David Frederik Petrus Johannes Senekal Kruger (1821 – 1899)
1. Sy kinderjare
David Frederik Petrus Johannes Senekal Kruger is op 8 Desember 1821 gebore. Hierdie man, wat swaar moes gedra het aan sy baie name, was my groot-groot-oupagrootjie.1,2 (In dokumente later in sy lewe word hy dikwels afkortend na verwys as David Frederik Kruger of David Frederik Senekal Kruger.)
Sy ouers, Barend Jacobus Kruger (1796 – 1842) en Anna Madgalena Senekal (1793 – ca 1822), het op die plaas De Vaale Fontein/Valefontein (Vaalfontein) in die Baviaanskloof omgewing in die Uitenhage Distrik geboer, waar Barend Kruger ook veldkornet was. David is op 8 Junie 1822 gedoop in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) Uitenhage deur ds Cornelis Mol. Die getuies by sy doop was David Petrus Frederik Senekal en David Frederik Johannes Senekal.1-6
NOTA: Op die na-doodse inventaris van Anna Magdalena Senekal is David Frederik Petrus Johannes Senekal Kruger se geboortedatum van 8 Desember 1821 verkeerdelik aangedui as 1 Desember 1821.2
Slegs ‘n jaar voor David se geboorte, het ongeveer 4 000 Britse setlaars in Algoabaai gearriveer en aan die Port Elizabethse kaai in 1820 en 1821 voet-aan-wal gesit. Hulle het almal plase ontvang aan die oosgrens van die groter Kaapkolonie, in die distrik Albany (voorheen bekend as die Zuurveld). Menige trekboere wat in die omgewing gewoon het, het hierdie nuwe burgers vanaf die kaai na hul nuwe tuistes vervoer.7-9Hoewel Fort Frederick reeds vanaf 1799 die baai teen ‘n moontlike Franse inval beskerm het, het ‘n dorpie rondom die fort eers teen 1815 begin ontwikkel. Op 6 Junie 1820 is die dorpsnaam ‘Port Elizabeth’ amptelik aanvaar. Van 1814 tot 1821 het die plaas Strandfontein (nou die Summerstrand strandwoonbuurt van Port Elizabeth) aan Pieter Mauritz “Piet” Retief (1780 – 1838) behoort wat later ‘n prominente Voortrekker leier geword het.7,9,10 ‘n Sensus in 1823 het getoon dat Port Elizabeth ‘n populasie van 180 Europese koloniste (73 mans, 30 vroue, 44 seuns en 33 dogters), 75 Khoikhoi werknemers en 64 slawe gehad het.11 Die markplein was naby die oorspronklike ankerplek en al die produkte wat in- of uitgevoer is, het deur die markplein beweeg. Hier is dan ook handel gedryf met ‘n verskeidenheid produkte wat deur lokale en distrikboere verkwansel is.10 Miskien het David Kruger per geleentheid saam met sy vader aan hierdie mark besoek afgelê en proviand aangekoop. Port Elizabeth lê egter 35 km suidoos van die dorp Uitenhage, wat nader aan hulle plaas in Baviaanskloof was, en dus meer waarskynlik die afsetgebied vir hul produkte was waar ook aankope gedoen is. Het hulle ooit enige kontak met hierdie nuwe Engels-sprekende setlaars gehad?
David Kruger het ‘n ouer broer en suster gehad naamlik Pieter Ernst Johannes Cornelius (1819 – 1861) en Elizabeth Catharina Petronella (1817 – 1861). Hulle moeder het hulle egter ontval voor David een jaar oud was.1,2,5 Sy vader het weer getrou en met tyd het David nog tien half-broers en -susters ryker geword. Sy vader is oorlede in 1842 en sy stiefmoeder, Johanna Jacomina Ferreira in 1843 toe David 21 jaar oud was.1,4,5 Wie David se minderjarige broers en susters versorg het na sy ouers se dood, is nie bekend nie. Sy ouer suster kon dit nie gewees het nie, want teen daardie tyd het sy en haar gesin reeds die Kaapkolonie verlaat tydens die Groot Trek. David en Pieter het pas met hul eie gesinne begin, met David se eersteling wat pas gebore was en sy 24-jarige broer, Pieter se oudste wat nog nie ‘n jaar oud was nie.
2. Sy vrou
David Kruger was getroud met Susanna Christina Rossouw,1,6 die vierde dogter en tweede jongste van sewe kinders van Pieter Rossouw (≈19 Augustus 1788) en Susanna Christina van der Merwe (≈20 Maart 1793 – 13 Augustus 1833). Susanna is op 21 Augustus 1825 gebore en gedoop op 20 November 1825 te NGK Uitenhage.1,6,12 Sy is oorlede na 1901. LEES MEER oor die Rossouws.
3. Sy beroep
David was ‘n veeboer en landbouer.1 Uit sy kinders se dooprekords kan afgelei word dat David Kruger en sy jong gesin teen ca 1851 uit die Uitenhage distrik weggetrek het via die die geanneksseerde Orange River Sovereighnty (Oranjeriviersoewereiniteit).1,6 Hulle het dus die Kaap verlaat net na die Groot Trek (1835 – 1845). Hoewel Die Trek afgeplat het na 1845, het Boere egter tot met 1854 uit die grensdistrikte van die Britse Kaapkolonie wegbeweeg.7,8 Saam met watter geselskap en onder wie se leierskap die Krugers verder noord getrek het, is egter nie bekend nie. Hoeveel besittings en vee hulle saamgeneem het, is ook ‘n raaiskoot. Eweneens kon ook geen rekords tot op hede gevind word wat ‘n aanduiding kan gee waar die trekkende Krugers hulself oor die volgende twee jaar sou bevind het nie. Teen 1853, het hulle agter reeds in die onafhanklike Zuid-Afrikaansche Republiek [ZAR] (Suid-Afrikaanse Boere-Republiek) in die omgewing van die huidige Pretoria (gestig in 1855) gearriveer, maar teen die 1860s het hulle weer verhuis na die Boere Republiek van Oranje-Vrijstaat [OVS] (Oranje-Vrystaat), wat in 1854 onafhanlikheid van Brittanje beding het. David is oorlede in 1899 in die verre-noorde van die OVS in Parijs (Parys),1,6 ‘n plattelandse dorp aan die suidelike oewer van die Vaalrivier wat die grens gevorm het tussen die ZAR en die OVS.13
Vanaf 17 Januarie 1852, toe die Sandrivier Konvensie onderteken is, het Brittanje die ZAR as ‘n onafhanklike Boererepubliek erken. Op daardie stadium het ‘n kleiner self-geproklameerde ZAR bestaan uit die samesmelting van ‘n gedeelte van die Republiek van Potchefstroom en kleiner Voortrekker-gebiede soos die Magaliesberg-gebied en Rustenburg-gebied, met Potchefstroom wat as hoofstad gedien het. Na die ondertekening van die konvensie, het die grense van die ZAR egter met tyd verskuif deurdat die Republiek van Lydenburg(-Utrecht) en die Republiek van Zoutpansberg (Soutpansberg) by die ZAR aangesluit het, respektiewelik in 1860 en 1864, om ‘n groter, verenigde Boere-republiek te vorm. Die hoofstad van die verenigde ZAR het in 1860 verskuif van Potchefstroom na Pretoria.8,14Die onafhanklikheidswording van die Republiek van Oranje-Vrystaat het gevolg op 23 Februarie 1854 met die ondertekening van die Bloemfontein Konvensie, ook bekend as die Oranjerivier Konvensie. Sedert 1848 was die Oranje-Vrystaat onder Britse beheer en bekend as die Oranjerivier-soewereiniteit, waarby die voorafgaande Boere Republiek van Winburg ingelyf was. Die Oranjerivier-soewerweiniteit was dus die voorloper van die Vrystaatse Boererepubliek.8,15-17 Dit verklaar dalk waarom David Kruger en sy gesin hulle eerder in die ZAR gaan vestig het in die vroeë 1850s, aangesien Brittanje op daardie stadium oor die Vrystaat, soos in die Kaap, die septer geswaai het. En hieruit kan dalk afgelei word wat David Kruger se gevoelens omtrent die Britte was. Het hy oorspronklik in die Kaap agtergebly terwyl Boere in massas die binneland ingetrek het, in die hoop dat die Britse regering tog positief op die grensboere se pleidooie en griewe sou reageer? Het uiteindelike diepe terleurstelling hom gedryf om ook te trek? Of het hy in die Uitenhage distrik agtergebly om eers na sy minderjarige halfbroers en -susters om te sien, totdat hulle van selfstandige en hubare ouderdom was, en hy meeste van hulle met ‘n geruste hart in goeie hande kon agterlaat, voor hy die lang tog binneland toe aangepak het?
Teen 1860 – waar David hom toe reeds in die noorde tussen die Boere-trekkers bevind het – het ernstige verskille tussen die Boere-leiers ontstaan wat die ZAR burgers in verskillende politieke faksies verdeel het en wat uiteindelik tot uitbarsting gekom het met die Transvaalse Burgeroorlog tussen 1862 en 1864. Die sneller van die politiese skermutselinge was die tweeledige presidentskap van Mathinus Wessel “MW” Pretorius (1819 – 1901), seun van die gewilde Voortrekkerleier Andries Pretorius (1798 – 1853). Hy was die eerste staatshoof van die ZAR vanaf 1857. Sy aanvaarding van die presidentskap van die OVS in 1859, in ‘n poging om die ZAR en OVS te verening, is goed ontvang deur sommige ZAR burgers maar vir ander het dit dwars in die krop gesteek. So erg was die ontevredenheid van o.a. die Transvaalse Volksraad, waaronder Kommandant-Generaal Stephanus Johannes Paulus “Paul” Kruger (1825-1904), dat ‘n ultimatum in 1860 aan Pretorius gestel is. Pretorius het daarna as ZAR president bedank en aangebly as OVS president tot in 1863. In die ZAR, het Johannes Hermanus “Hans” Grobler (1813 – 1892) as waarnemende president opgetree vanaf 1859 tot 1860, maar sy ontsetting as president deur Stephanus Schoeman (1819 – 1890) en sy ondersteuners, was verdere olie op die vuur, aangesien Schoeman homself toe nie-grondwetlik aangestel het as president van die ZAR. Aan hierdie posisie het hy hardnekkig bly vasklou ten spyte van die Volksraad se pleidooie en dreigemente. Vroeg in 1862, het die Volksraad vir Schoeman en sy politieke ondersteuners as rebelle teen die ZAR verklaar. Dit het tot openlike konflik tussen die verskillende faksies gelei. Teen April 1862, slaag Kruger en sy staatstroepe daarin om vir Schoeman uit die ZAR verdryf. Die Schoeman-faksie het egter met geweld probeer om Schoeman tot sy presidensiële posisie te herstel. In Januarie 1864, het Schoeman-ondersteuners, genaamd ‘People’s Army’ – gelei deur Kommanadant Jan Viljoen – ‘n aanval geloods teen Kruger en sy ‘Staatsweermag’ maar het ‘n vernederende nederlaag gelei. Dit het ‘n einde gebring aan die burgeroorlog, met Pretorius wat in Mei 1864 herverkies is as ZAR president.8,18-21Die burgeroorlog het egter ‘n ineenstorting van die Transvaalse ekonomie tot gevolg gehad en het die outoriteit en soewereiniteit van die ZAR regering ondermyn.8,18 Hierdie ekonomiese krisis in die ZAR was waarskynlik een van die hoofredes waarom David Frederik Petrus Johannes Senekal Kruger uitgewyk het na die OVS. Verder was twee van sy halfbroers en hul gesinne reeds woonagtig in die Vrystaat. Ignatius Kruger (1829 – 1890) het in die Bloemfontein distrik gewoon en Marthinus Kruger (1838 – 1922) in die omgewing van Frankfort.
Vanaf 1864 tot 1888 was Johannes Henricus Brand “Jan” (1823 – 1888) die verkose president van die OVS. Hy was ‘n gewilde leier, baie godsdienstig en van onbesproke karakter in beide die publieke oog en in sy private lewe. Die langdurige konflik met die Basoto’s aan die oosgrens het tot drie onderskeie oorloë gelei maar vrede is uiteindelik bewerkstellig in die laat 1860s. Hoewel Brand die vereniging van die OVS en ZAR ondersteun het, het hy verkies om dit nie na te jaag en daardeur Brittanje se argwaan op die hals te haal nie, maar het eerder ter wille van vrede ‘n beleid van neutraliteit teenoor Brittanje gehandhaaf. Dit sou later Brittanje wees wat die Bloemfontein Konvensie verbreek het met die anneksering van die OVS in 1900.8,17,21
David Kruger het dus die onafhanklikheidswording van die die ZAR en die OVS beleef. Hoe betrokke hy egter was by die politieke ontwikkelinge en – skermutselinge is nie bekend nie, maar dit lyk of hy ‘n man was wat eerder rus-en-vrede verkies het. Die ontdekking van diamante (in 1871) en goud (in 1886) in die ZAR het egter ‘n stormloop van fortuinsoekers uit die Kaap sowel as die buiteland tot gevolg gehad.8 En Parys, waar David die laaste jare van sy lewe deurgebring het, het nie hierdeur onaangeraak gebly nie. Die dorpie het ontwikkel in ‘n gewilde rus- en oornagplek op die roete tussen die Kaap en die goudryke Witwatersrand. Hotelle is opgerig en meer as een pont was beskikbaar om reisigers oor die Vaalrivier te vervoer. Besoekers is ook met klein bootjies na verskeie eilande in die rivier geroei om daar uit te span en piekniek te hou.22
4. Sy afsterwe
David Frederik Petrus Johannes Senekal Kruger is op die ouderdom van 78 jaar, 6 maande en 15 dae op 24 Junie 1899 oorlede in sy huis in Parijs (Parys).1,6 Hoewel Parys reeds in 1876 gestig is, het dit eers in 1887 amptelike dorpstatus verkry. Die dorp is waarskynlik vernoem na die Duitse landmeter, ‘n ene Schilbach wat tydens die Beleg van Parys in Frankryk in 1870 tot 1871 geveg het. Die oewers van die Vaalrivier het hom blykbaar herinner aan dié van die Seinerivier wat vloei deur die stad, Paris (Parys) in Frankryk.13,23Die Tweede Anglo-Boere Oorlog het drie maande na sy dood uitgebreek. David Kruger is dus genadiglik die trauma van die oorlog gespaar, waarin van sy seuns en broerskinders gesneuwel en van sy kleinkinders, asook niggies en nefies in konsentrasiekampe gesterf het.
5. Sy kinders
5.1 Susanna Christina
Susanna is op 4 Julie 1843 gebore, vier dae voor haar stiefouma, Johanna Jacoba Ferreira, oorlede is. Sy is drie maande later op 1 Oktober 1843 in NGK Uitenhage gedoop.1,6
5.2 Barend Jacobus
Barend kom die wêreld binne op 15 Desember 1846 en word gedoop op 10 Maart 1847 te NGK Uitenhage.1,6
5.3 Anna Magdalena
Anna word gebore op 24 Augustus 1850 en gedoop te NGK Uitenhage op 26 November 1850. Die doopgetuies was Ignatius Wilhelm Prinsloo, Elizabeth Jacoba Senekal, asook Joachim Prinsloo en Elizabeth Petronella Kruger.1,6
5.4 Piet
Piet is gebore op 2 Augustus 1852 in die Pretoria distrik, op 10 Maart 1853 gedoop en oorlede op 10 Junie 19001,24 toe hy tydens die Tweede Anglo-Boere Oorlog gesneuwel het. Hy was getroud met Anna Elizabeth Eksteen.1,6 Hulle was my groot-groot-grootouers. LEES MEER oor Piet Kruger.
5.5 David Frederik jnr.
David jnr. is gebore in Desember 1856.6,25,26 Hy is op 23 Januarie 1875 in NGK Frankfort deur ds. C.P. Theron aangeneem. Sy toekomstige skoonsuster, Anna Elizabeth Eksteen, het op 1 Mei in dieselfde jaar lidmaatskap verkry.27 NGK Franfort is in 1873 as die 18de gemeende in die Vrystaatse Sinode gestig en is deur konsulente bedien tot en met 1894 toe die eerste permanente predikant, Ds. George Thom (1855 – 1908) ingehuldig is.28 Op 3 Mei 1875 trou hy met Elizabeth Francina Eksteen.6,25,26 Sy vrou was die ouer suster van Anna Elizabeth Eksteen, wat met David se ouer broer, Piet Kruger (5.4) getrou het. Hulle was die dogters van Anna Elizabeth “Elsie/Elsabe” Marais en Jacobus Johannes Eksteen (1827, Riversdale, Britse Kaapkolonie – ca 1899, Frankfort, OVS). Elizabeth Eksteen is gebore op 30 Januarie 1856 en gedoop op 1 Junie 1856 te NGK Swellendam.29
David en Elizabeth het saam vyf kinders gehad naamlik David Frederik (24 Februarie 1876 – 29 September 1935, Springs), Jacobus Johannes (*22 Augustus 1877, ≈21 April 1878, NGK Harrismith – ?), Barend Jacobus (30 September 1879, Ladysmith – 30 Maart 1967, Krugersdorp), KINDERS??? harrismith/frankfort Anna Elizabeth (1885 – ?) en Elizabeth Francina (1889 – ?; later getroud met Hendrik van der Merwe [1878 – 1908]). Elizabeth Francina (Eksteen) Kruger is egter oorlede op die ouderdom van 35 jaar op 5 Mei 1891 op die plaas Springbokvlakte waar hulle veeboere was. Die kinders was onderskeidelik 15, 11, 6 en 2 jaar oud met haar afsterwe. Haar boedel is op 9 October 1891 afgehandel. Springbokvlakte was geleë naby die dorpie Piet Retief (gestig in 1883), Ermelo Distrik, in die Klein-Vrystaat, ‘n kortstondige Boere-republiek (1886 – 2 Augustus 1891), voordat dit in die ZAR geabsorbeer is.6,25,26,30-33Na sy eerste vrou se oorlye, trou David weer, met Martina Wilhelmina Adriana Cilliers. Uit hul huwelik is ook vier kinders gebore. Die kinders was Hester Agnes (ca 1893 – 1973), Martin Willem Adriaan (ca1894 – ca 1925), Pieter Frederick (9 Januarie 1899, Heidelberg, OVS – 15 April 1927, Kimberley) en Susanna Christina (28 Augustus 1908, Bethal – 12 Februarie 1989, Ermelo).6,25,26
5.6 Hester Petronella Elizabeth
Sy is op 12 Julie 1860 gebore.34 Hester was die tweede eggenote van Alexander Ross jnr. (20 Mei 1854, Aberdeen, distrik Graaff-Reinet – 23 Desember 1943, Frankfort, OVS), seun van Alexander Ross snr. (1814 – ?) en Johanna Maria van Rooyen (1832 – 1860). Alexander jnr. se eerste vrou was Anna Maria Gertruida Aletta Wilhelmina Rossouw (≈24 April 1857 – 24 Maart 1879; sy is oorlede voordat enige kinders vir hulle gebore is.34,35
Alexander en Hester Ross en hul kinders was ten tye van die ABO2 woonagtig in Heilbron-omgewing. Hy was lid van die Frankfortse Boerekommando en het as bittereinder-kommandant in Junie 1902 wapens neergelê.36 Hulle kinders was Susanna Christina (19 September 1880 – ?), Johanna Maria (12 Augustus 1882 – 1883), Hester Petronella Elizabeth (15 Januarie 1884, Frankfort – 28 Maart 1970, Viliiers), Aletta Isabella (8 Januarie 1887 – ?), Alexander (15 Oktober 1888, Frankfort – 10 November 1964, Springs), Anna Magdalena (17 Julie 1890 – ?), David Frederick (23 Julie 1892, Frankfort – 17 November 1962, Vrede), Robert Marianne (27 Junie 1894, Frankfort – 22 Maart 1960, Johannesburg Hospitaal), Daniel Jacobus (3 April 1896 – 6 Desember 1926) en Agnes (15 Februarie 1899 – ?).35
Hester is op 78-jarige ouderdom op 16 September 1938 oorlede en haar man, Alexander Ross vyf jaar later toe hy 89 jaar oud was. Albei is te ruste gelê in die hoofbegraafplaas op Frankfort.345.7 Daniel Jacobus Petrus
Hy is gebore in Jansenville in ca 1862 en oorlede op 18 April 1907 te Vredefort. Hy trou met Helena Dorothea Janse van Vuuren en saam het hulle sewe kinders gehad. Hulle was Helena Dorothea (*ca 1889), Susanna Christina (*ca 1891), David Frederik (ca Maart 1892 – 25 Desember 1940, Bethal, Transvaal), Alida Aletta (*ca 1895), Lucas Cornelis (≡23 Maart 1899, plaas Danielsrust, Heilbron distrik – 16 November 1901, Vredefort konsentrasiekamp), Hester Petronella Elizabeth (*5 April 1901, ≈30 Junie 1901, NGK Vredefort, †ca 1973) en Susarah Johanna (*ca 1906).1,6
5.8 Ignatius Wilhelmus
Ignatius is gebore op 25 September 1865 en gedoop te NGK Bloemfontein op 3 Februarie 1866. By sy doop as getuies was sy oom Ignatius Wilhelm Kruger en sy gade, Jacoba Sophia Otto;1,6 sy pa se jonger halfbroer wat later saam met sy gesin in die Bloemfontein omgewing woonagtig was.
- Kruger, B. 2007 Die Kruger-familie van Suider-Afrika. 1ste Ed. CD-publikasie. Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Noord-Transvaal takbiblioteek.
- Inventaris van Anna Magdalena Senekal. Inventories of the Orphan Chamber, http://databases.tanap.net/mooc/make_pdf.cfm?output=pdf&id=MOOC8/68.12a
- Vaalfontein. https://www.google.co.za/maps/place/
- Death notice Barend Jacobus Kruger. South Africa, Cape Province, Probate Records of the Master of the High Court, 1834-1989, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSQX-MQLD-H?cc=2517051&wc=WV44-SZV%3A1598082367 : 12 June 2018), 007844936 > image 2082 of 2223; Pietermaritzburg Archives (Formerly Natal State Archives), South Africa (KAB 5976 1843)
- Veldkornet Barend Jacobus Kruger 1796-1842. https://www.geni.com/people/Veldkornet-FieldCornet-Barend-Kruger-b8c4d6/6000000018565454924
- David Frederik Petrus Johannes Senekal Kruger. https://www.wikitree.com/wiki/Kruger-2957
- Binckes, R. 2013. The Great Trek uncut. 1ste Ed. 30º South Publishers: Pinetown.
- Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
- Port Elizabeth. https://en.wikipedia.org/wiki/Port_Elizabeth
- Nelson Mandela Bay Tourism. https://www.nmbt.co.za/historical_port_elizabeth.html
- Port Elizabeth Timeline 1799-1986. http://www.sahistory.org.za/topic/port-elizabeth-timeline-1799-1986
- SAG
- Parys. https://en.wikipedia.org/wiki/Parys
- Sandrivier-konvensie. Bloemfontein-konvensie. https://af.wikipedia.org/wiki/Sandrivierkonvensie
- Bloemfontein-konvensie. https://af.wikipedia.org/wiki/Bloemfontein-konvensie
- Oranjerivier-soewereiniteit. https://af.wikipedia.org/wiki/Oranjerivier-soewereiniteit
- Orange Free State. https://en.wikipedia.org/wiki/Orange_Free_State
- Transvaal Civil War. https://en.wikipedia.org/wiki/Transvaal_Civil_War
- Marthinus Wessel Pretorius. https://en.wikipedia.org/wiki/Marthinus_Wessel_Pretorius
- Stephanus Schoeman. https://en.wikipedia.org/wiki/Stephanus_Schoeman
- Johannes Brand. https://en.wikipedia.org/wiki/Johannes_Brand
- Mouton, A. Parys in Beeld – Historiese agtergrond. http://www.woes.co.za/bydrae/druk/artikel/parys-in-beeld-historiese-agtergrond
- Streekwenner 7: Parys (Vrystaat). http://afrikaans.com/projekte-wen/streekwenner-7-parys-vrystaat/
- Grafsteen van Piet Kruger. Familiekerkhof op die plaas Koringplaas, Distrik Volksrust, Mpumalanga, Republiek van Suid-Afrika.
- David Frederik Kruger 1856. https://www.ancestry.co.uk/boards/thread.aspx?mv=flat&m=352&p=surnames.kruger
- David Frederick Kruger (1856). https://www.wikitree.com/wiki/Kruger-259
- Aanneming van David Frederick Kruger en Anna Elizabeth Eksteen. 1876 NGK Frankfort, Frankfort, Republiek van Oranje-Vrystaat. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSK6-RSGS-T?i=517&cat=377417
- NG Gemeente Franfort. Gemeentegeskiedenisargief. ‘n Oorsig van die geskiedenis van die NG Kerk, sy gemeentes en predikante. https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/
- Jacobus Johannes Eksteen. https://www.geni.com/people/Jacobus-Johannes-Eksteen-b12c8d5e8/6000000013950134812
- Sterfkennis van Elizabeth Francina Eksteen. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG O/6295A, 1891
- Klein Vrystaat. https://en.wikipedia.org/wiki/Klein_Vrystaat
- Barend Jacobus Kruger, b8c4d6e3f6g2. https://www.geni.com/people/Barend-Kruger-b8c4d6e3f6g2/6000000030914232871
- Grafte van Alexander Ross en Hester Eksteen. Hoofbegraafplaas, Frankfort, Vrystaat, Suid-Afrika. http://www.graves-at-eggsa.org/main
- Hester Petronella Elizabeth Kruger. https://www.geni.com/people/Hester-Kruger/6000000074229211834
- Alexander Ross. League of Veterans. Anglo-Boer War Museum. https://www.wmbr.org.za/view.asp?pg=research&pgsub=databases&pgsub1=13&head1=League%20of%20Veterans&strGlobalTerms=Ross&opt=ditem&rdID=12463