Gerhardus Munnik I (1742 – >1785)

< BACK

   1. Sy kinderjare

Gerhardus, my groot-groot-groot-groot-oupagrootjie, was die derde van ses kinders. Sy broers en susters was Jan Hendrik (1738 – ?), Jacomina (1740 – ?), Arend (1744 – <1751), Elizabeth (1748 – <1774) en Arend (1751 – ?).1-5 Hulle ouers, Johannes Albertus Munnik (1715 – <1756) en Jacoba de Waal (1717 – ?) blyk redelik vermoeënde mense in Kaapstad te gewees het wat tot die burger-elite van die Kaap behoort het.1-4,6,7

Gerhardus, genoem Gerrit, is op 27 Julie 1742 in die Kaapse Gereformeerde Kerk (nou Nederduits Gereformeerde Kerk [NGK] Kaapstad) gedoop.1-5,8 Gerrit Munnik en sy ouers het geleef gedurende die prag-en-praal era van die 1700’s aan die Kaap de Goede Hoop. As lid van die Munnik-gesin het hy waarskynlik as jongman (later ook as volwassene) deelgeneem aan die sosiale funksies en partytjies aan die Kaap waarvan die goewerneur of ‘n hooggeplaaste amptenaar van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie [VOC] (Vereenigde Oos-Indiese Kompanjie) of ‘n ryk vryburger die gasheer was. Hierdie vermoeënde vryburgers het hul rykdom óf gegenereer in die alkoholbedryf óf het as innoverende boere hul plaasgrond onder toenemende produksie geplaas wat die volume van hul produkverkope aan die VOC en verbygaande skepe aansienlik verhoog het óf het ingetrou in ‘n VOC-gesin of ‘n reeds welgestelde burgerfamilie wat sosiale status en finansiële kapitaal sou verseker, soos wat Gerrit se vader gedoen het.6,7,9-12

In die middel van agtiende eeu was daar reeds ‘n sosiale hierargie aan die Kaap gevestig met VOC-senior ampenare wat die bo-toon gevoer het, gevolg deur VOC-werknemers van laer range, die burger elite, ander burgers soos ambagsmanne en trekboere, en die laagste klas, die vry swartes, soldate, matrose en slawe. Die leefstyl van VOC-amptenare en burgers in die Kaapse nedersetting, asook sommige van die vernaamste burgers in die buitewyke van Kaapstad en in die distrik Stellenbosch het hulle skuldig gemaak aan ‘n lewe van oordadigheid, opgesmuktheid en tonne plesier in ‘n poging om hul sosiale status en materialistiese sukses ten toon te stel en te bevestig. Selfs die slawe van hierdie werkgewers soos die koetsiers is in smaakvolle lavrei-uniforms uitgedos en familiewapenskilde is op koetsdeure aangebring. Vroue het duursame rokke van sy of fluweel gedra en hulself met diamant- en pêrelbybehore versier as ‘n vertoon van hul sosiale (dikwels snobistiese) meerderwaardigheid.9,10,12,13 Die VOC Bestuur het egter bekommerd geraak oor uitspattige leefwyse van hul amptenare en werknemers, asook die grootdoenigheid en windmakerige houding van die welgestelde vryburgers wat ‘n bedreiging vir die sosiale mag van die VOC was, aangesien die sosiale grense tussen hierdie twee groepe besig was om te verdwyn. As gevolg hiervan is die VOC-weeldewette in 1755 in Batavia opgestel in ‘n poging om die oordadigheid onder die amptenare in te perk. Ryk Tulbagh (1699 – 1771), wat die Kaapse goewerneur was vanaf 27 Februarie 1751 tot 11 Augustus 1771, het onder andere hierdie wette uit Batavia aangepas vir die Kaap. Laer amptenare en hul vroue is verbied om sambrele in die openbaar te dra, en vroue mag ook nie mantels gedra het wat met sy of fluweel geborduurd was nie. Alle vroue aan die Kaap is ook verbied om sleeptabberts te dra.9,10,13

Ten spyte van die weelderige bestaan van sommige burgers, was die Kaapse dorpie steeds maar agterlik en het ouers die onderrig van hul kinders aan knegte of rondreisende onderwysers oorgelaat. Die Kapenaars het ook nie gelees nie – daar was in elk geval nie eens ‘n biblioteek of koerant in Gerrit Munnik se leeftyd nie.11,12

   2. Sy vrou

2.1 Elizabeth Lubbe

Op 25 Maart 1764, toe Gerrit Munnik 22 jaar oud was, het hy met die 19-jarige Elizabeth Lubbe (≈21 Februarie 1745 – ca 1781) in die NGK Zwartland in die huwelik getree.1,2,14,15 Ds. Gerhardus Croeser (ca 1720 – 25 Mei 1770) was op daardie stadium die predikant wat vir vyftien jaar vanaf 1755 tot met sy dood daar gedien het.16,17 Hierdie gemeente is as die vyfde oudste gemeente in die Kaap de Goede Hoop op 27 Junie 1745 gestig en die Swartlandse dorpie Malmesbury het daarna vorm begin aanneem.11,16,18 Die streek se naam, Swartland, is te danke aan Jan Van Riebeeck – stigter en eerste Kommandeur van die VOC-nedersetting aan die suidpunt van Afrika – wat die vallei die Het Zwarte Land gedoop het weens die inheemse plant genaamd Renosterbos wat mildelik hier voorkom en waarvan die blare na die winterreëns gedurende die warm, droë somers swart verkleur. Die Swartland is tans hoofsaaklik ‘n koring- en wynverbouingsgebied, maar daar word ook met sitrus, rooibostee, skape en pluimvee geboer.18,19

Elizabeth was die dogter van Barend Frederick Lubbe (5 Maart 1713 – 1785) and Martha “Marritje” Burger (5 Januarie 1721 – 11 Oktober 1774) van die plaas Groote Valleij (nou Grootvlei) aan die Olifantsrivier aan die voetheuwels van die Sederberge in Stellenbosch distrik.9,14,15,20 LEES MEER oor die gesiene en vermoeënde Lubbes. Van al die Lubbe-kinders in hul gesin was Elizabeth die enigste een wat nie met ‘n plaaslike burgerkonneksie getroud is nie, of haar in ‘n endogene huwelik met ‘n naby-familielid begewe het nie. Waar en hoe Elizabeth – die ‘plaasmeisie’ – egter vir Gerrit – die ‘stadsjapie’ – ontmoet het, bly ‘n raaisel.9 Moontlik het sy familie se betrokkenheid in die Kaapse alkolholhandelbedryf tot ‘n sake-geleentheid gelei waar wynboere en hul families byeen was, en het Gerrit vir Elizabeth daardeur ontmoet. Of dalk het Gerrit en Elizabeth mekaar ontmoet by die goewerneur se Kasteelbal of ‘n ryk vryburger se private danspartytjie!

Gerrit en Elizabeth was vir ongeweer sewentien jaar getroud waartydens hulle saam agt kinders gehad het. Elizabeth is egter in haar middel-dertigs in ca 1781 oorlede is.1-3,5,15

2.2 Maria Isabella van der Spuy

Gerrit het op 27 Januarie 1782 vir ‘n tweede keer getrou met die 39-jarige Maria Isabella van der Spuy. Sy is op 13 Januarie 1743 gebore en oorlede op 23 Januarie 1799 in die ouderdom van 56 jaar. Uit hul huwelik is geen kinders gebore nie,1-3,5,21 maar Maria het die stiefmoeder en versorger van die minderjarige Munnik-kinders uit Gerrit se eerste huwelik geword.

   3. Sy loopbaan

Gerrit Munnik was ‘n wynboer op ‘n buytenplaats (plaas buite die grense van die Kaapse dorpie) in die Wynberg-area, ongeveer 10 km suid van Kaapstad, in Stellenbosch distrik (nou Wynberg-woonbuurt van Kaapstad).9,22 Die vestiging van boerdery of verbouing in hierdie gebied in die sewentiende en agtiende eeue was egter betreklik stadig en het eers na die Britse besetting in 1795 vinnig ontwikkel in ‘n klein gemeenskappie toe Britse garnisoene hier gestasioneer is.9,11,12,23 Gerrit het nie net druiwe en wyn geproduseer nie, maar het ook melk gelewer – met die veronderstelling dat hy dus die melkpag vir Wynberg gehad het – soos burger C. Brand aan Goewerneur Joachim van Plettenberg op 25 Januarie 1781 berig het. Brand het elke dag die melkvoorraad vir sy eie huishouding en die matrose in sy herberg by Gerhardus aangekoop teen ses fluivers per daaglikse kwota.22

Die Munnik-familie aan die Kaap was reeds teen die middel van die agtiende eeu ‘n vooraanstaande burgerfamilie wat baie grond en groot eiendomme besit het. Waarskynlik het daar ook ‘n langdurige besigheidsvennootskap met sy welvarede Hurter/De Nijs skoonfamilie bestaan weens die ondertrouery binne hierdie families wat die Munniks as die middelpunt van ‘n netwerk van baie welgestelde families aan die Kaap gevestig het. Die meeste van hierdie ryk families het hul fortuin met die Kaapse alkoholhandel opgebou. Ook Gerrit Munnik het in 1779 die alkoholpag vir Rondebosch en Valsbaai vir ‘n allemintigge bedrag van 48 000 gulders gebie en gewen tydens die jaarlikse veiling by die Kasteel de Goede Hoop. Hierdie spesifieke pag was gewild en die prys is dus dikwels hoog opgejaag want die wa-roete wat Tafelbaai met die hawedorpie Simonstad in Valsbaai verbind het, het deur die Rondebosch en Wynberg gekronkel met heelwat gastehuise en tavernes langs die pad. Goeie besigheid was dus gewaarborg. Die hawe in Valsbaai is in 1743 uitgelê as ‘n alternatiewe ankerplek, aangesien Tafelbaai tydens die wintermaande deur slegte weer en sterk winde geteister is.6,9,23

Soos sy vader lyk dit of Gerrit Munnik nie te suksesvol in die alkoholhandelbedryf was nie – Gerrit se vader het dieselfde pag vir drie jaar in die 1740’s gehou. Of dalk het die alkoholhandel as ‘n besigheidsbelegging nie Gerrit se belangstelling genoeg geprikkel om vir meer as een jaar daarin te belê nie. Hy was in elk geval suksesvol genoeg met sy wyn- en melkproduksie. Nieteenstaande was Gerrit Munnik meer bekend en gerespekteerd as ‘n prominente grondeienaar, kerkman, heemraadslid en kaptein van die burgerweermag aan die Kaap.6,9 Burger Brand het hom as ‘n baie fatsoenlike man beskryf.22 Teen 1766 het die Munnik-gesin verhuis na die Drakenstein waar Gerrit in 1773 vir ‘n twee-jaar tydperk tot die Kerkraad van NGK Drakenstein verkies is.9,24-26 Hulle was vir bykans 13 jaar lidmate van hierdie kerk onder die bediening van ds. Petrus van der Spuy (1722 – 1809) tot in 1779 toe hulle terug verhuis het na Wynberg/Kaapstad, waar hulle hul attestate op 8 April 1779 na NGK Kaapstad oorgedra het.21,23,26,27 Ongelukkig was die gemeente in Drakenstein verdeelt en ‘n erge twis weens allerhande persoonlike vetes het in 1771 uitgebreek wat daarna vir veertien jaar sou duur. Die kerkraad was magteloos en die arme ds. Van der Spuy is fisies en emosioneel uitgemergel in sy pogings om versoening tussen die stryende gemeentelede te bewerkstellig. Selfs die Politieke Raad kon dit nie bedwing nie.24,26 Miskien was dit die rede waarom die Munniks verskuif het na die gemeente in Kaapstad.

Gerrit was heemraad (wetshouer) van Stellenbosch in 1775 en Drakenstein in 1777.6,9 ‘n Heemraad was ‘n lid van ‘n kommisie bestaande uit vryburgers vanuit die omliggende omgewing wat ‘n plaaslike magistraat vir ‘n spesifieke distrik bygestaan het in die uitvoering van administratiewe pligte en die hantering van geregtelike sake in daardie distrik. Heemrade het gefunksioneer in die verskillende distrikte van die Kaap de Goede Hoop tot en met die Britse besetting in 1795.11,12

Gerrit Munnik se bydra tot die beveiliging van die Kaap teen ‘n moontlik aanval deur Brittanje tydens die vierde Anglo-Hollandse Oorlog (1780 – 1784), word in Hendrik Cloete se korrespondensie met Hendrik Swellengrebel jnr. (1734 -1803) beskryf.8,29-31 Oorlog is in Desember 1780 verklaar, waarna die keiserlike skip Prins van Lingen op 20 Januarie 1781 vanaf die Nederlandse Republiek (toe amptelik bekend as Republiek van Sewe Vereenigde Nederlande) vanuit die hawestad, Oostende (nou Ostend in België) vertrek het.8,29,30 Nadat die skip eers ‘n paar maande in Engeland vertoef het, het dit uiteindelik op 10 Julie 1781 met die nuus van oorlog aan die Kaap de Goede Hoop gearriveer. Die Kapenaars wat ontsteld oor hierdie nuus en menige burgers het hun groote roeren (hul groot gewere) aan die Kompanjie beskikbaar gemaak op leengebruik. Daarby was daar Kommandant Gerhardus/Gerrit Munnik en sy Luitenant, Jeremia Auret (1749 – 1794) met 200 opgeleide en gewapende baster-Hottentotte by Muizenberg gestasioneer, asook 200 bastersoldate by Houtbaai onder Kommandant Hendrik Eksteen Pieters en Luitenant Alexander van Breda (1755 – 1852). (Die Hottentotte en Basters Korps is reeds op 2 April 1781 opgerig.) Die laasgenoemde twee offisiere is egter ontslaan weens hul slegte behandeling van hul manskappe, waarna die bevelvoering van hierdie eenheid na Gerrit Munnik oorgedra is en hy met sy 400 troepe op volle gereedheidsgrondslag geplaas is.8,32,33 Ook maar goed so, want sonder die medewete van die Kaap het Kommodoor George Johnstone (1730 – 1787) reeds op 13 Maart 1781 met ‘n vloot van 46 oorlogskepe na die Kaap vertrek om die Kaap de Goede Hoop as ‘n strategiese punt op die seeroete na Indië en Indonesië vir Brittanje te verower. Franse intellegensie in Engeland het egter hierdie inligting deurgegee aan Frankryk, wat ‘n oorlogsbondgenoot van Nederland was, en kort daarna het die Franse Admiraal Pierre André de Suffren (1729 – 1788) met sy vloot vertrek in ‘n poging om die Kaap te haal voor die Britse vloot kon. By die Kaap Verdiese Eilande wou De Suffren ankergooi vir water en nuwe kosvoorrade, maar het hom vasgeloop in die Britse vloot wat in die hawe van Porta Praya vooranker gelê het. Hierdie verrassing aan beide kante het De Suffren egter tot sy voordeel uitgebuit in die skielike geveg wat losgebars het, en het groot skade aan die vasgemeerde Britse vloot toegedien. Voordat Johnstone en sy offisiere behoorlik tot verhaal kon kom, het De Suffren en sy vloot hul uit die voete gemaak en oor die horison verdwyn. Op 21 Junie 1781 het redding vir die Kaap gekom toe die Franse vloot in Tafelbaai anker gegooi het, en begin het om die versterkings in plek te kry. Johnstone moes dus maar druipstert omdraai nadat hy in sy missie gefaal het, maar nie voordat hy op 21 Julie 1781 Hollandse handelskepe in Saldanhabaai aangeval het en ses gebuit het nie.28-31,34-36

Selfs na sy eerste vrou se oorlye het Gerrit ‘n konneksie tussen die buitewyke van Kaapstad en die grensgebied van die Stellenbosch distik gehandhaaf. In die laat lente van 1785 was hy een van 44 indiwidue wat ‘n meer as ‘n daglange reis na Groote Valleij afgelê het om sy wyle skoonvader, Barend Lubbe se boedelveiling wat oor twee dae gestrek het, by te woon. Vanaf Kaapstad self was die plaas per ossewa ses dae se reis ver, en per koets drie tot vier dae se reis, en is op die gasvryheid van plaaseienaars en route vir oornaggeriewe staatgemaak. Te perd was dit twee dae se reis ver. Naasbestaandes, omliggende bure uit die Oranjerieviervallei, Bokkeveld, Swartland, Roggeveld en Bergriviervallei, asook Kaapse amptenare (sommige het hul gesinne per koets of ossewa saamgebring) het hierdie twee-daagse veiling, wat ‘n ook ‘n sosiale en simboliese byeenkoms was, bygewoon. Hierdie velings – tenspyte van die rede hetsy weens ‘n afsterwe of per kriminele of siviele hofbevel – was gewoonlik feestelik met baie kos, drank en vermaak. Op Groote Valleij het gesinne in hul ossewaens of in kamers in die huis – ingerig met heelwat katels – oorgebly. Elke oggend voor die veiling is ‘n ontbyt van warm vleisgeregte, brood en botter bedien. Aandete was ‘n gemeenskaplike maaltyd met ‘n dansery by kerslig op die maat van vioolmusiek. Al die spyseniering, vermaak en huishoudelike take was die verantwoordelikheid van die slawe en Khoikhoi-werkers.9

Die veiling het op 7 en 8 November 1785 plaasgevind met uiteindelik 68 indiwiduele kopers, waarvan ‘n derde, waaronder Gerrit Munnik, familielede was. As skoonseun, en verteenwoordiger van sy vrou se erfdeel – hoewel toe reeds oorlede in ca 1781 – het Gerrit 1400 skape, insluitend ooie met lammers, aangekoop vir 2 873.4 riksdaalders. Die rede vir sy aankoop van die meeste van wyle Lubbe se skaapkudde op die vandusie is onseker. Al hierdie skape sou na sy Wynbergplaas aangejaag moes word, aangesien hy geen weidingsgrond in die Sederberge op sy naam geregistreer gehad het nie. Miskien het hy beplan om die skape te herverkoop aan ander boere in die Stellenbosch distrik. Verder was skape se prys aan die grens vier keer goedkoper as in Kaapstad en die Kaapstadse buitewyke. Dalk wou hy hulle daar as slagskape verkoop het. Die slaaf Jephta van Mallabar is waarskynlik ook saam met Gerrit terug Wynberg toe.9 Gerrit het toe al reeds die slaaf Mattheus in Julie 1785 uit sy skoonvader se boedel ontvang.37

Dit lyk of Gerrit Munnik ‘n ondersteuner van die Kaapse Patriotte (De Patriotten) was, sodanig dat hy hul petisie in 1784 onderteken het, wat deur afgevaardigdes na Nederland geneem is. Interessant genoeg was die Kaapse Patriotte juis vanuit die geledere van die vernaamstes en welgesteldes aan die Kaap wat tussen 1778 en 1787 teen die VOC-amptenare se magsmisbruik en korrupsie (private ekonomiese aktiwiteite) beswaar gemaak het, en as vryburgers aangedring het op meer persoonlike regte, algehele handelsvryheid en die afskaffing van geforseerde uitsetting van burgers vanuit die Kaap na ander VOC-kolonies toe.11,12,38,39

   4. Sy afsterwe

Die presiese sterfdatum van Gerrit Munnik is nie bekend nie, maar dit moes gewees het na November 1785 toe die boedelveiling van Barend Lubbe plaasgevind het, waartydens Gerrit teenwoordig was.9

   5. Sy kinders

Al hul kinders in Drakenstein-omgewing gebore en in NGK Drakenstein gedoop, behalwe vir hul oudste kind wat in NGK Kaapstad gedoop is.

5.1 Jacoba

Hul eersteling, Jacoba is op 10 Maart 1765 in die NGK Kaapstad gedoop waartydens haar ouma en stiefoupa, Jacoba en Cornelis de Leeuw as doopgetuies opgetree het.1-3,25Op die ouderdom van 17 jaar is Jacoba op 24 Februarie 1782 met die 25-jarige Jacobus Arnoldus van Reenen (ca 1757 – 20 Oktober 1815) getroud. Hy was die seun van Maria Dorothea Franke (1721 – ?) en Jacob “Kootjie” van Reenen jnr. (1727 – 1793), van die plaas Welgelegen (nou deel van die Groote Schuur Landgoed in Mowbray, Kaapstad).2,3,37-40 Kootjie, saam met sy broers, was prominente en suksesvolle boere wat instrumenteel was in die opheffing van die Kaapse landbou. Hul teelprogramme met Spaanse en inheemse skape het ook die fondasie vir die Suid-Afrikaanse wol-industrie gelê.40 Daarby was Kootjie van Reenen die leier van die Kaapse Patriotte.39,40 Jacoba Munnik en Jacobus van Reenen was die ouers van Jacobus Gerhardus (≈15 Augustus 1784 – 14 Maart 1818), Jacob (≈1 Oktober 1786 –  na Maart 1816) en Elizabeth Maria Johanna (≈25 Maart 1790 – 20 Julie 1853). Jacoba is op 49-jarige leeftyd op 23 Desember 1814 oorlede.2,41

5.2 Martha Maria

Martha is op 14 September 1766 te NGK Drakenstein gedoop. Haar grootouers aan moederskant, Barend en Martha Lubbe het as getuies van haar doop opgetree.1-3,26

Martha het met Johann Wilhelm/Jan Willem Hurter jnr. (1762 – ?) op 4 Mei 1783 in die huwelik getree. Hy was die seun van Johann Wilhelm Hürter/Jan Willem Hurter (1722 – 1783) en Barbara Honk (1736 – ?) van die welgestelde De Nijs-alkoholhandelaarfamilie, asook Martha se ouer suster, Jacoba se swaer, Sebastiaan Valentyn van Reenen (1760 – 1821) se vrou, Catharina Hurter (1763 – 1830) se broer.2,3,41-43

Martha en Johann het saam 10 kinders gehad, naamlik Jan Willem (≈7 Maart 1784 – ?), Gerhardus (≈11 Desember 1785 – <1792), Johannes Albertus (≈16 September 1787 – <1798), Jacobus Arnoldus (1790 – ?), Gerhardus “Gerrit” (≈28 Oktober 1792 – 11 April 1840), Elizabeth Maria (≈19 Oktober 1794 – ?), Barbara Aletta (≈16 Oktober 1796 – 1856), Johannes Albertus (≈9 Desember 1798 – ?), Martha Maria (≈14 September 1800 – ca 1802) en Martha Maria (≈7 November 1802 – 31 Mei 1869).2,41

5.3 Johannes Albertus

Johannes Albertus “Jan” is op 18 Desember 1768 in Drakenstein gedoop en 22-jarige ouderdom op 2 Mei 1790 is hy getroud met Sara Christina Dreyer (1768 – 21 Oktober 1850), die dogter van Thomas Frederik Dreyer (1727 – 1783) en Christina Franken (1733 – ca 1801).1-3,44,45 Uit hul huwelik is nege kinders gebore.1,2,44-48 Jan Munnik is voor 1812 oorlede.44,45

Hulle kinders was Christina (≈28 Augustus 1791, jonk oorlede), Gerhardus (≈25 November 1792 – 27 Mei 1852; trou op 10 Oktober 1820 met Hester Anna Cloete), Thomas Frederik “Fredrik” (≈31 Augustus 1794 – 17 Januarie 1867; trou op 22 Augustus 1816 met Wilhelmina Johanna van Reenen), Christina (≈Oktober 1796 – 23 Januarie 1836; trou op 10 Julie 1814 met Dirk Willem Hertzog), Elizabeth Jacomina (≈28 Oktober 1798 – >1850; trou met haar neef, Johannes Augustus “Jan” Dreyer) en Johannes Albertus (≈9 November 1800 – 10 Julie 1854, trou op 7 Julie 1828 met sy niggie en skoonsuster Elizabeth Hendrika Jacomina Dreyer).1-3,41,44-49 Johannes het in 1837 die leningsplaas Alphen in Wynberg gekoop van sy oom, Thomas Frederick Dreyer jnr. (28 September 1775 – 25 Mei 1845). Die historiese woonhuis van Alphen het huidiglik provinsiale erfenisstatus.44,50,51

Jan en Sara munnik se sewende kind was Arend (≈13 Februarie 1803, waarskynlik jonk dood), gevolg deur Sara Christina (ca 1805 – >1850; eerste getroud met Thieleman Johannes Roos [1783 – 1843], daarna op 16 Februarie 1847 met wewenaar Gideon Daniel Roux [1813 – 1888]) en Johanna Catharina (1808 – 7 Februarie 1880; getroud op 19 Desember 1831 met Dirk Ryk Arnoldus Cloete [1803 – 1871]).1-3,41,44-49 Al die kinders is in die NGK Kaapstad gedoop, behalwe vir vier dogters naamlik beide Christina’s en die twee jongste dogters. Hulle is in die Hollandsprekende Lutherse Kerk in Standstraat, Kaapstad gedoop.2,49,52 Hierdie kerk het in 1780 tot stand gekom.51

Jan Munnik se kleinseun, James Barry (25 Julie 1826 – 17 Oktober 1901) is met ‘n keisersnee gebore, en uit dankbaarheid teenoor die dokter, het die baba se ouers die dokter vernoem. ‘n Portret van die dokter is ook gemaak, in opdrag van die Munniks. Die ouers was Thomas Frederik Munnik en Wilhelmina Johanna van Reenen (1792 – ?), die dogter van Sebastiaan van Reenen (seun van Maria Dorothea Franke en Jacob “Kootjie” van Reenen) en Catharina Hurter (dogter van Johann Wilhelm Hürter/Jan Willem Hurter en Barbara Honk).2,41,42,53,54

Dit was die eerste suksesvolle keisersnee in Afrika waar beide baba en moeder oorleef het en is uitgevoer deur dr. James Barry (1789 – 1865), ‘n Ierse medikus. Barry is in 1816 na Kaapstad as militêre geneesheer gestuur en het vir die volgende twaalf jaar betekenisvolle veranderinge te weeg gebring. Sanitasie en watersisteme is verbeter, lewenskondisies van slawe, prisoniers en geestesversteurdes is bevorder en ‘n toevlugsoord vir melaatses is gebou. Dr. Barry het sonder skroom die Kaapse amptenare se hantering van mediese sake openlik gekritiseer, maar het enige reperkussies vir sy sterk opinies vrygespring weens sy goeie verhouding met die Goewerneur, Charles Henry Somerset (1767 – 1831) wat aan die Kaap was vanaf 1814 tot 1826. Volgens oorlewering was dr. Barry ‘n temperamentele mens met ‘n slegte humeur, en het selfs ‘n swaardgeveg of twee op sy kerfstok gehad. Maar met sy pasiënte het hy het altyd sagkens en simpatiek gewerk.53,54 LEES HIER die interessant verhaal van die enigmatiese dr. Barry, na wie se dood ontdek is dat hy eintlik ‘n vrou was.

Jan Munnik was ook die oupagrootjie van James Barry Munnik Hertzog (6 April 1866 – 21 November 1942), ‘n prokureur, regter, Boere-generaal en later Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika vanaf 30 Junie 1924 tot 5 September 1939. Hy het ‘n groot rol gespeel in die opheffing van verarmde Afrikaners en die vermindering van Nie-Blankes se politieke, sosiale en ekonomiese regte. Hertzog is na sy keisersnee-neef, James Barry Munnik (1826 – 1901) vernoem.55-575.4 Elizabeth Jacomina

Hul vierdie kind is gedoop op 16 September 1770 te NGK Drakenstein. Andries Lubbe (1737 – ca 1834) en Maria Magdalena Mouton (1739 – 1785) was daar as doopgetuies. Hulle was haar oom (haar moeder se broer) en sy eggenote.1-3,14,15,58,59 Op 4 April 1787 het Elizabeth belydenis van geloof in NGK Kaapstad afgelê en sewe maande later op 25 November 1787 het die 17-jarige Elizabeth in die huwelik getree met Johannes Augustus Dreyer jnr. (≈26 Desember 1754 – ?) wat die seun was van Johannes Augustus Dreyer (1721 – 1790) en Jacoba Elizabeth Greeff (ca 1735 – ?). Elizabeth is oorlede op 8 April 1833, 62 jaar oud.2,44,60

Agt kinders is vir die Dreyer-egpaar gebore. Hul oudste was Gerhardus wat in 1788 gebore is, maar slegs ‘n dag lank geleef het. Die res van hul kinders was Gerhardus Christiaan (1790 – ?), Thomas Frederik (1792 – ?), Johannes Augustus (1793 – 1 Desember 1824), Gerhardus (≈28 Junie 1795 – 9 Oktober 1870), Jacoba Elizabeth Arnoldina (≈15 Mei 1799 – 14 November 1881), Arend (≈21 Desember 1802 – 7 Januarie 1843) en Christina Johanna (1806 – ?).2,44

5.5 Alida

Alida, wat een van ‘n tweeling was, is saam met haar sussie, Helena op 5 Julie 1772 gedoop. Getuies by hulle doop was hul vader se tante, Alida de Waal (1730 – 1781) en haar man, Andries Brink (ca 1718 – 1789), asook hul vader se oom, Cornelis de Waal (1721 – ?) en sy eggenote Hilletje Mostert wat op die plaas Vlottenburg gewoon het.2,3,61,62 Vyftien jaar later op 20 Desember 1787 het die tweeling ook saam geloofsbelydenis in die NGK in Kaapstad afgelê.63As 22-jarige het Alida op 31 Augustus 1794 met die 44-jarige wewenaar Amos Lambrechts (≈10 April 1750 – 9 November 1810) in die huwelik getree. Hy was die seun van Hugo Lambrechts (1719 – 1780) en Huibrecht Visser (1722 – 1803). Hoewel Amos Lambrechts kinders uit sy vorige twee egverbintenisse gehad het, lyk dit of daar geen kinders uit Alida en Amos se huwelik gebore is nie.2,3,64

5.6 Helena

Helena is saam met haar tweelingsussie op 5 Julie 1772 in NGK Drakenstein gedoop deur ds. Petrus van der Spuy.2,3,24,27,61 Helena en haar tweelingsussie, Alida se belydenisaflegging en aanneming as lidmate van die NGK het op 20 Desember 1787 in NGK Kaapstad plaasgevind.63 Op die ouderdom van 46 jaar op 8 November 1818 is Helena in Stellenbosch distrik oorlede.2,3

Haar eggenoot was Hercules Morkel met wie sy op 18 April 1790 in NGK Stellenbosch getroud is. Hy was die seun van Willem Morkel (1718 – 1788) en Helena Catharina Malan (1736 – 1825) en is op 8 Februarie 1767 gedoop. Hercules en Helena was 18 jaar getroud voordat hy op 41-jarige ouderdom op 20 Mei 1808 oorlede is. Uit hul huwelik is gebore Helena Catharina (≈30 September 1792 – 7 Desember 1847), Willem (≈27 Maart 1796 – 5 Julie 1851), Hercules (≈20 Mei 1798 – 1831), Gerhardus (≈27 Oktober 1799 – 8 Julie 1826), Elizabeth Jacomina (≈31 Mei 1801 – 12 Augustus 1847), Philip Hendrik (≈4 Maart 1804 – 7 Januarie 1837) en Jacoba Arnoldina (*30 Januarie 1806, ≈2 Maart 1806, †22 Februarie 1807). Die kinders is almal in NGK Stellenbosch gedoop.2,3,51,65

5.7 Gerhardus

Gerhardus jnr., die tweede seun is op 1 Oktober 1775 gedoop en het later in 1803 met Alida Brink in die huwelik getree.1-3,66 Hulle was my groot-groot-groot-groot-grootouers. LEES MEER oor Gerhardus Munnik jnr (II).

5.8 Maria/Marija Johanna

Maria, die sesde en jongste dogter van Gerhardus en Elizabeth Munnik, is gedoop op 3 Januarie 1779 te Drakenstein. Haar doopgetuies was Maria de Leeuw (1759 – 1789) en haar man, Johannes Jacobus Hendriks (1755 – 1785).1-3,66,67 Maria de Leew was Gerhardus Munnik se half-suster uit sy moeder se tweede huwelik met die wewenaar Cornelis de Leeuw (ca 1713 – 1774).68-70

Meer inligting omtrent Maria Munnik se lewe kon nie gevind word nie. Geen rekords van ‘n moontlike huwelik of haar dood as volwassene kon tot op hede opgespoor word nie. Dis moontlik dat sy jonk oorlede is.

< BACK

 

  1. De Villiers, C.C. & Pama, C. 1976 Geslagsregisters van Ou Kaapse Families: Deel 1 (A-M) & Deel 2 (N-Z)
  2. Johann Heinrich Munningh (Munnik). Suid-Afrikaanse Families, Vol M.
  3. Munnik. Webwerf van Rita Munnik-de Wildt. https://gw.geneanet.org/lenenrita?lang=en&m=N&v=MUNNIK
  4. De Waal, J.C. 2007 Die nageslag van Johannes (Jan) de Waal, 1692 – 1768). Die De Waal Familie se geskiedenis oor 350 jaar in Suid-Afrika. http://www.dewaals.co.za/pdfs/dewaal.pdf
  5. Gerhardus Munnik, 1738 – 1782. https://www.myheritage.com/names/gerhardus_munnik
  6. Groenewald, G.J. 2009 Kinship, entrepreneurship and social capital: Alcohol pachters and the making of a free-burger society in Cape Town, 1652 – 1795. Doctoral Thesis. University of Cape Town. https://open.uct.ac.za/bitstream/item/8419/thesis_hum_2009_groenewald_g.pdf?sequence=1
  7. Gibson, J. 13 November 2018. SA wine history: On the ‘lazy life’ of the early alcohol retail in the Cape. Online Wine Magazine. https://winemag.co.za/wine/opinion/joanne-gibson-on-the-lazy-life-of-early-alcohol-retail-in-the-cape/
  8. Schutte, G.J. 1982 Briefwisseling van Hendrik Swellengrebel jnr. oor Kaapse Sake, 1778 – 1792. Van Riebeeck-Vereniging: Kaapstad. http://www.dbnl.org/tekst/swel004brie01_01/swel004brie01_01_0030.php
  9. Mitchell, L.J. 2008 Belongings: Property, Family and Identity in Colonial South Africa. An Exploration of Frontiers, 1725 – c.1830. Columbia Univeristy Press: New York, USA. http://www.gutenberg-e.org
  10. Oberholzer, L. 2017 Free burgher women in the eighteenth century and the quest for status. Historia, Vol 62(1), p 1-18. http://www.scielo.org.za/pdf/hist/v62n1/01.pdf
  11. Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  12. Giliomee, H. 2003 Die Afrikaners. ‘n Biografie. 1ste Ed. Tafelberg Publishers Limited: Kaapstad
  13. Ryk Tulbagh. https://af.wikipedia.org/wiki/Ryk_Tulbagh
  14. SAG Lubbe
  15. Barend Frederick Lubbe, b12. https://www.geni.com/people/Barend-Frederick-Lubbe-b12/4331730176560061435
  16. NG Gemeneente Swartland. Gemeentegeskiedenisargief. ‘n Oorsig van die geskiedenis van die NG Kerk, sy gemeentes en predikante. https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/ng-gemeente-swartland/
  17. KYK SAG Gerhardus Croeser (abt. 1720 – 1770). https://www.wikitree.com/wiki/Croeser-16
  18. Malmesbury, Western Cape. https://en.wikipedia.org/wiki/Malmesbury,_Western_Cape
  19. Swartland. https://en.wikipedia.org/wiki/Swartland
  20. Olifants River (Western Cape). https://en.wikipedia.org/wiki/Olifants_River_(Western_Cape)
  21. Van der Spuy boek
  22. Extract uit het Register der Resolutien van de Hoog Mogende Heeren Staaten Generaal der Vereenigde Nederlanden. 21 Oktober 1785. https://books.google.co.za
  23. Old Wynberg Village. https://www.oldwynberg.co.za/history.htm
  24. NG Gemeente Die Paarl. Gemeentegeskiedenisargief. ‘n Oorsig van die geskiedenis van die NG Kerk, sy gemeentes en predikante. https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/ng-gemeente-die-paarl/
  25. Doopinskrywing van Jacoba Munnik. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-WX2?cc=1478678&wc=M6GW-8NP%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49614201 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1757-1779 > image 44 of 145; State Archives, Cape Province
  26. Doopinskrywing van Martha Maria Munnik. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-WGX?cc=1478678&wc=M6GW-8NP%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49614201 : 1 September 2019), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1757-1779 > image 53 of 145; State Archives, Cape Province
  27. Petrus van der Spuy. https://af.wikipedia.org/wiki/Petrus_van_der_Spuy
  28. Lidmaatskapinskrywing van Gerhardus en Elizabeth Munnik. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HT-6XY3-Q79?cc=1478678&wc=M6GW-R38%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C50253201 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Memberships 1757-1832 > image 27 of 160; State Archives, Cape Province
  29. Fourth Anglo-Dutch War. https://en.wikipedia.org/wiki/Fourth_Anglo-Dutch_War
  30. Dutch Republic. https://en.wikipedia.org/wiki/Dutch_Republic
  31. Reader’s Digest. 1989 Illustrated history of South Africa. The real story. 2nd Ed. The Reader’s Digest Association South Africa (Pty) Limited : Cape Town
  32. Jeremias Auret, b2. https://www.geni.com/people/Jeremias-Auret-b2/6000000018060373975
  33. Alexander van Breda, b1c5. https://www.geni.com/people/Alexander-van-Breda-b1c5/6000000011589692363
  34. George Johnstone (Royal Navy Officer). https://en.wikipedia.org/wiki/George_Johnstone_(Royal_Navy_officer)
  35. Pierre André de Suffren. https://en.wikipedia.org/wiki/Pierre_Andr%C3%A9_de_Suffren
  36. Battle of Saldanha Bay (1781). https://en.wikipedia.org/wiki/Battle_of_Saldanha_Bay_(1781)
  37. Boedel van Barend Lubbe. National Archives & Repository Service of South Africa, Kaapstad. KAB MOOC 8/19.4, 1785. http://databases.tanap.net/mooc/main_article
  38. Dreyer, W.A. 2015 South Africa: The early quest for liberty and democracy. Hervormde Theological Studies, Vol 21(3). http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0259-94222015000100047
  39. Schutte, G. 2019 Behind the scenes. Hendrik Swellengrebel and the Cape Patriot Movement. Tyskrif vir Geesteswetenskappe, Vol 59(4). Vrije Universiteit: Amsterdam. https://research.vu.nl/en/publications/behind-the-scenes-hendrik-swellengrebel-and-the-cape-patriot-move
  40. George, J. The descendants of Jacob van Reenen.
  41. Jacobus Arnoldus van Reenen, b1c10. https://www.geni.com/people/Jacobus-Arnoldus-van-Reenen-b1c10/6000000013385045141
  42. Johann Hurter, b5. https://www.geni.com/people/Johann-Hurter-b5/6000000010900587479
  43. Doopinskrywing van Johann Wilhelm Hurter. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-WRY?cc=1478678&wc=M6GW-8NP%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49614201 : 20 August 2019), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1757-1779 > image 31 of 145; State Archives, Cape Province
  44. Thomas Fredrik (Dreijer) Dreÿer (bef 1775 – abt 1845). https://www.wikitree.com/wiki/Dreijer-12
  45. Sterftekennis van Sara Christina Munnik (née Dreyer). South Africa, Cape Province, Probate Records of the Master of the High Court, 1834-1989, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DB5S-K44?cc=2517051&wc=WVWM-9J3%3A1598032348 : 11 October 2018), 004433417 > image 134 of 2173; Pietermaritzburg Archives (Formerly Natal State Archives), South Africa
  46. Huweliksinskrywing van Sara Munnik en Gideon Roux. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HT-69HW-71B?cc=1478678&wc=M6GW-TTL%3A49605401%2C49605402%2C50282101%2C50498001 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Stellenbosch > Marriages 1802-1847 > image 211 of 228; State Archives, Cape Province
  47. Gideon Daniel Roux. https://www.geni.com/people/Gideon-Roux/6000000020786786155
  48. The South African Family Cloete. https://strydom.incolor.com/geslagsregisters/cloete/422_e8.htm
  49. NGK Kaapstad en NGK Stellenbosch kerkregisters. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970 https://www.familysearch.org
  50. List of heritage sites in Wynberg, Cape Town. https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_heritage_sites_in_Wynberg,_Cape_Town
  51. Thomas Frederick Dreyer, b4c5. https://www.geni.com/people/Thomas-Dreyer-b4c5/6000000010864940701
  52. Garaba, F. & Zarvedinos, A. 2014 The Evangelical-Lutheran Church in South Africa: an introduction to its archival resources held at the Lutheran Theological Institute (LTI) Library, and the challenges facing this archive. Missionalia, Vol. 42 (1/2) http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0256-95072014000100002
  53. The mysterious Doctor James Barry. http://www.vanhunks.com/cape1/barry1.html
  54. James Barry (surgeon). https://en.wikipedia.org/wiki/James_Barry_(surgeon)
  55. James Barry Munnik Hertzog. https://www.sahistory.org.za/people/james-barry-munnik-hertzog
  56. J.B.M. Hertzog. https://en.wikipedia.org/wiki/J._B._M._Hertzog
  57. Generaal James Barry Munnik Hertzog. https://www.geni.com/people/Generaal-James-Barry-Munnik-Hertzog/6000000002898029416
  58. Doopinskrywing van Elizabeth Jacomina Munnik. Nederduits Gereformeerde Gemeente (NGK), Drakenstein, Baptism register, 1746-1775, page 165, entry number 7. Repository: NG Kerkargief, Noordwal-Wes, Stellenbosch, G3 3/2. Image 599 on FamilySearch film no. 008120997. http://www.eggsa.org/cgi-bin/dosearchBaptisms.pl
  59. Maria Magdalena (Mouton) Lubbe (bef 1739 – bef 1785). https://www.wikitree.com/wiki/Mouton-73
  60. Belydenisaflegging van Elizabeth Jacomina Munnik. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HT-6XYS-19S?cc=1478678&wc=M6GW-R38%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C50253201 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Memberships 1757-1832 > image 39 of 160; State Archives, Cape Province
  61. Doopinskrywing van Alida en Helena Munnik. Nederduits Gereformeerde Gemeente (NGK), Drakenstein, Baptism register, 1746-1775, page 183, entry number 5. Repository: NG Kerkargief, Noordwal-Wes, Stellenbosch, G3 3/2. Image 608 on FamilySearch film no. 008120997. http://www.eggsa.org/cgi-bin/dosearchBaptisms.pl
  62. De Waal, J.C. 2007 Die nageslag van Johannes (Jan) de Waal, 1692 – 1768). Die De Waal Familie se geskiedenis oor 350 jaar in Suid-Afrika. http://www.dewaals.co.za/pdfs/dewaal.pdf
  63. Belydenisaflegging van Alida en Helena Munnik. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HT-6XYS-1ZK?cc=1478678&wc=M6GW-R38%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C50253201 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Memberships 1757-1832 > image 41 of 160; State Archives, Cape Province
  64. Amos Lambrechts (ca 1750 – 1810). Wilfred Duckitt’s Family Tree. https://www.genealogieonline.nl/en/family-tree-wilferd-duckitt/I6000000001634203058.php
  65. Willem Morkel, b3. https://www.geni.com/people/Willem-Morkel-b3/6000000007231308231
  66. Doopinskrywing van Gerhardus Munnik. Nederduits Gereformeerde Gemeente (NGK), Drakenstein, Baptism register, 1775-1785, page 2, entry number 3. Repository: NG Kerkargief, Noordwal-Wes, Stellenbosch, G3 3/3. Image 425 on FamilySearch film no. 008120997. http://www.eggsa.org/cgi-bin/dosearchBaptisms.pl
  67. Doopinskrywing van Maria Johanna Munnik. Nederduits Gereformeerde Gemeente (NGK), Drakenstein, Baptism register, 1775-1785, page 39, entry number 5. Repository: NG Kerkargief, Noordwal-Wes, Stellenbosch, G3 3/3. Image 443 on FamilySearch film no. 008120997. http://www.eggsa.org/cgi-bin/dosearchBaptisms.pl
  68. Johannes Jacob Hendriks. https://www.geni.com/people/Johannes-Hendriks/6000000020002191940
  69. De Villiers, C.C. & Pama, C. 1976 Geslagsregisters van Ou Kaapse Families: Deel 1 (A-M) & Deel 2 (N-Z). Erfenisstigting Biblioteek, Voortrekkermonument, Pretoria
  70. Boedel van Cornelis de Leeuw. National Archives & Repository Service of South Africa, Kaapstad. KAB MOOC 8/15.26, 1774. http://databases.tanap.net/mooc/main_article.cfm?id=MOOC8%2F15%2E26&freesearchkey=de%20leeuw

< BACK