Hendrik Gerhardus Coetzer (1863 – 1901)
1. Sy kinderjare
Hendrik, wat my groot-oupagrootjie was, was die sewende van nege kinders wat vir Wentzel Christoffel Coetzer (1825 – 1909) en Maria Magdalena Koch (1825 – 1909) gebore is.1-4 Hendrik het die lewenslig aanskou op 20 April 1863 op die plaas Zaaihoek (Natal plaasnr. 377 HT) in Wakkerstroom distrik in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en is op 23 Oktober 1864 te Marthinus-Wesselstroom (nou Wakkerstroom) in die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) deur die konsulent, ds. Dirk van der Hoff (1814 – 1881) gedoop.1,4-6 Sy oom aan moederskant en dié se gade, Hendrik Gerhardus Koch (1832 – 1902) en Maria Elizabeth Bester (1835 – ?) het as doopgetuies opgetree. Ook was sy stiefoom aan vaderskant, Thomas Ignatius Steenkamp (1828 – 1890) saam met sy vrou, Anna Maria Petronella Margaretha Potgieter (1840 -1890) by die plegtigheid teenwoordig. Die egpaar, Frederik Johannes Veldman (1801 – 1886) en Anna Margaretha Veldman (? – 1865) was ook daar.4,7-9 Hulle was vermoedelik bure of vriende van die Coetzers.Hoewel Hendrik in distrik Wakkerstroom gebore is, was die dorpie egter bekend as Marthinus-Wesselstroom. Die dorp se naam het eers in 1904 na Wakkerstroom verander, en daarmee saam ook dié van die bestaande kerk. NHK Martinus-Wesselstroom het in 1860 tot stand gekom. Vyf-en-twintig jaar later in 1885 het die NHK van die ZAR en die Transvaalse Nederduits-Gereformeerde Kerk (NGK) saamgesmelt om die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk (NHofGK), ook bekend as die Verenigde Kerk (VK), te vorm. Hierdie eenheid het egter slegs sewe jaar geduur voordat die NHK weer in 1892 afgestig het. Die NGK in Transvaal het daarna tot en met 1957 as die NHofGK voorbestaan, waarna die naam na NGK herstel is. Hoewel die kerk op Wakkerstroom oorspronklik as ‘n NHK-gemeente ontstaan het, het dit na 1957 bly voortbestaan as ‘n NGK-gemeente.10-16
Hendrik het sy kinderlewe op Zaaihoek deurgebring. Die plaas was oorspronklik geleë in distrik Wakkerstroom in die ZAR, maar na 1902 het grense verskuif en die plaas lê nou in die noorde van KwaZulu-Natal.3,16 Hendrik se moeder is hier oorlede toe hy 22 jaar oud was.2 Soos met die meeste gesinne die geval was, was Hendrik se ouers self verantwoordelik vir hul kinders se basiese geletterdheid, want formele skole het nog nie bestaan nie. Dikwels het die predikant of ‘n rondgaande onderwyser ook bietjie hand bygesit, maar dit was maar so af en toe, indien ooit.15,17,18
2. Sy vrou
Hester Gesina “Hessie” van der Merwe, my groot-oumagrootjie, is op 19 Julie 1862 gebore. Nege maande later op 19 April 1863 is sy te NHK Marthinus-Wesselstroom deur ds. Van der Hoff gedoop.19,20 Die getuies by haar doop was haar oom aan moederskant, Johan Adam Vosloo (ca 1838 – 1907) en sy gade, Anna Catharina Maria Jordaan (1839 – 1865).19,21 Sy was die dogter van die Voortrekker, Marthinus Stephanus van der Merwe (≈27 Desember 1807 – 6 Augustus 1886) en sy tweede vrou, Anna Maria Jacomina Vosloo (21 Oktober 1842 – 29 April 1907, plaas Schuilklip).19-22 Marthinus het onder andere aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem.15,16,23,24 Ten tye van haar huwelik het Hessie by haar ouers op die plaas Gejaag (Natal plaasnr. 99) in Utrecht distrik in die ZAR gewoon.6,25 Die plaas is ongeveer 11 km suid-oos van Volksrust geleë.6,26 LEES MEER oor die Van der Merwes. In 2018 is ‘n basiese assessering van die omgewing, asook die bepaling van praktyke ten opsigte van omgewingsbestuur tydens voorgenome prospekteerder-aktiwiteite op Gejaag, sowel as die buurplaas, Kalebasfontein (Natal plaasnr. 394) uitgevoer. Dit is gedoen in opdrag van Thikho Resources wat huidiglik die moontlike ontginning van steenkool en pseudo-steenkool op hierdie twee plase ondersoek.27Hendrik en Hessie het mekaar vermoedelik ontmoet by gemeenskaplike vriende of tydens ‘n kerkbyeenkoms te Marthinus-Wesselstroom. Gesinne het met hul ossewaens gekom en naby die kerk uitgekamp vir die naweek en soms selfs tot die volgende naweek voordat daar weer huiswaarts gekeer is. Gedurende so ‘n week is katkisasie afgehandel, ‘n paar skoollesse by die predikant bygewoon, produkte verkoop en voorrade by die handelaars aangekoop.12,28 Die 20-jarige Hendrik het met die 21-jarige Hessie op 31 Oktober 1883 in die huwelik getree. Die plaaslike landdros, Johannes Christoffel Krogh (1846 – 1921) het die egverbintenis in die magistraatskantoor op Martinus-Wesselstroom hanteer.25,29,30 Hendrik se ouer broer, Pieter Schalk Willem Coetzer (1855 – ?) het as getuie opgetree.2,25
Die jong egpaar het die eerste paar jaar van hul huwelik op Zaaihoek gewoon, maar vermoedelik iewers tussen 1890 en 1899 na die plaas Schuilklip (Natal plaasnr. 109) verder suid-wes in Utrecht distrik verhuis, waar Hessie se ouers toe gewoon het.5,6,31,32 Haar weduweemoeder was tot en met haar afsterwe in 1907 nog op Schuilklip woonagtig.20,21 Hier het Hessie Coetzer haar kinders grootgemaak en as boervrou gearbei.33,34 (Hoewel Utrecht distrik die mees suidelikste distrik van die ZAR was, is dit na die Tweede Anglo-Boere Oorlog [ABO2] ingedeel by Natalkolonie.)15,16,35 Op die ouderdom van 39 jaar het Hessie se man haar egter ontval en moes sy alleen hul vier kinders – onderskeidelik 15, 13, 8 en 3 jaar – grootmaak en versorg.31,32
Hendrik is midde-in die ABO2 in Junie 1901 oorlede en dit lyk of die gesin moontlik nog op daardie stadium op Schuilklip was.31,32 Boere-gesinne in die ZAR en Oranje-Vrystaat was reeds onderwerp aan die Verskroeide Aarde Beleid, wat deur Veldmaarskalk Horatio Herbert Kitchener (1850 – 1916) in September 1900 afgekondig is, in ‘n poging om die voortvegtende Boerekommando’s se toegang tot kos- ammunisievoorrade, asook vars perde, af te sny. Plaashuise is verwoes of afgebrand, vee is afgemaai of gekaap, en vroue, kinders en oues van dae is deur Britse troepe gevang en na konsentrasiekampe weggeneem.15,16,35-38 Waar Hessie en haar kinders hulle bevind het gedurende die oorlog is egter nie bekend nie.
Hessie het nie weer getrou nie en het die res van haar lewe as weduwee op Schuilklip aangebly, waar haar oudste seun, Wentzel en sy vrou, Anna Catharina van der Merwe (1891 – 1976) ook gewoon het en met die boerdery voortgegaan het.20,33,34,39
Tot met haar dood, op 25 Augustus 1957, het sy nog in haar eie huisie op Schuilklip gewoon.33,34 Haar skoondogter het gesorg dat sy versorg is, en het elke dag ‘n groot emmer met warm water aangedra. Vir haar 95ste verjaarsdag is ‘n groot koek gebak en Hessie het nog genoeg sprankel gehad om grappenderwys vir die kamera te posseer.33,40 Sy is egter net een maand na haar 95ste verjaarsdag op Schuilklip oorlede weens ouderdomverwante oorsake naamlik uremie (nierversaking) en hartverswakking, asook onderliggende enteritis (dunderminflammasie).34 Waar Hessie begrawe is, is nie bekend nie, maar is waarskynlik op Schuilklip te ruste gelê. 3. Sy beroep
Hendrik Coetzer was ‘n vee- en graanboer op die plaas, Schuilklip in wyk 2 in distrik Utrecht in die ZAR.31 Hy het iewers in die 1890’s op hierdie plaas begin boer.6,31 Hierdie distrik is in 1854 as die Republiek van Utrecht gestig, waarna dit in 1858 saamgesmelt het met die Republiek van Lydenburg. In 1860 is Utrecht en Lydenburg en hul omliggende areas by die bestaande ZAR ingelyf. Na die ABO2 is Utrecht distrik egter as oorlogsbuit aan die Britse Natalkolonie (later bekend as Natalprovinsie, nou KwaZulu-Natal provinsie) toegeken.15,16,35,41,42 Schuilklip lê teen die oostelike oewer van die Buffelsrivier tussen Ingogo en Flenterskoek in die teenswoordige Newcastle dustrik.6,26Hendrik was 36 jaar oud toe die ABO2 op 11 Oktober 1899 uitgebreek het. Boere-mans en -seuns tussen die ouderdom van 16 en 60 jaar in die ZAR en Oranje-Vrystaat is opgekommandeer om te veg teen die magtige, imperialistiese Brittanje.15,16,35,37,43 Hendrik het gereageer op die oproep en by die Utrechtkommando aangesluit.32
Die verloop van die oorlog, wat uiteindelik byna drie jaar geduur het, kan in drie fases verdeel word. Binne die eerste vier maande van die oorlog het die Boere daarin geslaag om die noorde van Britse Natal binne te val en beslag te lê op die dorp Ladysmith. Ook het die Boere die Britse garnisoene wat in Kimberley en Mafikeng (nou Mahikeng) in die Britse Kaapkolonie gestationeer was, verras en die twee dorpe oorgeneem. Hoewel die Britte taktiese oorwinnings behaal het by Talana en Elandslaagte, is ernstige neerlae teen die Boere gely by Stormberg, Magersfontein en Colenso. Die tweede fase van die oorlog het ‘n aanvang geneem met Brittanje wat grootskaals op hierdie neerlae reageer het – en uiteindelik die skaal in Brittanje se guns laat swaai – deurdat swaar versterkings uit al die Britse kolonies opgekommandeer is. Generaal Frederick Sleigh Roberts (1832 – 1914) het ‘n grootskaalse teenaanval op die Boeremagte geloods en die Boeremagte begin terugdryf. Op 13 Maart 1900 is Bloemfontein beleër en drie maande later op 5 Junie 1900 het ook Pretoria die knie gebuig. Hoewel beide Brittanje en baie Boere gedink het dat die oorlog verby was, was daar egter ook dié wat nie so maklik oorgegee nie. Daar is van strategie verander deur in kleiner mobile eenhede op te breek en teen November 1900 is tot guerillia-oorlogvoering (die derde fase) oorgegaan. Hierdie eenhede was baie effektief om klopjagte op Britse kampe uit te voer, voorrade van die Britse troepe te roof, spoorweglyne te beskadig en kommunikasielyne te ontwrig. Die uitsonderlike vermoeë van hierdie effektiewe Boere-kommando’s om die die Britse troepe te fnuik en te ontwyk, het die Britse bevelvoerders erg gefrustreer. Om die boere se beweeglikheid te probeer inperk is blokhuise (ongeveer 8 000) en draadheinings (vir ongeveer 6 000 km) opgerig en deur ongeveer 50 000 Britse troepe, insluitend Bantoe-manskappe, beman. Verder is gepoog om die Boeremagte se bron van voorrade, perde en beskerming af te sny met die instelling van die Verskroeide Aarde Beleid.15,16,35-37,43 Vir die guerillia-vegters was die lewe vir maande in die veld hard en genadeloos. Hulle was uitgelewer aan die natuurlike elemente, en waar burgers in die kommando’s aan die begin van die oorlog toegang gehad het tot vleis, biltong, brood, beskuit, melk, suiker en moerkoffie, asook klere en seep, was die guerilla-vegters egter op hulself aangewese. Mielies het die stapelvoedsel geword – mieliepap, mieliekoekies, gebraaide mielies, gekookte mielies en mieliekoffie. Soms is selfs grasuitjies gekook as mielies nie beskikbaar was nie. Heuning het ‘n plaasvervanger vir suiker geword en vir vleis is daar dikwels gejag. Daar was later ook ‘n groot tekort aan boerseep, en seep is toe gemaak uit ‘n mengsel van die as van mieliestronke en die blare van die elandsdoringrankplant (die blare het geskuim).35,44,45Die burgerkommando’s se beweeglikheid was grootliks te danke aan hul perdryvermoeëns en hul dapper perde, waaraan die burgers hoë waarde geheg het, asof soos vir geliefde kamerade.35,46 Meeste van hierdie perde was Boerperde en in ‘n mindere mate, Basoetoe ponies. Boerperde is bekend vir hul intelligensie, stamina, gehardheid en vlugvoetigheid, met ‘n kenmerkende stewige, gespierde ligaamsbou, sterk bene en harde hoewe. Daarby hanteer hulle ruwwe terrein, asook die Suid-Afrikaanse droë somers en koue winters met gemak. Hul kalm geaardheid, betroubare karakter, bereidheid om te werk en onmiddelike reaksie op instruksies was ideaal vir die oorlogsituasie waarin die Boere hul bevind het.47 Die oorlog het egter ook sy tol op hierdie inheemse perderas geëis. Meer as 100 000 perde aan Boerekant is gedurende die oorlog dood; perde is tydens gevegte doodgeskiet of ernstig verwond, of is op plase deur Britse soldate afgemaai in ‘n poging om kommando’s se toegang tot vars perde af te sny. Omdat die burgers goeie insig in hul perde se vermoeëns en behoeftes gehad het, is hul perde selde dood aan uitputting, wat dikwels die geval was met die Britse perde wat oorlaai of oorwerk is, en dikwels ook ondervoed was. Perdesiektes het ook onder Britse perde voorgekom. Meer as 300 000 perde en 50 000 muile aan Britse kant het tydens die oorlog omgekom.46,47Dit lyk of Hendrik teen middel 1901 in die omgewing van sy plaas, Schuilklip was, waar hy dan ook weens siekte oorlede is. Ten tye van sy dood was sy skoonsuster, Anna Maria Jacomina Botha (née Van der Merwe) (4 Augustus 1855 – ?) wat ook op Schuilklip gewoon het, teenwoordig. Sy was die weduwee van Theunis Jacobus Petrus Botha (27 Mei 1854 – 28 Maart 1900).20,31,48 Waar Hendrik se gesin was ten tye van sy dood is nie seker nie. Moontlik was hulle nog op die plaas, maar volgens familie-oorlewering was Hessie en haar kinders in ‘n kamp naby Flentershoek.33 Of hierdie kamp ‘n militêre of tydelike burgerkonsentrasiekamp was, is onduidelik. Geen rekord van die bestaan van die Flentershoekkamp, asook burgerkamprekords van ander bestaande konsentrasiekampe waar die Coetzer-gesin se teenwoordigheid aangeteken is, kon tot op hede gevind word nie.49 Was Hessie en haar kinders dalk vir maande lank al aan’t vlug in die veld, soos wat baie ander Boere-vroue gedoen het om die Britse troepe te ontduik en die konsentrasiekampe te vermy? Of was sy en haar gesin moontlik in ‘n Britse militêre kamp naby Ingogo waar haar man siek gelê het, hoewel dit lyk of hy dalk eerder by sy huis op Schuilklip kon gesterf het? Of, kan dit miskien wees dat Hendrik Coetzer reeds op ‘n vroeëre stadium besluit het om eerder met die Britte saam te werk en ‘n joiner te word, en dit moontlik kon verklaar het hoekom hy nog in die omgewing was, en waarom sy weduwee na die oorlog geen oorlogsvergoedingseis ingedien het nie, omdat hul plaas dus nie vernietig is nie? Om 120 jaar later antwoorde te probeer kry oor die oortuigings en presiese bewegings van die Coetzer-gesin tydens die ABO2 is ‘n uitdaging. Die feit dat Hendik oorlede is – nie net met sy skoonsuster by hom nie – maar ook in die teenwoordigheid van ‘n militêre dokter wat gestasioneer was by die Britse Ingogo-kamp, skep meer vrae as antwoorde. Mens wonder hoe hy as burger in die sorg van ‘n Britse dokter beland het, terwyl die Boerekommando’s teen die middel van 1901 al ver teruggedryf was na Suid-oos Transvaal.
4. Sy afsterwe
Hendrik Coetzer was 38 jaar oud toe hy op 6 Junie 1901 weens asma oorlede is. Hy was vermoedelik by sy huis.31,32 Asma-aanvalle is gewoonlik akkuut en het die volgende simptome: hoes en hyging weens slymvorming in longe, kort van asem, moeilike asemhaling en benoudheid in borskas. ‘n Erge aanval kan selfs lei tot die dood weens respiratoriese versaking.50,51 Die feit dat Hendrik se ‘asma’ twee weke geduur het voor hy oorlede is,31 laat die vermoede ontstaan dat hy waarskynlik oorlede is óf weens ‘n onderliggende lugwegingkondisie of -infeksie wat simptomaties soos asma gepresenteer het óf dat hy sy lewe lank chroniese asma gehad wat deur ‘n onderliggende infeksie vererger is.50 Bo-en-behalwe sy skoonsuster wat teenwoordig was by sy sterfbed, was daar ook ‘n militêre dokter van die Britse kamp naby Ingogo teenwoordig.31 Ongelukkig kan nie afgelei word of die dokter vir Hendrik gedurende die laaste twee weke van sy lewe behandel het, of net by sy sterfbed teenwoordig was nie. 5. Sy kinders
5.1 Wentzel Christoffel
Wentzel is op 31 Januarie 1886 in Utrecht distrik in die ZAR gebore. Op 23-jarige ouderdom het hy in die huwelik getree met Anna Catharina “Annaat” van der Merwe (1891 – 1976).1,20,34,52,53 Hulle was my ouma- en oupagrootjie. LEES MEER oor Wentzel Coetzer.
5.2 Anna Maria Jacomina
Sy het in die somer van 1888 op 28 Januarie haar opwagting op Schuilklip gemaak en is ses weke later op 11 Maart 1888 te Wakkerstroom gedoop. Haar oom, Theunis Jacobus Petrus Botha, haar weduwee-tante aan moederskant, Anna Maria Jacomina van der Merwe (voorheen Prinsloo, née Vosloo) (ca 1835 – 29 April 1907, plaas Schuilklip), asook sy oom aan vaderskant, Pieter Schalk Willem Coetzer (1855 – 1901) en aangetroude tante, Susara Susanna Botha (ca 1856 – ?), was teenwoordig as doopgetuies.1,52,53
Agtien jaar later op 17 Julie 1906 tree sy in die huwelik met die 21-jarige Paul(us) Johannes Nicolaas “Paul” Grobler (*14 April 1885, ≈26 Julie 1885, NGK Heilbron – ?) in die plaasopstal op die plaas Uitkomst, distrik Utrecht, Natalkolonie.52-55 Hy was die seun van Marthinus Petrus Grobler (*1 August 1853, Newcastle, ≈19 November 1854, †18 November 1930, Utrecht distrik, Natal) en Susanna Sophia Els (10 Oktober 1860 – 1 Februarie 1950).54,55 Die huwelik is voltrek deur ds. Abraham Johannes Benjamin Albertyn (1858 – 1921) wat die predikant van NHofGK Utrecht was vanaf 1894 tot 1921.11,54
Paul en Anna Grobler het saam drie kinders gehad wat tot dusver opgespoor kon word. Hulle was Hester Gesina (*29 April 1907, ≈25 Augustus 1907, NGK Utrecht – ?), Marthinus Petrus (*14 Junie 1912, ≈29 September 1912, NGK Wakkerstroom – ?) en Susanna Sophia (*5 Januarie 1915, ≈15 Augustus 1915, NGK Wakkerstroom – ?).1,55,56 HIER KORT KINDERS nie in Grobler boek
Anna Grobler (née Coetzer) is op 14 Mei 1953 op die ouderdom van 65 jaar oorlede en lê begrawe in Newcastle. Wanneer Paul Grobler oorlede is, is op hierdie stadium onbekend.1,52 5.3 Maria Magdalena
Maria het die lewenslig op 3 Julie 1892 op Schuilklip aanskou.1,53 Sy is op 14 Augustus 1892 te Wakkerstroom in die teenwoordigheid van haar tante en aangetroude oom aan vaderskant, Martina Elsie Johanna Coetzer (1851 – ?) en Gideon Johannes Stoop (ca 1848 – ?), haar tante en aangetroude oom aan moederskant, Maria Magdalena van der Merwe (1858 – 1920) en Richard Hermanus Jan O’Neil (1850 – 1896), asook Hendrik Bezuidenhout (1845 – 1900) en sy vrou, Alida Jacoba Sofia Bierman (ca 1847 – ?). Laasgenoemde egpaar se verwantskap is onbekend; moontlik familievriende.20,53,57
As 18-jarige jong meisie tree sy op 28 Maart 1911 in die huwelik met Paul Nicolaas Grobler (*15 Januarie 1888, ≈28 Maart 1888, NGK Utrecht, †23 Junie 1969, Boksburg) op die Coetzers se woonplaas, Schuilklip.1,58 Die huweliksplegtigheid is deur ds. Pieter Jacobus Conradie (1867 – 1939) waargeneem. Hy was die leraar van NGK Newcastle vanaf 1905 tot 1935.11,58 Paul Grobler was die oudste seun van Pieter Grobler (*5 Mei 1862, ≈15 Maart 1863, NGK Kroonstad, †26 Julie 1956, Utrecht) en Martha Maria Cornelia Ackerman (9 Februarie 1870 – 12 September 1958, Utrecht). Paul was die neef van Paul Grobler (1885 – ?) wat met Maria se ouer suster, Anna, getroud was (sien 5.2).56Maria is elf dae na haar 48ste verjaarsdag op 14 Julie 1940, Utrecht distrik, oorlede en haar man, Paul, eers 29 jaar later in 1969.56 Paul en Maria Grobler het ses kinders gehad. Hul eersgeborene was Pieter (20 Mei 1913, plaas Rooiwal, Utrecht distrik – 27 Junie 1971, Volksrust Hospitaal, Volksrust). Hy is as 23-jarige op 4 Junie 1935 met Susanna Christina “Sannie” Kruger (27 Maart 1916 – ?) in die NHofGK op Volksrust in die eg verbind. Sannie was die dogter van David Frederick Kruger (1877 – 1951) en Martha Maria van der Merwe (1874 – 1956).56,59-61 Laasgenoemde was Hessie (van der Merwe) Coetzer se eerste niggie eenmaal verwyder.20Die vyf ander kinders van Paul en Maria Grobler was Hester Gesina (8 September 1916, Utrecht – 31 Augustus 1929, Utrecht), Hendrik Gerhardus (*10 Februarie 1924, Utrecht; getroud met Miemie Aletta de Villiers), Maria Magdalena (*10 November 1926, Utrecht; getroud met Hendrik de Wet), Paul Nicolaas jnr. (1 Februarie 1929, Utrecht – 22 Desember 1951, Kemptonpark; getroud met Theunsina Wilhelmina Christina van Dyk) en Martha Maria Cecilia (13 Augustus 1921, Utrecht – 13 September 1921, Utrecht).56
5.4 Hendrik Gerhardus jnr.
Hendrik jnr. is op 4 Augustus 1896 gebore en twee maande later op 18 Oktober 1896 in die NHofGK van Marthinus-Wesselstroom gedoop.1,62 Sy oom, Johan Daniel Coetzer (1857 – ?) en aangetroude tante, Susanna Elizabeth Visagie (1862 – 1907),1,63 asook sy stiefgrootoom, Francois Jacobus Prinsloo en sy vrou, Catharina Aletta Prinsloo was teenwoordig as getuies. Nadat Hendrik jnr. se oupa, Martinus van der Merwe in 1886 oorlede is, het sy ouma later weer getrou met die wewenaar, Marthinus Petrus Prinsloo (? – 1901). Sy stiefgrootoom wat by sy doop was, was ‘n seun uit sy stiefoupa se eerste huwelik.20,62
Geen verdere inligting oor Hendrik Coetzer jnr. se lewe kon opgespoor word nie. Hy is vermoedelik voor 1957 oorlede, want hy kom nie op sy moeder se sterfkennis voor nie.34
SPESIALE VERMELDING
VERWYSING 33: Baie dankie aan tannie Koek Kruger, agter-kleindogter van Hendrik en Hessie Coetzer, vir inligting en foto’s wat sy op 24 Februarie 2020 en daarna met my gedeel het. Daarsonder sou Coetzer-voorsate net name op papier gebly het.
- Coetser, M. Coetzer en Coetser Families in South Africa. https://coetzercoetser.weebly.com/family-tree–stamboom.html
- Sterfkennis, testament en boedel van Maria Magdalena Coetzer (née Koch). South Africa, Transvaal, Probate Records from the Master of the Supreme Court, 1869-1958, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CS92-Z93M-P?cc=2520237&wc=Q6NX-RBN%3A1590242307 : 16 December 2016), 007805271 > image 1260 of 1334; Pietermaritzburg Archives (formerly Natal State Archives), South Africa
- Doodsertifikaat, sterfkennis en boedel van Wenzel Christoffel Coetzer (1825-1909). South Africa, Pietermaritzburg Estate Files 1846-1950, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:QLRL-C6V6 : 17 March 2018), Hendrik Gerhardus Coetzer in entry for MM9.1.1/QLRL-C6VZ:, 1909; citing Probate, Pietermaritzburg Archives (Formerly Natal State Archives), South Africa
- Doopinskrywing van Hendrik Gerhardus Coetzer snr. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wakkerstroom (Transvaal), 1860-1949. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSK6-Z9PX-G?i=558&cat=539146
- Burger lists. Wakkerstroom (WKR 185) 1866-1893 (WKR 186) 1893-1900. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSKG-GBZJ?i=9&cat=188331
- National Geo-Spatial Information, 1:50 000 Rasters. January 2015. Department of Rural Development and Land Reform, Republic of South Africa. CD-publication
- Thomas Ignatius Steenkamp, b7c2d2e10. https://www.geni.com/people/Thomas-Ignatius-Steenkamp-b7c2d2e10/6000000016802282820?through=6000000016802459031
- Frederik Johannes Veldman, b1c10. https://www.geni.com/people/Frederik-Johannes-Veldman-b1c10/6000000023724603162
- Steenkamp, J.H. 1969 Die Steenkamps van Suidelike Afrika.
- NG gemeente Wakkerstroom. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Wakkerstroom
- NG Gemeentes Wakkerstroom, Utrecht en Newcastle. Gemeentegeskiedenisargief. ‘n Oorsig van die geskiedenis van die NG Kerk, sy gemeentes en predikante. https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/
- Wakkerstroom. The jewel of Mpumalanga. http://www.wakkerstroom.co.za/
- Van der Watt, P.B. 1989. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652-1905. NG Kerkboekhandel 1988 (Edms) Bpk : Pretoria
- Hanekom, T.N., red. 1952. Ons Nederduitse Gereformeerde Kerk. ’n Gedenkboek by ons derde eeufees 1952. Kaapstad : NG Kerk-uitgewers
- Giliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
- Illustrated history of South Africa. The real story. 1989 2nd Ed. Reader’s Digest Association South Africa (Pty) Ltd.: Cape Town
- Bot, A.K. 1936. A century of education in the Transvaal. Viewed at National Library, Pretoria
- Byrnes, R.M. 1997. South Africa: A country study. 2nd Ed. Federal Research Division, Library of Congress: Washington, USA
- Doopinskrywing van Hester Gesina van der Merwe. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wakkerstroom (Transvaal), 1860-1949. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSK6-Z9P2-C?i=540&cat=539146
- Melville, J. 2005 Stamboom van die Van der Merwe Familie. 1ste Ed. Genealogiese Publikasies: Walmer
- Anna Maria Jacomina van der Merwe (Vosloo). https://www.geni.com/people/Anna-Maria-Jacomina-van-der-Merwe/6000000017855738865?through=6000000017538859412
- Visagie, J.C. 2011 Voortrekkerstamouers, 1835-1845. 2de Ed. Protea Boekhuis: Pretoria
- Du Toit, A.G. & Steenkamp, L. 1938. Bloedrivierse Eeufees-Gedenkboek. 1st Ed. Die Natalse Pers
- Voortrekkers: Slag van Bloedrivier. https://www.wikitree.com/wiki/Space:Voortrekkers:_Slag_van_Bloedrivier
- Huweliksinskrywing van Hendrik Coetzer en Hester van der Merwe. South Africa, Transvaal, Civil Marriages, 1870-1930, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C91V-M34M-N?cc=2727134 : 27 September 2019), > image 1 of 1; Citing NARS Civil registration (marriages – coloureds), Transvaal and Swaziland, 1898-1927. The National Archives and Records Service of South Africa, Pretoria
- Map: Newcastle Main Seat of Amajuba Magisterial District. September 2017. Department of Justice and Correctional Services. https://www.justice.gov.za
- Wanless, S. 2018. Basic Assessment Report and Environmental Management Programme Report (KZN30/5/1/1/2/10781PR) for Thikho Resources. https://sahris.sahra.org.za › files › Gejaag BAR V1
- NG Gemeente Wakkerstroom. Gemeentegeskiedenisargief. ‘n Oorsig van die geskiedenis van die NG Kerk, sy gemeentes en predikante. https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/
- Landman-Reid, R. 2013 (hersien). Veldpond. The true facts. Pilgrim’s Rest 1902. http://www.veldpond.co.za/
- Van Zyl, A. 30 September 2016. JC Krogh – The maker of peace? Zoutpansberger Newspaper (online). https://www.zoutpansberger.co.za/articles/history_streets/39410/2016-10-28/jc-krogh-a-the-maker-of-peace
- Sterfkennis van Hendrik Gerhardus Coetzer snr. South Africa, Transvaal, Civil Death, 1869-1954, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C912-67CF-P?cc=2998108 : 16 October 2019), > image 1 of 1; Department of the Interior. Registrar of Births, Marriages, and Deaths, Transvaal
- Burger Deaths. Anglo-Boer War Museum, Bloemfontein. https://www.wmbr.org.za/
- Onderhoud op 24 Februarie 2020 te Springs, Gauteng met Koek Kruger, agter-kleindogter van Hendrik en Hessie Coetzer
- Sterfkennis van Hester Gesina Coetzer. South Africa, Civil Death Registration, 1955-1966,” database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-C91L-FW85-V?cc=3732506 : 29 January 2021), > image 1 of 1; National Archives, Pretoria, Republic of South Africa
- Pakenham, T. 1993 The Boer War. Illustrated Edition. Jonathan Ball Publishers: Johannesburg, South Africa
- Pretorius, A. 2000 Van Huis-en-Haard na Konsentrasiekamp. DV Drukkers: Volksrust, Mpumalanga
- Van der Westhuizen, G.P. & Van der Westhuizen, E. 2013 Guide to the Anglo Boer War in the Eastern Transvaal, 1899 – 1902. 2de Ed. David Scholtz: Volksrust
- Raath, A.W.G. 2007 De la Rey: Die stryd vir vryheid. 2de Ed. Kraal-Uitgewers BK: Brandford, Suid-Afrika
- Huweliksinskrywing van Wentzel Coetzer en Annaat van der Merwe. South Africa, Natal Province, Civil Marriages, 1845-1955, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:KDZQ-J1C : 10 March 2018), Wenzel Christoffel Coetzer and Anna Catharina Van Der Merwe, 08 Jun 1909; citing Schuilklip, Utrecht, Natal, South Africa; 02436; National Archives and Records Service of South Africa, Pretoria; 1,795,571
- Foto’s van Hessie Coetzer (née Van der Merwe). Foto-album van Chris Kruger (1940 – 2009), agterkleinseun van Hendrik en Hessie Coetzer
- Republiek van Lydenburg. https://af.wikipedia.org/wiki/Republiek_van_Lydenburg
- Utrecht, KwaZulu-Natal. https://en.wikipedia.org/wiki/Utrecht,_KwaZulu-Natal
- Boer War 1899 – 1902. https://www.angloboerwar.com/boer-war
- Pretorius, F. 2001 Op Kommando. Die lewe in die veld tydens die Anglo-Boere Oorlog, 1899 – 1902. 2de Ed. Protea Boekhuis: Pretoria
- Boer Commando. https://en.wikipedia.org/wiki/Boer_Commando
- Swart, S. 2010. Horses in the South African War, c. 1899 – 1902. Society and Animals, Vol. 18, p. 348 – 366.
- SABoerperd. The ideal sporting & pleasure horse. http://www.saboerperd.com/p2/history/sa-boerperd-breed-history.html
- Theunis Jacobus Petrus Botha, b1c7d1e9f1g1h2. https://www.geni.com/people/Theunis-Jacobus-Petrus-Botha-b1c7d1e9f1g1h2/6000000002148227776
- Consentration Camp Registers. British Concentration Camps of the South African War, 1900 – 1902. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/
- Konsultasie op 11 Junie 2021 met twee mediese dokters ten opsigte van die risiko’s van asma
- Asthma attack death: Know your risk. Healthline. https://www.healthline.com/health/asthma/asthma-attack-death
- Grafte van Wentzel en Annaat Coetzer, en van Paul en Anna Grobler. Ou Begraafplaas, Newcastle, KwaZulu-Natal. http://www.graves-at-eggsa.org/main
- Doopinskrywings van Hendrik en Hessie Coetzer se kinders. Christenings, NGK Wakkerstroom (1877 – 1893). Film roll nr. 1612855. Church of Jesus Christ of Latter-Day Saints (LDS) Family History Centre, Parktown, Johannesburg
- Huweliksinskrywing van Anna Coetzer en Paul Grobler. South Africa, Natal Province, Civil Marriages, 1845-1955. Database with images. FamilySearch. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HT-63K9-NKR?i=295&cc=2063749. FamilySearch.org : accessed 2021; National Archives and Records Service of South Africa, Pretoria
- Paulus Johannes Nicolaas Grobler. https://www.geni.com/people/Paulus-Grobler/6000000010642954654?through=6000000007461104403
- Grobler, C.L. 1988 Die Grobler-Grobbelaar geslagsregister. 1ste Ed. Self-publikasie
- Hendrik Bezuidenhout (1845 – 1900). https://www.wikitree.com/wiki/Bezuidenhout-473
- Huweliksinskrywing van Maria Coetzer en Paul Grobler. South Africa, Natal Province, Civil Marriages, 1845-1955. Database with images. FamilySearch. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:S3HY-XXDZ-PG?i=2222&cc=2063749 FamilySearch.org : accessed 2021; National Archives and Records Service of South Africa, Pretoria
- Sterfkennis en boedel van Pieter Grobler. National Archives & Repository Service of South Africa. NAB MSCE 2643/71, 1971
- Huweliksinskrywing van Pieter Grobler en Sannie Coetzer. South Africa, Civil Marriage Records, 1840-1973, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CS23-G94T-H?cc=2821281 : 25 July 2020), > image 1 of 1; Pietermaritzburg Archives (Formerly Natal State Archives), South Africa
- Kruger, B. 2007 Die Kruger-familie van Suider-Afrika. 1ste Ed. CD-publikasie
- Doopinskrywing van Hendrik Gerhardus Coetzer jnr. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wakkerstroom (Transvaal), 1860-1949. https://www.familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSK6-Z95C-3?cat=539146
- Doopinskrywings van Wentzel Coetzer se kleinkinders. Parish registers, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wakkerstroom (Transvaal), 1860-1949. https://www.familysearch.org/search/catalog/539146?availability=Family%20History%20Library