Kruger: Oorsprong en betekenis van familienaam
Die Kruger familienaam is van Germaanse herkoms wat na twee moontlike beroepe van die oorspronklike naamdraers verwys. Aanvanklik is beroepsverwante vanne van die seun na die kleinseun oorgedra, indien hulle dieselfde professie as die vader gevolg het.
Hierdie beskrywende familienaam is afgelei van die pre-7de eeuse Hoog-Duitse woord “kruog” wat verwys het na glas en erdewerk, veral bekers, kruike en kanne. Die draer van hierdie afgeleide familienaam was dus ‘n vervaardiger of handelaar van sulke ware. Hoog-Duits is in die suide van Duitsland gepraat. Die moontlike tweede oorsprong van die familienaam was van die Middel-Duitse (ook bekend as niederdeutsche (nederduitse) of plattdeutsche (plat-Duitse)) woord “krug” wat gebruik is om ‘n herberg of taphuis/kroeg te beskryf. Iemand wat met hierdie woord beskryf was, was waarskynlik ‘n herbergier of kroegman (en hopelik nie die plaaslike kroegvlieg nie!).1-3 Plat-Duits is, en word steeds, in die noorde van Duitsland gepraat en is baie soortgelyk aan moderne Duits, wat ook in baie ander lande gepraat word.4 Gedurende die Middeleeue was die spelling van woorde ‘n hoogs onnoukeurige proses en het dus vele spelvariasies van die oorspronklike familienaam tot gevolg gehad. Vertaling daarvan van een dialek of taal tot ‘n volgende het verder hiertoe bygedra. Familienaamvariasies wat voorkom is Krüger, Kruger, Kroger, Croger, Cröger, Crüger, Krueger, Kroeger, Krugg, Krug, Crueg en andere.1,2
Ons Kruger-stamvader, wat in 1714 aan die suidelike punt van Afrika gearriveer het, was uit Brandenburg afkomstig. Dit maak nou deel uit van die huidige Federasie van Duitsland. In die 18de eeu was Duitsland egter nie ‘n verenigde, onafhanklike land soos ons dit vandag ken nie, maar het bestaan uit honderde onafhanklike state binne die groter Romeinse Ryk. Eeue gelede het verskillende, individuele Germaanse stamme in die noorde van Europa gewoon, rond gemigreer, en oorloë gevoer en het met tyd polities ontwikkel in hierdie kleiner state, hertog- en graafdomme, en vrye stede.5-11 Hoewel daar deesdae vele Kruger familiewapens in omloop is, is daar geen geloofwaardige en outentieke wapen vir ons Kruger-familielyn nie. Familiewapens is toegeken aan ‘n spesifieke persoon en sy afstammelinge, en het die eiendom van daardie familie gebly. Niemand anders met dieselfde maar onverwante familienaam mog dus daarop aanspraak gemaak het nie, en hierdie stipulasie is tot op hede steeds van toepassing. As iemand dus eienaarskap van ‘n spesifieke wapen vir hul eie familie wil opeis, moet so ‘n persoon wettige bewyse kan lewer van hul verwantskap aan die relevante familielyn van die oorspronklike wapendraer.12
- Last name: Kruger. http://www.surnamedb.com/Surname/Kruger#ixzz1YB25bCCr
- Kruger surname, family crest & coat of arms. https://www.houseofnames.com/kruger-family-crest
- Schmall, T. 25 July 2014. Even sinful medieval towns need maps. https://www.oxpal.com/medieval-town-map.html
- German language. https://en.wikipedia.org/wiki/German_language
- Holy Roman Empire. https://en.wikipedia.org/wiki/Holy_Roman_Empire
- Germany in the early modern period. https://en.wikipedia.org/wiki/Germany_in_the_early_modern_period
- Brandenburg-Prussia. https://en.wikipedia.org/wiki/Brandenburg-Prussia
- Prussia. https://en.wikipedia.org/wiki/Prussia
- History of Germany. https://en.wikipedia.org/wiki/History_of_Germany
- Migration period. http://en.wikipedia.org/wiki/Migration_period
- West Slavs. https://en.wikipedia.org/wiki/West_Slavs
- Suid-Afrikaanse familiewapens. http://www.oocities.org/hugenoteblad/fam-wapens.htm?201819