Wentzel Christoffel Coetzer (1886 – 1956)
1. Sy kinderjare
Wentzel Christoffel was die oudste van die vier kinders van Hendrik Gerhardus Coetzer (1863 – 1901) en Hester Gesina “Hessie” van der Merwe (1862 – 1957).1-4 Sy jonger sibbe was Anna Maria Jacomina (1888 – 1953), Maria Magdalena (1892 – ?) en Hendrik Gerhardus (1896 – ?).1,2,5-7 Wentzel is op 31 Januarie 1886 op die plaas Schuilklip (Natal plaasnr. 109) langs die Buffelsrivier in distrik Utrecht in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR)/Suid-Afrikaanse Republiek gebore.1,2,4,8-10 Hy is op 4 April 1886 in die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk (NHofGK) Wakkerstroom gedoop.4 Die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) van die ZAR en die Transvaalse Nederduits-Gereformeerde Kerk (NGK) het op daardie stadium (tussen 1885 en 1892) as ‘n verenigde kerk gefunksioneer.11-13 Die getuies by sy doop was sy oupa en stiefouma, Wentzel Christoffel Coetzer (1825 – 1909) en Helena Dorothea Struwig (née Botha) (1826 – 1901), asook sy oom en aangetroude tante aan vaderskant, Wentzel Christoffel Coetzer (1853 – 1911) en Maria Catharina Koekemoer (ca 1854 – ?) en sy oom aan moederskant, Gerhardus Johannes van der Merwe (ca 1865 – 1917) met sy gade, Wilhelmina Magdalena Helena Engelbrecht (ca 1865 – 1947).1,2,4,14Wentzel was net 15 jaar oud toe sy vader op 38-jarige ouderdom tydens die Anglo-Boere Oorlog (1899 – 1902) na ‘n kort siekbed oorlede is.15 Of die gesin enigsins in ‘n konsentrasiekamp tydens die oorlog was, kon nie uit gekonsulteerde bronne bevestig word nie. Hul name verskyn nie op geargiveerde kamplyste nie,16,17 maar volgens familie-oorvertellings was hulle in ‘n kamp naby Flentershoek.18
2. Sy vrou
Wentzel en sy vrou, Anna Catharina “Annaat” van der Merwe was neef en niggie. Wentzel se moeder en Annaat se vader was half-broer en -suster; dieselfde vader maar verskillende moeders.1 Annaat is op 4 September 1891 in Utrecht distrik in die ZAR gebore.1,8,19,20 Sy was die dogter van Cornelis van der Merwe (1849 – 1903) en Magrietha Cornelia Lombard (1867 – 1897). Haar oom aan moederskant en sy eggenote, Johannes Hendrik Lombard en Anna Catharina Beukes, asook haar niggie, Anna Sophia Jacoba van der Merwe (1869 – ?) was ten tye van haar doop op 11 Oktober 1891 te NHofGK Wakkerstroom teenwoordig.1,4,21 LEES MEER oor die Van der Merwes.
Die 23-jarige Wentzel en 17-jarige Annaat is op 8 Junie 1909 in die eg verbind in die plaasopstal op Schuilklip deur ds. Pieter Jacobus Conradie (1867 – 1939) van NGK Newcastle, in die teenwoordigheid van Wentzel se oom, Johan Daniel Coetzer (1857 – >1909) en Annaat se voog, Marthinus Petrus Koch, aangesien Anaat se ouers albei reeds oorlede was.1,11,22,23 Inteendeel, sy was maar ses jaar oud toe haar moeder oorlede is, en ses jaar later op 12-jarige ouderdom het haar vader ook gesterf en is sy en haar is sibbe wees gelaat.1 Ook Wentzel se vader was reeds oorlede ten tye van sy huwelik met Annaat van der Merwe.1,2,15
Die werk op die plaas was hard en Annaat het ook die versorging van haar weduwee-skoonmoeder op haar geneem wat ‘n entjie verder in haar eie huis op Schuilklip gewoon het. Annaat se kleindogter, Koek Kruger, onthou hoe haar ouma skeef gedra het aan die swaar emmer water oppad na skoonma Hessie toe. Ouma Annaat en Oupa Wentzel het ook saam met die hoenders gaan slaap en nog voor die hoenders opgestaan. Teen vyf-uur die middag het die twee gaan slaap – en as die kleinkinders daar gekuier het, moes hulle ook gaan lê. Teen twee-uur in die oggend het Annaat opgestaan om die koolstoof aan die gang te kry sodat die koffiewater teen vier-uur kon begin kook. Wentzel het so ‘n groot blikbeker gehad en het tergelykertyd vier tot vyf stukke boerebeskuit oor die rand van die beker in die koffie laat hang. Dan het hy ‘n hap van een gevat, dit terug laat hang in die koffie, dan die volgende een gehap en laat terughang, en so sy beskuit al in die rondte geëet. Hy het verseker nie tyd gemors deur te wag vir elke beskuit om in die koffie te week nie! Teen vyf-uur was hy uit by die deur om die beeste te gaan melk …. en die hoenderhaan wakker te maak!18
Koek onthou ook die heerlike, opgepofde verebeddens in haar Ouma Annaat se huis waarop hulle tot hul eie vreugde en vermaak gespring het totdat Ouma op hul afgekom het, en hulle haar argwaan op die hals gehaal het. O ja, …. dan was daar natuurlik Ouma se heerlike gebraaide varkvleis wat hulle as kinders gesteel het! Nie almal in die 1940’s het yskaste gehad nie. Een metode om vleis te bewaar nadat skaap, bees of vark geslag is, was om die vleis eers gaar te braai terwyl die vet opgevang is en die gebraaide vleis dan met die afgekoelde vet te bedek en in ‘n houer te stoor. Ouma Anna het ‘n groot emmer agter die rusbank in die hoek van die sitkamer gehad, en as die kleinkinders kom kuier het, het hulle suutjies van die heerlike vleis daaruit gegaps, die vet afgeskraap en smullend weggelê.18
Na haar eerste man haar ontval het, het Annaat drie jaar later op 65-jarige ouderdom op 14 Februarie 1959 vir ‘n tweede keer getrou met die 73-jarige wewenaar Gert Johannes Nel (10 Februarie 1886 – 1969). Gert en Annaat was tien jaar saam voordat Gert in die ouderdom van 83 jaar oorlede is.2,18,19,23,24 Familielede onthou oom Gert as ‘n man met ‘n rustige en aangename geaardheid.18,24
Dit lyk of Annaat ‘n spesiale plek in haar hart gehad het vir enige klein- of agterkleindogter wat na haar vernoem was. Haar agterkleinseun, JC (seun van Koek Kruger) vertel hoe hulle as gesin by ‘Ouma Anna’ in die ouetehuis gaan kuier het. Daar het Annaat vir haar agterkleindogter Karen – na haar vernoem as Anna Catharina – ‘n 10c muntstuk gegee. Die drie seuns het ook een 10c muntstuk gekry …. wat hulle onder mekaar moes verdeel! 25
Annaat is ses jaar na haar tweede man op Sondag, 13 Junie 1976 in die ouderdom van 84 jaar en 10 maande oorlede in die Rusoord Ouetehuis, Louis Trichardstraat, Volksrust waar sy lank gewoon het.8,19,20 Daar word vertel dat sy in die ouetehuis gereeld haar kamerdeur toegemaak het, die Boeremusiek aangegesit het en dan op haar eie op die maat van die musiek gedans het.18 Sy is vanuit NGK Newcastle begrawe op 15 Junie 1976 om 14:00. Die diens is gelei deur ds. Marais.20 Sy is langs haar eerste man in die Ou Begraafplaas in Newcastle in Natal begrawe.8
3. Sy beroep
Wentzel Coetzer was ‘n jong boer van die plaas Schuilklip ten tye van sy huwelik met die 17-jarige Annaat van der Merwe.22 Hy het met beeste en spierwit boerbokke geboer. Dit is ook hier waar hul kinders opgegroei het.18 Schuilklip is naby Ingogo geleë, ongeveer 5 km oos van die N11/R34 halfpad tussen Newcastle en Volksrust. Die plaas lê weggesteek in ‘n vallei tussen die Amajubaberge, wat deel vorm van die Drakensbergreeks.9,26
Nadat die Eerste Wêreldoorlog (WO1) op 28 Julie 1914 uitgebreek het, het Wentzel as 28-jarige in die daaropvolgende jaar as vrywilliger by die Suid-Afrikaanse magte aangesluit.18,27,28 (Oor sy belewenisse in die oorlog is niks bekend nie …. hy het nie daaroor gepraat nie.)18 Vrywilligers is vanaf Augustus tot September 1915 gewerf om as deel van die oorsese Britse magte aan die kant van die Geallieerdes (Brittanje, Frankryk en Verenigde State van Amerika) te gaan veg. Vrywilligers het in Potchefstroom aangemeld om die 1ste Suid-Afrikaanse (SA) Infantrie Brigade te vorm wat uit vier regimente bestaan het. Die Brigade was onder die oorhoofse bevel van Brig Gen Henry Timson Lukin (1860 – 1925). Die vrywilligers was hoofsaaklik Engelssprekend, met slegs 15% Afrikaanssprekend, wat met die verloop van die oorlog tot 30% toegeneem het. Daar was ook Nie-Blankes (swartes) wat in die oorlog ‘n belangrike en ondersteunende rol sou speel, soos hulp met loopgrawe grawe, asook voorrade en ammunisie rondkarwei, en dit selfs onder spervuur en bombardering by die vegtende soldate moes uitkry. Wentzel Coetzer van Natal is saam met die ander Natalers en die Vrystaters in die 2de SA Infantrie Regiment van die Brigade ingedeel, met Lt. Kol. William Ernest Collins Tanner (1875 – 1944) as Bevelvoerder. In September 1915 het die 2de Regiment saam met die res van die Brigade-troepe per skip vanuit Kaapstad na Bordon, Hampshire, Engeland gereis en daar vir twee maande opleiding in oorlogvoering ondergaan. Teen Desember 1915 het die Brigade per skip na Egipte vertrek om die Senussi-opstand te onderdruk en binne ‘n maand (vanaf 23 Januarie tot 26 Februarie 1916) is die probleem deur die Suid-Afrikaners uitgesorteer. Vandaar het die Brigade na die Westelike Gevegsfront in Frankryk vertrek. Hier het die Suid-Afrikaners aan hewige gevegte deelgeneem. Die vernaamste was die Veldslag van die Somme, wat die bloedige Slag van Delville-bos ingesluit het.27-38
Die Veldslag van die Somme het uit ‘n reeks kleiner slae bestaan wat vanaf 1 Julie tot 20 November 1916 tussen die Franse en Britse magte en die vyand, die Duitse magte plaasgevind het. Die Slag van Delville-bos het vanaf 15 – 20 Julie 1916 geduur. Op 15 Julie 1916 het die 2de en 3de SA Infantrie Regiment onder die oorhoofse bevel van Lt. Kol. Tanner Delville-bos binne gemars. Nadat Tanner op 17 Julie gewond is, het Lt. Kol. Edward Francis W. “Frank” Thackeray (ca 1870 – 1956) van die 3de Regiment, oorgeneem en was in bevel vanaf 17-20 Julie. Die Duitsers se aanslag was hard, maar die Suid-Afrikaners het hul man in die bloedige stryd bly staan ten spyte van die intensiewe vyandelike bombardering, hoë eise aan fisiese vermoeëns en innerlike krag, asook groot lewensverliese. LEES HIER en HIER in meer detail oor die Suid-Afrikaners se rol en heldemoed tydens die Slag van die Somme, en spesifiek in Delville-woud. Van die 121 offisiere en 3032 blanke voetsoldate van die Batteljon, asook 250 Suid-Afrikaanse swartes, wat die woud inbeweeg het, het slegs 5 offisiere, 750 soldate en 30 swartes tydens ‘roll-call’ na afloop van die slag aangetree.27-39
Gen. Lukin het oor Thackeray die volgende geskryf:
“Lieutenant-Colonel EF Thackeray CMG commanded his battalion at the capture of Delville Wood and, after Lieutenant-Colonel Tanner was wounded, took over the command of the troops in the wood, with orders that it was to be held at all costs. On the morning of the 18th July the enemy commenced a hurricane bombardment and attacked the wood with 9 1/2 battalions. The troops holding the perimeter of the wood were practically decimated – all officers being either killed or wounded. Lieutenant-Colonel Thackeray’s Headquarters had been established in a narrow trench in the SW portion of the wood known as Buchanan Street. Here this gallant officer, in spite of heavy bombardment and constant fierce attacks by the enemy, held on with his few remaining men. During the night 18/19 several hot bombing fights took place during which Lieutenant-Colonel Thackeray’s fine work stimulated his much exhausted men [who were without food for two days, had very little water left and hardly managed any sleep] to fight on. Lieutenant-Colonel Thackeray with the remnants of his force held the SW portion of Delville Wood until on 20th July when he was relieved. I have no hesitation in stating that in my opinion it was the splendid gallantry, fine example and devotion to duty of this officer that enabled the British troops to retain a footing in Delville Wood. I recommend that he be awarded the Victoria Cross.” 36
Na die oorlog het Wentzel na die plaas teruggekeer en die lewe het aangegaan. Hy kon die traporrel bespeel en het sy oudste drie kinders geleer om ook hierdie instument baas te raak. Die jongste dogter het egter nooit geleer nie, want teen daardie tyd het haar ouer susters – tot haar misnoeë – die sitkamer beset wanneer hul kêrels kom kuier het.18 LUISTER HIER na die pragtige, melankoliese klank van die tradisionele traporrel. As ek hierna luister kan ek as’t ware voor my geestesoog vir oupagrootjie Coetzer geboë sien sit waar sy vingers langsaam oor die orrelnote beweeg en sy voete die blaasbalk geduldig pomp. Hoewel die Coetzers nie wel-af was nie, het hulle ‘n genoegsame lewe gelei. Wentzel het nooit ‘n motor besit nie, maar het gereeld met die perdekar na die Indiër se nargosiewinkel op Ingogo gery om kruideniersware aan te koop. Toe hy later in sy lewe blind begin word het, het ‘n swart jongeling saamgery om te help.18
4. Sy afsterwe
Wentzel Coetzer het die lewe gelaat op 4 Augustus 1956 op die ouderdom van 70 jaar en ses maande. Hy lê in die Ou Begraafplaas in Newcastle begrawe. Sy vrou is twintig jaar later langs hom te ruste gelê.2,8
5. Sy kinders
5.1 Magrietha Cornelia
Grieta, soos sy genoem is, is op 14 Junie 1910 gebore.2,40,41 Sy is later getroud met haar kleinneef, Johan Daniel “Daan” Koch (ca 1903 – 1951), die seun van Marthinus Stephanus Koch ( 2 Augustus 1858 – 13 November 1929, plaas Witklip, Ingogo, Utrecht distrik) en Marthinus se tweede vrou, Anna Sophia Jacoba van der Merwe (13 Maart 1873 – 3 Februarie 1961, Volksrust).1,42-44 Uit Daan en Grieta Koch se huwelik is drie kinders gebore. Die gesin het op die plaas Witklip naby Ingogo gewoon.43 Daan Koch was maar net 48 jaar oud toe hy op 27 Augustus 1951 tydens ‘n trekkerongeluk op die plaas, Roodekop, waar hy geploeg het, oorlede is.18,42,43 Op daardie stadium was hy een van die min boere in die omgewing wat ‘n trekker besit het. Met die ongeluk is daar na die bure om hulp gesein met behulp van spieëls, wat in daardie jare ‘n algemene kommunikasietegniek onder plattelandse boere was. Naburiges het hulle na die ongelukstoneel gehaas, maar dit was reeds te laat. Daan is op Witklip begrawe.18Die kinders – Marthinus Stephanus “Martiens” (5 Desember 1940 – 4 Oktober 2019), Anna Catharina “Trien” (later getroud met Barend Jacobus “Barry” Engelbrecht) en Anna Sophia Jacoba “Pop” (24 April 1945 – ?) – was nog minderjarig toe hul vader oorlede is en hul 41-jarige moeder moes skielik as jong weduwee haar drie kinders alleen versorg. Dit het sy uiteindelik vir die volgende 18 jaar getrou gedoen.18,24,42,43 Grieta het op 57-jarige ouderdom op 8 Julie 1967 vir ‘n tweede keer in die huwelik getree met die wewenaar, Johan Nicolaas Willem “Willie” Klue (3 Junie 1906 – 16 Junie 1987, Volksrust).18,24,40,41,45 Willie was ‘n motorwerktuigkundige en die twee het te Schoonstraat 62 in Volksrust gewoon.24,46
Een van Willie Klue se kinders uit sy eerste huwelik was Sara Johanna Josina (26 Julie 1933 – 25 September 1998, Potchefstroom) wat op 2 Julie 1955 getroud is met ds. Coenraad Frederik Wilhelmus “Coenie” Snyman (1936 – 2011), later kapalaan-generaal van die ver-regse politieke organisasie, die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB).47-50 Sara en Coenie se enigste kind, Dana Snyman (*1963, Stellenbosch) is ‘n bekroonde joernalis en rubriekskrywer, wat ook al heelwat kortverhale en boeke die lig laat sien het.49,51 In ‘n artikel wat op 4 Junie 2015 in die gesinstydskrif Die Huisgenoot verskyn het, kyk Dana op ‘n nostalgiese wyse terug na die tanende Tuisnywerheid-industrie en verwys gereeld na sy (stief)ouma, Grieta Klue. Grieta was inderdaad ‘n baasbakster wat vir jare koeke, terte en beskuit aan Volksrust Tuisbedryf gelewer het. Sy het ook die pragtigste troukoeke op bestelling gemaak.50 My moeder, Bettie Kruger, wat self 33 jaar lank vir Ermelo se Tuiskoop gebak het, het by meer as een geleentheid by haar man se tante gaan kers opsteek ten opsigte van innoverende tegnieke vir troukoekversiering.24 Ek onthou nog die swaantroukoek waaraan ek my as kind vergaap het en waarna Dana Snyman in sy artikel verwys. Dit was groot en wit, die rug oopgesny en die binnekant hol, sodat stukkies toegedraaide vrugtetroukoek daarin verpak kon word. Die swaan het die pragtigste vlerke gehad, gemaak uit spierwit, bollende netmateriaal. Inderdaad ‘n uitsonderlike koek! LEES HIER die volledige Huisgenoot-artikel met verwysing na Grieta Klue.
Willie is in 1987 op 81-jarige leeftyd weens maagkanker oorlede. Vier jaar later is Grieta weens hartverlamming (cardiac arrest) – ook in die ouderdom van 81 jaar – oorlede op Donderdag, 8 Augustus 1991 te Volksrust.40,41,45,52 Haar begrafnisrede is deur ds. Roos vanuit die NGK Volksrust Moedergemeente op 14 Augusrus 1991 gelei.52 Sy is langs haar tweede man in die Volksrust Begraafplaas begrawe.41
5.2 Hester Gesina
Hester Gesina “Ottie” is op 25 Maart 1912 gebore en was getroud met haar agterkleinneef, Piet Kruger (1904 – 1983).53-55 Hulle was my oupa en ouma (grootvader en -moeder) en was woonagtig op die plaas Roodedraai (Rooidraai), wat 20 km wes van Volksrust lê. LEES MEER oor Hester Coetzer en haar man, Piet Kruger.
5.3 Hendrik Gerhardus
Hendrik is op Schuilklip, Ingogo gebore op 16 Februarie 1915 en is ‘n maand later op 14 Maart 1915 te NHofGK Wakkerstroom gedoop.2,46 Hy het op 7 Desember 1942 te NGK Durban in die huwelik getree met die 21-jarige Elizabeth Johanna “Bes” Cloete (28 Februarie 1921 – 10 Julie 2000, Pretoria).2,46,56,57 Op daardie stadium was Hendrik, toe 27 jaar oud, werksaam as Kampong-opsigter en woonagtig te Albert Terras no. 3, Die Punt, Durban. Bes het in ‘n fabriek gewerk en het haar woonadres in die huweliksinskrywing as Stainford Nielweg no. 2, Durban, aangegee.56 Een van die getuies by hul huweliksbevestiging was Gerrit Cornelius Grobler, vermoedelik die broer van sy swaer Hendrik Johannes Christoffel Grobler wat met sy jonger suster, Anna getroud was. Die ander getuie was Gerhardus van der Merwe, waarskynlik sy moeder se broer/oom/neef.1,56
Hendrik het later by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens (SAS&H) begin werk, waar hy uiteindelik die grootste gedeelte van sy loopbaan werksaam was. Op ‘n stadium was hy egter by ‘n werksongeluk met stoomenjins betrokke en het in die proses sy een been onder die knie verloor. Hy het daarna vir die res van sy lewe met ‘n houtbeen geloop.18,24 Toe Hendrik op 10 Maart 1965 op 50-jarige ouderdom oorlede is, was hy ‘n Argiefbeampte by die SAS&H en het die gesin in die Reon Privaat Hotel, Van der Waltstraat (nou Lilian Ngoyistraat), Pretoria gewoon. Ten tye van sy afsterwe was hy egter aan’t huis van sy ouer suster, Grieta, in Volksrust waar hy en sy vrou gekuier het. Die egpaar het vier kinders gehad waarvan drie volwassenheid bereik het.46 Hulle was Wentzel Christoffel (*30 Julie 1943), Hendrik Gerhardus (26 Augustus 1944 – 7 November 1944, Durban), Johannes Christiaan (*27 Augustus 1945) en Anetta Maria (*18 Mei 1947 – 1980’s).18,46,58
5.4 Anna Catharina
Anna het die wêreld binnegekom in die middel van die winter op 2 Julie 1918 op die plaas Schuilklip.18 Sy is later op 24 Mei 1938 te Schuilklip in Utrecht distrik met Hendrik Johannes Christoffel Grobler jnr. (15 Mei 1908 – 9 Julie 1977, Primrose, Germiston) in die eg verbind, wat as Voorman by SAS&H op Ingogo gewerk het. Hy was die seun van Hendrik Johannes Christoffel Grobler snr. (27 Augustus 1864 – ?) en Magdalena van der Merwe (12 Augustus 1872 – ?). Getuies van hul huweliksbevestiging was D.M. Brown en Piet Kruger, Anna se swaer wat met haar ouer suster, Hester getroud was.1,2,18,59,60Teen 1939 gee die egpaar hul woonplek aan as Volksrust, Transvaal en vanaf 1942 tot 1948 as Flentershoek, distrik Utrecht in Natal provinsie, waar Hendrik op ‘n gedeelte van Schuilklip gaan boer het.25,61-63 Anna het gereeld te perd Ingogo toe gery om inkopies te doen. Boerdery het Hendrik nie eintlik aangestaan nie, en hoewel die gesin op die plaas bly woon het, het Hendrik Grobler teruggekeer na die SAS&H waar hy met verskillende intervalle in Ingogo, Newcastle en Volksrust gewerk het. Teen die 1950’s het die gesin die plaas reeds verlaat en verhuis na die nabygeleë spoorwegdorpie, Ingogo, waar die gesin lank gewoon het. Die Grobler-kinders het hul Oupa Wentzel se perdekar geniet. As hy kom kuier het, het hy die perde voor die agterdeur ingetrek, sy kleinkinders opgelaai en met ‘n esdraai om die huis gery voordat hy hulle by die voorstoep afgelaai het.18
Anna Coetzer was 17 jaar lank met Hendrik Grobler getroud voor sy in Pietermaritzburg op Sondagaand, 18 Julie 1954 – net 16 dae na haar 36ste verjaarsdag – weens borskanker oorlede is. Haar vader was by met haar afsterwe, terwyl haar kinders tuis deur een van hul Grobler-tantes versorg is. Om vir Hendrik Grobler te laat weet dat sy vrou en sy kinders se moeder oorlede is, het Wentzel na sy ryk buurman, Lukas Swanepoel wat ‘n telefoon gehad het, gebel met die nuus. Eers op Maandagnamiddag het Wentzel Coetser met die perdekar (met sy dogter se liggaam) terug gearriveer op Schuilklip18 – dit moes ‘n baie harteer en uitdagende rit vir Wentzel gewees het. Anna is vanuit hul huis op Ingogo waar ‘n gedenkdiens gehou is, begrawe en te ruste gelê in die familiekerkhof op Schuilklip. (Haar skoonmoeder, Magdalena Grobler lê ook hier begrawe.)18,25 Anna se vier jong kinders was met haar afsterwe tussen 15 en twee jaar oud. Die kinders het daarna by familie gaan woon wat met hul versorging kon help totdat hul vader later weer getroud is met die weduwee Anna Margaretha Baramasco (2 Julie 1912 – ?). Die egpaar het met Hendrik se aftrede in Lyttleton, Pretoria gaan woon.18
Hendrik en Anna (Coetzer) Grobler se kinders was Anna Catharina “Koek/Grobbie” (*19 Maart 1939, ≈4 Junie 1939, Flentershoek, NHK Volksrust, †20 Julie 2022, Nelspruit, ₼25 Julie 2022, NGK Presidents-Oord, Pietersfield, Springs), Hendrik Johannes Christoffel “Boet/Johan” (*26 April 1942, ≈31 Mei 1942, Flentershoek, NHK Volksrust, †25 Mei 2022), Magdalena “Magda” (*30 April 1948, ≈13 Junie 1948, Flentershoek, NHK Volksrust) en Wentzel Christoffel “Wennie” (*2 April 1952). Die eerste drie kinders is op Schuilklip gebore, terwyl die jongste op Ingogo die lewenslig gesien het. Hulle is almal in die Nederduits-Hervormde Kerk (NHK) gedoop.2,18,24,60-63 Van al die kinders het ek net vir tannie Koek goed geken daar waar hulle as gesin in Volksrust gewoon het.
SPESIALE VERMELDING
VERWYSING 18: Baie dankie aan tannie Koek Kruger, kleindogter van Wentzel en Annaat Coetzer, vir inligting, foto’s en kosbare staaltjies uit die verlede wat sy op 24 Februarie 2020 en daarna met my gedeel het. Die Coetzers se verhaal lees sommer baie, baie lekkerder.
VERWYSING 25: ‘n Groot dankie aan J.C. Kruger vir foto’s en videos wat geneem is op 18 en 19 Januarie 2020 tydens hul ‘Reis na die verlede’ na Schuilklip, Ingogo, Perdekop en Amersfoort. Hiersonder sou heelwat inligting en herinneringe van onskatbare waarde verlore gegaan het.
- Melville, J. 2005 Stamboom van die Van der Merwe Familie. 1ste Ed. Genealogiese Publikasies: Walmer
- Coetser, M. Coetzer en Coetser Families in South Africa. https://coetzercoetser.weebly.com/family-tree–stamboom.html
- Huweliksinskrywing van Hendrik Coetzer en Hester van der Merwe. South Africa, Transvaal, Civil Marriages, 1870-1930, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C91V-M34M-N?cc=2727134 : 27 September 2019), > image 1 of 1; Citing NARS Civil registration (marriages – coloureds), Transvaal and Swaziland, 1898-1927. The National Archives and Records Service of South Africa, Pretoria
- Doopinskrywings van Hendrik en Hessie Coetzer se kinders. Christenings, NGK Wakkerstroom (1877 – 1893). Film roll nr. 1612855. Church of Jesus Christ of Latter-Day Saints (LDS) Family History Centre, Parktown, Johannesburg
- Doopinskrywings van Anna Catharina van der Merwe. Christenings, NGK Wakkerstroom (1877 – 1893). Film roll nr. 1612855. Church of Jesus Christ of Latter-Day Saints (LDS) Family History Centre, Parktown, Johannesburg
- Doopinskrywing van Hendrik Gerhardus Coetzer jnr. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wakkerstroom (Transvaal), 1860-1949. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSK6-Z95C-3?cat=539146
- Sterfkennis van Hester Gesina (van der Merwe) Coetzer. South Africa, Civil Death Registration, 1955-1966, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C91L-FW85-V?cc=3732506 : 29 January 2021), > image 1 of 1; National Archives, Pretoria, Republic of South Africa
- Grafte van Wentzel en Annaat Coetzer. Ou Begraafplaas, Newcastle, KwaZulu-Natal. http://www.graves-at-eggsa.org/main
- National Geo-Spatial Information, 1:50 000 Rasters. January 2015. Department of Rural Development and Land Reform, Republic of South Africa. CD-publication
- Utrecht, KwaZulu-Natal. https://en.wikipedia.org/wiki/Utrecht,_KwaZulu-Natal
- NG Gemeentes Wakkerstroom en Newcastle. Gemeentegeskiedenisargief. ‘n Oorsig van die geskiedenis van die NG Kerk, sy gemeentes en predikante. https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/
- Bingle, P. 2002. 1859: Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. (In Hofmeyr, G., red. NG Kerk 350. LuxVerbi.BM : Wellington
- Hanekom, T.N., red. 1952. Ons Nederduitse Gereformeerde Kerk. ’n Gedenkboek by ons derde eeufees 1952. Kaapstad : NG Kerk-uitgewers
- Gerhardus Johannes van der Merwe (abt. 1865 – 1917). https://www.wikitree.com/wiki/Van_der_Merwe-6069
- Sterfkennis van Hendrik Gerhardus Coetzer snr. South Africa, Transvaal, Civil Death, 1869-1954, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C912-67CF-P?cc=2998108 : 16 October 2019), > image 1 of 1; Department of the Interior. Registrar of Births, Marriages, and Deaths, Transvaal
- Consentration Camp Registers. British Concentration Camps of the South African War, 1900 – 1902. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd
- Concentration camps – Locations. Anglo-Boer War.com. https://www.angloboerwar.com/other-information/88-concentration-camps/1833-concentration-camps-locations
- Onderhoud op 24 Februarie 2020 te Springs, Gauteng met Koek Kruger, kleindogter van Wentzel en Annaat Coetzer
- Sterfkennis, testament en boedel van Anna (Coetzer) Nel. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 7039/76, 1976
- Begrafnisbrief van Anna Catharina Nel. In private besit van haar kleindogter, Koek Kruger van Springs, Gauteng
- Anna Sophia Jacoba (van der Merwe) Botha (1844 – 1872). https://www.wikitree.com/wiki/Van_der_Merwe-1424
- Huweliksinskrywing van Wentzel Coetzer en Annaat van der Merwe. South Africa, Natal Province, Civil Marriages, 1845-1955, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:KDZQ-J1C : 10 March 2018), Wenzel Christoffel Coetzer and Anna Catharina Van Der Merwe, 08 Jun 1909; citing Schuilklip, Utrecht, Natal, South Africa; 02436; National Archives and Records Service of South Africa, Pretoria; 1,795,571
- Wortley, C. Kultuurhistoriese beskrywing van agt Suid-Afrikaanse families en hulle stambome. http://familielegkaart.blogspot.com/2016/10/h9-gert-nicolaas-johannes-nel-geb.html?m=1
- Onderhoud op 16 September 2019 te Pretoria, Gauteng met Bettie Kruger, weduwee van Wentzel Christoffel Kruger (1940 – 2009), kleinseun van Wentzel en Anna Coetzer
- Inligting, foto’s en videos ontvang op 1 Maart 2020 van JC Kruger van Pretoria, agterkleinseun van Wentzel en Annaat Coetzer
- Schuilklip Game Farm. http://www.wheretostay.co.za/schuilklip/
- Giliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
- Illustrated history of South Africa. The real story. 1989 2nd Ed. Reader’s Digest Association South Africa (Pty) Ltd.: Cape Town
- Stevenson, D. (2004) 1914 – 1918. The history of the First Word War. 1st Ed. Penguin Books (South Africa) (Pty) Ltd. Rosebank: Rosebank
- World War 1. https://en.wikipedia.org/wiki/World_War_I
- Battle of the Somme. https://military.wikia.org/wiki/Battle_of_the_Somme
- Schoeman, C. 2014 The Somme Chronicles: South Africans on the Western Front. Zebra Press: Cape Town. https://books.google.co.za/books
- Uys, I.S. December 1986. The South Africans at Delville Wood. The South African Military History Society. Military History Journal, Vol 7(2). http://samilitaryhistory.org/vol072iu.html
- 1st Infantry Brigade (South Africa). https://en.wikipedia.org/wiki/1st_Infantry_Brigade_(South_Africa)
- Henry Lukin. https://en.wikipedia.org/wiki/Henry_Lukin
- We remember Edward Frank Thackeray. Lives of the First World War. https://livesofthefirstworldwar.iwm.org.uk/lifestory/5408840
- Deville Wood. Distinguished Service Order. http://www.delvillewood.com/dso.htm
- Cave, N. 1999 Delville Wood: Somme. 1st Ed. Leo Cooper, Pen & Sword Books Limited: Barnsley, South Yorkshire, England. https://books.google.co.za/books?id=LOjNAwAAQBAJ&pg=PA58&lpg=PA58&dq=wec+tanner&source=bl&ots=rS2MyQd3Tw&sig=ACfU3U1SGeEAFcHINGFUoFZ8O75igCOBLA&hl=en&sa=X&ved=2ahUKEwjw04OQl57lAhXgQkEAHcgwCjMQ6AEwEXoECAkQAQ#v=onepage&q=wec%20tanner&f=false
- Delville Wood. The South African Infantry Brigade: Rollcall on the 14th July 1916. http://www.delvillewood.com/rolcallt.htm
- Rekord van geboorte, tweede huwelik en afsterwe van Magrietha Cornelia (Coetzer) Klue. https://www.identitynumber.org
- Grafte van Willie en Grieta Klue. Volksrust Begraafplaas, Volksrust, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
- Johan Daniel Koch. Familiebande; meer as DNA en genetika. Webblad van L. Joubert jnr. http://familiebande.co.za/tng/getperson.php?personID=I1453&tree=LCJoubert2
- Sterfkennis van Johan Daniel Koch. South Africa, Natal Province, Civil Deaths, 1863-1955, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C91P-J6TM?cc=2721608 : 17 August 2020), > image 1 of 1; The National Archives of South Africa (NARS), Pretoria
- Rekord van geboorte en dood van Marthinus Stephanus Koch. https://www.identitynumber.org/
- Rekord van geboorte en afsterwe van Johan Nicolaas Willem Klue. https://www.identitynumber.org
- Sterfkennis en boedel van Hendrik Gerhardus Coetzer. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 2200/65, 1965
- Rekord van geboorte, huwelik en afsterwe van Sara Johanna Josina Snyman. https://www.identitynumber.org
- Taljaard, J. 4 August 1994. The Far Right’s chosen few. Mail & Guardian Newspaper. https://mg.co.za/article/1994-08-05-the-far-rights-chosen-few
- Dana Snyman. Biographical info. http://www.nb.co.za/authors/309
- Snyman, D. 4 Junie 2015. Pioniers van die bakoond. Die Huisgenoot. Artikel in besit van Alta Jamison, tweede niggie van Grieta Klue
- Terblanche, E. 10 Januarie 2019. Dana Snyman (1963 – ). ATKV LitNet-Skrywersalbum. LitNet University Seminar. https://www.litnet.co.za/dana-snyman-1963/https://www.litnet.co.za/dana-snyman-1963/
- Begrafnisbrief van Magrietha Cornelia Klue. In private besit van haar niggie, Koek Kruger van Springs, Gauteng
- Geboortesertifikaat van Hester Gesina Coetzer. In private besit van haar dogter, Tienie Saad van Witrivier, Mpumamlanga
- Grafte van Piet en Hester Kruger. Amersfoort Begraafplaas, Amersfoort, Transvaal (nou Mpumalanga), Suid-Afrika
- Inskrywings voor in die Bybel van Hester Gesina Kruger (née Coetzer), in besit van haar kleinseun Dr. Ds. Pieter Kruger van Boksburg, Gauteng
- Huweliksinskrywing van Hendrik Coetzer en Bes Cloete. South Africa, Natal Province, Civil Marriages, 1845-1955, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:KDZ9-NS6 : 10 March 2018), Hendrik Gerhardus Coetzer and Elizabeth Johanna Cloete, 07 Dec 1942; citing Durban, Natal, South Africa; 02771; National Archives and Records Service of South Africa, Pretoria; 1,938,570
- Rekord van geboorte, huwelik en afsterwe van Elizabeth Johanna Coetzer (née Cloete). https://www.identitynumber.org
- Graf van Hendrik Gerhardus Coetzer (1944). Stellawood Begraafplaas, Durban, KwaZulu-Natal. http://www.graves-at-eggsa.org/main
- Huweliksinskrywing van Hendrik Grobler en Anna Coetzer. South Africa, Natal Province, Civil Marriages, 1845-1955, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:KDZM-T25 : 10 March 2018), Hendrik Johannes Christoffel Grobler and Anna Catharina Coetzer, 24 May 1938; citing Utrecht, Natal, South Africa; 02414; National Archives and Records Service of South Africa, Pretoria; 1,938,560
- Grobler-stamboom ontvang op 3 Maart 2020 van Johan Kruger van Springs, agterkleinseun van Wentzel en Annaat Coetzer
- Doopinskrywing van Anna Catharina Grobler. South Africa, Netherdutch Reformed Church Registers (Pretoria Archive), 1838-1991, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:QP3Y-JYPY : 12 August 2019), Anna Cathrina Coetzer in entry for Anna Cathrina, 1939
- Doopinskrywing van Hendrik Johannes Christoffel Grobler. South Africa, Netherdutch Reformed Church Registers (Pretoria Archive), 1838-1991, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:QP3Y-2F3P : 12 August 2019), Anna Catharina Coetzer in entry for Hendrik Johannes Christoffel, 1942
- Doopinskrywing van Magdalena Grobler. South Africa, Netherdutch Reformed Church Registers (Pretoria Archive), 1838-1991, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:QP3B-SLSG : 12 August 2019), Anna Catharina Coetzer in entry for Magdalena, 1948