Piet Kruger (1904 – 1983)

< BACK

   1. Sy kinderjare

Piet Kruger is gebore op 27 Desember 1904 in Volksrust omgewing in Britse Transvaal1-3 en waarskynlik op die plaas Roodedraai (ZAR nr. 264; Transvaal nr. 64), wat die familieplaas van die Van der Merwes was.4-6 Hoewel sy vader, David Frederick Kruger (1876 – 1951) op die plaas Honingvallei (Heuningvallei) werksaam was tydens sy huwelik met Martha Maria “Mart” van der Merwe (1874 – 1956), het hulle daarna op ‘n gedeelte van Roodedraai gaan woon, wat David later in 1921 geërf het (aangeteken as Roodedraai gedeelte G).1,6-9 Piet was hul enigste seun en het vier susters gehad waarvan drie jonk oorlede is. Hierdie drie was Maria Catharina (1903 – 1904), Anna Elizabeth (1909 – 1918) en Martha Maria (1913 – 1914). Susanna Christina “Sannie” (1916 – ?) was sy enigste oorlewende suster.1,10

Die drie-maande oue Piet is op 26 Maart 1905 te Wakkerstroom (voorheen Martinus-Wesselstroom) deur ds. Daniel Petrus Ackerman (1849 – 1916)  gedoop. Sy weduwee-ouma aan vaderskant, Anna Elizabeth Kruger (née Eksteen) (1857 – 1940) en sy 20-jarige tante, Elizabeth Francina Kruger (1885 – ?) was daar om as doopgetuies op te tree. Die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK)-gemeente van Martinus-Wesselstroom het reeds in 1860 tot stand gekom. Vir die volgende veertien jaar is die gemeente bedien deur ds. Dirk van der Hoff (1814 – 1881) en ds. Nicolaas Jacobus van Warmelo (1835 – 1892) wat as konsulente opgetree het. Eers op 16 November 1874 is ds. Ackerman as die eerste permanente leraar van die gemeente bevestig. Vanaf 1885 tot 1904 het die gemeente bekend gestaan as Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk (NHofGK) Martinus-Wesselstroom, daarna as NHofGK Wakkerstroom en vanaf 1957 as Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) Wakkerstroom.5,26,61,62NOTA: Weens die afgeleefdheid van die dokument, kan slegs twee van die vier doopgetuies volledig geïdentifiseer word.

Piet het as jong seun skoolgegaan by die plaasskooltjie wat op Roodedraai gedeelte B geleë was.11 Roodedraaiskool het onder die jurisdiksie van die Wakkerstroom Skoolraad van die Transvaalse Onderwysdepartement geval.12 Die oorspronklike skoolgebou staan nog stewig en huisves tans die Roodedraai Museum.13 Die skoolmeester se huis en die eenvoudige skooltjie is gebou uit wit sandsteenklip van die omliggende berge en rante, asook ingevoerde greinhout wat vir die deure, kosyne, vloere, lysteplafonne en vensterrame gebruik is. Sandsteen-rotsblokke is met beitels losgekap en met ‘n slee wat deur osse getrek is, na die bouterrein gesleep. Op die werf is elke steen met ‘n hamer en ‘n beitel tot die verlangde grootte afgewerk, waarna elke steen met groot omsigtigheid en puik vakmanskap gelê en ingemessel is. Die geboue is in 1908 voltooi. Die skooltjie moes ongelukkig in 1939 sy deure na 31 jaar sluit weens kwynende getalle.14Die eerste skoolmeester (onderwyser) op Roodedraai was die Engelse “Mister” Blackburn wat die Boere-kinders Engelse rympies en liedjies geleer het.11,14 Dit was in uitvoering van die verengelsingsbeleid van Brittanje in die verowerde Boere Republieke van Transvaal en Oranje-Vrystaat kort na die afloop van die Tweede Anglo-Boere Oorlog, waartydens skole gebou en voorsien is van Engelse onderwysers.15,16 Blykbaar was mnr. Blackburn maar ‘n moeilike man en ‘n uiters streng leermeester.11 As straf vir ongehoorsaamheid of stoutigheid moes die seuns om ‘n pan water wat sowat 6 hektaar (60 000 m2 / 0.06 km2) beslaan het, hardloop. Die pan was 100 m suid van die geboue geleë en na ‘n goeie reënseisoen ongeveer 2 meter diep. Onderwysers en skoolkinders het toegang tot hierdie swemkuil gehad, soos beskryf is in die kaart en transport van die aangrensende plaasgedeelte: “Het recht van water ….. voor het genot van diens ambtenaren, geemployeerden, onderwyzers en schoolkinderen.” In hierdie kuil het leerlinge geoefen vir die swemgala’s teen die dorpskool op Volksrust.  Bo-en-behalwe die lees, skryf en tel wat onder die knie gekry moes word, is die seuns ook as kadette afgerig. Die meisies het basiese verpleegkundige opleiding ontvang.11,14Volgens oorlewering was Piet ietwat van ‘n plaatjie en het meer as een bloutjie met mnr. Blackburn geloop. Een staaltjie uit Piet se skooljare lui dat hy per geleentheid die ander seuns in die klas aangehits het om mnr. Blackburn by te dam. Mnr. Blackburn het toe reeds die klaskamer verlaat en die kinders aangesê om rustig met hul werk voort te gaan. Piet, die voorbok, sou die teken gee as die tyd reg was. Toe mnr. Blackburn uiteindelik die klaskamerdeur oopstoot en die kamer binnetree, skiet Piet vorentoe terwyl hy skree: “Pak hom, manne!” en takel vir Meneer, net om oomblikke daarna te ontdek dat hy die enigste een was wat die nodige bravade aan die dag gelê het om tot heldhaftige aksie oor te gaan. Nodeloos om te sê dat Piet se beloning ses-van-die-bestes was.11

Een van Piet se klasmaats was Agnes Alwena “Wena” Naudé (31 Desember 1905 – 6 September 1978) van Vlakplaats (Vlakplaas), wat aangrensend geleë was aan Roodedraai se suidelike grens.4,5,17 Sy het later ‘n bekroonde Afrikaanse teater- en filmaktrise geword.11,17 In ongeveer 1925 het sy by Paul de Groot se toneelgeselskap aangesluit en so haar roemryke loopbaan in die teaterwêreld begin. Dikwels is daar ook van dorp tot dorp gereis met die toneelstukke. Sedert 1947, het sy ook in meer as dertig Suid-Afrikaanse rolprente gespeel en was aktief aan die toneel speel tot twee jaar voor haar afsterwe op die ouderdom van 73 jaar. In 1954 het sy die erepenning vir toeneelkuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.17Hoe ver Piet met sy skoolopleiding gevorder het, is onseker, maar dis bekend dat hy matriek nie klaargemaak het nie. As enigste seun moes hy reeds vanaf ‘n jong ouderdom sy pa help met die boerdery op hul plaas. Hy sou die res van sy lewe boer in murg en been bly.18

2. Sy vrou

Piet Kruger is op 29 Desember 1931, twee dae na sy 27ste verjaarsdag, getroud met sy 19-jarige agterkleinniggie, Hester Gezina Coetzer.1-3 Piet en Hester se moeders was Van der Merwe-kleinniggies.8 Hester se gesinslede het haar Ottie genoem, ‘n bynaam wat afgelei was van “ot”, ‘n minder vleiende naam vir ‘n vark. Die naam “Ottie” het bly vassteek nadat Hester en haar sibbe eendag op hul grootwordplaas aan die speel was, en Hester van kop-tot-tone in ‘n plas modder beland het. Natuurlik het sy vir haar ma soos ‘n oulike speenvarkie gelyk wat in die modder rondgerol het en is toe liefderyk herdoop na …. Ottie.18 ‘n Ander variasie oor die oorsprong van haar bynaam is dat haar maats haar eendag in ‘n streepsak in die otterdam gegooi het, en vandaar die naam “Ottie”.19Hester was die tweede dogter van Wentzel Christoffel Coetzer (1886 – 1956) en Anna Catharina van der Merwe (1892 – 1976), wat neef en niggie van mekaar was.20,21 Beide Wentzel en Anna was ook die kleinneef en -niggie van Hester se skoonmoeder, Martha Maria Kruger (neé van der Merwe) (1874 – 1956).8 Hester het ‘n ouer suster, Magrietha Cornelia (1910 – 1991) en ‘n jonger broer en suster, Hendrik Gerhardus (1915 – 1965) en Anna Catharina (1918 – 1954), gehad.20-23 LEES MEER oor die Coetzers.Hester is gebore op 25 Maart 1912 op die plaas Schuilklip naby Newcastle in distrik Utrecht, Natal, Unie van Suid-Afrika. Op 6 Oktober 1978 op die ouderdom van 66 jaar sterf sy aan ‘n hartaanval te Amersfoort, Transvaal waar sy en haar man, Piet by hulle dogter woonagtig was.2,3,18,24Haar kleinkinders onthou haar as ‘n vrou wat altyd besig was, want “ledigheid is die duiwel se oorkussing”, het sy geglo. As sy nie in die kombuis doenig was met bak en brou nie, dan was sy voor die naaimasjien besig om klere te maak of te herstel. Sy het ook klere vir ander gemaak as ekstra inkomste. Familie en vriende is altyd gasvry ontvang en gul onthaal. Hester sou haar gaste gedurig aanpor om nog ‘n stukkie koek of ‘n skeppie kos vir hulself te kry, asof sy wou seker maak dat daar onder haar dak nie honger gelei word nie.18,19 BLAAI GERUS deur Hester se gunstelingresepte.NOTA: Op haar geboortesertifikaat en grafsteen word haar name as Hester Gezina aangegee, maar syself het dit as Hester Gesina in haar Bybel aangeteken, soos wat haar Ouma Hester Gesina van der Merwe (Coetzer) na wie sy vernoem is, se naam gespel was.

   3. Sy loopbaan

Piet het die plaas van sy vader oorgeneem en het met wolskape, melkbeeste, varke, mielies en groente geboer. Die groente is gereeld aangery na die dorpsmark, terwyl die kanne melk daagliks deur die melkwa opgelaai is. Vir meer as 20 jaar het Piet op Roodedraai, gedeelte G – later onder die familie meer bekend as Rooidraai – geboer. ‘n Langdurige droogte in die laat 1960’s tot vroeë 1970’s, het selfs die fonteine en ondergrondse water op die plaas laat opdroog en Piet is later met ‘n swaar hart gedwing om Rooidraai te verkoop. In die lente van 1971 trek hy en Hester na Amersfoort om by sy dogter te gaan inwoon. Daar word vertel dat op die dag wat Piet en Hester Rooidraai verlaat het, ‘n harde bui reën uitgesak het, sodat die voertuie, swaargelaai met die trek, gly-gly oor die nat, modderige grondpad teen die bult uitgetrek het. Die droogte was uiteindelik gebreek ….. die ironie daarvan! Gelukkig het sy dogter en haar gesin op ‘n groot burger-erf in Amersfoort gewoon en daar kon hy ‘n groot groentetuin aanlê en bewerk, wat sy verlange na Rooidraai se grond so ‘n bietjie kon stil. Nadat Rooidraai verkoop is, het dit van vele hande verwissel. Huidiglik behoort die stuk grond aan die staat 11,18 en word tans verhuur aan Timoty Dhludhlu wat ‘n kudde vleisbeeste daar aanhou.13Hoewel die Krugers nie vermoënde boere was nie, het hulle tog gerieflik geleef en hul kinders goed versorg. Hester was ‘n voorslag wat betref brood- en beskuitbak, vrugte en groente inlê en konfyt kook, vleis bewerk en wors stop, asook klere en gordyne maak. Die mielies, turksvye en groente uit die tuin, en vrugte uit die boord het verder in hul behoeftes voorsien. Skaap-, vark- en beesvleis was beskikbaar uit hul eie kuddes en die velle is gelooi en opgesny in osrieme of bankriempies wat verkoop is of vir ander doeleindes op die plaas gebruik is. Die hoenders was ook ‘n bron van vleis, asook eiers. Daarby was Piet ook ‘n kranige hengelaar wat gereeld groot geelvisse uit die naby-geleë Kliprivier getrek het. Eers in die vroeë 1950’s het Piet sy eerste motor aangeskaf – ‘n tweedehandse 1950 Chevy Fleetmaster.18Die klipplaashuis, skure, melkstal, krale en ander buitegeboue soos die koelkamer is eiehandig deur Piet gebou.18 Vandag is daar slegs murasies oor.13 Volgens oorlewering het Piet verskeie klipgeboue op ander plase in die omgewing gebou, as ‘n addisionele bron van inkomste.11,18 Dit was gelukkige tye op die plaas. Familie en vriende het gereeld op Rooidraai kom kuier en elke Kersfees het die familie saamgetrek vir ‘n fees der feeste. ‘n Geloftefees vir die omliggende gemeenskap is ook jaarliks op 16 Desember langs die Kliprivier op Roodedraai gehou en mense het van wyd en syd gekom vir ‘n heerlike vleisbraai en boeresport. Hier het Piet Kruger altyd sy deel gedoen as vleisbraaier van formaat.18Sy kleinkinders onthou hom as ‘n stil, inkennige man met ‘n voorliefde vir tabaksnuif, Wilson’s XXX Extra Strong Mints en Wilson’s Toff-o-Lux toffies. Laasgenoemde het hy met sy knipmes in klein stukkies opgekerf het en dan een stukkie na die ander langsaam gesit en kou. Oupa Piet was baie heilig op sy toffies en as een van sy kleinkinders vir een gevra het, het hy hom/haar eers lank, ondersoekend, effens-verwytend aangekyk voordat hy uiteindelik met sigbare leedwyse van ‘n toffie afskeid geneem het en ….. uiteindelik – met skaars-bedekte onwilligheid – oorhandig het.19

Iewers in sy sestiger jare het Piet al sy tande laat trek omdat dié hom begin probleme gee het, en hy het ook nooit valstande gedra nie want hy het ‘n kanniedood aan hierdie ‘winkeltande’ gehad. Vleis, biltong en toffies het hy dus fyn opgesny voor dit geëet is. “Ek eet in die dag, en herkou in die nag”, het Piet met homself gespot oor sy gebrek aan tande en stadige, ongemaklike geëetery.18,19Piet Kruger het reeds vroeg in sy lewe met die harde kant van die lewe te doen gekry, wat ‘n groot impak op hom as mens gehad het, en hoogs waarskynlik tot sy teruggetrokkenheid bygedra het. As 9-jarige ouboet het hy die dood van sy een sustertjie beleef, en vier jaar later toe hy 13 jaar oud was, ook dié van sy tienjarige sussie.1,10 Sy moeder se psigologiese agteruitgang daarna, wat deur toenemende emosionele uitbarstings, geestes-onstabiliteit en  aggressiewe handelinge teenoor mense gekenmerk is, moes hy as jongman in sy twintigs aanskou en beleef.18 Sy is uiteindelik in die vroeë 1930’s permanent in ‘n psigiatriese hospitaal in Queenstown in die Oos-Kaap opgeneem.25 Bykans dertig jaar later het sy skoondogter eendag vir Piet op die stoep sien sit, diep versonke in sy eie gedagtes. Toe sy naderstap en hom vra waarom hy so hartseer lyk, was sy antwoord: “Vandag mis ek my dierbare moeder so, en ek kan nie eens haar graf besoek nie want ek weet nie waar dit is nie.”18

4. Sy afsterwe

Piet Kruger het by sy dogter bly inwoon na sy vrou se dood in 1978. Toe sy skoonseun in 1979 ‘n pos op Nelspruit kry en sy dogter en haar familie na Witrivier verhuis, het Piet saam getrek. Daar was hy egter nie baie gelukkig nie – hy was eensaam want hy het niemand daar geken nie, die omgewing was vir hom vreemd en die hittige Laeveld het hom laat terugverlang na die koeler Hoëveld waaraan hy sy hele lewe gewoond was. Ongeveer ‘n jaar later trek Piet terug na Volksrust waar hy het in die plaaslike ouetehuis (huis vir bejaardes) gaan woon het. Hier is hy skielik op Maandag, 17 Oktober 1983 aan korinêre trombose oorlede. Sy begrafnisdiens is op 19 Oktober 1983 deur ds. T. Mare van die NGK Amersfoort gelei en is daarna langs sy vrou in die Amersfoort begraafplaas te ruste gelê.3,18,26   5. Sy kinders

Drie kinders is uit Piet en Hester Kruger se huwelik gebore, met ‘n gaping van sewe jaar tussen elke kind. Al drie is in Volksrust Hospitaal gebore. Piet en Hester het hul kinders streng grootgemaak. Ma se woord was wet en daar is net eenkeer gepraat voordat die plathand ingelê is. Hoewel Pa minder gereeld getugtig het, het hy ‘n kwaai humeur gehad en wanneer hy dit die dag nodig geag het, moes die seuns buk vir ‘n loesing met die sweep. Aan sy dogter het hy egter nooit geslaan nie.1,18

5.1 David Frederick

David Frederick is op Kersdag, 25 Desember 1933 in Charlestown, Natal gebore.1,2 Hy het sy matriek voltooi aan die Hoërskool Volksrust, waarna hy as Klerk vir Volkskas Bank (nou ABSA) se tak in Volksrust begin werk het. Hy het later ‘n beter pos gekry by Volkskas in Berea, Johannesburg. Hy Het gedurende sy loopbaan gevorder tot Bankbestuurder, eers in Glencoe en later Dundee, in Natal, maar ten tye van sy dood op die ouderdom van 41 jaar, 3 maande en 29 dae was hy Rekenmeester by Volkskas se Vanderbijlpark-tak, Transvaal (nou Gauteng). David was dus sy hele lewe betrokke in die bankwese tot met sy dood, toe sy lewe op 23 April 1975 kortgeknip is deur ‘n hartaanval terwyl hy tuis was te Jack Hindonstraat 9, Vanderbijlpark. Hy is op 25 April te ruste gelê vanuit die NGK Historia in Vanderbijlpark.18,27,28David was ‘n lang, skraal man met ‘n goeie sin vir humor en ‘n klein hartjie. Daar word vertel dat hy as bankbestuurder dikwels testamente en boedels hanteer het. Insolvente boedels waar hy aan ‘n weduwee moes meedeel dat daar niks oor was nie, het hom erg emosioneel gestem sodat hy homself dikwels moes verskoon en om die hoek buite sy kantoor verdwyn het om eers sy eie emosies onder beheer te kry voordat hy kon voortgaan.18 Sy voorliefde om vriende en familielede met sy 16 mm filmkamera af te neem – soms tot hul argwaan – het ‘n uitsonderlike versameling van familiefilms tot gevolg gehad wat vir die nageslag bewaar gebly het. David was ook baie musikaal aangelê. Hy het homself leer kitaar en mondfluitjie speel en het ‘n baie mooi sangstem gehad. LUISTER HIER na die sang en musiekspel van David Kruger.

David het sy vrou, Magdalena Petronella “Lena” Swart (gebore op 2 Maart 1932) in die bank op Volksrust ontmoet, waar hulle ook vanuit die NGK Volksrust op 9 Februarie 1957 getroud is.18,27 Die onthaal is gehou in die skuur op Rooidraai.18 Lena was die dogter van Pn Swart en Susanna Maria “San” Bezuidenhout.18,27 Lena het ook haar lewe lank in die bankwese gewerk tot met haar aftrede. Op 81-jarige ouderdom op 11 Desember 2013 sterf sy in Pretoria, na ‘n lang siekbed weens ‘n ernstige beroerte ‘n paar maande tevore.18,29David en Lena het net een seun gehad. Piet Eugene George “Gene” is op 22 November 1957 gebore te Johannesburg en is op 13 April 1958 in die NGK Johannesburg-Oos gedoop. Getuies van sy doop was Pieter Hendrik Henning en Christoffel D.J. Bester.29-31 In Gene se matriekjaar is sy 41-jarige vader skielik oorlede en vir hom was dit ‘n geweldige slag, want hy was baie geheg aan sy pa. Die daaropvolgende jaar – in 1976 – het Gene met sy verpligte nasionale diensplig van twee jaar begin.18 Sonder die medewete van enige van sy naaste famililede het hy as lid van die Spesiale Taakmag (Recce’s) van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) aan die Suid-Afrikaanse Grensoorlog (1966 – 1990) deelgeneem.19,32,33 Die Recce’s het hoofsaaklik in Angola gefunksioneer. Tussen 1975 en 1988 het die SAW intensiewe operasies en klopjagte in Angola uitgevoer om die operasionele aanvalsbassise van die People’s Liberation Army of Namibia (PLAN), die militêre vleuel van die South West African People’s Organisation (SWAPO), te elimineer.15,16,32,33 Eers jare later het Gene sy predikantneef, Pieter Kruger is sy vertroue geneem en hom van sy traumatiese oorlogsbelewenisse in die Recce’s vertel.19 Dat hierdie ontboeseming plaasgevind het, is eers na Gene se dood deur my predikantbroer aan my bekend gemaak. Uit respek vir sy ontslape neef verkies Pieter om die volle inhoud van Gene se emosionele ontboeseming konfidensieel te hou.Net nadat Gene sy diensplig voltooi het, is hy en sy skoolliefde, Marlene Grové getroud. Hulle het saam een seun, genaamd Ettienne, gehad. Gene en Marlene is egter later geskei. Gene het sy tweede vrou, Elsabe Marais ontmoet terwyl albei pasiënte in ‘n depressiekliniek was. Saam het hulle twee dogters gehad maar hierdie huwelik het ook in die skeihof geëindig.18 Gene se derde huwelik het plaasgevind op 27 April 2007 met Mariska Thiart (*26 November 1973, Cradock) in die bekende kerkie op Van Reenen, Vrystaat.29,30 Hierdie kerkie is die kleinste kerk in die Suidelike Halfrond en akkommodeer slegs agt mense.34,35 Gene en Mariska het saam geen kinders gehad nie, maar het wel ‘n vertrek vol kanaries in ‘n verskeidenheid hokkies aangehou, wat hulle hul ‘kinders’ genoem het.29 In dieselfde jaar as sy derde huwelik op die ouderdom van 50 jaar, het Gene sy eerste hartaanval gehad en met verloop van tyd het sy gesondheid so agteruitgegaan dat hy later medies ongeskik verklaar is om voltyds te werk. Sy jarelange werkgewer het hom geakkommodeer en hy kon as konsultant by sy werk aanbly. Hy is toegelaat om van die huis af te werk, en moes net sekere dae ingaan na die kantoor. Dit was vroegoggend op 22 Junie 2017 wat Gene besig was om hom gereed te maak om ‘n vergadering te gaan bywoon, toe hy weens ‘n massiewe hartaanval die lewe gelaat het op die ouderdom van 59 jaar en 7 maande.18,29

5.2 Wentsel Christoffel

Hy is gebore op 20 September 1940 op Volksrust.1,2 Wentsel Christoffel Kruger, “Chris” of “Christo” soos hy genoem is, was my vader. LEES MEER oor Chris Kruger.

5.3 Anna Catharina

Anna Catharina “Tienie” is gebore op Volksrust op 18 April 1947.1,2 Sy het op Volksrust skool gegaan en Standard 8 (Graad 10) voltooi aan Hoërskool Volksrust, waarna sy gaan werk het. Haar hele skoolloopbaan het sy in die skoolkoshuis gebly, en slegs naweke en skoolvakansies huistoe gegaan. ‘n Daaglikse heen-en-weer rit van 80 km tussen die plaas en die dorp was net nie finansieël lewensvatbaar vir haar ouers nie.18

In Maart 1964, het Tienie as tikster begin werk by die Stadsraad van Amersfoort, ‘n plattelandse dorpie 45 km noord van Volksrust. Hier het sy vir Faris Salim “Farry” Saad (*21 Januarie 1944, Amersfoort) ontmoet en op die ouderdom van 22 jaar met die 25-jarige Farry in die huwelik getree. Die huwelik is op 29 Maart 1969 voltrek in die Saad familiehuis te Breestraat 125, Amersfoort. Die Kruger-familie was lidmate van die Protestantse Nederduits-Gereformeerde Kerk (NGK), terwyl die Saad-familie Rooms-Katoliek was. Vyf jaar later in Maart 1974 het Tienie by die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP), nou die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), aangesluit en in die speurafdeling by die Amersfoort Polisiestasie begin werk. In 1979 is sy na die speurafdeling van die Witrivier Polisiestasie oorgeplaas waar sy werksaam gebly het tot met haar uittrede in July 1995 op die ouderdom van 48 jaar. Daarna het sy ‘n tuisteskepper geword.18,36

Farry het sy skoolloopbaan by Amersfoort Laerskool begin, maar uiteindelik aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer. In 1963 begin hy as Klerk by die Magistraatskantoor op Amersfoort werk. Twee jaar later kry hy ‘n aanstelling as Klerk by die plaaslike stadsraad, waar hy later ook die posisies van Voertuiginspekteur en waarnemende Stadsklerk beklee het.18 In 1973 bied sy neef Alick Saad, seun van sy oom, Nasief Elias “Willie” Saad (9 Augustus 1892 – 28 Mei 1974, Ermelo), hom egter ‘n pos aan in sy verfbesighed op Ermelo en vir die volgende ses jaar pendel Farry daagliks tussen Ermelo en Amersfoort.18,36 In Junie 1979 word Farry verplaas na Alick se verfbesigheid in Nelspruit, hoewel die gesin op Witrivier gaan woon het en waar hulle steeds woon. Witrivier is slegs 20 km noord van Nelspruit geleë. Hoewel Farry steeds werksaam is in die verfbedryf in Nelspruit, werk hy huidiglik as bemarker vir O’Grady’s Paint.18

Farry en Tienie se drie kinders, naamlik Charles Faris (*4 Augustus 1969), Fredrick Salim (*17 Januarie 1972) en Nerine (*21 Januarie 1974), is almal op Amersfoort in die Elsie Ballot Hospitaal gebore.18,19

Farry Saad het ‘n suster, Freda (*5 Februarie 1935). Hulle ouers was Calim Elias Saad (10 Augustus 1902, Ain Zhalta, Lebanon – 11 November 1965, Amersfoort, Suid-Afrika) en Harriet Grimsehl (4 Januarie 1904  – 11 Oktober 1970, Amersfoort), wat in Mei 1933 met mekaar getroud is.18,36,37 Calim, ook genoem “Salim” of “Charlie”, was bekend in die Amersfoort gemeenskap as “Uncle Charlie”. Hy was ‘n vriendelike, vrolike man en altyd vol grappe. Tog het hy die indruk geskep dat hy altyd haastig was oppad iewers heen. Die Arabies-sprekende Calim Saad – sy van was oorspronklik Sa’d, wat ‘sukses’ of ‘voorspoed’ beteken – het in die vroeë 1920’s uit Lebanon geïmmigreer na Ermelo, Transvaal in die Unie van Suid-Afrika, waar sy twee half-broers, Sleiman Elias “Solly/Salamon” Saad (12 Januarie 1888, Lebanon – 18 Desember 1975, Pretoria, Suid-Afrika) en Willie Saad reeds gevestig was. Hier het Calim in 1923 sy skoolloopbaan voltooi waarna hy deur Solly en Willie gehelp is om ‘n besigheid op Amersfoort op die been te bring.18,36,38 Die Saad-broers was teen daardie tyd Engels en Afrikaans goed magtig.18Vir die res van sy lewe het Charlie op Amersfoort gewoon en gewerk tot met sy dood op die ouderdom van 63 jaar in 1965. Charlie het inderdaad ‘n voorspoedige man geword, soos wat sy familienaam beteken het. Hy het heelwat besighede gehad wat ‘n hotel, bioskoop, kafee, meubelwinkel en ‘n teekamer ingesluit het. Beide Charlie en Harriet Saad lê begrawe in die Nuwe Begraafplaas op Amersfoort.18,36,37

< BACK

  1. Kruger, B. 2007 Die Kruger-familie van Suider-Afrika. 1ste Ed. CD-publikasie. Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Noord-Transvaal takbiblioteek.
  2. Inskrywings voor in die Bybel van Hester Gezina Kruger (née Coetzer). In besit van haar kleinseun, Dr. Ds. Pieter Kruger
  3. Grafte van Piet en Hester Kruger. Amersfoort Begraafplaas, Amersfoort, Transvaal (nou Mpumalanga), Suid-Afrika
  4. Kaart van Transvaal Provinsie, Unie van Suid-Africa. Kantoor van die Landmeter-Generaal, Pretoria, 1931. Leeskamer. National Archives & Repository Service of South Africa.
  5. National Geo-Spatial Information, 1:50 000 Rasters. January 2015. Department of Rural Development and Land Reform, Republic of South Africa. CD-publication
  6. Transportrekords van Plaas Roodedraai (ZAR nr. 264; Transvaal nr. 64). Akte van Transport Nr. 8356/1921. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB RAK 3054, 1921
  7. Doodsertifikaat, sterfkennis, testament en boedel van David Frederik Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 2343/51, 1951
  8. Melville, J. 2005 Stamboom van die Van der Merwe Familie. 1ste Ed. Genealogiese Publikasies: Walmer
  9. Sterfkennis en boedel van Maria Catharina (Slabbert) van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 43296/20, 1920
  10. Sterfteregistrasie van Maria Catharina Kruger, Anna Elizabeth Kruger en Martha Maria Kruger. Civil registration (deaths), Volksrust (Transvaal), 1901-1972. https://www.familysearch.org/search/catalog/675529
  11. Onderhoud op 21 Junie 2014 met Gert van der Westhuizen. Roodedraai Museum, plaas Roodedraai, Volksrust, Mpumalanga
  12. Oorplasing van sinkkamer na Roodedraaiskool. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB TOD 1901 E28/52/3, 1938 en 1939
  13. Inligting versamel en foto’s geneem in 2014 en 2018 tydens besoeke aan plaas Roodedraai deur Pieter Kruger, Alta Jamison en Charles Saad, kleinkinders van Piet en Hester Kruger
  14. Van der Westhuizen, G. 29 Augustus 1998. Roodedraai erfenis sny aan by Vryheidsoorlog en verhoogkuns. Die Burger Koerant. http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1998/08/29/3/13.html
  15. Giliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  16. Illustrated history of South Africa. The real story. 1989 2nd Ed. Reader’s Digest Association South Africa (Pty) Ltd.: Cape Town
  17. Wena Naudé. http://af.wikipedia.org/wiki/Wena_Naudé
  18. Familie-oorvertellings deur Tienie en Farry Saad, asook deur Bettie Kruger in 2012, 2015 en 2018
  19. Onderhoude in Augustus 2018 met Pieter Kruger en Charles Saad, kleinkinders van Piet en Hester Kruger
  20. Coetser, M. Coetzer en Coetser Families in South Africa. https://coetzercoetser.weebly.com/family-tree–stamboom.html
  21. Onderhoud op 24 Februarie 2020 te Springs, Gauteng met Koek Kruger, kleindogter van Wentzel en Annaat Coetzer
  22. Rekord van geboorte, tweede huwelik en afsterwe van Magrietha Cornelia (Coetzer) Klue. https://www.identitynumber.org
  23. Sterfkennis en boedel van Hendrik Gerhardus Coetzer. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 2200/65, 1965
  24. Geboortesertifikaat van Hester Gezina Coetzer, in besit van Tienie Saad, haar dogter
  25. Doodsertifikaat, sterfkennis en boedel van Martha Maria van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria.          TAB MHG 1254/56, 1956
  26. Begrafnisbrief van Piet Kruger. In besit van Bettie Kruger van Pretoria, Gauteng
  27. Sterfkennis, testament en boedel van David Frederick Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 4881/75, 1975
  28. Grafsteen van David Kruger in die Hoofbegraafplaas van Vanderbijlpark, Gauteng. eGGSA Library. https://graves-at-eggsa.org/
  29. Telefoniese onderhoud op 13 Oktober 2018 met Mariska Kruger, weduwee van Gene Kruger
  30. Rekord van geboorte en derde huwelik van Piet Eugene George Kruger. https://www.identitynumber.org
  31. Doopinskrywing van Piet Eugene George Kruger. LDS Parktown South Africa Family History Centre, Johannesburg, Gauteng. Film 1562829,          Item 3, No 8149834
  32. South African Border War. https://en.wikipedia.org/wiki/South_African_Border_War
  33. The Recce’s. http://www.recce.co.za/about-us-the_recces/
  34. Van Reenen. https://showme.co.za/south-africa/free-state/eastern-free-state/van-reenen/van-reenen/
  35. Cambridge in Colour. A learning community for photographers. https://www.cambridgeincolour.com/forums/thread36537.htm
  36. Toweel, A. 2013 Saad. The South African Story. 1st Ed. Jetline: Pretoria
  37. Grafte van Calim en Harriet Saad. Nuwe Begraafplaas, Amersfoort, Mpumamlanga. https://www.graves-at-eggsa.org/
  38. Meaning and origin of: Saad. https://www.familyeducation.com/baby-names/name-meaning/saad

< BACK