Bekker: Oorsprong en betekenis van familienaam

Die Bekker familienaam is van Germaanse oorsprong.1,2  Die Deense taal – wat hoogs waarskynlik deur ons Bekker-stamvader gebesig is aangesien hy van Denemarke afkomstig was – sowel as die spreektale Sweeds, Noorweegs, Faroes en Yslandies het uit Ou Noors, wat ‘n Noord-Germaanse taal was, ontwikkel.3,4 Wanneer die geskiedenis en migrasie-patrone van die verskillende Europese stamme oor die eeue heen bestudeer word, is die wydverspreide Germaanse invloed wat in Sentraal- en Wes-Europa waargeneem word, nie vreemd nie.3

Familiename het hoofsaaklik gedurende die 15de tot 17de eeu tydens die Middeleeue ontwikkel toe regerende konings die staatskis aangevul het deur die sistematiese en gestruktureerde sensus- en belastingsopnames van hul landsburgers, veral die adellikes en grondeienaars. Die gebruik van vanne het later met tyd ook na die laer klasse uitgebrei.5 Die Bekker familienaam is ‘n beroepsverwante van wat verwys na twee moontlike professies wat die oorspronklike naamdraers kon beoefen het. Die Duitse stamwoord “becker” verwys na ‘n bakker – iemand wat brood bak, en die Middel-Hoog Duitse woord “becher” beteken ‘n beker of wynglas, dus was die draer van die van iemand wat houtbekers en -kruike vervaardig of verkoop het. Gedurende die Middeleeue was die spelling van woorde egter ‘n hoogs onnoukeurige proses en het dus vele spelvariasies van die oorspronklike  familienaam tot gevolg gehad. Invloede van ander omliggende spreektale, asook vertaling daarvan van een dialek of taal tot ‘n volgende het verder hiertoe bygedra. Familienaamvariasies wat voorkom is Beck, Becker, Becher, Beccher, Beckker, Bekker, Becquer, Baker en andere.1,2

Daar is geen geloofwaardige en outentieke wapen vir ons Bekker-familielyn nie. Familiewapens is toegeken aan ‘n spesifieke persoon en sy afstammelinge, en het die eiendom van daardie familie gebly. Niemand anders met dieselfde maar onverwante familienaam mog dus daarop aanspraak gemaak het nie, en hierdie stipulasie is tot op hede steeds van toepassing. As iemand dus eienaarskap van ‘n bestaande wapen vir hul eie familie wil toereken, moet so ‘n persoon wettige bewyse kan lewer van hul verwantskap aan die relevante familielyn van die oorspronklike wapendraer.6-8 Dit staan elkeen egter vry om sy eie familiewapen te ontwerp en te registreer by die Suid-Afrikaanse Buro van Heraldiek.9

    < BACK

  1. Bekker. Coat of Arms Store. A Celtic Radio Store. http://heraldry.celticradio.net/search.php?id=204&branch=Bekker
  2. Bekker history, family crest & coat of arms. https://www.houseofnames.com/bekker-family-crest
  3. German language. https://en.wikipedia.org/wiki/German_language
  4. Old Norse. https://en.wikipedia.org/wiki/Old_Norse
  5. Surname. https://en.wikipedia.org/wiki/Surname
  6. Suid-Afrikaanse familiewapens. http://www.oocities.org/hugenoteblad/fam-wapens.htm?201819
  7. Pottas, J. & Tiran A. 2013 Bekker families van Suid-Afrika. Stamboom van Pieter Becker, c1673 – 1745. CD-Publikasie. Erfenisstigtingbiblioteek, Voortrekkermonument, Pretoria
  8. Suid-Afrikaanse familiewapens. http://www.oocities.org/hugenoteblad/lyshl.htm?20197
  9. Bureau of Heraldry. https://en.wikipedia.org/wiki/Bureau_of_Heraldry