Pieter Ernst Kruger II (1757 – 1810)

< BACK

   1. Sy kinderjare

Pieter Ernst Kruger jnr. (II), my groot-groot-groot-groot-oupagrootjie, was die vierde kind en tweede oudste seun van Pieter Ernst Kruger Snr. (1726 – 1783) en Zacharya Putter (1725 – 1794), en die kleinseun van die stamvader, Jacob Kröger/Kruger.1-4 Hy het hoofsaaklik in die Klein-Roggeveld as boerseun grootgeword saam met sy broers en susters. Hulle was Johanna Catharina (1747 – ?), Anna Jacoba (1752 – ?), Jacob Johannes (1755 – <1821), Johannes Lodeswyk (1760 – 1837), Zacharya Petronella (1763 – ?) en Diederik Arnoldus (1766 – ca 1834).1,2,4

Hy is gebore op 9 Oktober 17571 terwyl sy ouers nog op Vogelvallei in die Tankwa Karoo aan die oostelike voetheuwels van die Sederberge geboer het. Hy is later op die ouderdom van 14 maande op 19 Desember 1758 in die NGK Tulbagh gedoop. Getuies by sy doop was Gerrit Putter en Sophia van Wyk.1,2,4

    2. Sy vrou

Pieter tree op 23-jarige leeftyd in die huwelik op 5 November 1780 te NGK Tulbagh. Sy 15-jarige bruid, Anna Catharina van Aswegen (≈31 Maart 1765, NGK Kaapstad), was die dogter van Cornelia Viljoen (≈13 Oktober 1743) en Johannes van Aswegen (11 Maart 1736, NGK Stellenbosch – ca 22 Dec 1788, Plaas Weltevreden, Onder-Nuweveld Distrik).1-4 Johannes het op 52 jaar as ‘n baie wel-af man gesterf.5 Sy 46-jarige weduwee het weer getrou op 25 Oktober 1789 met Josua Joubert.6

Die Van Aswegens se Europese voorsate kan teruggeneem word tot in die laat 14de eeu, na die dorpie Edewecht waar hulle vir meer as 300 jaar woonagtig was in die outonome Graafdom van Oldenburg binne die Heilige Romeinse Ryk (nou in Ammerland Distrik, geleë in die provinsie Laer-Sakse, in die noord-weste van Duitsland). Hulle was waarskynlik van die adelstand na aanleiding van die ‘von’ in hul van. Die stamvader van die Van Aswegens van Suid-Afrika, Heinrich/Hinderich/Hendrik von Eischwede/von Aschwege/van Aswegen, is op 11 Januarie 1689 in die einste Edewecht gedoop. Tussen 1667 en 1773 moes die inwoners van Edewecht sowel as die res van die Graafdom egter die knie buig onder die heerskapy van die Deense Ryk (nou Denemarke). Hendrik van Aswegen arriveer in die Kaap de Goede Hoop in 1727 as Vereenigde Oost-Indische Compagnie [VOC] (Vereenigde Oos-Indiese Kompanjie) soldaat, en tree op 4 Desember 1735 in die huwelik met Anna Catharina Mulder (≈5 Nov 1719), dogter van Johan Jurgen Moller/Mulder (1680 – 1722) en Elsje Putter (*1688, Kaapstad).7-11

Johannes van Aswegen, Hendrik en Anna van Aswegen se eersgeborene, het Pieter Ernst Kruger II se skoonvader geword toe dié met sy dogter, Anna Catharina van Aswegen getroud is. Anna, Pieter se bruid, was die oudste van tien kinders. Haar broers en susters was Susanna Elizabeth (≈12 Oktober 1766 – ca 1805), Johannes Hercules (≈3 April 1768, NGK Paarl), Hendrik Willem (≈25 Maart 1770), Henning (≈15 Maart 1772, Paarl, Breederivier Distrik), Diederik Albertus (≈3 Oktober 1773), Jonathan Jacob (≈8 April 1776, Graaff-Reinet Distrik – 1813), Hendrik Jacobus (≈19 April 1778), Cornelia Margaretha (≈21 Oktober 1781) en Johannes Gerhardus (≈10 April 1784).4,7,8,12

    3. Sy beroep

Pieter Ernst jnr. het, soos sy vader en sy oupa, geboer en het ‘n leidende rol in die plaaslike bestuur aan die noordelike grens van die uitgebreide Kaapkolonie gespeel. Hy het ‘n vooraanstaande lid van die gemeenskap geword.

Reeds op die ouderdom van 22 jaar in 1779, vergesel hy ‘n kommando teen die problematiese Boesmans in die Roggeveld onder leiding van Carel Kruger, sy neef. Voor 1785 besit hy die leenplase Ratelfontein en Blindefontein in die Roggeveld en Matjiesvlei in die Nuweveld. Teen 1785, op die ouderdom van 28 jaar verhuis hy met sy gesin vanaf Blindefontein na die wyk Sneeuwberg (nou Sneeuberg) in die noorde van Graaff-Reinet Distrik. Die dorp, Graaff-Reinet, is in 1786 gestig deur die eerste landdros in die distrik, Mauritz Woeke. Teen 1787 ontvang Pieter die leningsplaas Kleinfontein, wat later blyk verkeerdelik aan hom toegeken is, aangesien die plaas toe reeds aan Jan Viljoen toegeken was. Waar die Kruger-familie hulle presies bevind het in die Graaff-Reinet Distrik tussen 1786 en 1788, is onbekend, maar teen 1789 woon hulle op die plaas van Zacharius Bloemarius, wat ‘n kaptein van ‘n militêre eenheid in Graaff-Reinet was. In dieselfde jaar word Pieter aangestel as veldwagmeester van Sneeuwberg.2,3 In een verslag beskryf hy die ekspedisie na die Agter-Sneeuwberg2 waarvan die doel was om ‘n plunderende Boesman-bende vas te trek en gesteelde vee te verhaal:Die leefstyl van die Boesmans (San), waar vir vleis gejag, en plante en vrugte in die natuur versamel is, het uiteindelik tot onvermydelike konflik met die trekkende pastorale boere gelei. In hul soeke na beter weivelde, is die San van hul beste jagvelde ontneem. In ‘n poging om te oorleef, het die San begin om jag te maak op die boere se vee. Die trekkers se aggressiewe teenreaksie het tot verdere plundery deur Boesmanstropers gelei. Hierdie bose kringloop van progressiewe konflik tussen die eerste wit settelaars en die San in die omliggende omgewing het vir bykans 30 jaar geduur, waarin menige troppe vee geroof is, vele veewagters (slawe of Khoikhoi-werkers) gedood is, plase of landerye afgebrand is, Boesmankrale vernietig is en meer as 3 000 San afgemaai is. San-vroue en kinders is gevange geneem; die vroue is vir die burgers se Khoikhoi werkers gegee en die kinders is ingeboek om op plase as hande-arbeiders te werk, dikwels onder haglike en moordende omstandighede.13-15 In sy onderskeie posisies as kommandokadet, veldwagmeester en veldkommondant, het Pieter Ernst Kruger jnr. ‘n definitiewe en prominente rol gespeel in hierdie voortslepende konflik tussen die San en die koloniste.

In 1791 woon hy op Bokfontein, en vanaf 1795 tot 1801 op Hoogmoetsfontein, met beide leenplase geleë naby die Zeekoe Rivier (Seekoeirivier) en die voetheuwels van die Sneeuberge in die Bo-Karoo, in die huidige omgewing van die klein dorpie, Hanover, in die Noord-Kaap Provinsie, ongeveer 120 km noord van die dorp Graaff-Reinet. In 1794 word Pieter bevorder tot veldkommandant. Sy spesifieke taak was om teen die Boesmans van die Bamboesberg op te tree, maar dit is bemoeilik deur die onwilligheid en traagheid van veldwagmeesters en burgers om hulle by die kommando aan te sluit. Pieter het later ook gepoog om op ‘n meer vreedsame wyse met die Boesmans te onderhandel. Hieroor rapporteer hy in een van sy verslae aan die landdros Honoratus Christiaan David Maynier, wat vanaf 1793 tot 1795 die landros vir Graaff-Reinet Distrik was. Hierdie benadering was reeds in gebruik aan die noordwestelike grens, onder andere in die Midde-Roggeveld, en het minder konflik tot gevolg gehad.2,3,14 Die benadeelde Boesmans in die noorde van Graaff-Reinet Distrik was egter minder inskiklik.15 Die noordelike grens, met sy aktiewe Boesmanrowerbendes, was net so ‘n uitdagende omgewing om in te woon soos die Oosgrens, waar die konflik tussen die Xhosas en koloniste sowat 100 jaar geduur het. Die afstand van 600 km tussen die Graaff-Reinet Distrik en die Kaap het ook die afsetgebied vir die boere se produkte, soos graan en vleis, beperk.14,15 In teenstelling met die burgers van die die Kaapse Distrik waar ‘n gees van pret en plesier, oorvloedige melk en heuning, flambojante lewenswyses, nuuste modes en imposante herehuise toegerus met topgehalte meublement, spoggerige bybehore en eksotiese versierings, die bo-toon gevoer het, het die burgers in die veraf-geleë buitewyke ‘n eenvoudige, meesal hand-tot-tand bestaan gevoer.14,18 Slegs enkele burgers het vermoeënd daar uitgesien, waaronder Pieter Ernst Kruger II.2,3Teen 1794, het die ontevredenheid en bitterheid van die Graaff-Reinet burgers teenoor die VOC se halfhartige pogings tot plaaslike administrasie, boerdery hulp en beskerming teen Boesman- en Xhosa-aanvalle begin opbou, wat uiteindelik in vroeg 1795 tot uitbarsting gekom in ‘n burgerrebellie. Op 29 Januarie 1795 het burgers in die suid-oostelike wyke onder leiding van Adriaan van Jaarsveld begin eis om eerder direk onder beheer van Nederlandse regering te staan as die VOC. Op 6 Februarie kook die burgers se ongeduld oor en word die landroskantoor (drostdy) deur gewapende burgers bestorm en beheer oorgeneem. Die ontsette Maynier vertrek daarna na die Kaap om hul eis bekend te maak. Die kortstondige Colonie van Graaff-Reinet (27 Augustus 1795 – Augustus 1796) is toe geproklameer met Van Jaarsveld en sy krygsraad aan die stuur van sake. Die bestaan van hierdie ‘onafhanklike’ kolonie is egter kortgeknip deur Brittanje se anneksasie van die Kaap de Goede Hoop op 7 Augustus 1795, met die latere aflegging van die Eed van Getrouheid deur die Graaff-Reinet burgers in Augustus 1796.2,3,14,15,19 Daar moet in ag geneem word dat die burgers se ontevredenheid en frustrasies in ‘n groot mate te wyte was aan onrealistiese verwagtinge van die VOC. Die uitsluitlike oogmerk van die VOC was om ‘n verversingstasie te bedryf en nie ‘n uitgebreide kolonie te vestig nie, en tweedens, die VOC was aan die agteruitgaan reeds vanaf die 1720s as gevolg van sosio-ekonomiese – en magsveranderinge in Europa, asook weens swak finansiële bestuur binne die VOC, sodat die VOC uiteindelik in 1799 ontbind is en dus na ‘n bestaan van 197 jaar tot ‘n einde gekom het.14,15,20

Hoewel Pieter Kruger nie by die ontsetting van Maynier betrokke was nie, het hy wel op 22 Februarie 1796 aktief deelgeneem aan die betoog teen landdros Frans Reinard Bresler, wat aangestel is deur Majoor-Generaal James Henry Craig, die Britse bevelvoerder in beheer van die geannekseerde Kaapse kolonie. Dieselfde jaar, tydens ‘n vergadering gehou op 22 Augustus, lê Pieter egter die Eed van Getrouheid aan die Britse Kroon af. As verteenwoordiger van die koloniste in die Graaf-Reinet Distrik, word hy en veldkommandant Christiaan Rudolph Opperman na Kaapstad afgevaardig om die getekende dokumente aan Craig te oorhandig. Twee jaar later word Pieter se aanstelling as Heemraad van Graaff-Reinet goedgekeur deur Lord George Macartney, Goeweneur van die Brits-beheerde Kaapkolonie vanaf 5 Mei 1797 tot November 1798. Pieter Ernst Kruger II word op 2 April 1798 amptelik as Heemraadslid van die College of Heemraden van Graaff-Reinet ingehuldig.2,3,21-23 Die landdros van ‘n distrik is deur vier heemrade bygestaan. ‘n Heemraad se vernaamste taak was om leiding te gee in sy gemeenskap, te waak oor die geestelike en materiële welsyn van die burgers, as skakel te dien tussen die publiek en die sentrale regering, die besluite van die regering in Kaapstad aan die inwoners van sy wyk bekend maak en om toe te sien dat daar geen onreg teenoor die gekleurdes en slawe gepleeg word nie. Die toekenning van plase, invordering van huur, die bou van paaie en tolhuise, en die aanhoor van klein siviele sake was ook deel van ‘n heemraad se verantwoordelikhede.24 LEES MEER oor die rol van ‘n Heemraad.

Bo-en-behalwe die openlike konflik met inheemse stamme, is die Groot-Karoo – insluitend die Sneeuwberg wyk in die Graaff-Reinet Distrik waar die Krugers geboer het – in die laat 1790s geteister deur groot swerms sprinkane wat alles voor die voet opgevreet het. Drie jaar se mislukte oeste is opgevolg met ‘n intense droogte in 1800, asook die uitbraak van virale droes onder die perde (strangles or equine distemper) wat grootskaalse vrektes veroorsaak het. Veekuddes en ploeg-osse se getalle is ook uitgedun weens sterftes as gevolg van verhongering. Menige desperate burgers het noord getrek uit die Graaff-Reinet gebied op soek na kos vir hul vee en ‘n beter, veiliger heenkome vir hulself; selfs die wild het uit die omgewing weggetrek.25

Die lewe van ‘n grensboer was inderdaad sonder genade en net die dapperes kon uithou en aanhou. Die omwentelinge aan die Kaap weens die groot Europese moondhede se stryd om beheer aan die Kaap het ook ‘n impak op die burgers in die buite-distrikte gehad. In 1796 het Brittanje die Kaap geannekseer en beheer by die VOC oorgeneem. Hierdie eerste oorname is uigevoer op versoek van die ontsette Prins Willem V van Oranje, nadat Franse rewolusionêre magte Nederland (toe bekend as Republiek van Sewe Vereenigde Nederlande) tussen 1794 en 1795 binnegeval het. Teen 1803 is dit aan die Bataviese Republiek (‘n rewolusionêre Nederland as satellietstaat van Frankryk) teruggegee na aanleiding van die vredesverdrag tussen Brittanje en Frankryk. Brittanje annekseer egter die Kaap vir ‘n tweede keer in 1806, op aanbeveling van die Britse parlement. Die Kaapkolonie sou daarna vir bykans 100 jaar onder Britse heerskappy staan, voordat onafhanklikheid van Brittanje uiteindelik in 1910 verkry is.14,15,23

  4. Sy afsterwe

Pieter Ernst Kruger II het ‘n vermoeënde skaapboer geword. Sy opgaafrol van 1800 toon een leenplaas, een slaaf, vier slavinne, 78 perde, 590 beeste en 4 336 skape. Hieruit blyk dit dat Pieter se plaas die ergste plae en droogtes gespaar gebly het, in teenstelling met menige ander boere in die Graaf-Reinet omgeweing. In ‘n gesamentlike testament met sy vrou – opgestel op 1 Oktober 1798 te Graaff-Reinet – bemaak hy ‘n splinternuwe ossewa aan elkeen van sy drie seuns, Pieter Ernst III, Johannes en Barend Jacobus. (Izak Johannes was nog nie gebore nie).2

Hy sterf in Graaff-Reinet Distrik in ca 1810 – sy testament is op 18 December 1810 by die Weesheer ingedien.1-4  Sy weduwee hertrou op 13 Junie 1812 met Theodorus Cornelis Johannes Senekal (≈15 Februarie 1778).12

   5. Sy kinders

Pieter Kruger en Anna van Aswegen het gesamentlik sewe kinders gehad.

5.1 Pieter Ernst III

Hy is gebore op 20 Februarie 17821 en doop op 14 April 1782 in die NGK Kaapstad. Sy oupa en ouma, Pieter Ernst Kruger en Zacharya Putter asook Abraham de Klerk en Helena de Klerk het die doopplegtigheid bygewoon en opgetree as getuies.1,2,4

Op 7 November 1802 het die 20-jarige Pieter in die NGK Kaapstad in die huwelik getree met Anna Magdalena Smit. Pieter se jongste broer was toe net drie jaar oud.1,2,4 Teen 1804 was hy steeds in die Sneeuwberg onder die veldkornetskap van Schalk Willem Burger. Teen 1819 woon hy egter op die leenplaas, Bauershoek in die wyk Buffelshoek in Graaff-Reinet Distrik. Hier tree hy ook later op as veldkornet.Uit hulle huwelik is vier kinders gebore, naamlik Pieter Ernst Kruger (≈28 Oktober 1804 – 1859), Elsje Aletta Andriëtta (13 Desember 1808 – 24 April 1852), Anna Magdalena Elizabeth (27 April 1818 – ?) en Nicolaas Johannes (18 September 1827 – ?). Pieter Ernst Kruger III is oorlede in 1841 op 59-jarige ouderdom.1,2,4

5.2 Cornelia Susanna

Sy kom die wêreld binne op 21 Desember 1783.1 Sy word 15 maande later gedoop op 13 Februarie 1785 in die NGK Kaapstad. Die doopgetuies was Andries Otto en Susanna Elizabeth van Aswegen.1,2,4 Sy is vermoedelik jonk oorlede.

5.3 Johannes “Jan”

Jan is op 10 Oktober 1786 gebore,1 gedoop in die NGK Paarl op 8 Maart 1788, met doopgetuies Henning van Aswegen en Anna Lubbe teenwoordig, en oorlede in ca 1838. Uit sy huwelik met Geertruyda/Gertruida Maria Bot(h)ma op 29 Januarie 1809 in die NGK Graaff-Reinet is tien kinders gebore. Hulle was Anna Maria Catharina (*8 Julie 1810, ≈10 Februarie 1810, NGK Graaff-Reinet), Maartje Cornelia Jacomina (*25 Mei 1813, ≈4 Oktober 1813 te NGK Graaff-Reinet, †14 November 1875), Helena Louisa/Levina (*12 Julie 1816, ≈6 Junie 1817, NGK Graaff-Reinet), Cornelia Jacoba Susanna (*5 Junie 1819, ≈15 Oktober 1829, NGK Cradock), Pieter Ernst (*21 Maart 1821, ≈28 April 1822, NGK Cradock, †19 Januarie 1867), Johannes Arnoldus (*10 Februarie 1823, ≈14 April 1824, NGK Cradock), Gertruida Maria (*10 Augustus 1825, ≈26 Februarie 1826, NGK Somerset-Oos), Jacob Carel (*30 Maart 1828, ≈19 Oktober 1828, NGK Somerset-Oos), Cornelius Christoffel (*6 Februarie 1833, ≈26 Desember 1834, NGK Uitenhage) en Zacharia Johanna (*25 April 1835, ≈11 Oktober 1835, NGK Somerset-Oos).1,2,4

5.4 Cornelia Jacoba Susanna

Cornelia is gebore op 3 Julie 1791.1 Vier maande later op 13 November 1791 is sy gedoop in die NGK Paarl, waar Josias Joubert, Cornelia Viljoen, Jonathan Jacob van Aswegen en Cornelia Magrietha van Aswegen as doopgetuies opgetree het.26

Op 16-jarige ouderdom op 10 Julie 1807 trou Cornelia in die NGK Swellendam met die 21-jarige Daniel Jacobus Erasmus (≈15 November 1786), seun van Daniël Jacobus Erasmus en Cecilia Geertruyda du Plessis. Die egpaar trek later vanaf Swellendam na Tulbagh, na George, na Natal en uiteindelik Pretoria in die Zuid-Afrikaansche Republiek [ZAR] (Suid-Afrikaanse Republiek), ‘n onafhanklike boerestaat.1,2,4

5.5 Martha Wilhelmina Zacharya

Martha aanskou die lewenslig op 20 Oktober 1793.1 Sy is gedoop in die NGK Graaff-Reinet op 23 Maart 1793. Doopgetuies was Willem Frans van Heerden en sy vrou, Maartje van Heerden. In September 1812 te Swellendam tree sy in die huwelik met haar swaer,  Stephanus Petrus Erasmus, broer van haar suster Cornelia se man, Daniel Erasmus. Stephanus is gedoop op 20 April 1788, word later ‘n Voortrekkerkommandant, en dien veel later as volksraadlid van Natal. Hy sterf uiteindelik in 1860 in die ZAR te Lydenburg.1,2,4

5.6 Barend Jacobus

Barend is gebore op 21 Januarie 17961 en twee jaar later gedoop in die NGK Graaff-Reinet.1,2,4 Hy was my groot-groot-groot-oupagrootjie. LEES MEER oor Barend Kruger.

5.7 Izak/Isaak Johannes

Hy is op 3 Julie 1805 gebore.1 Sewentien dae later, op 21 Julie 1805, word hy gedoop te NGK Paarl. Die doopgetuies by die geleentheid was Izak Stephanus de Villiers, Cornelia Magrietha van Aswegen en Johannes van der Westhuizen.1,2,4 Op 1 July 1820, verlaat hy die Engelse staatsskool van F.J.P. Touchon, staatsskoolmeester te Uitenhage Distrik as “Isaac Krieger”.2 Meer inliging oor Izak se lewe kon nie gevind word nie.

    < BACK

  1. Kruger, B. 2007 Die Kruger-familie van Suider-Afrika. 1ste Ed. CD-publikasie. Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Noord-Transvaal takbiblioteek.
  2. Mossop, E.E. 1947 Lives of the earlier Krugers. Told in a revised genealogical table. SA Archives Year Book. Cape Times Ltd., Cape Town
  3. Heese, J.A. 1981 Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Deel IV. 1ste Ed. Beyers, C.J. Eds. Butterworth & Kie (SA) (EDMS) Bpk: Durban & Pretoria.
  4. De Villiers, C.C. & Pama, C. 1976 Geslagsregisters van Ou Kaapse Families: Deel 1 (A-M) & Deel 2 (N-Z). Erfenisstigting Biblioteek, Voortrekkermonument, Pretoria.
  5. Hendrik van Aswegen, SV/PROG. https://www.geni.com/people/Hendrik-van-Aswegen-SV-PROG/6000000000495062385
  6. Van Aswegen Heinrich. https://www.stamouers.com/stamouers/surnames-v-z/509-van-aswegen-heinrich
  7. Edewecht. https://de.wikipedia.org/wiki/Edewecht
  8. County of Oldenburg. https://en.wikipedia.org/wiki/County_of_Oldenburg
  9. Europe in 1740. http://www.lib.berkeley.edu/EART/maps/eur-1740.jpg
  10. Johannes van Aswegen. Blignaut Family Genealogy. https://www.blignaut.co.za/getperson.php
  11. History of Graaff-Reinet. https://www.karoo-southafrica.com/camdeboo/graaff-reinet/history-of-graaff-reinet/
  12. Binckes, R. 2013. The Great Trek uncut. 1ste Ed. 30º South Publishers: Pinetown.
  13. Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  14. History of the Drostday Hotel. https://www.graaffreinet.co.za/listing/history_of_the_drostdy_hotel
  15. Drostday Graaff-Reinet. https://en.wikipedia.org/wiki/File:Drostdy_Graaff-Reinet.jpg
  16. Wat is ‘n hartbeeshuis nou eintlik? 20 April 2015. https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/die-begrip-hartbeeshuisie/
  17. Graaff-Reinet. https://af.wikipedia.org/wiki/Graaff-Reinet
  18. Dutch East India Company. https://en.wikipedia.org/wiki/Dutch_East_India_Company
  19. George Macartney, 1st Earl Macartney. https://en.wikipedia.org/wiki/George_Macartney,_1st_Earl_Macartney
  20. James Henry Craig. https://en.wikipedia.org/wiki/James_Henry_Craig
  21. Cape Colony. https://en.wikipedia.org/wiki/Cape_Colony
  22. Heemraad. https://af.wikipedia.org/wiki/Heemraad
  23. Willis, R. January 2012. Locusts, drought and devastation in the Graaf-Reinet District. http://aridareas.co.za/roses-s-roundup/locusts-drought-and-devastation-in-the-graaff-reinet-district/
  24. Doopinskrywing can Conelia Jacoba Susanna Kruger. Parish registers for the Dutch Reformed Church at Paarl, Cape Province. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSV8-HSH8-Z?i=8&cat=993681

< BACK