Johann Heinrich Mönnich/Munnik (1690 – 1720)

< BACK

  1. Spelling van die familienaam

Die Duitser, Johann Heinrich Mönnich, was die stamvader van die Munniks in Suid-Afrika. Ekself (die webwerfeienaar) is ‘n tiende-generasie afstammeling van Johann Heinrich Mönnich. Nadat hy na die Kaap de Goede Hoop (Kaap die Goeie Hoop) geïmmigreer het, het die Hollandse taal wat in gebruik was, egter ‘n invloed op die spelling en uitspraak van sy naam gehad, sodat hy as Jan Hendrik Munnik bekend geword het. In sommige amptelike dokumente is sy van ook as Munnich of Munnigh gespel wat hy sodanig afwisselend in albei spelvorme geparafeer het.1-4 In die dooprekords van sy kinders word hul van egter as Munnik aangeteken.5,6 In sy latere boedeldokumente is die gesin se van as Munnick opgeskryf.7 Die sagte Duitse “g”(ch)-klank soos die familienaam oorspronklik uitgespreek is, het dus geleidelik verander na ‘n sagte Hollanse “k”(ck)-klank.

Ander spelvariasies van ons Munnik-van kom ook in opeenvolgende generasies voor en sluit in Munnick, Münnik en Munnik. Die spelling van die MUNNIK-familienaam van ons spesifieke stamlyn is eers finaal gevestig vanaf die derde generasie.

   1. Sy kinderjare

Johann Heinrich Mönnich, my groot-groot-groot-groot-groot-groot-oupagrootjie, is in 1690 as die seun van Hinrich Mönnich in die omgewing van Hildesheim in die onafhanklike Elektoraat van Hanover (nou deel van Duitsland) gebore.1-3,8-10 Die stad Hildesheim is reeds in 815 AD as die sentrum van die Rooms-Katolieke Biskopdom van Hildesheim gestig. Teen 1542 het die meeste inwoners hulle tot Protestantisme bekeer en lidmate van die Lutherse Kerk geword.9

Ten tye van Johann Mönnich se geboorte teen die einde van die sewentiende eeu was Duitsland egter ‘n mengelmoes van meer as 200 soewereine state, onder meer Koningkryke, Groot-Hertogdomme, Hertogdomme, prinsdomme en vry, onafhanklike stede – elk met sy eie staatsbestuur, regssisteem en geldeenheid – dit alles binne die Heilige Romeinse Ryk onder die oorhoofse beheer van die Heilige Romeinse Keiser. Met tyd het van hierdie state begin saamgesmelt. Rooms-Katolisisme was dus sedert die begin van die ontstaan van die Ryk gedurende die tiende eeu as die enigste amptelike godsdiens van die Ryk aanvaar. Protestantisme, spesifiek Lutherisme, is eers amptelik erken in 1555 and Calvinisme heelwat later in 1648.11,12 LEES MEER oor die geskiedenis van Duitsland.

Johann Mönnich se moeder is op hierdie stadium nie bekend nie.1-3,8 Daar is egter persoonlike webwerwe wat Johann Mönnich se moeder foutiewelik koppel aan die vrygestelde Indiese slavin, Angela van Bengale.13,14 Angela het reeds in 1657 in die Kaap de Goede Hoop gearriveer om dit nooit weer te verlaat nie tot en met haar afsterwe in 1720. Sy was vanaf 1669 met Arnoldus Willemsz Basson getroud wat in ca 1691 oorlede is.15,16 Johann Mönnich is in 1690 in Duitsland, sy vaderland, gebore1-3,8 maar ten tye van sy geboorte was Angela, volgens amptelike dokumente, nog getroud met Basson van die plaas Nuwedorp in die Groot Drakenstein-omgewing aan die Kaap.15-18 In nabetraging is dit duidelik dat die sogenaamde ‘moeder en pasgebore seun’ hulself binne dieselfde tydgleuf op verskillende kontinente bevind het. Uit ‘n geografiese en historiese oogpunt is dit dus hoogs onwaarskynlik dat Angela en Hinrich Mönnich, wat in Duitsland woonagtig was, enigsins van mekaar se bestaan bewus was! Dis wel moontlik dat Hinrich se seun, Johann Mönnich, van Angela van Bengale geweet het – of haar selfs geken het – daar waar hy later in die Kaap kom woon het, maar dat hulle bloedverwante was, is na my mening ‘n totaal ongegronde aanname.

Geen inligting omtrent Johann se kinderlewe in Noord-Europa kon tot dusver gevind word nie, en die nering en sosiale status van sy vader is dus ook nie bekend nie.1-3 Daar is wel ‘n rekord van sy suster Magdalena wat in 1697 gebore is, maar wat op 15-jarige ouderdom in 1712 oorlede is8 – net meer as ‘n jaar voordat Johann in die Kaap aangeland het. Die vlak van Johann se geletterheid is nie seker nie, maar hy kon wel amptelike dokumente self onderteken wat daarop dui dat hy basiese skryf- en leesvaardighede gehad het.1-3

   2. Sy vrou

‘n Paar maande nadat Johann aan die Kaap de Goede Hoop voet aan wal gesit het, het hy op die ouderdom van 24 jaar in die huwelik getree op 18 November 1714 in die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) Kaapstad, ook bekend as die Groote Kerk. Sy bruid was die 30-jarige Jacomi(j)na Visscher/Visser.1-3,5,6,19,20 Hul huweliksbevestiging is deur ds. Johannes Godefridus d’Ailly (ca 1680 – June 1726) gelei, wat predikant was vanaf 1708 tot met sy afsterwe.20 Hy sou later ook die doopplegtighede van Johann en Jacomina se twee kinders waarneem.5,6

Jacomina is op 9 Julie 1684 gedoop,19 waarskynlik nog in die Kasteel de Goede Hoop waar kerkdienste vir die Kaapse amptenare en burgers in die Goewerneurs se Raadsaal in die De Kat-gebou gehou is. Die hoeksteen vir die nedersetting se eerste kerkgebou (NGK Kaapstad) is op 28 Desember 1700 deur Goewerneur Willem Adriaan van der Stel gelê. Die gebou is eers drie jaar later voltooi en op 6 Januarie 1704 ingewy. Vanaf die eerste dag vanaf die stigting van die halfwegstasie aan die Kaap de Goede Hoop in 1652, is slegs die Gereformeerde Kerk van die Kaap (ook genoem die Kaapse Kerk) wat onder die Ring van Amsterdam in Nederland geval het, deur die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) Bestuur, genaamd die Here Sewentien, toegelaat. (Die naam Nederduits Gereformeerde Kerk, soos dit vandag bekend staan, is eers in 1843 amptelik in gebruik geneem.)20-24Jacomina was die dogter van Gerrit Jansz Visscher (1650 – 1713) en Johanna Thielemans “Jannetie” Hendriks (1660 – 1709). Die Hendriks-familie was welvarende alkoholhandelaars aan die Kaap. Jacomina was die vyfde van dertien kinders.1-3,19,25,26 LEES MEER oor die Vissers.

Na die afsterwe van haar eerste man in ca 1720, het Jacomina op 25 Oktober 1721 weer in die huwelik getree met Arnold Heinrich Schultze, ook bekend as Arnold Hendrik Scholtz (ca 1696 – 23 Julie 1744), wat in 1719 as VOC-soldaat in die Kaap aangekom het vanaf Bielefeld in die Teutoburgwoud in Duitsland. Sy ouers was Hermanus Schultze en Rabina Elisabeth NN. Benewens haar twee seuns by Johann Heinrich Mönnich het Jacomina en haar tweede man ook twee seuns gehad. Hulle was Hermanus Arnoldus (≈20 September 1722 – >1754) en Hendrik Gysbert (ca 1724 – ca 1755). Jacomina is op 80-jarige ouderdom in 1764 in Kaapstad oorlede.1,27,28

   3. Sy loopbaan

Johann Heinrich Mönnich (aangeteken as Jan Hendrick Munningh) het in 1706 as soldaat by die VOC aangesluit en het daarna vir sewe jaar diens gedoen op die fluitskip ‘t Huis te Roosenburgh tot einde 1713, toe hy na die Kaap de Goede Hoop uitgepos is.1-4,29-31  VOC-soldate het op die VOC se handelskepe tydens seevaarte na die Ooste diens gedoen as beskerming tydens aanvalle deur seerowers en kaperskepe, of is deur die VOC uitgeplaas na hul verversingsposte langs die seehandelsroetes en ander Nederlandse/VOC kolonies om wet-en-orde te handhaaf onder die koloniste en om beskerming te verleen teen omliggende inheemse stamme. Wanneer Nederland in oorloë gewikkeld was, het hulle ook as ‘n militêre mag by hierdie verversingstasies opgetree.22,23,30,32,33 Gedurende die agtiende eeu was die meeste Europese immigrante na die Kaap enkellopende Duitse mans wat ‘n heenkome by die VOC gesoek het.33,34 Teen die einde van die sewentiende eeu toe Johann gebore is, was veral die Duitse state – wat die ergste geraak is – nog aan die herstel van die Dertig Jaar Oorlog (1618 – 1648). Tydens hierdie oorlog het 7.5 miljoen Duitse burgerlikes omgekom, dorpe, plase en wonings is vernietig en hongersnood en peste het hoogty gevier. Eers teen die middel van die agtiende eeu het die verarmde Duitse state en ontredderde bevolking volkome herstel van hierdie verwoestende oorlog.35,36 Johann Mönnich en sy ouers was waarskynlik ook in hierdie benarde omstandighede vasgevang.

Giliomee (2003) beskryf die Duitse immigrante soos volg: “A typical German immigrant … had been driven to Holland in search for employment through poverty and through the utter absence of other means of help. He arrived poorly clad, without money, in want of every necessity and desparate for a job. He dared not beg for fear of being sent to a workhouse. If he stole, he could be hanged. He had no money to support himself while waiting to be recruited as a soldier or a sailor by the VOC and usually fell into the hands of agents, who paid for his subsistance until he received his first pay. In some cases it took five years for someone to pay off the agent. At the Cape the man had to live frugally. He received 28 stuivers (one guilder equaled 20 stuivers) a month as ‘kostgeld’ (cost wage), an additional 28 stuivers subsistance money, and six pounds of bread per week. With the large debt to pay off, he often lived on less than two stuivers a day. Even in the meanest of eating-houses a small portion of meat cost two stuivers. Yet while most immigrants came from lower rungs of society, they should not be considered collectively as dregs. They were enterprising enough to take the risk of working in a distant country for the required term of five years. Some of the Germans who came to the Cape were tradesmen whose lives (or whose parents’ lives) had been disrubted by the Thirty Years’ War, which ended in 1648. It was they who fared the best in their new homeland at the tip of Africa.34

Die nedersetting aan die suidpunt van Afrika was nie ‘n vreemde plek vir Johann Mönnich nie. Inteendeel, met die ‘t Huis te Roosenburgh se seereise tussen Nederland en Indië, Persië (nou Iran), Ceylon (nou Sri Lanka) en Batavia (nou Jakarta, Indonesië) moes die skip in Tafelbaai ankergooi vir twee tot drie maande vir herstelwerk aan seile en die laai van nuwe proviand en balies skoon water voor die reis verder aangepak is. Die matrose en soldate het hierdie tyd ook benut om te rus deur die tavernes en bordele van die Kaap uit te toets. In 1707 het Johann Mönnich selfs ‘n paar maande aan die Kaap gespandeer toe hy gehospitaliseer is. Dit was nadat hul vragskip met Schipper Hermann de Marre as kaptein en met Munnik as soldaat aanboord op 9 Mei 1706 vanaf Texel, ‘n noordelike eiland van Nederland, vertrek het en op 11 November 1706 in die Kaap aangekom het. Die vaart is voortgesit op 19 Januarie 1707 en drie maande later op 24 April 1707 het die ‘t Huis te Roosenburgh in Batavia gearriveer. Johann is egter op 8 Januarie 1707 gehospitaliseer en moes dus agterbly. Eers op 9 Mei 1707 kon hy per geleentheid met ‘n ander vaarder terugkeer na Batavia om hom weer by sy mede-seelui aan te sluit.4,30

Teen die middel van 1713 was die pokke-epidemie aan die Kaap de Goede Hoop in volle swang en besig om die Kaapse bevolking af te maai. Die pokke-virus was van Indië afkomstig, toe ‘n verbygaande skip en route na Europa met besmette passasiers en bemanning op 13 Februarie 1713 in Tafelbaai anker gegooi het. Vuil lakens en klerasie is deur karweiers na die algemene washuis geneem waar slawe vir die was- en strykwerk verantwoordelik was. Hierdie slawe is geïnfekteer, wat die hoogsaansteeklike virus weer na die ander slawe in die slawelosie versprei het. Vandaar het die siekte vlamgevat onder al die inwoners in die Tafelvallei, en tot sover as in die omgewings van Stellenbosch en Drakenstein versprei. Tussen Maart 1713 en Februarie 1714 is 25 % van die Europese populasie, en bykans 90 % van die inheemse Khoikhois (Hottentotte) in die Kaapse Skiereiland deur hierdie ongeneeslike siekte uitgewis. Burgers het met die Khoikhois handel gedryf en baie van die Khoikhois het ook as betaalde werkers op die vryburgers se plase gewerk. Van die Khoikhois het van hierdie verskriklike siekte waarteen hulle geen weerstand gehad het nie, probeer wegvlug die binneland in, maar daar het die San (Boesmans) en ander Khoikhoi-stamgroepe in vrees vir die ‘witmense se vloek’ (die pokke) hierdie vlugtende Khoikhois summier om die lewe gebring. Die pokke-epidemie het Khoikhoi-stamme soos die Goringhaiconas, Goringhaiquas en Gourachouquas feitlik heeltemal uitgewis. Van hul unieke etnisiteit, kultuur en familiestrukture het niks oorgebly nie. Dié wat wel die siekte vrygespring het, het op plase of in die dorp of Kasteel werk gevind, en is met tyd hoofsaaklik in die slawe-gemeenskap in geassimmileer.22,37-41 LEES MEER oor die Khoikhois.As gevolg van die epidemie, en die gevolglike arbeidstekort, het die boerdery op plase tot ‘n stilstand gekom en het dit tot ‘n groot voedseltekort in die Kaapkolonie gelei. Voorrade moes dringend vanaf Batavia verskeep word.22,37 Een van hierdie skepe was die ‘t Huis te Roosenburgh wat op 4 November 1713 uit Batavia vertrek het. Die presiese datum van aankoms in die Kaap is nie genotuleer nie, maar moes naastenby twee maande later gewees het.30 Hier moes Johann Mönnich waarskynlik help met die verspreiding van voedsel en die verwydering van lyke. Dit lyk of Johann hiertydens permanent na die Kaap gestasioneer was want toe die ‘t Huis te Roosenburgh nege maande later op 8 Julie 1714 weer in Batavia aangeland het, was Johann Mönnich steeds in die Kaap de Goede Hoop as VOC-soldaat aan diens.4,29,30 Dit lyk egter of hy vinnig ingeburger het en aan die Kaap eerder bekend gestaan het as Jan Hendrik Munnik – die verhollandse vorm van sy Duitse naam. (Uit sy kinders se dooprekords lyk dit of hy moontlik op sy tweede naam genoem is.) Teen die einde van 1714 het hy in die huwelik getree met Jacomina Visser, wat self drie boeties en ‘n sussie aan die dood moes afstaan tydens die pokke-epidemie. En in 1715 het Jan Munnik Kaapse burgerskap ontvang.1-3,5,6,25,26

Jan Munnik het as soldaat in diens van die VOC gebly tot met sy dood.4 Die Munnik-gesin was woonagtig in die Tafelvallei1,2,7 – die naam Kaapstad het eers vanaf die laat agtiende eeu posgevat.34  Ten tye van sy dood het die gesin in ‘n huis gewoon in Oliphantstraat (nou Longmarketstraat).1,2,7,42 Teen die aanvang van die 17de eeu het die huise oor die algemeen ‘n voorkamer (sitkamer), kombuis, solder, stoorkamer of spens en twee slaapkamers – een vir die ouers en een vir die kinders – gehad. Daar was gewoonlik ook ‘n agterplaas. Die meer welgesteldes se huise was groter met een of twee addisionele kamers asook ‘n gallery (vertoonkamer) waar skilderye en duursame ornamente uitgestal is, soos in die geval met sy weduwee-skoondogter se tweede man, Cornelis de Leeuw.7,43.44 Die Munniks se inkomste was genoegsaam dat hulle ook twee slawe besit het. Daar was ‘n slavin met ‘n jong kind en die slaaf, Aaron van Mallabaar (Malabar), ‘n kustreek in die suid-weste van Indië.1,2,7,45   4. Sy afsterwe

Jan Hendrik Munnik was net vir ses jaar permanent in die Kaap woonagtig, en vir vyf jaar gevestig as ‘n gesinsman, toe hy op 30-jarige ouderdom in Oktober 1720 oorlede is en sy vrou met twee klein seuntjies, onderskeidelik drie en twee jaar oud, agtergelaat is. Hy het geen testament gehad nie. Die uitbetaalde waarde van Jan se boedel was 2 649 florin.1-4,7

(Kaapse geldeenhede en waarde was 1 riksdaalder = 3 florin, en 1 florin = 1 guilder = 20 stuiwers.)3

Behalwe vir die twee slawe en die huis in Oliphantstraat wat aangeteken is in die inventaris van Jan Munnik se boedel – gedateer 11 November 1720 – is ook al hul besittings gelys soos dit gevind is in die huis se voorhuis (sitkamer), regterkantste kamer, agterkamer, gang, kombuis, stoorkamer en solder.7  SIEN HIER die volledige inventaris van sy boedel.

   5. Sy kinders

5.1 Johannes Albertus

Johannes Albertus “Jan” is in ca 1715 gebore en het later met Jacoba de Waal getrou.1,2,5,8 Jan en Jacoba Munnik was my groot-groot-groot-groot-groot-groot-grootouers. LEES MEER oor Jan Munnik.

5.2 Gerrit

Gerrit is op 24 Oktober 1717 in die NGK Kaapstad gedoop. Sy tante Jannetje Visser (≈28 Mei 1690 – ca 1731) en haar man Johann Arend “Jan” Rodewald (1688 – 1726) het as getuies by sy doopplegtigheid opgetree.1,2,6,8,46 Geen verdere inligting oor sy lewe kon opgespoor word nie. Ten tye van sy vader se afsterwe in 1720, het Gerrit nog geleef maar is waarskynlik daarna óf op ‘n jong ouderdom oorlede óf het as enkellopende volwassene gesterf sonder enige nasate.

< BACK

  1. Jan Hendrik Munnik. Suid-Afrikaanse Genealogie, Vol 5 (L-M). Biblioteek van Erfenisstigting, Voortrekkermonument, Pretoria
  2. Pama, C. 1983 Die groot Afrikaanse familienaamboek. 1ste Ed. Human & Rousseau Uitgewers: Kaapstad
  3. Hoge, J. Personalia of the Germans at the Cape, 1652 – 1806. Archives Year Book for South African History, 1946. Cape Times Ltd.: Kaapstad
  4. Besoldiging van Jan Hendrik Munnik as VOC-werknemer. Verenigde Oostindische Compagnie (VOC), Invertaris nr. 5562. Nationaal Archief, Den Haag, Nederland. https://www.nationaalarchief.nl/onderzoeken/archief/1.04.02/inventaris?inventarisnr=5562&afbeelding=NL-HaNA_1.04.02_5562_0133&activeTab=gahetnascan
  5. Doopinskrywing van Jan Albertus Munnik. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-WRD?cc=1478678&wc=M6GW-82S%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49608601 : 16 September 2019), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1713-1741 > image 6 of 109; State Archives, Cape Province
  6. Doopinskrywing van Gerrit Munnik. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-W26?cc=1478678&wc=M6GW-82S%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49608601 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1713-1741 > image 8 of 109; State Archives, Cape Province
  7. Boedel van Jan Hendrik Munnik. National Archives & Repository Service of South Africa, Kaapstad. KAB MOOC 8/4.1, 1720. http://databases.tanap.net
  8. Munnik. Webwerf van Rita Munnik-de Wildt. https://gw.geneanet.org/lenenrita?lang=en&m=N&v=MUNNIK
  9. Hildesheim. https://en.wikipedia.org/wiki/Hildesheim
  10. Electorate of Hanover. https://en.wikipedia.org/wiki/Electorate_of_Hanover
  11. Holy Roman Empire. https://en.wikipedia.org/wiki/Holy_Roman_Empire
  12. Germany in the early modern period. https://en.wikipedia.org/wiki/Germany_in_the_early_modern_period
  13. Heinrich Monnig (Munnik). https://www.geni.com/people/Heinrich-Monnig-Munnik/6000000056739101937
  14. Johann Munnik. https://www.myheritage.com/names/johann_munnik?lang=AF
  15. Van Bengale Angela. https://www.stamouers.com/stamouers/surnames-v-z/21-van-bengale-angela
  16. Haye, J. Angela van Bengale “Maai/Mother Ansela” and her daughter Anna de Koningh. http://www.jessehaye.com/angela_van_bengale.htm
  17. Basson Arnoldus Willemsz. https://www.stamouers.com/stamouers/a-c/32-basson-arnoldus-willemsz
  18. Arnoldus Willemsz Basson. The Gous family of Swartland and Swellendam. My South African Ancestors. https://www.ballfamilyrecords.co.uk/basson/I001.html
  19. Doopinskrywing van Jacomina Visser. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-6LWG-NW?cc=1478678&wc=M6GW-RTG%3A49605401%2C49605402%2C50282101%2C50282102 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Stellenbosch > Baptisms 1688-1732 > image 32 of 143; State Archives, Cape Province
  20. NG Gemeente Kaapstad. Gemeentegeskiedenisargief. https://www.gemeentegeskiedenis.co.za
  21. Castle of Good Hoop. https://www.castleofgoodhope.co.za/index.php
  22. Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  23. Binckes, R. 2013. The Great Trek uncut. 1ste Ed. 30º South Publishers: Pinetown.
  24. History of the Cape Colony before 1806. https://en.wikipedia.org/wiki/History_of_the_Cape_Colony_before_1806
  25. Gerrit Jansz Visser. First fifty years – a project collating Cape of Good Hope Records (by Delia Robertson). http://www.e-family.co.za/ffy/g5/p5716.htm
  26. Gerrit Jansz Visser. Gale Lochner William’s Family Tree. https://gw.geneanet.org/williamsgd?n=visser&oc=&p=gerrit+jansz
  27. Arnold Hendrik Scholtz, SV/PROG 1. https://www.geni.com/people/Arnold-Hendrik-Scholtz-SV-PROG-1/6000000012992088815
  28. Inventaris van Arnold Hendrik Scholtz. Verenigde Oostindische Compagnie (VOC), Inventaris nr. 5735. Nationaal Archief, Nederlanden. https://www.nationaalarchief.nl/onderzoeken/archief/1.04.02/inventaris?inventarisnr=5735&afbeelding=NL-HaNA_1.04.02_5735_0167&activeTab=gahetnascan
  29. Munnik Jan Hendrik. VOC Ships’ Pay Ledger Accounts (Soldijboeken). South Africa’s Stamouers. https://www.stamouers.com/people-of-south-africa/burger-arrivals-main/soldijboeken/960-munnik-jan-hendrik
  30. De VOC site. https://www.vocsite.nl/index.html
  31. Fluitschip. https://nl.wikipedia.org/wiki/Fluitschip
  32. Dutch East India Company. https://en.wikipedia.org/wiki/Dutch_East_India_Company
  33. Mostert, T. 2007 Chain of Command: The military system of the Dutch East India Company, 1655 – 1663. Masters Thesis, Leiden University, Netherlands. http://vocwarfare.net/pdf/chain-of-command-complete.pdf
  34. Giliomee, H. 2003 The Afrikaners. Biography of a people. 1ste Ed. Tafelberg Publishers Limited: Kaapstad
  35. Brandenburg-Prussia. https://en.wikipedia.org/wiki/Brandenburg-Prussia
  36. Thirty Years’ War. https://en.wikipedia.org/wiki/Thirty_Years%27_War
  37. Snodgrass, M.E. 2017 World Epidemics: A cultural chronology of disease from prehistory to the era of Zika. 2nd Ed. McFarland & Company, Inc., Publishers: USA. https://books.google.co.za/books
  38. La Croix, S. 8 March 2018. The Khoikhoi Population, 1652 – 1780: A review of the evidence and two new estimates. African Economic History Network. https://www.aehnetwork.org/wp-content/uploads/2018/03/AEHN-WP-39.pdf
  39. Smallpox. https://en.wikipedia.org/wiki/Smallpox
  40. Smallpox. https://www.healthline.com/health/smallpox#symptoms
  41. Reader’s Digest. 1989 Illustrated history of South Africa. The real story. 2nd Ed. The Reader’s Digest Association South Africa (Pty) Limited : Cape Town
  42. Free Burghers. https://en.wikipedia.org/wiki/Free_Burghers
  43. Groenewald, G.J. 2009 Kinship, entrepreneurship and social capital: Alcohol pachters and the making of a free-burger society in Cape Town, 1652 – 1795. Doctoral Thesis. University of Cape Town. https://open.uct.ac.za/bitstream/item/8419/thesis_hum_2009_groenewald_g.pdf?sequence=1
  44. Boedel van Cornelis de Leeuw. National Archives & Repository Service of South Africa, Kaapstad. KAB MOOC 8/15.26, 1774. http://databases.tanap.net/mooc/main_article.cfm?id=MOOC8%2F15%2E26&freesearchkey=de%20leeuw
  45. Malabar region. https://en.wikipedia.org/wiki/Malabar_region
  46. Johann Arend Rodewald, SV/PROG 1. https://www.geni.com/people/Johann-Arend-Rodewald-SV-PROG-1/6000000017276200683

< BACK