Andries Johannes Bekker (ca 1832 – ca 1860)

< BACK

    1. Sy kinderjare

Andries Johannes Bekker was die eersgeborene van Hendrik Johannes Bekker (1806 – 1902) en Elizabeth Francina Joubert (1817 – ?) wat in ca 1840 vanuit Swellendam distrik in die Britse Kaapkolonie vertrek het, waarna hulle deur die oostelike grensdistrik Cradock en die Republiek van Winburg-Potchefstroom verder noord getrek het en uiteindelik teen ca 1850 in die Lydenburgse omgewing in die (latere) Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) tot rus gekom het, toe Andries ongeveer 18 jaar oud was.1-3

Andries was dus omtrent agt jaar oud toe sy ouers besluit het om hulle by die uittog uit die Kaapkolonie aan te sluit en moes hy die grootste gedeelte van sy kinderlewe as deel van ‘n trekkende geselskap uitleef. Sekerlik het die tog die ongetemde binneland in vir hom as jong seun menige avonture ingehou, maar as lid van ‘n streng Christelike gesin moes hy ook maar sy deel van die meegaande take wat met die trekkery gepaard gegaan het, nakom.4

NOTA: Andries Bekker se presiese geboorte- en doopdatum is onbekend. Die oorspronklike Swellendamse doopregister soos gehuisves in die ‘National Archives and Records Service of South Africa’ in Kaapstad bevat nie die doopinskrywings vir die jaar 1832 nie.1 Daardie jaar was die laaste jaar van Ds Cornelis Moll se dienstydperk by die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) Swellendam, voordat hy op 44-jarige ouderdom op 11 Feruarie 1833 oorlede is.5 Dis moontlik dat van die kerklike dokumentasie gedurende daardie kortstondige herderlose tydperk wat na sy afsterwe gevolg het, verlore of misplaas geraak het.    2. Sy vrou

Andries Bekker is met Elsje Margaretha Cornelia “Elsie” Jordaan (3 April 1836, Cradock – 9 Junie 1874, ZAR) getroud (X Lydenburg?). Sy was die jongste kind van Isabella Cornelia Steenkamp (née Potgieter) (*12 Desember 1802, ≈1 September 1803, NGK Graaff-Reinet, †1877) en Pieter Georg Jordaan, wat op 7 Maart 1824 te Cradock met mekaar in die huwelik getree het. Isabella was egter ten tye van haar dogter se huwelik reeds met haar derde man, Johannes Christoffel “Jan” Muller (1813, Cradock – 1879, Krugerspost, ZAR) getroud.6-12

Elsie se vader, Pieter Georg “Piet” Jordaan is op 20 Maart 1803 gebore en op 26 Augustus 1804 te NGK Tulbagh gedoop. Hy het verskeie plase in wyk Tarka in Cradock distrik (voorheen deel van Somerset distrik, wat in 1825 van Graaff-Reinet distrik afgestig het) besit, onder andere Palingskloof, Wolfkraal en Rietfontein. Laasgenoemde het hy self bewoon, maar as gevolg van die droogte moes hy periodiek oorkant die noordoosgrens weiveld vir sy vee gaan soek.6,12 Hoewel hy twee Voortrekkerleiers, Jan du Plessis (1804 – 1877) en Jacobus Christoffel “Koos Grootvoet” Potgieter (1801 – ca 1849) as swaers gehad het, het hy reeds in Februarie 1837 voor hulle vertrek saam met die geselskap van Pieter Mauritz “Piet” Retief (12 November 1780 – 6 Februarie 1838), tydens die groot uittog van die grensboere uit die Britse Kaapkolonie, bekend as die Groot Trek van 1835 – 1845. Retief se groep het 139 gesinne ingesluit, onder andere die gesin van Piet Jordaan.4,6,12-16 Met die aanvang van haar ouers se trektog was Elsie Jordaan maar ‘n skrale tien maande oud.6,17 LEES MEER oor die Jordaans. Op 14 November 1837 het die Retief-trekkers met hul waens aan die Natalse kant van die Drakensberg begin aftrek en teen sononder het die eerste 18 waens aan die voet van die berg aangekom. Vanaf begin Januarie tot begin April 1838 het Piet Retief se geselskap by Doornkop uitgespan.4,14 Dit was gedurende hierdie tyd wat Retief en sy gevolg van 72 mans, 14 seuns (3 minderjarig) en 33 agterryers op Dinsdag, 6 Februarie 1838 naby Dingane se hoofkraal, Umgungundlovu (Dingaanstat) deur Dingaan se impi’s (soldate) grusaam vermoor is. Die 34-jarige Piet Jordaan was ook teenwoordig in Dingaan se kraal toe die Boere-mans skielik gegryp en weggesleep is na kwaMatiwane koppie (Moordkoppie) waar hulle wreedaardig met knopkieries doodgeslaan en hul lyke teen die krans afgegooi en daar gelos is vir aasdiere om aan te vreet. Dingaan het net daarna op 17 Februarie 1838 verdere aanvalle teen die verspreide Voortrekkerlaers langs die Boesmans- en Bloukransrivier geloots, wat uiteindelik tot die slagting van 282 Voortrekkers (41 mans, 56 vroue en 185 kinders) en 252 Khoikhoi en Basotho werkers gelei het. Genadiglik het die impi’s nie deurgedring tot Doornkop se laer nie, daar waar die niksvermoedende Jordaan-gesin uitgekamp het nie.4,13-16,18-21Pieter se weduwee en sy kinders, tussen die ouderdomme van twaalf en twee jaar oud, moes dus die tog verder alleen aanpak. Die kinders was Maria Margaretha Catharina (*15 Maart 1825), Aletta Susanna (11 Mei 1826 – 1902; getroud met Christiaan de Jager), Maria Margrita Catharina (*24 April 1828), Pieter Johannes (*16 Maart 1830), Isabella Cornelia (*14 Oktober 1831), Pieter Georg (*26 Januarie 1834) en Elsje Margaretha Cornelia (1836 – 1874; getroud met Jozua Bekker). Saam met die gesin was ook Isabella se kinders uit haar eerste huwelik met Petrus Stephanus Steenkamp (1797 – ca 1823), naamlik Jan Harm “Harmen” Steenkamp (*28 Desember 1820, ≈25 Januarie 1821, Cradock – ?) en Jacobus Christoffel Steenkamp (*21 November 1822, ≈16 Februarie 1823, Cradock, † voor 1869), wat toe onderskeidelik 17 en 15 jaar oud was.9,12,22-25

As gevolg van die onverwagte aanslae van die Zoeloes, het die verspreide kleiner familielaers en hul onderskeie leiers vanaf Februarie 1838 tot Januarie 1839 in groter groepe saamgekom en -gewoon vir veiligheidsredes. Daar was uiteindelik ses groot laers in die omgewing tussen Doornkop en Frere. Individuele gesinne het wel tussen die verskillende laers rondgetrek. Die laers is ook gereeld verskuif om beskikbare weiveld in die omgewing vir die groot troppe vee te voorsien, asook om vuurmaakhout te bekom.4,13-15 Isabella en haar kinders was in een van hierdie laers; waarskynlik steeds saam met wyle Retief se groep.

Op 14 November 1840 het Elsie se moeder vir die derde keer in die huwelik getree in Pietermaritzburg met Jan Muller, ook ‘n Voortrekker wat onder leiding van Andries Wilhemus Jacobus Pretorius (1798 – 1853) aan die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 deelgeneem het.8,9,26 Isabella en Jan Muller het saam vyf kinders gehad, naamlik Martha Johanna Louisa (13 Augustus 1841, Weenen – ?, Piet Retief), Anna Susanna Sophia (21 April 1843, Pietermaritzburg – 17 April 1912, Lydenburg), Diederik Johannes (ca 1844, Weenen – 2 April 1904, Lydenburg), Daniel Johannes (14 Maart 1845, Weenen – ?) en Magdalena Johanna Elizabeth (Augustus 1857, Lydenburg – 9 Desember 1905, Bethal).8-10 Die enigste geestelike leier onder die Natalse Voortrekkers was Eerwaarde Erasmus Smit, ‘n Nederlandse sendeling, wat hom in 1836 by die Voortrekkers aangesluit het. Hy was getroud met die dogter van die Voortrekkerleier, Gerhardus Marthinus “Gerrit” Maritz (1797 – 1838). (Geen NGK-predikant was bereid om saam te trek nie, aangesien die Kaapse Kerk die Groot Trek veroordeel het.) Erasmus het kerkdienste gehou, huwelike voltrek en kinders gedoop. Nog ‘n predikant, Ds Daniel Lindley – ‘n Amerikaanse Presperitiaanse sendeling onder die Zoeloes sedert 1837 – het teen 1839 ook onder die Voortrekkers begin arbei en dienste gehou in hoofsaaklik Pietermaritzburg (gestig in Desember 1838), maar ook as besoekende konsulent in Port Natal, Weenen, Winburg en Potchefstroom tot en met 1847 gearbei, waarna hy weer voltyds op sy sendingwerk onder die Zoeloes gefokus het.4,13-15,27-29Nadat die Britse garnisoen aan Port Natal (nou Durban) op 24 Desember 1839 onttrek het en teruggekeer het na die Kaap, is die Boere-republiek, Natalia uitgeroep, maar in Augustus 1843 is Natal weer deur Brittanje geannekseer.4,13-15,30 Gedurende hierdie tydperk, in 1841, het die Muller-gesin, insluitend die Steenkamp- en Jordaan-kinders, hulle in die omgewing van die klein Voortrekkerdorpie, Weenen bevind. Weenen, die Nederlandse woord vir “huil” of “ween”, is in 1840 gestig. Die naam verwys na die trekkers se gebrokenheid en verslaentheid na die moord op Piet Retief en sy manskappe, asook die traumatiese Bloukransmoorde.15,25,31 Teen 1843 het die Mullers reeds na Pietermaritzburg-omgewing getrek, maar in 1845 was hulle terug in Weenen se omgewing.8 Teen daardie tyd was daar net sowat 500 Voortrekker-gesinne in Natal oor, nadat die meerderheid reeds in 1843 in groot ontevredenheid teenoor die Britte weggetrek het na Transoranje (Oranje-Vrystaat en Transvaal).4,13-15 Wanner die Mullers uit Natal verhuis het en saam met watter geselskap is nie bekend nie, maar teen die middel 1850’s was hulle in die Lydenburgse omgewing woonagtig.8 Hier het Elsie haar toekomstige man, Andries Bekker ontmoet. Andries se jonger broer, Jozua Bekker (1833 – 1924), is later ook met Elsie se jonger half-suster, Anna Susanna Sophia Muller (1842 – 1913) getroud.8-10,32

Elsie is veertien jaar na haar man op die ouderdom van 38 jaar op 9 Junie 1874 op die plaas Klipheuwel naby Ohrigstad, Lydenburg distrik in die ZAR oorlede. Sy het geen testament agtergelaat nie en haar boedel is eers gefinaliseer op 22 Februarie 1878, wat deur haar 66-jarige stiefvader, Jan Muller, onderteken is.173. Sy beroep

Andries het saam met sy ouers en sibbe in ca 1849 in die omgewing van Lijdenburg (Lydenburg) – gestig in 1849 – gearriveer na ‘n lang tog uit die Britse Kaapkolonie.3 Op 17 Desember 1856 is die onafhanklike Republiek van Lydenburg deur die Lydenburgse Volksraad uitgeroep. In 1860, in dieselfde jaar wat Andries oorlede is, het dit saamgesmelt met die Republiek van Zoutpansberg en die Suid-Afrikaanse Republiek om die groter, saamgestelde Zuid-Afrikaansche Republiek [ZAR] (Suid-Afrikaanse Republiek) te vorm.4,13,14,33-35

Ten tye van sy afsterwe het Andries op die plaas Ro(o)dekrans in die Republiek van Lydenburg geboer, waar hy ‘n klein kudde van tien aanteelbeeste aangehou het.24,34,36 Hy was nog ‘n jong man en besig om homself te vestig as ‘n boer in ‘n ‘nuwe vaderland’ toe hy oorlede is.

Roodekrans lê tussen Dullstroom (gestig in 1883) en Belfast (gestig in 1890) in Mpumalanga Provinsie, waar ‘n koue variasie van ‘n subtropiese hooglandse klimaat heers.37,38 Of die Bekker-gesin op die plaas bly woon het na Andries se afsterwe is nie bekend nie, maar teen Julie 1886 is die kaart-en-transport van Roodekrans aan Petrus Louis Bezuidenhout (1831 – 1899) oorgedra, en vir die grootste gedeelte van die 20ste eeu, het ‘n Kruger-familie op die grond geboer.38,39   4. Sy afsterwe

Die presiese datum van Andries Bekker se afsterwe is nie bekend nie, maar dit was waarskynlik vroeg in die jaar 1860, toe hy maar ongeveer ‘n skrale 28 jaar oud was. Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie. Die opgawe/inventaris van sy boedel is gedateer 28 Mei 1860. Waarom die boedel vyf jaar geneem het om afgehandel te word is nie bekend nie, maar op 26 Mei 1865 is die finale dokumente met die veranderinge ten opsigte van die verdeling van die boedel onderteken, waarin die aangestelde eksekuteur en Andries se stief-skoonvader, Jan Muller, die veranderinge aangevra het.24

Bo-en-behalwe die plaas Ro(o)dekrans meld die inventaris tien aanteelbeeste, tien geleerde trekosse en een toegeruste ossewa, asook huisraad. Die boedel was gewaardeer (na laste) op 1 255 Riksdaalders. Elsje Bekker het 660 Riksdaalers ontvang en die vyf minderjarige seuns, elk 125 Riksdaalers.24   5. Sy kinders

Andries Bekker en sy vrou het vyf seuns en een dogter gehad wat almal in Lydenburg-omgewing gebore is. Andries is oorlede in ca 1860 en Elsje is 1874. Ten tye van hul moeder se afsterwe, was die oudste seun reeds getroud maar die jongste vier seuns was nog minderjarig.7,17,24 By wie die weeskinders gaan woon het is onseker ….. by hul stiefoupa, Jan Muller, wat in Februarie 1879 oorlede is, of by hul oudste broer wat pasgetroud was, of dalk by een van hul Steenkamp-stiefooms of verwante Joubert-families, of familievriende?

5.1 Hendrik Johannes

Hendrik is op 16 Mei 1853 gebore.3,7 Hy is in 1871 met sy niggie, Johanna Catharina de Jager getroud en agt kinders is uit hul huwelik gebore. Hulle was my groot-groot-grootouers (groot-oupa- en oumagrootjie). LEES MEER oor Hendrik Bekker.

5.2 Isabella Cornelia

Die enigste dogter van Andries en Elsje Bekker is op 3 September 1854 gebore.3,7 Dit blyk dat sy jonk oorlede is aangesien sy nie in haar vader of moeder se boedeldokumente van onderskeidelik 1865 en 1878 genoem word nie.17,24

5.3 Pieter Georg

Hy is op 16 Februarie 1856 gebore en vernoem na sy oupa, Pieter Georg Jordaan wat deur Dingane se Zulu-soldate vermoor is.3,7 Sy noemnaam was óf Piet, volgens familie-oorvertellings, óf George, volgens ‘n internetbron.6,40

Op 24-jarige ouderdom het Piet hom op kommando in die Eerste Anglo-Boere Oorlog (1880 – 1881) bevind. Cecile Bekker, sy kleinniggie en dogter van sy neef, Johannes Christoffel Bekker (1809 – 1974), vertel die volgende: Piet is tydens die Eerste Vryheidsoorlog gewond met ‘n koeël in die heupbeen. Terwyl hy op sy maag op ‘n ysterkatel gelê het, het (vermoedelik) ‘n dokter met ‘n tang die koeël uit die heupbeen gebreek. Piet het soos ‘n os gebulk van pyn en in die proses die kopenend van die ysterkatel gebuig. Die stukkie been wat saam met die koeël uitgebreek het, het hy in ‘n netjiese visier vir sy Mauser-geweer gevyl, om volgens hom “weer Engelse dood te skiet.” 40

Net minder as 20 jaar later, het Piet hom weer in ‘n oorlog bevind – die Tweede Anglo-Boere Oorlog (1899 – 1902), ook bekend as die Suid-Afrikaanse Oorlog. Hy het op 44-jarige ouderdom op 11 Junie 1900 tydens die Slag van Allemansnek gesneuwel.41,42

Toe die oorlog op 11 Oktober 1899 uitgebreek het, het Piet Bekker hom by die Lydenburgse Kommando gaan aansluit. Hoewel die Boere-magte aanvanklik daarin geslaag het om die Britse Kaapkolonie en Britse Natal suksesvol in te val en Kimberley, Mafikeng (nou Mahikeng) en Ladysmith beleër het, het die skaal teen Februarie 1900 begin swaai in die guns die versterkte Britste magte en die Boeremagte moes begin terugval. Onder andere het Generaal Redvers Henry Buller (1839 – 1908) ‘n Britse garnisoen van ongeveer 22 000 man en 26 kanonne gelei in Britse Natal, en het uiteindelik die Boeremagte in Natal teruggedryf tot in die ZAR. Na sy oorwinning oor Generaal Christiaan Botha se 2 500 burgers op 8 Junie 1900 by Bothaspas in Natal, het Buller met sy troepe in die OVS inbeweeg en daarna regs geswenk tot in die ZAR. Generaal Botha het intussen met ongeveer 1 250 kommando-lede van hoofsaaklik Lydenburg, Carolina en Wakkerstroom uitgewyk na die Versamelberge naby Volksrust in die suid-ooste van die ZAR. Op 10 Junie is 120 berede Boere-verkenners uitgestuur om die omgewing te bespied en die Engelse troepe se bewegings te monitor. Hierdie verkenners het hulle vasgeloop in Buller se South African Light Horse (SALH) Infantry wat terselfdertyd in die middag met dieselfde doel vertrek het. Ses Boere het gesneuwel tydens die skermutseling op Gansvleikop op die plaas Korenplaats (nou Koringplaas). Buller en sy troepe het die volgende dag op 11 Junie 1900 vertrek en 10 km verder by Allemansnek na ‘n hewige geveg nog ‘n triomfanklike oorwinning oor die Boere behaal.13,15,43,44 LEES HIER in meer detail oor die Slag van Allemansnek.

Pieter Georg Bekker het op 22 Oktober 1877 te NGK Lydenburg in die huwelik getree met sy niggie, Margaretha Maria Steenkamp (18 Maart 1860 – 24 Oktober 1932), derde kind en tweede oudste dogter van Willem Johannes Jacobus Steenkamp (1834 – 1900) en Maria Christina Bekker (1838 – 1890) van die plaas Kliprivier in wyk Steenkampsberg, distrik Lydenburg. Uit Piet en Margaretha se huwelik is sewe kinders gebore. Hulle was Andries Johannes (*6 Maart 1878), Maria Christina (7 Oktober 1880 – 25 July 1905, Lydenburg; getroud met Johannes Paulus Steenkamp), Elsie Margaretha Maria (*8 Februarie 1887), Willem Johannes Jacobus (*23 Februarie 1889), Pieter Georg (*19 Januarie 1891), Margaritha Maria (*27 September 1894) en Elizabeth Francina (*19 Februarie 1899).6,25,41,45-47

Ten tye van Piet Bekker se afsterwe het hy die 800 morge-plaas Werdegalio no. 1498 in die wyk Krokodilrivier, distrik Lydenburg besit waar hy geboer het. Sy boedel, waarvan Johannes Petrus le Grange Lombard van Leeuwfontein, distrik Middelburg die aangestelde eksekuteur was, is egter eers teen Julie 1905 afgehandel, nadat ‘n gedeelte (556 morge) van die plaas Kliprivier eers na sy boedel oorgedra moes word, en die oordragsakte (no. 8812/04) op 16 September 1904 gefinaliseer is. Hierdie gedeelte van Kliprivier was afkomstig uit die boedel van sy skoonvader wat op 11 November 1900 oorlede is. Weduwee Margaretha Bekker en haar kinders het op Kliprivier gaan woon, om nader aan haar eie familie te wees.41 Sy het egter op 20 Februarie 1904 weer in die huwelik getree te Belfast met Gabriel Machiel Britz (ca 1854 – ?).25

5.4 Johannes Christoffel

Johannes het op 11 Julie 1857 die lewenslig aanskou.3,7 Op 30 Maart 1886, op 28-jarige ouderdom het hy in die huwelik getree met die 20-jarige Anna Hendrina Elizabeth Prinsloo (*11 Oktober 1865) in die NGK Ermelo. Sy was die dogter van Joachim Johannes Prinsloo (27 Julie 1843, Pietermaritzburg – 12 Maart 1915, Belfast, Transvaal) en Helena Catharina Grobler (8 Augustus 1845 – 24 Mei 1911). Johannes het sy skoonvader se plaas, Generaalsdraai in die distrik van Middelburg, by hom oorgekoop en hom daar gaan vestig. Uit sy huwelik met Anna is tien kinders gebore waarvan ses voor die Anglo-Boere Oorlog gebore is, en vier daarna. Hulle was Helena Catharina (28 Junie 1887 – 1923, Ω Generaalsdraai), Elsie Margaretha Cornelia (13 Junie 1888 – 20 Augustus 1942, Ω Generaalsdraai), Andreas Johannes (*15 Oktober 1891), Anna Magdalena (*2 September 1892 – < 1900 ??), Martha Magdalena (*6 November 1896) Isabella Cornelia (*17 Februarie 1898), Anna Dialina (*21 April 1903), Joachim Prinsloo (*9 Junie 1906), Jeanetta Christina (8 Augustus 1907 – 21 Julie 1958, Ω Generaalsdraai) en Johannes Christoffel “Jan” (3 November 1908 – 22 Maart 1974, Ω Generaalsdraai).48-50

Johannes Bekker het soos sy broers aan die Tweede Anglo-Boere Oorlog deelgeneem. Op 6 Augustus 1900 het hy egter ‘n deurslaggewende stap geneem, sy wapen neergelê en oorgegee, en ‘n jaar later saam met sy vrou en vyf kinders op 23 Augustus 1901 in Middelburg Konsentrasiekamp gearriveer.51 Hierdie kamp het ongeveer 7 000 mense gehuisves en het een van die hoogste getal sterftes gehad weens masels, griep en ontwatering weens diarree. Die kamp was swak bestuur en hoewel ses van die tien waterputte funksioneel was, was die water vir die hordes ingehokte families nie genoeg vir kook en was nie. Toiletgeriewe was ook uiters onhigienies.51-53 Die Bekkers het in tent I-1619 gewoon totdat hulle reeds voor die einde van die oorlog op 15 Februarie 1902 die kamp verlaat het en teruggekeer het na Generaalsdraai.51Uit hierdie inligting lyk dit dus of Johannes Bekker teen Augustus 1900 ‘n punt bereik het waar hy die spreekwoordelike skrif-aan-die-muur vir die Boererepublieke gesien het. Teen daardie tyd het die Britse magsbevelvoerder, Lord Frederick Sleigh Roberts (1832 – 1914) reeds op 13 Maart 1900 die hoofstad van die Republiek van Oranje-Vrystaat (OVS), Bloemfontein, beleër en kort daarna op 24 Mei 1900 is die OVS geannekseer en herdoop na die Oranjerivierkolonie. Intussen het Roberts sy magte verder noord gelei teen die retireerende Boeremagte totdat hy Johannesburg op 1 Junie 1900 en ook Pretoria, die hoofstad van die ZAR, op 5 Junie 1900 beleër het. Slegs 11 dae later op 16 Junie 1900 het Roberts die Verskroeide Aarde Beleid begin implimenteer en op 1 September 1900 is die ZAR geannekseer en na Transvaalkolonie herdoop.13,15,54 Dalk het Johannes net genoeg gehad van die twee-snydende trauma van oorlog, die smart en lyding wat daarmee saamgegaan het, deurdat hy reeds ‘n broer tydens die Eerste Vryheidsoorlog aan die dood moes afstaan, en agt jaar later nog ‘n broer, wat op 11 Junie 1900 gesneuwel het in ‘n nederlaag teen die voortstuwende vyandelike magte. En miskien het die beskerming van huis en haard vir hom al hoe belangriker geword in teenstelling met die onafhanklikheid van ‘n vaderland ten alle koste. Veral waar dit by die veiligheid en welstand van sy gesin gekom het, lyk dit of Johannes Bekker nie die kans wou waag om hulle aan die genade van óf Britse troepe óf Boere-bittereinders oor te laat nie.

Net meer as 13 000 Boere-burgers het na die val van Bloemfontein en Pretoria vrywillig oorgegee deur ‘n Eed van Neutraliteit af te lê, weens ‘n algemene mismoedigheid wat onder menige posgevat het. Verder het die Britte se lokaas-beloftes van vrede en beskerming teen verdere Britse optrede teen hulle families en plase ook tot hul besluit om oor te gee, bygedra. Teen die einde van die oorlog in Mei 1902 het reeds ‘n derde van die oorspronklike Boere-vegters, ongeveer 20 000 man, vrywillig oorgegee. Hierdie ‘hendsoppers’ (hands-uppers) of ‘verraaiers’ soos hulle deur hul mede-burgers, die ‘bittereinders’, genoem is, is egter venynig op neergesien en in enkele gevalle selfs voor ‘n vuurpeleton tereggestel deur lede van hierdie bittereinderkommando’s. Let wel: Verraaiers was nie noodwendig ‘joiners’ nie – laasgenoemde het saam met die Britse magte geveg of was informante wat inligting oor die burger-kommando’s se bewegings en ontwykende Boere-gesinne in die veld of op plase voorsien het – maar vir die bittereinders was die twee dikwels om’t ewe.13,15,54-56 Het Johannes Bekker en sy gesin na Middelburg se kamp gekom as Britse gevangenes of op eie motivering om beskerming vir sy  gesin teen die onverbiddelike bittereinders in die veld te soek? Die bittereinders, waarvan daar ongeveer 20 000 in die veld was, wou nie oorgee nie en het uiteindelik ‘n verdere agtien maande voortgeveg deur gebruik te maak van guerilla-oorlogvoeringstegnieke. Teen Mei 1902, aan die einde van die oorlog moes hulle egter ook wapens neerlê en noodgedwonge die Eed van Getrouheid aan die Britse Kroon sweer, wat ‘n vereiste was voordat hulle kon terugkeer vanaf die veld of oorlogsgevangeniskampe na hul vernietigde plase.13,15,54

Selfs in die konsentrasiekampe is daar op die sogenaamde verraaier- en veral joiner-gesinne neergesien deur familielede van bittereinders, soveel so dat die Engelse genoop was om hierdie twee groepe van mekaar geskei te hou. Wat verder bygedrae het tot die onderliggende woede, haatdraendheid en verdeeldheid tussen die twee groepe was dat die bittereinder-gesinne se rantsoene die helfte minder was as dié van verraaier-gesinne en hulle ook slegter behandel is deur die Engelse kampwagte. ‘n Vraag wat onwillekeurig ontstaan is hoe Johannes Bekker en sy gesin na die oorlog hul lewe beleef het, want in die omliggende gemeenskap, en selfs in die kerk, is veral joiner-gesinne in die algemeen deur die samelewing uitgeskuif. Vergifnis en versoening tussen ‘n bittereinderbroer en een wat besluit het om wapens neer te lê, was genadiglik ‘n meer algemene verskynsel.13,15,54,56 In Johannes Bekker se eie nabye familie was daar dié wat hul lewe opgeoffer het vir die Boere-saak, ander wat geliefdes aan die dood moes afstaan in die helkampe, en ander wat tot op die bittere einde bly veg het vir hul onafhanklikheid of om die offer van ‘n gesneuwelde, geliefde broer/neef/vader/seun nie ongedaan te maak nie. Maar ook Hendrik Bekker, Johannes se oudste broer, het soos hy vrywillig wapens neergelê op 3 Mei 1901. Het ‘n rooiwarm, na-oorlogse broertwis weens uiteenlopende politieke oortuigings ook ‘n familieskeuring in die Bekker-familie veroorsaak soos in sommige ander Boere-families, of kon die Bekker-broers hulle verskille oorbrug en wedersydse vergifnis die nodige genesing bring?

Anna is op 13 Julie 1928 oorlede; Johannes het 14 jaar later op 29 Junie 1942 gesterf. Beide Johannes en sy vrou, sowel as sy skoonouers is in die familiekerkhof op Generaalsdraai (plaasnommer no. 423) in Wonderfontein-omgewing, ongeveer 25 km wes van Belfast in Transvaal (nou Mpumalanga), te ruste gelê.50

Die kerkhof op Generaalsdraai het ‘n tragiese ontstaan gehad. ‘n Boer en sy gesin van Ermelo-omgewing het vir die wintertyd met hul vee afgetrek Laeveld toe. Daar is hul dogter egter oorlede en het hulle die terugtog na Ermelo weer met die stadige ossewa aangepak om hul kind daar te gaan begrawe. Teen die tyd dat hulle Generaalsdraai bereik het was die lyk nie meer ‘gaaf’ nie en het die hartseer ouers vir Johannes Prinsloo toestemming gevra om hul kind op die plaas te begrawe. Van die ontbindende lyk het Anna se 21-jarige suster Martha Margaretha Prinsloo (1 September 1877 – 12 Februarie 1899) op die begrafnis ‘n kiem gekry wat haar dood veroorsaak het. Martha is ook op Generaalsdraai te ruste gelê. Die opgestapelde klipgraf van die kind is aan die koppenend van Jan Bekker (1908 – 1974) se graf te vinde. Die identiteit van die Ermelo-gesin is ongelukkig nie bekend nie.40

5.5 Andries Johannes jnr.

Die vierde seun, Andries Johannes jnr. is op 9 Februarie 1859 gebore.3,7 Hy is op 22-jarige ouderdom tydens die Slag van Majuba op 27 Februarie 1881 gedurende die Eerste Vryheidsoorlog (ook bekend as die Eerste Anglo-Boere Oorlog) doodgeskiet terwyl hy besig was om sy geweer te herlaai tydens die die Boere se vreeslose bestyging van Majuba onder Britse spervuur, vanwaar Britse troepe op die bergtop stelling ingeneem het.40,57-62 Volgens familie-oorlewering is hy gedood deur ‘n dwaalkoeël uit Boeremag-geledere. Daar was ‘n koerantberig daaroor, maar in wie se hande die bewaarde koerantuitknipsel tans is, is nie bekend nie.40 “Daar is lank geglo dat Johannes Bekker, van die Middelburg distrik, op die dorpie Belfast begrawe is. Baie Boere families het hulle gesneuweldes na afloop van beide die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë opgegrawe en ‘huistoe’ geneem. Toe eendag snap oubaas George Chadwick, die bekende Natalse geskiedkundige, dat die plaas aan die voet van Majuba ‘Belfast’ heet.”63 Die plaas Belfast (Natal plaas nr. 3337) lê noord van Majuba-kruin en wes-aangrensend aan die dorpie Charlestown, geleë in die noorde van KwaZulu-Natal.36  “Na verdere navorsing kon bevestig word dat Johannes wel effe bokant Generaal Piet Joubert (1831 – 1900) se kamp begrawe is. Natuurlik in ‘n ongemerkte graf, of sal ons sê met die verloop van tyd het dit ongemerk geraak. Niemand weet vandag meer waar om daarna te soek nie.”63

Ten spyte van Johannes Bekker se tragiese dood het die Boere se dappere, vernuftige optrede en onbetwiste oorwinning by Majuba-berg tot die beëndiging van die oorlog op 6 Maart 1881, en die nuutgevonde vryheid en onafhankliheid van die ZAR, bygedra. Dit was ‘n vernederende nederlaag waaraan Brittanje lank geneem het om van te herstel. Die wêreld het egter skielik regop gesit en notisie geneem van die onbeduidende, ‘ongeletterde’, ‘onbeskaafde’ plaasjapie-volk aan die suidpunt van Afrika, wat die magtige Britse Ryk ore aangesit het. Onder die Boerevolk – wat voor die oorlog meer ingesteld was op indiwidualisme en eie belang, en dus min erg aan die bestuur en ekonomie van die ZAR gehad het – het ‘n gevoel van Afrikaner-nasionalisme begin ontstaan wat gekenmerk is deur ‘n sterk anti-Britse gevoel, ‘n sterk godsdiens-, taal- en historiese sin, die handhawing van ‘n eie identiteit en ‘n toekomsverwagting.13,15,57

5.6 Jozua

Andries Bekker snr. sou die geboorte van sy jongste seun nooit beleef nie, want Elsje was nog swanger met Jozua toe Andries oorlede is. Klein Jozua, wat na sy oom Jozua Bekker vernoem is, is op 8 Julie 1860 gebore en op 30 September 1860 gedoop.3,7,64

Met die aanvang van die Tweede Anglo-Boere Oorlog in 1899, het die 39-jarige Jozua op ‘n gedeelte D van die plaas Kliprivier (Lydenburg no. 1314, ZAR no. 108, Transvaal no. 73 JT) noord van die dorpie Dullstroom in die wyk Steenkampsberg, in Lydenburg distrik gewoon, waar van sy aangetroude Steenkamp-familie ook gewoon het. Hy is op 15 Desember 1887 in die NGK Lydenburg getroud met Maria Christina “Nonnie” Steenkamp (*30 Mei 1869, ≈21 November 1869, †14 Oktober 1963, Belfast), dogter van Willem Johannes Jacobus Steenkamp (1834 – 1900) en Maria Christina Bekker (1838 – 1890) van Kliprivier. Jozua het saam met sy ouer broer, Piet Bekker, onder Kommandant David Johannes Schoeman (1853 – 1931) as lede van die Lydenburgse Kommando geveg en het deelgeneem aan die inval in Britse Natal en die beleg van Ladysmith. Ook by die slag van Allemansnek het die twee broers saamgeveg, maar Piet het tydens die geveg gesneuwel. Jozua het onder Kommandant Schoeman se leiding bly veg tot bykans teen die einde van die oorlog, toe Jozua deur die Britte gevange geneem is op 9 Mei 1902. Skaars drie weke later het die oorlog op 31 Mei 1902 tot ‘n einde gekom. Na die oorlog het Jozua teruggekeer na Kliprivier. Op 1 Maart 1912 het hy egter die plaas Uysedoorns (Lydenburg no. 1042, ZAR no. 254) in Belfast omgewing gekoop en die gesin het daarheen verhuis. Jozua Bekker is op 21 Augustus 1933 op Uysedoorns in die ouderdom van 73 jaar oorlede. Nonnie is dertig jaar na haar man op die ouderdom van 94 jaar weens koronêre trombose op Belfast oorlede.25,42-46,64-66

Jozua en Nonnie Bekker se kinders was Maria Christina (2 November 1889 – 9 Mei 1954) wat met Johannes Reyneke getroud was, Willem Johannes Jacobus (30 November 1890 – 1 Desember 1960), Josua (20 Oktober 1897 – 26 April 1989), Andries Johannes (5 Oktober 1899, Kliprivier – 20 Mei 1970, Swartkoppies, Belfast), Elsie Margaretha Cornelia (19 Maart 1902 – ?) wat met Adriaan Joubert getroud was, en Johannes Christoffel (1 April 1906 – 9 April 1968) wat getroud was, maar geen nakommelinge gehad het nie.64,67

 

SPESIALE VERMELDING

VERWYSING 40: Hartlike dank aan Clara Smith van Groot-Brakrivier, Wes-Kaap wat my goedgunstiglik van heelwat inligting en familiestaaljies voorsien het. Hierdie kosbare stories is aan haar vertel deur Tant Cecile Prinsloo, dogter van Johannes Christoffel Bekker (1908 – 1974) en agterkleindogter van Andries Johannes Bekker (1832 – 1860). Die verhaal van ons Bekker-voorsate wat hier vertel word, is aansienlik hierdeur verryk.

< BACK

  1. NGK Swellendam Kerkregister. National Archives & Repository Service of South Africa, Kaapstad
  2. NGK Cradock Kerkregister
  3. NGK Lydenburg Kerkregister
  4. Binckes, R. 2013. The Great Trek uncut. 1ste Ed. 30º South Publishers: Pinetown.
  5. Swellendam Moedergemeente. http://swellendammoederkerk.co.za/
  6. Pieter Georg Jordaan, b1c5d6e3. https://www.geni.com/people/Pieter-Jordaan-b1c5d6e3/6000000016819224610
  7. Elsje Margaretha Cornelia Bekker, b1c5d6e3f7. https://www.geni.com/people/Elsje-Bekker-b1c5d6e3f7/6000000019232138642
  8. Isabella Cornelia (Potgieter) Muller (bef 1803). https://www.wikitree.com/wiki/Potgieter-1836
  9. Boedel van Isabella Cornelia Muller. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG O/19777, 1877
  10. Johannes Christoffel Muller. https://www.geni.com/people/Johannes-Christoffel-Muller/6000000016819210619
  11. Graf van Johannes Christoffel Muller. Kerkhof op plaas Krugerspost #550, Lydenburg distrik, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main.php?g2_itemId=1904083&g2_page=2
  12. Visagie, J.C. 2011 Voortrekkerstamouers, 1835-1845. 2de Ed. Protea Boekhuis: Pretoria
  13. Giliomee, H. & Mbenga, B. 2007 Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad
  14. Visagie, J.C. 2014 Voortrekkerleiers en trekroetes. 1ste Ed. Die Erfenisstigting: Pretoria
  15. Illustrated history of South Africa. The real story. 1989 2nd Ed. Reader’s Digest Association South Africa (Pty) Ltd.: Cape Town
  16. Pieter Retief 1780 – 1838. https://www.bloedrivier.org/gelofte/index.php/geskiedenis/voortrekkerleiers/piet-retief
  17. Sterftesertifikaat en boedel van Elsje Margaretha Cornelia Bekker. South Africa, Transvaal, Probate Records from the Master of the Supreme Court, 1869-1958, database with images, FamilySearch (https://familysearch.org/ark:/61903/3:1:3Q9M-CS92-Z7KZ-X?cc=2520237&wc=Q6NX-R19%3A1590233992 : 16 December 2016), 007805261 > image 351 of 1372; Pietermaritzburg Archives (formerly Natal State Archives), South Africa
  18. Piet Retief is massacred. The Voortrekkers. http://www.voortrekker-history.co.za
  19. Piet Retief delegation massacred. https://en.wikipedia.org/wiki/Piet_Retief_Delegation_massacre/massacre_great_trek.php#.XIeV1LhS-M8
  20. Moordkoppie-monument. https://af.wikipedia.org/wiki/L%C3%AAer:Moordkoppie-monument,_inskrif,_Dingaanstat.jpg
  21. Weenen massacre. https://en.wikipedia.org/wiki/Weenen_massacre
  22. Petrus Stephanus Steenkamp ( bef 1797). https://www.wikitree.com/wiki/Steenkamp-684
  23. Jan Harm Steenkamp (1820). https://www.wikitree.com/wiki/Steenkamp-947
  24. Boedel van Andries Johannes Bekker. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG O/581/1876
  25. Steenkamp, J.H. 1969 Die Steenkamps van Suidelike Afrika. Biblioteek van Erfenisstigting, Voortrekkermonument, Pretoria
  26. Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius 1798 – 1853. https://www.bloedrivier.org/gelofte/index.php/geskiedenis/voortrekkerleiers/andries-pretorius
  27. Gerhardus Marthinus Maritz 1797 – 1838. https://www.bloedrivier.org/gelofte/index.php/geskiedenis/voortrekkerleiers/gerrit-maritz
  28. Erasmus Smit. https://af.wikipedia.org/wiki/Erasmus_Smit
  29. Daniel Lindley. https://af.wikipedia.org/wiki/Daniel_Lindley
  30. Natalia Republic. https://en.wikipedia.org/wiki/Natalia_Republic
  31. Haswell, R.F. 1980 The Voortrekker Dorps of Natal. Natalia 10. Natal Society Foundation 2010. http://natalia.org.za/Files/10/Natalia%20v10%20article%20p23-33%20C.pdf
  32. Anna Susanna Sophia Bekker. https://www.geni.com/people/Anna-Bekker/6000000030811910724
  33. Lydenburg. https://en.wikipedia.org/wiki/Lydenburg
  34. Van der Merwe, A.P. 1940 Die Voorgeskiedenis van die Republiek Lydenburg, MA Dissertasie, Universiteit van Pretoria, Pretoria. https://repository.up.ac.za/handle/2263/61389?show=full
  35. Republiek van Lydenburg. https://af.wikipedia.org/wiki/Republiek_van_Lydenburg
  36. National Geo-Spatial Information, 1:50 000 Rasters. January 2015. Department of Rural Development and Land Reform, Republic of South Africa. CD-publication
  37. Dullstroom. https://en.wikipedia.org/wiki/Dullstroom
  38. Archaeological impact assessment. Proposed construction of 4 weirs and a culvert on portion 3 of the farm Roodekrans 133 JT, Emakhazeni Local Municipality, Dullstroom Area, Mpumamlanga Province. Februarie 2016. EP3 Environmental Health Pty (Ltd). https://sahris.sahra.org.za/sites/default/files/heritagereports/2016_02_15_RoodekransAIAPh1V2.pdf
  39. Graf van Petrus Louis Bezuidenhout. Kerkhof op plaas Roodekrans 133 JI, Belfast distrik, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  40. Inligting ontvang in Mei 2019 van Clara Smith en Joachim Prinsloo Bekker, agterkleinseun van Johannes Christoffel Bekker (1857 – 1942)
  41. Sterfkennis en testament van Pieter Georg Bekker. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 2297/00, 1900
  42. Slag van Allemansnek gedenksteen. Volksrust, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  43. Gillings, K. 1999. The British advance and Boer retreat through Natal, March to June 1900. Military History Journal, Vol 11(3/4), 1999. The South African Militory History Society. http://samilitaryhistory.org/vol113kg.html
  44. Botha’s Pass Battlefield. Battlefields Route Kwazulu Natal. http://www.battlefieldsroute.co.za/place/bothas-pass-battlefield/
  45. Sterfkennis, testament en boedel van Willem Johannes Jacobus Steenkamp. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 1418/00, 1900
  46. Willem Johannes Jacobus Steenkamp (1834 – 1900). https://www.wikitree.com/wiki/Steenkamp-717
  47. Sterfkennis, testament en boedel van Maria Christina Steenkamp (née Bekker). National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 8490/05, 1905
  48. Anglo-Boer War Museum, Bloemfontein. http://www.wmbr.org.za/view
  49. Johannes Christoffel Bekker. https://www.geni.com/people/Johannes-Bekker/6000000026510176964
  50. Grafte van Johannes en Anna Bekker, en Joachim en Helena Prinsloo. Kerkhof op plaas Generaaldraai #423, Wonderfontein, Belfast, Mpumalanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main
  51. British Concentration Camps of the South African War, 1900 – 1902. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd
  52. Grobler, J. & Grobler, M. 2013 Vroue-Kampjoernaal. Die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog. 1ste Ed. Heroloda Wordworx: Brooklyn, Pretoria
  53. Van der Westhuizen, G.P. & Van der Westhuizen, E. 2013 Guide to the Anglo Boer War in the Eastern Transvaal, 1899 – 1902. 2de Ed. David Scholtz: Volksrus
  54. Pretorius, F. 29 March 2011. The Boer Wars. https://www.bbc.co.uk/history/british/victorians/boer_wars_01.shtml
  55. Blake, A. 2010 Boereveraaier. Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog. 1ste Ed. Tafelberg: Kaapstad. http://www.nb.co.za/Book/Extract/10853
  56. Coghlan, M. 2000 The other De Wet. Piet de Wet and the Boer ‘Hendsoppers’ in the Anglo-Boer War. Military History Journal, Vol 11(6), 2000. The South African Militory History Society. http://samilitaryhistory.org/vol116mc.html
  57. Van Jaarsveld, F.A., Van Rensburg, A.P.J. & Stals, W.A. 1980 Die Eerste Vryheidsoorlog. Van verset en geweld tot skikking deur onderhandeling 1877 – 1884. 1ste Ed. Haum Uitgewers: Pretoria
  58. First Boer War. https://en.wikipedia.org/wiki/First_Boer_War
  59. Duxbury. G.R. 1980 The Battle of Majuba, 27 February 1881. Military History Journal, Vol 5(2). The South African Military History Society. http://samilitaryhistory.org/vol052gr.html
  60. Battle of Majuba Hill. https://en.wikipedia.org/wiki/Battle_of_Majuba_Hill
  61. Majuba 1881. https://www.facebook.com/MajubaBerg1881/
  62. Rooibult Burgergrafte. Volksrust Rural (farm cemeteries), Mpumamlanga. http://www.graves-at-eggsa.org/main.php?g2_itemId=3777217
  63. Jacobs, D. 6 Maart 2008. Regstelling – Slag van Majuba deur Petrus Schoeman, 28 Februarie 2008. Message Board at RootsWeb.com
  64. Sterfkennis en boedel van Jozua Bekker, en sterfkennis van Maria Christina Steenkamp. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 84716, 1933
  65. Farm Kliprivier, Lydenburg. British Concentration Camps of the South African War 1900 – 1902. https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Farm/24530/Kliprivier
  66. Van Vuuren, D. 4 Desember 2017. Kommandant – D.J. Schoeman. https://www.boerenbrit.com/archives/16935
  67. Sterfkennis en testament van Andries Johannes Bekker. National Archives & Repository Service of South Africa, Pretoria. TAB MHG 5173/70, 1970

< BACK