Johanna Catharina Aletta Kruger (*1966)

< BACK

   1. My kinderjare

Ek is bekend as Alta, wat ‘n genadige verkorting is van die Johanna Catharina Aletta wat my te beurt geval het op my geboortedag. Hoewel ek as my ouers se oudste kind beskou word, is ek eintlik hul tweede kind. My ouer boetie is op 27 Desember 1964 gebore, maar is ongelukkig ‘n uur later oorlede. Ek het ook ‘n jonger broer Pieter (*21 April 1969, Ermelo) en ‘n jonger suster Hester Elizabeth “Elsabie” (*18 Junie 1973, Ermelo).1-4 Albei is getroud met hul eie gesinne. Pieter is ‘n predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) van Suid-Afrika en Elsabie woon in Edmonton, Alberta in Kanada waar haar man as Passer-en-Draaier werk.

Op ‘n yskoue Hoëveldse wintersnag op 10 Julie 1966 kort na middernag het ek die wêreld al skreeuend binnegekom. Vir my ma, het sy eendag vertel, was my geskreeu soos musiek in haar ore, want haar eerste baba het na geboorte nie gehuil nie en is dadelik van haar weggeneem. My pa het my ook later vertel hoe hy in die hospitaalwagkamer gebibber het van die koue sodat sy knieë behoorlik teen mekaar geklap het. Natuurlik was hy ‘n baie skraal, lang man en die dun lagie insulerende vetjies in sy lyf was nie genoegsaam om sy gebeentes teen die ysvingers van die Hoëveldse koue te beskerm nie. Alle koue en angs is egter verdryf by die aanhoor van die nuus dat ‘n normale, gesonde dogter vir hom gebore is.5 Ek is op 2 Oktober 1966 deur Ds. Veltman gedoop in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) Ermelo Moedergemeente.1My ouers is Wentsel Christoffel “Chris” Kruger (20 September 1940, Volksrust – 31 Oktober 2009, Ermelo) en Elizabeth Gertruida Lourensina “Bettie” Munnik (*18 Oktober 1942, Breyten).6,7 Hulle het in Taute straat in Ermelo gewoon vanaf November 1964 tot Februarie 1969. Daarna het ons verhuis na Camden, 20 km suid-oos van Ermelo, nadat my pa ‘n pos by Camden Kragsentrale aanvaar het. Hier het ons vir 20 jaar gewoon tot in 1989, nadat my ouers ‘n huis in Ermelo gekoop het.5,8,9

My kinderjare was baie gelukkig en ongekompliseerd in ‘n veilige, rustige omgewing. Camden was ‘n klein, stil gemeenskap waar almal mekaar geken het. Die boere in die omliggende omgewing het ons kinders op hul plase toegelaat, solank ons geen moelikheid gemaak het nie. Ons het vir kilometers in die veld gestap, in die riviere geswem, babers met kaal hande gevang, kleilat gespeel, kranse uitgeklim en aan wilgerboomlatte rondgeswaai. Ons het ook gereeld in die aande op die netjies-versorgde gemeenskaplike grasperke van Camden saamgekom en speletjies soos handjie-klap, touch-rugby, sokker, kissing-touches en rounders gespeel. Soms het ons net gesit en kuier. Op Saterdagaande is daar óf gefliek óf gedans in Camden se groot ontspanningssaal. Die groot, gemeenskaplike swembad was ook ‘n gewilde uithangplek in die somer. Hier het ek en my vriendinne gereeld probeer – teen ons moeders se goeie raad in – om ons bleekwitvelletjies tot goudbruin, modelmooi aansien te sonbaai. Helaas, sonder veel sukses. Vir my was die “California girls”-look, waarvan die popgroep, Bee Gees sing, nie beskore nie. Die enigste korttermyn-beloning wat ek vir my moeite en tyd in die son gekry het was ‘n kreef-rooi, uiters-pynlike vel wat dae geneem het om te herstel. Die langtermyn-belegging daarvan het begin uitbetaal op die ouderdom van 24 jaar toe velkanker vir die eerste keer by my gediagnoseer is. Daarna het ek oor die jare gereeld onder die dermatoloog se mes deurgeloop ….. sien, ek moes na my ma geluister het! As tiener was die heel lekkerste vir my egter die lang skoolvakansiekuiers op my oupa Sys Munnik se plaas naby Hendrina. Ek het ure lank in die veld rondgeloop en my verbeelding skiet gegee. Onder die bome het ek passievol skoolgehou vir die agt gewaande kinders in my plaasskooltjie, of as cowboy op my vurige, pikswart (gewaande) perd die Rooi Indiane laat les opsê of in die lang gras van een vars, warm beesmishoop tot die volgende gespring dat die groen mis so spat ….. te lekker! Ek het saam met Oupa lande geploeg, mielies geoes, beeste gemelk, skape aangejaag kraal toe, diere gedip en vuur geslaan. Tot oupa se vreugde het ek gereeld saamgery in die bakkie om as entoesiastiese handlanger te dien, veral waar dit gekom het by die oop- en toemaak van al die plaashekke! Ouma Anna het verniet probeer om my te leer hekel of brei of kosmaak, as sy weer gekyk het was ek uit by die deur en weg die veld in totdat die son sy lê agter die heuwels gaan gekry het. Ag, hoe onthou ek nou die reuk van Ouma se heerlike, stomende melkkos, met kaneelsuiker bestrooi, terwyl ons in die aandstilte by gedempte kerslig om die lang kombuitafel aangesit het. En die ongelooflik-rustige stilte van die nag. En die hoenderhaan se gekraai dou-voor-dag, wat later in die dag ook luidkeels voor die agterdeur kuiermense se aankoms kom aankondig het nog voor hulle gearriveer het.

My skoolloopbaan het ek op Ermelo voltooi aan Laerskool J.J. van der Merwe en Hoërskool Ermelo, waar ek in 1984 gematrikuleer het. Na-uurse skoolaktwiteite het 800 m langafstande, pluimbal en skoolkonserte ingesluit. Ek het ook ‘n Diploma in Noodhulp ontvang na 18 maande se opleiding wat verskaf is deur die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga, waar beide my ouers ook lede was. Ons het elke dag tussen Camden en Ermelo met die bus gependel en dit het sy eie avonture meegebring.In Februarie 1975, net drie weke die nuwe skooljaar in, ry ons bus by ‘n spoorlynoorgang in ‘n goederetrein vas. Ek was agt jaar oud en my broer ses jaar en hy het pas met Graad 1 begin. Die busbestuurder het geen ag geslaan op die kinders se waarskuwingskrete van die naderende gevaar terwyl hy op die oorgang afgepyl het nie. Die bewegende trein, wat reeds desperaat remme aangeslaan het, het die voorkant van die bus met ‘n slag getref. Pandemonium het losgebars en kinders het by die vensters uitgespring, waar vele hul nerwe afgeval het op die harde teerpad; dit alles terwyl die verbygaande treintrokke met oorverdowende geraas aanhoudend teen die voorkant van die bus slaan. Ek en my boetie het in die middel van die bus gesit en hy was asvaal en groot-oog verskrik. Paniek het oor sy gesiggie geskryf gestaan en die aanskoue daarvan het my skielik met ‘n bo-natuurlike geesteskrag gevul wat my tot kalm aksie laat oorgaan het. Ek het my tas opgetel, my boetie stewig agter in sy nek aan sy baadjiekraag vasgevat, hom kalm dog ferm beveel om ook sy tas op te tel en hom toe stadig deur die chaos in die rigting van die busdeur gestoot. Hier het helpende hande van verbygaande motoriste wat tot ons redding gekom het, ons oor die groot stukke versplinterde busvensters wat die opening versper het, uitgetel. Ons het oorleef sonder ‘n skrapie of enige emosionele letsels. Nou wie glo nie in wonderwerke nie?!

In my tienerjare het ons beskonke busbestuurder ons ‘n baie avontuurlike en senutergende rit huistoe, besorg. Hoe meer die kinders gepleit het dat hy moet stilhou, hoe jovialer het die busbestuurder geword en hoe meer het die bus heen-en-weer oor die pad geslinger, selfs voor aankomende verkeer in. Vele sugte van verligting is geslaag toe die bus uiteindelik van die pad aftrek, nadat die ouer seuns die bestuurder na heelwat probeerslae oortuig gekry het dat die kant van die pad ‘n veiliger opsie was. Die bus het skaars tot stilstand gekom toe ‘n siedendende groep motoriste – wat van agter die kaskenades voor hulle in die pad aanskou het – op die steeds joviale bestuurder toegeslaan het. Vlug het nie gehelp nie, die stewige omies het hom ingehardloop en met die vuiste toegetakel. Nodeloos om te sê, Busbestuurder was daarna baie minder joviaal! En natuurlik sy werk ook kwyt.

In die 1980’s het die ondergrondse aktiwiteite van die toe polities-onwettige African National Congress (ANC), ‘n Swart bewustheids- en anti-apartheidsbeweging, al hoe meer prominent geword deur aksies van geweld en terreur wat deur die hele land uitgevoer is.10 Camden is nie gespaar nie en in 1983 is een van die 400 kV transformators by die kragstasie tydens ‘n bomontploffing verwoes.9 Genadiglik was my pa nie by die werk nie, maar hy is dadelik uitgeroep om hand by te sit in die onverwagse noodsituasie, om te verseker dat die elektrisiteitsvoorsiening na die nasionale elektrisiteitsnetwerk ongeaffekteer bly. Vir maande daarna het die bestaande Ermelo Kommando, waarvan my pa ‘n lid was, sagte teikens soos skole, winkelsentrums en plase bewaak en gepatrolleer.5 Ons het soos VIPs (very important persons) gevoel met hierdie ‘soldate’ in hul brownies en groot R1-gewere wat ons geleide gedoen het in die skoolbus.

Ek het baie beskut grootgeword, van die probleme daar buite in die wêreld was ek min bewus. Politiek is ook nooit in ons huis bespreek nie. In 1985 moes ek egter die groot stad Pretoria aandurf toe ek aan die Universiteit van Pretoria (UP) verder gaan studeer het. Ma pa het so ewe vir my ‘n .38 Special Rewolwer gekoop om myself teen die stadswolwe te beskerm – gelukkig was ek ‘n goeie skut wat gereeld op Camden se skietbaan geoefen het. Ek het tot in 1989 in die universiteitskoshuis Asterhof gewoon; meer spesifiek in die anneks Vergeet-my-nie en later in Kleinfant. Ek was een van die min bevoorregte eerstejaars wat ‘n motor besit het – ‘n blou 1975 Mini Clubman GTS 1275cc wat my pa self opgebou en gerestoureer het. Ek en my vriendinne het gereeld vir Mini op ‘n Saterdagaand volgeprop en gaan fliek, of gaan bokjol by een van die universiteit se manskoshuise of iewers ‘n draairoomys gaan eet.Bo-en-behalwe die genoodsaakte aandag wat aan klasbywoning en studies gegee moes word, het ek ook pluimbal gespeel vir die Asterhofspan in UP koshuisligas, asook vir die Eerste Span van UP Pluimbal wat aan Noord-Transvaalklub- en intervarsity-ligas deelgeneem het. Ek was ook baie betrokke by die studente-aktiwiteite van die studentekerk, NGK Universiteitsoord. Op Saterdagaande het ons Kerkplein ingevaar en daar – tussen die grootste kokkerotte wat ek nog ooit gesien het – die Goeie Nuus van Jesus Christus aan besoekers, partytjiegangers en boemelaars bekend gemaak. Tydens universiteitsvakansies het ek saam met mede-studente aan sendinguitreike deelgeneem. Desembervakansies het ek egter as laboratorium-assistent by Camden Kragsentrale gewerk om werkservaring op te doen en ook om sakgeld vir die nuwe studiejaar te verdien.   2. My man en kinders

In teenstelling met my voorsate, asook ook my eie neefs en niggies wat oor die algemeen in hul laat tienerjare of vroeë twintigs in die huwelik getree het, is ek eers op die ouderdom van 30 jaar getroud. Groot was die verligting vir my ouers en ooms en tantes, wat toe al ‘n paar jaar se bekommernis agter die rug gehad het oor hierdie ontluikende oujongnooi in hul midde. Hierdie heuglike dag het aangebreek op 7 Desember 1996, ‘n warm somersdag in Pretoria, toe my spreekwoordelike Engels-sprekende ridder op die witperd, ene Kevin Andrew Jamison (*17 September 1970, Chingola, Zambië) aan my die maan en sterre (en al sy geld, natuurlik) beloof het te Central Baptist Church, Arcadia.1,11 Kevin is ‘n lugvaart- en sisteemingenieur. Ons gesin woon reeds die afgelope 18 jaar in dieselfde huis in die middelklaswoonbuurt Die Wilgers, Pretoria-Oos. Vir ons is twee pragtige seuns gebore; Simeon Michael op 27 Maart 2000 en Conrad Timothy op 10 Oktober 2002.12 Beide het hul laerskoolloopbaan by St Paulus Primary School voltooi en is tans ingeskryf by Pretoria Boys High School. Ons seuns is goed tweetalig; ons huistaal is Engels, maar wanneer ek en my seuns alleen is, dan praat ons Afrikaans. LEES MEER oor my man, Kevin Jamison en ons kinders, Simeon en Conrad.

   3. My loopbaan

Ek het my graad Baccalaureus Scientiae (BSc) in Biochemie & Mikrobiologie in 1988 aan die Universiteit van Pretoria (UP) voltooi, en dit opgevolg met ‘n BSc Hons (Mikrobiologie) cum laude in 1989.1 Ek het daarna tot die arbeidsmark toegetree en as mediese tegnoloog by Niehaus & Botha Patoloë (nou geinkorporeer in Lancet Laboratories) in die Serologie departement begin werk. By die Health Professions Council of South Africa was ek as mediese tegnoloog sowel as mediese wetenskaplike geregistreer. Na agt jaar wou ek egter my vlerke sprei en verder studeer, en my nuwe pos as Junior Dosent in die Departement van Biomediese Wetenskappe aan Technikon Pretoria (nou Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT)) was die ideale omgewing daarvoor. In April 2004 is die graad Magister Scientiae (MSc) in Mensgenetika deur UP aan my toegeken, en ek is kort daarna bevorder tot Dosent, en Kursuskoördineerder vir Biomediese Tegnologie. My pligte het klasaanbiedinge in Biochemie, Chemiese Patologie, Biotegnologie en Molekulêre Biologie ingesluit, asook studieleiding van studente aan TUT wat ingeskryf was vir Magister Technologiae (MTech) in Biomediese Tegnologie. Ek was ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van die Hoëronderwys-kwaliteitsbeheerproses vir die vier diploma-programme wat deur ons departement aangebied is. Tussen-in het ek ook intensiewe opleiding in aanlynonderrig (e-learning) by TUT ontvang, en met die implementering daarvan in die vakke wat ek aangebied het, is ‘n beduidende toename in leerkwaliteit onder die studente waargeneem en gevolglik ook verhoogde slaagsyfers. Die akademiese – en navorsingsomgewing het ook vir my geleenthede geskep om nasionale sowel as internasionale konferensies by te woon, en ek was dus bevoorreg om Duitsland, Egipte en Italië te besoek. Die werkslading het egter al hoe meer geraak wat die balans met my gesin begin omverwerp het, sodat ek in 2007 na 10 jaar by TUT bedank het. In November 2007 is ek ‘n half-dagpos as Training Developer by Pebble Bed Modular Reactor Co (PBMR) in Centurion, Pretoria aangebied waar ek verantwoordelik was vir die ontwikkeling van hul e-learning sisteem asook die kwaliteitsbeheersisteem van opleidingsprogramme. Nadat die staat hierdie kernkraginitiatief in 2010 geskraap het, het ek besluit om die beroepswêreld vaarwel toe te roep en net op my gesin te fokus. Dis een van die beste besluite wat ek nog geneem het! Ek is nou, volgens my man, ‘n Domestic Engineering & Crisis Manager (ons sinoniem vir ‘tuisteskepper/huisvrou’).

   4. My persoonlike lewe

My enkelopendheid voordat ek getroud is, het ek ten volle benut deur elke geleentheid aan te gryp om deur Suidelike Afrika te toer. Ek was ‘n lid van twee voetslaanklubs en het maandeliks ‘n 2 tot 5-dag staptog aangepak; in die Laeveld, langs die Wildekus, in die verre Noorde of in die Kaapse berge. Ek het by ‘n drie-daagse kanosafari op die Oranjerivier aangesluit, white river-rafting op die Zambezirivier aangedurf (en bykans verdrink in ‘n watermaalkolk) en die skoonheid van die Okavango Delta in Botswana ingeadem terwyl daar ook in die koel, helder, krokodilryke kuile van die delta baljaar is. Ek het gesmul aan kapenta (klein gedroogte vissies) op die oornagferrie op Karibadam in Zimbabwe, vir drie dae deur Boesmanland in die Noord-Kaap geossileer op die rug van ‘n kameel genaamd Wolfie (dierbare ding!) en in die proses ‘n sagte deel van my anatomie nerf-af geskuur, die kultuurlewe van Swaziland ontgin, die asemrowende Afrika-sonsondergang oor Malawimeer ingedrink, en vir tien dae primitief geleef in my eenmantentjie op die tropiese eiland Inhaqa – 50 km oos van die Mosambiekse kus – terwyl ek die eksotiese vislewe al snorkelend verken het.Nadat ek getroud en my kinders gebore is, het ek meer besadigd geraak. Ek het later wel by my kinders se skole betrokke geraak, o.a. as lid van die ouer-skoolvereeniging en die herwinningskommittee, en ook as snoepie-hulp. As gesin geniet ons tyd saam met mekaar. Ons hou van kamp met ons karavaan, die natuurlewe, visvang, voëlkyk, lees, sokker en veteraanmotors. Bo-en-behalwe die gewone huishoudelike verantwoordelikhede, verwyl ek my beperkte vrye tyd met tuinwerk en familienavorsing (genealogie). Hierdie webwerf is die resultaat van my navorsingswerk en verskaf my eindelose plesier. Ek is ‘n lid van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA), en het reeds vir twee jaar as Lede-Sekretaresse van die GGSA Noord-Transvaaltak gedien.

Vir dié wat my lank gelede geken het as die stil, skaam, onseker, sagmoedige walk-over wat met stomheid geslaan is in ‘n oomlik van konflik, wag daar ietwat van ‘n verrassing as jy my nou weer moet ontmoet. Hierdie muurblom het in ‘n sonneblom verander! Nou, as ‘n middeljarige tannie met ‘n moederlike lyf, is my onsekerhede deurgewerk en al my bagasie agtergelaat. My geloof is onwankelbaar, my prioriteite ononderhandelbaar. En soos met ons almal, deel die lewe – en ook mense in die lewe – met verloop van tyd pynlike klappe uit. Dit kan ‘n mens bou of breek. Dis ‘n keuse, het ek geleer. Die pad van groei kan lank en soms pynlik wees, maar die uiteindelike beloning is vrymakend en opwindend! Ek het nog steeds ‘n sagte plek vir underdog-mense, en vir iemand wat op ‘n seerkryplek in hul lewe is deel ek graag my empatie en meelewendheid. Met beheervrate, manipuleerders, boelies, narssiste, smartvrate, selfsugtiges en ongeskiktes het ek egter geen geduld nie en vir hulle trek ek die grense vinnig, duidelik en ferm. Ek het ‘n erge renons in die negatiewe, uitputtende energie van pessimiste en martelaars, want ek verkies om so ver moontlik na die silwer randjie om die donker wolkie te soek. Ek kies om positief te leef – leef Godvol, nie gatvol nie!

Ek is mal oor die plek waar ek nou in my lewe is! To God alone I sing my praises!

< BACK

  1. Identiteitsdokument, doopsertifikaat, grade en huweliksertifikaat van Johanna Catharina Aletta Jamison (née Kruger)
  2. Grafsteen van Baba Kruger. Nuwe Ermelo Begraafplaas, Ermelo, Mpumalanga
  3. Kruger, B. 2007 Die Kruger-familie van Suider-Afrika. 1ste Ed. CD-publikasie. Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Noord-Transvaal takbiblioteek.
  4. Geboortesertifikate van Johanna Catharina Aletta Kruger, Pieter Kruger en Hester Elizabeth Kruger. In privaat besit van Dr. Ds. Pieter Kruger van Nigel, Gauteng, Suid-Afrika
  5. Familie-oorvertellings deur Chris en Bettie Kruger oor die jare heen
  6. Geboortesertifikaat, skoolrapporte, huwelikssertifikaat, egskeidingssertifikaat, doodsertifikaat, begrafnisbrief, werksdokumente, getuigskrifte, skyfiefoto’s en fotoalbums van Wentsel Christoffel Kruger. In privaat besit van sy seun, Dr. Ds. Pieter Kruger van Nigel, Gauteng, Suid-Afrika
  7. Geboortesertifikaat van Elizabeth Gertruida Lourensina Munnik. In privaat besit van haar seun, Dr. Ds. Pieter Kruger van Nigel, Gauteng, Suid-Afrika
  8. Camden Power Station. https://en.wikipedia.org/wiki/Camden_Power_Station
  9. Camden Power Station. http://www.eskom.co.za/sites/heritage/Pages/Camden.aspx
  10. History of the African National Congress. https://en.wikipedia.org/wiki/History_of_the_African_National_Congress
  11. Identiteitsdokument van Kevin Andrew Jamison
  12. Geboortesertifikate van Simeon Michael Jamison en Conrad Timothy Jamison

< BACK