Esaias Engelbertus Munnik (1913 – 1984)

< BACK

   1. Sy kinderjare

Esaias Engelbertus “Sys” Munnik het op 6 Desember 1913 die wêreld binne gekom.1-3 Hy is op 22 Februarie 1914 te Chrissiesmeer gedoop.4 Sy ouers, Jacob Cloete Munnik (1875 – 1956) en Magrietha Cornelia “Grieta” Swart (née Meyer) (1878 – 1963),5,6 het op die plaas Lake Banagher (ZAR nr. 181, Transvaal nr. 102 IT) suid-oos van die dorpie Chrissiesmeer (ook bekend as Lake Chrissie) vir familie geboer. Sys Munnik het eendag sy eie kinders na hierdie plaas geneem om vir hulle te wys waar hy grootgeword het. Gedeelte 2, 3, en 4 van Lake Banagher het reeds vanaf 1888 aan Sys se oom – sy moeder se broer – Schalk Willem Jacobus Meyer (14 November 1855 – 27 Februarie 1918) behoort, en na Schalk se afsterwe is dit aan sy kinders oorgedra.7-11

Sys was Jaap en Grieta Munnik se tweede seun en die sesde van nege kinders. Daar was ook ‘n geliefde ouer stiefbroer wat uit Magrietha se eerste huwelik gebore is.2,6 Min inligting is beskikbaar omtrent Sys Munnik se kinderjare. Sy vader se lidmaatskap in die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) Chrissiesmeer(-Ermelo) is op 24 Januarie 1909 aanvaar en die gesin het lidmate gebly tot teen die middel 1930’s.12 Gedurende daardie tyd is hul gemeente deur besoekende konsulente en later ‘n permanente predikant, ds. J.G.M. Dreyer bedien.13 Op 19-jarige ouderdom op 15 Oktober 1932 het Sys sy geloofsbeleidenis afgelê onder die einste ds. Deyer.12 Teen 1936 was die gesin egter reeds woonagtig op Breyten, waar Sys se vader homself in die boubedryf begewe en met huise geprospekteer het. Jacob Munnik het ‘n groot aantal huise self gebou en dan elke huis teen ‘n wins verkoop. Toe die gesin egter na Breyten verhuis het, was daar nie ‘n NHK nie.7,14,15 NHK-lidmate van Breyten omgewing het onder NHK-Ermelo geval. (NHK Breyten is eers op Saterdag, 28 April 1945 gestig.) Hoewel NHK-lidmate in Breyten af-en-toe deur ‘n konsulent besoek is, moes kerkdienste 30 km ver weg in Ermelo bygewoon word indien hulle meer gereelde bediening wou hê.13,15

Sys Munnik het nie skoolmatriek klaargemaak nie, maar het op ongeveer 15-jarige ouderdom by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens (SAS&H) op Breyten begin werk.2,7

   2. Sy vrou

2.1 Johanna Catharina Aletta Susanna Bekker

Hannie, soos sy genoem is, was die tweede oudste kind van Lourens Christiaan “Lou” Bekker (1885 – 1940) en Elizabeth Gertruida “Bettie” van der Merwe (1890 – 1978).2,16,17 Sy is op 11 Junie 1912 te Ermelo gebore2,18 en het haar baie name daaraan te danke gehad dat sy vernoem is na haar ouma, Johanna Catharina de Jager (1853 – 1942) en ‘n oumagrootjie, Aletta Susanna Jordaan (1826 – 1869). LEES MEER oor die Bekkers.

Hannie Bekker was ‘n vriendelike, nederige, sagmoedige mens en was baie geliefd. Bejaarde familielede beskryf haar tot vandag toe as “die engel uit die hemel” en “die toonbeeld van hoe ‘n christenmens moet lewe.”19  Sy is op 22-jarige ouderdom op 3 September 1935 in die NH&NGK Ermelo (nou NGK Ermelo Moedergemeente) in die huwelik bevestig met die 20-jarige Sys Munnik.2,18 Hannie het in die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) grootgeword, maar in 1938 lidmaatskap by NHK Ermelo aanvaar, waar haar man reeds lidmaat was.20 Hulle was toe reeds woonagtig op Breyten, maar daar was geen NHK-gemeente nie. NHK-lidmate in Breyten moes dus noodgedwonge na Ermelo reis vir gereelde kerkdienste. Dis waarskynlik weens hierdie moeite en onkostes dat die Munnik-gesin iewers tussen 1939 en 1942 lidmate van die NGK op Breyten geword. Hul kinders het dus in die NGK grootgeword.7,15,21,22 Eers in ongeveer 1980 het Sys sy attestaat weer na die NHK op Hendrina laat oordra, nadat die Hendrina NGK waar hy toe ‘n lidmaat was, ‘n groter fokus op plaaslike sending onder anderkleuriges begin aanmoedig het, en dit Sys nie aangestaan het nie.7

Die jong egpaar het hulle op Breyten gaan vestig waar Sys vir die SAS&H gewerk het. Al ses hulle kinders is hier gebore, waarvan twee hier ook jonk dood is.2,7,23,24 Die lewe op Breyten was egter nie aldag maklik vir Hannie nie. Sys was ‘n sosiale drinker, en aangesien die kroeg op die pad huistoe was, het hy dikwels eers daar ‘n draai gemaak na werk. Dit het niks goeds vir die gesin voorspel nie, en die drankduiwel se streke is meesal op Hannie uitgehaal. Soms het Sys se drinkerbroers saam huis toe gekom en dan is daar in die sitkamer tot laatnag jolig gesing en musiek gemaak terwyl Sys die konsertina bespeel en sy oudste dogter, Rita – tot haar argwaan oor die verleentheid – wakker gemaak is om hom op die klavier te begelei. Ten spyte daarvan het Hannie haar man bly ondersteun en haar gesin met liefde versorg.2,7

Saam het Sys en Hannie baie uitdagings te bowe gekom. Hulle het ook haar behoeftige weduwee-moeder uitgehelp met die versorging van haar jongste drie broers, Lou, Izak en Andries, wat vir ‘n paar jaar by hulle ingewoon het en saam met die Munnik-kinders daar op Breyten skoolgegaan het. Sys was ook een van twee skoonseuns wat sy skoonmoeder se huis op Ermelo se huur help betaal het.2,7,25 Hannie se vader, Lou Bekker is per ongeluk in sy huis op Ermelo in ‘n vuisgeveg, waarby Sys Munnik betrokke was, raakgeslaan en is kort daarna oorlede.2,7,17,26  Sys is aan strafbare manslag skuldig bevind en het ses maande se tronkstraf in Ermelo Gevangenis uitgedien. Hannie het haar man egter gereeld in die tronk gaan besoek.7 Die intensiteit van die emosionele warboel wat almal moes ervaar het wat betrokke was, is bykans ondenkbaar en tog het die Munnik – en Bekker familie na mekaar uitgereik, sodat daar vandag onder die nasate ‘n opmerklike gemeensaamheid, lojaliteit en liefde vir mekaar heers wat my met verwondering vul.

Hannie het pragtige naaldwerk gedoen, en kon mooi borduur, hekel en brei. Sy het ook lapverf gedoen en netjiese klere vir haar eie kinders gemaak. Haar handewerk, waarmee haar twee dogters, Rita en Bettie, gereeld mee gaan smous het in die dorp, het goed verkoop. Haar man het dit ook verkoop aan passasiers op die treine waar hy as Kondukteur gewerk het. Oral waar hulle gewoon het, insluitend ook op hul plaas Schoonoord naby Hendrina, het Hannie pragtige blomtuine en groot groentetuine aangelê. Op die plaas was haar eende en kalkoene haar trots. Sy het ook met hoenders geboer en die vleis en eiers verkoop. Haar dogters het sy leer boerekos maak, konfyt kook en beskuit bak, asook hekel en brei.2,7

Na haar jongste kind se geboorte in die 1950’s het Hannie se gesondheid begin agteruitgaan. Eers het sy pynlike osteo-artritis in veral haar hande ontwikkel wat progressief vererger het. Die gesin was reeds op Schoonoord woonagtig toe Hannie op ‘n dag haar jongste dogter met die perdekar by die skoolbustop gaan haal het. Die karperd, genaamd Turning, wat eintlik ‘n wispelturige afgetrede resiesperd was, is ingespan. Oppad het die perd stang gebyt en met die perdekar oor die stamperige stofpad weggehol. Hannie het naarstelik die perd onder beheer probeer bring, maar haar pynlike hande kon net nie die leisels hard genoeg ingetrek kry nie. Toe die kapkar uiteindelik ‘n boom tref, is Hannie ver uitgeskiet en het haar enkel in die proses sleg gebreek. Die plaaslike dokter het haar vir ‘n operasie aan die enkel na Pretoria verwys. Daar wou die wond nie gesond word nie en die spesialis het diabetes mellitus tipe 2 (suikersiekte) gediagnoseer. Na die nodige behandeling is Hannie huistoe gestuur – die enkel het lank geneem om te herstel en sy moes met krukke oor die weg kom – terwyl die lewe sy gang gegaan het. Maar Hannie het aanhou kla oor haar seer hande en gewrigte en die aanhoudende intense moegheid wat sy ervaar het. Dr. Kruger van Hendrina het aanhou pille vir bloedarmoede voorskryf maar dit het net bly vererger. Hannie het op ‘n stadium vir haar dogter, Bettie gesê dat dit voel of sy nie bloed in haar liggaam het nie. Haar vel was later oortrek met donkerblou kneuskolle en die binnekant van haar mond met gevoelige bloedblare. Sy het aanhoudend die hoop uitgespreek dat sy tog net moet bly lewe tot haar kinders groot is. Maar helaas, dit sou nie wees nie. Op 1 Julie 1961, ‘n Saterdagoggend, is sy weer dokter toe saam met Bettie en haar vriend, Chris Kruger, wat vinnig op die plaas kom inloer het. Sys was oppad Nelspruit toe om sy gebreekte trok langs die pad – met sy onbetroubare neef, Schalk Munnik, agter die stuur – te gaan haal. By die spreekkamer wou die dokter dadelik ‘n bloedoortapping doen, en Sys is laat weet om eers dadelik na Middelburg deur te jaag om die bloed te gaan haal, voor hy Nelspruit toe vertrek. Die hospitaal daar was ongelukkig, want vir ‘n bloedoortapping moes ‘n pasiënt gehospitaliseer word. Maar Sys het die bloed gekry en Dr. Kruger het die oortapping in sy Hendrina-spreekkamer gedoen. Die middag is Hannie en Bettie per geleentheid saam met Gert van Rensburg, ‘n motorwerktuigkundige van Hendina terug plaas toe. Daar gekom, wou Hannie eers haar nuwe werpsel varkies gaan besigtig en so sit-sit is sy en haar dogter af na die varkhokke – Bettie moes ‘n stoel saamgedra so swak was haar moeder. Daarna het Hannie dadelik gaan lê en vir twee dae aanmekaar geslaap. Tussendeur het sy gekla van ‘n intense hoofpyn. Sys self het eers laat Saterdagnag van Nelspruit teruggekeer. Eers die volgende oggend het hy gesien hoe siek sy vrou was. Dr. Kruger is Maandagoggend uitgeroep plaas toe en het die bekommerde gesin se handwringende vrae beantwoord met: “O, sy is nie so erg nie. Sy moet net baie vloeistof inneem, want haar niere is nie goed nie.” Net ‘n paar uur later is Hannie oorlede, in die ouderdom van 49 jaar en een maand op Sondag, 3 Julie 1961. Haar kinders was onderskeidelik 23, 18, 14 en 8 jaar oud. Die oudste was getroud en reeds ses jaar uit die huis uit. Hannie se skielike, vroeë dood was vir die hele familie ‘n geweldige skok, en veral vir haar middelste twee kinders was dit intens traumaties. Die dokters en spesialiste se oppervlakkige (eintlik verkeerde) diagnoses en behandeling van bloedarmoede en diabetes laat ook ‘n frank nasmaak, want die onderliggende leukemia (bloedkanker) wat Hannie uitgemergel het, het ongediagnoseerd gebly tot op die einde. Hannie is in die Hendina Begraafplaas begrawe. Dit was ‘n baie groot begrafnis met familie wat van ver gekom het en deur baie mense van die dorp en die omliggende boere-gemeenskap bygewoon is.1,2,7,18

Die onverwagse dood van sy vrou, met wie hy 25 jaar getroud was, was vir Sys Munnik ‘n harde slag. Die versorging van sy ontredderde minderjarige kinders het hom ook onkant gevang.2 Vyf maande later het hy in die huwelik getree met die weduwee Anna Maria Pieterse (voorheen Schutte, née Meyer).2,3,27

2.2 Anna Maria Meyer

Anna Meyer is op 26 September 1919 gebore.2,27 Haar eerste man was Ignatius Christiaan “Naas” Schutte (8 Maart 1916, Bethal – 20 April 1958, Middelburg) en was die oudste seun van Cornelius Andries Johannes Schutte (8 Mei 1879 – ?) en Anna Elizabeth Catharina Scholtz (3 Februarie 1883 – ?).28-31

Naas en Anna Schutte het op gedeelte A [243.3528 morge] van die plaas Grootlaagte (ZAR no. 273, Transvaal no. 449 JS) suid-oos van Middelburg met mielies en melkbeeste geboer. Hierdie grond is op 8 November 1955 op Naas se naam oorgedra. Ten tye van sy afsterwe het sy ouers ook by hulle op Grootlaagte gewoon. Naas het ook ‘n gedeelte [29,340 morge] van die plaas Klippan (ZAR no. 10, Transvaal no. 452 JS) besit, wat hy reeds op 3 April 1954 aangekoop het.8,9,28 Naas Schutte is egter onverwags aan ‘n hartaanval op die ouderdom van 42 jaar en een maand oorlede.7,28 Aangesien Anna en Naas binne gemeenskap van goedere getroud was, en hul kinders nog minderjarig, was sy die volle erfgenaam van haar man se boedel ter waarde van 8 515 pond (insluitend die twee plase, en na laste).28 Anna en Naas het saam drie seuns gehad, naamlik Cornelius Christiaan (30 Mei 1942 – 29 Maart 2009), Johan George (23 Mei 1943 – 10 Oktober 1997) en Ignatius Christiaan jnr. (29 Julie 1945 – 4 April 2020) wat almal op Grootlaagte, Middelburg gebore is.2,28,29,32-35

  • Cornelius Christiaan, beter bekend as “Kerneels”, is op 16 Junie 1965 te Keimoes met Maria Magdalena “Ria” Wiese (*29 Junie 1943) getroud. Vier kinders is uit hul huwelik gebore; Chris (*29 April 1966), Annelien (9 September 1967 – 22 Junie 2012, Garankuwa Hospitaal, Pretoria), Riana (*16 November 1968) en Hannes (11 April 1970 – 19 November 2020, jagplaas by Mookgophong, voorheen Naboomspruit). Kerneels was ‘n petrol- en dieselwerktuigkundige en het ook met tye as voorman op plase gewerk en geboer. Hy is op 29 Maart 2009 naby Koster in Noord-Wes Provinsie in ‘n motorongeluk oorlede, waartydens Ria ernstig beseer is maar uiteindelik goed van herstel het.29,32,36
  • Johan George is “Tar” genoem. Waar die ongewone noemnaam sy oorsprong gehad het, is nie bekend nie. Tar is op 27 November 1965 te Krugersdorp met die 22-jarige Alice Muriel Armour (*23 Julie 1943) in die huwelik bevestig. Antoinette Jeané “Twanie” (*10 September 1966), Almarie (*26 Julie 1968) en Johan George jnr. (*5 Januarie 1980) is uit hul huwelik gebore. Tar, wat ‘n loodgieter van beroep was, is skielik op 54-jarige ouderdom op 10 Oktober 1997 te Potchefstroom aan miokardiale infarksie oorlede.29,33,35
  • Die jongste, Ignatius Christiaan “Kleintjie” is na sy vader vernoem. Hy het op … in die huwelik getree met Magdalena “Magda”. Vir hulle is vyf kinders gebore naamlik Veronica (*8 Julie 1966), Johan, Annemarie, Jakolien en Ignatius Christiaan “Naas/Boet Fasie”. Kleintjie en Magda is later geskei. Op 16 November 1990 tree Kleintjie vir ‘n tweede keer in die huwelik met Susanna Susara “Susan” Badenhorst (*15 Augustus 1958). Hulle het saam twee kinders, ….. en Jacques Marthinus (*15 Augustus 1994). Kleintjie was 74 jaar en 10 maande oud toe hy op 4 April 2020 na ‘n lang siekbed oorlede is te Mokopane (voorheen Potgietersrus).29,34,37

Na haar eerste man oorlede is, is Anna weer getroud met ‘n ene Pieterse maar hierdie huwelik was baie ongelukkig. Anna het self aan haar (stief)kleindogter Alta, wat een Desember in die skoolvakansie op Schoonoord gekuier het, vertel dat die man haar fisies aangerand het, en dat sy vinnig daaraan ‘n einde gemaak het in die skeihof. Anna het later op 2 Desember 1961 weer in die huwelik getree met Sys Munnik, haar derde man.2,27 Haar eie tienerseuns, onderskeidelik 19, 18 en 16 jaar oud ten tye van haar derde huwelik, was toe reeds vaderloos vir drie en ‘n halfjaar.28 Aanvanklik wou Anna hê dat hulle permanent op Grootlaagte, net noord van Arnot Kragsentrale moes woon, maar Sys wou op Schoonoord wat net suid van Arnot is, bly. Die gesin het vir ‘n ruk lank heen en weer tussen die twee plase getrek, maar om die geskilpunt finaal uit die weg te ruim is Grootlaagte en Klippan uiteindelik in 1968 verkoop.7,28Anna kon lekker boerekos op die swart koolstoof maak; ek onthou nog die heerlike melkkos-geur wat in die kombuis gehang het terwyl ons by kerslig om die lang kombuistafel aangesit het. Ek het haar dopgehou wanneer sy boerseep gemaak het, geslagte skaap bewerk het of melk gekarring het om beskuit mee te bak. Sy het ook hard probeer om van my ‘n boervrou te maak deur my te leer kook en hekel, maar hierin het sy ongelukkig gefaal. Hierdie kleindogter het maar min belangstelling en talent getoon, en het verkies om eerder van vroegoggend tot laat-aand saam met Oupa Sys te gaan ‘boer’ – beeste melk of dip, hooi baal, skape skeer, mielies plant of oes en grensdrade nasien.

Eers in my tienerjare het ek ontdek dat Ouma Anna eintlik my stiefouma was – my regte Ouma Hannie is vyf jaar voor my geboorte oorlede. Vir my was daar egter nooit onderskeid tussen bloedfamilie en stieffamilie nie. Die familie het gereeld op die plaas saamgekom. Waar die grootmense op die stoep of in die gesellige kombuis geluier het, het ons groot klomp gelukkige kinders lekker en ongekompliseerd buite saamgekuier en allerhande maniere van saamspeel daar op ons oupa se plaas uitgedink. Ons het saam in die plaasdam geswem, saam Cowboys-and-Indians in die bloekombos gespeel en saam oupa se hooimiedens platgery …. en daaroor oupa se argwaan op die hals gehaal! Maar nooit was Oupa Sys te kwaai met ons nie, inteendeel, hy het ‘n skerp, onnutsige sin vir humor gehad. (“Hy was ‘n regte plaatjie”, beskryf sy neef, Schalk Jacobs hom.38) Ai, dit was heerlike tye op die plaas.Sys en Anna was 21 jaar lank getroud, voordat hy in 1984 oorlede is.2,3 Na haar man se afsterwe het Anna Munnik in die ouetehuis op Hendrina gaan woon. Sy is op 74-jarige leeftyd op Dinsdag, 12 Julie 1994 oorlede aan peptiese ulkus-verwante hartversaking op Pietersburg (nou Polokwane), waar sy by haar jongste seun vir ‘n paar maande gekuier het en toe siek geword het. Haar begrafnisdiens is op 14 Julie 1994 deur ds. Buitendach vanuit die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) Pietersburg gelei.2,27,39

   3. Sy loopbaan

Sys Munnik het sy loopbaan op Breyen begin by die SAS&H as Spoorslaner (iemand wat spoorlyne bou en onderhou). Hy het homself met tyd opgewerk na Rangeerder en uiteindelik as Kondukteur uitgetree.2,7 Breyten was op sy dag ‘n florerende spoorwegdorp want die treinstasie was ‘n sentrale punt in die Hoëveldse spoorwegnetwerk.2,40 Vandag is daar van die kaartjiekantoor, perron, skure en rangeerwerke net mooi niks oor nie.41

Sys het as Kondukteur ‘n reputasie onder veral die swart passasiers gehad, as een wat nie nonsens vat nie. Hy het geen geduld gehad met free riders nie, en as hy aan diens was moes jy maar vroegtydig afklim of vinnig die nodige kaartjie bekom. Daar word vertel dat Sys op ‘n dag ‘n swart passasier langs die pad vanuit die bewegende trein gesmyt het omdat dié nie ‘n kaartjie gehad het nie. Die passasier het darem lig genoeg daarvan afgekom om die klagtekantoor te haal. Op ‘n ander keer het ‘n volwasse passasier sonder ‘n kaartjie gesê hy is ‘n 16-jarige skolier – skoolkinders kon gratis ry. Sys Munnik het duidelik gesien dis ‘n liegstorie en net daar beveel: “Trek af jou broek, laat ek sien!” Sys is wel ‘n paar keer deur die stasiemeester oor die vingers getik vir sy onortodokse, dog effektiewe hantering van die free riders. Ja-nee, Sys Munnik was nie ‘n man vir nonsens nie. In die 1970’s toe hy reeds op Schoonoord geboer het, het die plaasvolk op ‘n dag met ‘n stoeiende swart man in hulle greep by Sys aangekom waar hy gereed gemaak het om ‘n groot vark vir die Egiptiese vleispotte te skiet. Die werkers het ontsteld beduie dat die man ‘n terroris was wat daar by hul hutte rondgesluip het.2 Op daardie stadium het die ondergrondse aktiwiteite van die toe polities-onwettige African National Congress (ANC), ‘n Swart bewustheids- en anti-apartheidsbeweging, al hoe meer prominent geword deur aksies van geweld en terreur wat deur die hele land uitgevoer is.42,43 Sys het vir sy vrou aangesê om die polisie te bel. Die terroris het hy in die oë gekyk en gesê: “Roer ‘n toon en ek skiet jou soos hierdie vark morsdood.” En net daar skiet Sys die vark met ‘n enkele kopskoot in sy spore dood. Terroris het daarna vir ‘n volle uur inderdaad nie ‘n toon beweeg nie – terwyl met die slagtery voortgegaan is – en het byna oorgretig in die vangwa geklouter toe die polisie eindelik opdaag. Liewer die polisie as die kwaai ou oom! Volgens die polisie het Sys en sy werkers daarin geslaag om ‘n berugte terroris wat al lank soek was, vas te trek.2

Tydens ‘n besoek aan Breyten op 1 Julie 2019, het Bettie die spoorweghuis uitgewys waar hulle eerste gewoon het. Die huis was langs (50 m) van die spoorlyn en ongeveer 500 m van die perron verder aan.2,41 Sys Munnik het dikwels sommer so in die verbygaan uit die bewegende kondukteurswa gespring en die afstand na hul huis in ‘n paar sekondes afgelê. In die 1940’s en 1950’s was daar nog nie binnehuise spoeltoilette nie. Op plase was gewoonlik longdrop buite-toilette te vinde, terwyl dorpe die emmersisteem gebruik het. Die gebruikte skop-emmers is in die nag verwyder en vervang met skones wanneer die nagwa verby gekom het. Dit was gewoonlik Nie-Blankes of armsalige blankes wat hierdie sosiaal-afkeurende werk verrig het. Bettie het vertel van die kere wat sy deur die nagwa verras is terwyl sy haar sit in die buite-toilet gesit het; wanneer die luik skielik opgeskuif het, die emmer onder haar uitgepluk is, en die skone met ‘n “ekskuus, mies” teruggedruk is.7

Die Munnik-gesin het later hul intrek geneem in een van Jacob Munnik se huise, en ‘n paar jaar daarna het Sys – ook ‘n kranige bouer soos sy vader – sy eie huis op ‘n groot burgerserf gebou.41 In 1956 is Sys egter verplaas na Witbank (nou Emahlahleni) en die gesin het hulle op ‘n plot naby Tavispanstasie net buite Witbank gaan vestig. Hier het Sys tussendeur ook met hoenders geboer waarmee hy suksesvol in die omliggende swart woongebiede gaan smous het. ‘n Jaar later in 1957 het Sys Munnik, wat nog altyd graag heeltyds wou boer, by SAS&H bedank en met die uitbetaalde pensioengeld vir hom Gedeelte 21 van die plaas Schoonoord in Middelburg distrik in die Transvaal (nou Mpumalanga) gekoop. Die grond het op daardie stadium behoort aan Izak Aldert Kotzé, die skoonvader van sy dogter Rita wat met Izak Aldert Kotzé jnr. in 1955 getroud is.2,7,18,44,45 Die leningsplaas Schoonoord (ZAR no. 430, Transvaal no. 164 IS) van oorspronklik 3 004 morge wat in die wyk Vaalrivier, Lydenburg distrik in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) geleë was, is op 22 Januarie 1868 aan die eerste eienaar, Stephanus Esaia Botha getransporteer. In 1896 is die plaas onderverdeel. Die suidelike gedeelte van 1 005 morge het Stephanus Botha behou, die noord-oostelike gedeelte van 751 morge is aan Johannes Hendrik Botha oorgedra en die noord-westelike gedeelte van 751 morge aan Frans Marthinus Botha. Met die jare het die plaas verdere verdelings ondergaan.9,44

Die 200 morge (171,3044 ha) van Schoonoord wat Sys gekoop het was in ‘n erg verwaarloosde toestand en die boerdery bankrot.2,7,18 Daar was geen vee of plaasimplemente nie. Die huis was ook ietwat gehawend. Dit het geen badkamer of enige lopende water in die huis gehad nie. Water van ‘n fontein daar naby is in dromme met ‘n wa aangery. Die gesin het in die buiterondawel in ‘n sinkbad gebad, wat eers met emmers water gevul moes word en later weer leeggedra is. Die kombuis het ‘n misvloer gehad en nadat die vloere in die kamers plek-plek begin ingeval het, moes Sys ontdek dat die plankvloere net so op die grond ingeslaan was, met groot termietneste wat daaronder verwoesting gesaai het. Sys se droom van ‘n eie stukkie grond het egter waar geword en dit het hom gemotiveer om stadigaan die huis te begin restoreer en die boerdery weer van die grond af op te bou. Agtien maande later in die winter van 1959 het tragedie egter toegeslaan toe die einste huis tot ‘n puinhoop afgebrand het, en die Munniks met niks anders as net die plaas en ‘n motor op hul naam gelaat is nie – nie klere nie, nie kos nie, nie meubels nie, niks nie. Hierdie ervaring was emosioneel baie traumaties vir die gesin. Hannie Munnik, wat reeds siek was met leukemie, het in die buiterondawel waar hulle toe tydelik vir 18 maande gebly het, vir die kinders klere gemaak met materiaal en ‘n Singer trapnaaimasjien wat deur indiwidue uit die gemeenskap geskenk is.2,7,46 (Hierdie naaimasjien is steeds in goeie werkende toestand en in bewaring van haar kleindogter, Alta Jamison van Pretoria). LEES HIER die volle verhaal van hul afgebrande huis soos deur Bettie Kruger (née Munnik) vertel is in 1974 in ‘n artikel vir Pronk Tydskrif.Sys het noodgedwonge weer op die spoorweë – by Broodsnyersplaas se stasie – gaan werk om die mas finansieël op te kom, want Schoonoord se boerdery was nog nie winsgewind genoeg om die skielike addisionele uitgawes te dra nie. Broodsnyersplaas is 5 km noord van Komati Kragstasie, en ongeveer 40 km suid-wes van Schoonoord geleë.7,47,48 Toe die klein stasietjie later gesluit is, het Sys by Eskom gaan werk. Hy was lid van ‘n span wat verantwoordelik was vir die voorbereidingswerk vir die lê van hoogspanningslyne. Dit het weke se werk en leef in die veld, die uitkap van bosse en bome, en die maak van toegangsroetes (grondpaaie) vereis.2,7 Intussen het Sys ook ‘n groot trok gekoop om grond en gruis mee aan te ry na Eskom se Komati Kragsentrale en die omliggende toevoerpaaie wat in aanbou was tussen Witbank en Hendrina. Privaat-eienaars van vervoertrokke kon ‘n goeie wins met hul dienslewering maak. Sys het sy broer se seun, Schalk Munnik jnr. as vragmotorbestuurder aangestel om die trok vir hom te bestuur.7,48 Sy gesin en werkers op die plaas moes dus tussen twee en drie jaar lank vir lang tye sonder Sys Munnik klaarkom.2,7Tussendeur die spoorweg- en Eskomwerk, het Sys kom ploeg en plant, en ook met die bou van ‘n nuwe woonhuis vir hul gesin begin. In Desember 1960 het die gesin in hul nuwe huis ingetrek. (Hannie sou egter net ses maande lank hierdie huis kon geniet voordat sy oorlede is.)2,7 Die stewige, netjiese plaashuis sien vandag nog steeds goed daaruit.41 Die dennehoutvloere is deur sy jonger kinders met kerriepoeier behandel en blinkgevryf, en vir jare het mense gedink dat die pragtige vloere van geelhout gemaak was.7 Sys het sy bouvaardigehede by sy vader geleer wat ‘n kranige bouer en eiendomsprospekteerder was.2Sys het sy boerdery gefokus op melkbeeste en mielies, asook ‘n bietjie Merino-wolskape. Die hoenders, varke en groentetuin het ook in hul daaglikse behoeftes aan vleis, eiers en groente voorsien. Brood, beskuit en koekies is self gebak. Daar was ook ‘n paar kweperbome op die plaas; kweperkonfyt is van die ryp vrugte gemaak. Inkopies is op Hendrina of Middelburg gedoen. Dit het goed gegaan op die plaas, en gelukkige jare het gevolg.2,7

Soos reeds genoem, was Sys ‘n sosiale drinker wat dikwels oppad huistoe by die kroeg op Breyten ‘n draai gaan maak het na ‘n lang werkskof op die trein. Daar was egter nooit alkohol in die huis nie. Nadat die gesin na die plaas verhuis het, het dinge baie beter gegaan, en het die voggies eintlik net by ‘n af-en-toe troue vir Sys gepla. As mens vandag terugkyk na die dinge wat die drankduiwel vir Sys laat aanvang het, kan mens net lag, maar vir dié wat hulself midde-in die situasie bevind het, was dit op daardie oomblik maar bra senutergend, selfs ontstellend. Sys was ‘n baie sterk man, en wanneer die brandewyn hom selfs sterker laat voel het, het hy enigeen by die huweliksonthaal uitgedaag vir pinkie-trek of arm-druk. As iemand hom kon wen, kon hulle sy motor kry! Genadiglik kon die Munnik-gesin elke keer in hul eie motor terug huistoe ry! Op ‘n keer het hulle laatnag vanaf Piet Retief van ‘n huweliksonthaal teruggekeer toe die motor se waaierband breek. Saam met hulle oppad was hul skoonseun in sy eie motor, wat toe aangebied het om hulp te gaan soek en die nodige part te kry. Die nag was pikswart, met die krieke in die lang gras wat hard-op hul ywerige geselskap aangebied het. Sys, met heelwat sterk water agter die blad, het hom op die passasiersitplek tuis gemaak, en vir die res van die nag salig en snorkend oor sy gesin gewaak, daar waar hulle langs die grondpad in die motor bly sit het. Bettie onthou hoe sy deurnag doodsbenoud geluister het na die onheilspellende, ver-af gedreun van die tromme van Bloedrivier se Zoeloe-impi’s. Ma Hannie het verniet gepaai dat dit net plaasvolk was wat gedans en gekuier het. Van die swartmense wat wel laatnag padlangs verbygekom het, het vriendelik hul hulp aangebied maar daar was nie veel wat gedoen kon word nie. Hannie Munnik het maar ‘n kalm en dapper front ter wille van haar kinders voorgehou, want hul behoeder was vas aan die slaap. Eers met sonsopkoms het hulp opgedaag in die vorm van die nuwe waaierband, want Skoonseun moes ver gaan soek vir ‘n nuwe en het toe boonop verdwaal ook. Dit was uiteindelik darem alles wel, eindig wel! 7Sys Munnik was ‘n groot rugby-entoesias en het self klubrugby gespeel. Ook was hy ‘n lojale ondersteuner van die Springbokke (nasionale rugbyspan van Suid-Afrika) en wedstryde is altyd na geluister met sy oor teen die radio. In 1976 het ‘n nuwe era vir Suid-Afrika aangebreek toe die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie begin het met televisie (TV)-beelduitsendings. Sy dogter en haar man, Bettie en Chris Kruger was van die eerstes in die familie wat ‘n swart-en-wit TV aangeskaf het. Sys het gehoor daarvan en ook dat ‘n wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks van Nieu-Zeeland lewendig uitgesaai gaan word. Reëlings is getref vir ‘n kuier by die Krugers op Camden, die Eskomkragsentrale naby Ermelo. Sys was meer as reg vir dié geleentheid en het in sy Sondagkerkpak met das en al daar opgedaag. Iewers gedurende die opwindende wedstryd is halt geroep met ‘n advertensiebreuk. Sie, maar was Sys darem boos! “Gee pad, man!” skree hy vir die man op die TV-skerm, terwyl hy woes beduie vanwaar hy op die punt van die stoel sit. “Jy staan in die pad! Ons kan nie sien nie!” En vir sy skoonseun: “Chris, help, man! Kry die kêrel daar weg!” Nodeloos om te sê …. Chris en Bettie, en sy vrou Anna, het gesukkel om hul lag in te hou. En Sys Munnik? Hy het nooit sy eie TV aangeskaf nie. Die radio was goed genoeg.7

   4. Sy afsterwe

Toe Sys 64 jaar was, het hy Schoonoord verkoop aan sy skoonseun, Izak Kotzé, wat op die plaas De Rust, 10 km verder suid van Schoonoord, geboer het. Die kooptransaksie is op 7 November 1977 vir die bedrag van R 75 000 gefinaliseer.7,49 Sys en Anna het wel lewensreg op die plaas behou, maar vir daardie voorreg moes Sys vir Izak bly boer. Dit was nie ‘n maklike taak nie, want Izak was ‘n moeilike man en het veeleisend hoë eise aan sy skoonpa gestel en baie verwag, selfs toe Sys al reeds siek aan longkanker was. Nadat die kanker na sy brein versprei het, het Sys vinnig verswak. Hy kon net nie meer byhou met die werk op die plaas nie en teen laat 1983 het hy en Anna by sy stiefseun, Tar Schutte gaan inwoon, wat op daardie stadium op ‘n plot naby Randfontein gewoon het.2,7 Sys Munnik is op die ouderdom van 70 jaar en 9 maande op Dinsdag, 11 September 1984 in Krugersdorp Hospitaal oorlede. Sy begrafnisdiens is op 15 September 1984 deur ds. Van Rensburg vanuit die NHK Hendrina gelei, waarna hy in die begraafplaas op Hendrina langs sy eerste vrou begrawe is.1-3,50

   5. Sy kinders

Sys en Hannie Munnik het ses kinders gehad waarvan vier volwassenheid bereik het. Hulle is almal op Breyten gebore. Hul ouma, Magrietha Munnik was ‘n ervare vroedvrou wat ook op Breyten woonagtig was, maar dis nie seker hoeveel van haar kleinkinders se geboortes sy hanteer het nie.2

5.1 Elizabeth Catharina

Bettietjie, of by volle name Elizabeth Catharina, is op 21 Junie 1936 te Breyten gebore. Sy sterf ‘n week later op 28 Junie 1936.2,23 Klein Bettietjie is ongeveer twee maande te vroeg gebore2 en het waarskynlik weens neonatale komplikasies soos infeksie, swak voedingsvermoeë en asemhalingsprobleme weens onderontwikkelde longetjies gesterf. Neonatale inkubators is eers na die Tweede Wêreld Oorlog in gebruik geneem, en spesiale neonataal-intensiewe versorgingseenhede in hospitale waarmee ons vandag bekend is, het eers vanaf die 1970’s hul verskyning begin gemaak.51 Bettietjie is in die Ou Begraafplaas op Breyten begrawe. Haar grafsteen is deur ‘n familielid, Hannie Bekker se aangetroude oom, gemaak.2,7,23 Haar ouers was baie hartseer oor die dood van hul eersgebore kindjie.25.2 Magrietha Cornelia

Magrietha Cornelia “Rita” is na haar paternale ouma vernoem. Sy is op 7 November 1937 te Breyten gebore en op 30 Januarie 1938 in die NHK Ermelo deur ds. W.M. Wolmarans gedoop. Haar tante (haar moeder se suster), Elizabeth Gertruida Lourensina Bekker (1918 – 2004) het as getuie opgetree.2,7,21,45 Rita het op die einste spoorwegdorpie waar sy gebore is, skool gegaan en Standard 8 (Graad 10) voltooi in 1954.2,7 In die daaropvolgende jaar op die ouderdom van 17 jaar op 3 September 1955 tree sy in die huwelik met die 22-jarige Izak Aldert Kotzé (18 November 1932, Stofberg – 9 Februarie 2017, Pretoria). Hulle is op haar geboortedorp in die NGK Breyten in die huwelik bevestig.45,49,52

Izak Kotzé jnr. was die sewende kind en enigste seun van Izak Aldert Kotzé (20 Januarie 1896 – 21 November 1974) en Johanna Elizabeth Vevier (Augustus 1900 – 28 September 1938). Hy het ses ouer susters gehad.53,54 Ten tye van sy huwelik was Izak ‘n steenkoolmynwerker en het met tyd by verskillende myne soos Bankfontein-myn, geleë 10 km noord van Breyten, en Wonderfontein-myn tussen Middelburg en Belfast gewerk. Maar Izak wou graag boer en het eers ‘n plot naby Middelburg gehuur maar later verhuis na huurgrond op die plaas Nooitgedacht (ZAR no. 425, Transvaal no. 493 JS), net oos van Arnot Kragsentrale. Vanaf hul derde en laaste huurgrond te Witkloof (Transvaal no. 408 JT) tussen Belfast en Carolina, het die gesin getrek na hul uiteindelike, permanente tuiste genaamd De Rust (gedeelte 1) naby Hendrina. Die res van sy lewe het Izak daar voltyds met mielies en melkbeeste geboer. Hierdie plaasgrond van 138 morge (118,0872 ha) het Izak op 27 November 1967 gekoop. Op 21 Januarie 1981 het hy ook gedeelte 2 (138 morge, 118,0887 ha) van De Rust gekoop. Die plaas De Rust is ‘n onderverdeling van die oorspronklike leningsplaas Brakpan (ZAR no. 264, Transvaal no. 163 IS).7-9,49

Rita was ‘n vlytige en raakvat boervrou. Sy is oorlede op die ouderdom van 62 jaar en 10 maande op 20 Augustus 2002 in Pretoria weens mesenteriale trombose (trombose van die ingewande).45 Sy is vanuit NGK Hendrina begrawe en te ruste gelê in die familiekerkhof op De Rust op 24 Augustus 2002. Die plaas behoort nou aan Rita en Izak se enigste dogter.49 Vier maande na sy vrou se dood met wie hy 46 jaar getroud was, hertrou Izak met Maria Jacomina Elizabeth Petronella “Marietjie” Bekker (née Westerveld) (5 Junie 1933 – 1 November 2017) op 12 Desember 2002 in Pretoria.52 Sy was die gewese vrou van Rita se oom, Izak Matthys Bekker (*2 Februarie 1928).19 Hierdie huwelik het nie Izak Kotzé se kinders, veral sy dogter, se goedkeuring weggedra nie en Izak en Marietjie is later van mekaar geskei. Sy laaste jare het Izak by sy dogter in Pretoria spandeer, en is deur haar versorg nadat Alzheimer se siekte by hom gediagnoseer is. Izak is op 85-jarige ouderdom oorlede op 9 Februarie 2017 in Pretoria. Hy is ook op De Rust begrawe.49,52

Izak en Rita Kotzé het ses kinders gehad waarvan vier nog leef. Hulle is Izak Aldert “Sakkie” (*11 Mei 1956), Esaias Engelbertus “Sys” (*13 November 1957), Theunis Gerhardus Nicolaas “Theunie” (18 Mei 1960 – 26 Desember 1960), wat weens versmoring gesterf toe hy tydens sy middagslapie tussen die bed en muur ingerol het, Theunis Gerhardus Nicholas “Theuns” (28 Januarie 1961 – 28 September 1983), wat tragies doodgeskok is op 22-jarige ouderdom toe hy aan sy huis se elektriese drade gewerk het, Lourens Christiaan “Lou” (*19 Februarie 1962) en Johanna Catharina Aletta Susanna “Hannetjie” (*23 September 1966).7,495.3 Elizabeth Gertruida Lourensina

Sy is gebore op 18 Oktober 1942 te Breyten.2,7 Bettie, soos sy deur haar familie genoem word, is my moeder. LEES MEER oor Bettie Munnik en haar man Chris Kruger.

5.4 Jacob Cloete

Jacob Cloete “Japie” is in ongeveer 1944 op Breyten gebore. Hy was ‘n sterk, gesonde seuntjie, al het hy vanaf geboorte ‘n effense roggelborsie gehad. Sy oudste sussie was reeds in die skool, toe ‘n masels-epidemie onder die skoolkinders uitgebreek het. Rita het siek geword, haar jonger sussie Bettie het by haar aangesteek, en later het die tweejarige, klein Japie ook siek geword. Die plaaslike dokter op Breyten, Dr Raghman, het net een kyk na Japie en sy roggelborsie gegee en witseerkeel gediagnoseer, teen Japie se moeder en sy ouma, Magrietha Munnik se menings in. Japie is nietemin ingespuit teen witseerkeel en is kort daarna oorlede.2,7

Bettie kan niks van haar boetietjie onthou nie, maar wel haar moeder se baie trane en baie besoeke aan die begraafplaas. Japie lê in die Ou Begraafplaas van Breyten begrawe.2,24 Die graffie was oorspronklik met ‘n mooi draadkransie opgemaak wat vir meer as 50 jaar daar was, maar is intussen vermoedelik as skrootmetaal deur opportuniste verwyder.7,24,41 Die begraafplaas self is in ‘n verwaarlosing, die omheining bestaan nie meer nie en heelwat grafte is gevandaliseer. Beeste wei in die lang gras en dra by tot die besadiging van die grafte.41

5.5 Lourens Christiaan

Loutjie, gedoop Lourens Christiaan, is op 11 Desember 1946 gebore.2,55 Hy was ‘n pragtige, saggeaarde, blonde krulkopseuntjie en was baie geheg aan sy moeder en sy ouer sussie, Bettie. Wanneer sy moeder gou winkels toe gestap het daar op Breyten, moes Bettie hom oppas. Gewoonlik het sy getrou op haar pos aan die slaap geraak en eers wakker geword wanneer die tannie laer af in die straat met klein Loutjie aan die hand, wat intussen straat gevat het, aan die deur geklop het.2

Die dood van sy geliefde moeder in 1961, was vir die 14-jarige Loutjie ‘n intens traumatiese ervaring, wat vir jare daarna steeds ‘n impak op hom sou hê. Die dag van haar begrafnis het hy net verdwyn, en toe almal begin soek, word sy vader se motor ook vermis aangemeld. Almal was rasend van kommer. Eers donkeraand kry sy vader ‘n telefoonoproep van ‘n boer van Carolina, 40 km noord-wes van Hendrina. Loutjie het gaan hulp soek nadat die motor sonder brandstof gaan staan het. Sy pa is woedend maar die oom praat mooi, en Loutjie se vader (toe 48 jaar) en sy 28-jarige swaer, Izak Kotzé vertrek daarna om hom te gaan haal. Vyf maande later het die skielike huwelik van sy vader gevolg, asook die nuwe lewe saam met drie ouer stiefboeties. Veral die oudste en jongste het hom afgeknou en die lewe vir hom as jong seun baie moeilik en ongelukkig gemaak. Dikwels is hy as die sondebok uitgewys wanneer stoutigheid aangevang is, en het deeglike straf by sy pa daarvoor ontvang. Toe Loutjie in Standard 8 (Graad 10) was, het sy een broer Pa Sys se motor gestamp, maar die skuld is op die saggeaarde Loutjie gepak en daarvoor het hy ‘n heftige loesing gekry. Die Maandagoggend daarna, iewers in 1962, het Loutjie sy boeke by die skoolkantoor ingehandig en op 15-jarige ouderdom die pad gevat sonder kos en klere. Eers ses maande later laat weet Loutjie se oom, Andries Bekker (1935 – 1999) dat hy die uiters verwaarloosde jong seun in Pretoria gesien het waar hy ‘n groot trok bestuur het. Sy familie se verdere soektog in Pretoria lewer egter niks op nie en vir bykans twee jaar het niemand geweet waar hy is nie. Op een of ander manier vind hy uit van sy jongste stiefbroer se voorgenome huwelik, en daag onverwags, ongesiens in geleende klere by die onthaal op Schoonoord op. Toe sy pa hom skugter in die agterdeur van die skuur sien staan, bars dié in trane uit, opgevolg deur ‘n geskel en uiteindelike bedaring. Nadat vader en seun die volgende oggend dinge uitgepraat het, is hul verhouding herstel, en die verhouding met sy stiefmoeder en sy stiefbroers het daarna ook geleidelik verbeter.2 Net na sy terugkeer na die plaas in ongeveer 1964, het Loutjie werk gekry by die Oos-Transvaal Koöperasie (OTK) se tak in Middelburg. Later het hy vir Eskom begin werk in die lynbou-afdeling wat verantwoordelik was vir die bou van die hoogspanningslyne oral in die land. Hy was spesifiek verantwoorderlik vir die bestuur en instandhouding van die swaarvoertuie wat gebruik is tydens die oprigting van hierdie lyne. Dit het beteken dat hy vir maande in veldtente moes bly daar waar hulle gewerk het. By Eskom het hy verskeie toekennings as beste vlootbestuurder ontvang. Nadat sy vader begin agteruitgaan het weens kanker, het hy teruggekeer na OTK Middelburg terwyl hy op die plaas by sy ouers gewoon het om met sy vader se versorging te help. Na sy vader se afsterwe in 1984, het Loutjie vir Wannenburgs Motoronderdele in Pretoria-Noord gaan werk, later as Fabriekbestuurder vir Ermelo Bandesentrum en laastens vir ‘n vervoerfirma in Pietersburg (nou Polokwane).2,7Op 28 Junie 1975 tree Loujie, toe 29 jaar oud, met die 18-jarige Martha Maria Cornelia “Marie” van Zyl (*29 Julie 1956) op Rietkuil, naby Hendrina, in die huwelik.2,55,56 Na slegs twee maande het hierdie huwelik skipbreuk gely deurdat sy vrou hom op 22 Augustus 1975 wederregtelik en kwaadwilliglik verlaat het. Hul egskeiding is in Desember 1976 gefinaliseer.56 Loutjie het daarna verkies om alleen deur die lewe te gaan en het nooit weer getrou nie.2Loutjie het later met sy hart en longe begin gesukkel en die chroniese brongitis, wat hy tydens sy Eskom-dae in die veld opgedoen het, het sy werksvermoeë begin ondermyn, en het bygedra tot sy depressie. Tog het hy aanhou werk soveel hy kon.2 Lourens Christiaan Munnik is weens ‘n aneurisme op Sondag, 30 Mei 1994 op die ouderdom van 47 jaar, 5 maande en 19 dae in Soetdoring-omgewing te Pietersburg oorlede. Sy begrafnisdiens is op 6 Junie 1994 deur ds. Lambrecht vanuit die Grobbelaarskapel in Pretoria-Wes gelei waarna hy in Heatherdale Begraafplaas in Pretoria-Noord te ruste gelê is.55,57 Vir die uitgebreide familie was hy “Loutjie”, sy susters het hom “Boetie” genoem en vir die kinders van sy broers en susters was hy “Omie” met die mooi karre en sagte hart.

5.6 Johanna Catharina Aletta Susanna

Die eerste wat haar tienjarige suster, Bettie geweet het dat hulle ‘n nuwe sussie by gekry het, was toe die ‘hoenderhaan’ luiddrugtig en al te vroeg begin kraai het, en dit nogal binne die huis! By nadere ondersoek is ‘n pasgebore nuwe baba ontdek, wat in die vroeë oggendure van 12 Oktober 1952 haar opwagting gemaak het.2Johanna Catharina Aletta Susanna “Hantie”, na haar ma vernoem, is ongelukkig met ‘n orofasiale spleet (gesplete verhemelte en lippie) gebore.2 Hierdie aangebore afwyking word veroorsaak deurdat die twee skedelplate wat die harde verhemelte vorm nie volledig sluit gedurende die eerste maande van fetale ontwikkeling nie. Die sagte verhemelte weefsel is gewoonlik dan ook gesplete. Hierdie babas sukkel ernstig met bors – of bottelvoeding, en later ook met spraakprobleme.58 Haar ouers het om die beurt hul klein babatjie melk met ‘n druppertjie gevoer, terwyl sy dikwels gestik het. Maar Hantie was ‘n vegtertjie! Vele operasies in Pretoria het gevolg om die aangebore defek te herstel, waarvan die eerste reeds op vier maande uitgevoer is.2,7,59

Hantie het op 22-jarige ouderdom met Jakobus Petrus “Kobus” Nel (*15 Julie 1947, Kuruman) op 7 Desember 1974 in die NGK Hendrina in die huwelik getree.59 Kobus was die enigste oorlewende kind van Herculaas Johannes “Herrie” Nel (12 Januarie 1915 – 14 Junie 2003, Pretoria) en Gertruida Aletta “Lettie” Maritz (30 Mei 1906 – 5 Februarie 2002, Pretoria).59-61 Hul tweede seun Jan Gysbert (1951 – ca 1953) is jonk oorlede. Die storie word vertel dat Herrie reeds op 20-jarige ouderdom by die mooi maar kwaaie Lettie, toe 29 jaar oud, gaan vlerksleep het, maar daar het niks van gekom nie.59 Nadat die twee mekaar weer na tien jaar raakgeloop het, en albei nog ongetroud was, het hulle uiteindelik – op onderskeidelik 30 en 39 jaar oud – op 1 November 1945 die knoop deurgehaak.59,61 Hulle het vir jare in Kuruman omgewing in die Noord-Kaap met skape geboer, maar het later na Pretoria verhuis om nader aan hul seun en sy gesin te wees. Hierna het Herrie vir bykans 15 jaar by die Landbou Navorsingsraad se Veeartsenykundige Navorsingsinstituut by Onderstepoort, Pretoria -Noord gewerk. Hy was verantwoordelik vir die instandhouding van die gronde. Die blombeddings, struikgewasse en grasperke kon altyd deur ‘n ring getrek word.59 Lettie Nel is op die ouderdom van 95 jaar weens hipoksie oorlede en die 88-jarige Herrie aan hartversaking.60,61

Van al die Munnik-kinders was Hantie die enigste wat met behulp van ‘n studielening verder gaan studeer het.2 Sy het as onderwyseres gekwalifiseer, later in biblioteekkunde gespesialiseer en uiteindelik haar Ph.D. deur UNISA (Universiteit van Suid-Afrika) verwerf. Haar beroepslewe het poste by openbare biblioteke, skole en universiteite ingesluit. Tussendeur bak sy ook vir verskeie tuisnywerhede. Kobus was sy lewe lank betrokke in die motorherstelwerkbedryf, hoofsaaklik in onderdele-verkope en paneelkloppery. Hy is nie ‘n man vir leeglêery nie en is tuis altyd besig met tuinwerk, instandhoudingswerk aan hul huis of motors, of met die aflewering van koeke vir sy vrou en dogter.59

Kobus en Hantie Nel het vier kinders wat almal in Pretoria gebore is. Hulle is Aletta Maria “Mariletje” (*24 Augustus 1978), Mathilda “Tilla” (*15 Augustus 1980), Herculaas Johannes Munnik (*7 November 1984) wat op sy laaste naam genoem word, en Jakobus Petrus jnr. “Kobus” (*28 September 1989).59

< BACK

  1. Grafte van Sys en Hannie Munnik. Hendrina Begraafplaas, Hendrina, Mpumalanga. Op 1 Julie 2019 besoek deur Bettie Kruger en Alta Jamison, dogter en kleindogter van Sys en Hannie Munnik
  2. Familie-joernaal en foto’s in Maart 2018 beskikbaar gemaak deur Bettie Kruger van Pretoria, dogter van Sys en Hannie Munnik
  3. Rekord van geboorte, tweede huwelik en dood van Esaias Engelbertus Munnik. https://gendatabase.com
  4. Dooprekord van Esaias Engelbertus Munnik. South Africa, Netherdutch Reformed Church Registers (Pretoria Archive), 1838-1991, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:781J-NSW2 : 12 August 2019), Esaias Engelbertus Munnick, 1914
  5. Grafte van Jacob en Magrietha Munnik. Ou Begraafplaas, Breyten, Mpumalanga. https://www.graves-at-eggsa.org
  6. Sterfkennis en testament van Jacob Cloete Munnik. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 289/57, 1957
  7. Onderhoud op 2 Oktober 2019 met Bettie Kruger te Pretoria, Gauteng
  8. Kaart van Transvaal Provinsie, Unie van Suid-Africa. Kantoor van die Landmeter-Generaal, Pretoria, 1931. Leeskamer. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria
  9. National Geo-Spatial Information, 1:50 000 Rasters. January 2015. Department of Rural Development and Land Reform, Republic of South Africa. CD-publication
  10. Transportrekords van Plaas Lake Banagner (ZAR nr. 181; Transvaal nr. 102 IT). National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB RAK 2850
  11. Schalk Willem Jacobus Meyer. https://www.geni.com/people/Schalk-Willem-Jacobus-Meyer/6000000063319124871
  12. Lidmaatskap van Jacob Cloete Munnik en belydenisafleggings van Munnik-kinders. NHK Chrissiesmeer Register. South Africa, Netherdutch Reformed Church Registers (Pretoria Archive), 1838-1991, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:QGT2-82RW : 12 August 2019), Esais Engelbertus Munnick, 1932; citing Membership, Chrissiesmeer, Ermelo, Transvaal, South Africa, Nederduitsch Hervormde Kerk Van Afrika (Dutch Reformed Church of Africa), Pretoria; FHL microfilm
  13. Habig, W.G. Eufeesuitgawe 1992. Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika – Gemeente Chrissiesmeer. https://archive.org/stream/nederduitschherv00chri
  14. Lidmaatskaprekord van Jacob Cloete Munnik en sy kinders. NHK Ermelo Register. South Africa, Netherdutch Reformed Church Registers (Pretoria Archive), 1838-1991, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:QP8C-7QYK : 12 August 2019), Jacob Cloete Munnik, 12 Aug 1945; citing Membership, Breyten, Ermelo, Transvaal, South Africa, Nederduitsch Hervormde Kerk Van Afrika (Dutch Reformed Church of Africa), Pretoria; FHL microfilm
  15. Breyten. Oostelike Sinode van die NG Kerk. http://sinoos.co.za/placemarks/breyten/
  16. Grafte van Lou en Bettie Bekker. Ou Begraafplaas, Ermelo, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  17. Sterfkennis en boedel van Lourens Christiaan Bekker. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 3326/40, 1940
  18. Sterfkennis en boedel van Johanna Catharina Aletta Susanna Munnik. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 4850/61, 1961
  19. Onderhoud op 17 Julie 2017 te Vischkuil, Springs met Izak Bekker, broer van Hannie Munnik (née Bekker)
  20. Lidmaatskaprekord van Johanna Catharina Aletta Susanna Munnik. NHK Ermelo Register. South Africa, Netherdutch Reformed Church Registers (Pretoria Archive), 1838-1991. Database with images. FamilySearch. https://FamilySearch.org : 17 November 2019. Nederduitsch Hervormde Kerk Van Afrika (Dutch Reformed Church of Africa), Pretoria
  21. Dooprekord van Magrietha Cornelia Munnik. South Africa, Netherdutch Reformed Church Registers (Pretoria Archive), 1838-1991, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:Q231-TV8V : 12 August 2019), Esais Engelbertus Munnick in entry for Magrieta Cornelia, 1938
  22. NGK Breyten doopregister
  23. Graf van Elizabeth Catharina Munnik. Ou Begraafplaas, Breyten, Mpumalanga. Op 1 Julie 2019 besoek deur Bettie Kruger en Alta Jamison
  24. Graf van Jacob Cloete Munnik. Ou Begraafplaas, Breyten, Mpumalanga. Op 1 Julie 2019 besoek deur Bettie Kruger en Alta Jamison
  25. Onderhoud op 9 Mei 2019 te Pretoria met Liesbeth Prinsloo, niggie van Hannie Munnik (née Bekker)
  26. Sterftesertifikaat van Lou Bekker. South Africa, Transvaal, Civil Death, 1869-1954, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:741B-2FZM : 5 March 2019), Lourens Christiaan Bekker, 18 Aug 1940; citing Death, Ermelo, Transvaal, South Africa, National Archives of South Africa, Pretoria
  27. Rekord van geboorte, derde huwelik en dood van Anna Munnik (née Meyer). https://gendatabase.com
  28. Sterfkennis, testament en boedel van Ignatius Christiaan Schutte. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 2693/58, 1958
  29. Schutte, T. Die Schutte/Schütte Webblad. https://schutte.kaleido.co.za/
  30. De Villiers, C.C. & Pama, C. 1976 Geslagsregisters van Ou Kaapse Families: Deel 1 (A-M) & Deel 2 (N-Z). Erfenisstigting Biblioteek, Voortrekkermonument, Pretoria
  31. Schutte Christiaan Ernst. South Africa’s Stamouers. https://www.stamouers.com/stamouers/surnames-r-to-u/451-schutte-christiaan-ernst
  32. Rekord van geboorte en huwelik van Cornelius Christiaan Schutte. https://www.identitynumber.org
  33. Rekord van geboorte, huwelik en afsterwe van Johan George Schutte. https://www.identitynumber.org
  34. Rekord van geboorte en tweede huwelik van Ignatius Christiaan Schutte. https://www.identitynumber.org
  35. Inligting elektronies ontvang op 25 Januarie 2020 van Twanie Baard (née Schutte) van Randburg, kleindogter van Naas Schutte en Anna Munnik
  36. Telefoniese onderhoude op 3 April 2020 met Chris Schutte van Mooinooi, Noord-Wes en Hannes Schutte van Pretoria, kleinseuns van Naas Schutte en Anna Munnik
  37. Telefoniese onderhoud op 4 April 2020 met Veronica Viljoen (née Schutte) van Mokopane (voorheen Potgietersrus), kleindogter van Naas Schutte en Anna Munnik
  38. Onderhoud op 20 Oktober 2019 met Schalk en Thea Jacobs te Pretoria, Gauteng
  39. Begrafnisbrief van Anna Munnik. In besit van Bettie Kruger van Pretoria, Gauteng
  40. Breyten. https://en.wikipedia.org/wiki/Breyten
  41. Inligting versamel en foto’s geneem tydens besoek aan Breyten en Schoonoord op 1 Julie 2019 deur Bettie Kruger en Alta Jamison
  42. Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  43. History of the African National Congress. https://en.wikipedia.org/wiki/History_of_the_African_National_Congress
  44. Transportrekords van Plaas Schoonoord (ZAR nr. 430; Transvaal nr. 164 IS). National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB RAK 3054
  45. Rekord van geboorte, huwelik en dood van Rita Kotzé (née Munnik). https://gendatabase.com
  46. Kruger, E.G.L. (5 April 1974) Ons huis brand af. Pronk Tydskrif. Artikel in besit van Bettie Kruger
  47. Broodsnyersplaas. http://za.geoview.info/broodsnyersplaas,1015488
  48. Komati Power Station. Eskom. http://www.eskom.co.za/Whatweredoing/ElectricityGeneration/PowerStations/Pages/Komati_Power_Station.aspx
  49. Onderhoud te Pretoria op 5 Februarie 2016 en verdere inligting elektronies ontvang op 10 Januarie 2020 van Hannetjie Kotzé, kleindogter van Sys en Hannie Munnik
  50. Begrafnisbrief van Sys Munnik. In besit van Bettie Kruger van Pretoria, Gauteng
  51. Neonatal intensive care unit. https://en.wikipedia.org/wiki/Neonatal_intensive_care_unit
  52. Rekord van geboortedatum en tweede huwelik van Izak Aldert Kotzé jnr. https://www.identitynumber.org
  53. Rekord van geboortedatum, huwelik en afsterwe van Izak Aldert Kotzé snr. https://www.identitynumber.org
  54. Sterfkennis en boedel van Johanna Elizabeth Kotzé (née Vevier). National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 3750/38, 1938
  55. Rekord van geboorte, huwelik en afsterwe van Lourens Christiaan Munnik. https://gendatabase.com
  56. Egskeiding van Lourens Christiaan Munnik. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB TPD 7030, 1975
  57. Begrafnisbrief van Loutjie Munnik. In besit van Bettie Kruger van Pretoria, Gauteng
  58. Cleft lip and cleft palate. https://en.wikipedia.org/wiki/Cleft_lip_and_cleft_palate
  59. Onderhoud op 26 Desember 2016 te Pretoria met Hantie en Kobus Nel, dogter en skoonseun van Sys en Hannie Munnik
  60. Rekord van geboorte en dood van Herculaas Johannes Nel. https://www.identitynumber.org
  61. Rekord van geboorte, huwelik en dood van Gertruida Aletta Nel (née Maritz). https://www.identitynumber.org

< BACK