Pieter Ernst Kruger I (1726 – 1783)

[ENGLISH VERSION AVAILABLE UPON REQUEST]

< BACK

   1. Sy kinderjare

Pieter Ernst Kruger, my groot-groot-groot-groot-groot-oupagrootjie, was die sewende van agt kinders gebore uit die huwelik van Jacob Kröger/Kruger (1690 – 1749) met Johanna Kemp (1696 – 1778). Hy is gedoop deur Ds Hendrik Be(c)k op 18 Augustus 1726 in Kaapstad in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), ook bekend as die Groote Kerk. Getuies by hierdie geleentheid was Ernst Mostert (*1689) en sy vrou, Sophia Cloete(n) (≈21 Oktober 1689, NGK Stellenbosch).1-5  Dit blyk dat Jacob kontak behou het met Ernst Mostert, sy vorige werkgewer, nadat hy dié se diens in 1719 verlaat het. Dalk was hulle naby-geleë bure waar albei in die Sandveld geboer het, of ‘n hegte vriendskap het reeds tussen die twee jongmanne ontstaan terwyl hulle saamgewerk het. Nietemin, Jacob het (hoogs waarskynlik) sy jongste seun na Peter, sy broer in Prussia, sowel as sy vorige werkgewer, Ernst Mostert, vernoem.

Die NGK Kaapstad waar Pieter Ernst Kruger se ouers lidmate was, was die eerste kerkgemeente aan die Kaap van die Goede Hoop en dus die moederkerk van al die NGK gemeentes in huidige Suid-Afrika. Die Protestants Gereformeerde godsdiens het saam met Jan van Riebeeck aan die Kaap de Goede Hoop gearriveer. Godsdienstige verrigtinge is deur ‘n sieketrooster (godsdiensonderwyser) waargeneem, eers in die Fort de Goede Hoop en later in De Kat van die Kasteel de Goede Hoop. Eers met die aankoms van die eerste permanente predikant in 1665, is die eerste amptelike kerkgebou van hout, met ‘n steengewel en -vloer, gebou op die dieselfde plek as waar die Groote Kerk-gebou vandag staan. Pieter Ernst Kruger is gedoop in die tweede, meer permanente kerkgebou wat later opgerig is. Die bouwerk hiervan het ‘n aanvang geneem in 1678, met die grouwerk van die fondasies wat toe begin is. Die hoeksteen vir die kruisvormige kerk is op 28 Desember 1700 deur Goewerneur Willem Adriaan van der Stel gelê en die nuwe kerkgebou is uiteindelik in 1704 ingewy. Twintig jaar later is die kerkgebou vergroot, deurdat die mure uitgeskuif is, met die gevolg dat die gebou ‘n reghoekige vorm aangeneem het. Hierdie gebou is 137 jaar later in 1841 vervang met die huidige Groote Kerk-gebou, met slegs die oorspronklike kerktoring wat behoue gebly het.3,6-8

Pieter het saam met sy broers en susters opgegroei in die Sandveld waar sy ouers geboer het. Sy sibbe was Jacob jnr., Frans, Cecilia, Johannes, Elizabeth, Hendrik en Catharina, wat jong oorlede is.2

    2. Sy vrou

Die 20-jarige Pieter Kruger tree op 27 Desember 1746 in die NGK Tulbagh in die huwelik met Zacharya/Zacharia Putter.1,2 Die NG Kerk, ook bekend as De Oude Kerk, is gebou in 1743 en het die amptelike stigting van die dorpie verteenwoordig, wat na die Kaapse goewerneur Ryk Tulbagh (dienstydperk: 1751 – 1771) vernoem is. Tulbagh is geleë in ‘n valleistreek wat oorspronklik bekend was as Roodezand (wat ‘rooi sand’ beteken), maar is later in 1699 herdoop na ‘t Land van Waveren (Het Land van Waveren) deur Willem Adriaan van der Stel, wat goewerneur was aan die Kaap de Goede Hoop vanaf 1699 tot 1707. Voordat Hollandse en Hugenote settelaars hulself in die streek kom vestig het vanaf die laat 17de eeu, was daar reeds ‘n handels- en verversingpos wat deur binnelandse jagters, onder andere Zacharya Putter se oupa, bedryf is. Daar was blykbaar met dierevelle, wildsvleis en olifanttande in hierdie omgewing handel gedryf.9-11Zacharya se ouers, Anna van der Swaan (≈20 Junie 1706, Land van Waveren – 24 Mei 1778) en Johannes Lodewyk “Jan” Putter (ca 1696, Kaapstad – 4 Maart 1765), het vanaf 1736 tot 1757 geboer op Moddervallei oor die Oliphantsrivier (Olifantsrivier) (naby die huidige Citrusdal), maar het later na die Tulbagh omgewing uitgewyk waar hulle albei ook oorlede is. Jan Lodewyk Putter was die enigste seun van Zacharia Jansz Visser (≈23 Augustus 1665 – ?) en Dietrich Pötter/Diederik Putter (ca 1654, Zierenberg, Hessel-Kassel – 13 Mei 1699, Kaapstad), die stamouers van die Putter-familie in Suid-Afrika. Diederik Putter word in 1658 vermeld in die Vereenigde Oost-Indische Compagnie [VOC] (Vereenigde Oos-Indiese Kompanjie) dokumente as die ontdekker van die Tulbagh en Breederivier valleie. Hy was ‘n jagter en het in 1678, saam met Hans Melchior Hoffman en Willem Loots, ‘n kontrak gesluit met die Kompanjie om maandeliks 2 500 pond (1 134 kg) wildsvleis aan die Kaapse verversingspos te verskaf. Diederik Putter was ook ‘n veeboer. Teen 1692 het hy 1200 skape en 66 beeste besit. Op 13 Mei 1699, tydens een van sy jagtogte in die Bokkeveld (naby huidige Ceres), word die 45-jarige Diederik deur ‘n gekweste olifantkoei doodgetrap.1,2,12  Jan Lodewyk Putter was ongeveer drie jaar oud toe sy vader oorlede is, en Zacharya het dus nooit haar biologiese oupa geken nie.

Zacharya was die oudste van Jan Lodewyk en Anna Putter se sewe kinders. Na Zacharya het Anna Catharina (≈7 November 1728, Kaapstad), Maria (1730 – 1773), wat later getrou het met Frans Kruger, ouer broer van Pieter Ernst Kruger, Diederich Johannes (≈15 Maart 1733), Gerrit (*1735, Paarl), Arnoldus (≈30 Julie 1741) en Johanna Alida (≈26 November 1747) gevolg.1,2,12

Zacharya is gedoop op 23 September 1725, Stellenbosch en het 11 jaar na haar man gesterf op die ouderdom van ongeveer 69 jaar in ca 1794 op die plaas De Zoute Kloof in die Klein-Roggeveld. Haar boedel is gedateer 26 Oktober 1794. Sy het geen testament gehad nie, en haar kinders het dus in gelyke dele geërf. Elkeen (of as een van hulle reeds oorlede was, hul kinders) het 2 779 riksdaalers uit die boedel ontvang.1,2,12

    3. Sy beroep

Pieter Ernst het, soos sy vader, geboer. In dieselfde jaar as sy huwelik, ontvang Pieter die leenplaas Vogelfontein wat geleë was tussen die Doorn Rivier (Doringrivier) en die voetheuwels van die Sederberge in die Tankwa Karoo. Sy besittings, soos opgeskryf in die 1752 Sensus, was een perd en 20 beeste (geen skape). Later bekom hy ook die leningsplaas De Plaat in die Klein Roggeveld. Hierdie landstreek lê ongeveer 260 km oos van Kaapstad en vorm deel van die Groot-Karoo. In 1762 word De Plaat aan sy broer Hendrik oorgedra, na dié se terugkeer van binnelandse ekspedisies. Teen daardie tyd het Pieter ook reeds die leenplaas Orangefontein in die Klein-Roggeveld besit, wat in 1751 aan hom verleen is. Op hierdie plaas – wat later onder die inwoners in die die omliggende omgewing bekend gestaan het as “Kriegers”, met verwysing na die eienaars – is wingerde aangeplant. Wyn is verbou en verkoop. Sy weduwee-moeder het op hierdie plaas by hulle kom inwoon tot met haar afsterwe in 1778. Pieter Ernst Kruger het ‘n vermoeënde man geword en teen 1772 is sy besittings genotuleer in die sensusopgawe as 12 perde, 120 beeste, 2000 skape, drie slawe en een slavin. Teen 1780, bekom hy ook De Zoute Kloof (nou naby Laingsburg Stasie) waar sy vrou, Zacharya in 1794 oorlede is.2,13-17

Teen die begin van die 18de eeu, het honderde ‘Trekboer’-gesinne die binneland begin intrek opsoek na beter weiding vir hul vee. Menige het ook na ‘n groter onafhanklikheid van die VOC en hul knypende leenplaasregulasies gesoek.18-20 Hierdie uittog uit die Kaap de Goede Hoop die binneland in, het ongeveer 80 jaar lank geduur. Pieter Ernst Kruger en sy broers het onder hierdie trekboere getel. Mens kan jou skaars indink hoe hierdie trekkende boere per perd of per voet met pakdonkies, of per ossewa die onbekende ingetrek het. Daar was geen paaie, geen padkaarte of ‘n Global Positioning System (GPS), geen oornag-huisvesting met elektrisiteit en warm badwater, geen spyskaart vir wegneem-etes langs die pad of ‘n Woolworths om die hoek vir vinnige inkopies nie.Die ruwe, bergagtige terrein, tesame met onvoldoende gereedskap, beperkte werksmateriaal en min handarbeiders, het die bou van paaie ‘n groot uitdaging gemaak. ‘n Ander probleem wat hierdie trekboere ondervind het waar hulle hulself gevestig het, was die gereelde diefstal van hul vee deur San (Boesman)-groepe of ontsnapte slawe- en uitgeweke Khoikhoibendes. Dikwels het veewagters, meesal slawe of Khoikhoi (Hottentot)-werkers, met hul lewe geboet in hierdie aggressiewe skermutselinge.18-20 Sekerlik moes Pieter Ernst Kruger ook hieraan blootgestel gewees het, aangesien hierdie bendes baie aktief was in die Klein-Roggeveld.

NOTA: Teen 2015 is die ontwikkeling van die Soetwater Wind Energie Fasiliteit (WEF) op gedeeltes van Orangefontein goedgekeur. Verdere WEF ontwikkeling (die Maralla WEF) op De Plaat en ander omliggende plase is teen 2016 voorgestel.21,22

  4. Sy afsterwe

Pieter Ernst Kruger sterf op die ouderdom van ongeveer 57 jaar in Februarie 1783 in die Klein-Roggeveld op óf Orangefontein óf De Zoute Kloof.1,2 Gedurende sy leeftyd was Goewerneurs Hendrik Swellengrebel, Ryk Tulbagh en Joachim van Plettenberg – dienstydperke van 1739 tot 1751, 1751 tot 1771 en 1771 tot 1785 respektiewelik – aan die stuur van sake oor die uitgebreide VOC nedersetting aan die suidpunt van Afrika.18-20, 23-25

Die posisies van grafte van voorouers wat in die 17de en 18de eeu geleef het, en veral dié wat op afgeleë plase gewoon het, is baie selde bekend. Die oorskot van ‘n oorledene is meesal diep in die grond begrawe en dan bedek met ‘n stapel klippe om te verhoed dat wilde diere die lyk kon uitgrawe.26

   5. Sy kinders

Pieter en Zacharya Kruger het sewe kinders gehad.

5.1 Johanna Catharina

Sy is vier maande na haar ouers getroud is, gebore op 23 April 17471 en eers twee jaar later gedoop op 2 Maart 1749 in die NGK Kaapstad. Haar ouma en oupa aan vaderskant, Jacob(us) (De Oude) Kruger en Johanna Kemp was die doopgetuies. Haar oupa sterf later in Oktober dieselfde jaar. Johanna trou op 8 April 1770 met die ouderdom van 23 jaar met die 25-jarige Hendrik van Aswegen (≈23 Mei 1745), seun van Johannes van Aswegen en Cornelia Viljoen. Die egpaar het in die Nieuweveld (nou Nuweveld) in die Groot-Karoo naby die Nieuweveldberge (nou Nuweveldberge) gewoon. Dis onbekend wanneer Johanna oorlede is, maar Hendrik tree vir ‘n tweede keer in die huwelik met Martha Maria Griesel op 16 Oktober 1795.1,2,12

5.2 Anna Jacoba

Anna is gebore op 10 September 17521 en gedoop op 2 Oktober 1753 te NGK Stellenbosch.1,2,12 Met hierdie geleentheid was haar ouma en oupa aan moederskant, Johannes Lodewyk Putter en Anna van der Swaan, die doopgetuies. Sy tree as 24-jarige jongedogter (jong meisie) in die huwelik op 5 Mei 1776 met Johannes Hercules Viljoen in die NGK Paarl. Hy was die seun van Henning Viljoen en Susanna Durand en is gedoop op 29 April 1753.1

5.3 Jacob Johannes

Die derde kind en oudste seun, Jacob is gebore op 21 Desember 17551 en gedoop te NGK Tulbagh op 14 Maart 1756. Getuies by die doopseremonie was sy oom en tante, Diederick Putter en Anna Catharina Putter, sy moeder se broer en suster. Op 14 Februarie 1779, trou hy met Anna Dorothea Griesel (≈15 Julie 1764 – >1834), dogter van Anna Maria Jacoba Pelzer en Johannes David Griesel van Kopenhagen, Denemarke. Jacob Johannes sterf voor 1821.1,2,12

Jacob en Anna het nege kinders gehad, naamlik Pieter Ernst (≈16 Julie 1780), David Johannes (≈20 Februarie 1782 – ca 1820), Anna Jacoba (≈21 Desember 1783), Jacob Johannes (≈20 November 1785), Zacharia Petronella (≈18 Maart 1788), Johannes Diederik (11 April 1790 – 1833), Johanna Elisabeth (≈29 September 1793), Abraham Jacobus (≈2 Augustus 1795 – 14 Julie 1838) en Martha Maria (≈3 September 1797).1,2,12

Jacob Johannes Kruger het in die Bokkeveld geboer1 maar later uitgewyk na die Klein-Roggeveld. Hy het sy ouers se plaas (De) Zoute Kloof vir 10 025 guldens gekoop maar dit verkoop in 1801 aan sy jonger broer, Johannes Kruger. In dieselfde jaar, koop hy Orangefontein uit sy ouers se boedel vir 866 riksdaalers, maar verkoop die plaas weer in 1805. In 1810, het hy sy testament opgestel op De Drie Keulen agter De Hex Rivier (nou Hexrivier).2

Jacob was ‘n man van edele inbors, met ‘n sterk karakter, gekenmerk deur kragdadige optrede, en welbekend in die omliggende boeregemeenskap. Hy het sy opinies vreesloos, dog diplomaties uitgespreek, selfs teenoor die landdros van die distrik.2 In die Bokkeveld het hy as veldkornet gedien.1 “Die veldkornet was ’n amptenaar in die plaaslike bestuur en ondergeskik aan die landdros, en het funksies van betekenis in verband met militêre, administratiewe, regterlike en polisie-aangeleenthede uitgeoefen. In sy wyk het die veldkornet die landdros verteenwoordig. In vredestyd was die veldkornet hoof van die milisie en belas met die orde in ’n wyk.”26  Terwyl hy in die Klein-Roggeveld gewoon het, het hy vanaf 1790 tot 1807 eers as veldwagmeester, daarna as burgerkornet en laastens as veldkommandant gedien. Hy het kommando’s gelei, skielike, weldadige of verdagte sterftes ondersoek, geskille bemiddel, briewe namens ongeletterdes geskryf en die bou van paaie georganiseer. Jacob het direk aan die Landdros van Stellenbosch, Ryno J. van der Riet, gerapporteer.2

Met ‘n klein kommando, het hy ook die eerste sendelinge van die London Missionary Society (LMS) aan die Kaap, Ds Johann Jacob Kicherer, ‘n Hollander en Ds William Edwards, ‘n Engelsman, tesame met ‘n plaaslike sendeling, Cornelius Cramer, in 1799 begelei na Blij Vooruitzicht naby die Zakrivier in die Groot-Karoo. Die LMS het daar met sendingwerk onder die Boesmans (spesifiek die !Xam-stam) begin, onder andere met die hoop dat hul kerstening ‘n oplossing sou wees vir die aanhoudende konflik met die wit koloniste.2,27,28

5.4 Pieter Ernst jnr. (II)

Hy is gebore op 9 Oktober 17571 en gedoop op 19 Desember 1758 in die NGK Tulbagh. Hy trou later met Anna Catharina van Aswegen.1,2,12 Pieter en Anna Kruger was my grootouers ses generasies verwyder. LEES MEER oor Pieter Ernst Kruger II.

5.5 Johannes Lodewyk

Johannes is gebore op 20 Januarie 1760.1 Sy grootoom Frans Kruger en sy eggenote, Maria Putter, het as doopgetuies opgetree by die doopseremonie wat plaasgevind het op 15 Maart 1761 te NGK Tulbagh. Hy het op 4 November 1785 in die huwelik getree in die NGK Paarl met Frederika Elizabeth Griesel (≈6 Augustus 1769). Sy was die suster van Anna Dorothea Griesel wat getroud was met haar man se ouer broer, Jacob Johannes Kruger.1,2,12 Op 21 Oktober 1801, koop hy (De) Zoute Kloof van sy broer, Jacob Johannes Kruger, met sy broers Pieter Ernst en Diederik Arnoldus was borg gestaan het. Teen 1805 was daar reeds 8 000 wingerdstokke op hierdie plaas aangeplant. Johannes het as provisie wagtmeester, sy broer, Jacob Kruger bygestaan wat die Klein-Roggeveld verteenwoordiger van die landdros van Stellenbosch Distrik was. Teen 1821 verkry Johannes Kruger burgerskap in die Distrik van Graaff-Reinet.2 Hy is op die ouderdom van 77 jaar op 3 Desember 1837 oorlede.1,2,12

Johannes en Frederika het saam sewe dogters en een drie seuns gehad. Hulle was Zacharia Petronella (*27 Januarie 1788, ≈31 Augustus 1788), David Jacobus (*10 Februarie 1793, ≈10 Julie 1793), Anna Maria (*30 Maart 1794, ≈7 September 1794), Elizabeth Margaretha (*19 April 1796, ≈31 Julie 1796), Johanna Catharina (*7 Maart 1798, ≈9 September 1798), Pieter Ernst (*22 November 1799, ≈25 Maart 1800), Susanna Magdalena (*4 October 1801, ≈19 September 1802), Johannes Lodewyk (*6 Augustus 1804, ≈23 September 1804), Jacoba Jacomina (*18 September 1807, ≈28 Maart 1808) en Frederika Elizabeth (27 Julie 1810, ≈26 September 1810).1,2,12

5.6 Zacharya Petronella

Zacharya is gebore op 31 Julie 17631 en gedoop te NGK Tulbagh op 24 Desember 1763.1,2,12 Die doopgetuies by die geleentheid was haar grootoom (haar oupa Jacob Kruger se broer), Johannes Kruger en sy vrou, Pieternella Smit.1 Meer inligting oor Zacharya se lewe kon op hierdie stadium nog nie gevind word nie.

5.7 Diederik Arnoldus

Hy is gebore op 12 Maart 17661, gedoop op 13 September 1767 te NGK Tulbagh en oorlede voor 9 Maart 1834. Op 9 November 1785 is hy getroud in die NGK Paarl met Engela Francina Griesel (≈17 Mei 1772), suster van sy skoonsusters, Anna Dorothea Griesel en Federika Elisabeth Griesel wat met sy twee ouer broers, Jacob Johannes en Johannes Lodewyk, getroud was.1,2,12 Binne die Kruger en Griesel gesinne was daar dus drie huwelike tussen Kruger broers en Griesel susters.

Teen 1805 het hy gewoon op (De) Zoute Kloof en in 1810 op Sneeuwberg. Hier is sy besittings genotuleer in die 1812 census as sewe trekosse, 820 skape en 300 bokke. Sy testament dateer 6 Augustus 1825 te Matjiesfontein en is saamgestel op die plaas van Gabriel Nicolaas van den Berg.2

Diederik en Engela het 11 kinders gehad wat in die NGK Paarl of NGK Tulbagh gedoop is. Die jongste twee kinders is in die NGK Graaff-Reinet gedoop. Hulle was Pieter Ernst (*14 September 1786, ≈8 Desember 1787 – 1860), Johan David (≈31 Augustus 1788 – 1 September 1861), Zacharia Jacomina (*19 Februarie 1792, ≈6 Maart 1762 – 1858), Anna Maria Jacoba (*28 Julie 1792, ≈26 September 1793), Diederk Frederik (*27 Augustus 1794, ≈17 Mei 1795), Engela Catharina (*1 September 1796, ≈3 September 1797), Johanna Elizabeth (*9 Maart 1800, ≈23 Augustus 1800), Jacob Johannes (*31 Augustus 1803, ≈22 April 1804 – 11 Desember 1843), Martha Maria (*20 Julie 1806, ≈11 September 1806), Jacoba Jacomina (*3 Oktober 1809, ≈26 Desember 1809) en Margaretha Petronella (*28 Augustus 1812, ≈27 Desember 1812).1,2,12

    < BACK

  1. Kruger, B. 2007 Die Kruger-familie van Suider-Afrika. 1ste Ed. CD-publikasie. Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Noord-Transvaal takbiblioteek.
  2. Mossop, E.E. 1947 Lives of the earlier Krugers. Told in a revised genealogical table. SA Archives Year Book. Cape Times Ltd., Cape Town
  3. NG gemeente Kaapstad. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Kaapstad
  4. Sophia Cloete. First fifty years  – a project collating Cape of Good Hope records (by Delia Robertson). http://www.e-family.co.za/ffy/g7/p7005.htm
  5. Huwelik van Ernst Mostert en Sophia Cloete. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970 ,” database with images, FamilySearch. https://familysearch.org/pal:/MM9.3.1/TH-266-12344-97553-91?cc=1478678
  6. Groote Kerk. http://grootekerk.org.za/geloofsgemeenskap/geskiedenis/
  7. Groote Kerk, Cape Town. https://en.wikipedia.org/wiki/Groote_Kerk,_Cape_Town
  8. Cape Town, Groote Kerk Dutch Reformed Church. SUNDigital collections. University of Stellenbosch, South Africa. https://digital.lib.sun.ac.za/handle/10019.2/4258
  9. Tulbagh. https://en.wikipedia.org/wiki/Tulbagh
  10. The Tulbagh Valley. https://www.tulbagh.net/the_tulbagh_valley.htm
  11. Land van Waveren. https://af.wikipedia.org/wiki/Land_van_Waveren
  12. De Villiers, C.C. & Pama, C. 1976 Geslagsregisters van Ou Kaapse Families: Deel 1 (A-M) & Deel 2 (N-Z). Erfenisstigting Biblioteek, Voortrekkermonument, Pretoria.
  13. Welcome to Ceres. http://www.ceres.org.za/main/
  14. Bokkeveld. http://www.nature-reserve.co.za/place/Bokkeveld.html
  15. Breede Rivier Vallei. https://www.westerncape.gov.za/general-publication/places-slave-rememberance-western-cape?toc_page=7#br7
  16. Roggeveld Mountains. https://en.wikipedia.org/wiki/Roggeveld_Mountains
  17. Roggeveldberge, Sutherland, Laingsburg, Vogelfontein, Orangefontein, De Plaat, Zoute Kloof. https://www.google.co.za/maps/place/
  18. Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  19. Binckes, R. 2013. The Great Trek uncut. 1ste Ed. 30º South Publishers: Pinetown.
  20. History of the Cape Colony before 1806. https://en.wikipedia.org/wiki/History_of_the_Cape_Colony_before_1806
  21. Almond, J.E. October 2015. Authorised Soetwater Wind Farm near Sutherland, Northern Cape Province. Paleaontological heritage assessment. Natura Viva : Cape Town. http://www.sahra.org.za/sahris/sites/default/files/heritagereports
  22. Almond, J.E. January 2017. Proposed 400 kV powerline connection for Maralla West & Maralla East Wind Energy Facilities near Sutherland, Sutherland Magisterial District, Northern Cape. Paleaontological heritage basic assessment. Natura Viva : Cape Town. http://www.sahra.org.za/sahris/sites/default/files/heritagereports
  23. Hendrik Swellengrebel. https://en.wikipedia.org/wiki/Hendrik_Swellengrebel
  24. Ryk Tulbagh. https://en.wikipedia.org/wiki/Ryk_Tulbagh
  25. Joachim van Plettenberg. https://en.wikipedia.org/wiki/Joachim_van_Plettenberg
  26. Liebenberg, H. Grepe uit die geskiedenis van die Kaap de Goede Hoop aan die hand van die VOC Resolusies van die Politieke Raad (1651 – 1795). https://www.taaloord.co.za/Grepe uit die geskiedenis van die Kaap die Goeie Hoop.pdf
  27. Dedering, T. 1989 Southern Namibia c.1780 – c.1840: Khoikhoi, missionaries and the advancing frontier. Thesis. University of Cape Town.
  28. Dietrich, K. 2007 Fourteen stations of the cross. Book 1. 1st Ed. The Strange Press: Stellenbosch. http://www.keithdietrich.co.za/Fourteen_Stations_of_the_Cross_Book_One.pdf

< BACK