David Frederick Kruger (1877 – 1951)

< BACK

   1. Sy kinderjare

David Frederick Kruger het op 2 Maart 1877 die lewenslig aanskou as eersgeborene van Piet Kruger (1852 – 1900) en Anna Elizabeth Eksteen (1857 – 1940).1-5  ‘n Jaar later op 21 April 1878 is hy te NGK Harrismith gedoop. Sy ouma en oupa aan beide vaderskant en moederskant het die doopdiens bygewoon. David se paternale grootouers, Susanna Christina Rossouw (1825 – >1901) en David Frederik Petrus Johannes Senekal Kruger (1821 – 1899) het as sy doopgetuies opgetree. Sy maternale grootouers, Jacobus Johannes Eksteen (23 Mei 1827, Riversdale distrik, Britse Kaapkolonie –  <1899, plaas Zwartkoppies, Frankfort distrik, Republiek van Oranje-Vrystaat [OVS]) en Louisa Jacoba Janse van Rensburg (1843 – >1927) was die getuies van David se nefie, Jacobus Johannes Kruger (*22 Augustus 1877), seun van sy oom, David Frederick Kruger (1856 – ?) en tante, Elizabeth Francina Eksteen (1856, Swellendam – 1891, plaas Springbokvlakte, Piet Retief, Zuid-Afrikaansche Republiek [ZAR]), wat by dieselfde geleentheid as hy gedoop is.1,2,6,7 David en Jacobus se doop is waargeneem deur ds. A.A. van der Lingen van Nederduits-Gereformeerde Kerk (NGK) Harrismith, wat vir agtien jaar daar as leraar gewerk het, en ook op die Vrystaatse Volksraad gedien het.1,8,9 Ten tye van David se doop het sy ouers sowel as sy oom en tante op die plaas Wonderhoek (OVS plaasno. 1698) gewoon, wat ongeveer 40 km suid-wes van Harrismith geleë is.1,10 

David is dus in die suide van die OVS teen die grens van die Britse Protektoraat van Basoetoland (nou Lesotho) gebore.1,10,11 In ongeveer 1881 het die gesin verder noord getrek.12,13 ‘n Moontlike rede vir hul vertrek was die impak van Anglo-Basoeto Oorlog van 1880 tot 1881 op omliggende boere wat teen die grens gewoon het.11 In 1882 was die Krugers reeds in Frankfort se omgewing waar hulle op Yarrow – vermoedelik ‘n plaas – gewoon het.13,14 Iewers tussen 1886 en 1898 het die Kruger-gesin weer verhuis en met die aanvang van die Tweede Anglo-Boere Oorlog (ABO2) in 1899 het hulle hulself in die Wakkerstroom distrik van die ZAR bevind as bywoners op die plaas Korenplaats/Koornplaats (nou Koringplaas) (ZAR plaasno 4, Transvaal no 132 HS), wat ongeveer 40 km wes van Volksrust geleë is.10,14-16 Teen daardie tyd was David reeds 22 jaar oud. Hy het toe reeds die afsterwe van ‘n jonger sussie beleef en sou binne die volgende twee jaar sien hou sy 48-jarige vader langs hom doodgeskiet word, en ook ‘n broer en suster weens onderskeidelik longontsteking en witseerkeel aan die dood afstaan in Volksrust se konsentrasiekamp.17-19

   2. Sy vrou

2.1 Martha Maria van der Merwe

Op 21 Oktober 1902, net vyf maande na die vredesluiting wat einde van die ABO2 aangekondig het, het die 25-jarige David Kruger met die 28-jarige Martha Maria “Mart” van der Merwe (31 March 1874 – 21 February 1956) in die NGK te Volkrust in die huwelik getree.2,3,20-22 Ten tye van sy huwelik het David gewerk op die plaas Honingvallei (Heuningvallei) (ZAR plaasno 7, Transvaal no 104 HS), ook bekend as Lötterskrans onder die teenswoordige boeregemeenskap. Die plaas lê ongeveer 20 km suid-wes van die klein dorpie, Perdekop (voorheen Paardekop) en 40 km wes van Volksrust.2,10,16

 

David en sy vrou het later op Roodedraai gaan woon saam met al die ander Van der Merwe broers en susters en hul gesinne, waarna David in 1921, na sy skoonmoeder se afsterwe, die gedeelte van die plaas geërf het waarop hulle reeds gewoon het.23,24 Mart se ouers was Gerhardus Petrus “Gert” van der Merwe (10 September 1843 – 18 Julie 1889) en Maria Catharina “Mieta” Slabbert (1 Junie 1844 – 20 Februarie 1920) van die familieplaas Roodedraai (Lydenburg no. 264, ZAR no. 64, Transvaal no. 129 HS). Hierdie plaas was sedert 18 September 1872 in die besit van die Van der Merwe familie, en tydens die onderverdeling in 1921, ongeveer 2 028 morge (17.4 km2) groot.10,23-28

Mart was die sesde van elf kinders, gebore op 31 Maart 1874 te Roodedraai en gedoop op 10 Mei 1874 in die NGK in die 20-jaar oue dorpie  Marthinus-Wesselstroom (herdoop na Wakkerstroom in 1904). Teenwoordig as doopgetuies was haar tante Martha Maria van der Merwe (26 Apil 1840 – 30 September 1903, Standerton) en dié se eggenoot, Carel Frederik Pieter Johannes Jordaan (21 Maart 1836, Cradock distrik – 28 April 1902, Standertonkonsentrasiekamp), asook haar 18-jarige tante, Hendrina Catharina Cecilia Slabbert (1855, plaas Rusthoek, Wakkerstroom – 7 November 1901, Belfastkonsentrasiekamp.21,25,29,30

Mart van der Merwe se broers en susters was Johanna Hendrina (1865 – 1927), Cornelis Johannes (1866 – 1914), Aletta Susanna (1868 – ?), Gerhardus Petrus (1870 – 1957), Maria Catharina (1872 – 1942), Marthinus Gerhardus (1875 – 1940), Jacob Abraham Johannes (1877 – 1901), Hendrik (1878 – 1908), Barend Jacobus (1880 – 1915) en Jacobus Johannes (1882 – 1955).2,,23,25-37 Al die broers het met die uitbreek van die ABO2 by boerekommando’s aangesluit, maar meeste het later oorgegee.38,39 Een broer, Jacob, het tydens die oorlog op 24 Junie 1901 gesneuwel.23,31,38 Mart was besonder geheg aan hierdie jonger broer en sy dood was vir haar ‘n harde slag.38 LEES MEER oor die Van der Merwes.

Die 26-jarige Mart, haar moeder, susters en skoonsusters het uiteindelik almal in die Volksrust konsentrasiekamp beland,39 maar nie voordat Mart en Mieta die Britse soldate eers op hulle neuse laat kyk het en hul argwaan op die hals gehaal het nie. Teen middel 1901 het die soldate op Roodedraai opgedaag om hul vernietigingswerk uit te voer, en die vroue en kinders na die konsentrasiekamp weg te neem. Tant Mieta en die ongetroude Mart is min tyd gegee om ‘n bietjie voorraad en klere bymekaar te skraap. Teen daardie tyd was tant Mieta al hoogs ontstoke, want haar hoenders was reeds doodgemaak en die varke met die bajonette doodgesteek. Sy sê toe vir Mart aan om turksvye te gaan pluk en dit in ‘n sloop te gooi. Mart moes dit so doen dat die soldate haar duidelik kon sien. Mart het haar hande goed met botter gesmeer en die opgelegte taak tot op die letter gaan uitvoer. Die soldate het intussen nuuskierig nadergestaan en Mart het hulle laat proe. Gretig wou die soldate nog hê, en net so gretig het Mart uitgedeel toe sy hulle vra om hul hemde oop te hou sodat sy kan ingooi. Nodeloos om te sê wat die soldate se reaksie was toe die fyn turksvydorinkies hul werk met mening begin uitvoer het teen die bleekwit, Engelse borskasvelletjies! 38,40

In die konsentrasiekamp moes Mart en die ander Van der Merwes daagliks oorleef, omring met dood, smart, lyding, wanhoop en onsimpatieke, vyandige Britse wagte. Eers na die beëindiging van die oorlog, kon hulle terugkeer na …. niks. Die plaas, hul woonhuise, vee, oeste … als was vernietig. Met die minimum moes hulle daar oorleef en uit niks die afgebrande plaas weer opbou.38,40-46 Uit Mart en David se egverbintenis is vier dogters en een seun gebore. Drie van hul dogters is egter jonk oorlede.2,47-50 In die 1920’s het nog meer hartseer die Kruger-gesin getref deurdat Mart in haar vroeë vyftiger jare tekens van geestelike onstabiliteit begin toon het wat met tyd vererger het. Haar geestesversteuring het later so ‘n ernstige gevaar vir haar geliefdes en ander in haar teenwoordigheid begin inhou dat sy iewers tussen 1932 en 1934 (berekende jaartydperk) in die Komani Psigiatriese Hospitaal in Queenstown in die Kaapprovinsie (nou Oos-Kaapprovinsie) geinstitusionaliseer is.22,51 Familie kon getuig hoe ouma Mart haar skoondogter met ‘n lang mes ronggejaag het, of besoekers gedreig het. Mart sou al haar klere uittrek en so voor gaste verskyn of nakend in die veld gaan rondloop. Soms het Mart gillend rondgehardloop en ander kere weggesink in lang stiltes in ‘n wêreld van haar eie. Haar toenemende aggressiwiteit was egter die keerpunt wat tot haar uiteindelike opname in ‘n gestig (psigiatriese hospitaal) gelei het.52 Sy die res van haar lewe in Komani Hospitaal gebly en is uiteindelik op die ouderdom van 81 jaar en 11 maande op 21 Februarie 1956 oorlede. Sy is in Queenstown begrawe maar huidiglik weet niemand in die familie waar haar graf presies is nie.2,22,52

Of Mart se hospitalisasie ‘n aangename en terapeutiese ervaring was, is te betwyfel. Die behandeling van psiagtriese pasiënte – die malles, kranksinniges of sielsiekes soos algemeen na hulle verwys is – was sedert die vroegste tye onsimpatiek en meesal onmenslik, veral weens die stigma wat met sulke pasiënte geassosieerd was. Hierdie mense is uit die samelewing geïsoleer en familielede het meesal van hul geliefde ‘vergeet’, juis weens hierdie stigma. Die wat wel geld of pakkies met lekkernye of klere gestuur het, was selde seker of hul geliefde dit sou ontvang, aangesien menige verpleegster haarself daartoe gehelp het. Mediese behandeling in die 1940’s en 1950’s het dikwels gevaarlike tegnieke soos hoë dosis elektriese skokterapie en ewe gevaarlike medikasies ingesluit. Sielkundige berading was op daardie stadium ‘n onbekende term. In Februarie 1950 het Susanna Maria Bleicher – ‘n voormalige verpleegster wat voorheen in verskeie sielsieke inrigtings, insluitend Komani, werksaam was – ‘n brief van vyf bladsye lank aan die Cape Argus, ‘n koerant in Kaapstad, geskryf waarin sy skokkende onthullings soos volg gemaak het: Die hospitale was dikwels oorvol en vuil en die kos van swak gehalte. Die meeste verpleegsters, insluitend verpleegsusters en matrones, was ook nie opgelei en toegerus om met sielsiekes te werk nie, het nie die nodige aanleg of roeping vir die taak gehad nie, en het daarby ‘n negatiewe, meesal wrede gesindheid teenoor die gehospitaliseerdes geopenbaar. Pasiënte is gevloek, geslaan, geskop, geknyp, verneder, uitgebuit, aan brutaliteit en viktimisering blootgestel en van hul menswaardigheid gestroop. Sterker pasiënte moes die swakkeres help versorg deur hulle hul kos te voer, of in en uit die bad te help. Die verpleegsters wat wel belangstelling en barmhartigheid teenoor die pasiënte getoon het, is deur medewerkers of hul hoofde geroskom en dikwels gedreig.53-55 Bleicher het verder geskryf: 54

LEES MEER oor die behandeling van sielsiekes in die 1940’s.

Mart se geestelike versteurdheid en permanente isolasie in Queenstown ver weg van haar gesin – ongeveer 800 km suid-wes van Volksrust – moes tog ‘n groot impak op die agtergeblewe lede van die gesin gehad het. David Kruger het met Mart getroud gebly,3,22 maar was soos ‘n geskeide of ‘n wewenaar sonder die kameraadskap en ondersteuning van sy vrou. Ook haar seun, Piet, het sy moeder gemis, selfs lank na haar dood. Iewers in die vroeë 1960’s kom sy skoondogter eendag op hom af waar hy oor die veld sit en tuur. Toe sy hom vra hoekom hy dan so droefgeestig lyk, was sy antwoord: “Vandag mis ek my ou moeder so baie, en ek weet nie eens waar sy begrawe is nie.” Mart se een kleinseun, Chris Kruger (1940 – 2009) het sy hele lewe lank met die vrees geleef dat hy ook eendag ‘mal’ soos sy ouma sou word. Hierdie vrees was egter so onnodig, want hy het nooit enige soortgelyke simptome ontwikkel nie, en het later aan emfiseem gesterf.52 Inteendeel, sover as wat vasgestel kon word, het geen van Mart se voorouers of van haar nakomelinge simptome van geestesversteuring getoon nie, wat dus ‘n definitiewe oorerflikheidskomponent uitskakel. ‘n Sterk vermoede bestaan by twee van Mart Kruger se agterkleinkinders dat sy eerder met simptome van komplekse post-traumatiese stres gepresenteer het, ‘n steuring wat deesdae suksesvol behandel kan word met medikasie en ondersteunende kognitiewe sielkundige terapie. Hierdie teorie word ook ondersteun deur ‘n algemene mediese praktisyn en ‘n psigiater wat intussen gekonsulteer is, maar ongelukkig sal dit nooit met volkome sekerheid bevestig kan word nie.

Mart se lewe was inderdaad gevul met traumas een na die ander, maar in haar leeftyd was ‘kyk noord en gaan voort’ die manier van doen. Dis moontlik dat al hierdie onverwerkte traumas later hul tol op Mart begin eis het. Op 15-jarige ouderdom is Mart se vader oorlede.28 Toe sy 26 jaar oud was is haar huis afgebrand en moes sy vir maande tussen siekte, dood en smart in ‘n konsentrasiekamp op die koue Hoëveld oorleef. Daarby was die hubare Mart blootgestel aan die risiko van verkragting wat deur Britse soldate teenoor menige Boerevroue en -dogters gepleeg is – of Mart ooit hieraan onderwerp is, sal altyd oor gewonder word. Van haar ooms en tantes asook neef en niggies is ook in konsentrasiekampe dood en net na die beëindiging van die oorlog het haar oorlogsverslae oom selfmoord gepleeg wat ‘n verskriklike en onuitspreeklike skande in daardie jare was.18,25,29,38,39,44,45,56 In 1904 is haar oudste kind dood en tien jaar later in 1914 is ‘n tweede dogtertjie oorlede, teen 1915 het die 41-jarige Mart reeds vier van haar broers aan die dood afgestaan en drie jaar later in 1918, sou sy ‘n derde dogtertjie verloor weens ‘n gevaarlike griep wat die wêreld getref het.25,50 Hierdie griep-epidemie, bekend as die ‘Groot Griep van 1918’ het ook op sosiaal-psigologiese vlak gelei tot ‘n hoër vlak van sosiale angstigheid onder die Suid-Afrikaanse bevolking, wat nog besig was om van die traumatiese gevolge van die Tweede Anglo-Boere Oorlog sowel as die Eerste Wêreldoorlog te herstel.41,43,57

2.2 Elizabeth Gertbrech Human (de facto-verhouding)

Hoewel David nie sy huwelik met Mart laat ontbind het nie, moes die alleenheid hom seker ondergekry het. Teen April 1940 het die David, toe 64 jaar oud, reeds sy lewe gedeel met die weduwee Elizabeth Gertbrech “Bettie” Human (née Koch). Hulle het bly saamwoon totdat David op 75-jarige ouderdom oorlede is. David en Bettie het op Honingvallei gewoon, terwyl sy seun op Roodedraai bly boer het.3,52 Menige het gedink dat David en Bettie getroud was.52

   3. Sy loopbaan

David het eers as bywoner saam met sy ouers gewerk op die plaas Korenplaats naby Volksrust. Dit was gedurende hierdie tyd dat die ABO2 uitgebreek het en David en sy vader hulle aan die Boerekant geskaar het en op onderskeidelik 47- en 23-jarige ouderdom by die Wakkerstroomkommando aangesluit het.16,18,58-60 Sy vader, Piet, is egter op 10 Junie 1900 langs David doodgeskiet tydens die slag van Korenplaats (Koringplaas) toe die verkenners van die Wakkerstroomkommando – wat op daardie stadium onder leiding van Generaal Christiaan “Chris” Botha (1864 – 1902) in die Versamelberg in Volksrust omgewing stelling ingeneem het – die verkennende South African Light Horse (SALH) Infantry van Generaal Redvers Buller se Britse troepe verras het.4,17,61,62 Chris Botha was die jonger broer van Generaal Louis Botha (1862 – 1919), wat later die eerste Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika (1910 – 1961) geword het.41,43,63,64Die kommandolewe was nie maklik nie. Burgers het vir weke aaneen in die veld gebly en was uitgelewer aan die natuurlike elemente. Waar hulle aan die begin van die oorlog toegang gehad het tot vleis, biltong, brood, beskuit, melk, suiker en moerkoffie, asook klere en seep, was die guerilla-vegters op hulself aangewese veral na die instelling van Brittanje se Verskroeide Aarde Beleid in September 1900. Mielies het die stapelvoedsel geword – mieliepap, mieliekoekies, gebraaide mielies, gekookte mielies en mieliekoffie. Soms is selfs grasuitjies gekook as mielies nie beskikbaar was nie. Heuning het ‘n plaasvervanger vir suiker geword. Aangesien vleis, afkomstig van slagvee, later nie meer vrylik beskikbaar was nie, is daar dikwels gejag. Daar was later ook ‘n groot tekort aan boerseep, en seep is toe gemaak uit ‘n mengsel van die as van mieliestronke en die blare van die elandsdoringrankplant (die blare het geskuim). Inderdaad soos die Afrikaanse spreekwoord sê: ” ‘n Boer maak ‘n plan”. Na maande in die veld het die burgers van die kommando’s maar vuil, gehawend en onversorgd daar uitgesien. Geen wonder die Britse media was maar te gewillig om hierdie beeld – buite konteks, natuurlik – as die ‘ware’ beeld van die Boerenasie aan die Britse volk voor te hou nie. Gelukkig was daar ook korrespondente, soos Michael Davitt, wat ‘n meer holistiese prentjie van die Boerenasie weergegee het.65-68Dit blyk of David Kruger gedurende die oorlog met tye wel op Koornplaats was.58 Aangesien Wakkerstroomkommando, onder leiding van Generaal Chris Botha, saamgestel was uit burgervrywilligers wat in die Wakkerstroom distrik woonagtig was, het baie tydens stiller tye teruggekeer na die plase om na hul gesinne om te sien, kos- en ammunisievoorrade aan te vul, en te ploeg en plant, of te oes.38,65,66 Op 29 November 1901 het Veldkornet J.C. Meyer van die Heidelbergkommando twee van David Kruger se perde gekoop vir nege ZAR pond elk. Op 15 Desember 1901 is ‘n melkkoei vir tien ZAR pond verkoop aan Veldkornet C.J. Erasmus van die Wakkerstroomkommando, vir gebruik gedurende die oorlog. David het getekende kwitansies vir die verkope teen die rekening van die ZAR (goverment notes issues under ZAR Law no. 1, 1900) ontvang. Na die oorlog in Augustus 1902, dien hy as oud-ZAR burger ‘n eis in vir hierdie aankope deur die ZAR waarvan hy nog die betaling moes ontvang. Die dokument bevat ook eise vir ‘n perd wat aan Generaal Jacobus Daniel “Koot” Opperman van die Swazilandkommando verkoop is vir 23 ZAR pond, ‘n perd vir 16 ZAR pond aan Generaal Coenraad Jacobus “Coen” Brits van die Standertonkommando en nog ‘n perd vir 18 ZAR pond aan Veldkornet C.J. Erasmus. Die eis, met ‘n uitbetalingswaarde van 82 ZAR pond en waarop David Kruger as arm geklassifiseer word, is op 10 Desember 1902 goedgekeur.58Die laaste grootskaalse geveg tussen die Boere en die Britse magte waarby die Wakkerstroomkommando betrokke was, was op 4 Januarie 1902 op die plaas Onverwacht, naby Ermelo in die Suidoos-Transvaal waar die Boere na ‘n kort, maar intense geveg die oorwinning behaal het. Dit staan bekend as die Slag van Onverwacht (ook bekend as die Slag van Bankkop). Daarna het Generaal Louis Botha en sy manskappe, asook die guerilla-vegters van die kommando’s van Ermelo, Standerton, Swaziland en Wakkerstoom uitgewyk na Vryheid in Natal waar Louis Botha se plaas geleë was. In hierdie omgewing het hulle ‘n lae profiel gehandhaaf, ook nadat Louis Botha in Maart 1902 na Vereeninging vertrek het vir die vredesamesprekings, en tot met die amptelike beëindiging van die oorlog.18,64,69 David Kruger was ‘n bittereinder, wat op 12 Junie 1902 saam met Generaal Chris Botha en die oorblywende burgers van die Wakkerstroomkommando van die veld af ingekom het en wapens neergelê het op die plaas, Mooiplaats (Mooiplaas), ‘n paar kilometer noord-oos van die Transvaalse dorpie, Wakkerstroom.18,58 Hulle moes noodgedwonge die Eed van Getrouheid aan die Britse Kroon onderteken voordat hulle huiswaarts kon terugkeer. Dit was 12 dae nadat die Verdrag van Vereening tussen Brittanje en die twee oorwonne Boere-republieke onderteken is in Pretoria op 31 Mei 1902.18,41,42,70 Na die oorlog het David ‘n oudstryderspensioen tot met sy dood ontvang.2,3 In die vroeë 1920’s het hy ook respektiewelik as ‘n bittereinder ‘n silwer ZAR oorlogsmedalje ontvang.52,71

Na die oorlog, teen die tyd dat hy in die huwelik getree het, was David reeds werksaam op die plaas Honingvallei. David en sy jong gesin het later op Roodedraai, wat aan sy skoonfamilie behoort het, gaan woon. In die alledaagse omgangstaal het die familie na die plaas verwys as Rooidraai. Op 17 Augustus 1921 erf hy ‘n 222 morge/190 hectare (1.9 km2) gedeelte (Gedeelte G) van die Van der Merwe familie-erfplaas, uit sy skoonmoeder se boedel.3,23,24  David het vir sy gesin ‘n huis gebou, maar al wat van die oorspronklike woonhuis oorgebly het, is ‘n paar plat klippe.52 Sy enigste seun, wat later op die plaas geboer het, het ook sy eie kliphuis gebou, maar teen 2014 was die murasie die enigste bewys van ‘n eens netjiese, gerieflike woonhuis waar familie en vriende gereeld vir ‘n kuiertjie kom afsaal het.72 

David Kruger het hoofsaaklik met wolskape geboer. Die geproduseerde wol is daarna vervoer na die Volksrust treinstasie vir verkope, soos afgelei uit fakture wat ontvang is vanaf die destydse Suid-Afrikaanse Wolraad in Port Elizabeth. Met sy afsterwe in 1951 was daar 400 skape op Roodedraai deel G.3

   4. Sy afsterwe

David Frederick Kruger het op die ouderdom van 75 jaar en 1 maand op 21 April 1951 gesterf te Paardekop (Perdekop), Volksrust distrik, Transvaal in die Unie van Suid-Afrika in die huis van D.J. Koch (waarskynlik ‘n familielid van Bettie Human). Hulle het moontlik daar gekuier aangesien hul permanente adres op David se doodsertifikaat as Honingvallei aangegee was. Die oorsaak van sy dood was hartverlamming. Hy het ook simptome van seniliteit teen die einde van sy lewe getoon. Volgens sy sterfkennis is hy in die Perdekop begraafplaas begrawe.3 Sy graf is volgens familie-oorlewering ‘n ongemerkte stapel klippe52 maar tydens ‘n persoonlike besoek aan Perdekop kon egter geen opgestapelde klipgrafte in die begraafplaas waargeneem word nie.72

Met sy afsterwe was Roodedraai (gedeelte G) nog in sy naam geregistreer en gewaardeer vir 2 450 Suid-Afrikaanse Pond, hoewel sy seun reeds daar geboer het. Ander bates op die plaas was 400 skape, drie ryperde, elf osse, een sleepwa en drie koeie en kalwers. David het ook vier dorpserwe op Paardekop besit. Erwe nr. 540 en 541 in Swartstraat is uit die boedel aan Theunis Hendrik Roos verkoop. Erwe nr. 546 en 547 in Kromstraat is aan Bettie Human oorgedra na David se dood, as vereffening van haar eis teen die boedel vir ‘n lening wat David voor sy dood met haar aangegaan het. Al die erwe was onontwikkel behalwe vir erf nr. 547 waarop ‘n netjiese hout-en-staal woonhuis met vyf vertrekke gestaan het.3

Hoekom het David Kruger weer op Honingvallei gaan woon as Roodedraai nog steeds aan hom behoort het? Het hy plek gemaak vir sy seun, Piet en dié se jong gesin, om die boerdery by hom oor te neem? Of was daar kwade gevoelens tussen David en sy seun, of David en sy Van der Merwe-skoonfamilie, weens sy ‘ontrouheid’ aan hul moeder/suster en die sonde waarin hy met sy vriendin saamgeleef het, en hy daarom eerder uitgewyk het na waar daar minder veroordeling was? In watter hoedanigheid het David Kruger en Bettie Human op Honingvallei gewoon – as huurders, bywoners of vriende van die eienaar? Die antwoorde op al hierdie vrae kan slegs oor bespiegel word.

   5. Sy kinders

David en Mart Kruger het vyf kinders gehad. Hulle is gebore op Roodedraai in die wyk Volkrust van Wakkerstroom distrik. Slegs twee van hulle kinders het volwassenheid bereik.2,3,50

5.1 Maria Catharina

Maria is 17 April 1903 gebore – vyf maande na haar ouers se huwelik. Haar moeder was dus reeds vier maande swanger met Maria toe sy op 21 Oktober 1902 in die huwelik getree het. Maria is op 31 Mei 1903 in die Nederduitsch Hervormde & Gereformeerde Kerk (NH&GK) van Wakkerstroom gedoop.2,20,49,73Haar ouma, Maria Catharina (Slabbert) van der Merwe en haar 23-jarige oom, Barend Jacobus van der Merwe (1880 – 1915) was teenwoordig as getuies.25,49 Daarby was ook Elizabeth Kruger en Elizabeth Rossouw daar vir die gebeurtenis.2,49 Maria is egter op die ouderdom van tien maande op 7 Februarie 1904 oorlede.50 Die oorsaak van haar dood is nie bekend nie.

Maria is deur ds. D.P. Ackerman gedoop wat leraar was vanaf 16 November 1874 tot met sy afsterwe op 2 Augustus 1916. Wakkerstroom-gemeente is oorspronklik in 1860 as die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) Marthinus Wesselstroom gestig.73,74 Teen 1885 het die NHK en die NGK (Nederduits Gereformeerde Kerk) in die ZAR saamgesmelt om die NG&HK te vorm. Die NHK het egter teen 1892 weer afgestig terwyl die NGK as die NH&GK bly voortbestaan het tot en met 1957.41,43,74

5.2 Piet

Piet, die enigste seun, is gebore op 27 Desember 1904 en drie maande later op 26 Maart 1904 ook deur ds. Ackerman te Wakkerstroom gedoop.2,47,52 Hy was my grootvader (oupa). LEES MEER oor Piet Kruger.

5.3 Anna Elizabeth

Sy is op 14 Januarie gebore 1909 gebore. Haar ouma Anna Elizabeth Kruger (née Eksteen) (1857 – 1940) en haar vader se 20-jarige weduwee-niggie, Elizabeth Francina van der Merwe (née Kruger) (1889 – ?), wat voorheen met haar moeder se oorlede broer – dus haar oom – Hendrik van der Merwe (1878 – 1908) getroud was, was getuies van haar doop op 2 Mei 1909 in die NH&GK Wakkerstroom. Die doop is waargeneem deur ds. Jacobus Ignatius de Wet (1879 – 1938).2,25,48,74-76 Hy het in 1905 as hulpprediker by NH&GK Wakkerstroom begin, aangesien die gemeente baie groot was en steeds bly groei het. Vanaf 2 Desember 1905 het hy op Volksrust begin met bearbeiding as ‘n satelliet-gemeente van Wakkerstoom. Op 4 Junie 1910 het hierdie gemeente egter amptelik afgestig van NH&GK Wakkerstroom, waarna ds. De Wet vir bykans dertig jaar as ingehuldigde predikant van NH&GK Volksrust diens gedoen het tot met sy afsterwe op 15 November 1938.74,75Anna is ‘n maand en ‘n half voor haar tiende verjaarsdag op 22 November 1918 aan griep oorlede.50,52 LEES MEER oor die simptome en komplikasies van griep. Die spesifieke griep wat die jonge Anna se dood veroorsaak het, was bekend as die Groot Griep, of Influenza-epidemie van 1918 (in Engels: Spanish flu). Dit het in Maart 1918 gedurende die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek en het vinnig deur Europa en na Noord-Amerika en Asië versprei. Die beweging van duisende uitgeputte, oorlogsmoeë soldate tydens die oorlog  tussen die verskillende lande aan die oorlogsfront asook na die huisfront, was die hoofsaaklike rede vir die wêreldwye epidemologie van hierdie spesifiek Influenza-stam.77,78 Moderne studies toon dat die Influenza-virus van die 1918 griep-epidemie, die voorloper-virus was van A/H1N1 Influenza sub-tipe, die virus wat met varkgriep geassosieer word. In 2009, tydens ‘n wêreldwye pandemie, is varkgriep vir die eerste keer in mense gediagnoseer, en die virus geïsoleer en bestudeer.79,80

Teen September 1918 het hierdie gevaarlike virus in Suid-Afrika aangeland. Die eerste vlaag van griep het vanaf Durban-hawe versprei deur die hele Natal en na die Witwatersrand, en binne twee weke na die res van Transvaal. Die tweede vlaag het vanaf Kaapstad-hawe versprei na die hele Kaapprovinsie, Oranje-Vrystaat en Wes-Transvaal. Teen die einde van 1918 het meer as 11 000 Blankes en 127 000 Bantoes (swartmense) weens die dodelike griep gesterf. Die meeste sterftes was weens bakteriële longontsteking, ‘n algemene sekondêre infeksie geassosieer met die Influenza-virus. Die virus self het egter ook sterftes veroorsaak, deur massiewe bloeding en edeem in die longe te veroorsaak. Die uitgebreide spoorlynnetwerk van ca 16 000 km deur die Unie was die grootste meganisme waardeur die virus na die Suid-Afrikaanse stede, dorpe en platteland versprei is. Verder het die trekarbeidersisteem ook daartoe bygedra, deurdat mynwerkers se bewegings tussen die myne en hul families, die verspreiding van die virus verder versnel het.41,43,79 Presies ‘n eeu later sou die wêreld, insluitend Suid-Afrika, weereens steier en die knie buig voor ‘n globale COVID-19 griep-pandemie.41,43,79,815.4 Martha Maria

Martha, na haar ma vernoem, is op 21 Januarie 1913 gebore en gedoop deur ds. J.I. de Wet in die NH&GK Volksrust op 6 April 1913.2,73 Martha is oorlede op 7 Maart 1914 toe sy dertien maande oud was.505.5 Susanna Christina

Hul jongste kind, Susanna Christina “Sannie”, is gebore op 27 Maart 1916 en te NH&GK Volksrust gedoop op 24 September 1916.2,52 Sannie is op 19-jarige ouderdom op 4 Junie 1935 in die NH&GK op Volkrust met die 22-jarige jongman, Pieter Grobler (20 Mei 1913, plaas Rooiwal – 27 Junie 1971, Volksrust Hospitaal, Volksrust) getroud. Hy was die seun van Paul Nicolaas Grobler (15 Januarie 1888, Utrecht – 23 Junie 1969, Boksburg) en Maria Magdalena Coetzer (3 Julie 1892, plaas Schuilklip, distrik Utrecht, ZAR – 14 Julie 1940, Utrecht), en was die neef van Sannie se skoonsuster, Hester Gezina Coetzer (1912 – 1978), wat met Sannie se ouer broer, Piet Kruger getroud was.3,75,82-85Pieter en Sannie het hulle hele lewe lank op Rooiwal naby Ingogo in die Utrecht distrik in Natalprovinsie gewoon en daar geboer. Hulle het vier kinders gehad naamlik Martha Maria “Martie” (6 Julie 1936, Utrecht – 14 Februarie 2004, Pretoria; getroud met Jan Hendrik Roos), Maria Magdalena “Marie” (*3 September 1938, Glencoe; getroud met Bubbles Simpson), Nicolaas (13 Augustus 1941, Glencoe – 2 Desember 1941, Glencoe) en David Frederik “Dawie” (*14 April 1945, Dundee; getroud met Martha Henriette Kempen).52,83,85,86 Sannie het op haar oudag by een van haar dogters op Standerton gaan inwoon waar sy later oorlede is.87

< BACK

  1. Doopinskrywing van David Frederick Kruger. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Harrismith (Orange Free State), 1848-1956. South Africa, Free State Dutch Reformed Church Records, 1848-1956, database with images, FamilySearch (https://www.familysearch.org/ark:/61903/1:1:Q2HG-V1LB : 19 November 2020), Piet Kruger in entry for David Frederick, 1878
  2. Kruger, B. 2007 Die Kruger-familie van Suider-Afrika. 1ste Ed. CD-publikasie. Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Noord-Transvaal takbiblioteek.
  3. Doodsertifikaat, sterfkennis, testament en boedel van David Frederik Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 2343/51, 1951
  4. Sterfkennis en testament van Piet Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 1843, 1902
  5. Sterfkennis van Anna Elizabeth Eksteen. National Archives & Repository Service of South Africa, Bloemfontein. VAB MHG 31641/40, 1940
  6. Jacobus Johannes Eksteen, d5e8. https://www.geni.com/people/Jacobus-Eksteen-d5e8/6000000013950134812?through=4834130050010025884
  7. David Frederik Petrus Johannes Senekal Kruger. https://www.wikitree.com/wiki/Kruger-2957
  8. NG Gemeente Harrismith. Gemeentegeskiedenisargief. ‘n Oorsig van die geskiedenis van die NG Kerk, sy gemeentes en predikante. https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/ng-gemeente-harrismith/
  9. A.A. van der Lingen. https://af.wikipedia.org/wiki/L%C3%AAer:Ds_AA_van_der_Lingen.jpg
  10. National Geo-Spatial Information, 1:50 000 Rasters. January 2015. Department of Rural Development and Land Reform, Republic of South Africa. CD-publication
  11. Lesotho. https://en.wikipedia.org/wiki/Lesotho
  12. Doopinskrywing van Jacobus Johannes Kruger. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Harrismith (Orange Free State), 1848-1956. South Africa, Free State Dutch Reformed Church Records, 1848-1956, database with images, FamilySearch (https://www.familysearch.org/ark:/61903/1:1:Q2HG-V6TQ : 19 November 2020), Piet Kruger in entry for Jacobus Johannes, 1880
  13. Doopinskrywing van Susanna Christina Kruger. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Harrismith (Orange Free State), 1848-1956. South Africa, Free State Dutch Reformed Church Records, 1848-1956, database with images, FamilySearch (https://www.familysearch.org/ark:/61903/1:1:Q2HG-NTXZ : 19 November 2020), Piet Kruger in entry for Susanna Christina Kruger, 1882
  14. Doopinskrywing van Elizabeth Francina Kruger. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Harrismith (Orange Free State), 1848-1956. South Africa, Free State Dutch Reformed Church Records, 1848-1956, database with images, FamilySearch (https://www.familysearch.org/ark:/61903/1:1:Q2HG-L7NQ : 19 November 2020), Piet Kruger in entry for Elizabeth Francina, 1885
  15. Oorlogsvergoedingseis van Anna Elizabeth Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB CJC 1188/743, 1903
  16. Onderhoud op 21 Junie 2014 met Gert van der Westhuizen. Roodedraai Museum, plaas Roodedraai, Volksrust, Mpumalanga
  17. Grafsteen van Piet Kruger. Familiekerkhof op die plaas Koringplaas, distrik Volksrust, Mpumalanga, Republiek van Suid-Afrika. Besoek aan Koringplaas op 21 Junie 2014 deur Pieter Kruger en Alta Jamison (née Kruger), agter-agterkleinkinders van Piet Kruger
  18. Van der Westhuizen, G.P. & Van der Westhuizen, E. 2013 Guide to the Anglo Boer War in the Eastern Transvaal, 1899 – 1902. 2de Ed. David Scholtz: Volksrust
  19. Kruger – en Groenewald gesinslede opgeneem in Volkrust se konsentrasiekampregister. British Concentration Camps of the South African War, 1900 – 1902. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Farm/1919/Korenplaats___Koornplaats/
  20. Huweliksinskrywing van David Kruger en Martha van der Merwe. NGK Wakkerstroom. https://www.familysearch.org/
  21. Doopinskrywing van Martha Maria van der Merwe. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wakkerstroom (Transvaal), 1860-1949. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSK6-Z9P8-7?i=616&cat=539146
  22. Doodsertifikaat, sterfkennis en boedel van Martha Maria (van der Merwe) Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 1254/56, 1956
  23. Sterfkennis en boedel van Maria Catharina (Slabbert) van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 43296/20, 1920
  24. Transportrekords van Plaas Roodedraai (ZAR nr. 264; Transvaal nr. 64). Akte van Transport Nr. 8356/1921. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB RAK 3054
  25. Melville, J. 2005 Stamboom van die Van der Merwe Familie. 1ste Ed. Genealogiese Publikasies: Walmer
  26. Van der Merwe grafte. Familiekerkhof op die plaas Roodedraai, distrik Volksrust, Mpumalanga. Besoek aan die plaas Roodedraai op 1 September 2018 deur Alta Jamison en Charles Saad (Van der Merwe nasate)
  27. Sterfkennis, testament en boedel van Gerhardus Petrus van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG O/4774, 1889
  28. Sterfkennis, testament en boedel van Gerhardus Petrus van der Merwe. South Africa, Transvaal, Probate Records from the Master of the Supreme Court, 1869-1958, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:QLQ7-5VG6 : 17 March 2018), Gerhardus Petrus van der Merwe, 1889; citing Probate, Wakkerstroom, Transvaal, South Africa, Pietermaritzburg Archives (formerly Natal State Archives), South Africa; FHL microfilm 1,367,051
  29. Gert Petrus Slabbert (1817 – 1880). https://www.geni.com/people/Gert-Slabbert/6000000011367369047?through=6000000092485520897
  30. Sterfkennis van Hendrina Catharina Cecilia Slabbert (1855 – 1901). South Africa, Transvaal, Probate Records from the Master of the Supreme Court, 1869-1958, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CS92-BSC8-F?cc=2520237&wc=Q6VB-BZN%3A1590242457 : 14 February 2019), 007805595 > image 697 of 978; Pietermaritzburg Archives (formerly Natal State Archives), South Africa
  31. Sterfkennis en boedel van Jacob Abraham Johannes van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 2466, 1901
  32. Sterfkennis, testament en boedel van Hendrik van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 12847, 1908
  33. Sterfkennis en boedel van Barend Jacobus van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 27148, 1915
  34. Sterfkennis, testament en boedel van Jacobus Oosthuizen. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 19127/11, 1911
  35. Sterfkennis, testament en boedel van Johanna Hendrina (Van der Merwe) Oosthuizen. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 63570/27, 1927
  36. Sterfkennis, testament, boedel en doopseëls van kinders van Cornelis Johannes van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 23547/14, 1914
  37. Sterfkennis en boedel van Marthinus Gerhardus van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 3287/40, 1940
  38. Pretorius, A. 2000 Van Huis-en-Haard na Konsentrasiekamp. DV Drukkers: Volksrust, Mpumalanga: DV Drukkers
  39. Volksrust konsentrasiekamp inwoners van die plaas Roodedraai/Rooidraai in distrik Wakkerstroom. British Concentration Camps of the South African War, 1900 – 1902. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Farm/35239/Rooidraai/
  40. Prickly pear (Opuntia ficus-indica), Cactaceae. http://www.arc.agric.za/arc-ppri/Pages/Prickly-pear.aspx
  41. Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  42. Raath, A.W.G. 2007 De la Rey: Die stryd vir vryheid. 2de Ed. Kraal-Uitgewers BK: Brandford, Suid-Afrika
  43. Illustrated history of South Africa. The real story. 1989 2nd Ed. Reader’s Digest Association South Africa (Pty) Ltd.: Cape Town
  44. Grobler, J. & Grobler, M. 2013 Vroue-Kampjoernaal. Die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog. 1ste Ed. Heroloda Wordworx: Brooklyn, Pretoria.
  45. Moolman, N. 2013 Zij. 1ste Ed. Shanghai Kangshi Printing Co. Ltd: Vanderbijlpark.
  46. Black concentration camps during Anglo-Boer War 2, 1900 – 1902. http://www.sahistory.org.za/topic/black-concentration-camps-during-anglo-boer-war-2-1900-1902
  47. Doopinskrywing van Piet Kruger. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wakkerstroom (Transvaal), 1860-1949. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSK6-Z9P1-H?i=407&cat=539146
  48. Doopinskrywing van Anna Elizabeth Kruger. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wakkerstroom (Transvaal), 1860-1949. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSK6-Z9P5-9?i=467&cat=539146
  49. Doopinskrywing van Maria Catharina Kruger. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wakkerstroom (Transvaal), 1860-1949. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSK6-Z9P5-Y?i=382&cat=539146
  50. Sterfteregistrasie van Maria Catharina Kruger, Anna Elizabeth Kruger en Martha Maria Kruger. Civil registration (deaths), Volksrust (Transvaal), 1901-1972. https://www.familysearch.org/search/catalog/675529
  51. Zuzile, M. 30 April 2014. Komani hospital sparkles again. DespatchLive. http://www.dispatchlive.co.za/news/komani-hospital-sparkles-again/
  52. Familie-oorvertellinge deur Tienie Saad en Bettie Kruger in 2012, 2015 en 2018
  53. The colonial asylum: An environment for healing and recovery? Plot 99: The 21st century prophecy show. https://plot99.wordpress.com/2010/12/14/images-of-confinement-a-healing-environment/
  54. Gillis, L. 2012 The historical development of psychiatry in South Africa since 1652. South African Journal of Psychiatry, 18(3):78-82
  55. Mahone, S. & Vaughan, M. 2007 Psychiatry and Empire. 1st Ed. Palgrave Macmillan: UK. https://books.google.co.za/
  56. Van der Merwe, C., Gobodo-Madikizela, P. & Smith, F. 8 Desember 2015. Remembering and forgetting: Reflections on Francois Smith’s novel Kamphoer. https://www.litnet.co.za/remembering-and-forgetting-reflections-on-francois-smiths-novel-kamphoer/
  57. The Influenza-epidemic. http://www.sahistory.org.za/article/influenza-epidemic
  58. Oorlogsvergoedingseis van David Frederik Kruger. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB CJC 1189/769, 1903
  59. Wakkerstroom kommando. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB Photo 3749
  60. Unique photographs from the Boer War. Heritage Association of South Africa. http://heritagesa.org/wp/2017/06/08/3224/
  61. Gillings, K. 1999. The British advance and Boer retreat through Natal, March to June 1900. Military History Journal, Vol 11(3/4), 1999. The South African Militory History Society. http://samilitaryhistory.org/vol113kg.html
  62. Boer Leaders. https://za.pinterest.com/pin/345510602661552387/
  63. General Christiaan Botha. Boer War. http://www.boerwararchive.com/commanders/christiaan-botha/
  64. Engelenburg, F.V 1929 General Louis Botha. J.L. van Schaik Limited Publishers: Pretoria, South Africa. https://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/12638/003_p50-99.pdf?sequence=6
  65. Pretorius, F. 2001 Op Kommando. Die lewe in die veld tydens die Anglo-Boere Oorlog, 1899 – 1902. 2de Ed. Protea Boekhuis: Pretoria
  66. Boer Commando. https://en.wikipedia.org/wiki/Boer_Commando
  67. Michael Davitt. https://en.wikipedia.org/wiki/Michael_Davitt
  68. Davitt, M. 1937 Boer fight for freedom. https://www.angloboerwar.com/books/37-davitt-boer-fight-for-freedom/832-davitt-chapter-ii-the-boer-qoligarchyq
  69. Smith, R. 2004 The Battle of Onverwacht, 4 January 1902. Military History Journal, Vol 13(2), 2004. The South African Militory History Society. http://samilitaryhistory.org/vol132rs.html
  70. Treaty of Vereeninging. https://en.wikipedia.org/wiki/Treaty_of_Vereeniging
  71. Medalje voor de Anglo-Boere Oorlog. https://en.wikipedia.org
  72. Besoek aan Perdekop en die plaas Roodedraai op 21 Junie 2014 en 1 September 2018 deur Pieter Kruger, Alta Jamison en Charles Saad (agterkleinkinders van David en Martha Kruger)
  73. NGK Wakkerstroom. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Wakkerstroom
  74. Gemeentegeskiedenisargief. ‘n Oorsig van die geskiedenis van die NG Kerk, sy gemeentes en predikante. https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/
  75. NG gemeente Volksrust. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Volksrust
  76. Sterfkennis, testament en boedel van Hendrik van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB MHG 12847, 1908
  77. Spanish flu. https://en.wikipedia.org/wiki/Spanish_flu
  78. Trilla, A. Trilla, G. & Daer, C. 2008 The 1918 “Spanish Flu” in Spain. Clinical Infectious Diseases, Vol 47(5): 668-673. https://academic.oup.com/cid/article/47/5/668/296225
  79. Taubenberger, J.K. 2006 The origin and virulence of the 1918 “Spanish” Influenza virus. Proceedings of the American Philosophical Society, Vol 150(1): 86-112. US National Library of Medicine. National Institute of Health. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC2720273/
  80. Swine flu (H1N1). Healthline Newsletter. https://www.healthline.com/health/swine-flu
  81. COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal. https://sacoronavirus.co.za/
  82. Huweliksinskrywing van Pieter Grobler en Sannie Coetzer. South Africa, Civil Marriage Records, 1840-1973, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CS23-G94T-H?cc=2821281 : 25 July 2020), > image 1 of 1; Pietermaritzburg Archives (Formerly Natal State Archives), South Africa
  83. Sterfkennis en boedel van Pieter Grobler. National Archives & Repository Service of South Africa. NAB MSCE 2643/71, 1971
  84. Coetser, M. Coetzer en Coetser Families in South Africa. https://coetzercoetser.weebly.com/family-tree–stamboom.html
  85. Grobler, C.L. 1988 Die Grobler-Grobbelaar geslagsregister. 1ste Ed. Self-publikasie
  86. Rekord van geboorte, huwelik en dood van Martha Maria Roos (née Grobler). https://www.identitynumber.org
  87. Familie-oorvertelling en identifisering van Standerton-huis deur Dr. Ds. Pieter Kruger op 21 Junie 2014

< BACK