Coetzer: Oorsprong en betekenis van familienaam
Die Coetzer familienaam is afgelei van die Hoog-Duitse woord “Kutsche” wat weer afgelei is die Hongaarse woord “Kocsi” wat koets beteken.1 Dit is ‘n beroepsverwante van wat verwys na die drywers of makers van ‘n tipe voertuig, wat later as die ‘koets’ bekend sou staan.1,2 Die basiese styl van hierdie perdekoetse was ‘n vierwiel-gesuspendeerde kajuit met twee dwarssitplekke wat vier tot ses passasiers kon akkommodeer, en was wêreldwyd van die 16de tot 19de eeu as private of publieke vervoermiddel gebruik.3,4 Daar word algemeen aanvaar dat hierdie tipe koets, wat deur twee of vier perde getrek kon word, sy ontstaan gehad het in die 15de eeu in Oos-Europa in ‘n landgebied waar Hongarye vandag geleë is.2,3 Ou-Duits wat as taal op daardie stadium in gebruik was, het na die sogenaamde Slawiese koetsbouers verwys as “Kuzers”.2 Interessant genoeg het die stamvader van die Suid-Afrikaanse Coetzers wat van ‘n streek in die noorde van huidige Tjeggiese Republiek afkomstig was, sy van as Kúzer/Kúžer geparafeer toe hy in die Kaap de Goede Hoop in 1713 aangeland het, maar teen 1721 het dit reeds na Coetzer verander, hoogswaarskynklik weens die Nederlandse invloed aan die Kaap.2,5-7Verskeie spelvariasies van die van word hoofsaaklik in Europa, Verenigde State van Amerika (VSA), Australië en Suid-Afrika gevind en sluit in Kutz, Kutzner, Kützer, Kutzer, Katzer, Kutscher, Kutcher, Kutchera, Kucera, Coutzer, Coetzer, Coetser, Koetsier en Koetscher.1,2,8
‘n Bekende persoon wat een van hierdie variasies gedra het, was Maria Augustina von Kutchera (25 Januarie 1905 – 28 Maart 1987) wat getroud was met George Ritter von Trapp (4 April 1880 – 30 Mei 1947). Die egpaar het met hul tien kinders na die VSA gevlug, nadat Nazi-Duitsland vir Oostenryk gedurende die Tweede Wêreldoorlog binnegeval het. In die VSA het die gesin ‘n bestaan gemaak as The Trapp Family Singers en was baie gewild. Die film Sound of Music wat in 1965 vrygestel is, was losweg op hul lewe in Oostenryk gebaseer.2,9
- Kutzer history, family crest & coat of arms. https://www.houseofnames.com/kutzer-family-crest
- Coetser, W.J. 1998 Hongarye na Suid-Afrika. Die geskiedenis van die Coetser/Coetzer families in Suid Afrika. 1ste Ed. HE Printers: Escourt, Natal
- Carriage. https://www.britannica.com/technology/carriage-vehicle
- Carriage. https://en.wikipedia.org/wiki/Carriage
- Pama, C. 1983 Die groot Afrikaanse familienaamboek. 1ste Ed. Human & Rousseau Uitgewers: Kaapstad
- Hoge, J. Personalia of the Germans at the Cape, 1652 – 1806. Archives Year Book for South African History, 1946. Cape Times Ltd.: Kaapstad
- Skuldbrief van Jacob Coetzer op Noordbeek. Verenigde Oostindische Compagnie (VOC), Invertaris nr. 12727. Nationaal Archief, Den Haag, Nederland. https://www.openarch.nl/ghn:9b2bf11c-c442-4ba7-93e6-78cd4ed5edd3/en
- Kutzer. https://www.wikitree.com/genealogy/KUTZER
- Movie vs Reality: The real story of the Von Trapp Family. https://www.archives.gov/publications/prologue/2005/winter/von-trapps-html