Lourens Christiaan Bekker (1885 – 1940)

< BACK

    1. Sy kinderjare

Lourens Christiaan “Lou” Bekker is op 8 Februarie 1885 in die Ermelo distrik van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) gebore en twee maande later op 12 April 1885 in die Nederduitsch Hervormde & Gereformeerde Kerk (NH&GK) Ermelo (nou NGK Ermelo Moedergemeente) gedoop.1,2 Op daardie stadium was die kerkdienste gehou in ‘n eenvoudige kerkgebou met ‘n sinkdak en ‘n misvloer, wat sitplek vir 300 mense gebied het. Hierdie doopgeleentheid is deur ds. Hendrik Johannes Neethling (1853 – 1914) van die NGK Lydenburg waargeneem, aangesien die Ermelo-gemeente nog nie ‘n permanente predikant gehad het nie en slegs deur besoekende konsulente bedien is. Dié permanente posisie sou ds. Pieter Willem Ennis (1855 – 1932) eers vanaf 1886 tot en met 1905 kom vervul het.1,3-5 Getuies by Lou se doop was sy oom (sy moeder se jonger broer) en aangetroude tante, Lourens Christiaan de Jager (29 Desember 1855 – 11 November 1932) en Francina Johanna Petronella de Jager (20 Maart 1867 – 5 November 1946).1,6,7NOTA: In die Bekker-familiebybel is sy geboortejaar verkeerdelik as 1884 aangeteken.2

Lou was nog ‘n jongeling van 14 jaar toe die Tweede Anglo-Boere Oorlog (ABO2) op 11 Oktober 1899 uitgebreek het. Die Bekker-gesin was toe woonagtig op ‘n goewermentsplot in die omgewing van Broederstroom, noord van die dorpie Haenertsburg in die noord-ooste van die Britse Transvaalkolonie (nou deel van Mpumalanga provinsie). Sy vader en sy broer, Hendrik jnr. het by die Zoutpansberg (Soutpansberg)-kommando aangesluit, wat deur Kommandant-Generaal Christiaan Frederick Beyers (1869 – 1914) aangevoer is.8-13 Lou moes agtergebly om na sy moeder en susters op die plot om te sien. Verder is van hom en ‘n vriend, Jacob Beukes verwag om die beeste en perde in ‘n grot op die plaas weg te steek sodat die Engelse nie hulle hande daarop kon lê nie. Die storie word vertel dat die perde geleer is om nie te runnik nie en die beeste was later so goed ‘opgevoed’ dat hulle vanselwers vanaf die weiveld na die grot teruggekeer het wanneer die seuns op ‘n spesifieke manier gefluit het. Volgens oorlewering is dit daar in die veld waar die Generaal Beyers en sy verkenners die twee seuns eendag onverwags betrap het, en hulle beveel het om hulle by die kommando aan te sluit en hul deel vir die Boere-nasie te doen. Miskien was dit hul jong ouderdom en die feit dat Beyers self nooit kinders gehad het nie, wat hom van besluit laat verander het en hy die seuns ‘aan te stel’ om nie net hul eie vee op te pas nie maar ook ‘n oog oor die plaasopstalle en gesinne in die omliggende omgewing te hou, terwyl die burgers van die kommando weg van hul plase was om aan die oorlog deel te neem. Op ‘n dag het Jacob en Lou rook gesien, van waar hulle was, en besef dis die Bekker-opstal! Daar aangekom was al wat Lou in die rokende puin kon vind ‘n blikkie met muntstukke, daar waar sy ouers se slaapkamer voorheen was.14 Die verwoesting van hul huis het plaasgevind nadat sy vader en broer, Hendrik jnr. reeds op 3 Mei 1901 vrywillig oorgegee het en hy kort daarna met sy vrou en minderjarige kinders, en twee koeie, na Pietersburgkonsentrasiekamp vertrek het terwyl Lou vir eers op hul plot aangebly het om waarskynlik nog na perde en ander vee te bly omsien. Hendrik Bekker snr. het later op 22 Julie 1901 verklaar dat die huis deur naturelle beskadig is en dat sy seun Lou dit kon bevestig.13,15 Lou het wel byna ‘n maand later op 30 Mei 1901 ook in Pietersburgkamp aangekom en het hom by sy familie in tent no. RT 331 aangesluit. Dit was egter van korte duur want drie en ‘n half maande later is slegs Lou oorgeplaas na Howick-konsentrasiekamp, terwyl die res van sy familie in Pietersburg-kamp agtergebly het.15 Wat was die rede daarvoor? Hoekom is net die jonge Lou uitgesonder – op sy eie, alleenig, sonder sy familie?

Op 16 September 1901 is die 16-jarige Lou Bekker saam met ander ontwrigte vroue en kinders en hul karige besittings op vuil, oop treintrokke gelaai en vir dae in wind en weer vervoer vanaf die Noorde tot by Howick-konsentrasiekamp in Natal.10,15-17 Hoewel Howickkonsentrasiekamp een van die bes-bestuurde kampe was, was die Transvalers se eerste indrukke met hul aankoms nie te goed nie; hul ellende is net vererger deur die gietende reën waarin hulle gearriveer het.16 Mev. Sue Nicholson van Pietersburg het dit soos volg beskryf:

In the afternoon a train of open trucks would pull up at the siding, and its freight of bedraggled human beings, wet to the skin, would be disgorged with all their belongings as saturated as themselves. These poor women, some walking with the aid of a stick, or with children in their arms and children clinging to them, would be marched along the muddy roads, knee deep in the slush. Some were barefooted, for their shoes refusing to be withdrawn with the foot from the sticky mud, remained buried there. Children nipped with cold and crying with hunger, the mothers dumb, trudging on, only clasping their babies closer to their breasts to infuse a little warmth, were it possible. . . .”16

Lou het in Howick-kamp, waarskynlik vir die duur van sy verblyf, in tent no RT 529 gewoon. Wie die tent met hom gedeel het is nie bekend nie.15 Daar was groot markiestente en kleiner kloktente; laasgenoemde was maar gehawend en goor, en sommige is later in 1902 met hutte vervang. Hoewel die daaglikse kosrantsoene eentonig dieselfde was, was dit genoegsaam om ernstige wanvoeding onder die kamp-inwoners te voorkom. Ekstra vleis, brood en groente kon by nabygeleë winkeliers of omliggende boere gekoop word, maar hierdie items was baie duur. Die kamp was nie omhein nie en kampinwoners het heelwat vryheid geniet, solank hulle ‘n pas (toestemmingsbrief om die kamp te verlaat) gehad het. Heelwat mense het op plase in die omgewing gewerk – ouer seuns soos Lou Bekker is ook toegelaat om as plaasarbeiders te gaan werk – en kon op dié wyse ekstra geld verdien om bykomende voedsel en mediese noodsaaklikhede aan te koop. Vir ontspanning is gewoonlik by die Umgenirivier daar naby uitgehang.16,18

Na die oorlog het Lou weer per trein onder soortgelyke omstandighede as die heenrit teruggekeer na Pietersburg10,18 en is hy met sy ouers en sibbe herenig. Voor hulle het die uitdaging gelê om hul lewe te herbou uit niks – geen huis of huisraad, plaasimplemente of (pluim)vee nie. Die vergoedingseise wat Lou se vader by die Britse Militêre Kompensasie Raad sowel as die Repatriasie Raad ingedien het, vir die skade aan sy eiendom na sy oorgawe en die verliese wat hy gelei het weens die plundery van Britse troepe en swartes van die omliggende omgewing, is wel oorweeg, maar slegs die helfte van die bedrag wat geëis is, is uitbetaal.13

   2. Sy vrou

Lou se eggenote, met wie hy op 23-jarige ouderdom in die huwelik getree het, was Elizabeth Gertruida “Bettie” van der Merwe, dogter van Izak Matthys van der Merwe (1857 – 1933) en Johanna Margaretha van Dyk (1857 – 1944) van Haenertsburg omgewing. Bettie, toe 17 jaar oud, het die ja-woord aan Lou Bekker op 21 Februarie 1908 in die Pietersburgse Magistraatskantoor gegee.19-21 Hulle het my groot-grootouers (oupa- en oumagrootjie) geword.

Bettie is op 22 Junie 1890 op die plaas Bloemhoek naby Haenertsburg in die Zoutpansberg (Soutpansberg) distrik in die ZAR gebore en was die derde jongste van nege kinders. Izak van der Merwe was geseënd met agt dogters en een seun.20,22,23 LEES MEER oor die Van der Merwes.

Op Bettie se regterwang was ‘n groot swart geboortevlek, wat my as kind gefasineer het. Toe ek eendag my ma daarom vra, sê sy dat Ouma Bekker haarself met ‘n strykyster gebrand het. Ek het daarna ‘n groot respek vir strykysters ontwikkel. Vandag weet ek darem van beter! Hierdie vlek het Bettie in haar jonger dae dikwels met grimering verdoesel. Bettie was maar 11 jaar oud met die aanvang van die ABO2.22 Haar 43-jarige vader het nie by ‘n kommando aangesluit nie weens ‘n vroeëre heupbesering wat hom kreupel gelaat het.14,24 Op 4 Mei 1901 het hy die Eed van Neutraliteit afgelê en met sy gesin, en twee koeie en twee kalwers, by die Pietersburgkonsentrasiekamp op 7 Mei 1901 opgedaag. Daar het hulle in tent nr. 451 gewoon totdat Izak van der Merwe op 23 Januarie 1902, volgens Britse rekords, gedros het. Mens se eerste gedagte is: “Hoe kón Izak sy gesin aan hul eie genade oorlaat en net die pad vat?” maar in werklikheid het Generaal Christiaan Beyers en 40 lede vanuit die Zoutpansberg- en Waterbergkommando op daardie dag op die kamp toegeslaan en 151 burgers bevry en opgekommandeer tot die kommando, en Izak van der Merwe was een van hulle. Hy het vir die volgende drie en ‘n halwe maande onder Beyers vir die Boere geveg maar is op 10 Mei 1902 by Malipspoort gevang en as banneling na Indië gestuur.10,11,15,25 Die gesinne van hierdie ‘gedrosdes’ is ongenadiglik deur die Britse owerheid gestraf deurdat hulle in oorvol, vuil, oop houttreintrokke gelaai is, en sonder kos, water en enige geriewe, in wind en weer, versend is na Colenso-konsentrasiekamp in Natal. Hierdie reis was moeilik, ongemaklik en vernederend, en is in geskiedenisrekords aangeteken as een van die gruweldade wat teenoor Boere vroue- en kinders gepleeg is.10,26 Het die 11-jarige dogtertjie, Bettie van der Merwe, ook verward en ontredderd oor die rand van die bewegende trok geloer na die vinnig-verbygaande veld of aan haar moeder vasgeklou in koue vrees, soos menige ander kinders?

Colenso- kamp het vanaf 22 Februarie tot 11 April 1902 bestaan, as ‘n noodkamp vir die mense van Pietersburg wat na Natal ontruim is. Daar was min tyd om vir hierdie nuwe aankomelinge voor te berei, en hulle is sommer in die oop veld afgelaai en moes net daar oorleef totdat die kamp opgerig was. Die eentonige kamplewe het vinnig daarna sy gang gegaan. Gelukkig was daar baie min siekte en sterftes in hierdie kamp; veertien indiwidue, meesal kinders, het hier omgekom. Die bekwame, Engelse superintendent van die Pietersburgkamp, J.E. Tucker, en van sy personeel, het uit eie keuse daarop aangedring om die reis mee te maak. Was daar by Superintendent Tucker ‘n tikkie empatie te bespeur teenoor hierdie weerlose vroue en kinders? In Natal aangekom is Tucker en sy personeel ook voor die keuse gestel tussen onmiddelike afdanking of die aanvaarding van die laer salariskaal wat van toepassing in Natalse kampe was, in vergelyking met die Transvaalse kampe se aansienlike hoër salarisse. Tucker en sy personeel het besluit om vir minder geld te werk en het na die Pietersburg-mense bly omsien.26

Na ses weke het die Natalse owerhede besluit om die inwoners weereens te skuif, hierdie keer na Pinetown.14,27,28 Die undesirables (ongewenstes) – die Britse skeldnaam vir die kampgesinne van vegtende Boere-kommandolede in die veld – is aanvanklik in klam, bedompige huise wat voorheen deur Indiërs bewoon is, gehuisves, voordat genoegsame tente vir hulle opgerig is. Pinetown-kamp was ‘n basiese kamp met 700 tente, wat uiteindelik net meer as 3 000 kampinwoners gehuisves het. Die Van der Merwes het in een van die kloktente wat vier tot vyf mense kon akkommodeer, gewoon. Hulle het geen matrasse gehad nie en het op die grond geslaap, en as dit gereën het, was alles nat. Die kamphospitaal onder Dr. Henderson het slegs 33 beddens gehad en een toilet is per 150 mense toegedeel. Water is van ‘n dam gepomp en die beperkte voedselrantsoene kon met vrugte en groente aangevul word van plaaslike winkelliers en omliggende plase, as hulle hul eie geld gehad het. Daar was ‘n elementêre skooltjie wat deur die inwoners self bedryf is; geen Engelse onderwysers is aan die kamp toegeken nie, as deel van hul straf.27,28 Die dinamika in die kamp was baie kompleks en die emosionele lyding van die mense erg. Menige stories het die rondte onder die verplaasde Pietersburg-kampinwoners begin doen dat hulle deur die Britte geteiken word deurdat hul kos gekontamineer word met fyngemaalde glas in die vleis en blou fieterjoel (kopersulfaat) in die suiker.28 Waar sekere latere navorsing hierdie stories as feite bevestig het, het ander navorsingswerke dit afgemaak as slegs stories wat deur oningeligte of wraaksugtige indiwidue saamgeflans en versprei is.29-31 Maar wat van …. waar ‘n rokie trek, is daar ‘n vuurtjie? Want, hierdie stories was nie net in omloop in Pinetown-kamp nie maar ook in ander, soos in Mafekingkamp.32 En Bettie Bekker het self vir haar kinders vertel van die oop treintrokke en die fieterjoel in hul suiker.14 Die inname van kopersulfaat in klein dosisse veroorsaak naarheid, vomering en diarree; hoër dosisse kan die dood veroorsaak.33Politieke en geestelike verdeeldheid onder die Pinetown-kamp se inwoners, wat hoofsaaklik uit die Zoutpansberg distrik in die ZAR afkomstig was, was duidelik sigbaar. Openlike struwelinge tussen gesinne van joiners, hensoppers en bittereinders het gereeld voorgekom. Op geestelike gebied was daar baie konserwatiewes wat slegs die bediening van ‘n predikant van hul eie kerklike denominasie vanuit die omliggende omgewing aanvaar het, en later ook teen die ‘oordadige’, evangeliese dienste van ds. Andrew Milne Murray (1862 – 1932) van die NGK Weenen, Natal gerebelleer het. Hy het vanaf begin Mei 1902 voltyds in die kamp kom bedien. Menige inwoners, beide oud en jonk, het egter positief op sy herlewingsdienste reageer en hul lewe aan Jesus Christus as hul enigste Verlosser oorgegee. Daar was egter ook enkeles wat so bitter was oor die vernietigende oorlog, dat hulle hul rug op God gekeer het.27,28,34Nadat vrede tussen die Britte en die Boere op 31 Mei 1902 gesluit is, het die inwoners die kamp tussen 2 Julie en 10 Augustus 1902 verlaat, en met treine onder dieselfde omstandighede as voorheen teruggekeer na Pietersburg-kamp.27,28 Op 30 Augustus 1902 het Johanna van der Merwe die kamp met haar jong kinders, insluitend die jonge Bettie, verlaat en die 55 km na hul plaas Bloemhoek naby Haenertsburg te voet afgelê.14,15

Vyf jaar later is Bettie met Lou Bekker getroud en saam het hulle nege kinders van hul eie gehad.19,22,35 Hulle was 32 jaar lank getroud toe Lou weens ‘n tragiese ongeluk op Ermelo oorlede is.35-39 Die gesin het dit reeds nie te breed gehad nie, en skielik moes die 50-jarige Bettie die kinders alleen grootmaak, waarvan die jongste maar vyf jaar oud was. Sy het begin om klere vir ander te maak of te herstel, asook wasgoed met die hand te was en te stryk teen vergoeding. Ten spyte van hul armoede het die kinders nooit honger gaan slaap nie. Die gesin het ook van weeklikse aalmoeskospakkies gebruik gemaak, wat die NGK Ermelo aan behoeftige gesinne uitgedeel het. As daar ‘n krisis was, soos toe die jongste sewe kinders almal gelyk Duitse masels opgedoen het, moes Bettie die wa alleen deur die drif trek. Van die naaste familie het later ook uitgehelp met die versorging van die kinders, deurdat die jonger kinders by hul ouer sibbe en hul gesinne gaan inwoon het. Twee van haar skoonseuns het die huur van haar huis in Ermelo betaal. Toe haar seuns begin werk het, het hulle elkeen tien pond bygedra tot die versorging van hul moeder.14,39

In 1948, toe Bettie 58 jaar oud was, is sy vir ‘n tweede keer getroud, in Ermelo Magistraatskantoor, met ‘n heelwat ouer man, ene Mnr. Faul.22,38,39 Bettie het pragtig gelyk – kan haar kleindogter, Bettie Kruger onthou – en oom Faul, met baie mooi beloftes, is net daarna vort met sy bruid na Komatipoort se wêreld in die Lebombo-berge waar hy ‘n grenswagter was. Haar reeds volwasse kinders was maar skepties oor hierdie vinnige huwelik en daar is spoedig planne gemaak om te gaan kuier sodat die situasie deurgekyk kon word. Die tog na die Lebombo-berge op die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek het uiteindelik op ‘n dag aangebreek toe die volgepropte Plymouth van Bettie se tweede oudste dogter, Hannie en haar man Sys Munnik, vroegoggend uit Breyten vertrek het. Hul kinders en enige iemand anders wat wou saam is ingelaai, en so ook ‘n yslike, groot vark op die agtersitplek. Die vark sou later braaiboud word daar by die Faul-egpaar. Op Waterval-Boven het die gesinne van Hendrik Bekker en Corrie Hoffeldt in hul onderskeie motors aangesluit. Die konvooi van optimistiese bestuurders, moeë kinders en die gemesde kalf (die vark) het die pad na die Lebombo-berge verder aangedurf. Die reis was voorspoedig totdat die smal, styl, klipperige bergpad die konvooi tot ‘n stampende slakkepas gedwing het, met Sys Munnik voor en die res agterna. Met hierdie stamperige gekruie het die vark nie verlief geneem nie en al skreeuende sy afkeuring te kenne gegee. Plek-plek moes die Munnik-kinders uitklim en met die voet verder, want die oorlaaide Plymouth het later ook soos die vark begin protesteer. Al stomend is die Plymouth uiteindelik die berg uit terwyl die familie wat agterna gevolg het, die kinders opgelaai het. So bereik die uitgemergelde kavalkade uiteindelik die afgeleë ‘Faul-nedersettinkie’, bestaande uit drie verwaarloosde modderrondawels (soortgelyk aan wat die Zoeloe-werkers op plase gebou het). Daar was toe reeds ander Bekker-kinders soos Outannie daar. Waar almal slaapplek gekry het, was tergelykertyd ‘n raaisel en ‘n wonderwerk. Maar Bettie se kinders was ongelukkig; na hul mening was hul ma nie goed versorg nie, en sy was spoedig terug in Ermelo.39 Dié huwelik was dus van korte duur. Bettie het daarna vir die res van haar lewe weer haar Bekker-van gebruik, hoewel sy amptelik by Binnelandse Sake steeds as Faul geregistreer was. “Ek is ‘n Bekker, en ‘n Bekker sal ek bly”, het Bettie ferm gesê en niemand het verder met haar daaroor gestry nie.22,38-40

Bettie het tot in 1974 nog selfstandig op haar eie in haar huurhuis in Ermelo gewoon. Selfs op die ouderdom van 80 jaar het sy nog saam met haar kleinkinders tou gespring, en toe sy per geleentheid gehospitaliseer is, het sy uit die hospitaal weggeloop al die pad huistoe. Op 84-jarige leeftyd het sy na Pretoria verhuis om by haar dogter Letta in haar woonstel te gaan woon.39 Sy is twee weke na haar 88ste verjaarsdag op 5 Julie 1978 weens miokardiale infarksie (hartspier trombose) oorlede. Haar begrafnisdiens op 7 Julie 1978 is deur ds. P.B. Grobler gelei vanuit NGK Debruinpark, Ermelo, waarna sy te ruste gelê is langs haar eerste man in die Ou Begraafplaas te Ermelo.22,37-39

Uit verskillende onderhoude met verskeie familielede word Bettie as ‘n netjiese, trotse, statige, sterk, onafhanklike, aangename vrou geskets, hoewel enkeles haar as kwaai, moeilik, hard of afgeslote beleef het. Haar seun, Izak, onthou haar as liefdevolle moeder wat haar hande vir haar kinders deurgewerk het, en nooit in selfbejammering gaan lê het nie.14,38-42 Wanneer Bettie Bekker se lewensverhaal gelees word in die lig van die skoot tragedies en swaarkry wat gedurende haar lewe na haar kant gekom het en haar innerlike krag wat daartydens deurgeskemer het, word mens onwillekeurig met bewondering en empatie vir hierdie vrou gevul, ten spyte van wat gesê word. Was haar kwaaiheid en afsydigheid nie maar net ‘n selfbeskermende pantser wat met die jare gevorm het nie? Of was daar tog ‘n onderliggende woede of bitterheid in haar hart? Wat dikwels vergeet word is dat Bettie Bekker se gehoor met tyd gelydelik versleg het en sy in latere jare skaars ‘n gesprek kon volg. Haar kleindoger, Bettie Kruger onthou dat haar doofheid, ten spyte van die groot, ongemaklike gehoorapparaat wat sy gedra het, haar van ander geïsoleer het en sy dikwels agterdogtig was teenoor ander in ‘n geselskap omdat sy nie geweet het of hulle haar dalk bespreek nie, en het dan die groep verlaat en in haar kamer gaan sit.38 Haar toenemende doofheid het dus waarskynlik ‘n groot rol in haar waarneembare afgeslotenheid gespeel.

3. Sy beroep

Die jong Bekker-egpaar het na hul huwelik op Haernertsburg gebly waar hul eerste drie kinders gebore is.14, 43 Sowat twee jaar na hul troue, het die jong paartjie die Uniewording van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 beleef toe die vier Britse kolonies naamlik die Kaapkolonie, Natalkolonie, Oranjerivierkolonie en Transvaalkolonie, vir die eerste keer onder een regeringstelsel met een Parlement verenig het. Hoewel die Unie toe ‘n self-regerende staat geword het, was dit steeds net ‘n semi-onafhanklike kolonie van Brittanje, en die Parlement was dus steeds onder die gesag van die Britse Goewerneur-Generaal in Suid-Afrika. Daarby moes Suid-Afrikaanse militêre magte beskikbaar wees om Brittanje van diens wees in ten tye van politieke omwentelinge, soos in die geval van die Eerste en Tweede Wêreldoorlöe. Eers met die implemetering van die Wet van Westminister van 1931, het Suid-Afrika gelykstaande status aan Brittanje gekry, waarna die kolonie (die Unie) self-regering ook op wetgewende vlak ontvang het. In 1961 het Suid-Afrika ‘n onafhanklike republiek en ‘n outonome staat in eie reg geword.8,9,44,45Kort na die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in Augustus 1914, het Brittanje die Unie genader vir hulp met die oorname van Duits-Suidwes-Afrika in diens van die Britse Ryk, om so toegang tot Duitse kommunikasielyne te kry, want die meerderheid van Brittanje se militêre mag was reeds ontplooi in Europa en Noord-Afrika. Op 9 September 1914 het die Suid-Afrikaanse Parlement besluit om Brittanje te ondersteun in die oorlog gesien in die lig van die reg tot self-regering wat Brittanje aan die Unie gegee is, en oorlog teen Duits-Suidwes-Afrika is op 14 September 1914 verklaar. Maar die Afrikaners was verdeeld hieromtrent. ‘n Groot aantal Afrikaners, veral in die Transvaal en Oranje-Vrystaat en in ‘n geringer mate in die Kaapprovinsie, het hulle aan die kant van Duitsland geskaar, omdat die Duitse volk ‘n bondgenoot van die Boere-republieke was tydens die ABO2. Hierdie verdeeldheid het tot uitbarsting gekom in Oktober 1914 toe 11 472 Afrikaners (62 % Vrystaters, 26 % Transvalers, 11 % Kapenaars) teen die Unie-regering gerebelleer het en gepoog het om hul gewig by die Duitsers in Duits-Suidwes-Afrika in te gooi. In totaliteit het slegs 16 % van die totale populasie Vrystaatse mans, en 5 % van die Transvaalse manlike burgers gerebeller. Botha se Unie-Verdedigingsmag het bestaan uit ongeveer 2 000 staandemagsoldate, asook 5 000 Aktiewe Burgermaglede en 25 000 kommandolede wat gereageer het op die oproep tot vrywillige diens in die oorlog teen Duits-Suidwes-Afrika, dus in totaal 32 000 soldate waarvan 20 000 Afrikaners was. Twee-derdes van die regeringsmagte was uit die Transvaal afkomstig. Teen Desember 1914 is die rebellie finaal onderdruk en al die rebelleleiers en -offisiere is gevange geneem. Ermelo-burgerkommando, waarby Lou Bekker en sy broer Hendrik hoogswaarskynlik ingesluit was, het ook deelgeneem. (Ermelo se kommando, wat na die ABO2 ontbind het, is weer in die lewe geroep as Ermelo Verdedigingskietvereniging in 1912 na die ontstaan van die Unie Verdedigingsmag.) In Februarie 1915 het die regering se weermag met die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika voortgegaan en uit vier verskillende rigtings aanvalle op die Duitse kolonie geloots, terwyl ‘n afdeling van die Britse vloot (British Royal Navy) die Unie ondersteun het waar hulle kon. Ermelo-kommando onder andere, is per skip van Kaapstad na Swakopmund in Duitswes-Afrika geneem vanwaar hulle deelgeneem het aan die suksesvolle gevegte by Riet-Pforte en die Karibib-Otjimbingwe-Barmen voordat hulle op 12 Mei 1915 onder die Uniemagte getel het wat Windhoek beset het. Daarna was dit hul taak om te help met die verowering van Waterberg, Grootfontein en Tsumeb, operasies wat bygedra het tot die oorgawe van die Duitse magte op 9 Julie 1815. Die Suid-Afrikaanse Verdedigingsmagslede was goed toegerus met perde, toerusting en ammunisie, terwyl meeste van die burgervrywillers ook van magsuniforms voorsien is. Die uitmergelende klimaat van die woestyn het egter hoë eise aan die manskappe en hul perde se uithouvermoë gestel.8,9,45-52 Vyf jaar later in 1920 sou die League of Nations die kolonie op politieke, ekonomiese en militêre vlak as ‘n mandaatstaat (soos ‘n vyfde self-regerende provinsie) aan Suid-Afrika toeken, en was dit die geval tot en met Suidwes-Afrika se onafhanklikheidswording in 1990. Vandaar staan Suidwes-Afrika bekend as Namibië.8,9NOTA: Onderhoude met familielede tov Lou Bekker en sy broer, Hendrik se betrokkenheid by die rebellie van 1914 het teenstrydighede onthul.39,42 Volgens een familieoorvertelling het Hendrik en Lou aan die regeringskant geveg.39 ‘n Verdere onderhoud het Lou aan die rebelle se kant geplaas en volgens oorlewering moes Lou ná die rebellie as straf gaan spoorslaan vir ses maande.42 Dit was egter hoofsaaklik net die rebelleleiers en -offisiere wat drie tot sewe jaar tronkstraf gekry het, en wat na twee jaar deur Louis Botha amnestie gegee is in ‘n mosie van versoening.46,49 In die foto hierbo posseer die broers en hul vriend in die uniform van die Unie se Verdedigingsmag,46 terwyl ‘n Britse Union Jack vlaggie in die loop van Lou se geweer staangemaak is. Dit onderskryf dus hul deelname aan regeringskant.

Hoewel die permanente lede van die Suid-Afrikaanse Unie se weermag en lugmag, asook duisende vrywilligers ná die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika na Noord-Afrika vertrek het om verder in Britse bondgenootskap saam met die Geallieerde Magte te veg, het menige vrywilligers soos Lou en Hendrik Bekker na die veldtog teruggekeer huiswaarts.8,9,39,47 Tussen 1916 en vroeg 1918 het Lou en sy gesin na Ermelo verhuis waar hulle in Fouriestraat gaan woon het. Bettie was huisvrou en moeder maar watter werk Lou Bekker verrig het om sy gesin te onderhou, is op hierdie stadium is nie seker nie.1,38,39,43

Die ekonomiese en selfs politieke impak van die Groot Depressie van 1929 tot 1934 is wêreldwyd ervaar, nadat die Amerikaanse aandelebeurs en handelsmarkte in 1928 ineengestort het. As gevolg daarvan het die buitelandse aanvraag na Suid-Afrikaanse landbou- en mynprodukte ook gedaal. Wolpryse byvoorbeeld het met 75 % tussen 1925 en 1933 gedaal. Menige boere het hul plase verloor. Die myne het ook kop bo water probeer hou deur kostes te sny en en wit myners is met goedkoper, swart arbeiders vervang. ‘n Verdere toename in verarmde Afrikaners (arm-blankes) is gesien, en toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, het duisende Afrikaners vrywillig by die Unie se Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit, wat ‘n bestendige salaris sou verseker.8,9,53  Sou hierdie impak van die Depressie die oorwegende rede gewees het waarom Lou Bekker midde-in die Depressie besluit het om die Unie te verlaat en na Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe) te trek, op soek na ‘n beter lewe vir sy gesin? Suid-Rhodesië sou ook nie heeltemal ‘n vreemde plek gewees het nie, want van sy klein- en agterkleinneefs was reeds daar woonagtig as suksesvolle boere nadat húl voorsaat, Hendrik Johannes Bekker (1843 – 1897) met die Bekker-Kruger trek in 1896 in Gazaland gearriveer het.54-57

Teen 1931 het Lou Bekker en sy gesin hul besittings op die bokwa, wat deur muile getrek is, gepak en met hul bietjie skape en beeste noord getrek. Ses van hul kinders tussen die ouderdomme van 19 en drie jaar, asook ‘n driejarige kleinseun, Sampie Bekker, en Bettie se 27-jarige susterskind, Marthinus Johannes “Martiens” de Fortier (1904 – ?) het die trek meegemaak. Letta, een van die dogters, se wit donkie genaamd Jakob is ook saam. Izak Bekker, toe drie jaar oud, onthou nou-nog hoe angswekkend dit vir hom was toe hulle met die houtbrug die Groot Letabarivier oor is. Die brug het heen-en-weer hoog bo die rivier geswaai en dit het gevoel asof hulle enige oomblik na benede kon stort. Anderkant Pietersburg (nou Polokwane) moes die gesin egter omdraai met die besef dat hulle nie paspoorte of genoeg geld vir die grensbelasting gehad het nie. Lou Bekker het toe die bokwa en muile vir ‘n veerwa en vier perde verruil, en die terugtog aangepak. Die Bekker-beursie was toe reeds na aan leeg, maar waar hulle oornag gestop en gekamp het, het Bettie Bekker vir haar seun, Hendrik, toe 17 jaar oud, ‘n tiekie gegee om by die naaste boer ‘n brood te gaan koop. Sommige boere en hul vroue het die gesin jammer gekry en nie die geld gevat nie, maar saam met die brood ook melk, eiers en nog wat verniet vir die gesin gegee. Toe die Bekker-gesin uiteindelik weer teen 1932 in Ermelo terug was, was hulle slegter af as voor die trek.14Teen die laat 1930’s het die Bekkers hulle op die klein myndorpie, Torbanite, wat halfpad tussen Breyten en Ermelo geleë is, bevind.39 Die dorpie het in 1936 op die plaas Uitgevallen – dieselfde plaas waar Lou se vader, Hendrik Johannes Bekker (1853 – 1920) begrawe is – tot stand gekom nadat die South African Torbaninte Mining and Refining Company Ltd. (SATMAR) met die volskaalse ontginning van olie uit olieskalie, ook bekend as tornabiet, begin het. In Januarie 1936 het die twee distilleerders by die aanleg 100 ton skalie per dag ontgin en verwerk. Die olie wat uit die vergruisde skalie gedistileer is, is daarna per trein na ‘n raffinadery op Boksburg vervoer waar dit verder verwerk is. In dieselfde jaar as wat die skalie-ontginning naby Ermelo begin het, het Satmar-petrol en -motorolie op die mark verskyn. Saam met die skalie is ook steenkool gemyn wat as brandstof vir die distileerders gedien het. Teen 1947 was daar veertien distilleerders. Torbanite het ekonomies gebloei en teen 1955 was daar 200 Blanke-werkers en 1 700 Nie-Blankes in diens van SATMAR. Die Nie-Blankes het hoofsaaklik in die kampong gewoon, terwyl helfte van die die Blanke-gesinne in woonhuise op Torbanite gewoon het en die ander helfte hulle in die dorp Ermelo gevestig het. ‘n Gereelde busdiens het die werkers, en inwoners wat inkopies in Ermelo wou doen, asook skoolkinders heen en weer vervoer. Teen September 1960 is die ontginningswerk op Torbanite egter gestaak omdat die skalie uitgewerk was en dit nie meer ekonomies lewensvatbaar was nie. In November 1960 is hierdie dorpie, met sy 54 woonhuise, ontspanningsaal, blok kantore, groot skuur, werksplaas en kampong wat in totaal 1 272 ha beslaan het, in koerantadvertensies te koop aangebied maar niemand het belang gestel nie en die plek het intussen tot niet gegaan. Al wat oor is ‘n paar bouvalle en enkele verwaarloosde huise waar ‘n paar swart gesinne woon. Steenkoolmynwerke gaan egter steeds tot vandag voort op gedeeltes van Uitgevallen en in die wyer omliggende omgewing van Ermelo.58-60

NOTA: Torbanite is geleë op die plaas Uitgevallen No 109 (nou 134 IT) volgens geo-ruimtelike kaarte, wat dateer van 1931 en 2013,59-62 en nié op die plaas Mooifontein No 287 (nou 109 IT) soos wat verkeerdelik in een bron aangedui word nie.58

Dit lyk of die lewe op Torbanite vir die Bekker-gesin nuwe hoop op ‘n beter lewe gegee het, maar dit was van korte duur, toe hul huis deur ‘n brand verwoes is. Familielede onthou ‘n swart-en-wit foto van ‘n afgebrande huis met ‘n wit, roetbesmeerde koos (piepiepot) tussen die rommel. Die brandarm gesin sou weer vanuit niks hul lewe moes herbou. Kort daarna het die Bekkers terug verhuis na Ermelo want ten tye van Lou se afsterwe in 1940 was die gesin woonagtig in Sluiterstraat in Ermelo. Hy het op daardie stadium die pos van Voorman beklee in diens van die Ermelo Paaie-Afdeling van die Transvaal Provinsiale Administrasie.35,38,39    4. Sy afsterwe

Lou Bekker is op die ouderdom van 55 jaar en 6 maande op 18 Augustus 1940 oorlede in Ermelo Hospitaal (nou Ermelo Provinsiale Hospitaal) aan ernstige breinbloeding as gevolg van ‘n kopbesering weens ‘n ongeluk. Hy is in die Ou Begraafplaas te Ermelo begrawe.14,35-39  Hy het geen testament gehad nie, maar aangesien Lou en Bettie binne gemeenskap van goedere getroud was, het alles na sy weduwee gegaan. Behalwe vir ‘n paar meubelstukke wat per huurkoop-ooreenkoms met Ermelo Furniture Mart verkry is, was die boedel se totale waarde slegs 16 pond, 2 sjielings en 6 pennies. Gemeet in vandag se waarde, was dit ongeveer 864,70 Britse pond of 14 985 Suid-Afrikaanse Rand. Dit was te min om ‘n Likwidasie- en Distribusierekening te regverdig.35,63Die Bekker-gesin, wat nog besig was om op hul voete te kom na hul onsuksesvolle tog na Suid-Rhodesië en daarna die vernietiging van hul huis en besittings in ‘n brand, is dus brandarm agtergelaat. Die dag na Lou se afsterwe moes Bettie noodgedwonge sy perdesaal, en stang-en-toom verruil vir ‘n sak mieliemeel om pap vir die kinders te kon maak. Die geld in die boedel sou genoeg wees vir ‘n maand of twee, maar dis eers heelwat later in ongeveer Maart 1941 uitbetaal toe die boedel afgehandel is. Bettie Bekker moes dus uitspring om die pot aan die kook te hou, en terselftertyd haar vyf jongste kinders en ook twee kleinkinders grootmaak. Daar was nie geld vir luukses nie. Die naaste familie het soms vir die kinders bederf met ‘n pennie of lekkergoed.14,35,39

Die omstandighede van Lou se tragiese afsterwe was vir jare met geheimhouding omhul, sodat vele van sy kleinkinders en agterkleinkinders slegs weet dat hy in ‘n ongeluk dood is en dis dit. Dié wat wel die besonderhede ken is onwillig om daaroor te praat. Sou die rede hiervoor gewees het, en steeds bly, om die nasate van al die betrokke persone en gesinne by die tragedie rondom Lou Bekker se dood van verdere pyn of veroordeling te beskerm?

Lou Bekker se sterftesertifikaat toon dat hy in Ermelo Hospitaal oorlede is, slegs twee ure nadat hy per ongeluk in sy huis in ‘n vuisgeveg raakgeslaan is. Die na-doodse ondersoek deur Dr. E.B. Theunissen het onthul dat die oorsaak van sy dood ernstige breinbloeding was, met ook ‘n skaafwond aan sy gesig en ‘n besering aan die linkeroog waarneembaar wat deur ‘n geklemde vuis veroorsaak is.35,38 Uit inligting wat wel by familielede versamel kon word, is gevind dat vertellings rondom die besonderhede van die ongeluk aansienlik varieer.14,38,39,64,65 Hierdie waarneming is nie ongewoon wanneer dit kom by stories of belewenisse wat oor dekades heen verbaal van een generasie tot die volgende generasie oorgelewer is nie.

Wat wel bekend is omtrent Lou Bekker se dood, is dat van die Bekker-kinders en hul gesinne by Lou en Bettie Bekker op Ermelo gekuier het. Op ‘n stadium het ‘n gesprek – waarskynlik oor die politiek van die dag – so hittig geraak dat die oudste Bekker-seun, Hendrik en Lou se skoonseun, Sys Munnik, handgemeen wou raak. Lou Bekker, wat ‘n skraal man was, het tussenbeide getree om die situasie te probeer ontlont en is in die proses per ongeluk raakgeslaan. In die hofsaak ter plaatse in die Ermelo Landdroskantoor wat na Lou se dood gevolg het, is Sys Munnik aan strafbare manslag skuldig bevind en het ses maande se tronkstraf in Ermelo Gevangenis uitgedien.38,39 Pogings om die rekords rakende die relevante hofverrigtinge na te spoor was tot dusver vrugteloos. Dit sou meer lig op die saak kon werp en die korrekte feite kon substansieer. Volgens enkele gekonsulteerde regsgeleerdes, bestaan die rekords na soveel jare waarskynlik nie meer nie, ook veral omdat die saak as ‘n strafsaak in ‘n streekshof by die lokale magistraatskantoor hanteer was.

Ten spyte van Lou Bekker se vroeë afterwe het sy nagedagtenis bly voortleef in sy kinders en kleinkinders. Die Bekker-familie word vandag herken aan hul gemeensaamheid en omgee vir mekaar. Familie-lede hou kontak met mekaar en geniet dit om sosiaal saam te wees.  5. Sy kinders

Nege kinders is uit die huwelik van Lou en Bettie Bekker gebore. Die oudste drie kinders is op Haenertsburg gebore en is daar in ‘n tent gedoop. Die gesin het daarna verhuis na Ermelo waar die res gebore en in die NH&GK Ermelo gedoop is.1,14,39,435.1 Johanna Margaretha

Grieta soos haar vriende haar genoem het, of Ousus vir haar jonger sibbe, was in die wyer familiekring algemeen bekend as Outannie. Sy is op 30 Julie 1909 te Haenertsburg gebore en is in die rype ouderdom van 91 jaar op 26 November 2000 oorlede in Alberton, Transvaal. Sy is vanuit die NGK Alberton op 1 Desember 2000 begrawe.14,38,43Of Grieta al uit die huis was en iewers gewerk het, is nie seker nie, maar op die ouderdom van 19 jaar het sy ‘n onegtelike seun, Samuel Louwrens Christiaan “Sampie” gehad. Haar ouers het vir Sampie onder hul vlerk geneem en hom grootgemaak. Toe Grieta drie jaar later op 22-jarige ouderdom onder dieselfde omstandighede die lewe skenk aan nog ‘n seun, Joseph “Kierie”, was die gort gaar en haar ouers het haar gestuur vir ‘n sterilisasie-operasie. Die twee half-boeties is liefdevol deur hul ouma en oupa grootgemaak, maar is aan die wêreld daar buite voorgehou as hul eie kinders. Dit was waarskynlik omdat hulle, as lede van ‘n klein, konserwatief-Christelike gemeenskap daar in Ermelo, die ‘sosiale skandes’ van hul dogter dig wou hou, en die twee kinders teen moontlike latere spottery wou beskerm. Daarby was dit ook moontlik dat Grieta op daardie stadium haar kinders nie self finansieël kon onderhou nie. Wat ookal die motivering was, Bettie en Lou Bekker het na hul goeddunke gehandel en gedoen wat die beste vir die twee seuns onder die omstandighede van daardie tyd was. Nadat Lou Bekker egter in 1940 oorlede is, en Bettie finansieël en andersins hulp nodig gehad het met die versorging van al die jong kinders, het die twee seuns by hul ouer suster (in werklikheid hul moeder) gaan inwoon en daar op Alberton hul skoolloopbaan voltooi. Grieta was reeds oorlede, toe Kierie – die oorlewende van die twee broers en alreeds in sy sewentigs – toevallig die waarheid omtrent sy eie en dié van sy halfbroer se herkoms ontdek het. Dit was ‘n geweldige skok vir Kierie en het ook groot ontsteltenis in die res van die familie veroorsaak. Daar is van hul nasate wat voel dat die jare-lange geheimhouding ‘n onreg is wat die twee broers aangedoen is.38,39,41,66,67

Grieta is wel later getroud met Nicholas “Nick” Kapousousoglou, wat van Griekse afkoms was. Hy was ‘n suksesvolle en prominente besigheidsman in Alberton. Sy onderskeie besighede het ‘n kafee, ‘n kruidenierswarewinkel, ‘n vulstasie, asook ‘n konstruksiemaatskappy ingesluit. (Nick het o.a. die Alberton Stadsaal gebou). Die wel-af egpaar het in ‘n netjiese, middelklas huis oorkant die polisiestasie gewoon, en het altyd ‘n duursame motor besit wat Grieta moes bestuur, want Nick het geweier om agter die wiel van ‘n motor in te skuif. Hy was lief vir kinders, hoewel hy nie sy eie gehad het nie, en het dit geniet om die jonger Bekker-kinders en kleinkinders met allerhande lekkernye te bederf, of het hulle gereeld ‘n geldjie in die hand gestop. Hy was ook een van die skoonseuns wat die huur van Bettie Bekker se huis op Ermelo help betaal het. (Die ander skoonseun was Sys Munnik, eggenoot van Hannie, Bettie en Lou Bekker se tweede oudste dogter.)38-40 Neefs en niggies het dikwels daar in Alberton gaan kuier vir vakansies. Liesbeth Prinsloo onthou nog hoe sy haar as kind altyd aan die groot bokse vrugte op die tafel verwonder het – iets waaraan sy nie gewoond was nie; vir haar was dít wat rykdom beteken het.40 Ander niggies onthou weer Outannie se ryspoeding, gebakte hoender, skaapboud met knoffel gestop en in die koolstoof gebak, Griekse koekies met versiersuiker om, en haar onverbeterlike pannekoeke met egte botter gebak. Outannie het ook haar eie brood in die geel stoofoond gebak, want Oom Nick het nie ‘winkelbrood’ geëet nie. Daar waar Outannie in die kombuis besig was, daar het Mamparra, die swart hond, gelê. By hul huis was ‘n tafeltennisbord, hooggestapelde tydskrifte en ‘n groot stoep waar die kinders Dominos gespeel het, wat Oom Nick hulle geleer het. Hulle het die druiwe sommer net so van die prieël geëet, hul gevoude papierbootjies op die water in die visdammetjie losgelaat en teen die breë reëling van die voorste stoeptrappies afgegly. En Oom Nick skree: “Osus, chocolates for the children!”, en dan spring Outannie. “Osus, coffee!”, en dan spring Outannie. Die kinders het ook krone en halfkrone gekry en elkeen ‘n hele slab sjokolade!68 Die familie koester inderdaad wonderlike herinneringe van hul tye saam met Outannie en Oom!

  • Grieta se oudste seun, Sampie, is op 24 Augustus 1928 in Pretoria gebore.14,38,66,69 Hy is vroeg uit die skool om te gaan werk by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens (SAS&H) op Breyten waar reeds ‘n paar van die Bekker-broers en skoonseuns werksaam was. Maar die Spoorweë was nie vir hom nie en hy is terug na Alberton, waar hy vir jare by Outannie gewoon het. Hy het tussendeur sy matriek deur korrespondensie voltooi. Terug aan die Witwatersrand het Sampie werk in Johannesburg gekry, eers by MGM (Metro Goldwyn Mayer) en daarna as Bestuurder by UIP Warner (United International Pictures & Warner Bros.). Hy was verantwoordelik vir die beheer en verspreiding van rolprente in Suid-Afrika. Na meer as 30 jaar se diens by UIP Warner het Sampie in 1992 afgetree. Vier jaar later het hy en sy vrou na Pretoria verhuis waar hulle gewoon het tot met hul dood.69Sampie Bekker het eers op die ouderdom van 38 jaar in die huwelik getree toe hy op 13 Desember 1966 in Alberton getroud is met die 32-jarige Nederlander, Hennie Josephina Elizabeth Nolte (31 Desember 1934, Wijhe, Overijssel, Nederland – 26 September 2011, Pretoria, Gauteng).66,69,70 Die twee jongmense was reeds baie lank penvriende, voordat Hennie op uitnodiging in Suid-Afrika kom kuier het.69 Hennie het as kind die moeilike tye gedurende die Tweede Wêreldoorlog deurleef nadat Duitsland Nederland binnegeval het. Na skool het sy by ‘n groot afdelingswinkel Vroom & Dreesman in Deventer begin werk, en het elke dag per trein tussen Wijhe en Deventer gependel. Hennie was baie lief vir reis en het selfs vanaf Junie 1961 tot Maart 1962 by St. Moritz Hotel in die Switserse Alpe gewerk. Daarna tot Oktober 1966, toe sy op toer na Suid-Afrika vertrek het, het sy by Schunk in Heerlen, Limburg gewerk. Sampie het dalk lank gewag vir die vrou van sy drome, maar toe hy haar uiteindelik vind, het hy gesorg dat hy haar behou so al hy kan. Die twee is ‘n maand na hul eerste van-aangesig-tot-aangesig ontmoeting met mekaar getroud, en haar moeder moes toe maar haar kosbaarste besittings verpak in ‘n groot, groen kis en uit Nederland na Suid-Afrika laat verskeep.69 Die Bekker-sibbe het dikwels hul broer se been goedig getrek met: “Sampie kon nie ‘n vrou na sy smaak in Suid-Afrika kry nie, toe voer hy maar vir hom een van Holland in!” 38 Hennie Bekker was tuisteskepper vanaf 1966 tot 1984. Sy het Suid-Afrikaanse burgerskap in 1971 verwerf. In 1985 het Hennie teruggekeer tot die arbeidsmark as Verkoopsdame by Cuthbert/ABC Shoe Store in Alberton, waar sy later tot Bestuurder bevorder is. In 1993 het sy afgetree.69 Sampie Bekker is op 8 Junie 2002 oorlede en op 13 Junie 2002 vanuit die NGK Doornpoort, Pretoria begrawe.65,68 Hennie is nege jaar later oorlede.69,70Drie dogters is vir Hennie en Sampie in Alberton gebore waar hulle gewoon het;  Josephina Antonia “José” (*2 Desember 1968, getroud met Roedean Elmer Kok) en die tweeling Elizabeth Cornelia “Ellie” (*14 Januarie 1970, getroud met Daniel Jacobus “Koos” Olivier) en Johanna Margaretha “Hannie” (*14 Januarie 1970, getroud met Leslie Robert “Les” Wilton).69
  • Grieta se tweede seun, Kierie is op 7 November 1931 te Ermelo gebore.38,41,67 Toe hy 25 jaar oud was, het hy op 12 Mei 1956 te NGK Alberton in die huwelik getree met Susanna Gertruida “Sannie/Santjie” Ackerman (13 Maart 1936, Roodepoort, Transvaal –  8 Mei 1997, Alberton), dogter van Abraham Pieter Christiaan Acherman (1898 – 1965) en Gertruida Cornelia Coetzee (1904 – 1980).38,41,71 Die heildronk op die huweliksonthaal is deur Andries se swaer, Piet Möller ingestel.68
    Kierie en sy gesin het in Alberton gewoon. Hy was ‘n flukse man, en in sy jong dae het hy met die fiets vanaf Alberton na sy werk in Johannesburg gery, en smiddae weer terug huistoe. Hy was ‘n gekwalifiseerde skrynwerker wat sy ambag deur sy werkgewer voltooi het. In sy vrye tyd het hy sy vaardighede verder ingespan en pragtige, kreatiewe houtwerk gedoen. Familielede onthou nou-nog hoe keurig, kunstig en fyn-afgewerk sy houtwerkstukke was.38,41,68 Sannie was ‘n pragtige vrou met ‘n lieflike geaardheid. Sy is selfs as jong meisie een jaar gedurende ‘n seevakansie suid van Durban as Hibiscus Queen gekroon tydens ‘n skoonheidskompetisie gehou op die strand!68 Sannie is op die ouderdom van 61 jaar en twee maande in 1997 oorlede.41 Kierie is oorlede op 29 Mei 2016 in die ouderdom van 84 jaar.41,67Die egpaar het saam vier kinders gehad; Samuel Louwrens “Sampie” (28 Junie 1957 – 21 April 2023, Alberton; getroud op 29 Maart 1980 met Jacoba Susanna Johanna “Sanette” Roux [*19 November 1958]), Abraham Pieter Christiaan “Pieta” (23 September 1959 – 30 Julie 2003, Alberton), Gertruida Cornelia “Gerda” (*1 April 1964) en Hendrik Johannes “Henk” (*23 Maart 1969, †28 Augustus 2021, ₼21 September 2021, NHK Alberton-Wes).38,41

5.2 Johanna Catharina Aletta Susanna

Hannie, soos sy genoem is, is op 11 Junie 1912 op Haenertsburg gebore.14,38,43 Sy het haar baie name daaraan te danke gehad dat sy vernoem is na ‘n ouma, Johanna Catharina de Jager (1853 – 1942) en ‘n oumagrootjie, Aletta Susanna Jordaan (1826 – 1869). Hannie is in 1935 met Esiais Engelbertus “Sys” Munnik getroud38,72 en hulle het my grootouers (oupa en ouma) geword. LEES MEER oor Hannie Bekker en haar man, Sys Munnik.

5.3 Hendrik Johannes

Hendrik Johannes “Boet” het die eerste wêreldlig aanskou op 28 Junie 1915 te Haenertsburg.14,38,43 Hy is op 7 Maart 1941 met Hermina Elizabeth “Miem” Conradie (14 Augustus 1924 – 10 Oktober 2003, Pretoria) getroud.68,73-75

Hendrik was al die jare by die SAS&H werksaam en was op verskillende plekke gestationeer, onder andere Waterval-Boven.38,74,75 Miem was ‘n dierbare vrou en ‘n kattemens. Sy het altyd met groot liefde – tot Hendrik se ergernis – al wat ‘n weggooikat was, versorg.68

Miem Bekker is twee maande na haar 79ste verjaarsdag oorlede en op 16 Oktober 2003 vanuit die NGK Tuinerand in Pretoria begrawe, waarna sy te ruste gelê is in Pretoria-Noord Begraafplaas in Pretoria.73-75 Hendrik is in die ouderdom van 93 jaar en 6 maande op 22 Desember 2008 oorlede. Dit was maar ‘n hartseer Kerfees vir die familie en is ses dae later op 28 Desember 2008 begrawe.14,38,74,75

Hendrik en Miem het drie kinders gehad. Hulle was Lourens Christiaan “Lou” (10 Oktober 1941, Waterval-Boven – 13 Augustus 2012, Kemptonpark), Johanna “Hannie” (*19 Junie 1947) en Daniël Frederik “Daantjie” (18 November 1953 – 31 Augustus 2001, Pretoria).74,75

  • Lou Bekker is op 8 Oktober 1965 te Belfast met Barendina Jacoba “Barry” van Gass (*4 September 1947) getroud.38,74 As gekwalifiseerde onderwyser het Lou begin by Hoërskool Waterval-Boven, het daarna verskuif na Hoërskool Belfast en het in 1970, toe hy by Hoërskool Kemptonpark was, die onderwysberoep uiteindelik verlaat. Hy het daarna as vertaler, taalversorger en vakterminoloog gewerk, en was medeskrywer van etlike woordeboeke. Barry was ‘n huisvrou, maar het nadat haar kinders die huis verlaat het, weer toegetree tot die arbeidsmark, eers as Kantoorassistent, en later Persoonlike Assistent by Sentraboer. Nadat haar skoonseun sy eie tandartspraktyk geopen het, het Barry daarheen oorgeskuif om met die administratiewe – en finansiële komponent van die praktyk te help. Net na haar man se afsterwe het Barry afgetree.74 Lou en Barry Bekker het saam ‘n dogter, Carolina Catharina “Marlene” (*17 Mei 1966, Middelburg, Transvaal; getroud met Louis Zaayman) en ‘n seun, Hendrik Johannes “Hein” (*30 Augustus 1970, Edenvale; getroud met Imelda Basson) gehad.38,74Die wêreld kan baie klein wees ….. iewers in 1985 in ons eerste universiteitsjaar by Tukkies (Universiteit van Pretoria) gesels ek en my nuwe koshuisvriendin, Marlene Bekker, met mekaar. Ons gesprek lei later oor ons onderskeie families en ek praat van my Oupa Sys Munnik en Marlene sê sy het ‘n oom wat Sys Munnik heet. So ontdek ons toe ons is familie …. kleinniggies nogal!

Hannie onthou dat die Kersete van haar ouers die hoogtepunt van die jaar was. Dan het haar moeder gesorg dat die tafel gekreun het onder al die kos.68

5.4 Elizabeth Gertruida Lourensina

Elizabeth Gertruida Lourensina “Bettie”, die vierdie kind en derde dogter is in Ermelo op 22 Desember 1918 gebore nadat Lou en Bettie Bekker vanaf Haenertsburg na Ermelo verhuis het.1,14,40 Toe sy in Standaard 3 (nou Graad 5) was, het sy gesien hoe iemand op straat deur ‘n hond aangeval is. In die hofsaak wat gevolg het was die 11-jarige Bettie die sleutelgetuie. Die prokureur was so beïndruk met haar integriteit en waardigheid in die hof, dat hy onderneem het om haar skoolgeld asook latere studiegeld te betaal as beloning vir haar positiewe aandeel in die saak. Weens hierdie beurs was Bettie die enigste van die Bekker-kinders wat die voorreg gehad het om na skool verder te studeer. Sy het as onderwyseres gekwalifiseer aan die destydse Heidelbergse Onderwyskollege, wat in die laat 1960’s geamalgameer het met Pretoria Onderwyskollege (voor 1954 bekend as Pretoria Normaalkollege). Laasgenoemde is op 1 Januarie 2000 geïnkorporeer by die Fakulteit van Onderwys van die Universiteit van Pretoria.14,40,76,77

Bettie was onderwyseres op Amersfoort toe sy haar haar man ontmoet het. Sy is in ca 1943 getroud met Pieter Willem Arnoldus “Piet” Möller (28 Mei 1910 – 18 Maart 1962), wat agt jaar ouer as sy was. Piet het ‘n Bachelor of Arts (BA) graad in Tale gehad, en kon ook Zoeloe vlot praat. Piet het ‘n rustelose streep in hom gehad en van rondbeweeg gehou. In 1949 het die Möllers hulle op ‘n plaas naby Marandellas (nou Marondera) in Suid-Rhodesië bevind waar Piet met tabak geboer, en op die dorp skoolgehou het. Hul derde kind is hier gebore.40 Op daardie stadium het die Britse kolonie, Rhodesië (1889 – 1963) bestaan uit beide Noord- en Suid-Rhodesië. In die westelike gedeelte van Suid-Rhodesië was daar ook reeds ‘n goed-gevestigde Afrikaanse boeregemeenskap wat almal nasate was van die pioniers wat tussen 1892 tot 1895 vanuit die ZAR na Gazaland uitgewyk het, onder andere ook die nasate van Hendrik Johannes Bekker (1843 – 1897) en verlangse familie van Bettie Möller.54-57 Teen 1953 het die gesin verhuis na die plaas genaamd Yena Lo, naby Kalomo in Noord-Rhodesië (nou Zambië), waar die jongste twee kinders gebore is. Hul oudste dogter, Susan was daar in ‘n skoolkoshuis in Lusaka en het net twee keer per jaar huistoe gekom. Familie het steeds by hulle gaan kuier en die Möllers het ook gereeld in Suid-Afrika kom kuier.40 Teen 1960 was hulle egter permanent terug in Suid-Afrika en woonagtig op die Hoëveldse dorpie, Belfast, waar beide Bettie en Piet skoolgehou het.40 Een van Bettie se oud-leerlinge, Casper Badenhorst, onthou haar as ‘n goeie, maar streng onderwyseres, en toe hy op ‘n dag weer ‘n kans met haar probeer vat het, sê sy vir hom: “Jy dink ek is ‘n aap, maar ek is ‘n óú bobbejaan” 78 – het seker vir haar vertel die hond het sy boek opgevreet as rede vir onvoltooide huiswerk. Hoewel hulle ‘n woonhuis op Belfast gehad het, het hulle later hul intrek in die meisiesskoolkoshuis geneem waar Bettie ook koshuishoof geword het. Daarvoor het Piet gesorg as voorsorgmaatreël, aangesien hy toe reeds simptome van klierkanker getoon het en wou hê dat sy gesin in ‘n versorgde, veilige omgewing moes wees as hy nie meer daar was nie. Die kanker het sy tol uiteindelik op 18 Maart 1962 geëis, ‘n skrale ses weke voor Piet se 52ste verjaarsdag. Hy is in die Middelburg Hospitaal op Middelburg, Transvaal oorlede.40

Die familie het daarvan gehou om by die Möllers te kuier, daar in Zimbabwe en in Zambië, maar ook, selfs na Piet se dood, in Schoemanskloof waar hulle eiendom (nou bekend as Old Joe’s Kaia) besit het. In die skoolvakansies moes Bettie bontstaan om al die kuiermense te onthaal, wat in die verskeie rondawels ingeboek was. Sampie Bekker het altyd sjokolade-hase vir die kinders gebring en lekker, interessante stories vir hulle vertel.40,79 Ook geen wonder dat die familie juis daar wou gaan kuier het nie, want Bettie se hondjie- en eendjie-koeksisters met opblaaspensies vol stroop wat die familie nou-nog onthou, klink darem vingerlek-lekker.68

Bettie Möller was ‘n weduwee vir 42 jaar en het gedurende daardie tyd haar kinders alleen grootgemaak. Sy is op die ouderdom van 85 jaar op 5 Mei 2004 in Pretoria oorlede, en twee dae later vanuit die NGK Skuilkrans begrawe en te ruste gelê in die Pretoria-Oos Begraafplaas, Pretoria.14,40

Uit hul huwelik is vyf kinders gebore; Susanna “Susan” (*16 Januarie 1945), Lourens Christiaan “Lou” (*9 September 1947), Pieter Willem Arnoldus jnr. “Pieta” (*22 Mei 1950, Amersfoort), Elizabeth Gertruida “Liesbeth” (*11 Mei 1953, Middelburg) en Johanna “Hanlie” (*28 Mei 1958, Pretoria).40,68 5.5 Aletta Susanna

Aletta Susanna “Letta”, die vyfde kind van Lou en Bettie Bekker, is op 15 Mei 1923 gebore.1,38 As kind was Letta ietwat van ‘n rabbedoe, wat haar eie donkie genaamd Jakob gehad het, waarop sy gery het. Die staaltjie word vertel – name van die betrokkenes is nie meer bekend nie – maar die volwassenes het almal ‘n kans op die donkie se rug gewaag. In die geselskap was ‘n ouerige omie wat so ‘n langsame, temerige manier van praat gehad het. Hy sien toe hier kom ‘n ding en roep uit:  “P a s o p,  d i e  d o n k i e  g a a n  j o u  s k o p.  O  d i n g e s,  d i e  d o n k i e  h e t  j o u  k l a a r     g e s k o p.” 38

Reeds van jongs af het Letta ‘n voorliefde vir langbroeke en stewels gehad – as kind het ek haar nie eenkeer ‘n rok sien dra nie. Letta het na skool in die gevangenisdiens begin werk, maar tydens die Tweede Wêreldoorlog by die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit – sy was toe maar sowat 17 jaar oud. Sy het so ‘n groot, swart, dikwiel weermagfiets gehad waarmee sy as bode die dokumente moes aflewer. Na die oorlog het sy as Administriewe Beampte by die Staatsdiens in Pretoria begin gewerk en uiteindelik daar afgetree. Haar stewels was elke dag blink gepoets, soos sy in die weermag geleer is – waks in, vryf blink, spoeg en poets, spoeg en poets, tot jou eie weerkaatsing in die skoene vir jou teruggestaar het.38,40Iewers na die oorlog is Letta met Frikkie Potgieter getroud, maar die huwelik was van korte duur. Bettie Kruger onthou nog hoe ‘n aangename mens oom Frikkie was. Geen kinders is uit hul huwelik gebore nie. Daarna het Letta enkellopend gebly en het eerder saam met haar groep vriendinne gekuier en gefuif. Van haar boesemvriendinne met wie Letta haar woonstel op verskillende stadiums in haar lewe gedeel het, was Irene, Alta en Joey. Later, vanaf 1974 tot 1978, het haar moeder by haar kom inwoon en het Letta haar versorg tot met haar dood.38,40

Letta was ‘n baie noukeurige, perfeksionistiese mens met ‘n goeie hart en ‘n onnutsige sin vir humor. Sy het egter nie op haar laat trap nie.38,40 Op ‘n dag laat haar grys ou motortjie – ‘n Austen Apache – wat sy tot op haar oudag bestuur het, haar in spitsverkeer in die besige Pretoriase middestad in die steek. Sy probeer vergeefs om die Austentjie aan die gang te kry, terwyl die man in die groot Mercedes agter haar op die toeter lê. Maar Austentjie weier soos ‘n steeks perd, en die oorverdowende getoeter duur voort. Net daar vererg Letta haar, wip uit haar motor, masjeer na die Mercedes agter haar en sê die man aan om in haar motor te klim en dit aan die gang te probeer kry terwyl sy in sy kar klim en sy hom betoeter. Nodeloos om te sê dat dit die einde van die geraas was.68 Of die man die ordentlikheid gehad het om te help, weet ons nie … het waarskynlik eerder die veiliger opsie oorweeg en die hasepad gekies!

Dan was daar die dag toe sy en haar broer, Izak, by die Hydro Baths by Machadodorp byna verdrink het toe die familie daar saamgekuier het. Nie een van die twee kon swem nie, maar besluit om die vuil swembad aan te durf. Die ding was groen van die slyk en paddas het lustig rondgeswem. Daar staan Letta en Izak toe aan die vlak kant met die glasies so op die swembadkant. (Hulle het toe al reeds ‘n paar doppe in gehad.) Die volgende oomblik gly Letta se voete op die glibberige bodem onder haar uit en onder die water is sy! Ridder wat haar broer was, probeer haar red en daar gly hy ook. Eers is hy onder en Letta weer bo die water, en dan is Izak weer bo en Letta onder. ‘n Ruk gaan dit so aan tot hulle later aan mekaar vasklou en saam so onder en dan weer bo is. Uiteindelik het hul broer Lou ingespring en die twee van verdrinking gered.73Letta het moeite gedoen om met die kinders in die familie ‘n band te bou en juis haar grappies en poetsbakkery het dit maklik gemaak.38,40 Ek kan nog onthou hoe sy haarself verkneukel het wanneer haar poets ons onverhoeds gevang het. As universiteitstudent in die laat 1980’s het ek dit altyd geniet om daar by haar in haar Strubenpark-woonstel in Pretoria-Sentraal te gaan kuier, waar sy dekades lank gewoon het. Letta is op 74 jaar, 10 maande en 5 dae op 20 Maart 1998 in Pretoria weens nierversaking oorlede en op 25 Maart veras.145.6 Cornelia Margaretha

Lou en Bettie se sesde kind en vyfde dogter, Corrie, soos sy genoem is, het haar opwagting op 24 Julie 1926 gemaak.1,38 Sy is op 17-jarige ouderdom op 10 Augustus 1943 in die NGK Ermelo (nou NGK Ermelo Moedergemeente) met die 23-jarige Pieter Samuel Helen “Piet” Hoffeldt getroud (*6 Maart 1920, Orighstad). Sy vader het na die eerste Wêreldoorlog uit Duitsland na Suid-Afrika geimmigreer.38,80,81 Piet het sy loopbaan as Stoker by die SAS&H op Waterval-Boven begin. Met tyd het hy homself opgewerk na Drywer (van stoomlokomotiewe) en het uiteindelik op die ouderdom van 55 jaar in 1974 as Instrukteur afgetree. Deur die loop van sy loopbaan het hy met sy gesin in Breyten, later in Germiston en uiteindelik in Kroonstad gewoon. Piet het ‘n uitgaande persoonlikheid en ‘n goeie sin vir humor gehad. Sy humeur was egter kort, soveel so dat hy onder sy werkskollegas as “Piet Bliksem” bekend was. Op ‘n keer het hy, as die drywer in beheer, die stoker genaamd Zücker aangesê om die vuur vinniger te stook. Zücker, wat die leier van die motorfietsbende in Kroonstad was, het egter sy lyf hans gehou en die vloekwoorde laat vloei, waarna Piet hom met ‘n een oorveeg uit die enginkajuit gemoker het. Zücker het in die hospitaal wakker geword! Kom daarvan as jy met ‘n sterkere meerdere skoor wil soek! Op ‘n keer het Piet en Corrie inkopies gaan doen, toe ‘n verkeersbeampte op sy groot BMW-motorfiets stilhou en, met sy vinger al swaaiend onder Piet se neus, vir Piet aanspreek oor hy in ‘n nie-parkeringszone stilgehou het. Die vinger het Piet nie aangestaan nie, en met een swaai het hy die verkeersman net daar van sy motorfiets afgeklap! Corrie was haar lewe lank ‘n huisvrou, en die familie onthou haar heerlike, gekookte kosgeregte. Sy was ‘n inkenninge huishen met ‘n vlymskerp verstand, wat goed na haar gesin omgesien het.81

Corrie is op Nuwejaarsdag op 1 Januarie 2009 in die ouderdom van 82 jaar oorlede en op 6 Januarie 2009 vanuit NGK Suikerbosrand in Heidelberg begrawe. Net agt maande later op 19 Augustus 2009 is ook Piet Hoffeldt (89) oorlede, en te ruste gelê op 24 Augustus 2009.38,81Hulle drie seuns was Johannes Bernard “Hannes/Hoffie” (1 Maart 1945 – 12 Oktober 2012, Nigel), Lourens Christiaan “Lou” (12 Julie 1948 – 21 Desember 1978) en Pieter “Pietman” (*17 Junie 1957).38,81,82 Pieter, wat met Ronelle Pretorius (*29 Februarie 1968) getroud is, het vir jare hul eie restaurant, asook onthaallokaal in Heidelberg, Gauteng bedryf, maar het onlangs hul wortels uitgetrek en na die rustige Wes-Kaapse platteland verhuis. Corrie en Piet Hoffeldt se kleindogter, Nádine (*28 Februarie 1982, Durban) is ‘n bekende Afrikaanse sangeres en televisieprogram-aanbieder.38,81Van die drie Hoffeldt-broers het ek net vir Oom Hannes en sy eerste vrou, Alta (Hester Aletta le Roux [11 Februarie 1943 – 28 Mei 2009]) goed geken.38 Hulle was dierbare, hartlike mense en het my onder hul vlerk geneem toe ek as verskrikte eerstejaartjie by Universiteit van Pretoria die wilde, woeste stad moes aandurf. Ek is gereeld vir Sondagmiddagete genooi daar waar hulle in Constantiapark gewoon het en dan het Oom Hannes my moed ingepraat met: “Moenie stres nie! Onthou, 50% is slaag en dis goed genoeg; 51% is ‘n onderskeiding!” Vandag deel ek Oom Hannes se raad met my eie twee studenteseuns: “Moenie stres nie! Werk hard en doen jou bes, dis genoeg.”

Familie onthou Hannes as ‘n lieftallige mens wie se oë altyd gelag het. Ek het ook eers onlangs gehoor dat Oom Hannes in sy jonger dae ook sy lyf akteur gehou het en dikwels ondersteunde rolle in fotoverhale vertolk het. Familielede kan nie meer met sekerheid onthou by watter reeks hy betrokke was nie, maar vermoed dit was die Dr. Conrad Brand-reeks.73,83 Hierdie fotoverhale was baie gewild vanaf die 1950’s tot die 1970’s, en was verkrygbaar as goedkoop, slapband fotoverhaalboekies, gedruk in swart-en-wit op koerantpapier. Baie mense het gemeen dat hierdie tipe leesstof uit die bose was en het hul kinders verbied om dit te koop of te lees. Ekself het van hierdie boekies so skelm onder oë gehad, maar as ek daaraan terugdink vandag, kan ek geen fout vanuit ‘n moreel-Christelike oogpunt, daarmee vind nie, veral gesien in die lig van wat deesdae op televisie en die internet beskikbaar is. Hierdie verhale het hoofsaaklik ‘n romatiese of aksie-belaaide ondertoon gehad, met die held wat gewoonlik tot die damsel in distress se redding gekom het.5.7 Izak Matthys

Izak, wat baie trots daarop was dat hy na sy Van der Merwe-oupa vernoem is, is op 2 Februarie 1928 op Ermelo gebore.1,14,38 Hy het nie graag gesels oor die omstandighede rondom sy pa se dood – toe hy maar 12 jaar oud was – en sy eie swaarkry-kinderjare nie. Maar hy het altyd met groot respek en liefde van sy moeder wat hulle alleen grootgemaak het, gepraat.14 Bettie Bekker moes van die kerk se barmharigheidskospakkies vir behoeftige gesinne gebruik maak om deur die maand te kom. Izak is gereeld gestuur om ‘n kospakkie te gaan afhaal, maar hierdie was vir hom ‘n vernederende ervaring, want die NGK-predikantsvrou, Hester Veldman was baie gemeen en het die kinders verkleineer met “as jy suiker vat, mag julle nie konfyt kry nie” of “kies tussen tee of koffie, julle kan nie altwee kry nie.” 40 (Ds Nicolaas Jacobus Veltman was die leraar van NGK Ermelo vanaf 1928 tot 1965.)3 Gelukkig was daar ‘n baie barmhartige vrou wat naby die Bekker-gesin gewoon het, en elke dag vir die kinders toebroodjies en elk ‘n beker koffie gegee het wanneer hulle van die skool oppad huistoe was.40 Izak se dogter, Antoinette deel ook die volgende staaltjie wat hom afgespeel het op ‘n koue wintersnag daar in Ermelo, soos deur haar vader aan haar vertel is: “Soos die digter, Eugène Marais skryf, moes my pa in die “koud is die windjie en straal” na Appelkoos, hul koei loop soek. Maar die koei is weg, my pa is vol frustrasie en wens “die donnerse koei vrek”. Daar en dan slaan ouma Bettie hom. Die volgende dag is Appelkoos wel gekry. Stokstyf en morsdood. Toe slaat ouma hom weer.” 24

Izak is ses maande voor sy nefie, Samuel, sy suster se seuntjie, gebore. Sampie is egter as sy broer grootgemaak, en as mense gevra het oor die twee, het Bettie Bekker gesê hulle was ‘n tweeling.38

Die 26-jarige Izak is op 20 Augustus 1954 in NGK Breyten met Maria Jacomina Elizabeth Petronella “Marietjie” Westerfeld, toe 21 jaar oud, getroud. Sy was die dogter van Johannes Ezemis Westerveld en Magdalena Petronella Smit. Marietjie is gebore op 5 Junie 1933 in die Moedersbond Hospitaal in Pretoria en op 8 April 1934 deur ds. A.J. Barger op Witbank gedoop, waar haar vader op daardie stadium vir die SAS&H gewerk het.14,24,84,85 Haar ouers het later vanaf Witbank na Breyten verhuis waar haar vader vir baie jare as SAS&H Masjinis (Treindrywer) werksaam was. In April 1947 was haar vader bevoorreg om die drywer van die Wit Trein te wees, toe dit by Breyten aangedoen het, tydens die Britse koning, George VI en sy gesin se twee maande-lange besoek aan die Unie van Suid-Afrika, Basutoland (nou Lesotho) en Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe). Die Hoëveldse dorpie was omtrent in rep en roer! 24,38,86-88 Marietjie se paternale ouma, Marrigje Elizabeth Westerveld (*7 Oktober 1877, Amsterdam, Nederland – ?), was van Hollandse afkoms en het op 4 Maart 1912 in Suid-Afrika gearriveer. Tot op haar oudag het Marrigje steeds Hollands gepraat. Sy het kenmerkende lang oorlelle gehad weens die dra van swaar oorbelle, en het ook ‘n glasoog gehad waarmee haar agterkleindogter, Antoinette as kind mee gespeel het, na haar afsterwe.24

Marietjie en Izak Bekker was baie lank getroud, maar is tog later geskei. Marietjie het weer hertrou op 12 Desember 2002 te Pretoria met die wewenaar, Izak Aldert Kotzé (18 November 1932 – 9 Februarie 2017), wat die eggenote was van Izak Bekker se oorlede niggie, Magrietha Cornelia “Rita” Munnik (1937 – 2002). Marietjie se tweede huwelik was nie gelukkig nie en het in die skeihof beland. Daarna het Marietjie na Springs verhuis om nader aan haar dogters te wees, en daar is sy later op die ouderdom van 84 jaar en vier maande op 1 November 2017 oorlede.24,65,89

Uit Marietjie en Izak Bekker se huwelik is vier dogters gebore; Magdalena Petronella “Magda” (*11 Maart 1955, Breyten), ‘n ervare onderwyseres, Elizabeth “Elzabé” (*21 April 1959, Breyten), ‘n praktiserende advokaat, Marietjie (gebore en oorlede op 13 Junie 1964, Breyten) en Antoinette (*2 April 1966, Ermelo), ‘n gekwalifiseerde psigiater wat nou in Kanada woon.14,24

Izak het sy lewe lank vir die SAS&H gewerk. In 1943 het hy Standaard 7 (Graad 9) aan Hoërskool Ermelo voltooi en daarna as 15-jarige seun op Waterval-Boven as Stoker begin werk. Op 27 April 1945 is hy te NG&HK Waterval-Boven aangegeem. Izak was ‘n vlytige en hardwerkende jongman en teen 1956 het hy homself reeds opgewerk na die posisie van Masjinis/Treindrywer. Van Waterval-Boven is hy na Breyten waar hy 24 jaar lank gearbei het, voordat hy met sy gesin in 1974 na Ermelo verhuis het. Hier het hulle gewoon vir die volgende tien jaar, waarna hy in 1985 afgetree het en by sy dogter, Magda en haar man, André Taljaard gaan inwoon het op hulle hoewe te Vischkuil, naby Nigel. Hy was egter die laaste vier jaar van sy lewe woonagtig in ‘n aftreeoord in Heidelberg, waar meer intensiewe versorging beskikbaar was.14,65

Izak se liefde vir die Groot Ou Dames (stoomlokomotiewe) was duidelik sigbaar op sy gesig as hy vertel het hoe hulle die engins swart gepolitoer en dan spieëlblink gevryf het voor die volgende werkskof. Treine was in sy bloed en behalwe vir die stoom-, diesel- en elektriese lokomotiewe wat hy in Suid-Afrika gedryf het, het hy ook al gery op die Eurostar, die Britse Underground, die Franse Metro, asook Amsterdam se trems. In November 2014 het die 86-jarige Izak ook die Gautrein bestuur! Die bestuurskajuit is ‘n klein kompartementjie wat met ‘n deur toegang tot die passasierswa het. Izak kon die spoedstok vashou, maar eintlik is die trein volkome outomaties en gerekenaariseerd! Daar was natuurlik sekuriteit en die inspekteur wat saam was, was baie gaaf. Izak se dogter, Elsabe en haar man, Etienne het beurte maak om saam met Pa Izak in die kajuit te ry. Met die rit vanaf Johannesburg na Midrand, het die “lokomotief” getrek, en met die terugrit, gestoot! Op Izak Bekker is egter oorlede voordat hy sy bucket list – ritte met die Bloutrein, Rovos Rail, die Trans Canadian en die Orient Express – kon laat materialiseer!65Met Izak 90ste verjaarsdag in 2018 is ‘n groot makietie gehou. Familie het van heinde en ver gestroom na Vischkuil naby Nigel; sommige het mekaar 30 jaar laas gesien. Almal was toegerus met ‘n bordjie eetgoed, ‘n kamera, foto’s en familiestories. Boereworsrolle, konfytvetkoeke en ‘n spoggerige verjaarsdagkoek in die vorm van ‘n stoomlokomotief met waens was ook op die spyskaart. En vir ‘n volle uur het die familie aan Oom Izak, ‘n bobaas-storieverteller, se lippe gehang. LUISTER HIER na Oom Izak se interessante vertelling van sy vader, Lou Bekker as penkop tydens die Tweede Anglo-Boere Oorlog, asook die verhaal van die beskadigde Bybel uit ‘n afgebrande plaasopstal wat uiteindelik die Bekker Familiebybel geword het.

Op 91-jarige ouderdom in April 2019 is hy ook saam met sy jongste dogter, Antoinette, op ‘n ekspedisie na Polokwane (voorheen Pietersburg) waar hulle besoek gebring het aan die plaas Bloemhoek en die omliggende Haenertsburg-omgewing waar sy moeder grootgeword het.24 Izak is op die ouderdom van 93 jaar en drie maande op 6 Mei 2021 te Heidelberg, Gauteng oorlede. Sy roudiens is op Vischuil op 15 Mei 2021 gehou. Izak Bekker was soos ‘n biblioteek gevul met verhale uit vergange se dae, en hy het dit terdeë geniet om familiestories met sy kenmerkende kwinkslae aan enigeen met ‘n luisterende oor te vertel. Met sy heengaan het familielede weer met heimweë ook die wolhaarstories wat oom Izak tong-in-die-kies en gemaak-ernstig aan hulle as kinders opgedis het en wat hulle netso vir soetkoek opgeëet het, onthou en gedeel. So het hy baie ‘geloofwaardig’ vertel van die Krugermiljoene wat iewers in Ermelo begrawe was. En die bobbejaanklier wat in hom oorgeplant was wat magiese krag gehad het en hom jonk en op-en-wakker gehou het. So ‘n bobbejaanklier was baie skaars en die bobbejaan moes in die geheim gevang word. Hy het nogal so ewe vir hulle die merk met ‘heilige oortuiging’ gewys! Nooit is gesê dat die dier doodgemaak is nie, want hy het geweet die Bekkertjies sou dan sorg vir ‘n hewige tranedal. Sy oudste dogter onthou ook die dag toe haar pa by haar skool kom vertel het van die oorlog – na watter oorlog verwys word, is nie seker nie – maar hy het ewe kontant ‘al die letsels en ou wonde’ vir die kinders gewys wat hom oopmond aangegaap het.73 Ja, mens moes maar sterk leun op die gawe van onderskeiding om te weet wanneer Oom Izak die waarheid gepraat het en wanneer hy besig was om met jou kop te smokkel!

5.8 Lourens Christiaan

Lourens Christiaan jnr. “Lou(w)” is op 12 Desember 1932 gebore.1,90-93 Hy was maar sewe jaar oud toe sy vader oorlede is. Die gesin was behoeftig en vir enige weelde en luukses was daar nie geld nie. Op een geleentheid nadat die kinders elkeen ‘n geldstukkie by Oom Nick, eggenoot van hul ouer suster, Grieta/Outannie, gekry het, het Lou reguit na die nargosiewinkel laat wiel. Daar het Lou vir hom ‘n soetdingetjie – ‘n klein pakkie bruinsuiker – gekoop, wat hy alleen agter die winkelmuur gaan eet het sodat hy dit nie met sy sibbe hoef te gedeel het nie.42 Die beeld van die klein seuntjie wat hom verlustig in die smaak van die suiker pluk aan ‘n mens se hart, want waar kan mens ‘n beter weerspieëling kry van die min plesiertjies wat die jong, armoedige Bekker-kinders in hul lewe gehad het?

Net nadat Lou jnr. Standaard 8 (Graad 10) klaargemaak het, het hy skool verlaat om werk te soek en sodoende sy moeder finansieël te help. Teen daardie tyd het hy reeds ‘n vlieënier-aanlegtoets by die Suid-Afrikaanse Lugdiens afgelê en met vlieënde vaandels geslaag. Sy ouer broer, Hendrik het egter gevoel dat hy nie verder kan gaan studeer, terwyl hy wat Hendrik is en hul broer, Izak kon nie alleen in die behoeftes van hul moeder, susters en jonger broers voorsien nie. Lou jnr. het dus sy droom laat vaar en in 1948 het hy soos sy ouer broers by die SAS&H begin werk as skoonmaker op Breyten-stasie, maar het gou gevorder na stoker, wat ‘n harde fisiese werk was om die lokomotief se stoomenjin aan die gang te hou. Met die jare het Lou homself verder opgewerk na drywer van die stoomlokomotiewe, en later ook as masjienis van diesel- en elektriese lokomotiewe.93Op 29-jarige ouderdom, in 1962, word Lou genomineer om vir die dorpsraad te staan, en is toe tegerlykertyd sommer as die Eerste Burger van Breyten verkies – die jongste burgermeester ooit in die dorp se geskiedenis.93 Die hele Bekker-familie was so breëbors-trots op hom as ‘n vername burgermeester asof dit hul eie prestasie was.38,39  Hy was uiteindelik vir 15 jaar lank ‘n verkose stadsraadslid van Breyten waarvan hy 9 jaar (ses ampstermyne) as burgermeester en 3 jaar as onderburgermeester en Voorsitter van die Dorpsraad gedien het.38,40,42,93 Sy eerste toespraak as Eerste Burger was tydens die inwyding van die nuwe laerskool. Hy het hom goed van sy taak gekwyt en 22 bome is voor die portaaldeur geplant ter herdenking aan hierdie groot dag in Breyten se geskiedenis. Lou Bekker was met hart en siel by die dorp se vooruitgang betrokke en stellig het hy Breyten in ‘n spog dorpie verander waarop die inwoners baie trots was. Inligtingsprogramme en begrotings met gepaardgaande besparings is beraad en genoteer. Een van die eerste projekte was die modernisering van die sanitasie dienste. Die begrafplaas is omhein en netjies berand.  Sipresboompies is deur die Landsdienskinders aangeplant.  Grafte is heel gemaak.  Lou het voorgestel dat ‘n heldeakkker eenkant by die voorhek afgemeeet moes word en ‘n gedenknaald is opgerig vir die gesneuwelde soldate en polisiebeamptes. Al Breyten se strate is geteer, die sypaadjies is berand en netjies gemaak. Straatname is gekies en duidelik gemerk. Breyten het ook ‘n Polisiestasie-gebou en tronkselle bygekry – die ouer gebou is opgeknap en ingerig as Padverkeersentrum en -kantore. ‘n Doeltreffende brandweerstasie is gerieflik in die hoofstraat opgerig. Die beheerende offisier was mnr. Ben Nolan en sy beamptes. Die Ambulans- en Noodhulpkantore is by die munisipalegebou ingerig, waar mev. Ous Grobler aan die stuur was.93Groter uitbreidings het gevolg. Die AGS (Apostoliese Geloofsending) Kerk is opgerig deur Lou se swaer, Nic Kapousousoglu, ‘n boukontrakteur van Alberton. Die grootste uitbreiding was die woongebied vir die Nie-Blankes. Paaie is opgemeet, erwe en straatligte is aangelê, met speelparkies en sportgronde aan die  een kant. Administrasie kantore, ‘n klubsaal en ‘n kliniek is ook beplan. Daarna is ‘n laer- en hoërskool gebou. Die Indiërwoongebied is begin met die bou van Dr Solly Dindar en Dr Haroon Dindar se woonhuise – hierdie twee briljante broers het hul hele lewe gewy aan die mediese versorging van Breyten se inwoners en ander pasiente van ver. (Ek onthou hierdie twee dokters uit my kinderdae; ons het al die pad van Ermelo gekom want as vriendelike en meelewende dog uitstekende dokters was daar geen gelyke op die Hoëveld.) Hulle praktiseer vandag nog steeds op Breyten!! Een van Lou se drome was ook om ‘n bejaardesorgsentrum te bou met alles wat nodig was om ‘n gerieflik en veilige heenkome te bied aan behoeftige inwoners, met goed-opgeleide personeel wat vir alles kon sorg.  Hy het deeglik navorsing gedoen by naburige tehuise en die projek is aanvanklik op kleinskaal begin. Lou Bekker is egter oorlede voor die projek voltooi is.93

Ook op sosiale – en sport-gebied het Breyten onder Lou Bekker se hand, van krag tot krag gegaan. Volkspele is gereeld in die kerksaal gehou vir jonk en oud. Die Voortrekkers, ‘n kultuur jeugorganisasie was aktief en die Landsdiens onder leiding van Mnr. Van Eden het die kinders kunstige en handige artikels laat maak en geleer van watersuiwering en -besparing, plantjies kweek en plant, diereversorging en nog wat. Die Kerk het Sondagskool en Kinderkrans aangebied. Rugbyvelde en tennisbane is opgeknap, spreiligte is aangebring en die klubhuise netjies ingerig en geverf.93 Breyten het sporthelde opgelewer soos Hendrik Egnatius “Naas” Botha (*27 February 1958), die bekende Springbok rugbyspeler van die 1970’s en 1980’s.93,94 Posduifvlieg was ‘n spesiale sport in Breyten, met bekende klublede soos Lou Bekker, H. Roelofse, G. Visagie S. van der Merwe en S. van Wyngaardt wat die dorp met talle Suid-Afrikaanse rekords verras het. Daarby het omliggende boere se stoetdiere en perderuiterkuns skoupryse ingepalm soos vleisstukkies aan ‘n sosatie-stokkie. Die streekskoerant, Die Hoëvelder, het gespog met Breyten se uitblinker inwoners – bejaardes se handgemaakte skaapvelpantoffels wat landwyd verkoop het, prestasies in skoolsport en akademie, die dames van die Vrouelandbou-unie se kuns en talente, soos kunsnaaldwerk, skilderye, kook- en bakkuns. By die Spoorweghostel is ‘n groot grondvloersaal in ‘n interessante museum omskep. Tannie Koet Vermaak en vrywillige helpers het oudhede, werktuie, speelgoed, ens. smaakvol uitgestal. Dit was ‘n besienswaardigheid uit die verre verlede en het baie aandag getrek en besoekers na Breyten gelok.93Tussendeur dit alles het Lou Bekker die plaas Smutsoog (ZAR plaasno 143; Transvaal no 214 IS), wat ongeveer 5 km noord van Breyten lê, in 1969 aangekoop waar hy hoofsaaklik met skape geboer het. Daar is 11 fonteine van verskillende sterktes op die plaas wat as die oorspong van onderskeidelik die Olifants- en Komatierivier beskou word. Aanvanklik het die gesin vir die eerste drie jaar voor die plaashuis gebou is, primitief geleef in ‘n stoor sonder plaffon, elektrisiteit en water. Water is uit die fontein in groot melkkanne op ‘n kruiwa bult af gebring vir huislike gebruik. Vrydae is die sleepwa met die trekker en met ‘n stoel op vir moeder, af na die dam (½ km) ver gesleep om daar piekniek te hou en tussen eende en ganse te swem. Toe die gesin hul intrek op die plaas geneem het, was die horingoue, Afrikaanssprekende Stefaans en sy vrou, Sara reeds daar woonagtig. Hy was blykbaar voorheen die touleier van die osse wat die wa van President Paul Kruger getrek het. Hy kon baie stories vertel van daai swaar, wilde, gevaarlike jare. Later is ‘n ryk steenkoolrif op die plaas gevind, maar Lou wou nie laat myn nie. Hy was lief vir die natuur en die rus-en-vrede van die plaas wou hy nie versteur nie. Dagbreek was vir hom die mooiste tyd van die dag, want vir hom was dit die beste tyd om met die Here te praat, of hy nou in die veld besig was om grensdrade te inspekteer of in ‘n lokomotief gesit het.93

Die gesin was net ‘n jaar op die plaas toe Lou daar ‘n ernstige treinbotsing verhoed het. Sy dogter, Santie vertel soos volg: “Ons plaas, Smutsoog se hekingang het uit die hoofpad tussen Carolina en Ermelo oor die treinspoorlyn ingedraai. Teen 6 uur soggens het ons kinders daar gewag vir die skoolbus en 50 m verder by die tien mynhuise van werknemers by Cape Myn is nog kinders opgelaai. (Die myn was binne loopafstand van die huise). Dan is kinders eers na Breyten Laerskool aangery waarna die bus pad gevat het na Carolina Hoërskool. Vroeg een Saterdagoggend het my pa en broer Loutjie die roomkanne by die hek gaan aflaai. My pa het die ou bekende geluid van ‘n stoomtrein met sy 100 petrolgelaaide tenktrokke wat stadig en stomend die opdraande uitkruip, gehoor aankom en die swart-wit rookwolk agter die mynhoop sien uitslaan. Terselfdertyd het hy nog ‘n bekende geluid gehoor ….. ‘n treinfluit by die Boshoffoorgang om die draai, voordat die afdraande begin. Die gefluit het sy hare laat rys met die besef dat die aankomende trein buite die vertrekrooster se tyd foutiewelik op dieselfde spoorlyn na Carolina vertrek het. My pa en broer, wat agterop die bakkie gestaan het, het tot regoor die aankomende lokomotief gejaag en vir die drywer gefluit en getoeter, na vore beduie het om te wys dat daar ‘n trein aan die kom was!  Die masjienis het vriendelik teruggewaai, maar Lou het na vore bly wys: “Kyk daar! Stop! ‘n Trein kom aan!” Genadiglik het die masjienis gesnap, uitgekyk en die swart rookwolk van die petroltrein daar voor gesien. Hy’t dadelik remme aangeslaan! En die stoker het vuur begin uitgooi!  Vonke het gespat onder die ysterwiele uit en die trein het begin spoed verloor. Die stoker het toe uitgespring en vinnig vooruit gehardloop om knalddempers op die spoor te sit as waarskuwing vir die petroltrein om te stop. My pa het terug gejaag na die petroltrein en ook vir hierdie drywer beduie om te stop. Dit was ‘n bestiering dat die trein nog stadig beweeg het na die opdraande. Remme is hard aangeslaan en ‘n desperate poging om die opgeboude stoom in die lokomotiefketel af te blaas, is onmiddelik aangewend. By die huis het my ma die petalje vinnig opgesom toe sy die twee naderende treine gesien het. Sy het die telefoonsentrale laat weet van die gevaarsituasie en oom Wessel Moolman het toe noodoproepe na die brandweer, boere, verkeersbeamptes, polisie en ambulans deurgestuur. Intussen het my pa met die grondpad langs die spoorlyn bly ry om die spoorwegmanne op te laai as hulle vinnig sou moes vlug. Net oor die teerpad langs die mynhoop, ongeveer 40 m van waar die botsing en massiewe ontploffing sou plaasvind, was die tien mynhuise asook die hutte van vyf swart gesinne wat daar naby gewoon het. Daardie tyd van die oggend was daar ook swaar padverkeer en heelwat voetgangers oppad werk toe. Dit was dus nie net die vier treinpersoneellede se lewens wat in gevaar was nie! Maar Lou het daarin geslaag om ‘n tragedie af te weer! Binne enkele minute, wat seker soos ‘n leeftyd gevoel het, het die twee treine tot stilstand gekom, presies 1 m van mekaar af.”93“Koerantverslaggewers sou later die insident as skrikwekkend beskryf. Om te dink aan die bos- en veldbrand wat boere se ryp mielie-, boontjie- en sonneblom-oeste wat nog op die lande gestaan het, asook wonings, plaasimplemente en store in ‘n japtrap sou verbrand het! Plaasvee en wilde velddiere sou geen kans op ontvlugting gehad het nie. Daarby sou SAS&H duisende rande se skade gely het en boetes sou betaal moes word. Die veld het wel aan die brand geraak as gevolg van die vuurwarm kole wat uitgegooi is, maar die boere was gereed met hul spuitwaens en het die brand betyds geblus. My pa het foto’s geneem wat vir die dissiplinêre ondersoek nodig sou wees. Die ondersoek het getoon dat die stasie se beheertoring wat moes toesien dat ‘n trein op die korrekte vertreklyn staan, ‘n oordeelsfout met die trek van wissels begaan het. Die drywer is ook aangekla van nalatigheid, omdat hy wel bewus was van die petroltrein wat daardie tyd aankomend was. Hy moes seker gemaak het by die werfmeester of die trein wel in die werf in getrek het. My pa het ‘n bedankingsbrief van SAS&H Hoofkantoor ontvang vir sy oplettendheid en flinke optrede. Hy het ‘n swart pen en potlood met die SAS&H se embleem daarop, as geskenk gekry.”93In 1978 is Lou Bekker bevorder tot Lokomotief-inspekteur en word gelyktydig ook aangestel in ‘n Opleierdrywerspos. Weer het hy die boeke nader getrek en vanaf 1 November 1983 het hy die pos van Depotbestuurder by Ermelo se Lokodepot beklee totdat hy in 1984 om gesondheidsredes besluit het om af te tree.42,93,95 

Lou is op 20-jarige ouderdom op 3 Oktober 1953 met die 17-jarige Susanna Willemina Abrama “Suzie” Steyn (*4 Maart 1936. Kroonstad) in NGK Breyten getroud. 1,38,42,90,92,93 Sy was die oudste dogter (derde kind) van Diederik Johannes “Dirk” Steyn (7 Januarie 1907, Kroonstad – 5 Maart 1987, Breyten) en Susanna Willemina (Abrama) “Suzie” Meintjies (18 Julie 1908, Bothaville – 1951). Haar sibbe was Diederik Johannes “Dirk” (1932 – 2010), Philippus Jacobus “Flip” (1933 – 1997), Hendrik Pieter (1938 – 2011), Alwyn Petrus “Piet” (1940 – 1998) en Cecilia Helena Christina “Cielie” (*1951).93Suzie se moeder was swanger met Cielie toe sy met kanker gediagnoseer is, en terselfdertyd is die sewe-jarige Hendrik en vyf-jarige Piet met skarlakenkoors gediagnoseer. Die gesin is vir maande onder kwarantyn geplaas en die swanger moeder moes in ‘n stoepkamer by ander mense gaan inwoon. As 14-jarige skooldogter was Suzie skielik verantwoordelik vir die gesin en huishouding. Haar moeder het geleidelik verswak, die baba is gebore onder moeilike omstandighede met min hulp en na 11 maande is Suzie se moeder steeds in isolasie oorlede. Kort daarna is bevind dat die twee seuns verkeerdelik gediagnoseer was. Daar was nou ook ‘n baba om te versorg en op haar vyftiende verjaarsdag op 4 Maart 1951 het Suzie die skool verlaat om voltyds na die gesin om te sien. Soos ‘n liewe moeder het sy spoggerige kleertjies vir die kinders gemaak of gebrei. Vir vele moeders in die kerk was sy in hul visier as die ideale skoondogter. Lou Bekker was egter tot oor sy ore verlief en het nie op hom laat wag nie. Saam met sy nuwe bruid het hy gewilliglik ook drie kindertjies (Suzie se jongste sibbe) huis toe geneem en hulle liefdevol groot gemaak. Bo-en-behalwe hul eie biologiese kinders wat gebore is, het die egpaar ook later Suzie se broerskind, Petro Steyn, aangegeneem en met baie liefde bederf.93   

Die egpaar het hul eerste huisie met geel-bruin bakstene in Van Riebeeckstraat 49 in Breyten gebou. Sewe jaar later het hulle verhuis na ‘n vyf slaapkamer-huis met twee badkamers, ‘n snoesige sitkamer en reuse kombuis met ‘n kool- en ‘n gasstoof. Kierie,  Lou se broer maar in werkliheid sy neef, het ‘n groot eetkamerstel van hout gemaak waarby 14 mense vir ‘n feesmaal kon aansit. Die Bekker-gesinslede was baie geheg aanmekaar en die uitgebreide familie het gereeld kom kuier.93

Suzie was ‘n dinamiese burgermeestersvrou wat haar man ondersteun het, asook ‘n uithaler-boervrou. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Fondsinsamelings vir blindes en kreupeles is gedoen deur die reël van konserte, ‘n burgersmeesters-ete en straatoptogte. Laasgenoemde het gewoonlik die boerekomando voor saam met Carolina Hoërskool se kadetorkes ingesluit, gevolg deur tematiese vlotte. Kinders en van hul ouers het met lawwe streke en kleurvolle kostuums agterna gekom met kollekteblikkies wat onder die toeskouers se neuse geskud is. Die hele gedoente deur die dorp se strate is deur mnr. Ben Nolan, die verkeersbeampte, gelei wat ewe statig heel voor geloop het. Suzie het vir haar medemens omgegee. Bejaardes het elke oggend vars melk, eiers en gekapte hout ontvang. Suzie is bekend as ‘n saggeaarde en liefdevolle vuurvreter, vir haar verbeeldingrykheid, kreatiwiteit, handewerk, kunstigheid, mooi sangstem, waagmoed en deursettingsvermoë, en opgeruimde geaardheid. Sy het maklik vriende gemaak. Daarby is sy ‘n terggess en toneelspeelster van formaat. Op ‘n keer het die bestuur van die Bejaardeklub besluit om fondse in te samel met die hou van ‘n heerlike oggendtee.  Die fondse sou aangewend word vir ‘n versorgingspakkie vir die vroue boemelaars. Die dag het aanbreek, tafels was pragtig gedek en vol heerlike eetgoed gepak. Almal het net hul sit gekry, toe ‘n dik ou tante, verwaardeloos met ‘n breë, onooglike glimlag in die deuropening verskyn en ewe kordaat laat hoor: “Ek het gehoor julle nooi my vir koek en tee, waar kan ék sit?!” Die deftige leidster tree vinnig nader en probeer verduidelik hoe dié vurk-in-die-hef steek … maar die tante kies koers na ‘n sitplek. Chaos breek los! Almal pak vervaard die oop stoele langs hulle vol in die hoop dat sy nie langs een van hulle sal sit nie, maar die tante pyl voort en wikkel haar styf aan teen ‘n sobistiese tannie vol fiemies. Dié gee ‘n geskokte gilletjie, spring op en soek haastig na ‘n ander stoel. Almal begin onder mekaar giggel oor dié petalje, maar die ongenooide kuiergas bly vasbeslote sit vir haar koek en tee. Aan tafel bekyk sy almal en sê beïndruk: “Aitsa! maar julle lyk dan al te grand vandag…!” Uiteindelik kry hulle die tannie uit haar geannekseerde sitplek en begelei haar terug na waar sy vandaan gekom het. By die deur kyk sy oor haar skouer terug, lig die halwe brood in ‘n sakkie bo haar kop en ‘n half jack (klein bottel brandewyn) in die ander hand en skreeu “Cheers julle! … ek is Suzie Bekker!!!” Dié wat aan die uitstoot was, het gevries, en na noukeurige inspeksie geskok uitgeroep: “Dit is wraggies sy!”  ‘n Geskater en handeklappery het gevolg en koek en tee is daarna saam sonder verdere voorval geniet. Die plaaslike koerant het ook oor die ‘kattestrofiese insident’ berig.93

Lou Bekker snr. self het ‘n aangename en liefdevolle geaardheid gehad en mense was gemaklik in sy geselskap. Hy was geliefd onder die Bekker-sibbe en hulle kinders, asook in die omliggende gemeenskap. Daarby was hy ook ‘n plaatjie en het gereeld tot sy eie vermaak iemand se siel uitgetrek.42 So onthou sy niggie die aand toe familie op die plaas gekuier het en tant Suzie so vies was vir hom. Hoe meer hy vir haar Beautiful, beautiful brown eyes gesing het, hoe meer het haar bruin ogies vuur geskiet! 68

Lou en Suzie Bekker het twee seuns en een dogter van hul eie gehad. Die oudste, Lourens Christiaan “Loutjie/Louw Plaas” (*30 Maart 1954, Ermelo) is op 29 Junie 1973 te Breyten getroud met Cornelia Johanna Magrieta “Connie” Joubert (*22 Januarie 1957, Breyten). Die dogter, Susanna Willemina “Santie” (*15 September 1956) is getroud met Jacobus Francois Daniël “Jorrie” Jordaan (*23 Desember 1953, plaas Heksvallei, De Doorns, Kaapprovinsie) en Diederik Johannes “Dirk” (*15 September 1960) is getroud met Nerina “Rina” NN.38,42,93

Lou en Suzie Bekker was 33 jaar getroud voordat Lou op 24 Mei 1987 te Breyten weens ‘n skielike hartaanval (koronêre trombose) oorlede is op die ouderdom van 54 jaar en 5 maande. Die begrafnisdiens is deur ds. E.M. van Graan van NGK Breyten op Woensdag, 27 Mei 1987 om 11:00 waargeneem. Na die diens is Lou Bekker in die Nuwe Begraafplaas in Breyten te ruste gelê.38,90-93 Die Hoëvelder-koerant het ten tye van sy afsterwe berig dat Lou sy medemens met liefde en oortuiging gedien het en dat hy dikwels onder moeilike omstandigehede moes veg vir die vooruitgang van sy dorp. Mense vanuit al die bevolkingsgroepe het hul admirasie uitgespreek vir wat hy vir hulle gedoen het en die tyd wat hy opgeoffer het. Suzie het drie jaar na Lou se afsterwe op die plaas aangebly, saam met haar dogter en skoonseun wat daar kom woon het om die plaaswerk te behartig. Die toenemende veediefstalle en die uiteindelike plaasaanval waartydens Suzie 21 keer met ‘n mes gesteek is, het hulle noodgedwonge laat uitwyk na Richardsbaai waar Jorrie ‘n werk bekom het, en waar Suzie steeds mooi deur hulle versorg word.93

5.9 Andries Johannes

Andries is in Ermelo op 6 Januarie 1935 gebore.1,14,96 Hy was sy hele lewe doof in een oor en het ‘n gehoorapparaat gedra.38 Op sy 21ste verjaarsdag (*6 Januarie 1956) het Andries met die 20-jarige Maria Elizabeth “Miempie” Kruger (*9 Julie 1935, Groblersdal) getrou. Sy was die dogter van Jan Johannes Kruger en Maria Elizabeth NN.96Familie onthou Andries Bekker as ‘n aantreklike, vriendelike en ‘n gasvrye man, met die fynste, skerpste sin vir humor wat hul dikwels laat lê het van die lag.69 Andries is in die ouderdom van 64 jaar op 18 November 1999 in Pretoria oorlede. Sy roudiens was op 23 November 1999 vanuit die Moot-Sentraal Afrikaanse Protestante Kerk (APK) in Môregloed, Pretoria. Hy is vier dae later op 27 November 1999 veras. Miempie het 18 jaar na haar oorlede man te sterwe gekom op 13 Junie 2017 in Pretoria, toe sy 81 jaar en 11 maande oud was.96,97

Uit hul huwelik is drie seuns gebore naamlik Lourens Christiaan “Louw” (26 Januarie 1957, Breyten – 12 Junie 2021, Pretoria), Jan Johannes “Jan” (*9 September 1960, Groblersdal) en Andries Johannes “Dries” (*16 Junie 1967, Durban). Louw, wat broederlik deur familielede as “Louw Tent” aangespreek is, is op 23 Junie 1979 te Pretoria getroud met René Booysen (*30 Julie 1958, Bethlehem). Louw het sy bynaam te danke gehad aan sy suksesvolle sakeonderneming wat in luukse, ingevoerde tente gespesialiseer het. Die tweede broer, Jan het in die huwelik getree met Francis Lerm (*19 Augustus 1953, Vanderbijlpark) op 4 September 1983 te Bergville, Natal. Die jongste seun, Dries se huweliksbevestiging was op 26 Augustus 1989 te Pretoria met Amanda Wernich (*9 November 1967, Pretoria).97,98

 

SPESIALE VERMELDING

‘n Groot dankie aan die volgende indiwidue wat familie-data, foto’s en staaltjies goedgunstelik met my gedeel het: oom Izak Bekker, ma Bettie Kruger, Sampie Bekker, Liesbeth Prinsloo, Susan van Rensburg, José Kok, Hannie Wilton, Ellie Olivier, Loutjie Bekker, Magda Taljaard, Elsabé Steenhuyzen, Antoinette Bekker, René Bekker, Pieter Hoffeldt, Marlene Zaayman, Santie Jordaan en Hantie Nel. Hiersonder sou die verhaal van ons Bekker-familie wat hier vertel word aansienlik valer en armer gewees het. ‘n Spesiale woord van dank aan Elsabé Steenhuyzen vir die gereelde Bekker-familiereünies wat sy reël. Dis vir my van onskatbare waarde, want dit skep die geleentheid om weer bande te versterk met familie wat mens jare terug afgesterf het.

< BACK

  1. Doopregister van NGK Ermelo Moedergemeente. NGK Argief (Oos-Transvaalse Ring), Val de Grace, Pretoria
  2. Bekker-familiebybel en ander artifakte wat aan Lourens Christiaan Bekker behoort het. In besit van sy kleinseun, Loutjie Bekker van Pretoria, Gauteng
  3. Eeufees-Gedenkboek van die Gemeente Ermelo, 1870 – 1970. Uitgegee in 1970 deur die Kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente, Ermelo, Transvaal. Hoëveld Pers: Ermelo
  4. Lombard, R.T.J. 1980 Ermelo, 1880 – 1980. In opdrag van die Stadsraad van Ermelo. 1ste Ed. V&R Drukkery (Edms) Bpk: Pretoria
  5. NG Gemeente Lydenburg. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Lydenburg
  6. De Jager Boek
  7. Christiaan de Jager (1820 – 1899). https://www.wikitree.com/wiki/De_Jager-828
  8. Giliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  9. Illustrated history of South Africa. The real story. 1989 2nd Ed. Reader’s Digest Association South Africa (Pty) Ltd.: Cape Town
  10. Pakenham, T. 1993 The Boer War. Illustrated Edition. Jonathan Ball Publishers: Johannesburg, South Africa
  11. The War in South Africa. Anglo-Boer War Museum. https://www.angloboerwar.com/images/pdf/maurice04-25.pdf
  12. Christiaan Frederik Burgers. https://www.wikiwand.com/af/Christiaan_Frederik_Beyers
  13. Skadevergoedingseis van Hendrik Johannes Bekker. National Archives & Repository Service of South Africa. TAB CJC 796/135 & 1258/332, 1903
  14. Onderhoud op 17 Julie 2017 en 3 Februarie 2018 te Vischkuil, Springs met Izak Bekker, seun van Lou en Bettie Bekker
  15. Consentration Camp Registers. British Concentration Camps of the South African War, 1900 – 1902. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd
  16. Howick Camp. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Histories/Howick/#thumb
  17. Central South African Railways. https://en.wikipedia.org/wiki/Central_South_African_Railways
  18. Howick Concentration Camp. http://boers.co.za/concentration-camps/howick-concentration-camp/
  19. Huweliksregistrasie van Lou Bekker en Bettie van der Merwe. South Africa, Transvaal, Civil Marriages, 1870-1930, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:QPHB-T4NR : 3 October 2018), Lourens Christiaan Bekker and Elizabeth Gertruida van der Merwe, Pietersburg, Soutpansberg, Transvaal, South Africa; citing Marriage, Pietersburg, Soutpansberg, Transvaal, South Africa, NARS Civil registration (marriages – coloureds), Transvaal and Swaziland, 1898-1927. The National Archives and Records Service of South Africa, Pretoria
  20. Sterfkennis van Izak van der Merwe. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 81636, 1933
  21. Huweliksinskrywing van Izak van der Merwe. South Africa, Free State Dutch Reformed Church Records, 1848-1956, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:KSLT-4G3 : 4 December 2014), Izak Mathys Van Der Merwe and Johanna Margaretha Van Dyk, 10 Jun 1878; citing p. , Marriage, Kroonstad, Free State, South Africa, Dutch Reformed Church Synod Centre, Bloemfontein; FHL microfilm 1,670,564.
  22. Doodsertifikaat van Bettie Bekker. In besit van haar agterkleinseun, Sampie Bekker van Alberton
  23. Melville, J. 2005 Stamboom van die Van der Merwe Familie. 1ste Ed. Genealogiese Publikasies: Walmer
  24. Inligting, photo’s en stories ontvang op 7 Desember 2019 vanaf Lou en Bettie Bekker se kleindogter, Antoinette Bekker van Alabamba, Kanada
  25. Prisoners of war. Anglo-Boer War Museum. https://www.wmbr.org.za/view.asp?pg=research&pgsub=databases&pgsub1=2&head1=Prisoners%20of%20War&strGlobalTerms=MALIPSPOORT&opt=ditem&rdID=31409
  26. Colenso Camp. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Histories/Colenso/
  27. Foster, G. 2008 History of Pinetown. https://www.n3property.co.za/news/history-of-pinetown/
  28. Pinetown Camp. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Histories/Pinetown/
  29. Drwal, M. 2013 A personal text owned by its public – changing readings of Sarah Raal’s Met die Boere in die Veld. Tydskrif vir Letterkunde, Vol 50(2), 2013. http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-476X2013000200006
  30. Van Heyningen, E. 2008 Costly Mythologies: The concentration camps of the South African War in Afrikaner Historiography. Journal of Southern African Studies, Vol 34(3), September 2008. tps://www.jstor.org/stable/40283165?seq
  31. Vigne, R. 2013 Book review on the book: The concentration camps of the Anglo-boer War. a Social Histrory by E. van Heyningen. New Contree no. 67, special edition (November 2013). A  https://dspace.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/9883/BB_67(2013)
  32. Mafeking Camp. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Histories/Mafeking/
  33. Copper sulphate. General fact sheet. National Pesticide Information Centre. http://npic.orst.edu/factsheets/cuso4gen.html
  34. NG gemeente Weenen. https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Weenen
  35. Sterfkennis en boedel van Lou Bekker. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 3326/40, 1940
  36. Sterftesertifikaat van Lou Bekker. South Africa, Transvaal, Civil Death, 1869-1954, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:741B-2FZM : 5 March 2019), Lourens Christiaan Bekker, 18 Aug 1940; citing Death, Ermelo, Transvaal, South Africa, National Archives of South Africa, Pretoria
  37. Grafte van Lou en Bettie Bekker. Ou Begraafplaas, Ermelo, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  38. Familie-joernaal, foto’s en addisionele vertellings verskaf deur Bettie Kruger van Pretoria, kleindogter van Lou en Bettie Bekker
  39. Onderhoud op 1 Julie 2019 met Lettie Fourie van Ermelo, niggie van Lou en Bettie Bekker
  40. Inligting, foto’s en staaltjies ontvang in April en Junie 2019 van die kleindogters van Lou en Bettie Bekker, genaamd Liesbeth Prinsloo van Pretoria en Susan van Rensburg van Oesterbaai
  41. Onderhoud op 3 Februarie 2018 te Vischkuil, Springs en 16 November 2019 te Pretoria met Sampie Bekker van Alberton, agterkleinseun van Lou en Bettie Bekker
  42. Vertellings of 3 Februarie 2018 te Vischkuil, Springs, asook telefoniese onderhoud op 30 November 2020 met Loutjie Bekker van Ellisras, kleinseun van Lou en Bettie Bekker
  43. Doopregister van NGK Pietersburg. NGK Argief (Oos-Transvaalse Ring), Val de Grace, Pretoria
  44. Union of South Africa. https://en.wikipedia.org/wiki/Union_of_South_Africa
  45. Louis Botha. South African History Online. https://www.sahistory.org.za/people/louis-botha
  46. Langner, D.J. & Raath, A.W.G. 2014 Die Afrikanerrebellie 1914 – 1915. 1ste Ed. Kraal Uitgewers: Pretoria
  47. Responses in South Africa to the outbreak of WW1: The Afrikaner response and the 1914 Rebellion. 24 February 2014. South African History Online. https://www.sahistory.org.za/article/responses-south-africa-outbreak-wwi-afrikaner-response-and-1914-rebellion
  48. Maritz Rebellion. https://en.wikipedia.org/wiki/Maritz_rebellion
  49. Wessels, A. 5 August 2015. Afrikaner (Boer) Rebellion (Union of South Africa). 1914-1918 Online. International Encyclopedia of the First World War. https://encyclopedia.1914-1918-online.net/article/afrikaner_boer_rebellion_union_of_south_africa
  50. South West Africa Campaign. https://en.wikipedia.org/wiki/South_West_Africa_campaign
  51. Kleynhans, E. 1 July 2015. South African Invasion of German South West Africa (Union of South Africa). 1914-1918 Online. International Encyclopedia of the First World War. https://encyclopedia.1914-1918-online.net/article/south_african_invasion_of_german_south_west_africa_union_of_south_africa
  52. Inligtingstuk en program. 3 September 1977, Ermelo. Heronthulling van die Burger Monument en toekenning van die vryheid van Ermelo aan Ermelo-Kommando. Kommandement Noord-Transvaal. In besit van Alta Jamison, Pretoria, Gauteng
  53. Great Depression in South Africa. https://en.wikipedia.org/wiki/Great_Depression_in_South_Africa
  54. Inligting ontvang op 26 Julie 2020 van Deon Bekker van Perth, Australië, die agter-agterkleinseun van Hendrik Johannes Bekker (1843 – 1897)
  55. Olivier, S.P. 1957 Many treks made Rhodesia. 1ste Ed. H.B. Timmins: Cape Town
  56. Scheepers-Strydom, C.J. 1976 Afrikaners in die vreemde. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  57. Sinclair, S. 1971 The story of Melsetter. M O Collins (PVT) Ltd: Salisbury, Rhodesia. http://www.barbaragoss.com/melsetter/chap2.html
  58. Lombard, R.T.J. 1981 Torbanite – ‘n dorp te koop. https://repository.nwu.ac.za/handle/10394/5159
  59. Transportrekords van Plaas Uitgevallen (ZAR nr. 109; Transvaal nr. 134 IT). National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB RAK 2850
  60. Besoek aan Torbanite op 14 Julie 2019 deur Alta Jamison, agterkleindogter van Lou en Bettie Bekker
  61. Kaart van Transvaal Provinsie, Unie van Suid-Afrika. Kantoor van die Landmeter-Generaal, Pretoria, 1931. Leeskamer. National Archives & Repository Service of South Africa
  62. National Geo-Spatial Information, 1:50 000 Rasters. January 2015. Department of Rural Development and Land Reform, Republic of South Africa. CD-publication
  63. Purchasing Power of British Pounds from 1270 to Present. https://www.measuringworth.com/ppoweruk
  64. Telefoniese onderhoud op 12 Maart 2019 met Hannetjie Strydom, agterkleindogter van Lou en Bettie Bekker
  65. Familie-data op 7 September 2017 ontvang van Magda Taljaard en Elsabé Steenhuizen, kleindogters van Lou en Bettie Bekker, asook foto’s en stories op 7 Julie 2020 en 21 Desember 2020
  66. Rekord van geboorte, huwelik en dood van Samuel Louwrens Christiaan Bekker. https://www.identitynumber.org
  67. Rekord van geboorte en dood van Joseph Bekker. https://www.identitynumber.org
  68. Inligting, foto’s en staaltjies op die Bekker-familie WhatsApp groep [Privaat]
  69. Familie-data, foto’s en vertellings ontvang op 7 September 2017 en op 23 September 2019 van José Kok, Ellie Olivier en Hannie Wilton, kinders van Sampie en Hennie Bekker
  70. Rekord van geboorte en dood van Hennie Josephina Elizabeth Bekker (née Nolte). https://www.identitynumber.org
  71. Rekord van geboorte, huwelik en dood van Susanna Gertruida Bekker (née Ackerman). https://www.identitynumber.org
  72. Grafte van Sys en Hannie Munnik. Hendrina Begraafplaas, Hendrina, Mpumalanga
  73. Rekord van geboorte, huwelik en dood van Hermina Elizabeth Bekker (née Conradie). https://www.identitynumber.org
  74. Inligting op 12 April 2021 ontvang van Marlene Zaayman (née Bekker), kleindogter van Boet en Miem Bekker
  75. Inligting en foto’s ontvang op 26 Maart 2022 te Pretoria van Hannie Bekker, dogter van Boet en Miem Bekker
  76. Universiteit van Pretoria. https://en.wikipedia.org/wiki/University_of_Pretoria
  77. Niven, J.M. 1971 Teacher Education in South Africa. A critical study of selected aspects of its historical, curricular and administrative development. PhD thesis: University of Natal, Pietermaritzburg. https://researchspace.ukzn.ac.za > xmlui > bitstream > handle > Niven_1971
  78. Vertelling van Casper Badenhorst, ‘n boorling van Belfast, soos weergegee deur sy studentevriend Pieter Kruger, agterkleinseun van Lou en Bettie Bekker
  79. Old Joe’s Kaya. Schoemanskloof Accommodation. https://www.where2stay-southafrica.com/Accommodation/Schoemanskloof/Old_Joes_Kaia
  80. Huweliksrekord van Piet en Corrie Hoffeldt. South Africa, Civil Marriage Records, 1840-1973, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CS2Q-GWDG?cc=2821281 : 28 January 2021), > image 1 of 1; Pietermaritzburg Archives (Formerly Natal State Archives), South Africa
  81. Telefoniese onderhoud op 14 Maart 2021 met Pieter Hoffeldt van Paarl, Wes-Kaap, seun van Piet en Corrie Hoffeldt
  82. Hoffie oorlede. 14 Oktober 2012. Koerantberig in die koerant Die Rekord (Heidelberg)
  83. Fotoverhale. https://afrifiksie.com/fotoverhale/
  84. Doopinskrywing van Marietjie Westerveld. South Africa, Netherdutch Reformed Church Registers (Pretoria Archive), 1838-1991, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3QSQ-G9Z5-LFX8?cc=2155416&wc=QZV2-1MP%3A1589315405%2C1589315407%2C1589315629%2C1589394300 : 2 August 2019), South Africa > Transvaal > Witbank > Christenings, memberships, 1927-1952 > image 46 of 259; Nederduitsch Hervormde Kerk Van Afrika (Dutch Reformed Church of Africa)
  85. Huweliksinskrywing van Izak Bekker en Marietjie Westerveld. South Africa, Civil Marriage Records, 1840-1973, database, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CSJY-XQYF-C?cc=2821281 : 18 March 2022), > image 1 of 1; Pietermaritzburg Archives (Formerly Natal State Archives), South Africa
  86. Royal S.A. Tour Itinerary. The Straits Times, 30 January 1947, Page 2. http://eresources.nlb.gov.sg/newspapers/Digitised/Article/straitstimes19470130.2.24
  87. Port Elizabeth of Yore: Royal visit of 1947. http://thecasualobserver.co.za/royal-visit-port-elizabeth-1947/
  88. Rediscovering the 1947 Royal Visit to South Africa. http://www.theheritageportal.co.za/article/rediscovering-1947-royal-visit-south-africa
  89. Rekord van tweede huwelik van Marietjie Bekker (née Westerfeld). https://www.identitynumber.org
  90. Rekord van geboorte, huwelik en dood van Lourens Christiaan Bekker jnr. https://www.gendatabase.com/
  91. Begrafnisbrief van Lourens Christiaan Bekker jnr. In besit van sy niggie, Bettie Kruger van Pretoria
  92. Grafsteen van Lourens Christiaan Bekker. Nuwe Begraafplaas, Breyten, Mpumalanga.  https://www.graves-at-eggsa.org/main
  93. Telefoniese onderhoud op 8 Desember 2020, asook inligting en foto’s ontvang op 24 Julie 2022 en 23 Januarie 2023 van Santie Jordaan (née Bekker) van Richardsbaai, kleindogter van Lou en Bettie Bekker
  94. Naas Botha. https://en.wikipedia.org/wiki/Naas_Botha
  95. National Geo-Spatial Information, 1:50 000 Rasters. January 2015. Department of Rural  Development and Land Reform, Republic of South Africa. CD-publication
  96. Rekord van geboorte, huwelik en dood van Andries Bekker en en Miempie Kruger. https://www.gendatabase.com/
  97. Familie-data ontvang op 7 September 2017 van René Bekker, vrou van Louw Bekker, kleinseun van Lou en Bettie Bekker
  98. Huweliksrekords van Andries en Miempie Bekker se kinders. https://www.identitynumber.org

< BACK