Munnik: Oorsprong en betekenis van familienaam

Munnik is die Afrikaanse vorm van Mönnig of Mönnich, ‘n familienaam van Duitse oorsprong. Die van is afgelei van die Middel-Lae Duitse (ook bekend as niederdeutsche (nederduitse) of plattdeutsche (plat-Duitse)) woord “monik” wat verwys na ‘n monnik of iemand wat in ‘n klooster gewoon of gewerk het. Die familienaam wat aan opeenvolgende generasies oorgedra kon ook ‘n bynaam gewees het vir iemand wat die voorkoms of gewoontes van ‘n monnik nageboots het, hetsy bewustelik al dan nie, of was iemand wat goeie werke en dade aan ander gedoen het. Aangesien kerklike wette monnikke verbied het om in die huwelik te tree, was hulle dus veronderstel om ‘n selibate lewe te lei. Voor hierdie wet gedurende die Middeleeue van toepassing geraak het, het monnikke wel getrou en gesinne gehad.1-3

Dit lyk of ons familielyn kan aanspraak maak op die Munnik-familiewapen wat huidiglik in omloop is, aangesien een van ons voorsate in die vroeë negentiende eeu wel hierdie wapen gebruik het. Sy was Catharina Munnik (10 Januarie 1772 – 1 Januarie 1853), kleindogter van ons Suid-Afrikaanse stamvader, Johann Heinrich Mönnich/Jan Hendrik Munnik (1690 – ca 1720).4-8 Op hierdie stadium is enige genealogiese verband met die heel eerste, oorspronklike persoon aan wie hierdie wapen eeue gelede amptelik toegeken is, egter steeds ‘n verborgenheid.

Verskeie familienaamvariasies van Munnik kom voor in lande soos Australië, Duitsland, Engeland, Kanada, Nederland, Oostenryk, Suid-Afrika en Verenigde State van Amerika, en sluit in Mönnig, Mönnich, Monnick, Munnick, Munik, Munningh, Munnock, Minnig, Monk en Munk. Die verspreiding van hierdie familienaam was die gevolg van die massa-migrasie vanuit Europa na ander wêrelddele vanaf die 17de eeu.2,3  Ons Munnik-stamvader was van Duitsland en het in 1713 aan die Kaap de Goede Hoop gearriveer.9

Spelling variasies het ontstaan omdat spelling gedurende die Middeleeue nog ‘n hoogs onnoukeurige proses was. Tale is deur ander dialekte, asook die Latyns-sprekende Rooms-Katolieke Kerk beïnvloed. Vertaling van ‘n familienaam van een dialek of taal tot ‘n volgende het ook verder hiertoe bygedra. Daarby was menige immigrante ongeletterd en kon nie die spelling van hul van, soos foneties neergepen deur amptenare, nagaan nie.10 

< BACK

  1. Monnig Family History. http://www.ancestry.com/name-origin?surname=Monnig
  2. Last name: Monk. http://www.surnamedb.com/Surname/Monk
  3. Munnik. https://forebears.io/surnames/munnik
  4. Suid-Afrikaanse familiewapens. http://www.oocities.org/hugenoteblad/fam-wapens.htm?201819
  5. Hoge, J. Personalia of the Germans at the Cape, 1652 – 1806. Archives Year Book for South African History, 1946. Cape Times Ltd.: Kaapstad
  6. Faure, A.P. & Klerck, M.vP. 2015 A Klerck Genealogy. https://klerck.weebly.com/uploads/1/5/6/3/15636984/klerck_family_book_1_2015_aug.pdf
  7. De Villiers, C.C. & Pama, C. 1976 Geslagsregisters van Ou Kaapse Families: Deel 1 (A-M) & Deel 2 (N-Z)
  8. Munnik. Webwerf van Rita Munnik-de Wildt. https://gw.geneanet.org/lenenrita?lang=en&m=N&v=MUNNIK
  9. Munnik Johann Heinrich. http://www.stamouers.com/index.php/stamouers/k-to-m/350-munnik-johann-heinrich
  10. English-language spelling reform. https://en.wikipedia.org/wiki/English-language_spelling_reform