Jan Andries Becker/Bekker (1775 – 1809)

< BACK

   1. Spelling van die familienaam

Jan Andries Becker is die stamvader van ons spesifieke Bekker-familielyn. Sy van word in die doopregisters van sy kinders as Becker aangeteken, maar in die inventarisdokumente na sy dood kom beide die spelvorme Becker en Bekker voor. Die spelling van ons familietak se van as BEKKER is finaal gevestig teen die tweede generasie.

   2. Sy kinderjare

Jan Andries Becker is gebore in 1775 te Kopenhagen (Engels: Copenhagen) in Zealand, Denemarke. In latere dokumente aan die Kaap de Goede Hoop word na hom verwys as slegs Andries Becker.1-3  Wie sy ouers was, waar hulle vandaan gekom het en wie hulle voorvaders was, is nie bekend nie. Wat hulle gedoen het om hul brood te verdien, is ook te bespiegel.

Wat wel bekend is, is dat die familienaam Bacher/Becher/Becker/Bekker in Denemarke sy oorsprong het van ene Jan Bacher en sy gesin wat in 1521 op uitnodiging van Koning Christian II (1481 – 1559) vanaf die Laer Lande binne die Heilige Romeinse Ryk (nou Nederland) na Denemarke verhuis het. Christian II wou dat die Nederlanders die Dene moes kom leer groente verbou, en terselfdertyd ook groente verskaf aan die inwoners van Kopenhagen. Die 24 gesinne (184 indiwidue) wat uiteindelik op die uitnodiging gereageer het, het elk ‘n gratis plaas ontvang op die klein, afgeplatte eiland Amager, neffens Kopenhagen wat geleë is op die eiland Zealand wat deur ‘n smal seekanaal van Amager geskei word. Die Nederlandse Amagers was ook vrygestel van Deense belastings en was toegelaat om hul eie kultuur en Nederlandse wette binne hul gemeenskap uit te leef en toe te pas. Hierdie plase was hoofsaaklik in die suidelike deel van die eiland geleë, terwyl die klein aantal Deense boere, wat reeds voor hul koms daar was, in die noordelike deel bly boer het. Met tyd het die Nederlandse boere baie meer vooruitstrewend geword as hul Deense eweknieë op die eiland, vir die hoofsaaklike rede dat die Deense boere swaar belas is deur die Deense koning. Die Hollandse gemeenskap het vir meer as drie eeue outonoom gefunksioneer, hoewel hulle later ‘n unieke taaldialek ontwikkel het wat ‘n mengsel was van Hollands, Lae-Duits en Deens. Laasgenoemde moes noodgedwonge aangeleer word as besigheidstaal vir die markte in Kopenhage waar hulle hul produkte verkoop het. Die Nederlanders het aanvanklik hulself doelbewus van die Dene geïsoleer, ondertrouery met Dene verbied, hul eie kerk gehad – Store Magleby Kerk – en ‘n skool gebou waar Lutherse priesters wat Lae-Duits magtig was, gepreek en skool gehou het. (Lae-Duits en die Hollandse taal toon heelwat ooreenkomste). Eers vanaf die laat 17de eeu het sigbare kultuur-, taal- en volksvermenging en integrasie tussen die Deense Hollanders en die inheemse Deense volk begin plaasvind.4-8 Die Dene is afstammelinge van die Vikings wat eeue gelede in Skandanawiese landstreek gewoon het. Die Vikings was veral tussen die 8ste  tot 11de  eeu bekend as vaardige handelaars, uitmuntende seevaarders, en genadelose veroweraars.9-11 Die Deense taal behoort tot die Noord-Germaanse taalgroep en toon heelwat ooreenkomste met Fins en Sweeds.9Die Nederlander, Jan Bacher, wat Denemarke toe geïmmigreer het en die stamvader van die Deense Bachers/Bechers/Beckers/Bekkers geword het, het ‘n seun, Jan Jansen Bacher (1575 – >1611) gehad, wat weer drie seuns van sy eie gehad het. Hulle was Jan Jansen Bacher (ca 1605 – 22 September 1644), Gert Jansen Bacher (ca 1608 – ca 1654) en Tønnes Jansen Bacher (1611 – 2 Mei 1645), wat almal in die kerk in Store Magleby (“Dutch Village”) gedoop is. Hulle kinders en kleinkinders het met verloop van tyd hul familienaam na Becher/Becker verander – wat die meer Deens-klinkende vorm van hul familienaam was – en dit later ook as Bekker geskryf. Van die Beckers/Bekkers het met tyd na Jutland en ander Deense eilande soos Zealand en Funen uitgewyk, aangesien die Amager-plase al kleiner geword het soos dit oor dekades onder die erfgename onderverdeel is.4,6,12 ‘n Sterk vermoede bestaan dat ons Suid-Afrikaanse stamvader, Jan Andries Becker (1775 – 1809), ‘n afstammeling van hierdie oorspronklike Nederlandse familie in Amager was. Verdere navorsing om hierdie moontlike konneksie te bevestig, duur voort.Teen die tyd dat Andries gebore is in die laat 18de eeu, het die Deense Ryk bestaan uit Denemarke-Noorweë, Groenland, Ysland, die Faroe Eilande en die graafdom Schleswig-Holstein (in die Heilige Romeinse Ryk).13,14 Die handelshuis, Deense Asiatiese Kompanjie (DAK) – voorheen Deense Oos-Indiese Kompanjie vanaf 1670 tot 1729 – het toe ook reeds verversingposte en nedersettings in Indië, Wes-Indië, Oos-Indië (nou Indonisië) en aan die Goue Kus van Wes-Afrika gevestig gehad. Die kompanjie se hoofkantoor was gehuisves in die Asiatisk Plads in Kopenhage.13,15 Aan die hoof van die Deense Ryk, was Koning Christian VII wat (in naam) regeer het vanaf 1766 tot en met 1808, toe hy op 59-jarige ouderdom weens beroerte gesterf het. Egter reeds aan die begin van sy bewind het ‘n geestelike onstabiliteit by Christian VII begin manifisteer en met verloop van tyd vererger om intense paranoia, selfbesering, erge hallusinasies en seksuele promiskuïteit in te sluit. As gevolg van sy onbevoegdheid om te regeer, is sy half-broer Frederick vanaf 1772 tot 1784 as ryksbestuurder (regent) aangestel, wie daarna opgevolg is deur Christian VII se seun, Frederick VI vanaf 1784 tot en met sy pa se afsterwe in 1808. Kort daarna is Frederick VI amptelik as die nuwe koning van die Deense Ryk gekroon.13,14,16

Wanneer Andries Becker Denemarke verlaat het, is onseker maar teen 1795 was hy as ‘n 20-jarige Deense immigrant reeds in die Kaap de Goede Hoop aan die suidpunt van Afrika woonagtig.1 Die redes waarom hy sy geboorteland verlaat het, is ook nie bekend nie. Denemarke het op daardie stadium ‘n ekonomiese bloeitydperk beleef, hervormings ten opsigte van grondeienaarskap was in die proses om geïmplimenteer te word, en lyfeienskap en slawehandel was reeds afgeskaf.9,16 Dalk was Andries Becker se eie persoonlike  lewensomstandighede en vooruitsigte baie ongunstig of miskien was hy glad nie beïndruk daardeur om onder die heerskappy van ‘n ‘mal’ koning te staan nie. Waarskynlik het hy deur ‘n moontlike assosiasie met die DAK bewus geword van die nedersetting aan die Kaap de Goede Hoop en die vele geleenthede vir ‘n beter en avontuurlike lewe wat dit gebied het. Op een of ander manier het hy ‘n plan gemaak en in 1795 voet aan wal in die pragtige, 163 jaar-oue Kaapse Kolonie gesit.

Aangesien die Lutherse Kerk in Denemarke die amptelike staatskerk was onder hoofskap van die Deense koning, het Jan Andries Becker waarskynklik tot hierdie kerkdenominasie behoort.9 Vanaf die eerste dag vanaf die stigting van die Kaap de Goede Hoop nedersetting in 1652, is egter slegs die Gereformeerde Kerk van die Kaap (ook genoem die Kaapse Kerk) wat onder die Ring van Amsterdam in Nederland geval het, deur die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) Bestuur, genaamd die Here Sewentien toegelaat. (Die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk [NGK], soos dit vandag bekend staan, is eers in 1843 amptelik in gebruik geneem.) Vryheid van publieke aanbidding vir lede van ander kerklike denominasies is eers bykans 130 jaar later in 1778 deur die Here Sewentien toegestaan. Die Lutherse Kerk was een van hierdie denominasies wat toestemming gekry om hul eie kerk met hul eie predikante te hê, na jare van vele futiele petisies deur Duitse, Deense en ander Skandanawiese offisiere en vry burgers (leenplaasboere) wat tot die Lutherse Kerk behoort het.17,18 Op hierdie stadium is dit nie bekend of Andries Becker met sy aankoms in die Kaap dadelik ‘n lidmaat geword het van die Lutherse Kerk of die NGK nie. Hy tree wel later in die huwelik in die Kaapse Kerk (NGK) – sy skoonouers was ook lidmate van hierdie kerk. Andries se kinders is ook in die NGK gedoop.

    3. Sy vrou

Die 24-jarige Andries het op 23 Junie 1799 te Kaapstad in die huwelik getree met Maria Christina Muller (≈ 1 April 1774, NGK Kaapstad). Ten tye van haar huwelik was Maria ongeveer 25 jaar oud.1,2,19-21

NOTA: Haar van is tydens haar kinders se doopplegtighede en op die inventaris na haar man se afsterwe aangeteken as Maria Christina MULDER (waarskynlik ‘n fonetiese spelling van die Duitse Muller/Müller).

Maria se vader was Johann Thöns Müller, ook bekend as Jan/Johannes Theunis Muller, die verhollandse vorm van sy naam. Hy is op 14 Julie 1739 te Oerlinghausen in Duitsland gedoop en het in 1761 aan die Kaap gearriveer as matroos op die VOC-skip Damzicht. Hy het daarna as soldaat begin werk en vanaf 1767 tot 1678 was hy ‘n boerkneg. In 1768 ontvang hy ook landsburgerregte en tree op 20 Mei 1770 in Kaapstad in die huwelik met Isabella Maria Elizabeth “Sibella” Lombaard (ca 1751, Drakenstein – 1821, Uniondale), ‘n agter-agterkleindogter van die Indiese kompanjieslavin, Catharina van Paliacatte.19,20,22,23 LEES MEER oor die Bekkers se gedeelde slawe-herkoms.

Maria se ouers het teen 1800 te Keeromstraat 3 in Kaapstad gewoon. Sy was die tweede oudste kind en het nege broers en susters gehad. Haar sibbe was Jan Theunis Casparus (≈24 Januarie 1773), Sibella Maria Magdalena (≈12 Oktober 1776), Jan Christoffel (≈12 Julie 1778), Elizabeth Elsabé (≈20 Februarie 1780), Johan Gerrit Hendrik (≈23 Desember 1781), Margaretha Sibella (≈30 November 1783), Susanna Catharina (≈18 Desember 1785), Jan Janse (≈26 Oktober 1788) en Johannes Theunis (≈7 Oktober 1792). Hulle is almal in die NGK Kaapstad gedoop.16,18 Maria se ouers het later dieper die binneland in getrek waar hulle op die plaas De Uytvlucht naby Warmbad (nou Toorwater-Warmbad) in die omgewing van huidige Uniondale in die Klein-Karoo gaan boer het. Dis ook hier aan die voet van die Swartberge, 35 km noord van Uniondale, in die George Distrik van die Britse Kaap Kolonie, waar Jan Theunis Muller in 1821 oorlede is.19,20,24

Toorwater-Warmbad is ‘n fontein van helder water van ongeveer 40 °C. Natuurlike gas ontsnap ook uit die fontein en onder sekere omstandighede ontbrand hierdie gasse spontaan wat oorsprong gee aan spookagtige, dansende vlamme.24-26 Geen wonder dat ‘n niksvermoedende verbyganger kon dink die plek spook nie! Moontlik het Andries en Maria se kinders soms by ouma en oupa Muller gekuier en hulself vermaak met ‘n waagmoedige swem in hierdie ‘getoorde’ water?!       4. Sy beroep

Die nedersetting aan die Kaap de Goede Hoop is in 1652 deur die Nederlandse handelshuis, die VOC, gestig as ‘n verversingspos vir verbygaande skepe en route tussen Europa en Indië of die Oos-Indiese Eilande. Teen 1795, is die nedersetting egter deur die Verenigde Koninkryk beset en Jan Andries Becker het met sy aankoms in die Kaap homself gou onder Britse bestuur bevind.17 Die Becker-gesin was later woonagtig op die leenplaas (vergunningsplaas) Vaartwel in die Klein-Karoo in Swellendam Distrik, waarvoor ‘n jaarlikse tarief van 100 rijksdaalers (riksdaalders) betaalbaar was.2 Die afgeleë plaas nestel teen die voetheuwels aan die die westelike punt van die Swartbergreeks.27,28Andries Becker se tyd aan die Kaap de Goede Hoop was gekenmerk deur heelwat politieke omwentelinge. Die Kaap Kolonie onder beheer van die VOC is deur Brittanje beset in September 1795 na die Slag van Muizenberg, hoofsaaklik om te verhoed dat die Franse Ryk onder leierskap van die rewolusionêre Napoleon Bonaparte beheer kry oor die seehandelsroete na die Verre Ooste. Maar teen 1803 was die Kaap weer Hollands! Die Kaap is aan die Bataafse Republiek (die revolusionêre nederlandse republiek met ‘n Franse hoof) teruggegee nadat die Vrede van Amiens gesluit is tussen Brittanje en Frankryk. Napoleon se toenemende beheer oor die Bataafse Republiek en die verslegtende verhouding tussen Frankryk en Britse Ryk, het egter ‘n tweede (en permanente) besetting van die Kaap tot gevolg gehad, met die Britte se oorwinning oor die Hollanders tydens die Slag van Blaauwberg naby Kaapstad op 8 Januarie 1806. Teen 1814 is die Kaap as ‘n volwaardige Britse kolonie verklaar na aanleiding van die Konvensie van London.17,29

Gedurende hierdie tyd was die wit bevolking aan die Kaap erg verdeelt. Die meeste topbeamptes was anti-revolusionêr, anti-Brits en lojaal teenoor die Nederlandse koninklike Huis van Oranje, terwyl die burgerlikes meesal sterk revolusionêr, pro-Frans en anti-Brits was. Verder was die bestuur van die Kaap tussen 1795 ern 1814 in ‘n finansiële warboel en vir die meeste beamptes en burgers ‘n frustrerende tyd. Die Napoleonitiese Oorloë in Europa het al die aandag van die Britse en Nederlandse moonthede vereis, met die gevolg dat die Kaapse goeweneurs tot ses maande vir antwoorde op hul vrae gewag het. Verder is die bevoedhede van die onderskeie goeweneurs en miltêre bevelvoerders ook deur die koloniste bevraagteken.17

  5. Sy afsterwe

Jan Andries Becker was 14 jaar woonagtig in sy nuwe vaderland aan die Kaap de Goede Hoop voordat hy op Vaartwel gesterf het tussen 17 Julie en 6 September 1809 in die ouderdom van ongeveer 34 jaar. Hy het ses minderjarige kinders agtergelaat waarvan die oudste kind tien jaar oud en die jongste slegs vier maande oud was.2

Die inventaris van sy boedel is opgeteken op 13 Oktober 1809 2 en lees soos volg: 

NOTA: In dieselfde dokument word Andries se van as BECKER en BEKKER gespel.

    6. Sy kinders

Andries en Maria Becker het ses kinders gehad.1,2 Andries het egter nooit die voorreg gehad om sy kinders te sien groot word nie.

6.1 Andries Johannes

Andries jnr. is gedoop in 1799 wat beteken dat sy moeder hoogswanger moes gewees het op haar troudag, of dat haar eersteling reeds gebore was. Op 7 Mei 1826, op die ouderdom van 27 jaar, word hy in die Swellendam Distrik in die eg verbind met die 17-jarige Maria Cornelia Joubert, dogter van Josua Joubert (1773 – 1826) en Maria Elizabeth van Tonder (1779 – 1849). Sy is gebore op 3 Januarie 1809 op die plaas Goedgeloof, Kochmanskloof, Swellendam Distrik en gedoop op 5 Februarie 1809. Haar jonger suster, Elizabeth Francina Joubert (*1 Junie 1817, ≈5 Julie 1818) het in 1831 met Andries se jonger broer, Hendrik (sien 6.5) getrou.  Maria Bekker het op die ouderdom van 91 jaar en 11 maande op 25 November 1901 gesterf in die Britse Kaap Kolonie te Fraserburg, wat geleë is in die Klein-Karoo.1,2,30,31

Andries en Maria Bekker se twaalf kinders was Andries/Arnoldus Johannes (*16 Mei 1826, Ladismith, Overberg, Swellendam, ≈25 Februarie 1827, NGK Swellendam, †11 Junie1899, Plaas Don Don, Ladybrand Distrik, Oranje-Vrystaat Republiek), Maria Christina Johanna (*6 Augustus 1828, Overberg, Swellendam, ≈2 November 1828, NGK Swellendam), Jozua (22 Augustus 1830, 26 Desember 1830, NGK Swellendam), Carl Francois (*11 November 1831), Maria Elizabeth (*19 Augustus 1833, ≈NGK Swellendam), Christina Margaretha (*28 Junie 1835, ≈16 Julie 1835, NGK Swellendam), Margaretha Elizabeth (*12 September 1837, ≈21 Januarie 1838, NGK Swellendam), Gideon Jozua (Francois) (*Mei 1839 – 28 April 1923, Heidelberg, Transvaal, Unie van Suid-Afrika), Martha Sophia (*24 Mei 1841), Jacobus Johannes (*27 Desember 1845), Johannes Christiaan Jacobus (*1 Mei 1846, ≈1 Desember 1846, Riversdal, George Distrik) en Elizabeth Francina Margaretha (*26 Februarie 1851, ≈13 April 1851, Riversdal).1,2,30

Andries jnr. sterf in 1876 in die Zuid-Afrikaansche Republiek, ook bekend as die Transvaal Republiek, wat op daardie stadium ‘n outonome Boere-staat was.1

6.2 Johannes George

Hul tweede seun is gedoop in ca 1802 te Swellendam. Hy was sewe jaar oud toe sy pa oorlede is.1,2 Geen verdere inligting omtrent Johannes kon gevind word nie en is vermoedelik jonk oorlede.

6.3 Theunis Johannes

Theunis Johannes “Jan” is gedoop in ca 1803 te Swellendam. Hy word in die eg verbind met Catharina Elizabeth Bekker op 6 Oktober 1827 in George Distrik. Catharina was die dogter van Maria Catharina Carelse en Marthinus Johannes Bekker (1770 – 1837), ‘n vyfde-generasie nakomeling van ‘n ander Bekker stamvader vanuit Duitsland, naamlik Peter Becker (1673 – 1745). Hierdie Becker was maar ietwat van ‘n ongure karakter en het wreedaardig teenoor sy slawe opgetree, en wat uiteindelik gesterf het as ‘n gevangene op Robbeneiland, ‘n eiland in Tafelbaai ongeveer 7 km wes van Kaapstad.1,2,32

Theunis en Catharina Bekker het sewe kinders gehad: Andries Johannes (*24 Januarie 1828, ≈22 Februarie 1828, George), Maria Catharina (*14 April 1829), Catharina Elizabeth (*17 Mei 1832, ≈26 Desember 1832, George), Anna Christina Dorothea (*21 Junie 1834, ≈17 Junie 1836, George), Marthinus Johannes (*7 Oktober 1836, ≈30 April 1837), Jacoba Jacomina (*3 Junie 1840, ≈13 Desember 1840) en Theunis Johannes (*10 September 1842, ≈7 Februarie 1843, George).1,2

6.4 Sibella Maria Elizabeth

Sibella is gebore op 18 Januarie 1805 en gedoop op 20 Januarie 1805 te NGK Kaapstad. Die getuies met haar doopplegtigheid was haar maternale ouma Isabella Maria Elizabeth “Sibella” Muller (née Lombaard) (1751 – 1821) en Jan de Wet wat woonagtig was in Swellendam distrik. Sibella trou op 4 Maart 1821 te Swellendam met Hendrik Kuun (12 Augustus 1792, Caledon – 28 Maart 1866, Caledon), seun van Hendrik Kuun en Elizabeth Louisa Tesner/Tessenaar. Sibella en Hendrik het vier kinders gehad.1,2,33

6.5 Hendrik Johannes

Andries en Maria se vyfde kind was my groot-groot-groot-groot-oupagrootjie. Hy is gedoop in ca 1806 te Swellendam.1,2 In sy vader se boedeldokumente word hy aangeteken as Johannes Hendrik Bekker.2 LEES MEER oor Hendrik Johannes Bekker.

6.6 Jan Janse Lourens/Laurens

Hy is gebore op 10 Junie 1809 in Kaapstad en gedoop op 18 Junie 1809 in die NGK Kaapstad. Doopgetuies was sy oom Jan Janse Muller/Mulder (1788 – ?) en sy ouma Isabella Maria Elizabeth “Sibella” Muller/Mulder (née Lombaard) (1751 – 1821).1,2,34

Op 21 September 1838 trou hy in Swellendam met Jacoba Jacomina Bruwer (17 September 1809 – ?, Winburg, Orange Vrystaat Republiek), dogter van Jacobus Stephanus Bruwer en Jacoba Jacomina Wilhelmina Bothma. Hulle kinders was Jan Andries, Theunis, Hendrik en Emmerentia Isabella. Jan Janse Lourens Bekker is oorlede op die ouderdom van 53 jaar op 29 Februarie 1864 op Weltevrede. Hy was ‘n lid van die veldkornetskap van veldkornet J. Badenhorst.1,2

< BACK

  1. Jan Andries Bekker. Suid-Afrikaanse Genealogie, Vol 1 (A-C). Biblioteek van Erfenisstigting, Voortrekkermonument, Pretoria
  2. Pottas, J & Tiran, A. BEKKER Families van SA (met kopie van KAB MOOC 8/58.22a & b). Biblioteek van Erfenisstigting, Voortrekkermonument, Pretoria
  3. Bekker family tree. Family Search. https://www.familysearch.org/tree/pedigree/landscape/KCJY-4BW
  4. Anderson, R.T. 1958 The Danish and Dutch Settlers on Amager Island: Four hundred years of socio-cultural interaction. American Anthropologist, Vol 60, p 683 – 701. https://anthrosource.onlinelibrary.wiley.com/doi/pdf/10.1525/aa.1958.60.4.02a00060
  5. Denmark-Netherlands relations. https://en.wikipedia.org/wiki/Denmark%E2%80%93Netherlands_relations
  6. Christensen, M.I. 2014 Some family stories. Dutch immigrants invited to Denmark in 1521 to farm and grow vegetables. https://storiesaboutfamilies.wordpress.com/2014/08/11/dutch-immigrants-invited-to-denmark-in-1521-to-farm-and-grow-vegetables/
  7. Kaart van Denemarke. https://maps-denmark.com/denmark-map
  8. Amager. https://en.wikipedia.org/wiki/Amager
  9. Jan Jansen Bacher. https://www.geni.com/people/Jan-Bacher/6000000031508610937
  10. Danish History and Culture. Denmark in Ukraine: Ministry of Foreign Affairs of Denmark. http://ukraine.um.dk/en/about-denmark/danish-history-and-culture/
  11. Viking people. https://www.britannica.com/topic/Viking-people
  12. Vikings. https://en.wikipedia.org/wiki/Vikings
  13. Denmark-Norway. https://en.wikipedia.org/wiki/Denmark%E2%80%93Norway
  14. Schleswig-Holstein. https://en.wikipedia.org/wiki/Schleswig-Holstein
  15. Danish East India Company. https://en.wikipedia.org/wiki/Danish_East_India_Company
  16. Christian VII of Denmark. https://en.wikipedia.org/wiki/Christian_VII_of_Denmark
  17. Giliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  18. Lutheran Church. Cape Town History. A tourist guide. http://capetownhistory.com/?page_id=253
  19. Jan Theunis Muller. Suid-Afrikaanse Genealogie, Vol 5 (L-M). Biblioteek van Erfenisstigting, Voortrekkermonument, Pretoria
  20. Johann Thöns Müller (bef 1739 – abt 1821). https://www.wikitree.com/wiki/M%C3%BCller-1170
  21. Ancestors of Erik Kriel. https://wc.rootsweb.ancestry.com/cgi-bin/igm.cgi?op=GET&db=erikkriel&id=I4491
  22. Fort Rijswijck. First fifty years. Collating Cape of Good Hope records (by Delia Robertson). https://www.facebook.com/FirstFiftyYearsProject/posts/the-fortress-rijswijck-now-istana-mardeka-in-jakarta-indonesia-where-catharina-g/1893981583951910/
  23. Van Bengale Catharina. https://www.stamouers.com/stamouers/surnames-v-z/92-van-bengale-catharina
  24. The road less travelled – Hoekplaas, Warmbad, Barandas. Uniondale, South Africa. http://www.uniondale.co.za/routes
  25. Toorwater Guest Farm. http://www.nights-away.com/accommodation/toorwater%20guest%20farm/uniondale/1097431/the_road_less_travelled_hoekplaas_warmbad_barandas_04_2017
  26. Paljas (1998). http://www.imdb.com/title/tt0134013/
  27. Plaas Vaartwel. https://mapcarta.com/14235944
  28. National Geo-Spatial Information, 1:50 000 Rasters. January 2015. Department of Rural Development and Land Reform, Republic of South Africa. CD-publication
  29. Cape Colony. https://en.wikipedia.org/wiki/Cape_Colony
  30. Joubert, P.G. 2018 Die Joubert’s in Suid-Afrika, 1688 – 2018. Hugenote-Vereniging van Suid-Afika: Franschhoek
  31. Pierre Joubert. Suid-Afrikaanse Genealogie Vol 4: I-K. Biblioteek van Erfenisstigting, Voortrekkermonument, Pretoria
  32. Robben Island. https://en.wikipedia.org/wiki/Robben_Island
  33. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:XK4H-8MK : 6 August 2017), Sibella Maria Elisabeth Becker, 20 Jan 1805, Baptism; citing p. , Cape Town, Cape of Good Hope, South Africa, State Archives, Cape Province; FHL microfilm 2,214,080.
  34. South Africa, Dutch Reformed Church Registers (Cape Town Archives), 1660-1970 , database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:VFTS-KWG : 6 August 2017), Jan Janse Laurens Becker, 18 Jun 1809, Baptism; citing p. , Cape Town, Cape of Good Hope, South Africa, State Archives, Cape Province; FHL microfilm 2,214,108.

< BACK