Schalk Willem Munnik (1840 – 1917)

< BACK

   1. Sy kinderjare

Schalk Willem Munnik is in ca Julie 1840 in die Britse Kaapkolonie gebore. Sy ouers was Cornelius Gerhardus Munnik (1808 – ?) en Maria Magdalena Vorster (1815 – ?) wat in 1834 in Nederduits-Gereformeerde Kerk (NGK) Graaff-Reinet in die huwelik getree het.1-5

Dit lyk of Schalk se familie hoofsaaklik in distrik Beaufort-Wes (voorheen slegs Beaufort) in die Sentraal-Karoo woonagtig was.3 Die dorpie Beaufort is reeds in 1818 gestig maar die naamsverandering na Beaufort-Wes is in 1869 aangebring om verwarring met Port Beaufort (gebou in ca 1820) in die Wes-Kaap en Fort Beaufort (gestig in 1822) in die Oos-Kaap uit te skakel.6

   2. Sy vrou

Martha Johanna Cloete was die tweede kind (oudste dogter) van Jacob Cloete (1830 – >1883) en Elizabeth Anna Geertruyda/Geertruida Gresse (20 Maart 1831 – 20 Augustus 1890, Ermelo).7-10 Martha is op 19 Julie 1853 gebore en twee maande later gedoop op Maandag, 19 September 1853 deur Veldkornet C. Viljoen te Richmond in die destydse Colesberg distrik van die Britse Kaapkolonie. Waar ds. Adriaan Moorrees (1855 – 1938), wat die predikant was vanaf 1880 tot 1892, hom bevind het sodat Veldkornet Viljoen moes instaan, is onseker.11,12 Teenwoordig by Martha se doop was haar oupa en stiefouma aan moederskant, Frans Lodewyk Gresse (17 Julie 1790 – 10 November 1873) en Johanna Adriana Matthee (6 November 1796 – 27 Maart 1872), asook haar vader se broer, Hermanus Christoffel Cloete en suster, Huybrecht Catharina “Heibreg” Cloete.7,13 LEES MEER oor die Cloetes.

Die Karoo-dorpie, Richmond, wat ongeveer 180 km noord-oos van Beaufort-Wes in die Noordelike Kaapprovinsie geleë is, het in 1843 tot stand gekom om hoofsaaklik in die geestelike behoeftes van die omliggende boeregemeenskap te voorsien. Die NGK in Richmond dateer vanaf 2 November 1843, met die mooi kerkgebou wat op 28 Februarie 1847 ingewy is. Die kerktoring is eers in 1909 voltooi.11,14Op ongeveer 17-jarige ouderdom in ca 1870 het Martha met Schalk Munnik (± 30 jaar) in die huwelik getree in die dorpie Beaufort-Wes.3,8 Ten tye van hul voorgenome huwelik was die ongewilde, outokratiese Philip Edmond Wodehouse reeds vanaf 1862 die Goewerneur van die Britse Kaapkolonie, maar is in Augustus 1870 vervang met Henry Barkly wat Goewerneur was tot en met 1877.15-19Omtrent vyf jaar na haar huwelik het sy haar saam met haar jong gesin bevind in die Republiek van Oranje-Vrystaat [OVS] (nou Vrystaat provinsie).20,21 In ca 1878 het hulle nog verder getrek in die rigting van Britse Transvaal – voorheen Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) – aangesien dit reeds teen 1877 deur Brittanje geannekseer is. Na die Boere se oorwinning oor Brittanje tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog (1880 – 1881) is die ZAR weer in ere herstel. Die Munniks het uiteindelik in Ermelo distrik in die suid-ooste van die ZAR nesgeskop, waar heelwat nasate selfs tot op hede nog woon.7,15,16,22 Hier is Martha op die ouderdom van 35 jaar op 9 Oktober 1888 op die plaas Mooiplaats (ZAR nr. 134; Transvaal nr. 86 IT) oorlede.1,8,23,24 Sy het agt minderjarige kinders agtergelaat, waarvan die jongste maar slegs 22 maande oud was. Haar boedel is eers in April 1893 afgehandel.8

   3. Sy loopbaan

As jong gesinsman het Schalk in die vroeë 1870’s uit die Britse Kaapkolonie weggetrek, en het teen ca 1875 hulle in Bloemfontein omgewing in die OVS bevind, waar hul derde kind gebore is.  In die daaropvolgende jaar het hulle reeds verder migreer in die rigting van die drie-jaar oue dorpie Heilbron, waar hul vierde kind gebore en in NGK Heilbron gedoop is. Wat die motivering was vir Schalk Munnik om so met sy gesin – en sy skoonouers in tou – aan die beweeg te bly, is nie bekend nie, maar teen ca 1878 het hulle weer opgepak en in 1879 was hulle op die plaas Hartbeestfontein (ZAR nr. 20; Transvaal nr. 239 IS) in Ermelo omgewing in die ZAR woonagtig, waar hul sesde kind in die NGK op die dorp gedoop is.7,20-22 Die eerste blanke intrekkers op die Hoëveld aan die Vaalrivier het in ca 1865 hier vanuit Lydenburg aangekom. Die uitgestrekte gebied was ylbewoond en het gewemel van die wild. Die Nederlandse sendeling Frans Lion Cachet (1835 – 1899) het vanaf 1866 ywerig dienste op verskeie plase in die Ermelo-omgewing gehou tot met sy terugkeer na Nederland in 1873. NGK Vaalrivier (later herdoop na NGK Ermelo) is amptelik op 5 November 1870 gestig, terwyl die dorp Ermelo eers op 12 Februarie 1880 uitgeroep is, en eers op 27 Mei 1882 tot aparte distrik verklaar is. Na Cachet se vertrek het NGK-predikante van Lydenburg, Wakkerstroom en Utrecht gereelde besoeke aan die NGK-gemeentelede op Ermelo gebring totdat ds. Pieter Willem Ennis (1855 – 1932) in 1886 as eerste permanente predikant aangestel is. Toe ds. Ennis gearriveer het, was daar reeds ‘n kerkgebou met ‘n sinkdak en ‘n misvloer opgerig, wat sitplek vir 300 mense gebied het. Hy het egter kort daarna die leiding geneem vir die oprigting van ‘n groter, meer indrukwekkender klipkerk, wat later in 1945 met die teenswoordige kerkgebou vervang is.25-29

Martha Munnik is in 1888 op die plaas Mooiplaats, noord-oos van Ermelo, oorlede.8,23,24 Tien jaar later, kort voor die aanvang van die Tweede Anglo-Boere Oorlog (ABO2) in 1899, het Schalk en sy kinders egter reeds op die plaas Uitgevallen, ongeveer 15 km noord van Ermelo as bywoners gewoon. Daar kon hulle hul eie vee aanhou asook gesaaides verbou.23,24,30-33 Uitgevallen (Middelburg nr. 373, ZAR nr. 109 & 267; Transvaal nr. 134 IT) het aan Jan Otto Herman Sluiter (20 Junie 1853, Amsterdam, Nederland – 16 Julie 1921, Middelburg, Transvaal) behoort.23-25,32-34 Jan Sluiter het as assistent-landmeter saam met Peter McDonald net na die stigting van Ermelo gearriveer om die dorp uit te meet. Kort daarna is hy in 1882 tot eerste landdros van Ermelo benoem. In 1891 het hy egter om gesondheidsredes as landdros bedank. Hy was ook die stigter en besturende direkteur van Ermelo Executeurs-kamer en Voogdy Maatschappy. Daarby was Jan Sluiter kassier van die NGK Ermelo en ‘n lid van die Vrymesselaars.25

Schalk Munnik was 60 jaar oud toe die ABO2 op 11 Oktober 1899 uitgebreek het.2,30,31 Vier van sy vyf seuns het saam met hom aangesluit32 by Ermelo-kommando wat onder leiding van Kommandant Johannes Nicolaas Hermanus Grobler (27 Februarie 1864, Lydenburg – 18 Desember 1913, Ermelo) gestaan het.25,35 Ermelo-kommando, in samewerking met ander die kommando’s van o.a. Carolina, Lydenburg, Krugersdorp, Pretoria en Wakkerstroom het deelgeneem aan die inval in Britse Natal. Kommandolede van Ermelo – waaronder dus moontlik ook Schalk Munnik snr. en sy seuns – het ‘n aandeel gehad aan die gevegte by o.a. Dundee (23 Oktober 1899), Modderspruit/Rietfontein (24 Oktober 1899), Colenso (15 Desember 1899), Spioenkop (23-24 Januarie 1900), Pietershoogte (14 – 27 Febriuarie 1900) en Bosrand (10 Maart 1900). Vanuit Natal het die kommando vanaf Maart 1900 na die Vrystaat beweeg tot by Brandfort. Daarna het die kommando weer na Hoëveld in die ZAR terugbeweeg waar hulle aan die slag van Donkerhoek (11 – 12 Junie 1900) en Dalmanutha/Berg-en-dal/Belfast (20 – 27 Augustus 1900) deelgeneem het. Ermelo-kommando het vir ‘n hele aantal maande in die Suidoos-Transvaal bly veg om die steeds voortstuwende Britse magte te probeer stuit.15,16,25,29,35-40 Dit is gedurende hierdie tyd dat Schalk Munnik snr. op 5 Februarie 1901 naby Lake Chrissie gevang is. Sy prisoniersnommer was #18043. Waar hy vir die volgende vier maande aangehou is, is nie bekend nie, maar op 23 Junie 1901 arriveer hy in Standerton-konsentrasiekamp. Kort daarna is hy egter na Merebankkamp in Natal gestuur waar hy in tent Mg/29 gebly het tot met die einde van die oorlog in Mei 1902.30,31 Vir een of ander rede is Schalk Munnik nie na ‘n oorsese prisonierskamp weggestuur nie. Dalk het hy die Eed van Getrouheid aan die Britse Kroon afgelê net nadat hy gevang is?

Schalk se vier seuns was egter steeds op kommmando nadat hy gevang is. Die Ermelo-kommando is vir ‘n tweede keer na die suide gestuur waar hulle in Natal teenwoordig was tydens die veldslag van Itala (26 September 1901) en kleiner skermutselinge wat daarop gevolg het. Op 23 Oktober 1901 was die manne terug in Ermelo. Grobler is toe bevorder tot Veggeneraal en Willem Hendrik Bührman (5 Augustus 1860, Lydenburg – 18 Junie 1913, Ermelo) het hom as kommandant opgevolg. Ermelo-kommando het daarna in die Suidoos-Transvaal bly rondbeweeg en was by gevegte soos dié by Bakenlaagte (30 Oktober 1901) en Onverwacht (4 Januarie 1902) betrokke.15,16,25,29,35,36,41,42 Schalk Munnik se seun, Schalk jnr. is egter op 16 Desember 1901 gevang en na St. Helena-eiland as oorlogsgevangene weggestuur. Sy ouer broer Jacob “Jaap” Munnik, het op 31 Maart 1902 oorgegee.30,31 Die meeste burgers het teen daardie tyd reeds die skrif aan die muur vir die Boere-volk gesien en gerugte van vredessamesprekings het ook die rondte gedoen.15,16,36,38 Die jongste twee broers het egter (waarskynlik) tot die bitter einde bly veg, aangesien die gevangenisskap of voortydige oorgawe van Hermanus en Frans Munnik tot op hede nêrens in konsentrasiekamp- of gevangeniskamprekords gevind kon word nie.30 Op 9 Junie 1902 het die oorblywende lede van Ermelo-kommando hul wapens op die plaas Twyfelfontein naby Ermelo finaal neergelê. Hierdie burgers het 77 van hul makkers tydens die oorlog vir volk en vaderland gesien sneuwel.25,29 Na die oorlog het die Schalk Munnik snr. en sy seuns na Uitgevallen teruggekeer.30,31

Daar was nie ‘n konsentrasiekamp naby Ermelo nie. Boerevroue en -kinders van die dorp en omliggende plase, asook burgers wat oorgegee het, is óf na Standertonkamp óf Middelburgkamp weggevoer. Die dorp self het egter baie sleg daarvan afgekom. Britse magte en Boere kommando’s het afwisselend deur die dorp beweeg – wanneer die een groep uitbeweeg het, het die ander ingeweeg. Ermelo is vir die eerste keer in Augustus 1900 deur Majoor-Generaal Douglas Mackinnon Baillie Hamilton Cochrane (12th Earl of Dundonald) se Britse kolom beleër, maar die finale slag is deur Majoor-Generaal Horatio Herbert Kitchener se magte in Mei 1901 toegedien toe die hele dorp tot op sy fondamente vernietig is, sodat slegs die NG-kerkgebou en een woonhuis staande gebly het.25,43-45Dit lyk of Schalk Munnik snr. in sy latere jare by sy seuns ingewoon het daar waar hulle gewoon en gewerk het. Teen 1908 was Schalk op die plaas Rietspruit, net suid van Ermelo, waar sy seun Schalk jnr. gewoon het.46 Ten tye van sy eie dood in 1917 het hy as wewenaar op die plaas Knockdhu (ZAR nr. 178, Transvaal nr. 93 IT) naby Chrissiesmeer gewoon.2 Hierdie plaas, asook die plaas Lake Banagher (ZAR nr. 181; Transvaal nr. 102 IT) wat suid-aangrensend aan Knockdhu was, het aan Schalk Munnik se skoondogter se broer, Schalk Willem Jacobus Meyer (14 November 1855 – 27 Februarie 1918) behoort. Schalk Munnik se seun, Jacob Cloete Munnik was getroud met Magrietha Cornelia “Grieta” Swart (née Meyer) (1878 – 1963) en hierdie egpaar het vanaf ca 1908 ook vir haar broer op ‘n gedeelte van Lake Banagher geboer.3,23,24,47-49

   4. Sy afsterwe

Schalk Munnik snr. is op die ouderdom van 76 jaar en ses maande op 23 Maart 1917 oorlede op Ermelo aan’t huis van sy jongste seun, Frans wat in Jan van Riebeeckstraat 56 (Erf 76) gewoon het.1-3,50,51 Hy het waarskynlik óf ‘n kort besoek afgelê óf was reeds in die versorging van sy seun en skoondogter tydens sy twee maande-lange siekte. Volgens sy sterftesertifikaat het Schalk Munnik gesterf as gevolg van “senile decay en syncopes” (seniele agteruitgang en floutes) oor ‘n tydperk van sewe weke.2 Floute, wat die gevolg van te min bloedvloei na die brein is, mag veelvuldige oorsake hê waarmee ons vandag meer bekend is, maar in die vroeë 1900’s was die mediese kennis oor die oorsake en simptome van siektetoestande baie meer beperk en diagnoses en behandeling dus minder spesifiek of genoegsaam.52 Schalk Munnik is in Ermelo se Ou Begraafplaas begrawe.2   5. Sy kinders

Uit Schalk se huwelik met Martha is agt kinders gebore waarvan vyf seuns was.1,8 Die oudste twee kinders is in die Britse Kaapkolonie gebore, die volgende drie kinders het hul opwagting gemaak in die Republiek van Oranje-Vrystaat en die laaste drie kinders is in Ermelo-omgewing in die ZAR gebore.

5.1 Elizabeth Anna Gertruida

Sy is op 15 Oktober 1871 gebore.1,8 Sy het op Ermelo in die huwelik getree met Salomon Ignatius Wilhelmus Cronje (ca 1865, Potchefstroom, ZAR – 31 Augustus 1921, Meyerville, Standerton distrik, Transvaal). Hy was die seun van Abraham Petrus Johannes Cronje en Catharina Elizabeth Petronella Prins. Teen 1904, toe die egpaar hulle testament op 6 Oktober 1904 laat opstel het, het hulle op die plaas Uitvlucht in distrik Vrede in die Oranjerivierkolonie (voorheen Republiek van Oranje-Vrystaat) bevind waar Salomon met vee geboer het. Dit blyk dat die gesin later uitgewyk het na die dorpie Meyerville (nou ‘n ingelyfde woonbuurt van die Hoëveldse dorp, Standerton). Hier het Salomon erf nr. 17 wat geleë is aan Rivierplein en Johanstraat, gekoop en as messelaar/bouer op die dorp en in die omgewing gewerk om in die behoeftes van sy gesin te voorsien.53

Salomon en Elizabeth het saam sewe kinders gehad. Schalk Willem was die oudste en enigste seun. Hy was die ouboet van ses jonger susters by name Martha Johanna (later getroud met Gerhardus Marthinus Maritz), Catharina Elizabeth (later getroud met Barend Christoffel Jacobus Roussouw), Elizabeth Anna Gertruida (getroud met Jan Carel Pieter Landman van der Merwe), Esther (getroud met Ernest Richard Henry), dogter Salomon Ignatius Wilhelm (getroud met Theunis Willem Marthinus van der Merwe) en Huibrecht Catharina (getroud met Jan Abraham Nortje).53

Salomon Cronje se dood is eers 15 jaar later aangemeld op 8 Mei 1939 te Standerton.53 Die rede waarom dit nooit in 1921 aangemeld is nie, en ook die motivering waarom eers na soveel jaar, bly ‘n raaisel.

5.2 Cornelius Gerhardus

Cornelius is op 31 Maart 1873 op die klein plasie Gannakraal (‘n onderverdeling van die groot, oorspronklike leningsplaas Witkrans no 60) in distrik Beaufort-Wes in die Britse Kaapkolonie gebore.1,8,24,54,55 Hy was kreupel – het baie moeilik geloop – moontlik vanaf geboorte af of weens ‘n ernstige siekte of besering wat hy as kind opgedoen het wat hom die gebruik van sy bene ontneem het. Dit het hom egter nie verhoed om ‘n vol lewe te lei nie. Hy het gewerk as skoenmaker en messelaar (‘n term wat in daardie jare gebruik is vir ‘n bouer van huise/geboue).31,54 Volgens familie-oorlewering was Cornelius as jong man betrokke by die bou van ds. Pieter Willem Ennis (1855 – 1932) se NG-klipkerk in Ermelo. Hy het op steierstellasies gesit wat deur helpers opgehys is, sodat hy op die hoër vlakke kon bou.26,56

Sy beperkte beweeglikheid was dan ook die rede waarom hy nie by sy vader en vier jonger broers op kommando tydens die ABO2 aangesluit het nie, en het hy as 27-jarige die fort op Uitgevallen gehou. Daarvoor het hy ‘n pas (toestemmingsbrief) van Generaal Christiaan Hendrik “Chris” Müller (1865 – 1945) gehad wat hom vrygestel het van die militêre oproep van ZAR burgers tot kommando-diens.32,57 Op 11 Augustus 1900 moes hy egter noodgedwonge die Eed van Getrouheid aan Brittanje onderteken toe Generaal Redvers Henry Buller (1839 – 1908) se magte deur Ermelo en die omliggende plase getrek het.25,32,38,58 Hy is daartydens deur die Engelse se gids, ene Loxton, aangesê is om op die plaas te bly. Cornelius het egter voortgegaan om die Boere-saak te steun en het drie perde aan verbygaande kommando’s gegee, asook skoene vir kommandolede gemaak of herstel, waarvoor hy die bewys van tien pond se goewermentsnotas in totaal ontvang het.32

Toe die Britse magte egter vir die hoeveelste keer weer deur Ermelo getrek het – hierdie keer in September 1901 onder bevel van Kitchener25,38,44,45 – het hulle op 13 September 1901 ook weer op Uitgevallen soos masels uitgeslaan. Hierdie keer is Cornelius minder genade betoon.32 Op 14 September 1901 is hul bywonershuis en meubels deur Kol. William Pitcairn Campbell (1856 – 1933) se manskappe vernietig en Cornelius is na Middelburg-konsentrasiekamp geneem waar hy op 20 Sep 1901 gearriveer het.32,59,60 Daar het hy gebly tot na die beëindiging van die oorlog, en het op 14 Junie 1902 teruggekeer na Uitgevallen.60 In sy oorlogsvergoedingseis van 1903 dui hy sy beroep aan as skoenmaker en bywoner op Uitgevallen. Die skade wat hy gelei het weens die Britse troepe se vernielsugtigheid sluit in die beskadiging van skoenmakergereedskap en die verlies van agt perde, sewe beeste, vier varke, ook 56 sakke stronkmielies, 8 sakke aartappels, 1500 bondels hawer en 1200 gerwe manna. Hy het ook die betaling van die tien pond se goewermentsnotas geëis, waarvoor hy toe nog geen sent ontvang het nie.32

Cornelius het na die oorlog op die ouderdom van 32 jaar in die huwelik getree met die 31-jarige Sophia Hendri(e)ka Paulina/Poueliena Pieters in Ermelo Magistraatskantoor op 19 Desember 1905. Sophia het die lewenslig aanskou op 24 Mei 1874 op die plaas Herbstspruit in die omgewing van Lindley in die Republiek van Oranje-Vrystaat.54,55 Sy is op 54-jarige ouderdom op 14 September 1928 op Ermelo oorlede.54 Na sy vrou se oorlye het Cornelius op 27 April 1929 getrou met sy skoonsuster, die 42-jarige weduwee Anna Gertruida Munnik (née Combrink) – sy broer, wyle Schalk jnr. se vrou. Ds. Paul Nel (1867 – 1943) van die Nederduitsch Hervormde of [Nederduits] Gereformeerde Kerk (NH&GK) Ermelo (nou NGK Ermelo Moedergemeente) het hierdie huweliksbevestiging gelei.23,60 Cornelius is op Ermelo in die ouderdom van 64 jaar op 7 Januarie 1936 oorlede. Hy is langs sy eerste vrou in die Ou Begraafplaas in Ermelo te ruste gelê.54

5.3 Jacob Cloete

Hy is op 13 Maart 1875 in die Vrystaat gebore en het later in die huwelik getree met Magrietha Cornelia Swart (née Meyer).1,8,20,49 Hulle het my groot-grootouers (ouma- en oupagrootjie) geword. LEES MEER oor Jacob Munnik.

5.4 Schalk Willem jnr.

Schalk jnr. is op 2 November 1876 in Heilbron omgewing in die Republiek van Oranje-Vrystaat gebore en op 10 Desember 1876 in NGK Heilbron gedoop deur ds. Gottlieb Wilhelm Brückner van der Lingen.1,8,62-66 By die doopplegtigheid het Joseph de Kok en Elsie Johanna Groenewald as getuies opgetree.62 Ds. Van der Lingen was slegs ‘n besoekende konsulent vanaf NGK Kroonstad, aangesien Heilbron-gemeente, wat in Mei 1873 van die gemeente Kroonstad afgestig het, toe nog nie ‘n permanente predikant gehad het nie. Dié het eers op 28 Junie 1879 gearriveer en ds. Dirk Jacobus Minnaar (1852 – 1921) het daarna vir 36 jaar lank die gemeente met ywer en toewyding bedien.67,68Teen 1899 was Schalk jnr. egter saam met sy vader en sibbe woonagtig in die ZAR op die plaas Uitgevallen in Ermelo distrik waar hulle bywoners was. Schalk het ook deelgeneem aan die ABO2 (ook bekend as die Tweede Vryheidsoorlog of Suid-Afrikaanse oorlog).30,32 Op 16 Desember 1901 is die 25-jarige Schalk jnr. egter naby Ermelo gevang en na die gevangeniskamp op die Britse eiland, St. Helena, in die Atlantiese Oseaan weggestuur. Sy prisoniersnommer was #27233.30  St. Helena was die eerste oorsese kamp vir oorlogsgevangenes, nadat die kampe in die Kaapprovinsie oorvol geraak het. Die eiland het ongeveer 5 500 Boere- en Uitlander-prisoniers gehuisves, met die eerstes wat op 10 April 1900 gearriveer het en die laastes op 25 Februarie 1902. Die tentkamp was op Deadwood-vlakte in die noorde van die eiland. Daar was burgers wat besluit het om maar die Eed van Getrouheid af te lê, maar dit het hulle die argwaan van dié wat dit teengestaan het op die hals gehaal en het tot menige onderonsies gelei. Die twee groepe is dus geskei, en dié wat die eed afgelê het, is na Deadwood-kamp no. 2, ook bekend as Peace Camp, verskuif. Hier was ook tente maar later het van die burgers ook metaalhutte gebou van gebruikte blikkies wat aangemekaar gesmelt is. Die binnekante van hierdie hutte is met materiaal uitgevoer. En so het kamp no. 2 uiteindelik onder die tydelike eilandbewoners as ‘Blikkiesdorp’ bekend geraak. Intussen het die Vrystaters en die Transvalers ook onder mekaar begin stry en die Vrystaters is uiteindelik na Broadbottom-kamp naby Blue Hill verskuif. Daar was ook heelwat prisoniers wat toegelaat is om in Jamestown te gaan werk vir die inheemse eilandbewoners en Britse offisiere, waar hulle dan ook gebly het.69-74In watter kamp Schalk Munnik hom bevind het, is nie bekend nie, maar dit was waarskynik in Deadwood no. 1 of no. 2. As hy nie die Eed van Getrouheid vroeër onderteken het nie, moes hy dit in elk geval doen voordat hy die eiland kon verlaat terug na Suid-Afrika, nadat die einde van die oorlog aangebreek het. Die burgers het die eiland verlaat en per skip na Kaapstad teruggekeer tussen 26 Junie 1902 en 21 Oktober 1902.69,71

Schalk jnr. was ‘n boer en messelaar/bouer van beroep.63-65 As 33-jarige is hy met die 23-jarige Anna Gertruida Combrink (ca 1886, plaas Weltevreden, distrik Lydenburg – ?) op 30 Maart 1910 in die Magistraatskantoor op Belfast in distrik Lydenburg in die eg verbind. Ten tye van hul huwelik het Anna se ouers op die plaas Roodeklip in Lydenburg distrik gewoon terwyl Schalk op Leliefontein (ZAR nr. 25; Transvaal nr. 136 IT), distrik Ermelo werksaam was.23,24,66 Uit hul huwelik is ses kinders gebore, naamlik Schalk Willem, Cornelis Gerhardus, Maria Elizabetha, Frederik Johannes, Jacob Cloete en Marthinus Johannes. Teen die vroeë 1920’s het die gesin op die plaas Rietspruit (ZAR nr. 68; Transvaal nr. 437 IS), net suid van Ermelo gewoon, waar Schalk die plaas bewerk het (maar nie besit het nie). Schalk is daar in sy woonhuis op die ouderdom van 50 jaar en twee maande op Saterdag, 2 Januarie 1926 oorlede na ‘n siekbed van drie maande weens maagkanker, meegaande bronchitis en uiteindelike hartversaking. Sy kinders was nog almal minderjarig.23,24,63-65 Drie jaar na sy dood het sy weduwee met sy wewenaarbroer, Cornelius Munnik in die huwelik getree.61

5.5 Hermanus Christoffel

Hermanus is op 27 Oktober 1877 in Heilbron omgewing in die Republiek van Oranje-Vrystaat gebore en het later saam met sy ouers na die ZAR migreer.1,8,21 Teen 1899 was hy as 22-jarige jongman saam met sy vader en broers op kommando tydens die ABO2.32 Geen verdere inligting kon tot dusver oor sy lewe op kommando opgespoor word nie, en daar word aanvaar dat hy een van twee broers was wat tot die bittere einde bly veg het en eers sy wapen neergelê het nadat die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 tussen Brittanje en die Boere Republieke onderteken is.15,16,38,39 Dalk was hy – toe 24 jaar oud – onder die uitgedunde lede van Ermelo-kommando wat op 9 Junie 1902 hul wapens op die plaas Twyfelfontein naby Ermelo finaal neergelê het.25,27

Die 26-jarige Hermanus is na die oorlog op 13 April 1904 op Ermelo in die Magistraatskantoor getroud met Susanna Margaretha Erasmus, wat 17 jaar oud was. Haar ouers was van die plaas Coalbank (ZAR nr. 77; Transvaal nr. 129 IT) in Ermelo distrik, wat lê teen die suidelike grens van die plaas Magdalenasmeer (ZAR nr. 123; Transvaal nr. 116 IT), waar Hermanus gewoon het.21,23,24Hermanus en Susanna het twee kinders gehad wat in NH&GK Ermelo gedoop is. Hul dogter Anna Susanna (*16 Januarie 1905, Ω26 Maart 1905, †25 Januarie 1993) het op 2 Oktober 1971 met Charles Theophilus Edward Durrheim (17 Augustus 1903 – 29 Februarie 1988) in die huwelik getree. Hul seun was Schalk Willem (*28 September 1906, Ω 2 Junie 1907).42,75

Hermanus se kinders was maar onderskeidelik drie jaar en 18 maande oud, toe hy op die jeugdige ouderdom van 30 jaar en vyf maande op 29 Maart 1908 gesterf het in sy huis op die plaas Spitskop (ZAR nr. 65; Transvaal nr. 276 IS), net noord-wes van Ermelo, waar hy gewoon en gewerk het. Sy oudste broer, Cornelius was teenwoordig ten tye van sy dood.42

5.6 Martha Johanna

Martha is op 31 Augustus 1879 op die plaas Hartebeestfontein, ongeveer 30 km noord-wes van Ermelo, gebore en ses maande later op 3 April 1880 gedoop te NGK Ermelo deur die besoekende konsulent ds. Daniel Petrus Ackerman (1849 – 1916).1,7,8,22 Hy was die eerste predikant van NGK Wakkerstroom vanaf 9 Januarie 1873 tot met sy afsterwe op 2 Augustus 1916.76-78 Geen getuies is by Martha se doop aangeteken nie.7 Die 20-jarige Martha het in die huwelik getree op 9 Desember 1902 in die Ermelo Magistraatskantoor met haar swaer, Jacobus Johannes Phillipus Meyer, toe 22 jaar oud. Hy was die seun van Esaias Engelbertus Meyer (1857 – 1941) en Christina Margaretha Louisa Cornelia “Martha” Lewis (1862 – 1948) van die plaas Gemsbokheuwel (ZAR nr. 282, Transvaal nr. 87 IT) in distrik Ermelo.22-24,49,79,80 Jacobus se suster, Magrietha Cornelia Swart (née Meyer) (1878 – 1963) was getroud met Martha se ouer broer, Jacob Cloete Munnik (1875 – 1956).49

Jacobus is op 6 Maart 1880 is op die plaas Rietfontein in Pretoria omgewing gebore en 68 jaar later op 16 Mei 1948 oorlede. Martha is 22 jaar na haar man en 13 dae na haar 90ste verjaarsdag te Chrissiesmeer oorlede. Beide Jacobus en Martha is in Chrissiesmeer Begraafplaas begrawe.22,81

Hulle het ‘n seun Esaias Engelbertus Meyer (1907 – 1978) gehad.79  Hier kort nog kinders

5.7 Frans Lodewyk

Frans het op 18 September 1883 die lewenslig aanskou en is op 14 Oktober 1883 te Ermelo gedoop.1,8,82 Getuies van sy doop was sy ouma en oupa, Jacob Cloete en Elisabeth Anna Gertruida Gresse, asook D.J. Kok en H.C. Grobler.82 Hy het waarskynlik soos sy broer Hermanus gedurende die ABO2 op kommando gebly tot met die beëndiging van die oorlog.32,38,39 Frans en sy gesin het op ‘n groot burgerserf te Jan van Riebeeckstraat 56 in Ermelo gewoon. Sy bejaarde vader is in 1917 by hulle aan’t huis oorlede.2,3,50,51 Frans is elf dae na sy 76ste verjaarsdag op 29 September 1959 te Ermelo oorlede en is enkele dae later in die Ou Begraafplaas langs sy vrou begrawe. Sy was Johanna Magritha Elizabeth Conradie (15 November 1886 – 13 Junie 1937).835.8 Huibrecht Catharina

Sy is op 15 Augustus 1886 in Ermelo-omgewing gebore en op 91-jarige ouderdom op 16 November 1977 oorlede te Ventersburg, ‘n klein dorpie halfpad geleë tussen Kroonstad en Winburg in die Oranje-Vrystaat (nou Vrystaatprovinsie).1,8,84,85 Huibrecht was getroud met Charl Johannes “Sarel” van der Merwe (? – 1934) en saam het hulle twee seuns gehad. Hulle was Tjaart Johannes en Schalk Munnik. Dit wil voorkom of Huibrecht in haar bejaardheid by haar seun, Tjaart en sy gesin op Ventersburg ingewoon het. Sy is daar te Bayfordstraat 2 oorlede.84

NOTA: Huybrecht, Huibrecht, Hubrecht en Heibreg is almal spel-variasies van haar naam wat in gekonsulteerde bronne waargeneem is.

< BACK

  1. Munnik. Webwerf van Rita Munnik-de Wildt. https://gw.geneanet.org/lenenrita?lang=en&m=N&v=MUNNIK
  2. Sterftesertifikaat van Schalk Willem Munnik. South Africa, Transvaal, Civil Death, 1869-1954, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:WHVB-4ZPZ : 30 October 2019), Schalk Willem Munnik, 23 Mar 1917; citing Death, Ermelo, Transvaal, South Africa, Department of the Interior. Registrar of Births, Marriages, and Deaths, Transvaal
  3. Sterfkennis en boedel van Schalk Willem Munnik. South Africa, Transvaal, Probate Records from the Master of the Supreme Court, 1869-1958,” database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CS3J-ZS8Q-4?cc=2520237&wc=Q6VB-B6K%3A1590242522 : 14 February 2019), 007805967 > image 658 of 1105; Pietermaritzburg Archives (formerly Natal State Archives), South Africa.
  4. GR kerk rekords
  5. Cornelis Gerhardus Munnik. http://www.vorster.net/genealogie/getperson.php?personID=I4133&tree=vorster
  6. Beaufort West. https://en.wikipedia.org/wiki/Beaufort_West
  7. Doop inskrywing van Martha Johanna Cloete. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DRX7-D6H?cc=1478678&wc=M6GW-R2S%3A49605401%2C49605402%2C50273101%2C50273102 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Richmond > Baptisms 1844-1852 > image 317 of 475; State Archives, Cape Province.
  8. Sterfkennis, testament en boedel van Martha Johanna Cloete. South Africa, Transvaal, Probate Records from the Master of the Supreme Court, 1869-1958, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CS92-ZQ92-3?cc=2520237&wc=Q6NX-T9Z%3A1590242361 : 14 February 2019), 007805533 > image 183 of 1330; Pietermaritzburg Archives (formerly Natal State Archives), South Africa
  9. Doopinskrywing van Frans Lodewyk Munnik. South Africa, Netherdutch Reformed Church Registers (Pretoria Archive), 1838-1991, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:79B3-JL3Z : 5 November 2019), Frans Lodewyk Munnik, 1883.
  10. Elizabeth Anna Gertruida Cloete (Gresse). https://www.geni.com/people/Elizabeth-Cloete/6000000012652790062?through=6000000012652929896
  11. NG gemeente Richmond. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Richmond
  12. Adriaan Moorrees. https://af.wikipedia.org/wiki/Adriaan_Moorrees
  13. Francois Lodewyk Gresse. https://www.geni.com/people/Francois-Gresse/6000000012652929896?through=6000000010454076457
  14. Richmond, Northern Cape. https://en.wikipedia.org/wiki/Richmond,_Northern_Cape
  15. Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  16. Illustrated history of South Africa. The real story. 1989 2nd Ed. Reader’s Digest Association South Africa (Pty) Ltd.: Cape Town
  17. Philip Edmond Wodehouse. https://en.wikipedia.org/wiki/Philip_Edmond_Wodehouse
  18. Henry Barkly. https://en.wikipedia.org/wiki/Henry_Barkly
  19. Carruthers, J. The Royal Society of Victoria, Australia. http://www.royalsocietysa.org.za/?page_id=2047
  20. Sterfkennis en testament van Jacob Cloete Munnik. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 289/57, 1957
  21. Huweliksinskrywing van Hermanus Christoffel Munnik. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C91J-L236?cc=2727134&personaUrl=%2Fark%3A%2F61903%2F1%3A1%3AQPWK-11MD
  22. Huweliksinskrywing van Martha Johanna Munnik. Huweliksinskrywing van Martha Johanna Munnik. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C91K-6SY2-5?cc=2727134
  23. Kaart van Transvaal Provinsie, Unie van Suid-Africa. Kantoor van die Landmeter-Generaal, Pretoria, 1931. Leeskamer. National Archives & Repository Service of South Africa.
  24. National Geo-Spatial Information, 1:50 000 Rasters. January 2015. Department of Rural Development and Land Reform, Republic of South Africa. CD-publication
  25. Lombard, R.T.J. 1980 Ermelo, 1880 – 1980. Stadsraad, Ermelo, 1980. V&R Drukkery (Edms) Bpk: Pretoria
  26. Eeufees-Gedenkboek van die Gemeente Ermelo, 1870 – 1970. Uitgegee in 1970 deur die Kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente, Ermelo, Transvaal. Hoëveld Pers: Ermelo
  27. NG Gemeente Ermelo. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Ermelo
  28. Frans Lion Cachet. https://af.wikipedia.org/wiki/Frans_Lion_Cachet
  29. Inligtingstuk en program. 3 September 1977, Ermelo. Heronthulling van die Burger Monument en toekenning van die vryheid van Ermelo aan Ermelo-Kommando. Kommandement Noord-Transvaal. In besit van Alta Jamison, Pretoria, Gauteng
  30. Merebank Concentration Camp and Prisoners of war. Anglo-Boer War Museum, Bloemfontein. https://www.wmbr.org.za
  31. Merebank Concentration Camp. British Concentration Camps of the South African War, 1900 – 1902. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Histories/
  32. Oorlogsvergoedingseis van Cornelius Munnik. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB CJC 1188/135, 1903
  33. Transportrekords van Plaas Uitgevallen (Middelburg nr. 373, ZAR nr. 109 & 267; Transvaal nr. 134 IT). National Archives &amp; Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB RAK 2850
  34. Jan Otto Herman Sluiter, SV-Prog. https://www.geni.com/people/Jan-Otto-Herman-Sluiter-SV-PROG/6000000021725311721
  35. General Johannes Nicolaas Hermanus Grobler. https://www.geni.com/people/Genl-Johannes-Nicolaas-Hermanus-Grobler-General/6000000023760205956#/tab/overview
  36. Evans, M.F.M. 2000 Encyclopedia of the Boer War. 1 ed. MPG Books, Bodmin, Cornwell: Great Britain. https://www.sahistory.org.za/sites/default/files/archive-files/encyclopedia_of_the_boer_war_martin_marix_evans.pdf
  37. Gillings, K. 1999. The British advance and Boer retreat through Natal, March to June 1900. Military History Journal, Vol 11(3/4), 1999. The South African Militory History Society. http://samilitaryhistory.org/vol113kg.html
  38. Boer War 1899 – 1902. https://www.angloboerwar.com/boer-war
  39. South African War. https://www.britannica.com/event/South-African-War
  40. Hillegas, H.C. 1900 With the Boer Forces. 1st Ed. Methuen &Co.: London
  41. Kommandant Willem Hendrik Bührman. Generale en Kommondante. Ons Boere se trotse geskiedenis. https://www.onsboeresetrotsegeskiedenis.co.za/new-page-79.htm
  42. Senator Willem Hendrik Bührman. https://www.geni.com/people/Senator-Willem-Hendrik-B%C3%BChrmann/6000000013359281116
  43. Douglas Cochrane, 12th Earl of Dundonald. https://en.wikipedia.org/wiki/Douglas_Cochrane,_12th_Earl_of_Dundonald
  44. Field Marshal Lord Roberts appointed British Supreme Commander in South Africa. http://www.sahistory.org.za/dated-event/field-marshal-lord-roberts-appointed-british-supreme-commander-south-africa
  45. Herbert Kitchener, 1st Earl Kitchener. https://en.wikipedia.org/wiki/Herbert_Kitchener,_1st_Earl_Kitchener
  46. Sterftekennis van Hermanus Christoffel Munnik en doopseëls van sy twee kinders. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHGO/11793, 1908
  47. Esaias Engelbertus Meyer. https://www.geni.com/people/Esaias-Meyer/6000000036871793888
  48. Transportrekords van die plaas Lake Banagner (ZAR nr. 181; Transvaal nr. 102 IT) en Knockdhu (ZAR nr. 178, Transvaal nr. 93 IT). National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB RAK 2850
  49. Huweliksinskrywing van Jacob Cloete Munnik. NHK Ermelo Register. South Africa, Transvaal, Civil Marriages, 1870-1930, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:QPH6-8QR6 : 27 September 2019), Jacob Cloete Munnik and Margaretha Cornelia Meyer Swart, Ermelo, Ermelo; citing Marriage, , NARS Civil registration (marriages – coloureds), Transvaal and Swaziland, 1898-1927. The National Archives and Records Service of South Africa, Pretoria
  50. Erf 76 Ermelo. https://www.google.co.za/maps/@-26.5144801,29.9815989,3a,75y,77.82h,90t/data=!3m7!1e1!3m5!1swuU9vcWhxg17dkjhiqSnqQ!2e0!6s%2F%2Fgeo2.ggpht.com%2Fcbk%3Fpanoid%3DwuU9vcWhxg17dkjhiqSnqQ%26output%3Dthumbnail%26cb_client%3Dsearch.revgeo_and_fetch.gps%26thumb%3D2%26w%3D96%26h%3D64%26yaw%3D77.82207%26pitch%3D0%26thumbfov%3D100!7i13312!8i6656
  51. 56 Jan van Riebeeck Street (Erf 76), Ermelo, Mpumalanga. Lexis PropIQ. https://www.propiq.co.za/properties/property/ermelo/ermelo/56-jan-van-riebeeck-street/245e52ee57309cce889f16c86d6ea5a8b69cc5dbb04251e6a535fe031b262117
  52. What are the different types of Syncope? Healthline. https://www.healthline.com/health/types-of-syncope
  53. Sterfkennis, testament en boedel van Salomon Ignatius Wilhelmus Cronje. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 1595/39, 1939
  54. Grafte van Cornelius en Sophia Munnik. Ou Begraafplaas, Ermelo, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  55. Eerste huweliksinskrywing van Cornelius Gerhardus Munnik. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C91F-577C-P?cc=2727134&personaUrl=%2Fark%3A%2F61903%2F1%3A1%3AQP79-ZFZS
  56. Onderhoud op 2 Oktober 2019 te Pretoria, Gauteng met Bettie Kruger, agterkleindogter van Schalk en Martha Munnik.
  57. Chris Muller. https://af.wikipedia.org/wiki/Chris_Muller
  58. Redvers Buller. https://en.wikipedia.org/wiki/Redvers_Buller
  59. William Pitcairn Campbell. https://en.wikipedia.org/wiki/William_Pitcairn_Campbell
  60. Middelburg Concentration Camp. British Concentration Camps of the South African War, 1900 – 1902. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Histories/Middelburg
  61. Tweede huweliksinskrywing van Cornelius Gerhardus Munnik. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C9BB-B334-W?cc=2727134&personaUrl=%2Fark%3A%2F61903%2F1%3A1%3AQPHG-BMNN
  62. Doopinskrywing van Schalk Willem Munnik jnr. South Africa, Free State Dutch Reformed Church Records, 1848-1956″, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:Q2HG-GCZP : 7 August 2017), Schalk Willem Munnik in entry for Schalk Willem, 1876
  63. Sterfkennis en testament van Schalk Willem Munnik jnr. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 59097/26, 1926
  64. Sterftesertifikaat van Schalk Willem Munnik jnr. South Africa, Transvaal, Civil Death, 1869-1954, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:WWJ2-WV6Z : 29 October 2019), Schalk Willem Munnik, 2 Jan 1926; citing Death, Rietspruit, Ermelo, Transvaal, South Africa, Department of the Interior. Registrar of Births, Marriages, and Deaths, Transvaal
  65. Sterfkennis, testament en boedel van Schalk Willem Munnik jnr. South Africa, Transvaal, Probate Records from the Master of the Supreme Court, 1869-1958,” database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSS4-H7ZW-X?cc=2520237&wc=Q6VB-BRR%3A1590242794 : 14 February 2019), 007819165 > image 1629 of 2492; Pietermaritzburg Archives (formerly Natal State Archives), South Afric.
  66. Huweliksinskrywing van Schalk Willem Munnik jnr. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C91V-R9XS-K?cc=2727134&personaUrl=%2Fark%3A%2F61903%2F1%3A1%3AQPHF-V8T5
  67. NG gemeente Kroonstad. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Kroonstad
  68. NG gemeente Heilbron. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Heilbron
  69. Nathan, A.J. 1999 Boer prisoners of war on the island of St Helena. The South African Military History Society. Military History Journal, Vol 11 (3/4). http://samilitaryhistory.org/vol113an.html
  70. Boer prisoners (1900 – 1902). http://sainthelenaisland.info/boerprisoners.htm
  71. Camps for Boers – St Helena. AngloBoerWar.com. https://www.angloboerwar.com/other-information/89-prisoner-of-war-camps/1842-camps-for-boers-st-helena
  72. St Helena POW Camps. AngloBoerWar.com. https://www.angloboerwar.com/forum/boerpow/26234-st-helena-pow-camps
  73. Boer prisoners. St Helena Island.info. https://www.angloboerwar.com/other-information/89-prisoner-of-war-camps/1842-camps-for-boers-st-helena
  74. Photos of St Helena. King’s Own Royal Regiment Museum, Lancaster. www.kingsownmuseum.com . [Permission to publish photos on this website was obtained on 8 November 2017]
  75. Rekord van geboorte, huwelik en dood van Anna Susanna Munnik. https://www.identitynumber.org/research/death-records-results.php?id=3571883
  76. Daniel Petrus Ackerman. https://af.wikipedia.org/wiki/Dani%C3%ABl_Ackerman
  77. NG gemeente Wakkerstroom. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Wakkerstroom
  78. Gedenksteen ter ere aan Ds. Ackerman. NGK Wakkerstroom, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  79. Johannes Jacobus Philippus Meyer. https://www.geni.com/people/Jacobus-Meyer/6000000037839580784
  80. Transportrekords van die plaas Gemsbokheuwel (ZAR nr. 282, Transvaal nr. 87 IT). National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB RAK 2850
  81. Grafte van Martha en Jacobus Meyer. Chrissiesmeer Begraafplaas, Chrissiesmeer, Mpumalanga.  http://www.graves-at-eggsa.org/main
  82. Doopinskrywing van Frans Lodewyk Munnik. South Africa, Transvaal, Probate Records from the Master of the Supreme Court, 1869-1958, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:QPHF-ZLFB : 3 September 2019), Frans Lodewyk Munnik
  83. Grafte van Frans en Johanna Munnik. Ou Begraafplaas, Ermelo, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  84. Sterfkennis, testament en boedel van Huibrecht Catharina Munnik. South Africa, Orange Free State, Estate Files, 1951-2006, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:QK93-RTDG : 27 August 2019), Schalk Willem Munnik in entry for Hubrecht Catharina Van Der Merwe, 16 Nov 1977, Death; citing Ventersburg Ovs, Master of the Free State High Court, Bloemfontein; FHL microfilm 005176720
  85. Ligging van Ventersburg. https://www.google.co.za/maps/place/Ventersburg,+9450/@-28.3834363,26.2026769,8.25z/data=!4m5!3m4!1s0x1e9180fadafa5d81:0x253b35cf3942162f!8m2!3d-28.0964966!4d27.1323579

< BACK