Catharina van Paliacatte (1631 – 1683)
Catharina – ook bekend as Groote Catrijn – in ca 1631 in the Bengal provinsie in die noorde van Indië gebore. Sy is later as ‘n slavin vanaf Paliacatte (nou Palicut) aan die Coromandelkus van Oos-Indië af weggevoer en het in Batavia (nou Jakarta), ‘n Nederlandse handelsdorp aan die noordkus van die eiland Java (nou deel van Indonisië), vir die vrye-vrou Maria Magdalena NN gewerk.1-4Terwyl Catharina in Batavia werksaam was, het haar minnaar, die slaaf Claes van Malabar, haar op 8 Oktober 1656 teen die grond gegooi en seksueel aangerand in ‘n stal by Fort Rijswijck (nou Istana Mardeka). Dit het gebeur nadat sy vir hom kos gebring het wat hy weggeklap het, en Catharina vir Claes ‘n moerkneuker (Engels: motherfucker) genoem het. Gedurende die verkragting het Catharina haarself heftig verdedig en Claes herhaaldelik met ‘n skerppuntige kobbelsteen in sy buik gemoker. Vier dae later het Claes beswyk weens ‘n gebarste blaas. Sy verdiende loon, né!? Catharina is egter aan moord skuldig bevind en ‘n galgedood-vonnis opgelê. Haar straf is later versag tot verbanning na die Kaap de Goede Hoop op 18 November 1656, nadat Goewerneur-Generaal Johan Maetsuyker haar saak hersien het en die aanval op haar in ag geneem het. Catharina arriveer in Tafelbaai aldus as prisonier (of bandiet) op 21 Februarie 1657 met die skip Prins Willim/Willem.1,2,5 Hierdie skip was deel van ‘n retoervloot vanaf Batavia na Nederland wat op 4 Desember 1656 uit die hawe van Batavia vertrek het. Die Prins Willim is in 1649 in Middelburg in Nederland gebou, en was op daardie stadium die grootste skip van die Nederlandse handelshuis, die Vereenigde Oostindische Compangnie (VOC). Hierdie skip het in 1662 naby Madagaskar gesink.6
Teen die tyd dat Catharina in 1657 in die Kaap aangekom was Kommandeur Jan Antonisz van Riebeeck (1619 – 1677) aan die hoof van die vyf jaar-oue verversingstasie. Daar was toe reeds ongeveer 360 VOC-werknemers (insluitend 20 vroue en kinders) en 20 slawe aan die Kaap. Hierdie slawe was hoofsaaklik persoonlike slawe van die hoër amptenare. Daar was ook drie kompanjie-slawe afkomstig van Madagaskar. Catharina het by hulle aangesluit, as die eerste veroordeelde vroulike slaaf aan die Kaap. Saam met Catharina het ook haar lewenslange vriendin, Mooij Ansela van Bengale gekom, wat dadelik nadat hulle gearriveer het, deur Van Riebeeck gekoop is. In 1658 het die slawehandel in die Kaap egter op groot skaal begin wortel skiet toe die skip Amersfoort met 174 Angolese slawe aanboord op 28 Maart 1658 in Tafelbaai anker gegooi het. Daarna is toenemend meer en meer slawe uit hoofsaaklik Indië, Indonisië, Madagaskar en Mosambiek gebring om in diens van die kompanjie of vryburgers te staan. Slawehandel in die Kaap is eers in 1834 afgeskaf.4,7-10 LEES MEER oor die slawe van die Kaap die Goede Hoop.
Catharina het as wasvrou by die Fort de Goede Hoop vir opeenvolgende Kaapse Kommandeure gewerk. Sy het in die Fort in ‘n kamer onder ‘n stel trappe gewoon.1,11 Op 17 November 1658 het Pieter Everaerts (ca 1631 – 15 Maart 1664), wat van Buijsaert in Nederland afkomstig was, in die Kaap gearriviveer. Hy was ‘n prominente en gesiene man aan die Kaap, die hoof van die garnisoen, asook lid van die Beleidsraad en die Raad van Justisie. Pieter en Cataharina het minnaars geword – in sy testament van 13 Maart 1664 wat twee dae voor sy dood opgestel is, maak Pieter voorsiening vir sy ongebore kind by Catharina. Op 6 September 1665 het Catharina twee kinders naamlik Petronella en Anthony in die Kaapse Gereformeerde Kerk gedoop.2,12 Na Pieter se dood, het Catharina nog twee buite-egterlike kinders gehad wat eers in 1667 gedoop is, naamlik Susan (≈2 Oktober 1667) en Antoni (≈13 November 1667). Hul vader(s) is onbekend.2 Dis wel bekend dat Catharina ook in ‘n verhouding was met die VOC soldaat, Hans Christoph Schneider. Sy verhollandse naam was Hans Christoffel Snijder/Snijman. Hy is in ca 1645 in Heidelberg in die sentrale gedeelte van die Heilige Romeinse Ryk (nou Duitsland) gebore, en het later by die VOC aangesluit waarna hy na die Kaap uitgeplaas is. Hy was ‘n kleurvolle karakter. Op 4 Desember 1665 is hy saam met 19 ander soldate veroordeel tot drie maande se harde handearbeid op Robbeneiland, teen ‘n daaglikse loon. Hul oortreding? ‘n Groot ontevredenheid oor onaanvaarbare harde werk en onveilige werksomstandighede het die groep soldate laat dros oor die duine van die Kaapse Vlakte die binneland in, met ene Jan Barndtsz wat as gyselaar op tou geneem is ….. maar die gereg het hulle ingehaal. Agtien maande later op 30 Julie 1667 is Hans Snijman weer gevonnis tot lyfstraf en gevolglike verbanning van twee jaar na Robbeneiland, omdat hy sy pligte herhaaldelik versuim het deur nie op sy wagpos by die Fort te bly nie. Dit was hoofsaaklik omdat hy eerder Catharina se geselskap opgesoek het en homself skuldig gemaak het aan “gereelde nagtelike aktiwiteite”. Nadat hy verban is na die eiland, verdwyn hy van enige Kaapse rekords, behalwe dat sy teenwoordigheid aangeteken is by Catharina se doop in 1668. Uit Catharina en Hans Snijman se verhouding is ‘n seun, Christoffel Snijman/Snyman gebore, en hy sou uiteindelik die enigste oorlewende afstammeling van Catharina van Paliacatte word. Christoffel is op 9 Maart 1669 gedoop, met die reeds vrygestelde Angela “Mooij Ansela” van Bengale wat as sy peettante aangewys was. Kort voor dit is Catharina self ook as volwassene op 29 April 1668 gedoop.2,13-16 Drie jaar later op 20 Desember 1671 tree Catharina in die huwelik met die vryswarte (vrygestelde slaaf), Anthonij Jansz (de Later) van Bengale (*ca 1650, Indië, ≈12 September 1670, Kaapstad), en het werktuiglik ook ‘n vrygestelde slaaf geword het. Geen kinders is uit Catharina en Antonij se huwelik gebore nie. Antonij van Bengale was die eerste vryswarte aan die Kaap wat grond en eiendom besit het. Die gesin het gemaklik geleef in hul huis in Zeestraat in Tafelvalleij (later Kaapstad) en het genoeg inkomste gegenereer uit hul distileerdery en hul stuk groentegrond in Tafelbaai, soveel so dat hulle hul eie slawe kon bekostig. Vermoedelik weens ‘n familie tragedie – miskien siekte – sterf al die gesinslede tussen Desember 1682 en Februarie 1683, met slegs Christoffel wat oorleef het.1,2
‘n Vraag wat onwillekeurig ontstaan ten op sigte van Catharina se verhoudings met die mans in haar lewe vóór haar huwelik met Anthonij van Bengale, is hoe haar belewenis daarvan was en die werklike betekenisvolle kwaliteit van hierdie verhoudings. Was sy ‘n vrou met losse sedes of was haar verhoudings met die Europese mans vir haar ‘n aanvaarbare manier in ‘n poging om die sosiale leer te klim? Of was dit eerder haar afgemete deel as uitgelewerde kompanjieslavin waar daar van haar verwag is om die nodige dienste te lewer aan die mans wat aan haar deur geklop het? Dis bekend dat slawe, veral in die begin jare van die Kaapse kolonie, geen regte gehad het nie, en veral vroue-slawe is dikwels seksueel uitgebuit deur hul eienaars. Ook het veral enkellopende jongmanne die geselskap van vroue-slawe of vroulike Khoi-Khoi werkers opgesoek weens die tekort aan hubare Europese dames aan die Kaap.8,17
Een ding is seker: Catharina van Paliacatte was ‘n vrou met ‘n sterk oorlewingsdrang en het uiteindelik ‘n volwaardige vrye burger van die Kaap de Goede Hoop geword. Daarby kan ook haar nalatenskap nie uitgewis word nie want sy het die stammoeder van die Snyman-familie en vele ander Suid-Afrikaners geword, insluitend ons Bekker-tak. Haar seun, Christoffel Snyman was een van die min manlike half-slag (gemengde bloed) indiwidue aan die Kaap wat in die wit, Europese gemeenskap ingetrou het, deurdat hy met die derde-oudste dogter van die Franse Hugenoot, Jacques de Savoye (1636 – 1717) in die huwelik getree het.2,15,16,18-22
- Fort Rijswijck. First fifty years. Collating Cape of Good Hope records (by Delia Robertson). https://www.facebook.com/FirstFiftyYearsProject/posts/the-fortress-rijswijck-now-istana-mardeka-in-jakarta-indonesia-where-catharina-g/1893981583951910/
- Van Bengale Catharina. South Africa’s Stamouers. https://www.stamouers.com/stamouers/surnames-v-z/92-van-bengale-catharina
- Batavia, Dutch East Indies. https://en.wikipedia.org/wiki/Batavia,_Dutch_East_Indies
- The early Cape slave trade. https://www.sahistory.org.za/article/early-cape-slave-trade
- Fort Rijswijck. http://www.atlasofmutualheritage.nl/en/View-Rijswijk-redoubt.6399
- Prins Willem (Largest ship at the time of the Dutch East India Company). https://forum.game-labs.net/topic/2982-prins-willem-largest-ship-at-the-time-of-the-dutch-east-india-company/
- The first slaves at the Cape. South African History Online. https://www.sahistory.org.za/article/first-slaves-cape
- History of slavery and early colonisation in South Africa. 7 June 2017. South African History Online. https://www.sahistory.org.za/article/history-slavery-and-early-colonisation-south-africa
- Gilliomee, H. & Mbenga, B. 2007. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
- slave trade boek my eie
- Fort de Goede Hoop. https://en.wikipedia.org/wiki/Fort_de_Goede_Hoop
- Pieter Everaerts. https://www.geni.com/people/Pieter-Everaerts/6000000001634145807
- Hans Christoffel Snijman. http://www.e-family.co.za/ffy/g5/p5247.htm
- Robben Island. https://en.wikipedia.org/wiki/Robben_Island
- Snyman Christoffel. South Africa’s Stamouers. https://www.stamouers.com/stamouers/surnames-r-to-u/465-snyman-christoffel
- Christoffel Snyman. SV/PROG1. https://www.geni.com/people/Christoffel-Snyman-SV-PROG1/6000000005787831256
- Worden, N. April 2017 Slavery at the Cape. Oxford Research Encyclopedia: African History. http://oxfordre.com/africanhistory/view/10.1093/acrefore/9780190277734.001.0001/acrefore-9780190277734-e-76
- Jan Theunis Muller. Suid-Afrikaanse Genealogie Vol 5 (L-M). Biblioteek van Erfenisstigting, Voortrekkermonument, Pretoria
- Johann Thöns Müller (bef 1739 – abt 1821). https://www.wikitree.com/wiki/M%C3%BCller-1170
- Jan Andries Bekker. Suid-Afrikaanse Genealogie, Vol 1 (A-C). Biblioteek van Erfenisstigting, Voortrekkermonument, Pretoria
- De Savoye Jacques. South Africa’s Stamouers. https://www.stamouers.com/stamouers/d-g/130-de-savoye-jacques
- Snyman , K. 2008. Die Snyman Familie in Suid-Afrika. 1ste Ed Revised. Copies for Africa: Pretoria