Johannes Albertus Munnik (1715 – <1756)

< BACK

   1. Sy kinderjare

Johannes Albertus, wat “Jan” genoem is, is in ca 1715 gebore as die oudste seun van Johann Heinrich Mönnich/Jan Hendrik Munnik (1690 – ca 1720) en Jacomina Visscher/Visser (1684 – 1764).1-3 Hy is op 1 Maart 1716 in die Groote Kerk (NGK Kaapstad) gedoop, met sy tante Femmetje Visser (1694 – ca 1720) en haar man Christiaan Rasp (1694 – 1729) wat as doopgetuies opgetree het.2-4

Christiaan Rasp was ‘n bakker in Tafelvalleij, ook bekend as De Kaap – die naam Kaapstad het eers teen die laat agtiende eeu posgevat.4,5 Hy was ook diaken in die Kaapse Gereformeerde Kerk (NGK Kaapstad) en lid van die Huweliksraad. Nadat Femmetje op 25-jarige ouderdom oorlede is, het Christiaan met Geertruijd Nauta getrou. Gedurende hul huwelik het hy ook twee buite-egtelike kinders by die slavin, Flora van de Kaap gehad.4 Miskien het Jan Munnik in sy kinderjare en as volwassene heelwat kontak met al sy blanke en gekleurde Rasp-nefies en -niggies gehad?

Meeste van die tweede en derde generasie koloniste (en hul kinders) aan die Kaap kon darem lees en skryf en basiese wiskundige berekeninge behartig, en het geen rede gehad om vir hul werkersklas-eweknieë in Noord-westelike Europa terug te staan nie. Inteendeel, hul lewenskwaliteit was in vele opsigte beter as dié van hul Europese tydgenote, veral die Kapenaars wat nader aan die nedersetting gewoon het – en veral so met die ontluikende elite van besigheidshandelaars – in vergelyking met die ylverpreide trekboere dieper die binneland in, wat baie meer eenvoudig geleef het. Die kultuurlewe aan die Kaap was egter maar vlak. Die Vereenigde Oost-Indische Compagnie [VOC] (Vereenigde Oos-Indiese Kompanjie), wat die Kaap steeds as ‘n verversingspos en nie ‘n volwaardige kolonie beskou het nie, het geen beleggingsbelang in die onderwys (hoërskool) en kultuur (biblioteek en teater) van hul kompanjieburgers gehad nie. In Tafelvalleij is kinders se skoollonderrig hoofsaaklik deur die predikant of enkele onderwysers in die Kasteel behartig, hoewel ouers tuis ook hand kon bysit. Laasgenoemde se verwagtings was egter meesal net basiese geletterdheid vir hul kinders en ‘n kennis van die Heidelbergse Kategismus sodat hulle as lidmate van die Kaapse kerk aangeneem kon word. Tog het Jan Munnik se toekoms blink voor hom gelê in ‘n land met eindelose, dog uitdagende geleenthede.5-8

   2. Sy vrou

Hy het op ongeveer 22-jarige ouderdom op 30 Junie 1737 met Jacoba de Waal (≈24 Oktober 1717 – ?) in die Groote Kerk in die huwelik getree.1,3,8 Die De Waals was ‘n groot, gesiene en vermoeënde Kaapse familie.9 Na ‘n huwelik van ten minste 14 jaar is Jan Munnik oorlede en weduwee Jacoba Munnik het daarna op 39-jarige ouderdom vir ‘n tweede keer op 21 Maart 1756 in die huwelik getree met die vermoënde wewenaar Cornelis de Leeuw (ca 1713 – 14 Julie 1774), wat van Amsterdam, Nederland afkomstig was. Cornelis het in 1753 saam met sy eerste vrou Rensje Vinck en hul drie kinders Cornelis jnr. (≈11 Julie 1742), Johannes “Jan” (≈4 September 1746) en Maria (≈17 Maart 1752) in die Kaap gearriveer. Uit Cornelis en Jacoba se huwelik is drie kinders gebore naamlik Hendrik (≈1 Mei 1757), Maria (≈30 Desember 1759 – 1789) en Jacob(us) (≈28 November 1762 – 31 Maart 1833).1,10,11

Jacoba de Waal was die oudste van 17 kinders. Haar vader, Johannes “Jan” de Waal (1692 – 1768) wat as VOC-soldaat na die Kaap gekom het en in 1716 met haar moeder, Elizabeth van Eck ( 1700 – <1748) in die Kaapse nedersetting getrou het. Hy het ‘n baie welgestelde man geword wat in die alkoholhandel in die Kaap betrokke was en het later in 1760 die plaas Schotcheskloof teen die hange van Seinheuwel gekoop het waar hy met sy eie wynproduksie begin het.9,12 Toe Jacoba se vader oorlede is, het sy vier gedeeltes (vier erwe elk met ‘n huis op) van Schotcheskloof/Schotse Cloof in die Tafelvallei geërf wat op 22 Junie 1768 aan haar tweede man oorgedra is.11 LEES MEER oor die De Waals.

   3. Sy loopbaan

Watter professie Jan Munnik beoefen het om in sy gesin se behoeftes te voorsien is nie heeltemal seker nie en vereis verdere in-diepte navorsing van VOC-argiefmateriaal. Dit lyk egter of sy verbintenis met die ryk De Waals bygedra tot ‘n meer gerieflike leefwyse in ‘n posisie met ‘n aansienlike inkomste. Miskien was dit ook sy Ouma Jannetie Visser (née Hendriks) en haar Hendriks-familie se betrokkenheid by die uiters winsgewende alkoholhandel aan die Kaap wat sy kop ook in daardie rigting laat staan het. Jan Munnik het dan ook in 1741, 1745 en 1746 die bod op die pag vir Rondebosch en Valsbaai (i.e. huidige Simonstad), buite die grense van die Tafelvallei gewen, en het in totaal 2 500 guilders daarvoor opgedok. Hiermee het hy die wetlike alleenreg op die aankoop van verskeie tipes alkohol vanaf die VOC gehad, asook die reg om dit teen sy eie prys aan tavernes en indiwidue in hierdie areas te verkoop. Sy introuery in die vername De Waal-familie, en sy kinders (en kleinkinders) se onderskeie huwelike met lede van die ryk De Nijs-Hurter familie, het ook verseker dat die Munnik-familie ‘n gesiene en vermoeënde entiteit aan die Kaap sou word, met die Munniks as die episentrum van ‘n netwerk van welgestelde families wat deur ondertrouery hul rykdom gekonsolideer het.13-15

Teen die 1730’s het die klein gemeenskappie waar almal mekaar geken het, begin verander in ‘n meer gevestigde en komplekse samelewing. In 1731 was die Kaapstadse populasie reeds 3 157 indiwidue, waarvan 45 % (slawe en prisoniers) onvry was. Die res was VOC-werknemers (959) wat as adminstrateurs en soldate gedien het, 200 vry swartes (vry slawe) en 585 vryburgers (151 mans en 127 vroue, met sowat 300 kinders tussen hulle). Daar was ongeveer ‘n honderd huishoudings. Van die totale hoeveelheid vryburgers in die Kaapkolonie het 38 % in Kaapstad self gewoon. Dit wil voorkom of die Munnik-gesin hul ook in Kaapstad gevestig het. Teen 1737 toe Jan en Jacoba getroud is, was Kaapstad al ‘n goedgevestigde dorp met uitgemete state, effektiewe watervoorsieningsvore, ‘n groot markplein, ‘n toegeruste hawe, netjies huise met sommige meer statig as ander, heelwat losieshuise en ‘n menigte taphuijsen (tavernes). Die dorpie aan die suidpunt van Afrika is nie verniet die ‘Taverne van die seë’ genoem nie! Die VOC se beplande verversingstasie het toe reeds lankal ontplof tot ‘n uitgebreide, volwaardige vestigingskolonie wat namens die VOC bestuur is deur die Council of Policy (Bestuursraad), waarvan die goerwerneur die voorsitter was. Ook het baie van die vryburgers (vrygestelde VOC-werknemers) sedert die 1720’s met ‘n merkbare toename al dieper die binneland ingetrek agter meer vrugbare landbougrond en beter weiding vir hul vee aan, sodat Jan Munnik die totstandkoming van die derde amptelike distrik naamlik Swellendam Distrik in 1743 beleef het.5-7,13,16,17

Jan Munnik het in sy lewe ‘n hele paar Kaapse goewerneurs gesien kom en gaan. Mauritz Pasques de Chavonnes was reeds vanaf 28 Maart 1714 goewerneur toe Jan gebore is. Dié is opgevolg deur Jan de la Fontaine wat vir twee termyne gedien het vanaf 8 September 1724 tot 25 Februarie 1727 en 23 April 1729 tot 31 Augustus 1737 onderskeidelik, met Pieter Gijsbert (van) Noodt as ‘n kortstondige afwisseling tussen-in. Laasgenoemde was uiters ongewild onder die Kasteel se VOC-amptenare en -soldate. De la Fontaine is opgevolg deur Adriaan van Kervel wat na net drie weke in die amp op 19 September 1737 oorlede is. Daarna het gevolg Daniël van den Henghel (19 September 1737 – 14 April 1739), Hendrik Swellengrebel (14 April 1739 – 27 Februarie 1751) en Rijk Tulbagh (27 Februarie 1751 – 11 Augustus 1771). Jan Munnik is tydens die gewilde Tulbagh se goewerneurskap oorlede.6,7,17-20

   4. Sy afsterwe

Die presiese sterfdatum van Johannes Albertus Munnik asook die plek en oorsaak van sy dood is nie bekend nie. Hy is oorlede iewers na November 1751 (doopdatum van sy jongste kind) maar voor Maart 1756 (tweede huweliksdatum van sy weduwee).9,21 Volgens ‘n sensus van Goewerneur Tulbagh in 1754 was daar reeds 500 koloniste – waaronder die Munnik-gesin – en 6 279 slawe in die Kaap de Goede Hoop woonagtig.20

   5. Sy kinders

5.1 Jan Hendrik

Jan, wat na sy oupa Munnik vernoem is, is op 13 April 1738 in die teenwoordigheid van sy oupa en ouma aan moederskant, Jan de Waal en Elizabeth van Eck, gedoop.22 Op 22 Februarie 1761, toe hy 22 jaar oud was, trou het met Johanna Maria Willems Sybers (≈9 November 1738 – ?). Hulle het saam sewe kinders gehad. Hulle was Jacoba Cornelia (≈14 Februarie 1762 – ?), Jan Willem (≈8 Julie 1764 – ?), Jan Hendrik (≈8 September 1765 – 1803), Alida Wilhelmina (≈10 Oktober 1767), Willem Cornelis (≈9 Oktober 1768), Jacobus Albertus (≈28 April 1770) en Catharina Maria (*10 Januarie 1772, ≈19 Januarie 1772, †1 Januarie 1853; eers op 31 Maart 1817 getroud met Willem Jan Klerck (1766, Sadras Patnam, Indië – 1839, Kaapstad).1,3,23,24Na sy eerste vrou se afsterwe hertrou Jan Hendrik Munnik op 10 November 1782 met die weduwee, Maria Carolina Nell (née Priscelius) (1749 – ?). Uit hul huwelik is Johannes Gerhardus (≈10 Augustus 1783 – ?, later getroud met Elizabeth Maria Hurter), Jan Frederi(c)k (≈29 Augustus 1784 – 13 Augustus 1857, Worchester), Maria Christina (≈16 Oktober 1785 – 1859, Arnhem, Nederland), Maria Carolina (≈17 Desember 1786 – 29 Desember 1867, Kaapstad) en Johannes Hendricus (≈25 Mei 1788 – 2 November 1836) gebore.1,3,23

Teen 1774 het vryburger Jan Hendrik Munnik die titel van Adjudant gehad.11 ‘n Adjudant is ‘n militêre offisier wat as administratiewe assistent vir ‘n senior offisier optree. Al wat huidiglik bespiegel kan word is dat hy óf tydelik óf permanent in diens van die VOC se militêre vleuel was of besig was met sy verpligte burgelike diens binne ‘n veldkornetskap vir ‘n spesifieke gebied (hoewel veldkornetskappe meer algemeen was in die grensdistrikte vanaf die agtiende eeu).7 Waarom hy op 21 Desember 1769 ongeveer 5 000 riksdaalders by sy stiefvader geleen het, is nie bekend nie.11

5.2 Jacomina

Jacomina se doopplegtigheid op 15 Mei 1740 is deur haar ouma Jacomina Munnik (née Visser) en stiefoupa Arnold Hendrik Scholtz (ca 1696 – 23 Julie 1744) bygewoon.1,3,25 Dit lyk of Jacomina jonk oorlede is.23

5.3 Gerhardus

Gerhardus is op 27 Julie 1742 gedoop en is later met Elizabeth Lubbe getroud.1,3 Hulle was my groot-groot-groot-groot-groot-grootouers. LEES MEER oor Gerhardus Munnik.

5.4 Arend

Hy is op 22 November 1744 in die Groote Kerk gedoop. Arend is vernoem na sy oom, Arend de Waal (≈15 Oktober 1719 – 23 Maart 1766), wat die Kommisaris van Siviele- en Huweliksake aan die Kaap de Goede Hoop was. Hierdie einste oom van hom het saam met sy eggenote, Maria van Breda (≈1724 – 1766) as doopgetuies opgetree.1,3,9,26 Die jonge Arend is waarskynlik voor 1751 oorlede.

5.5 Elizabeth

Jan en Jacoba Munnik se tweede dogter, Elizabeth is op 23 Junie 1748 gedoop. By die doopplegtigheid het haar oupa, Jan de Waal en stiefouma, Elizabeth Dempers as getuies opgetree. Elizabeth is in haar twintigs iewers tussen Januarie 1768 en Julie 1774 oorlede.1,3,11,275.6 Arend

Arend is op 21 November 1751 gedoop in die teenwoordigheid van die egpaar Hermanus Arnoldus Scholtz (≈20 September 1722 – >1754) en Johanna de Waal (≈19 September 1728 – ?). Johanna was sy tante en sy moeder se jonger suster. Hermanus was sy vader se halfbroer, dus sy oom aan vaderskant.1,3,21Arend is op die ouderdom van 30 jaar op 31 Maart 1782 met die 22-jarige Elizabeth Maria Hurter (1760 – ?) getroud. Sy was die dogter van Johann Wilhelm Hürter/Jan Willem Hurter (22 September 1722, Düsseldorf, Duitsland – 20 April 1783, Kaapstad) en Barbara Honk (1736 – ?).1,3,28-30

Jan Hurter het in 1750 as VOC-soldaat in die Kaap gearriveer, in 1752 as tuinier begin werk en teen 1753 reeds tot hooftuinier (master gardener) gevorder, ‘n posisie wat hy behou het tot en met 1762, toe hy Kaapse burgerskap gekry het en daarmee vryburger-status ontvang het. Vanaf 1763 was hy ‘n lid van die Huweliksraad. In dieselfde jaar het hy tot die alkoholhandel in die Kaap toegetree en vir die volgende twintig jaar in totaal sewe verskillende alkohol handelslisensies bekom. Jan Hurter se huwelik met Barbara Honk het hom die nodige hupstoot in die alkoholbedryf in gegee want Barbara en haar moeder Aletta Honk, voorheen Biesel (née De Nijs) was die enigste erfgename van haar oorlede vader en bierhandelaar, Hans Jurgen Hauk/Honk (? – 1743) se boedel wat ‘n aansienlike hoeveelheid kapitaal ingesluit het. Aletta Honk se formidabele besigheidsin het na haar tweede man se dood na vore gekom toe sy in eie reg tot die alkoholbedryf toegetree het. Vanaf 1744 tot 1762 het sy die bierlisensie vir Rondebosch gehou, waarvoor sy ook haar eie bier geproduseer het. Sy het in totaal 17 pachten gehad waarvoor sy in totaal 14 675 guilders betaal het. Sy het dikwels ook as bijtapper (taverne-assistent wat alkohol namens ander verkoop) opgetree vir pagters wat lisensies vir Rondebosch en Valsbaai gehad het.14,29,30

< BACK

  1. De Villiers, C.C. & Pama, C. 1976 Geslagsregisters van Ou Kaapse Families: Deel 1 (A-M) & Deel 2 (N-Z). Erfenisstigting Biblioteek, Voortrekkermonument, Pretoria
  2. Doopinskrywing van Johannes Albertus Munnik. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-WRD?cc=1478678&wc=M6GW-82S%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49608601 : 16 September 2019), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1713-1741 > image 6 of 109; State Archives, Cape Province
  3. Munnik. Webwerf van Rita Munnik-de Wildt. https://gw.geneanet.org/lenenrita?lang=en&m=N&v=MUNNIK
  4. Christiaan Rasp, SV/PROG. https://www.geni.com/people/Christiaan-Rasp-SV-PROG/6000000007184806443
  5. Giliomee, H. 2003 Die Afrikaners. ‘n Biografie. 1ste Ed. Tafelberg Publishers Limited: Kaapstad
  6. Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  7. Reader’s Digest. 1989 Illustrated history of South Africa. The real story. 2nd Ed. The Reader’s Digest Association South Africa (Pty) Limited : Cape Town
  8. Baten, J & Fourie, J. 2012 Slave numeracy in the Cape Colony and comparative development in the eighteen century. https://econrsa.org/system/files/publications/working_papers/wp270.pdf
  9. De Waal, J.C. 2007 Die nageslag van Johannes (Jan) de Waal, 1692 – 1768). Die De Waal Familie se geskiedenis oor 350 jaar in Suid-Afrika. http://www.dewaals.co.za/pdfs/dewaal.pdf
  10. Rensje Vink, SM/PROG. https://www.geni.com/people/Rensje-Vink-SM-PROG/6000000053387698908
  11. Boedel van Cornelis de Leeuw. National Archives & Repository Service of South Africa, Kaapstad. KAB MOOC 8/15.26, 1774. http://databases.tanap.net/mooc/main_article.cfm?id=MOOC8%2F15%2E26&freesearchkey=de%20leeuw
  12. Roots of the De Waal family in South Africa. De Waal Wines. http://www.dewaal.co.za
  13. Groenewald, G.J. 2009 Kinship, entrepreneurship and social capital: Alcohol pachters and the making of a free-burger society in Cape Town, 1652 – 1795. Doctoral Thesis. University of Cape Town. https://open.uct.ac.za/bitstream/item/8419/thesis_hum_2009_groenewald_g.pdf?sequence=1
  14. Gibson, J. 13 November 2018. SA wine history: On the ‘lazy life’ of the early alcohol retail in the Cape. Online Wine Magazine. https://winemag.co.za/wine/opinion/joanne-gibson-on-the-lazy-life-of-early-alcohol-retail-in-the-cape/
  15. Protea Hotel Cape Town Mowbray. https://www.marriott.com/hotels/travel/cptmw-protea-hotel-cape-town-mowbray/
  16. History of the Cape Colony before 1806. https://en.wikipedia.org/wiki/History_of_the_Cape_Colony_before_1806
  17. Dutch Cape Colony. https://en.wikipedia.org/wiki/Dutch_Cape_Colony
  18. Mauritz Pasques de Chavonnes. https://en.wikipedia.org/wiki/Maurits_Pasques_de_Chavonnes
  19. The Drosdy in Swellendam. https://londontraveller.org/2016/03/24/the-drostdy-in-swellendam/
  20. Ryk Tulbagh. (1699 – 1771). Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/?p=17272
  21. Doopinskrywing van Arend Munnik (2). South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-WNL?cc=1478678&wc=M6GW-DMS%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49611801 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1743-1756 > image 5 of 80; State Archives, Cape Province
  22. Doopinskrywing van Jan Hendrik Munnik. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-7R9?cc=1478678&wc=M6GW-82S%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49608601 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1713-1741 > image 67 of 109; State Archives, Cape Province
  23. Munnik voorouders. https://nl.geneanet.org/fonds/individus/?go=1&nom=MUNNIK&place__0__=Cape+Town&size=50
  24. Faure, A.P. & Klerck, M.vP. 2015 A Klerck Genealogy. https://klerck.weebly.com/uploads/1/5/6/3/15636984/klerck_family_book_1_2015_aug.pdf
  25. Doopinskrywing van Jacomina Munnik. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-4QR?cc=1478678&wc=M6GW-82S%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49608601 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1713-1741 > image 75 of 109; State Archives, Cape Province
  26. Doopinskrywing van Arend Munnik (1). South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-71N?cc=1478678&wc=M6GW-DMS%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49611801 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1743-1756 > image 42 of 80; State Archives, Cape Province
  27. Doopinskrywing van Elizabeth Munnik. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-DZN4-WLK?cc=1478678&wc=M6GW-DMS%3A49605401%2C49605402%2C49605403%2C49611801 : 21 May 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1743-1756 > image 19 of 80; State Archives, Cape Province.
  28. Elizabeth Maria Munnik (gebore Hurter), 1765 – 1837. https://www.myheritage.com/names/elisabeth_munnik?lang=AF
  29. Hoge, J. Personalia of the Germans at the Cape, 1652 – 1806. Archives Year Book for South African History, 1946. Cape Times Ltd.: Kaapstad
  30. Johannes Wilhelm Hürter, SV/PROG. https://www.geni.com/people/Johannes-Wilhelm-H%C3%BCrter-SV-PROG/6000000013502537987

< BACK