Piet Kruger (1852 – 1900)

< BACK

   1. Sy kinderjare

Piet Kruger, vernoem na sy maternale oupa, Pieter Rossouw (1788 – ?), is op 2 Augustus 1852 gebore in die distrik van Pretoria in die pas geproklameerde Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Hy is gedoop op 10 Maart 1853 in die Nederduits-Gereformeerde Kerk (NGK). Piet, soms ook na verwys as Pieter of Petrus in latere dokumente, was die tweede seun van David Frederik Petrus Johannes Senekal Kruger (1821 – 1899) en Susanna Christina Rossouw (1825 – ?), wat in hul latere jare in die omgewing van Parys in Frankfort distrik in die Republiek van Oranje-Vrijstaat (OVS) gewoon het.1-4

Piet se ouers was boere en die kinders is waarskynlik tuis onderrig deur hul ouers. Latere dokumente toon dat Piet Kruger amptelike dokumente self onderteken het.

   2. Sy vrou

Piet Kruger en sy vrou, Anna Elizabeth “Annie” Eksteen, het my groot-groot-grootouers geword. Annie is gebore in Augustus 1857 in Harrismith distrik in die OVS, en dis ook te Harrismith waar hulle in die huwelik bevestig is.1,4,5 Sy was die tweede dogter van Anna Elizabeth “Elsabe” Marais en Jacobus Johannes Eksteen (*23 Mei 1827, Riversdale districk, Britse Kaapkolonie, †voor 1899, plaas Swartkoppies, Frankfort distrik, OVS).1,5,6 Annie se ouer suster, Elizabeth Francina Eksteen (1856 – 1891) was getroud met David Frederik Kruger (1856 – ?), Piet se jonger broer, en het as oom en tante by sommige van Piet en Annie se kinders as doopgetuies opgetree.1,7-10 LEES MEER oor die Eksteens.

Piet Kruger het in 1900 tydens die Tweede Anglo-Boere Oorlog (ABO2) gesneuwel.1,2,5,11-13 Annie is kort daarna saam met haar jongste kinders na die konsentrasiekamp by Volksrust, 40 km oos van Korenplaats (Koringplaas), geneem waar twee kinders onderskeidelik weens longonststeking en witseerkeel omgekom het.14-16 Annie was ‘n weduwee vir meer as twintig jaar voordat sy weer in die huwelik getree het te Volksrust/Vrede met die wewenaar Jacobus Lukas “Koos” Prinsloo (*11 Februarie 1846, Winburg distrik), seun van Marthinus Prinsloo en Anna Helena Prinsloo.1,5,17 Hy was ‘n boer woonagtig op die plaas Oribifontein in die omgewing van die Vrede distrik, in die noord-ooste van die OVS waar hy ook oorlede is op 86-jarige ouderdom op 17 Januarie 1932, en op die plaas begrawe is. Koos Prinsloo het nege kinders uit sy eerste huwelik met Anna Dorothea Botha (28 Maart 1847 – 24 Julie 1918) gehad . Hulle was Sophia Catharina (1872 – 1926), Marthinus Johannes Petrus (1874 – 1942), Johannes Petrus Botha (1877 – 1941), Jacobus Johannes (1879 – 1960), Willem Sterrenberg (1880 – 1959), Anna Dorothea Helena (1882 – 1976), Jacoba Johanna (1884 – 1919), Susanna Dirkie (1886 – 1964) en Nicolaas Petrus Gerhardus (1888 – 1955).5,16-19

Annie het na haar tweede man se afsterwe op die plaas Nooitgedacht in die Vrede distrik in die OVS gewoon, waarskynlik by een van haar (stief)kinders. Sy is egter op Ardentine in Ermelo distrik in Transvaal op die ouderdom van 82 jaar op 18 Januarie 1940 oorlede.5 Sy het waarskynlik ook hier by een van haar (stief)kinders gekuier of het daarheen verhuis gedurende die laaste elf maande van haar lewe.

   3. Sy beroep

Piet het waarskynlik ook geboer soos sy vader, maar dis onbekend of hy aanvanklik op sy eie geboer het of saam met sy ouers. Teen die mid-1870’s was hy woonagtig op die plaas Wonderhoek, ongeveer 40 km suid-wes van Harrismith in die OVS, maar teen die laat 1890’s, was Piet reeds werksaam in die Wakkerstroom Distrik van die ZAR.1,9,10,14,20-22 Die Krugers was op daardie stadium bywoners op die plaas Korenplaats (Koringplaas) (ZAR plaasno 4, Transvaal no 132 HS), wat behoort het aan die 30-jarige Jacobus Stephanus “Koos” Groenewald (1870 – 1939) en sy vrou, Jesina Jemima “Jessie” Raubenheimer (1877 – 1931).15,22-25 (Hul jongste seun, Jan Jacobus “Jannie” Groenewald – toe reeds in sy negentigs – het in 2014 steeds op die plaas geboer).22 Op hierdie einste plaas het Piet Kruger geneuwel tydens ‘n skermutseling tussen die Boere en die Britse magte.1,2,5,11,12,22Die redes waarom Piet met sy gesin as bywoners (a poor tenant farmer who labours for the farm owner for rent and is allowed to do some farming of his own) op Koringplaas gewerk het, is nie bekend nie. Piet het wel ‘n kapkar met twee karperde, vier ryperde en 20-stuks vee besit.15 Het sy vader te min grond besit, sodat al die seuns nie kon erf nie? (Die plase in die OVS was heelwat kleiner as die plase in die ZAR.)16 Of het die opeenvolgende droogtes, sprinkaanplae asook die runderpes van 1896 tot 1897 26 ook vir Piet op sy knieë gedwing, soos menige ander boere, sodat hy uiteindelik sy eie stukkie grond moes opgee? Of was Piet maar net iewat aan die lui-kant? Die laasgenoemde gedagte steek egter dwars in die krop, veral gesien uit die tipe karakter wat hy as kommandolid tydens die ABO2 geopenbaar het 27 – toegewy tot die saak, moedig, onverskrokke, en wie se voorbeeld ook sy twee seuns geïnspireer het om tot die bitter einde te bly veg.

Piet was 47 jaar oud toe die ABO2, ook bekend as die Suid-Afrikaanse Oorlog, op 11 Oktober 1899 uitgebreek het.26,28-31 Hyself en sy twee oudste seuns, David en Jacob, toe onderskeidelik 22 jaar en 19 jaar oud, het hulself gaan aansluit by die Wakkerstroom Kommando as deel van die Boeremagte wat die wapen opgeneem het teen die imperialistiese Britse Ryk.11,26,31,32 Die verloop van die oorlog kan in drie fases verdeel word. Binne die eerste vier maande van die oorlog het die Boere daarin geslaag om die noorde van Britse Natal binne te val en beslag te lê op die dorp Ladysmith. Ook het die Boere die Britse garnisoene wat in Kimberley en Mafikeng (nou Mahikeng) in die Britse Kaapkolonie gestationeer was, verras en die twee dorpe oorgeneem. Hoewel die Britte taktiese oorwinnings behaal het by Talana en Elandslaagte, is ernstige neerlae teen die Boere gely by Stormberg, Magersfontein en Colenso. Die tweede fase van die oorlog het ‘n aanvang geneem met Brittanje wat grootskaals op hierdie neerlae reageer het – en uiteindelik die skaal in Brittanje se guns laat swaai – deurdat swaar versterkings uit al die Britse kolonies op gekommandeer is. Verder het Generaal Frederick Sleigh Roberts by die gedemoveerde Generaal Revers Henry Buller oorgeneem as opperbevelhebber van die Britse magte en was uiters gedetermineerd om die Boere te oorwin. Saam met sy stafhoof, Veldmaarskalk Horatio Kitchener, het Roberts ‘n grootskaalse teenaanval op die Boeremagte geloods. Op 15 Februarie 1900 het Britse troepe die beleg van Kimberley gelig, gevolg deur Ladysmith op 28 Februarie 1900 en Mafikeng op 18 Mei 1900. Op 13 Maart 1900 het Roberts Bloemfontein, die hoofstad van die OVS, beleër en gevolglik die republiek geannekseer op 28 Mei 1900. Die OVS is herdoop na Orange River Colony (Oranjerivierkolonie). Skaars twee maande later masjeer die Britse troepe Johannesburg in die ZAR binne, en op 5 Junie 1900 buig Pretoria, die hoofstad van die ZAR, die knie. Die ZAR is geannekseer op 1 September 1900 en daarna herdoop na Transvaal Colony (Transvaalkolonie). Menige het hiermee die einde van die oorlog aanvaar; selfs Generaal Roberts het triomfanklik teruggekeer na Brittanje.26-38

Baie Boere was nie meer gemotiveerd vir die oorlog nie en het begin dros. Daar was egter ook dié wat nie so maklik oorgegee nie en het van strategie verander deur in kleiner mobile eenhede op te breek en tot guerillia-oorlogvoering oor te gaan. Hierdie eenhede was baie effektief om klopjagte op Britse kampe uit te voer, voorrade van die Britse troepe te roof, spoorweglyne te beskadig en kommunikasielyne te ontwrig. Die uitsondelike vermoeë van hierdie effektiewe Boere kommando’s om die die Britse troepe te fnuik en te ontwyk, het die Britse bevelvoerders erg gefrustreer. Om die boere se beweeglikheid te probeer inperk is blokhuise (ongeveer 8 000) en draadheinings (vir ongeveer 6 000 km) opgerig en deur ongeveer 50 000 Britse troepe, insluitend Bantoe-manskappe, beman. Met die verloop van die oorlog is duisende burgers gevange geneem en as krygsgevangenes na oorsese Britse kolonies verban. Met die instelling van die Verskroeide Aarde Beleid in September 1900 deur Kitchener, wat by Roberts oorgeneem het as opperbevelvoerder, is verder gepoog om die Boeremagte se bron van voorrade, perde en beskerming af te sny, wat uiteindelik tot ontwortelde Boere- en swart plaaswerkergesinne, asook ontwrigte inwoners van Bantoe-krale gelei het, wat later in konsentrasiekampe onder haglike toestande gehuisves is, en waarin duisende vroue en kinders omgekom het weens verhongering en siektes. Laasgenoemde was uiteindelik die grootste motivering vir die twee oorwonne Boere-regerings om uiteindelik in 1902 tot vrede-samesprekings oor te gaan.26,28,29,37-42

Piet Kruger is met die aanvang van die tweede fase van die oorlog gedood. Waar Roberts vroeg in 1900 ‘n aanval op die Boere-republieke begin geloods het via die OVS om uiteindelik ook in die ZAR te seëvier, het Buller ‘n Britse garnisoen van ongeveer 22 000 man en 26 kanonne gelei in Britse Natal, en uiteindelik ook die Boeremagte in Natal terugedryf tot in die ZAR. Na sy oorwinning oor Generaal Christiaan Botha se 2 500 burgers op 8 Junie 1900 by Bothaspas in Natal, het Buller met sy troepe in die OVS inbeweeg en daarna regs geswenk tot in die ZAR. Waar Gansvleistroom in die Kliprivier invloei het sy troepe kamp opgeslaan. Sy offisiere het die plaasopstal van Koringplaas betrek en dit ook gebruik as ‘n hospitaal. Jessie Groenewald moes noodgedwonge die Engelse van kop-tot-tone bedien en Annie Kruger moes hand-bysit. Generaal Botha het intussen met ongeveer 1 250 kommando-lede van hoofsaaklik Lydenburg, Carolina en Wakkerstroom uitgewyk na die Versamelberge naby Volksrust in die suid-ooste van die ZAR. Op 10 Junie is 120 berede verkenners, waaronder Piet Kruger en sy seun David, uitgestuur om die omgewing te bespied en die Engelse troepe se bewegings te monitor. Buller se South African Light Horse (SALH) Infantry het terselfdertyd in die middag met dieselfde doel vertrek. Beide die Boere en Britse eenhede het mekaar egter verras, met elkeen wat Gansvleikop op Koringplaas uit teenoorgestelde rigtings benader het. ‘n Intense oor-en-weer geskietery het gevolg met die Boere verkenners wat bly nader beweeg het tot so na as 40 m aan die Britse soldate. Die SALH Infantry was gedoem tot ‘n rampspoedige neerlaag maar hulp het net betyds opgedaag in die vorm van die 19th Hussars (2th Cavalry Brigade) wat met hul ondersteunende artillerie die nodige dekvuur verskaf het vir die Infantry om hulself uit die penarie te kry en terug kamp toe te ontsnap. Ten spyte van die Boere se moedige en geesdrigtige aanslag op die Britse verkennersmag – volgens Gen Chris Botha – met net ligte ammunisie tot hul beskikking, het sewe van hul makkers, insluitend Piet Kruger, gesneuwel. Buller en sy troepe het die volgende dag op 11 Junie 1900 vertrek en 10 km verder by Allemansnek nog ‘n triomfanklike oorwinning oor die Boere behaal.2,11,12,22,37,43-45 LEES MEER  in detail oor die stand van sake vir beide die Boere en die Britte gedurende Maart tot Junie 1900.

‘n Paar maande na die Slag van Koringplaas was die Britte terug om die opstal en oeste te vernietig en die vee af te maai. Jessie Groenewald het nie op haar laat wag nie en die Engelse offisiere duidelik laat verstaan dat sy hulle per vorige geleentheid huisvestig met warm beddens en ordentlike etes gegee het. “No problem, miss. If your husband just signs the Oath of Allegiance to the British Crown, all will be well.” Koos Groenewald het geteken, maar daarna stilletjies vertrek en hom by die naaste Boere kommmando aangesluit. ” ‘n Afgedwonge eed is inderwaarheid geen ware eed nie! “, het hy geredeneer. ‘n Paar maande later is sy ‘ontrouheid’ aan die Britse Kroon ontdek en die Engelse het weer hul verskyning op Koringplaas op 29 Mei 1901 gemaak. Hierdie keer was die sogenaamde ‘Engelse’ eintlik hans-kakies of joiners (Boere wat vir die Engelse gewerk het en op mede-Boere gespioeneer het), en was afkomstig van Ermelo omgewing. Jessie Groenewald is ‘n halfuur gegee om ‘n paar goedjies te pak voor sy en haar drie kinders – die sesjarige Wessel Johannes, die vierjarige Johan Nicolaas en eenjarige Johanna Cecilia – weggeneem is na die Volksrust konsentrasiekamp waar sy met haar kinders in Seksie D in Tent no 226 gebly het. Hul plaashuis is afgebrand en die plaasdiere gedood.11,14,15,39 Anna Kruger se huis is ook vernietig en sy en haar jong kinders is saam met die Groenewalds na die Volksrust kamp, waar Anna-hulle in Seksie B in Tent no 51 gewoon het.14,15 Hierdie kamp het 5 000 inwoners gehuisves, waar 772 vroue en kinders weens ontbering en siekte ongekom het.11,31,45,46 Na die oorlog het Anna en Jessie en hul kinders weer na Koringplaas teruggekeer, Jessie op 28 Julie 1902 en Anna op 18 Augustus 1902.14 Hoe lank die Krugers daarna op die plaas bly woon het as bywoners is onseker, want die oudste seun, David was teen Oktober 1902, toe hy in die huwelik getree het, reeds werksaam op die plaas Honingvallei (Heuningvallei) (ZAR plaasno 7, Transvaal no 104 HS).16,47   4. Sy afsterwe

Piet Kruger is opslag gedood deur ‘n kopskoot tydens die Slag van Koringplaas op 10 Junie 1900 wat van 13:00 tot skemeraand geduur het.11,12,37,38,43,44 Aan sy sy was sy seuns, David en Jacob. Die 23-jarige David het onder Britse spervuur sy gesneuwelde vader agter ‘n klip ingetrek het. (Oom Jannie Groenewald kan die presiese ligging van die spesifieke klip bo-op Gansvleikop uitwys, maar kan weens sy hoë ouderdom en swak gesondheid nie meer die koppie bestyg nie.)22 Kan mens David en Jacob se skok indink om hul vader binne ‘n oogwenk langs hulle doodgeskiet te sien word?

Piet Kruger se kommando het uiteindelik terugtrek nadat Britse versterkings opgedaag het om dekking vir die SALH Infantry te verskaf wat hulself in ‘n desperate posisie bevind het onder die gedetermineerde aanslag van die Boere verkenners.14,27,37 David en Jacob moes noodgedwonge hul gesneuwelde vader agterlaat onder Britse bombardering. Sewe burgers het in die skermutseling gesterf, waarvan vier (Combrink, Grobler, Smith & Stoltz) se liggame inderhaas per perd verwyder is deur hul makkers van die Lydenburgse kommando. Die lyke van die drie ander gestorwe Boerekrygers is later saam met die tien Britse gewondes en hul eie ses gesneuweldes deur die Britse troepe van die koppie af gebring na die Koringplaas-opstal waar die Britte gestationeer was. Annie Kruger en Jessie Groenewald moes die gewondes verpleeg. Terwyl hulle met die versorging besig was, het die 43-jarige Annie op ‘n gesig afgekom wat haar in harde, histeriese snikke laat uitbars het. Die skielike, ontstellende gegil het die Britse manskappe vir ‘n oomblik verskrik laat wonder wat aangaan, min wetende dat Annie haar man se lyk tussen die gewondes en gesneuweldes herken het. Annie en Jessie het Piet se liggaam in ‘n gebreide beesvel toegevou en in die familiekerkhof begrawe, wat 300 m ver van die huidige plaasopstal geleë is.2,11,12,22,37,38,43Op Piet Kruger se sterfkennis, wat in November 1902 voltooi is, word sy sterfdatum foutiewelik as 10 Junie 1901 aangegee. In die sterfkennis word ook aangedui dat sy laaste testament op 8 Junie 1897 opgestel is.3 Sy grafsteen, wat na die oorlog opgerig is, dui sy sterfdatum verkeerdelik aan as (?) Junie 1902. Hierdie datum is op die grafsteen uitgekrap, sodat die presiese dag onleesbaar is. ‘n Granietplaat, wat sy sterfdag as 10 Junie 1900 bevestig, is in die 1970’s deur verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte op die graf ingemessel.2,12,13,22,32,45

Die Volksrustgedenksteen is opgerig in nagedagtenis van die onskuldige slagoffers (Boere vroue en kinders) wat in die Volksrustkonsentrasiekamp omgekom het asook die burgers van die Volksrust omgewing wat tydens die oorlog gesneuwel het. Dit is oorspronklik in 1918 in die ou begraafplaas opgerig, maar is in 1976 verskuif na Voortrekkerplein, waartydens ook ‘n Muur van Herinnering opgerig is. Vir die eerste, oorspronklike onthullingseremonie in 1918, het die digter, Theodore Walter “Theo” Jandrell (1888 – 1968) – wat op daardie stadium die skoolhoof van Volksrust se Sandspruit Laerskool was – die volgende lied geskryf: 11,22,44,48,49Die ABO2 was ‘n dure oorlog, nie net uit ‘n finansiële oogpunt vir Brittanje nie, maar ook ten opsigte van die lewens wat ingeboet is op Suid-Afrikaanse bodem deur beide die Britte en die Boere (Afrikaners), sowel as die Bantoe-stamme. Die Britse meerderheidsaanslag was uiteindelk oorweldigend met 500 000 Britse troepe en 100 000 Bantoe soldate wat teen 88 000 Boere-krygers en 10 000 Bantoe helpers die wapen opgeneem het. Ongeveer 20 000 Britse – en 12 000 Bantoe soldate het gesterf, terwyl aan die Boere-kant 14 000 manskappe tussen die ouderdomme 16 en 60 jaar (en selfs ouer) gesneuwel het. Daar was ook die penkoppe (melktand-tieners en kinders selfs so jonk as agt jaar) wat veral in die derde fase van die oorlog geveg het, wat ook omgekom het tydens skermutselinge met die vyand. Die grootste verlies aan lewens is egter gely deur onskuldige burgerlikes – vroue, kinders en bejaardes – 26 000 Afrikaners en tussen 14 000 en 20 000 swartmense het die haglike omstandigehede in die konsentrasiekampe, ook genoem ‘helkampe’, nie oorleef nie.27-29,41,42,50,51

   5. Sy kinders

5.1 David Frederick

Hy is op 2 Maart 1877 gebore en ‘n jaar later op 21 April 1878 te Harrismith gedoop. Hy trou net na die ABO2 met Martha Maria van der Merwe van die plaas Roodedraai, wat ongeveer 4 km noord van Korenplaats lê.1,20,47,52 Hulle was my groot-grootouers (ouma- en oupagrootjie). LEES MEER oor David Kruger.

5.2 Jacobus Johannes

Jacob, soos hy bekend was, is op 1 April 1880 gebore en tien dae later op 11 April 1880 in die NGK Harrismith deur ds. Aart Antonie van der Lingen (1845 – 1917) gedoop. Die doopgetuies teenwoordig was sy oom en tante wat mekaar getroud was, David Frederick Kruger (1856 – ?) en Elizabeth Francina Eksteen (1856, Swellendam – 1891, plaas Springbokvlakte, Piet Retief, ZAR), asook sy tante, Gertruida Jacomina Margaretha Eksteen (? – 1942) en haar man, Nicolaas Marthinus Prinsloo (1855, Potchefstroom – 1941).1,7-9,53,54Hy was saam met sy vader en ouer broer, David, lid van die Wakkerstroomkommando gedurende die Tweede Anglo-Boere Oorlog. Jacob het ook soos sy broer hul vader se dood op 10 Junie 1900, wat deur ‘n vyandelike koeël veroorsaak is, beleef.14

David het as bittereinder sy wapen neergelê op 12 Junie 1902. Hy het saam met Generaal Chris Botha en die oorblywende burgers van die Wakkerstroomkommando van die veld af ingekom en op die plaas, Mooiplaats (Mooiplaas), ‘n paar kilometer noord-oos van die Transvaalse dorpie, Wakkerstroom, die Eed van Getrouheid aan die Britse Kroon onderteken.11,53 Jacob was waarskynlik saam met sy broer. Die twee jongmanne het daarna na die Volksrustkonstrasiekamp vertrek waar hulle in Tent B52, die tent net langs hul moeder s’n, gebly het. Jacob het egter siek geword met lobulêre longontsteking en het op 23-jarige leeftyd op 12 Julie 1902 die lewe gelaat.14 Hierdie tipe longontsteking word deur bakterieë soos Streptococcus pneumoniae, Haemophilus influenzae, Moraxella catarrhalis asook onbehandelde Mycobacterium tuberculosis veroorsaak. Die toksiene van hierdie organismes veroorsaak dat die lugsakkies in een of albei longe vul met vloeistof of etter met gevolglike pynlike asemhaling, slymerige hoes, moegheid, koors, naarheid en vomering. As die infeksie onbehandeld bly, kan bakteremia, pleurale effusie of longabsesse ontwikkel wat tot die dood kan lei.56,57

5.3 Susanna Christina

Susanna is gebore op 17 September 1882 en gedoop op 22 Oktober 1882 te NGK Frankfort deur Ds. A.A. van den Lingen. Haar ouma en oupa, Susanna Christina Rossouw (1825 – >1901) en David Frederik (Petrus Johannes Senekal) Kruger (1821 – 1899) was teenwoordig by die doopgeleentheid en het as getuies opgetree.1,4,21 Susanna het egter nooit volwassenheid bereik nie en is voor 1890 oorlede. Hoewel NGK Frankfort in 1873 van NGK Harrismith afgestig het, het hul eerste predikant, ds. Thom, eers in 1884 gearriveer. Ds. Van den Lingen het daarom vir elf jaar na die afstigting steeds af en toe vanaf Harrismith gereis om die gemeentelede van Frankfort te besoek en met woord, doop en nagmaal te bedien.58

5.4 Elizabeth Francina

Sy is op 2 Junie 1885 gebore en ‘n maand later op 5 Julie 1885 deur ds. George Thom (1855 – 1908) te NGK Frankfort gedoop. Haar vader se broer, David Frederick Kruger (1856 – ?) – haar oom – en haar moeder se suster, Elizabeth Francina Eksteen (1856 – 1891) – haar tante – was teenwoordig by haar doop. Haar oom en tante was met mekaar getroud.1,3,7,8,10,58,59

NOTA: Op haar vader se sterfkennis word Elizabeth se geboortedatum foutiewelik as 2 Junie 1887 aangegee.3

Ds. Thom het in 1884 die beroep na NGK Frankfort, sy eerste en enigste gemeente, aanvaar, en is deur Johannes “Hans” Fourie (later die eerste burgemeester van Frankfort) op Colesberg met die wa en osse gaan haal. Mev. Thom is later deur D.W. Steyn en N. van Rensburg met ’n verewa op Kimberley gehaal. Die gemeente het gebloei en daar is ook met sendingwerk onder die plaaslike swart bevolkingsgroepe begin. Dit het agter alles tot ‘n einde gekom tydens die ABO2 toe Frankfort se huise, pastorie en kerk afgebrand is, en al die kerkregisters en die predikant se boeke vernietig is. Die predikant en van sy kerkraadslede is as krygsgevangenes na Ceylon gestuur. Ds. Thom het Frankfort en die omliggende gemeenskap uiteindelik vir 24 jaar bedien tot en met sy dood op 6 September 1908. Hy is te ruste gelê in die begraafplaas op Frankfort.58-60Elizabeth se ouers was ten tye van haar doop in 1885 woonagtig in die noorde van die Republiek van Oranje-Vrystaat in die omgewing van Frankfort op Yarrow.10 Die ligging van Yarrow as ‘n spesifieke plek of plaas kon tot op hede nog nie bepaal word nie.

Sy het later in die huwelik getree met Johannes Gerhardus Janse van Noordwyk. Elizabeth is oorlede na 1940.5

5.5 Gertruida Christina Petronella

Gertruida is gebore op 27 Mei 1887. As tienerdogter het sy saam met haar moeder en sibbe in die konsentrasiekamp op Volksrust oorleef.1,14 Sy trou met Hendrik Frederik Stadler.5

NOTA: Op haar vader se sterfkennis word Gertruida se geboortedatum as 27 Mei 1889 aangegee.3

5.6 Susanna Christina

Sy is in ca 1890 gebore. As tienjarige, in 1901, is sy saam met haar moeder na Volksrust se kamp, waar sy op 20 Julie 1902 – agt dae na haar broer, Jacob se afsterwe – weens difterie, ook bekend as witseerkeel, oorlede is.14 Die bakterie, Corynebacterium diphtheria, veroorsaak asemhalingsprobleme, hartversaking, verlamming en uiteindelik die dood.61 ‘n Mens kan nie Anna Kruger se ontsetting indink nie. Haar man het reeds gesneuwel en daarby moes sy ook twee van haar kinders in die konsentrasiekamp aan die dood afgestaan in die tydperk na die vredesluiting op 31 Mei 1902 totdat sy huiswaarts gekeer het op 18 Augustus 1902 na ‘n vernietigde Korenplaats.

5.7 Petrus Jacobus Johannes

Hy is op 5 Desember 1896 gebore.1,3 Hy was maar vyf jaar oud toe hy in die konsentrasiekamp op Volksrust aangeland het. Hy het saam met sy moeder teruggekeer na Korenplaats op 18 Augustus 1902.14

5.8 Barend Jacobus

Barend is op 23 Maart 1899 gebore en op 30 April 1899 te NHofGK Marthinus-Wesselstroom deur ds. Ackermam gedoop.1,3,62 Sy doopgetuies was Jacobus Petrus Rossouw, Susanna Maria Wessels, Petrus Johannes Uys en Susanna Cecilia Moolman.62Hy het saam met sy broers en suster in tent B51 gewoon in Volkrust se kamp tydens die ABO2.14 Barend is voor 1940 oorlede.5

< BACK

  1. Kruger, B. 2007 Die Kruger-familie van Suider-Afrika. 1ste Ed. CD-publikasie. Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Noord-Transvaal takbiblioteek.
  2. Grafsteen van Piet Kruger. Familiekerkhof op die plaas Koringplaas, Distrik Volksrust, Mpumalanga, Republiek van Suid-Afrika, soos besoek op 21 Junie 2014 deur Pieter Kruger en Alta Jamison (née Kruger), agter-agterkleinkinders van Piet en Anna Kruger
  3. Sterfkennis en testament van Piet Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 1843, 1902
  4. David Frederik Petrus Johannes Senekal Kruger. https://www.wikitree.com/wiki/Kruger-2957
  5. Sterfkennis van Anna Elizabeth Eksteen. National Archives & Repository Service of South Africa. VAB MHG 31641/40, 1940
  6. Jacobus Johannes Eksteen. https://www.geni.com/people/Jacobus-Johannes-Eksteen-b12c8d5e8/6000000013950134812
  7. David Frederik Kruger 1856. https://www.ancestry.co.uk/boards/thread.aspx?mv=flat&m=352&p=surnames.kruger
  8. David Frederick Kruger (1856). https://www.wikitree.com/wiki/Kruger-259
  9. Doopinskrywing van Jacobus Johannes Kruger. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Harrismith (Orange Free State), 1848-1956. South Africa, Free State Dutch Reformed Church Records, 1848-1956, database with images, FamilySearch (https://www.familysearch.org/ark:/61903/1:1:Q2HG-V6TQ : 19 November 2020), Piet Kruger in entry for Jacobus Johannes, 1880
  10. Doopinskrywing van Elizabeth Francina Kruger. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Harrismith (Orange Free State), 1848-1956. South Africa, Free State Dutch Reformed Church Records, 1848-1956, database with images, FamilySearch (https://www.familysearch.org/ark:/61903/1:1:Q2HG-L7NQ : 19 November 2020), Piet Kruger in entry for Elizabeth Francina, 1885
  11. Van der Westhuizen, G.P. & Van der Westhuizen, E. 2013 Guide to the Anglo Boer War in the Eastern Transvaal, 1899 – 1902. 2de Ed. David Scholtz: Volksrust
  12. Slag van Koringplaas gedenkplaat. Roodedraai Museum, plaas Roodedraai, Volksrust, Mpumalanga
  13. Slag van Allemansnek gedenksteen. Volksrust, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  14. Kruger – en Groenewald gesinslede opgeneem in Volkrust se konsentrasiekampregister. British Concentration Camps of the South African War, 1900 – 1902. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Farm/1919/Korenplaats___Koornplaats/
  15. Oorlogsvergoedingseis van Anna Elizabeth Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB CJC 1188/743, 1903
  16. National Geo-Spatial Information, 1:50 000 Rasters. January 2015. Department of Rural Development and Land Reform, Republic of South Africa. CD-publication
  17. Sterfkennis van Jacobus Lukas Prinsloo. National Archives & Repository Service of South Africa. VAB MHG 23818/32, 1932
  18. Sterfkennis van Anna Dorothea Prinsloo (née Botha). https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3QS7-89L4-HQ45?cc=3040532&personaUrl=%2Fark%3A%2F61903%2F1%3A1%3A7BM9-WCZM
  19. Jacobus Lukas Prinsloo. https://www.geni.com/people/Jacobus-Lukas-Prinsloo/6000000028765307835?through=6000000025455413590
  20. Doopinskrywing van David Frederick Kruger. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Harrismith (Orange Free State), 1848-1956. South Africa, Free State Dutch Reformed Church Records, 1848-1956, database with images, FamilySearch (https://www.familysearch.org/ark:/61903/1:1:Q2HG-V1LB : 19 November 2020), Piet Kruger in entry for David Frederick, 1878
  21. Doopinskrywing van Susanna Christina Kruger. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Harrismith (Orange Free State), 1848-1956. South Africa, Free State Dutch Reformed Church Records, 1848-1956, database with images, FamilySearch (https://www.familysearch.org/ark:/61903/1:1:Q2HG-NTXZ : 19 November 2020), Piet Kruger in entry for Susanna Christina Kruger, 1882
  22. Besoek aan Koringplaas op 21 Junie 2014, asook onderhoud met Gert van der Westhuizen, Roodedraai Museum, plaas Roodedraai, Volksrust, Mpumalanga
  23. Kaart van Transvaal Provinsie, Unie van Suid-Africa. Kantoor van die Landmeter-Generaal, Pretoria, 1931. Leeskamer. National Archives & Repository Service of South Africa
  24. Huweliksinskrywing van Jacobus Groenewald en Jesina Raubenhaeimer. Civil registration (marriages), Wakkerstroom (Transvaal), 1873-1965. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C91L-NSL3-8?i=527&cat=719911
  25. Jacobus Stephanus Groenewald. https://www.geni.com/people/Jacobus-Groenewald/6000000013892526944?through=6000000079702041861
  26. Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  27. Gillings, K. 1999. The British advance and Boer retreat through Natal, March to June 1900. Military History Journal, Vol 11(3/4), 1999. The South African Militory History Society. http://samilitaryhistory.org/vol113kg.html
  28. Pakenham, T. 1993 The Boer War. Illustrated Edition. Jonathan Ball Publishers: Johannesburg, South Africa
  29. Boer War 1899 – 1902. https://www.angloboerwar.com/boer-war
  30. South African War. https://www.britannica.com/event/South-African-War
  31. Familie-oorvertellinge deur Tienie Saad en Bettie Kruger in 2012, 2015 en 2018.
  32. Burgermonument Wakkerstroomkommando. Wakkerstroom, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  33. Field Marshal Lord Roberts appointed British Supreme Commander in South Africa. http://www.sahistory.org.za/dated-event/field-marshal-lord-roberts-appointed-british-supreme-commander-south-africa
  34. Herbert Kitchener, 1st Earl Kitchener. https://en.wikipedia.org/wiki/Herbert_Kitchener,_1st_Earl_Kitchener
  35. Redvers Buller. https://en.wikipedia.org/wiki/Redvers_Buller
  36. Redvers Henry Buller. https://www.findagrave.com/memorial/22140/redvers-henry-buller
  37. Torlage, G.P. 1992 The British advance and Boer retreat through Northern Natal, May – June 1900. Masters Dissertation: University of South Africa. http://uir.unisa.ac.za/bitstream/handle/10500/16216/dissertation_torlage_gp.pdf
  38. Raath, A.W.G. 2007 De la Rey: Die stryd vir vryheid. 2de Ed. Kraal-Uitgewers BK: Brandford, Suid-Afrika
  39. Pretorius, A. 2000 Van Huis-en-Haard na Konsentrasiekamp. DV Drukkers: Volksrust, Mpumalanga: DV Drukkers
  40. Grobler, J. & Grobler, M. 2013 Vroue-Kampjoernaal. Die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog. 1ste Ed. Heroloda Wordworx: Brooklyn, Pretoria.
  41. Moolman, N. 2013 Zij. 1ste Ed. Shanghai Kangshi Printing Co. Ltd: Vanderbijlpark.
  42. Black concentration camps during Anglo-Boer War 2, 1900 – 1902. http://www.sahistory.org.za/topic/black-concentration-camps-during-anglo-boer-war-2-1900-1902
  43. Relocation of the graves of burghers Jordaan and FS Schoeman dating from the Second Anglo-Boer War (1899 – 1902). Anthropology Private Practice, 1998
  44. Botha’s Pass Battlefield. Battlefields Route Kwazulu Natal. http://www.battlefieldsroute.co.za/place/bothas-pass-battlefield
  45. Volksrust Konsentrasiekamp gedenksteen en Muur van Herinnering. Volksrust, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  46. Volksrustkonsentrasiekamp. British Concentration Camps of the South African War, 1900 – 1902. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Histories/Volksrust/
  47. Huweliksinskrywing van David Kruger en Martha van der Merwe. NGK Wakkerstroom. https://www.familysearch.org/
  48. Theo W. Jandrell. https://en.wikipedia.org/wiki/Theo_W._Jandrell
  49. Slaap rustig, dapper helde! Opgeneem in FAK Sangbundel (1937). http://www.fak.org.za/wp-content/uploads/blerkas/woorde/035.txt
  50. Nkuna, N. 1999 Black involvement in the Anglo-Boer War, 1899 – 1902. Military History Journal, Vol 11(3/4), 1999. The South African Military History Society. http://samilitaryhistory.org/vol113nn.html
  51. Role of Black people in the South African War. http://www.sahistory.org.za/article/role-black-people-south-african-war
  52. Doodsertifikaat, sterfkennis, testament en boedel van David Frederik Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 2343/51, 1951
  53. NG Gemeente Harrismith. Gemeentegeskiedenisargief. ‘n Oorsig van die geskiedenis van die NG Kerk, sy gemeentes en predikante. https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/ng-gemeente-harrismith/
  54. A.A. van der Lingen. https://af.wikipedia.org/wiki/L%C3%AAer:Ds_AA_van_der_Lingen.jpg
  55. Oorlogsvergoedingseis van David Frederik Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB CJC 1189/769, 1903
  56. Lobar pneumonia. https://en.wikipedia.org/wiki/Lobar_pneumonia
  57. Pneumonia. https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/pneumonia/symptoms-causes/syc-20354204
  58. NG Gemeente Frankfort. Gemeentegeskiedenisargief. ‘n Oorsig van die geskiedenis van die NG Kerk, sy gemeentes en predikante. https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/ng-gemeente-frankfort/
  59. George Thom, b9c1. https://www.geni.com/people/George-Thom-b9c1/6000000041149803910
  60. Graf van ds. G. Thom. https://graves-at-eggsa.org/main.php?g2_itemId=5610
  61. Diphtheria. https://www.healthline.com/health/diphtheria
  62. Doopinskrywing van Barend Jacobus Kruger. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wakkerstroom (Transvaal), 1860-1949. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSK6-Z95Q-J?cat=539146

< BACK