde Heer Evelyn Wood en Generaal Redvers Buller van Brittanje en Generaal Petrus Jacobus “Piet” Joubert (1831 – 1900) en Paul Kruger van die ZAR. Daarmee het ‘n onbeduidende, ‘barbaarse’ volkie aan die suidpunt van Afrika se militêre oorwinning oor die magtige Britse Ryk die wêreld laat regop sit en is daar vir die eerste keer van die Afrikaners as ‘n definitiewe en waardige entiteit notisie geneem. Brittanje het lank en moeilik gesluk aan hierdie vernedering, veral aan die nederlaag op Majubakop waar ‘n klomp jong plaasjapies Brittanje se ervare en hoogs-opgeleide weermag ore aangesit het.8,9,35,40,44

Soos Gert en Mieta se kinders groot geword het, het elkeen op verskillende gedeeltes van Roodedraai met hul gesinne begin woon en geboer, sodat Gert later die boerdery heeltemal oorgegee het, en net twee merries en 20 boerbokke vir homself gehou het. Hulle opstal was ongeveer 200 m oos van hul oudste seun s’n op Gedeelte F.10,11,19,20,36 Gert het op ‘n stadium ook die plaas Rusthoek (ZAR no 316), aan die oostelike grens van Roodedraai, bekom. Na sy afsterwe is Rusthoek onderverdeel en aan sewe De Haas-erfgename oorgedra.10,11 Eers na Mieta van der Merwe se dood in 1920 het elkeen van Gert se kinders die kaart-en-transport van Roodedraai, en spesifiek die gedeelte waarop elkeen onderskeidelik geboer het, in 1921 ontvang.19

   4. Sy afsterwe

Gerhardus Petrus van der Merwe is op 18 Julie 1889 op die ouderdom van 46 jaar, 10 maande en 10 dae oorlede, toe sy jongste kind maar ses jaar oud was. Sewe van sy elf kinders was nog minderjarig. Hy is in die familiekerkhof op Roodedraai begrawe. Sy boedel is egter eers teen Mei 1906 beredder, en uitgevoer volgens sy testament gedateer 10 Augustus 1866. Die plaas is aan sy weduwee toegeken. Elkeen van sy kinders het ‘n jong perd ter waarde van tien pond uit sy boedel geërf, behalwe vir sy dogters Johanna en Aletta wat elk tien pond kontant ontvang het.2,10-12 Sy vrou is 30 jaar later langs hom ter ruste gelê, nadat sy op Roodedraai op 75-jarige leeftyd op 20 Februarie 1920 tot sterwe gekom het.12,19 Die kerkhof, wat ongeveer 50 m van Kliprivier se oostelike wal lê, is in ‘n erg verwaarloosde toestand. Die gedeelte van Roodedraai waar hierdie kerkhof geleë is, behoort lankal nie meer aan enige Van der Merwe nasate nie – dit is deur die staat opgekoop en word huidiglik aan Timoty Dhludhlu uitverhuur. Langgras, doringbome en struikgewasse groei welig tussen die grafte of selfs binne-in sommige grafte. Beeste loop ook deur die begraafplaas. Vele van die grafstene is beskadig of erg verweer.12

   5. Sy kinders

Gert en Mieta van der Merwe het 11 kinders gehad, waarvan drie seuns as volwassenes voor die ouderdom van 40 jaar oorlede is.2,3,10,11,19,45-49 Hoewel Gert en Mieta se kinders nog te jonk was om hul vader se betrokkenheid by die Eerste Vryheidsoorlog te verstaan, het hulle almal wel deeglik saam met hul eie gesinne die uitdagings en wreedheid van oorlog beleef tydens die Tweede Vryheidsoorlog, ook bekend as die Tweede Anglo-Boere Oorlog (ABO2) of Suid-Afrikaanse Oorlog.

Na hul moeder se dood in 1920, het elke oorlewende kind (of kleinkinders) hul gedeelte van Roodedraai geërf. Uit die boedeldokumente blyk dit dat Mieta van der Merwe (en ook wyle Gert) gesteld daarop was om regverdig teenoor elkeen van hulle kinders, hetsy seun of dogter, op te tree en uit Mieta se boedel het elkeen ‘n regmatige en gelyke deel van Roodedraai, ter waarde van 1024 pond, geërf.16,19

5.1 Johanna Hendrina

Sy is in Junie 1865 gebore. Sy is op Roodedraai oorlede op 1 Augustus 1927 in die ouderdom van 62 jaar en twee maande. Sy was getroud met Johannes Phillipus Jacobus “Johan” van der Merwe (*5 Januarie 1863, ≈8 Maart 1863, Utrecht, †3 Januarie 1899). Hy was die seun van Johannes Stephanus van der Merwe (2 Maart 1839 – ?) en Martina Elsje Johanna Koch (4 Julie 1839 – ?). Johan is egter twee dae voor sy ses-en-dertigste verjaarsdag oorlede in 1899, net nege maande voor die aanvang van die Tweede Anglo-Boere Oorlog, en ses maande voor Johanna se eie vader oorlede is. As 36-jarige weduwee met ses jong kinders moes Johanna die oorlog en Volksrust-konsentrasiekamp alleen oorleef. Die kinders was Johannes Stephanus, Maria Catharina (later getroud met Daniel Johannes Bloem Swart van plaas Kromelnboog/Kromellenboog, Volksrust), Martina Elsie Johanna, Johanna Hendrina (later getroud met Schalk Willem Albertus de Meyer), Gerbrechtje Elizabeth en Gertina Jacoba (later getroud met Christiaan Johannes Kruger van die plaas Inklarzatje, Vryheid). Hulle is almal na die konsentrasiekamp geneem op 16 Mei 1901, terwyl hul huis en besittings deur die Britse troepe vernietig is. Van die ander Van der Merwe-gesinne op die plaas is ook op daardie dag na Volksrust weggeneem.2,10,11,48-50

Na die oorlog, in ca Februarie 1903, is Johanna weer getroud met die wewenaar Jacobus Oosthuizen (Junie 1844 – 3 Desember 1911, Roodedraai) – in haar vergoedingseis van 4 Mei 1903 verklaar sy dat sy twee maande gelede weer getroud is. Met haar tweede huwelik het Johanna sommer met een slag nog ses kinders bygekry – drie kinders uit Jacobus se eerste huwelik met Petronella Cornelia Janse van Rensburg, wat op 30 Januarie 1902 oorlede is, asook drie van Jacobus se kleinkinders wat in sy versorging was, nadat hul moeders (twee van Jacobus se dogters) in konsentrasiekampe tydens die Tweede Anglo-Boere gesterf het. Uit Jacobus en Johanna Oosthuizen se huwelik is nog twee kinders gebore naamlik Gert Cornelis (*23 September 1904) en Aletta Susanna (*13 July 1906).48-51

In 1921 het Johanna Gedeelte C (222 morge) van Roodedraai uit haar moeder se boedel geërf het. Hierdie deel is later vir 961 pond verkoop aan Cornelis Janse Uys tydens ‘n publieke vandusie.16 Hierdie Uys was moontlik óf Cornelis Janse “A” Uys (1888 – ?) óf Cornelis Janse “B” Uys (1906 – 1973). Hierdie twee was agter-agterkleinneefs. Daar was heelwat Uys-families wat reeds aan die einde van die 18de eeu gevestig was in die Volksrust en Wakkerstroom omgewing. Ook op die plaas Rusthoek het Hubert Willem de Haas (1891 – ?) gewoon wat op 14 Junie 1920 met Susanna Magrietha Uys (1896 – 1989), die suster van Cornelis B getrou het. Teen 1921 het De Haas ‘n gedeelte van Rusthoek verkoop aan Ferdinand Johannes Viljoen (1880 – 1956), wat getroud was met Susanna Barbara Magdalena Uys (1885 – 1952). Sy was die suster van Cornelis A. Hierdie twee Susannas was dus agter-agterkleinniggies.16,52,53

5.2 Cornelis Johannes

Hy is op 21 November 1866 gebore.2,3,10,11 Dis nie bekend of hy as 15-jarige seun saam met sy vader aan die Eerste Vryheidsoorlog deelgeneem het nie. As volwassene is hy later te Wakkerstroom getroud met Catharina Maria van der Schÿff (11 Februarie 1877, Volksrust – 4 Augustus 1964, Perdekop).2,12,19,54 Hulle opstal daar op Roodedraai was omtrent 200 m van sy moeder se woning af. Hierdie twee plaaswonings, met hul inhoud, is gelyktydig afgebrand deur Britse soldate op 12 Junie 1901 tydens die Tweede Anglo-Boere Oorlog. Cornelis se moeder, vrou en drie kinders (onderskeidelik 4½ jaar, 2½ jaar en 3 maande oud) is toe alreeds op 16 Mei 1901 deur die Britse troepe na die Volksrustkonsentrasiekamp weggeneem, terwyl Cornelis op kommando was in die Oranje-Vrystaat naby die plaas Witkop. Op daardie dag en ook later op 11 Julie 1901 is in totaal 200 skape, 100 boerbokke, 10 perde en vullens, 24 koeie en kalwers, en 16 osse gebuit, terwyl sakke geoeste mielies en bale wol aan die brand gesteek is, en die varke, hoenders, ganse, eende en kalkoene voor die voet dood gemaak is. Plaas-implemente is ook vernietig. Hiervoor het Cornelis ‘n skadevergoedingseis van 1195 pond op 4 Mei 1903 ingedien. Hierin dui Cornelis aan dat hy tydens die algemene oorgawe op 12 Junie 1902 die wapens neergelê het op die dorpie Marthinus Wesselstroom (Wakkerstroom) maar dis duidelik dat hy tussendeur ook heelwat tyd op die plaas spandeer het, waartydens hy tussen 10 Oktober 1899 en 5 Mei 1902 – in opdrag van Veldkornet Adriaan Dirk Badenhorst van die Wyk 1 veldkornetskap van Wakkerstroom distrik – in totaal 309 kommando-perde met hoefysters beslaan het. Hiervoor het Cornelius na-oorlogse vergoeding op 7 Augustus 1902 geëis, asook vergoeding vir die 30 sakke koring en 130 sakke mielies wat aan die ZAR-regering verskaf is en waarvoor hy toe nog geen sent ontvang het nie. Van Cornelius se totale eis wat 1436 pond beloop het, is slegs 297 pond uiteindelik deur die Repatriasie Kommisie uitbetaal.24,36

Cornelis van der Merwe het later in sy lewe ook ‘n gedeelte (303 morge) van die leningsplaas Loskop in Wakkerstroom distrik besit, wat na sy afstrewe aan Herbert Roland Scudamore Meek verkoop is vir 1699 pond tydens ‘n openbare veiling, soos gehou op 31 Maart 1915. Cornelis was hoofsaaklik ‘n skaapboer, wat ten tye van sy dood 56 hammels, 276 Merino-ooie en 180 lammers besit het, asook vier perde en 21 osse.54 Cornelis is vyf dae voor sy 48ste verjaarsdag oorlede op 16 November 1914 in die Pretoria Hospitaal (later Pretoria Akademiese Hospitaal, nou Steve Biko Akademiese Hospitaal). Sy jongste kind was maar twee maande oud. Cornelis is in die familiekerkhof op Roodedraai begrawe. Sy vrou is 50 jaar later langs hom begrawe.12,54

Cornelis en Catharina het nege kinders gehad waarvan die eerste sewe te NGK Wakkerstroom gedoop is. Hulle was Maria Catharina (*1 Oktober 1896, ≈8 November 1896, eerste getroud met Gabriel Johannes Lotter, later op 9 Maart 1956 te Durban met Johan Daniel Koch [1888 – 17 Junie 1959, Perdekop]), Catharina Maria (*19 Oktober 1898, ≈15 Januarie 1899, getroud met Hendrik Johannes Naudé), Johanna Hendrina (*4 Februarie 1901, ≈23 Junie 1901, getroud met Johannes Hendrik Petrus Koch), Elizabeth Francina Johanna (*14 Augustus 1903, ≈22 November 1903, getroud met Johannes Joost Bloem), Gerhardus Petrus (*22 Augustus 1905, ≈4 Februarie 1906), Lucas Johannes (*1 November 1907, ≈12 April 1908), Anna Cornelia Sophia Margaritha (*19 Oktober 1909, ≈27 Maart 1910). Die jongste twee is te NGK Volksrust gedoop – Cornelis Johannes (*26 Maart 1912, ≈15 September 1912, doopgetuies Cornelis J. en Susara S. Uys, en David F. en Martha M. Kruger) en Jan Hendrik van der Schÿff/Scheyff (*25 Augustus 1914, ≈28 September 1914, doopgetuies Johannes J. en Aletta S. de Lange, en Daniel J.B. en Maria C. Swart).2,54 Al hierdie kinders het gesamentlik Gedeelte F van Roodedraai uit hul ouma se boedel van 1921 geërf.19 

5.3 Aletta Susanna

Sy is op 25 November 1868 gebore en is voor 1899 getroud met Johannes Jacobus Tobias Frederick “Jan” de Lange (November 1875, Ladysmith distrik, Natal – 9 Februarie 1934, Volksrust), seun van Adriaan Jacobus de Lange en Jorina Jacoba Maree.3,10,11,55 Met die uitbreek van die ABO2 was Aletta en haar man reeds op Roodedraai aan’t boer met skape, mielies en aartappels. Jan de Lange het op 30 Junie 1900 die Eed van Getrouheid te Roodedraai, Volksrust afgelê, ses weke nadat die Britse soldate reeds op 16 Mei 1901 hul opwagting op die plaas gemaak het en sy gesin na Volksrustkonsentrasiekamp weggeneem is. Gelukkig het hul klipplaashuis intakt gebly, met net drie deure en drie vensters wat verwyder is. Die 120 skape, 60 boerbokke, drie koeie met kalwers, ses perde, asook sale en tome is deur die Britse troepe geannekseer; die varke, hoenders, ganse en eende is gedood en die sakke mielies, koring, bone en ertjies in die skuur is vernietig. Na sy oorgawe was Jan op Roodedraai tot op 29 Augustus 1900 toe hy weer deur Gen Christiaan Rudolph de Wet (1854 – 1922) en sy kommando opgekommandeer is om verder saam met hulle te veg. Jan de Lange was daarna vir ‘n verdere nege maande by die oorlog betrokke voordat hy op 29 Mei 1901 by Paardekop (nou Perdekop) vir ‘n tweede keer oorgegee het. Van Jan se skadevergoedingseis van 378 pond wat hy op 22 Julie 1901 by die Britse Repatriasie Raad ingedien het, het nie veel gekom nie. Slegs 58 pond is in 1903 aan hom toegestaan, nadat die Britse amptenaar wat sy eis behartig het, besluit het dat “I consider it should take a man less than 9 months to get away from a commando if he meant to – so consider this equivalent to breaking his oath. If CJC consider his second surrender early enough to qualify him for compensation, recommended share of £58.” 25,26,56

Die De Lange-egpaar het agt kinders gehad. Hulle was Adriaan Jacobus, Maria Catharina, Gert Petrus, Johannes Jacobus Tobias Frederick, Jorina Jacoba, Barend Jacobus, Marthinus Jacobus en Jacob Abraham Johannes.55

Aletta en haar man het op Gedeelte B van Roodedraai geboer, waarop daar ‘n plaasskooltjie, skoolmeestershuis en poskantoortjie wat die omgewing bedien het, gebou was. Haar moeder het reeds in 1904 een morg grond aan die Transvaalse Onderwysdepartement geskenk vir onderrigdoeleindes, nadat die Departement haar met hierdie versoek genader het.10,,11,16,19,36 Die nodige geboue is in 1908 opgerig. Die skoolmeester se huis en die eenvoudige skooltjie met twee klaskamers is gebou uit wit sandsteenklip van die omliggende berge en rante, asook ingevoerde greinhout wat vir die deure, kosyne, vloere, lyste, plafonne en vensterrame gebruik is. Sandsteen-rotsblokke is met beitels losgekap en met ‘n slee wat deur osse getrek is, na die bouterrein gesleep. Op die werf is elke steen met ‘n hamer en ‘n beitel tot die verlangde grootte afgewerk, waarna elke steen met groot omsigtigheid en puik vakmanskap gelê en ingemessel is. Die skooltjie moes ongelukkig in 1939 sy deure na 31 jaar sluit weens kwynende leerlinggetalle.36,37Kort nadat Aletta hierdie gedeelte van Roodedraai in 1921 geërf het, is dit oorgedra aan ‘n Gerhardus Johannes de Jager.16 Jan en Aletta de Lange het verhuis na erf no 156 in Schoonstraat in Volksrust waar hulle vanaf 1922 gaan woon het tot met Jan se afsterwe in 1934. Op 10 Mei 1989 is Roodedraai B aan Gert Petrus van der Westhuizen vir die koopsom van R 85 000 verkoop.57 Dit is steeds in besit van die Van der Westhuizen familie, wat die oorspronklike Roodedraai-skoolgeboutjie, wat nog stewig staan, in ‘n uitsonderlike museum omskep het.22,36 Sien Roodedraai Museum. Die poskantoortjie funksioneer lankal nie meer nie, maar die sinkgeboutjie is netjies gerestoureer.36 5.4 Gerhardus Petrus

Hy is op 8 September 1870 te Roodedraai gebore. Hy is na beide sy maternale oupa en sy vader vernoem en was bekend as “Gert”.2,3,10,11 Hy het hom ook by die Boere-kommando aangesluit, maar voor hy weg is, het hy ‘n groot baal wol in ‘n ou, uitgeweke erdvarkgat op die plaas weggesteek. Na die oorlog kon hy die wol verkoop en sodoende sy familie vir ‘n rukkie onderhou terwyl hulle weer op hulle voete probeer kom het. Hierdie spesifieke erdvarkgat bestaan vandag nog.20,22 Gert het Gedeelte E van Roodedraai wettiglik ontvang in 1921, waar hy reeds aan die boer was.16,19

Gert is te Wakkerstroom getroud met Geziena Johanna de Meyer (*23 September 1877, Volksrust), die dogter van Schalk Willem Albertus de Meyer en Catharina Elizabeth Labuschagne. Drie kinders uit hul huwelik kon opgespoor word. Hulle was Marthinus Johannes (1892 – ?), Gert Petrus (14 September 1895, Volksust – 31 Januarie 1975, Volksrust; getroud met Catharina Magdalena McDuling, née Ackerman) en Willem Albertus (1907 – 15 September 1956, Roodedraai, Volksrust; getroud met Gesina Dorothea Taljaard).2

Gert van der Merwe is op Roodedraai op 15 Julie 1957 in die ouderdom van 87 jaar oorlede. Geziena is tien jaar na haar man oorlede op 8 Julie 1967 te Volksrust.2

5.5 Maria Catharina

Maria is op 21 Augustus 1872 gebore en het later met Jacobus Johannes “Koot” van Dyk (Julie 1868, Zeerust – 23 Augustus 1929, Roodedraai) in die huwelik getree.2,3,10,11,58  Koot was die seun van Sybrandt Johannes van Dyk en Louisa Aletta Meyer. Koot en Maria se eerste twee kinders, Sybrand Johannes (*ca 1895) en Gerhardus Petrus “Gerrie” (*ca 1898), is voor die uitbreek van die Tweede Anglo-Boere Oorlog gebore, en die ander drie na die oorlog. Die jongste drie was Maria Catharina (getroud met Jan Simon Struweg), Jacobus Johannes en Cornelius Johannes (*7 November 1910).20,58

NOTA OP BRONVERWYSING 20:  Maria en Koot van Dyk se kleindogter, Annetjie Pretorius (née Van Dyk) se onderhoude met familielede, vriende en kennisse het ‘n uiters waardevolle boekie tot gevolg gehad, waarin ‘n versameling van kosbare familiestories – gedateer uit die Anglo-Boere Oorlog – neergepen is.

Maria was ‘n slim vrou en het dit tot haar voordeel gebruik toe die Britse troepe tydens die Anglo-Boere Oorlog by hul opstal opdaag. Toe ‘n nuuskierige Engelse offisier nader gestaan het, het sy die kans gebruik om ‘n kis vol voorrade te pak. Hy het elke ding bekyk wat sy ingepak het. Elke keer het hy gevra: “What’s this?” Dan het sy gesê: “Soap”. Terwyl hy dit bekyk het, het sy vier seepstene ingepak en vir hom een gegee. Dieselfde het gebeur met die vetkerse, droë perskes, appelkose, appels en asyn (wat sy by haar ma gekry het en van druiwe gemaak was). Sy het vir hom vertel van die koffiepitte wat sy gebrand en gemaal het, en van hoe mielies gestamp word in die stampblok. Ook het sy vir hom gewys hoe eiers in mieliemeel gepak word sodat dit nie breek nie. Dis toe dat die offisier van hom laat hoor: “No wonder it is taking us so long to defeat the Boers! In England we were told that the Boers were a barbaric nation, only now to discover that they are refined, civilised and educated people!” Maria is toegelaat om een van haar bulsakke (verematrasse) saam te neem. Sy het dit gevou en sy en haar twee kinders, Sybrand (6 jaar) en Gerrie (3 jaar) het bo-op die matras, bo-op die wa gesit. Hulle skape en beeste is saam met haar broers s’n aangejaag Volksrust toe, maar die pluimvee is almal doodgemaak. Die huis se vloere is ook omgedolwe. Die gesin se hond, Tjalie, het verseg om agter te bly en het agter die wa aangedraf.20

In 1921 het Maria en haar man Gedeelte D van Roodedraai uit haar moeder se boedel ontvang.16,19  Later in dieselfde jaar het Koot van Dyk ook ‘n gedeelte (100 morge) van Rusthoek, ‘n oostelike buurplaas van Roodedraai, by die eienaar Hubert Willem de Haas (sien 5.1) oorgeneem. Koot was ‘n skaapboer.16,58

5.6 Martha Maria

Martha Maria “Mart” is op 31 Maart 1874 op die plaas Roodedraai gebore.2,10,11,59 Dit was die einste Mart wat saam met haar moeder die Britse soldate laat les opsê het met die ongenadige dorinkies van ongeskilde turksvye.16 Sy het later in die huwelik getree met David Frederik Kruger (1876 – 1951), seun van Piet Kruger (1852 – 1900). Hulle het op Gedeelte G van Roodedraai gewoon en geboer.16,19,59-61 Hulle was my groot-grootouers (ouma- en oupagrootjie). LEES MEER oor Mart van der Merwe en haar man David Kruger.

5.7 Marthinus Gerhardus

“Martiens”, soos Marthinus Gerhardus bekend gestaan het, is op 17 Oktober 1875 gebore.2,3,10,11 Gedurende die Tweede Anglo-Boere Oorlog, terwyl hy op kommando was, het hy somtyds in die somer van 1899 in die nag kom ploeg en plant. Sy wa, wat eintlik aan sy broer Jacob behoort het, het hy mooi uitmekaar gehaal en in een van die kuile van die Kliprivier versteek. Ook was die meulsteen van die ou watermeule verwyder en versteek langs die rivieroewer tot na die oorlog.20,39

Martiens het gewoon en geboer op Gedeelte J van Roodedraai, waarvan die akte op 17 Augustus 1921 vanuit sy moeder se boedel aan hom oorgedra is.16,19 Hy is op 28-jarige ouderdom op 21 Januarie 1903 te Volksrust getroud met Christiaan Ernst Cecilia “Zoilia” Fourie (21 Januarie 1884 – ?), dogter van Christiaan Ernst Fourie (1864, Winburg – 2 November 1884, Kleinfontyn, Wakkerstroom) en Isabella Cornelia Labuschagne (28 September 1858, Ladysmith – 25 Desember 1896, Wakkerstroom).2,62-64 Uit Martiens en Zoilia se huwelik is twee seuns en ‘n dogter gebore. Hulle was Gerhardus Petrus (*1904), Isabella Cornelia (*1906, later getroud met Willem Frederik Johannes Kuntz) en Christiaan Ernst Fourie (17 Januarie 1911, Wakkerstroom – 13 Desember 1973, Johannesburg).62,63 Martiens is op 14 September 1940 op die ouderdom van 64 jaar en 11 maande op Roodedraai oorlede. Na sy dood het Martiens se weduwee die grond vir 600 pond verkoop, maar het lewensvruggebruik daarop behou.62

5.8 Jacob Abraham Johannes

Hy is op 12 Julie 1877 gebore.2,3,10,11 Jacob en sy broer, Martiens was baie na aan mekaar, soos die spreekwoordelike Bybelse David en Jonathan. Hy was ook sy suster, Mart se gunsteling broer.20

Die ongetroude Jacob het op 23-jarige ouderom op 24 Junie 1901 gesneuwel gedurende die Tweede Anglo-Boere Oorlog tydens ‘n skermutseling met die Engelse tussen Amersfoort en Volksrust (naby die plaas Witkopje [Witkoppies 81 HS], net suid van die huidige Majuba Kragsentrale).2,17,45 Sy naam verskyn op die Volksrust Gedenksteen. Hierdie monument is oorspronklik in 1918 in die ou begraafplaas opgerig ter nagedagtenis van die onskuldige slagoffers (die Boere vroue en kinders) wat in die Volksrust konsentrasiekamp omgekom. Dit is egter in 1976 verskuif na Voortrekkerplein, waartydens ook ‘n Muur van Herinnering opgerig wat die slagoffers se name lys, asook ‘n gedenksteen vir burgers van die omgewing wat gesneuwel het tydens die oorlog.30 Jacob se naam verskyn ook op die gedenksteen op Wakkerstroom wat opgerig is ter ere van gesneuweldes van die Wakkerstroomkommando.65 Op beide hierdie gedenkstene verskyn ook die naam van Piet Kruger, wat op 10 Junie 1900 gesneuwel het. Hy was Jakob se suster, Mart, se wyle skoonvader.60,61

5.9 Hendrik

Hendrik is gebore op 30 November 1878 en is op die ouderdom van 29 jaar en 10 maande op 29 Oktober 1908 oorlede.2,3,10,11,46 Hy was getroud met Elizabeth Francina Kruger (1880 – ?) maar ten tye van sy dood aan’t huis op Roodedraai het hulle nog geen kinders gehad nie.2,46 Hoewel hy ‘n aandeel in die plaas Roodedraai gehad het, was die plaas nog in sy weduwee-moeder se naam geregistreer.46 Dit verduidelik dan hoekom daar geen erfporsie vir sy nasate of weduwee in sy moeder se boedel van 1921 gespesifiseer is nie. Teen daardie tyd was sy jong weduwee reeds vir ‘n tweede keer getroud.16

5.10 Barend Jacobus

Hy is op 12 November 1880 gebore en oorlede op 2 September 1915 op die ouderdom van 34 jaar en 10 maande.2,3,10,11,47 Hy was getroud met Magdalena Maria Koch (1884 – ?), dogter van Johan Daniel Koch en Gertina Stoffelina Schoeman. Barend het hoofsaaklik met mielies, skape en boerbokke geboer, maar het ook ‘n paar beeste en 14 trekosse aangehou. Na ‘n besoek aan die Laeveld in laat Augustus 1915, oppad terug, het hy begin siek word en is langs die hoofpad na aan Volksrust oorlede.47 Hy lê begrawe op sy geboorteplaas.12 Sy twee minderjarige dogters Gertina Stoffelina (*17 Mei 1908, ≈13 September 1908, NG&HK Wakkerstroom, †14 Julie 1968) en Maria Catrina (*5 Februarie 1910, ≈8 Mei 1910, NG&HK Wakkerstroom, †4 Julie 1981, Piet Retief) het sy gedeelte van Roodedraai (Gedeelte H) geërf.2,16,47 Gertina is later getroud met Jacobus Johannes Hermanus Uys jnr. (10 Julie 1910, plaas Roodedraai – 28 Junie 1981), ‘n agter-agterkleinneef van die Voortrekkerleier Petrus Lafras “Piet” Uys (1797 – 1838) en kleinneef van Susanna Barbara Magdalena Uys (sien 5.1).52,66Gertina se skoonvader, Jacobus Johannes Hermanus Uys snr. (22 April 1869 – 27 September 1934) het op die plase Mooifontein en Kromelnboog/Krommellenboog in die Volksrust omgewing geboer, maar sy seun se geboorteplek word as Roodedraai aangedui. Uys snr. is op 65-jarige ouderdom oorlede en lê op Roodedraai begrawe. Hy was die neef van Petrus Gerhardus Uys (10 Desember 1856, Heidelberg, Britse Kaapkolonie – 3 Oktober 1939, Amersfoort, Transvaal) wat op ‘n stadium ook op ‘n gedeelte van Roodedraai geboer het.12,67,68

Die Uys en Van der Merwe families het aangegroei vanuit die oorspronklike Voortrekker-gesinne en het later wyd verspreid in die omgewing van Amersfoort, Volksrust en Wakkerstroom gewoon. Met tyd het ook ‘n hele paar huwelike tussen Uys en Van der Merwe naamdraers plaasgevind.2,52 Dit is egter nie algemeen bekend dat die hoogs-aansteeklike siektetoestand, melaatsheid, baie hartseer onder hierdie families, veral dié woonagtig in die huidige Amersfoort omgewing, veroorsaak het nie. Melaatsheid, ‘n bakteriologiese infeksie, was tot met die 1940’s onbehandelbaar en dus ongeneeslik. Dit was ook geassosieer met enorme sosiale stigma en skande, soveel so dat geïnfekteerde indiwidue deur hul families verstoot is, uit die samelewing verwyder is, in streng-bewaakte melaatsheidsfasiliteite soos die Pretoria Melaatse Insituut (Pretoria Leper Asylum), geïsoleer is, meesal daar ‘vergeet’ is asof hulle nie vir hul families bestaan het nie en uiteindelik ‘n eensame, aftakelende dood temoetgegaan het.69-71 Jacobus Johannes Hermanus Uys snr. se eie agterkleinniggie, Dina Magrietha van der Merwe (1887 – 1915) het die siekte opgedoen, asook van haar oupa, Johannes Gerhardus Uys (1837 – 1921), haar oom, Jacobus Johannes Rudolph van der Merwe (1857 – 1914) en haar neefs en niggies, Aletta Elizabeth van der Merwe (1893 – 1913), Johannes Francois van der Merwe (1896 – ?), Georg Diederik Bezuidenhout jnr., seun van George Diederick Bezuidenhou snr. (1866 – 1948) en Susanna Catharina Uys van die plaas Pietzyndrift no. 17 (nou no. 476 IT), noord van Amersfoort in die distrik Wakkerstroom, asook Magdalena Maria Bezuidenhout (‘oorlede’ voor 1922), dogter van George Diederick Bezuidenhout (1848 – 1922) en Magdalena Maria Van Deventer van die plaas Sterkfontein, suid van Amersfoort.2,52,72,735.11 Jacobus Johannes

Hy is op 14 Desember 1882 gebore en oorlede op 27 September 1955 op die ouderdom van 72 jaar in Johannesburg Algemene Hospitaal, Johannesburg.2,3,12 Hy is in die magistraatskantoor op Volksrust op 14 Januarie 1908 getroud met Susanna Hermina Swart wat gebore is op 14 September 1884, Smithfield, OVS. Sy is op 73-jarige ouderdom in Volksrust Hospitaal op 21 Augustus 1958 oorlede. Beide is op Roodedraai begrawe.2,12,74

Jacobus van der Merwe het op die oorblywende, noord-westelike gedeelte van Roodedraai geboer. Sy gedeelte het ook ‘n addisionele 27 morge ingesluit, wat vir uitspanning gebruik moes word.16,19 Wat met hierdie ‘uitspanning’ bedoel is, is nie bekend nie, maar het moontlik verwys na ‘n gedeelte van Roodedraai wat vir moeë reisigers beskikbaar gemaak is waar hulle kon uitkamp en oornag, of waar die omgewing se mense bymekaar kon kom vir geleenthede soos Geloftedagfeeste.

Die egpaar het een dogter gehad naamlik Dina Maria Elizabeth (ca 1908 – ?), wat op 20 Desember 1927 te Volksrust met Dietloff Jacobus van der Merwe (ca 1907 – ?) van die plaas Platina, Standerton-omgewing getroud is.2,75 Meer kinders kon op hierdie stadium nog nie opgespoor word nie.

< BACK

  1. Sterfkennis en testament van Cornelis Johannes van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG O/713, 1877
  2. Melville, J. 2005 Stamboom van die Van der Merwe Familie. 1ste Ed. Genealogiese Publikasies: Walmer
  3. Cornelis Johannes van der Merwe. https://www.geni.com/people/Cornelis-Johannes-van-der-Merwe/6000
  4. Sterfkennis en testament van Aletta Susanna van der Merwe (née Engelbrecht). National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG O/213A, 1871
  5. Visagie, J.C. 2011 Voortrekkerstamouers, 1835-1845. 2de Ed. Protea Boekhuis: Pretoria
  6. Winburg. https://en.wikipedia.org/wiki/Winburg
  7. Republiek van Winburg-Potchefstroom. https://af.wikipedia.org/wiki/Republiek_Winburg-Potchefstroom
  8. Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  9. Illustrated history of South Africa. The real story. 1989 2nd Ed. Reader’s Digest Association South Africa (Pty) Ltd.: Cape Town
  10. Sterfkennis, testament en boedel van Gerhardus Petrus van der Merwe. South Africa, Transvaal, Probate Records from the Master of the Supreme Court, 1869-1958, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:QLQ7-5VG6 : 17 March 2018), Gerhardus Petrus van der Merwe, 1889; citing Probate, Wakkerstroom, Transvaal, South Africa, Pietermaritzburg Archives (formerly Natal State Archives), South Africa; FHL microfilm 1,367,051.
  11. Sterfkennis, testament en boedel van Gerhardus Petrus van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG O/4774, 1889
  12. Van der Merwe grafte. Familiekerkhof op die plaas Roodedraai, Distrik Volksrust, Mpumalanga. Besoek op 1 September 2018 deur Alta Jamison en Charles Saad (Van der Merwe nasate)
  13. Kroonstad. https://en.wikipedia.org/wiki/Kroonstad
  14. NG gemeente Winburg. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Winburg
  15. Daniel Lindley. https://af.wikipedia.org/wiki/Daniel_Lindley
  16. Transportrekords van Plaas Roodedraai (ZAR nr. 264; Transvaal nr. 64). Akte van Transport Nrs. 8351-8359/1921. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB RAK 3054
  17. National Geo-Spatial Information, 1:50 000 Rasters. January 2015. Department of Rural Development and Land Reform, Republic of South Africa. CD-publication
  18. Kaart van Transvaal Provinsie, Unie van Suid-Africa. Kantoor van die Landmeter-Generaal, Pretoria, 1931. Leeskamer. National Archives & Repository Service of South Africa
  19. Sterfkennis en boedel van Maria Catharina (Slabbert) van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 43296/20, 1920
  20. Pretorius, A. 2000 Van Huis-en-Haard na Konsentrasiekamp. DV Drukkers: Volksrust, Mpumalanga
  21. Slabbert
  22. Van der Westhuizen, G.P. & Van der Westhuizen, E. 2013 Guide to the Anglo Boer War in the Eastern Transvaal, 1899 – 1902. 2de Ed. David Scholtz: Volksrust
  23. Raath, A.W.G. 2007 De la Rey: Die stryd vir vryheid. 2de Ed. Kraal-Uitgewers BK: Brandford, Suid-Afrika
  24. Oorlogsvergoedingseis van Cornelis Johannes van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB CJC 1192/884, 1903
  25. Oorlogsvergoedingseis van Johannes Jacobus Tobias Frederik de Lange. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB CJC 1191/850, 1903
  26. Creswicke, L. 1900 South Africa and the Transvaal War. Vol 6, Chapter 2. https://www.angloboerwar.com/books/113-south-africa-and-the-transvaal-war/2170-creswicke-volume-vi
  27. Kirkpatrick, Hedley John. https://angloboerwar.com/index.php/medals-and-awards/british/1884-distinguished-service-order?option=com_grid&gid=22_uw_0&p=29
  28. Grobler, J. & Grobler, M. 2013 Vroue-Kampjoernaal. Die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog. 1ste Ed. Heroloda Wordworx: Brooklyn, Pretoria.
  29. Moolman, N. 2013 Zij. 1ste Ed. Shanghai Kangshi Printing Co. Ltd: Vanderbijlpark.
  30. Volksrust Konsentrasiekamp gedenksteen en Muur van Herinnering. Volksrust, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  31. Wakkerstroom. http://www.wakkerstroom.co.za/history/
  32. Heese, H.F. 1985 Groep sonder grense. Die rol en status van die gemengde bevolking aan die Kaap. Instituut van Geskiedkundige Navorsing: Universiteit van Wes-Kaap. (Kaart van ZAR distrikte, 1877 – 1881)
  33. Volksrust. https://en.wikipedia.org/wiki/Volksrust
  34. NG Gemeente Volksrust. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Volksrust
  35. Van Jaarsveld, F.A., Van Rensburg, A.P.J. & Stals, W.A. 1980 Die Eerste Vryheidsoorlog. Van verset en geweld tot skikking deur onderhandeling 1877 – 1884. 1ste Ed. Haum Uitgewers: Pretoria
  36. Onderhoud op 21 Junie 2014 met Gert van der Westhuizen. Roodedraai Museum, plaas Roodedraai, Volksrust, Mpumalanga
  37. Van der Westhuizen, G. 29 Augustus 1998. Roodedraai erfenis sny aan by Vryheidsoorlog en verhoogkuns. Die Burger Koerant. http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1998/08/29/3/13.html
  38. Paul Kruger. https://en.wikipedia.org/wiki/Paul_Kruger
  39. Foto’s van Kliprivier en watermeule. Foto-album van Chris Kruger (1940 – 2009), agterkleinseun van Gert en Mieta van der Merwe
  40. First Boer War. https://en.wikipedia.org/wiki/First_Boer_War
  41. Battle of Majuba Hill. https://en.wikipedia.org/wiki/Battle_of_Majuba_Hill
  42. The Battle of Majuba. Battlefields Route Kwazulu Natal. http://www.battlefieldsroute.co.za/place/the-battle-of-majuba/
  43. Emery, F. 1981. Soldiers’ letters from the First Anglo-Boer War, 1880 – 1881. Natalis, Vol 11, p 16-26. http://www.natalia.org.za/Files/11/Natalia%20v11%20article%20p16-26%20C.pdf
  44. McCallum G.L. 12 Mei 2014. O’Neil’s Cottage. https://grahamlesliemccallum.wordpress.com/2014/05/12/oneils-cottage/
  45. Sterfkennis en boedel van Jacob Abraham Johannes van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 2466, 1901
  46. Sterfkennis, testament en boedel van Hendrik van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 12847, 1908
  47. Sterfkennis en boedel van Barend Jacobus van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 27148, 1915
  48. Sterfkennis, testament en boedel van Jacobus Oosthuizen. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 19127/11, 1911
  49. Sterfkennis, testament en boedel van Johanna Hendrina (Van der Merwe) Oosthuizen. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 63570/27, 1927
  50. Oorlogsvergoedingseis van Johanna Hendrina Oosthuizen. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB CJC 1193/922, 1903
  51. Deaths in Concentration Camps. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Persons
  52. De Villiers, J.F.K. 2014 Uys familie. Hersamestelling van die Uys Register van 1984 met aanvullings en indeks. http://www.genza.org.za/index.php/af/compendium/family-registers/367-die-uys-familie-deur-jfk-de-villiers/file
  53. Graf van Ferdinand J. en Susanna B.M. Uys, Ou Begraafplaas, Volksrust, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main.php?g2_itemId=349452
  54. Sterfkennis, testament, boedel en doopseëls van kinders van Cornelis Johannes van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 23547/14, 1914
  55. Sterfkennis en boedel van Johannes Jacobus Tobias Frederik de Lange. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 84231/34, 1934
  56. Christiaan de Wet. https://en.wikipedia.org/wiki/Christiaan_de_Wet
  57. Property details: Roodedraai farm no 129, portion 6/7. Deeds Registration System, Deeds Office, Department of Rural Development and Land Reform, Pretoria.
  58. Sterfkennis en boedel van Jacobus Johannes van Dyk. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 70002, 1929
  59. Doodsertifikaat, sterfkennis en boedel van Martha Maria van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 1254/56, 1956
  60. Kruger, B. 2007 Die Kruger-familie van Suider-Afrika. 1ste Ed. CD-publikasie. Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Noord-Transvaal takbiblioteek
  61. Sterfkennis en testament van Piet Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 1843, 1902
  62. Sterfkennis en boedel van Marthinus Gerhardus van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 3287/40, 1940
  63. Christiaan Ernst Cecilia van der Merwe. https://www.geni.com/people/Christiaan-Ernst-Cecilia-van-der-Merwe/6000000057331959926
  64. Rudolph Gerhardus Erasmus, g2. https://www.geni.com/people/Rudolph-Erasmus-g2/6000000024905509520
  65. Burgermonument Wakkerstroomkommando. Wakkerstroom, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  66. Cornelis Janse Uys. https://www.geni.com/people/Cornelis-Janse-C3-b1c5/6000000042207480035
  67. Petrus Johannes (Piet Jes) Uys. https://www.geni.com/people/Petrus-Johannes-Uys-F131-b1c5d8e1f2/6000000001040606466
  68. Graf van Petrus Gerhardus Uys, Ou Begraafplaas, Amersfoort, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main.php?g2_itemId=1625385
  69. Els, C.J.J. 2018 Die verstotelinge. Geneologiese Genootskap van Suid-Afrika. Familia 55(2), bl 56 – 81
  70. What is leprosy? World Health Organisation. https://www.who.int/lep/disease/en/
  71. West Ford Leper Hospital, Pretoria. https://www.flickr.com/photos/43066879@N06/albums/72157633119200226/
  72. Sterfkennis en boedel van George Diederick Bezuidenhout. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 5312/48, 1948
  73. Sterfkennis en boedel van George Diederick Bezuidenhout. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 48091/22, 1922
  74. Huweliksinskrywing van Jacobus Johannes van der Merwe. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C91J-B79H-W?cc=2727134
  75. Huweliksinskrywing van Dina Maria Elizabeth van der Merwe. https://www.familysearch.org/ark:/61903/1:1:QP7P-N8DR

< BACK